AANRAKING VAN DIE DOOD
NET raaklings oor my hare het gestryk
die wind van Sy vleuelslag, en Sy skaduwee
was koelte rondom my; ek kon nie kyk
of Hy vernietiging of lewe gee,
ek kon geen laaste, dapper woorde vind;
ek 't net gebuig, en óm my was 'n wand
van vrees, tot ek kon luister, glad verblind,
hoe Hy vér weggeruis het oor die land.
Maar toe die vrees gewaai het van my oë,
het alles nuut gestaan, van vreemde smart
deuraar en diep verbind deur alle tyd;
groot liefde was in my, en mededoë,
en wete van die duistre in ons hart,
want alles was deurweek van sterflikheid.
[bl. 24]