Dias
KAAPSTAD BLOEMFONTEIN
JOHANNESBURG
EERSTE DRUK 1952
VYFDE DRUK 1964
NASIONALE HANDELS DRUKKERY BPK
ELSIESRIVIER
Bedryf 1
DIAS
N.P. VAN WYK LOUW
DIAS
'N HOORSPEL
AANKONDIGER:
Dit is die jaar 1487.
Meer as vyftig jaar lank reeds het die klein Portugese skepe langs die kus van Afrika afgesak om die seeweg na Indië te vind. Verby die kuste van woestyn en oerwoud het hulle gevaar, telkens 'n end verder; telkens 'n kruis geplant op 'n nuwe kaap. Maar die groot vasteland het eindeloos gelyk. Nog nie die helfte van sy kuslyn was ontdek nie.
Meer as twintig jaar reeds is Prins Hendrik die Seevaarder, die geestelike leier van hierdie grootse poging, oorlede sonder dat hy die voltooiing van sy werk kon sien.
En nou in Julie of Augustus van hierdie jaar, nadat hy lank moes wag, het Bartolomeus Dias -- uit 'n geslag van seevaarders gebore, maar jare lank hawemeester in Lissabon ---op bevel van koning Johan II uitgevaar: hy het 'n vloot van drie skepies - twee van die vinnige Portugese karavele van dié dae, en een vragskip - onder sy bevel; hy sal die deurtog soek as daar 'n deurtog is, as die kus van Afrika nie suid strek tot in die poolwaters nie; en hy sal deur 'n verbond met die Priesterkoning Jan wat êrens in Ethiopië moet heers, 'n ring van Christenmagte rondom die Mohammedaanse koninkryke van Noord-Afrika sluit. In sy skepe het hy ses kruise, elkeen met 'n eie naam en na 'n Heilige genoem: St. Filippus, St. Gregorius en ander om in die nuwe lande wat hy sien, te plant.
Die persone wat optree, is:
BARTOLOMEUS DIAS: Op die skip wat die naam Sint
Christoforus dra: 'n herinnering aan die Heilige Christoforus uit 'n
[bl. 5]
ou verhaal, wat die Christus-kind oor die water van 'n stroom
gedra het.
JOHAN INFANTE: 'n Ridder, en in bevel van die tweede skip,
die San Pantaleão.
PEDRO D'ALANQUER: Stuurman op Dias se skip en sy vertroude
vriend.
ALVARO MARTINS: Stuurman van Infante se skip.
JOHAN GREGO: Kwartiermeester op die San Pantaleão
Matrose van die vloot.
Maande reeds het die tog deur die warm waters van die Golf van Guinea geduur. Die verste bekende punt - die Kruiskaap waar Diego Cao gesterf het is verby; die stadiger vragskip is agtergelaat, en net die twee vinnige karavele vaar nou die onbekende waters van die suidelike Afrika in om met een
groot waaghalsige sprong die tog te voltooi.
Dit is 'n oop nag. Dias staan op die dek van die St. Christoforus; by hom is Pedro d'Alanquer aan die roer. Die wind is sterk, maar die see is nie stormagtig nie, en hulle vaar vinnig.
Dias praat:
[bl. 6]
DIAS: Hoe gly ons mas se punt teen die sterre langs.
Hoe kan 'n nag só blink! Dis ene lig
bo en van onder, Pedro! Voel die wind net:
hoe stoot hy in die seile dat hulle leun
en uitreik na die water voor ons.
Was ooit 'n vaarder nog in so 'n nag?
Die smal swart maat, ons San Pantaleão
die skiet so donker kop aan kop met ons
asof hy voor moet loop by Christoforus
en eerste in die nuwe see wees.
Pedro, hy mag nie wen nie! mag nie voorloop!
Ons gooi die laaste flenter seil aan al vier maste!
Dit traak my nie, dan skep ons water, Pedro,
dan ploe ons in die branders as dit moet,
maar voor-ry sal hy nie!
Nou vaar ons los, apart van daardie wêreld
wat hulle ken: uit uit die winter van Europa
wat sneeu tot in die see;
uit uit die olie-swaar water
van daardie Golf Guinea waar die wasem
broei oor die wortelbome van die modderstrand
en alles lou, onmanlik was...
ons kus bedags is kaal en skerp
en alle aande is suidelik en somers.
En dán: dan kom 'n nag soos hierdie nag
en so 'n wind wat in jou maste gryp,
en vlieg jy oor die water, skeer jy suid-in...
Voel net hoe klop dit aan ons bak,
[bl. 7]
hoe byna spring ons boegspriet oor die dalings
asof hy skaars die see wil vat of voel,
asof hy mét die skuim die wind wil inklim,
en die valk, die seevalk word...
hoor daar hoe klots Infante regs van ons!
Vóór ons!
Hy wen! Hy's voor!
Kan jy die roer
nie nog 'n kerf, 'n vinger, vaster vat nie
dat ons hom klop! dat ons die voorste stoot,
sy wind vat?...
Daar spring ons weer verby,
en aan die water sny ons vierkantseil!
Só moet ons vaar, Pedro! Jy's nog die meester,
die stuurman jy, wat vir ons koning self
en aan sy eie tafel stil kon praat.
Hoor net hoe ruis hy agter ons.
Hoe loop die twee blou paaie, wat ons kiele
in hierdie nagtelike water ploeg,
daar inmekaar waar ons hom voorgesny het
dat hy ons spoor moet vat.
Nou ry ons eerste,
nou breek ons eerste deur die gordel in
van hierdie suide wat geen mens nog ken nie.
Laat hulle volg! Ek moet die eerste wees!
Altyd wil ek voor op die voorpunt staan!
Van ons sal daar gehóór word in die Ooste:
in die Ryke, daardie groot geheimes:
Indië, Ethiopië en die Goue
Chersonese, wat so lank reeds skuil
[bl. 8]
agter die skans van Afrika.
Ek sal die verstes aan mekaar verbind
en hierdie aarde één maak.
En my naam
sal dán nie sterf nie.
PEDRO: Nou vaar ons vóór
en ry hulle in ons sog. So sal ek hou
totdat ons wagter voor skreeu: Indië!
Alvaro doen sy werk, maar hy's 'n kind,
sy pypies is te dun, hy moet nog éét
vir hierdie ding wat hulle stuurman noem.
En, Dias, as ons kom,
ná hierdie tog, in Portugal
met goud uit Indië, pêrels uit die eiland
by sy kus; met peper, manna, mirre...
sal jy glad ridder word,
en ek wat Pedro is,
gaan uit elke kroeg in Lissabon
die grootbek-loodse van Venesië,
Genua en Ancona trap; en dán...
DIAS: Die koning, Pedro, sal jou weer laat roep:
jy sal in al die eerbetoon moet deel...
PEDRO: Ek moes al daar gaan eet dié een keer, weet jy?
Dis ene Italjaners daar aan tafel,
en Vlaamse venters in fluweel, uit Brugge;
en Seeuse baarde, rooi en geel soos kaas...
dié praat mos toe van vaar en Afrika!
DIAS: En as die kroeë skoon is, Pedro. dán?
[bl. 9]
PEDRO: Ja, dan ... dan agtien maande lê, lê: twee somers
en 'n winter wat ek self sal warm maak,
êrens by die witwynplase rondom Cintra.
DIAS: En dan?
PEDRO: Dan - váár ons weer. My hand sal juk,
my geldsak plat wees.
DIAS: Nou's dit nie net meer boeke, boeke, Pedro...
kaarte, portolani. Dáár kon ek kyk
nagte en nagte, maande, jare, jare!
na elke vlek: 'n ryk! 'n vasteland!
En name wat jou terge soos 'n droom
wat jy vergeet het; tuur en dring
om uit die perkament se vlak
die lyn van kus en baai te gryp:'
eiland, skiereiland, grys stede in die son...
Eers: in die hawe, arm en aan 'n blok,
jare, en honger na die see. Toé: togte
met 'n draadjie aan die poot, om terug te haal,
soos kinders met 'n tor...
en nou ons vaart
in hierdie nag, uiteindelik, na Goa...
Hormoezd... elke stad gloei in my oog
van agter uit die brein, en áls is blink
en ongekaart...
O, Pedro! mens sterwe
wanneer jy groot wil waag en magteloos is
en jou geduld moet sluk
terwyl jy op die wêreld wag..
[bl. 10]
Het jy die groot en somber Prins gesien,
ooit, jare gelede? Só een was hy,
al was hy ryk. In Sagres moes hy teer
aan daardie hart van hom, solank sy volk
nog nie wou edel wees nie. Hy moes die wysheid
hoed en voed en in geduld nog sterwe.
So't ek hom eenmaal in die hawe
toe ek 'n kind was, self gesien: beduie, vra,
en glimlag oor die dwaasheid...
Ek kan nie lag nie:
ek moet dwars inslaan teen wat dom of laf
en minderwaardig is.
Hoe straal die see
onder die dagster wat daar in die ooste
opklim uit Afrika, opklim uit mý land
wat ek verower, en wat reeds weer wys
in donker banke teen die môre...
Waar bly Infante?
Kan jy nog iets verneem? Dit gaan so stil.
Ry ons die voorste water reeds alleen?
'n Halwe eeu het ons geplooi, gekwansel
met hierdie land: van baai na baai gekruip,
telkens 'n treetjie suid, dan trug
en huis toe; van kaap na kaap 'n kruis gedra...
maar nou gaan daar gestraal word om dié kus
met vuur, soos 'n komeet wat in een nag
sy swaard laat kantel deur die ronde lug!
Ek dra my kruise: tussen elke kruis
sal daar groot lande lê.
[bl. 11]
En Sint Gregorius,
dié sal ek plant daar waar ons tog sy end kry
of ons ons s'n.
My lang dun skip, my gladde Christoforus:
jy is van eike- en van sederhout,
en hierdie smal latynseil vat die wind
so fyngevoelig... dis 'n meeu se vlerkpunt:
jou Heilige het die Christus self gedra:
ek dra Sy kruise na die verste land
wat God wou hê.
[bl. 12]
*