Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 14

ECCE HOMO


OMDAT Hy my verlaat het, 

laat Hy my nooit alleen: 

ek hoor ál nagte 'n asem hyg 

en iets soos vroue wat sag ween. 


Dan staan dit in die skemer daar: 

die Bleke aan die hoë kruis, 

en vul met die wete van Sy smart 

my hele huis. 


Ek ken Sy dors, ek ken Sy angs 

(God het hom ook van my gewend); 

ek kan Sy wonde met name noem, 

en elke spyker is bekend: 


[bl. 20]


Die Liefde skeur in elke hand, 

en deur Sy voete brand die Hoon; 

die Waan van Godheid is gedruk 

ook in Sy hoof as doringkroon. 


Sy oë staar van die kruis en berg 

die heilige, ver-blou aarde deur 

totdat die dood hul vul; ek hoor 

uiteindelik die voorhang skeur. 


Dan in die donker net die gloed 

van dowwe woord se helder spot 

in enkele letters bo Sy hoof: 

Dit is die God en Seun van God. 


September 1936 


[bl. 21]

*


📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…