AS EK SO DINK
AS ek so dink dat ek jou nooit weer sien,
dat jy voortaan vir my 'n herinnering
sal wees wat valer word tot ek miskien
- as die ouderdom sy dowwe wysheid bring -
jou naam en die grysblou van jou oë vergeet,
vergeet jy was vir my in plaas van God,
en flouweg praat, soos een wat alles weet
van kinderliefde en nóu sien dis verspot;-
dan gaan ek langs afgrondelike weë:
hoe trots het andere voor my ook gedink
hul het die liefde wat onsterflik is,
en ek, late vaarder, God, op hierdie seë,
moet glimlag dat daar haat en liefde is
waar alles in die eeue moet versink.
[bl. 23]