GOD, DAT HUL SMAAD
GOD, dat hul smaad my nog kan raak,
my hart nog so verwondbaar is,
waar U groot wind moes óm my waai
vir húl tot skriklike duisternis!
Ek sal nie twis en stry met húl
wat self so magteloos is, gevang
in iedere dag se kleinlikheid
van smaad en wedersmaad en dwang -
met U, met U is my geding,
wat my geskei het van hul ras:
sal U die skulp van stilte breek
waarin ek so verborge was?
[bl. 26]
Was dit my woorde wat ek sê,
was my begeerte dan in my daad
dat U my nakend voor hul stel
en voor hul dwase Goed en Kwaad?
U moes die nag wees rondom my
omdat ek vir hul duister is;
U moes my skulp wees, of die see
waarin ek een vér spoeling is.
[bl. 27]