Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 2

Hoofstuk II

​​II


Toe Fransina Bart daar bo op die Rooirant sien

verdwyn, sien sy dat Annekie haar aandagtig staan

en aankyk. Sy het nie eers opgelet nie, of het vergeet

dat die kind daar was.

    ,,ls Mammie nog kwaad vir Pappie?” vra sy.

    ,,Hoekom?”

    ,,ls Mammie?”

    ,,Ja, ek is,” sê sy. Sy wil dit nie ontken nie, al weet

sy dat sy die kind daarmee seermaak.

    ,,Hoekom, Ma?”

    ,,Hloekom moet jou pa oorlog toe gaan? Hy kon

mos by die huis gebly het.”

    ,,Pappie moet seker?”

    ,,Hy het nie nodig om te gaan nie, maar die mans

hou van oorlog; dis daarom. Maar kom, gaan nou

liewers klaarmaak, anders is julle laat by die skool.”


    Sy gaan saam met haar na binne en gee haar kos.

Sy draai ook ’n paar snye brood vir haar toe.

    ,,Eet Mammie dan nie?”

    ,,Nee, ek wil nie eet nie.”

    

    Die klein seuntjie het wakker geword en hulle hoor

hom met homself lê en praat, een of ander woordjie wat

hy ken. Af en toe hoor hulle hom opgewonde skoppel.

    ,,Boetie is wakker, Ma.”

    ,,Ja.”

    

    Die klein eetkamertjie is agter die sitkamer en

langsaan die kombuis. Deur sy venster kyk mens oor

die koringlande. Op die voetpaadjie wat deur die

lande gaan, kom ’n paar kinders aan.


[bl. 75]


    ,,Hier kom Drikkie van oom Fransoois en Louisa

van tante Maria al aan. Maak gou, anders moet hulle

vir jou wag.”

    

    Annekie eet haastig haar laaste stukkie en steek

haar boeke en haar melk en brood in haar boeksak.

Sy sit haar kappie op, trek haar ferweelhandskoene

aan teen die son en loop na buite net toe die ander

kinders die werf opkom.

    ,,Dag, Mammie,” roep sy terwyl sy terughardloop

om haar moeder nog ’n maal te soen. Sy bly haar

ma se hand nog vashou en druk haar kop teen Fransina

se arm.

    ,,Wat wil jy nog hê, Annekie?”

    ,,Niks, Mammie.” Toe gaan sy na die ander

kinders.

    ,,Dit het jy nog daarby,” dink Fransina. ,,As die

ouers nie kan klaarkom nie, dan kry die kinders ook

nog swaar daaronder. » Ek moes dit nie gesê het nie.

Maar sy is te slim; sy het dit tog goed genoeg gesien;

mens kan haar nie bedrieg nie.”


    Sy bly die kinders staan en agternakyk hoe hulle

by die huis van Lang Doors aangaan en ietwat later

sien sy die donkiekarretjie met die vier kinders daarop

van die huis af wegry. Sy gaan na binne om haar

seuntjie te was en pap te gee, en gee hom toe aan die

bediende. Dit val haar op dat dit buitekant so stil is en

sy gaan op die agterstoep om te luister of sy die voêl-

jaers in die land hoor skree, maar sy hoor hulle nie.

    ,,Daar het jy dit al,” dink sy. ,,So sal hulle maak,

die hele dag 1€ en slaap en die vinke die koring laat

opvreet. Hulle weet natuurlik al dat Bart nou weg is.”

    ,,Loop, Sara,” sê sy vir die bediende, ,,sê vir die kin-

ders dat hulle moet skree, die vinke sal die koring ge-

daan maak. Maar kom gou terug, hoor jy, jy weet ek

het baie werk.”


[bl. 76]


Sy sug.  ,,Hoe.ek hierdie dae moet deurkom, weet

die Here alleen.”


    Die ganse mêre bly haar gedagtes Bart verwyt.

Vrees vir wat hom mag oorkom, dring sy terug agter

haar gevoel van onverskillig behandel te word en agter

haar woede om sy dwaasheid en doldriftigheid.


    Om elfuur kom daar twee van Mooiplaats. Hulle

wil nie inkom nie, en bly op die stoep staan, twee

broers, manne van middelbare leeftyd.

    ,,Waar kan ons neef Bart kry?” vra hulle.

    ,,Ek weet nie,” sê sy nors. ,,Hy is vanmêre Zwart-

spruit toe, maar waarheen hulle daarvandaan sou gaan,

weet ek nie. Wil julle ook rebelleer?”

    ,,Ja, ons wil.”

    ,,Elkeen moet weet wat hy doen, maar ek vind dit

’n verkeerde ding.”

    Hulle kyk verwonderd. ,,So?”


    Hul houding is meteens koel. Onverskillig groet

hulle en ry weer weg sonder hulle te verwerdig om hul

mening teenoor hare te stel. Sy kyk hoe hulle langs

mekaar wegry, twee ewe groot, eendersgeboude

manne. Hoe trots lyk hulle in hul bedaardheid en

onverskillige houding. ’n Wrewel teen hulle kom in

haar op. Sy kry ’n weersin in al die rebelle. ,,Ek hoop

die regering loop hulle gou kaf,” dink sy hatig.


    Teen middag kom oom Giel. Sy sien hom op sy

wit perd langsaam met die pad van sy huis af aankom

en sy begryp dat hy kom om haar op te beur.

    ,,Kom in, oom Giel,” roep sy vriendelik toe hy

afstyg.

Met ’n sug gaan hy sit.

    ,,En Bart is nou weg?” sê hy.

    ,,Ja, Oom, hy is weg.”

    ,,Hulle ry seker na generaal Myburg?”

    ,,Ek weet nie, Oom. Bart praat mos nie met


[bl. 77] * Bart Nel - 6


my nie.—Ons verskil in hierdie dinge,” voeg sy

daarby.

    ,,Ja, Fransina, dit is ’n swaar tyd. Ek gaan ook

nie met die rebellie saam nie, want ’n mens moet nie

sommer teen jou tegering opstaan nie.”

    ,,Ek sê ook so, Oom. Die regering weet wat hy

moet doen. Maar Bart is te koppig om na ’n mens

te luister. Maar hy sal nou sy kop stamp.”

Oom Giel gee daarop geen antwoord nie.

    ,,Wat ek wou sê, Fransina, hier is nou nie ’n man

in die huis nie, en in boerdery is partykeer dinge wat

’n vrou moeilik kan doen; as daar iets is waarmee

ek vir jou kan help, moet jy maar net laat weet.—

Doen die voêljaers hul werk?”

    ,,Hulle is baie lui, Oom.”

    ,,Ek sal ’n bietjie met hulle gaan praat. Met die

volk ook. As een nie vir jou wil hoor nie, moet

jy my dadelik sê. Die skepsels is partymaal onwillig

as hulle weet dat die baas nie daar is nie.”

    ,,Ja, Oom, dit is. Sal Oom bietjie sit, dan sal ek

gou bietjie koffie vir Oom ingooi.”

    ,,Nee dankie, Fransina, ek wil nou niks drink nie.”

Hulle swyg ’n paar oomblikke.

    ,,Kornelia vra of jy nie liewer in die nag by ons wil

wees nie; jy is hier so alleen, net met die twee kinder-

tjies. Ons meen dat dit veiliger sal wees as jy daar by

ons slaap.”’

    ,,Baie dankie, Oom, maar ek is nie bang nie. Ek

het die geweer hier en ons het darem ook ’n goeie

hond. Ek hou hom snags in die huis. Daar sal nie

sommer een inkom nie, Oom.”

    ,,Net soos jy wil, Fransina. Mog jy later lus kry

om by ons die nagte deur te bring, dan is jy te enige

tyd welkom. Ons sal jou laat haal en jou in die mêre

weer wegbring.”


[bl. 78]


    ,,Nee, dis goed, Oom.”

    ,,Nou ja, dan wil ek nou maar eers na Bart se lande

gaan kyk. Is sy haelgeweer hier? Dan wil ek ook

sommer ’n paar skote na die vinke skiet as ek die

kans kry.”


    Sy gee hom die geweer en nie lank daarna nie hoor

sy hom skiet. ,,Nou moet ’n vreemde mens die werk

van Bart kom doen,” dink sy bitter.


    Sy kyk uit of oom Giel nog nie terugkom nie, en

toe sy hom sien aankom, maak sy gou koffie. Hy

drink dit al staande.

    ,,Ek sal af en toe weer bietjie oorkom,” sê hy. ,,En

as daar iets is wat ek vir jou kan doen, moet jy my tog

sê. In tye soos diê moet ’n mens die een die ander help.”


    Sy besoek het haar ’n weinig opgebeur, maar al

gou begin haar gedagtes weer dieselfde rondegang te

loop van eers.


    Dit was naderhand twee-uur en telkens kyk sy of

sy nog nie die donkiekarretjie met die kinders sien

terugkom nie. Naderhand sien sy ’n perderuiter van

die kant van Welgevonden aankom. Sy gaan na binne

en na ’n tydjie blaf die hond. Iemand klop aan die

deur.

    ,,Kom binne,” sê sy onvriendelik.

    ,,Ek is gestuur deur veldkornet Van Vuuren,” sê hy.

    ,,Watter Van Vuuren?”

    ,,Flip van Vuuren van Welgevonden.”

    ,,ls hy dan nou veldkornet?”

    ,,Ja, hy is aangestel in die plek van mnr. Nel.”

    ,,Ja, en wat is dit?” Sy voel ’n onredelike woede

in haar opkom teen die man.

    ,,Ek ry rond om almal aan te sê dat al die mans

van sestien tot sestig jaar mêre om twaalfuur met perd

en geweer, vyftig patrone en vir twee dae padkos op

Rondelaagte moet wees.”


[bl. 79]


    ,,Weet jy dan nie dat my man gerebelleer het nie?”

    ,,Ek weet, ja.”

    ,,Nou ja?” Sy wou daar byvoeg: ,,Wat soek jy

dan hier?”? maar hou dit in.

    ,,Ek gee kennis by al die huise, of die mans daar

is of nie.”

    ,,Dit is onnodig.”

Hy sien dat sy baie kwaad is en staan op, groet

haar koel en ry weer verder.

    ,,Flippie van Vuuren veldkornet?” dink sy ver-

agtend. ,,Hy kan nie in Bart se spore trap nie. Bart

mag nou verder wees wat hy wil, maar hy is tienmaal

meer man as daardie Flip van Vuuren.—Hy was kastig

nogal ’n Nasionalis,” dink sy. ,,Hy het seker gedraai

om die pos te kry. Ag, maar jy kry darem lae mense

in die wêreld. Nee, dan sien ek darem liewers nog ’n

man soos Bart.”


    Toe sy weer buite gaan kyk, sien sy die karretjie

aankom en kort daarna kom Annekie tuis. Sy is erg

opgewonde.

    ,,Ek is ’n rebel, nê, Mammie?’’ sê sy trots. ,,Maar

Theunis van oom Doors is ’n Botha-iet en Pieta is

ook sommer ’n Botha-iet. Weet Ma, wat sê sy, Ma?

Sy sê haar pa sal nog vir Pappie vang. Dit kan hy

nie doen nie, Ma. Daarvoor is hy te sleg. Ek was so

kwaad gewees, Ma; ek het vir haar gesê my pa sal

nog vir jou pa doodskiet. So ’n nare ding, Ma. Ek

wens Pappie skiet haar pa dood.”

    ,,Nee, Annekie, jy praat nou alte lelik. Julle moet

tog nie rusie maak oor hierdie dinge nie; julle is te

klein om die dinge te verstaan. Gesels liewers met

mekaar oor iets anders. Kyk, Pieta is jou maat en

nou maak julle twee rusie.”

    ,,Ek wil haar nie meer vir ’n maat hê nie, Ma. Ek


[bl. 80]


wil nou maats maak met Grieta van oom Koos; sy

is ook ’n rebel.”

    ,,Toe eet nou eers; dis pure bog om jou so kwaad

te maak.”


    Sy gaan by haar sit en eet, maar telkens begin

Annekie weer oor die onenighede by die skool.

    ,,ls die meester ook ’n Botha-iet, Ma?”

    ,,Ek weet nie; hy is seker niks.”

    ,,Is hy ’n weeluis, Ma?”

    ,,Annekie, jy mag nie so oor jou onderwyser praat

nie, hoor.”


    Annekie bly ’n paar minute stil. Haar wange is

rooi van opgewondenheid en haar mooi donker o€

glinster soos diep kuile water.

    ,,Hy is seker tussen die boom en die bas,” sê sy

minagtend.

    ,,Hy het natuurlik sy eie opinie, maar hy bly liewers

stil. Dit is vir hom ook maar beter.”

    ,,Ek sal nooit stilbly nie,” sê Annekie trots.

    ,,Ja, jy dink baie van jouself, nê? Jy praat glad te

veel vanmiddag.”


    Annekie probeer om niks meer te sê nie, maar jy

kan sien dat haar gedagtes bedrywig is.

    ,,ls Ma ook ’n rebel?” vra sy meteens.

    ,,Annekie, bly nou stil; jy is lastig met jou baie

vrae. Eet nou klaar, want ek wil jou na tante Maria

stuur om bietjie sout te vra. Jou pappie het die laaste

bietjie sout wat daar nog was, saamgeneem.”

    ,,Ag, ek verlang nou al so na Pappie,”’ sug Annekie.

,,Verlang Mammie nie ook al baie nie?”

    Fransina gee geen antwoord nie, en die kind swyg

bedruk.

    ,,Sê nou hulle skiet Pappie dood, sal Mammie dan

baie huil?” Maar Fransina sê nog niks.

    ,,ls Mammie dan nog kwaad vir Pappie dat Pappie


[bl. 81]


oorlog toe gegaan het? Pappie kan mos nie help nie,

Mammie. Pappie moet mos gaan. Pappie is mos ’n

rebel, dan moet hy mos gaan rebelleer? Pappie kan

mos nie stil by die huis sit nie. Drikkie van oom

Fransoois sê ’n man wat by die huis bly, is nie ’n man

nie.”

    ,,Jou praatjies sal vandag nooit ’n end kry nie, lyk

my,” sê Fransina terwyl sy opstaan. ,,Kom, dek die

tafel af, dan kry jy die soutblikkie en gaan na tante

Maria en vra of sy vir my asseblief ’n bietjie sout kan

leen.—-Jy kan daar nog ’n bietjie bly speel as jy wil.”


    Toe Annekie die huis uitgaan, dink Fransina: ,,Die

kinders is ook al heeltemal befoeter net soos die

grootmense. Die hele wêreld is onderstebo. Hierdie

dinge maak my so siek dat dit my walg.”


    Sy gaan weer by haar masjien sit en werk so driftig

dat sy nie eers hoor dat Maria, Pieter se vrou, inkom

nie.

    ,,Middag, Fransina,” sê Maria bo die geraas van

die masjien uit. Sy skrik. ,,Middag, Maria, ek het

jou glad nie hoor kom nie.”

    ,,Jy is, lyk dit my, vreeslik besig, nê?”” Sy was ’n

lang geelblonde vrou, haar kop en skouers staan bietjie

vorentoe, haar mond is wyd met groot, geel tande;

’n lelike vrou met haar klein witblou og Sy praat

temerig. ’n Goeie mens, dit kan jy wel sien.


    Fransina gaan op ’n ander stoel sit. ,,Is Annekie

daar by jou, Maria?”

    ,,Ja, die kinders speel soet daar. Die bediende is

darem ook daar,” voeg sy daarby om Fransina gerus te

stel. Sy swyg, weet nie wat om te sê nie. Oor iets an-

ders praat as oor die rebellie kan sy amper nie, maar sy

het van Pieter gehoor dat Fransina nie by haar man

staan nie.


[bl. 82]


    ,,Nou sal ons vroumense die boerdery moet behar-

tig,”’ sê Fransina.

    ,,Ja, Maar wat, ons sal wel deurkom. Ons is mos

ook nie waspoppe nie.”

    ,,Nee, jy seker nie,” dink Fransina haatlik. Sy hou

anders nogal van haar buurvrou, maar vandag het sy

’n afkeer in elkeen.

    ,,Ons is darem nie gemaak om twee dinge te doen

nie,” sê sy, ,,die huis waarneem en dan nog buitekant

sake behartig daarby.”

    ,,Dit sal moontlik nie te lank duur nie,” sus Maria.

    ,,Nee, as dit lank moet duur, word ek gek.”

Maria bly stil. Toe sê sy: ,,Ons moet maar by

ons mans staan.”

    ,,As hulle liewers by ons wou staan.”

    ,,Hoe meen jy?”

    ,,Hulle laat ons hier aan ons lot oor.”

    ,,Dit kan nou nie anders nie. Dis vir hulle ook

maar swaar om alles agter te laat, vernaamlik nou

met die koring en die ploeêry en al die ander werk

wat daar is.”

    ,,O, hulle kry lekker. Dis mos lekker vir ’n man

om op kommando te gaan.”

    ,,Jy dink so?”

    ,,Ja, dink jy nie ook so nie?”

    ,,Nee, ek dink nie so nie. Hulle gaan omdat hulle

meen dat dit hul plig is.”

    ,,Hul plig is om vir hul familie te sorg.”

    ,,Daar is nog ander pligte ook.”

    ,,Dit is nie ’n man se plig om teen sy regering op

,,te staan nie.”

    ,,En as die regering onreg doen?”

    ,,Dit is nie ons saak nie. Ek is nie vir twis en twee-

drag nie; ek is vir vrede.”

    ,,Vrede ten koste van reg?”


[bl. 83]


    ,,Wie weet wat reg is? Ons hoor nou so, maar as

jy die regeringsmense sou hoor, hoor jy weer glad

anders.”


    Maria se gesig word bloedrooi; tot haar nek en

ore is rooi. ,,Hoe lyk dit dan of jy ook al ’n Botha-iet

is, Fransina?”’


    Fransina kyk haar uitdagend aan.

    ,,Ek is geen Botha-iet nie, en ook geen rebel nie,

maar ek is teen onnodige twiste en vegtery. Daardie

hoê politiek moet mens oorlaat aan die wat meer weet

as ons.”

    ,,Skaam jou, Fransina. Jou man is in die veld en

waag sy lewe vir sy volk en jy steek hom in die rug.”

    ,,Ek het my eie opinie.”’

    ,,’n Treurige opinie, moet ek sê.”


    Hulle bly altwee stil. Met kwaai gesigte sit hulle

daar en kyk mekaar nie aan nie.

    ,,Dit moet bitter wees vir Bart,” dink Maria.

    ,,Mens, loop tog liewer,”’ wens Fransina by haarself.


    Maria staan op. ,,Ek loop maar weer,” sê sy.

,,Daar is baie dinge te doen by die huis. Dag, Fran-

sina.”

    ,,Middag, Maria,” groet sy koel. Sy gaan nie saam

tot op die stoep nie, maar gaan dadelik weer aan met

haar werk en Maria was nouliks die huis uit of sy

hoor al weer die geratel van die masjien.

    ,,Hierdie vrou sal my nie gou weer hier sien nie,”

mompel sy.


* * *


    Fransina dink:  ,,Ek wil vir Pa vra of Teunis hier

mag bly solank as Bart van die huis af weg is.’’


    Daardie selfde aand nog skryf sy en stuur die brief

saam met Aletta, Fransoois se vrou, wat saam met

Maria na Uitdraai ry.


[bl. 84]


    Laat in die middag kom hulle terug, en hulle hou

stil om Bart se briewe en koerante af te gee, maar wil

nie afklim nie. Hulle sit daar langs mekaar op die

ou kaal kar, twee jong vrouens, bietjie armlik, ’n

weinig verwaarloos van uiterlik, moeg gesit en bedruk;

Maria groot en hoekig, Aletta mooier, kleiner, met

groot donker oê.

    ,,Nee ons wil nie afklim nie,” sê sy vir Fransina,

,,want ons is regtig haastig om by die huis te kom.”

    ,,Het julle iets gehoor?”

    ,,Ons hoor dat ons klompie mans verby is na

Balmoral. Hulle was nie baie nie, nog geen vyftig.

Dit lyk of die mense sleg aansluit. Maar jy sien wel

orals perderuiters wat na Rondelaagte toe ry, na die

tegeringskamp. Dit lyk amper of die laaste een wat

opgekommandeer is, gaan. Daar gaan gerugte dat

hulle die wat weier, sal doodskiet. Dis seker maar

net om die mense bang te maak. Generaal Myburg is

anderkant die spoor en daar is ook ene kommandant

Venter met ’n kommando rebelle.”


    Maria bly al die tyd stil, kyk reg voor haar uit

sonder om iets te sê. ,,Sy is seker nog kwaad,” dink

Fransina.

    ,,Ja, dinge lyk nie te goed nie,’”’ gaan Aletta verder,

,,dit lyk nie of die rebellie ’n sukses gaan wees nie.

Hierlangs in ieder geval nie. Ek wonder wat sal hulle

maak met die rebelle wat gevang word.”

    ,,Hulle kan darem nie die mense doodskiet nie,”

sê Fransina, ,,dit sal hulle darem nie doen nie.”

    ,,Mens weet ook nie,’’ sê Aletta. ,,Die regering van

ons is so gemeen dat jy nie kan sê wat hulle sal doen

nie. Nou ja, tot siens, sal ons dan maar sê.”


    Fransina kyk hulle agterna toe die kar op ’n draffie

verder gaan en toe links afdraai die laagte in na die

huis van Pieter, en toe gaan sy met ’n sug weer na binne.


[bl. 85]


    ,,As die regering so laag sou wees om van die mense

wat hulle vang, dood te skiet, dan sal ek jammer wees

dat ek nie van die begin af by Bart gestaan het nie,”

dink sy. ,,Maar dis sommer bogpraatjies; dit sal hulle

nooit durf waag nie. Daar gaan nou so baie stories

trond onder die mense, die een leuenagtiger as die

ander.”


    Daar was ’n rekening van ’n nuwe ploeg wat Bart

bestel het en wat nou afgestuur is. Ook ’n brief vir

Bart van haar vader. Hy raai hom aan om tog nie

aan die rebellie deel te neem nie. Hy weet nie wat

Bart se gevoelens is nie, maar indien hy teen die rege-

ring mog wees, wou hy hom in diê geval tog waarsku.

Uit betroubare inligting weet hy dat die regering die

vaste voorneme het om die rebellie met geweld dood

te druk, en hoegenaamd geen plan het om met die

tebelle te onderhandel nie.

    ,,Ja, dit is nou te laat,” dink sy. ,,Buitendien sou

dit tog ook niks help nie.” Sy voel week van

moedeloosheid, voel kragteloos en bedroef en lank sit

sy sommer sonder om iets te doen. Sy begin vir Bart

se toestand te vrees. Wat sal hulle met hom doen

as hy gevang word? Sy maak haar so senuweeagtig

dat sy doelloos deur die huis loop, na die kombuis en

na buite en weer deur die voordeur na binne, bêwend

van vrees. Na ’n tyd kom daar ontspanning; sy gooi

haarself op haar bed en huil hartstogtelik. Toe sy weer

orent kom, was sy kalmer en gaan sy weer aan met haar

werk.


    Dit word aand. Die kleintjie lê rustig en slaap en

Annekie is ook al in die bed. By ’n kers lees sy in die

sitkamer die koerant. Dit was vol van die rebellie. Dat

generaal Botha self die bevel oor die troepe in die

Vrystaat geneem het. Dat Botha se invloed en popu-


[bl. 86]


lariteit nou eers goed te sien is, want die grootste deel

van die Boerebevolking staan hom in hierdie moeilike

dae getrou by. En meer van diê aard.


    Botha trek nou op teen generaal De Wet. Was dit

nou nodig? Kon daar dan geen ander oplossing gevind

word nie? Maar die regering was volgens haar pa se

brief vasbeslote om die rebellie met geweld te onder-

druk. Geen onderhandelinge nie; oorlog. Bart was

miskien wel reg toe hy gesê het dat Botha geen Boer

meer was nie. Want so was die Boere tog nie. Hulle

maak graag rusie en hulle twis baie onder mekaar; hulle

is altyd verdeeld en elkeen volg sy eie kop, maar as die

verdeeldheid dreig om tot felle vyandskap te groei, dan

is hulle gewoonlik tog weer geneig om vrede te maak.

Dit moet nie te ver gaan nie. Eintlik is hulle tog,

ondanks hul tweedrag, vredeliewende mense. Soveel

het sy wel gehoor uit die verhale van haar pa en van

haar oupa. Van Andries Pretorius en Hendrik Pot-

gieter, hoe eenmaal op ’n groot volksvergadering, waar

die gemoedere van die Pretoriusparty en die Potgieter-

party so warm was dat daar groot gevaar was dat hulle

mekaar sou skiet, die twee manne hul persoonlike

griewe verswyg het. Sy het, toe sy nog ’n jong meisie

was, haar oupa dit hoor vertel en sy sien dit soms nog,

duidelik soos ’n gekleurde prentjie, so ’n indruk het die

verhaal toe op haar gemaak; ’n tent waarvan die klappe

oopegslaan is en die twee leiers in die deur met tussen

hulle ’n tafel waarop ’n oop Bybel lê en oor die Bybel

gee die twee leiers mekaar die hand. Dit is mooi, dit

is groots, dis groter as om te veg en jou teenstander te

verslaan.


    En later toe Martinus Wessel Pretorius, seun van

Andries Pretorius, met ’n kommando die Vrystaat

ingetrek het teen president Boshof en toe die twee

magte teenoor mekaar lê, gereed om aan te val, toe


[bl. 87]


het Paul Kruger die twee presidente oorreed om vrede

te maak en het Pretorius na Transvaal teruggetrek.

Was dit nie baie mooier nie as om trots en koppig

verder te gaan en Boer teen Boer te laat oorlog maak?

En selfs generaal Botha het na die Driejarige oorlog, toe

die haat teen die ,,joiners’’ nog so fel was, die mense

beweeg om die ,,joiners”’ weer onder hulle op te neem

en die haat te laat sterwe. So was die Boere, diep in

hul hart vredeliewend en vergewensgesind. Maar Botha

en Smuts wou nie vrede hê nie, wil geen onderhande-

ling nie, hulle wil die rebelle met geweld onderwerp.

Was Botha en Smuts nog wel reggeaarde Boere? ,,Die

Boer in hulle is dood,” het Bart gesê. Bart is reg.


    Maar. sy.kon..Bart..nie vergewe nie. Hy. moes_stil

gesit het. Nou waag hy alles, sy lewe, sy goed, in ’n

hopelose onderneming. Hy steur hom_nie aan haar

nie, steur hom aan niks nie, volg sy eie harde kop.

Sy sit en luister hoe die wind begin te waai. ,,As

hierdie wind tog maar nie sterker word nie,” dink sy;

,,dis ’n suidewind; dan sal hy baie skade aan die koring

doen.”


    Opgewonde sit sy en luister tot dit weer stiller word.

Jammer dat Bart nou juis die duur ploeg bestel het.

Nou hy tog nie by die huis is nie, was dit beter om

maar sonder die ploeg klaar te kom. Nou moet sy ook

nog daarvoor sorg dat hy van die stasie gehaal word.


    Die twee volk ploeg nou. Die een het vandag al

gesê dat hy siek voel. Nou sal hy seker ’n paar dae by

sy stroois lê, sogenaamd te siek om te werk. Oor-

mêre is dit weer Bart se dag om water te lei. Met net

een jong sal dit ook maar treurig gaan. Og, dis ’n

gesukkel.


    Langsaam begin sy vaak kry. Sy voel doodmoeg,

maar nog sit sy en tob. Eindelik vat sy die kers en gaan

na haar slaapkamer. Annekie slaap nou by haar in die


[bl. 88]


bed. ’n Paar oomblikke belig sy die slapende seuntjie

en toe bekyk sy die mooi brunettegesiggie van Annekie.

Sy lê daar met haar arms bo haar kop asof sy nog ’n

klein kind is. ’n Windstoot suis rondom die huis en

deur die oop venster kom die geruis van die blare van

die bome op die werf. Verskrik staan sy en luister.

Die wind hou aan. ’n Koue waai na binne en sy maak

die venster toe. Toe trek sy haar uit en klim onder die

kombers in. Annekie draai haar op haar sy maar slaap

deur. Die kind se warmte is behaaglik. Toe lê sy nog

weer en luister. Die wind waai al harder. ,,Dit moet

ons nou nog daarby hê,” dink sy mismoedig.


* * *


    Die volgende dag was die voêljaers laat en die een

jong daag, net soos sy verwag het, nie op nie. Geluk-

kig kom oom Giel. Met sy sagte stem groet hy vriende-

lik, maar sy gesig met vaal puntbaardjie lyk bekommerd

en sy klein ogies kyk neerslagtig.

    ,,Ek vrees dat laaste nag se koue die koring lelik

geskroei het,” sê hy. ,,Vanmêre kan mens nog nie veel

aan hulle geware nie, maar oor ’n paar dae sal jy dit

kan sien. Die wind het hard gewaai en dit was koud

gewees. Hoe gaan dit verder hier?”

    ,,So met ’n gesukkel, Oom. Die een jong, Geel-

booi, het nie opgedaag nie. Hy het gister al gekla.”

    ,,Ja, hulle sal so maak; ek het dit verwag; maar ek sal

bietjie na sy stroois ry om te kyk of hy werklik so siek

is.”


    Hy sit daar vaderlik die dinge en bespreek. Mens

kan sien dat so iets na sy aard is en dat dit vir hom ’n

genot is om van diens te kan wees.

    ,,Tog ’n goeie ou oom,” dink Fransina.

    ,,Ek het vir my pa gevra of hy nie my klein broertjie

kan laat kom om ’n rukkie by my te kom bly nie.”


[bl. 89]


    ,,Ja, dit sal ’n goeie ding wees.” Oom Giel sit en

dink oor Bart. Hy sal seker nie gou terug wees nie.

Hy is daarvan oortuig dat die rebellie ’n mislukking

gaan wees. Hy hoor nogal so een en ander, want hy

praat met altwee die partye. Die regeringsmense hou

hom vir ’n regeringsman en van die rebelsgesindes is

daar ook weer wat meen dat hy aan hulle kant staan.

Hy praat soms met altwee saam. So hoor hy by almal

iets. Hy het die vorige dag toe hy na Uitdraai toe

gery het ’n groot mag regeringstroepe sien verbytrek,

meer as duisend man. Moet hy haar dit vertel? Mis-

kien weet sy dit nog nie. Maar waarom sal hy haar

onnodig nog neerslagtiger maak?

    ,,Pa skryf dat die regering nie met die rebelle sal

onderhandel nie,” sê Fransina.

    ,,Die regering kon darem minder hard wees, Oom.

Hulle moes nou maar liewers die mense ’n kans gee,

dan was die ding miskien gou op ’n end. Ek raak nou

ook teen die regering, Oom. Hulle moes liewers pro- .

beer die mense weer bymekaar bring. Nou sal al die

verdeeldheid en haat bly.”

    ,,Ek dink ook so, Fransina; hulle kon, dink ek, meer

vergewensgesind wees.”

    ,,Dink Oom hulle sal die offisiere doodskiet ?”

    ,,Nee glad nie, Fransina. Daarvoor hoef jy nie bang

te wees nie. Hulle sal seker tronkstraf kry, of boete.”

    ,,Hoe sal ons nog die boete kan betaal?” sug sy.

,,Ons het alreeds so baie moeilikhede. Bart het so baie

geld opgeneem om die plaas te verbeter.”

    ,,As Bart net weer by die huis is, sal alles regkom,”’

troos hy.

    ,,Waar staan jou pa?”

    ,,Hy staan glo by die regering, Oom.”

    ,,So? Nou ja, dan wil ek nou eers na Geelbooi ry.”

Twee dae later kom Teunis, ’n seun van veertien jaar.


[bl. 90]


Hy help ploeg en waterlei, hy melk en ry winkel toe en

is verder ’n aangename seun om by jou te hê.

    Een namiddag kom tante Katrina.

    ,,Kom Tante die hele pad met die voet?” vra Fran-

sina verbaas.

    ,,Ja, Fransina, ek het nie perde om in te span nie,

want Gawie en die twee seuns is mos met hulle weg.

Maar ek wou darem so ’n bietjie oorkom om te sien

hoe dit met jou gaan.”


    Sy sien daar bekommerd uit en haar vriendelike gesig

lyk bedruk.

    ,,Daar is so baie te doen by die huis dat ek amper

nie kan weg nie, maar mens verlang na bietjie gesel-

skap.”

    ,,Dis waar, Tante. Ek is bly dat Tante bietjie oor-

gekom het.” Sy roep vir Teunis. ,,Haal tog die perde

uit die kamp, Boetie,’’ vra sy beleef, ,,en sit hulle in die

stal. As tante Katrina dan wil loop, kan jy haar som-

mer met die kar wegbring.”’

    ,,Dik Martiens en Lang Doors het geweier,” sê tante

Katrina. ,,Hulle het gesê hulle wil nie teen hul eie

familie gaan veg nie. Nou is hulle verbied om die plaas

sonder permit te verlaat.””

    ,,Dit is darem goed van hulle,” sê Fransina..

Tante Katrina was bly oor Fransina.dit.sê.Dit-lyk

of sy darem so half aan hul kant staan.

    ,,Ek voel so onrustig oor Gawie en die twee seuns,”’

sê sy, ,,dit lyk of die rebellie hoegenaamd geen kans

meer het nie.”

    ,,Ek is baie ontevrede oor Bart daaraan deelgeneem

het,” antwoord.-F1 Fransina, »maar. die regering handel

darem ook nie reg nie.”

    ,,Nee, ek is nie spyt dat my man en my seuns gaan

tebelleer het nie. ’n Man moet sy plig doen, al lyk

sake hopeloos. Mens mag nie sulke groot onreg laat


[bl. 91]


aangaan nie. Die goeies moet altyd klaarstaan om die

kwaaies te beveg, al gaan hulle ook daardeur te gronde.”

    ,,Dit is baie hard, Tante.”

    ,,Dit is baie hard, maar ’n mens leef maar eenmaal

en die rukkie wat jy leef, moet jy dan maar probeer

teg doen.”

    ,,En as jy sien dat dit tog nie help nie, Tante?”

    ,,Dit help altyd, al verloor jy ook, maar dit help

altyd.”

    ,,Ek deug seker nie vir martelaar nie,” antwoord

Fransina.

    Sy gaan koffie maak en tante Katrina bly sit, voel nie

bra lus om ook in die kombuis te gaan nie. Sy is kort

en swaar en nie gewoond om so ver te loop nie.

    ,,Ek kry swaar, maar hierdie mens kry ook baie

swaar,” dink sy. ,,Ek en Gawie is ten minste eens-

gesind. Dit moet ellendig wees as jy in so ’n tyd van

mekaar verskil.”

    ,,Sukkel Tante nie baie met die boerdery nie?” vra

Fransina vanuit die kombuis.

    ,,Dit gaan nogal, Fransina. Ons het gelukkig be-

troubare volk, regtig deeglike skepsels.”’

    ,,Ja, Tante. Ek het al baie sonde met ons s’n gehad,

maar oom Giel help my baie en vandat my broertjie

hier is, gaan dit ook beter.”


    Tante Katrina bly nie lank nie. ,,Ek kan nie te lank

van die huis af weg nie,’’ sê sy weer. ,,Maar kom jy

nou eendag ook bietjie oor. Ek is so eensaam daar;

en jy het tog nog kar en perde.”


    Nadat sy weg is, dink Fransina: ,,Sy waag alles .wat.sy

het, haar man en haar kinders en nog kla sy nie. Sulke

mense kan ek nie verstaan nie.”


* * *


[bl. 92]


    Een Saterdagmêre, omtrent nege-uur, staan Fransina,

klaar aangetrek om uit te gaan, op haar stoep en kyk

hoe oom Giel se kar op ’n stadige draffie aankom.

Teunis staan ook daar, wag of sy suster hom miskien

nog iets wil sê wat hy moet doen: ’n aantreklike seun,

vaal, met dieselfde mooi 0 as sy.

    ,,Sussie moet nou nie vergeet om haelpatrone saam

te bring nie,” sê hy.

    ,,Nee, ek sal onthou.”’

Annekie staan ook daar. ,,Toe, Mammie, laat my

saamgaan,”’ soebat sy weer. ,,Ek was amper ’n jaar

laas op Uitdraai.”

    ,,Hoor hoe jok jy. Nee, Annekie, jy moet vir Boetie

oppas. Wees nou soet, my kind, en moenie weer vra

nie.”


    Annekie bly stil, staar droewig na die kar met twee

blou perde wat al duideliker word. Mens kan nou

sien dat tante Kornelia ook by is, ’n groot vrou, altyd

swart aangetrek.

    ,,Sy is natuurlik by,” dink Fransina spottend. ,,0om

Giel sal dit nie sommer waag om met my alleen te ry

nie. As daar een of ander kwaadsteker iets van sou

sê, sou die ou dit sy lewe nie weer vergeet nie,”


    Voor die kar stilhou, loop sy na die hek. ,, Wil Tante-

hulle nie eers bietjie afklim nie?” roep sy.

    ,,Nee, ons moet maar dadelik ry,” sê oom Giel. ,,Jy

sal nou maar moet agter sit, as jy nie omgee nie,”

vervolg hy toe Fransina nader kom, ,,want drie voor

sal alte ongemaklik sit.”


    Sy waai vir Annekie terwyl hulle wegry. Teunis sien

sy al weer land toe stap. So van ver af lyk die koring

pragtig, maar die koue het tog nogal skade gedoen.

Oom Giel ry nie vinnig nie, altyd jammer vir sy perde.

,,Dis daarom dat die twee ou perde so lui is,” dink sy.

Sy dink aan Annekie se droewige o& waarmee sy hulle


[bl. 93] * Bart Nel - 7


agternagekyk het. Sy sou haar wel graag saamgeneem

het, maar dit is beter dat sy by Boetie bly; sy wil ook

nie oom Giel meer las aandoen as noodsaaklik is nie;

die ou sal alreeds dink dat die kar swaar is.


    Angs beneem haar die lus tot geselskap. Wat se

nuus sal sy op Uitdraai hoor? Iets goeds sal dit seker

nie wees nie. Traag draf die perde en eentonig klop

die draaghout op die disselboom. Dit word warm;

die lug beef al. Langsaam draai die wye groen veld

by hulle verby. Hier en daar ploeg lang spanne osse

die rooi of swart grond om en nou en dan sien hulle

’n kar of ruiter of ’n enkele wa, veel minder as gewoon-

lik. Geen wind waai nie.


    Ondanks die lekker weer en die fris groenigheid van

die veld, het die stil, wye ruimte iets wat neerdruk. Die

tebellie 1€ oor die land. Vir lang rukke ry hulle stil-

swyend,


    Toe hulle die dorpie nader, begin haar hart vinnig

te klop en haar hande sweet van senuweeagtigheid.

    ,,Ek wonder watter nuus sal ons vandag hoor,” sê sy.

    ,,Ja ek wonder ook,” sê oom Giel. Sy toon was nie

bemoedigend nie.

    ,,Mens moet hom nou se dae maar klaarmaak vir

slegte nuus,” sê tante Kornelia.

    ,,Ja Tante, dis waar.”


    By die poskantoor staan ’n klompie mans druk en

gesels. Hulle kyk om en dit lyk vir Fransina of hulle

regstreeks na haar kyk, en nie net oor sy ’n jong, mooi

vrou is nie. ’n Paar regeringsmanne met geweers ry

verby en dit lyk vir haar of hulle daar trots en oor-

moedig uitsien. ’n Wrewel teen hulle kom in haar op.

Daar was minder gewoel as gewoonlik op Saterdae en

telkens sien mens vrouens wat sonder hul mans is. By

’n winkel hou hulle stil en oom Giel span uit. Daar

binne bemerk Fransina weer dat sy aandag trek. Daar


[bl. 94]


was ’n hele paar kopers en telkens as sy omkyk, sien sy

dat party se oê op haar gevestig is.

    ,,Hoe die mense belang in jou stel as jy die geluk het

om ’n man te hê wat rebel is,” dink sy skamper.


    Oom Giel het weggegaan om sy besigheidjies te doen.

Nou en dan ontmoet sy bekendes, maar sy is bang om

na nuus te vra en niemand praat met haar oor die

rebellie nie. Netnou sal oom Giel wel alles vertel.


    ’n Jong vrou kom die winkel in en gaan na Fransina

toe. Haar gesig wys dat sy gehuil het. ,,Dag, Fransina,”

sê sy en sy praat sag en hees asof sy sommer weer

dadelik aan huil sal gaan. Haar lippe beef. Dis die

vrou van een van die manne wat by Bart is. ,,.Kom

bietjie saam,” wenk sy en trek Fransina aan haar hand

na buite, agter die winkel.

    ,,Is dit nie vreeslik nie, Fransina? Het jy al gehoor

van generaal Myburg?”’

    ,,Nee, wat is dit?”

    ,,Generaal Myburg se kommando is heeltemal ver-

slaan. Daar het ’n hele klomp van hulle in die slag

gebly. Ek is tog so bang dat my man ook geskiet is.”

    ,,Hoe weet jy?”

    ,,Almal weet dit. Almal praat daarvan. Hulle sê dit

was ’n onverwagte aanval. Die rebelle het geen kans

gehad nie. Hulle sê dat daar in die dertig rebelle geval

het.”

    ,,O, Martha.” Sy voel duiselig asof sy wil flou word

en gryp vas aan die uitgespande kar. Sê nou Bart~is

daarby? Hy sal seker daarby.wees... Hy..was-natuurlik

op die gevaarlilste-plek.-

    ,,Gaan bietjie sit,” sê die vrou. ,,Sit hier op die kar.

Sal ek gou bietjie water kry?”

    ,,Nee, wag maar, dit gaan al beter. — Maar is dit

seker dat hulle by generaal Myburg was?”


[bl. 95]


    ,,Dit is iets wat ek nie kan uitvind nie, maar hulle

plan was mos na hom toe.”

    ,,Ja, maar tog; dit is miskien moontlik dat hulle nog

nie by hom was nie.”

    ,,Maar hulle sê dat Bart met kommandant Venter

verenig het en diê was by generaal Myburg.”

    ,,Dan was hulle ook maar by. Jy weet niks van

Bart nie?” vra sy hoopvol. ,,Het jy tog niks omtrent

Bart verneem nie ?”’

    ,,Nee waarlik nie, Fransina; ek sou jou dit sê.”


    Hulle sien dat tante Kornelia hulle soek en hulle sien

op dieselfde oomblik oom Giel ook aankom. Hy lyk

nog bedrukter as anders; sy hele houding dui op

neerslagtigheid.

    ,,Dit is baie treurige nuus,”’ sê hy. ,,Maar jy hoef

jou darem nog nie onnodig te verontrus nie, Fransina,

en jy ook nie Martha, want Bart en sy mense was nie by

generaal Myburg nie. Hulle is nog algar buitekant.”

    ,,Weet Oom dit seker?”

    ,,Ja, dit is nou positief. Bart en sy klomp was nie

in die slag nie. Hulle was eers by kommandant Venter

maat het weer van hom af weggegaan. Venter het toe

by generaal Myburg aangesluit, maar Bart en sy mense

was toe nie meer by hulle nie. Dit is nou geloof-

waardige nuus.”

    ,,Dis die beste om nou maar moed te hou,” sê oom

Giel. ,,Bart sal nou seker ook maar kom oorgee; dis

al wat hy kan doen.”

    ,,Toe span hy in en hulle ry weg terwyl baie hulle

agternakyk; Fransina met haar rug na die perde, bleek

en besorg, haar gesig half onsigbaar agter die groot rand

van haar hoed.


* * *


[bl. 96]


    Buitekant die dorp gee oom Giel haar ’n paar reke-

ninge. ,,Dit was al wat daar in die pos was,” sê hy, ,,en

dan koerante, maar diê sal ek jou netnou gee.”

    ,,Nog geen brief van Bart nie,” dink sy." Hy kon haar

tog iets van hom laat weet het. ,,Hy voel seker nog

kwaad,” dink sy. Trane van teleurstelling kom in haar

oë. Oom Giel dink ook daaraan. ,,Sou Bart dan nooit

die kans kry om vir haar te skryf nie? Of sou hulle

so kwaad vir mekaar wees dat hy nie wil skryf nie? Dit

sou darem tog te erg wees. Maar moontlik hou die

pos sy briewe agter. Miskien is hy ook bang om te

skryf, omdat hulle dan kan agterkom waar hy is.”” Hy

is egter bang om met Fransina daaroor te praat.


    Hulle ry stilswyend voort. Die dag is op sy warmste

en moeg, warm en terneergedruk, sit die drie hulle en

bekommer.


    Daar was ’n brief van die Landbank om Bart daaraan

te herinner dat hy aan die end van die maand sy rente

moet betaal en tegelyk ’n deel van sy skuld moes aflos.

Ook ’n rekening van twintig pond van ’n winkelier op

Uitdraai, en dan nog ’n rekening van ’n man van

Kalklaagte, van tagtig pond. Dit was natuurlik ’n ver-

gissing, diê was seker vir iemand anders bedoel. Daar

staan geen besonderhede by nie, net die bedrag. Daar

hoef sy nie eers op te antwoord nie. Die man sou later

wel sy vergissing sien. Die rekening van die winkelier

op Uitdraai staan haar nie aan nie. Sy het dit nie ver-

wag nie. Aan die Landbank sal sy vra of hulle wil wag

tot Bart weer by die huis is.


    Onder al dergelike oorleggings deur bly haar gedagtes

tog voortdurend by die vraag of Bart nou sal oorgee en

wat hulle dan met hom sal doen? Sy wys oom Giel die

rekening. ,,Ken Oom die man?”

    ,,Nee, maar ek weet wel van ’n winkel op Kalklaagte.””

    ,,Dis natuurlik ’n vergissing,’’ sê sy.


[bl. 97]


    ,,Ja, dis seker maar ’n vergissing,” antwoord hy,

maar daarna sê hy niks meer nie, sit daaraan en dink

dat Bart oor Kalklaagte getrek het. Sou hy altemit daar

dinge gekoop het? Dit lyk hom al hoe waarskynliker.

Maar teen Fransina praat hy niks daarvan nie.


* * *


    Twee dae later kry sy ’n ander rekening, toe van ’n

winkelier op Diepsloot, ’n rekening van sestig pond en

tegelyk nog ’n rekening van oom Jan de Beer van

Doornfontein vir twee perde, elk van twintig pond.

Toe skrik sy. Wat sou dit kan beteken? Sou Bart

dan die perde en die goed gekoop het? Sy gaan na oom

Giel. Dit was in die middag kort na ete en oom Giel

sit op sy stoep en oordink al die dinge wat in die laaste

tyd gebeur het. Toe hy op die dowwe paadjie wat van

sy huis na Bart se huis loop ’n vroumens sien aankom,

kry hy sy verkyker.

    ,,Fransina?”’? sê hy. ,,Daar is seker fout.”

    ,,Sikspens,” skree hy, ,,span dadelik in.”

    Hy help ook en vyf minute later ry hy al Fransina

tegemoet.

    ,,Alla, Fransina, kom jy dan met die voet na ons

toe?” vra hy onrustig. ,,Jy kon maar ’n boodskap

gestuur het, dan het ons jou kom haal.”

    ,,Ek kon ook maar laat inspan het, oom Giel, maar

die perde is in die kamp en Teunis en die volk is in

die lande en ek het so geskrik dat ek sommer gou met

die voet gekom het. Waar gaan Oom heen?”

    ,,Ek het jou sien kom en toe het ek gou laat inspan.

Is daar iets verkeerd?”

    ,,Ja,‘Oom, ek meen so. Oom weet van die rekening

van die Jood op Kalklaagte; nou het ek weer ’n rekening

van sestig pond gekry van ’n ander winkelier en ook ’n

rekening van oom Jan de Beer van Doornfontein vir


[bl. 98]


twee perde, elk van twintig pond. Wat kan dit tog

wees, oom Giel? Sou Bart dan die perde en die goed

gekoop het?”


    Oom Giel gee eers geen antwoord nie. ,,Laat my

bietjie sien,” sê hy. Hy bekyk die rekeninge.

    ,,Dis heel moontlik dat Bart die goed en die perde

gekommandeer het,” sê hy toe.

    ,,Maar dis onmoontlik; Bart kan dit nie doen nie;

ons kan dit nie alles betaal nie, Oom; dis onmoontlik.”

    ,,Jy weet self hoe Bart is,” sê oom Giel. ,,As hy ’n

hy die goed gekommandeer en daarvoor geteken; dit

lyk my so.”

    ,,Hy wil homself nou totaal uitroei,” sê sy bitter.

    ,,Moontlik kan daar darem ’n vergissing wees,” sê

oom Giel, ,,maar vir my lyk dit amper of dit so kan

wees.”


    Toe hulle voor die huis stilhou, staan tante Kornelia

vir hulle op die stoep en wag, vrees vir slegte nuus in

haar groot bleekbruin gesig.

    ,,Wat is dit Fransina?” vra sy dadelik.

    ,,O, Tante, dit lyk vir my of Bart homself nou wil

uitroei. Kyk wat kry ek alles.”


    Die ou tante sug, maar sê niks nie. ,,Kom eers

binne,” sê sy. ,,Sou neef Bart dan al die goed gekom-

mandeer het ?’’ vra sy toe.

    ,,Dit lyk my so,” sê oom Giel.

    ,,Maar dis mos vreeslik baie, Oom,”’ kla Fransina.

    ,,Ja, en wie weet hoe het die Jode nog vir hom ver-

neuk, Hulle sal die hoogste pryse opgesit het, dit kan

iy glo.”

    ,,Maar Bart het tog nie nodig om dit alles te betaal

nie,” sê tante Kornelia. ,,Diê wat die goed gekry het,

behoort dit te betaal.”


[bl. 99]


    ,,Maar Bart het geteken, Tante, en ons sal maar moet

opdok.”

    ,,Die ander mense sal darem ook daaraan help, dink

ek.”

    ,,Ek weet nie, Tante. Ek twyfel daar sterk aan. Dit

sal maar ons wees wat die skade moet ly.”

Hulle swyg bedruk. Toe sê oom Giel: ,,Die beste sal

wees om die prokureur te gaan sien. Ek en my vrou

moet tog mêre weer dorp toe en as jy wil, kan jy saam-

ry, dan kan jy die dinge met hom bespreek. Dit lyk my

tog die verstandigste.”’

    ,,Ja, Oom,”


    Sy was baie hartseer. Dit was al wat sy van Bart

hoor, rekeninge vir skulde wat hy onnodig maak. Wie

weet hoeveel meer daar nog sou kom.

    ,,Ag, maar die lewe word swaar, Tante,” sug sy, ,,as

oom Giel nie hier was om my altyd te help nie, dan

weet ek nie hoe ek dit sou maak nie.”

    ,,Nee wat, Fransina, dit is niks om van te praat nie,”

sê sy, ,,ons in mos bure.”

    Hy bring haar weer terug. ,,Hou nou maar moed,”

sê hy, ,,dinge sal regkom. Skielik kom daar partymaal

weer verligting.”


* * *

    Die volgende mêre ry sy met oom Giel en tante

Kornelia weer na Uitdraai. Die ylbeboude dorpie lê

daar na ’n dag van reên, blink gewas, in die sonnige dag.

Dis stil in die strate, alleen in die middel, waar die

meeste winkels en kantore is, is daar ’n weinig gewoel.

Oom Giel laai haar by die prokureur af en ry met tante

Kornelia verder.


    Toe sy na binnegaan, sit daar in die klein wagkamer

Ferdinand Basson, nog ’n jong man met ’n blosende

gesig. Hy dra ’n bril. Hy is van dieselfde leeftyd as


[bl. 100]


Fransina, dertig jaar, maar lyk jonger. Sy blou oê

agter die brilglase lyk goedig en opgeruimd en die klein

swart snorretjie bo sy rooi mond pas hom goed. Hy is

goed aangetrek en sien daar netjies uit. Blyverras staan

hy op toe hy sien wie daar binnekom. Hulle ken

mekaar al van hul kinderjare af en hy het eens op ’n tyd

baie moeite gedoen om haar te kry, maar sy het die

voorkeur aan Bart gegee.

    ,,Dis ’n mistyk wat sy gemaak het,” dink Basson

altyd, ,,sy sou dit by my beter gehad het.”

Hy was nogal ryk. Vir ’n jaar was hy nou wewenaar.

Sy enigste kind, ’n meisie, was by sy skoonouers en hy

woon nou met ’n jonger broer van hom alleen op sy

plaas. Hy was egter dikwels van sy huis af weg, handel

in vee en spekuleer in grond.

    ,,Ha, dis jy Fransina,” sê hy bly.

    ,,Dag, Ferdinand,” sê sy. ,,Sit jy hier en wag vir die

prokureur?”’

    ,,Ja, daar is iemand by hom, maar hy sal gou klaar

wees. Maar jy kan maar voor my ingaan as jy besig-

heid het, ek is nie so doodhaastig nie. En hoe gaan dit

nog verder?”’

    ,,So op ’n manier. Jy weet natuurlik dat Bart ge-

rebelleer het?”

    ,,Ja, en hy veg nou dat dit bars daar in die bosse hoor

kk. ”

    ,,Waar hoor jy dit?”

    ,,Weet jy dit dan self nog nie? Hy het daar ’n klomp

van die regering bygetrek en hulle kafgeloop.”

    ,,Wanneer was dit gewees?”

    ,,Dit moes laaste Vrydag of Donderdag gewees het.

Is jy nie trots op hom nie, Fransina?”’

    ,,Wat is daarin om trots op te wees? Wat se nut het

dit om jouself te laat doodskiet en ander mense dood


[bl. 101]


te skiet vir ’n saak wat al verlore is voor dit aangevat

word?”

    ,,Dit moet darem iets wees om trots oor te voel as jy

’n man is soos Bart,” sê hy. ,,Ek wens ek was ook

dapper; maar ek is nie. Ek is geen vegsman nie; ek is

sommer ’n ou vrou.”

    ,,Was almal maar so, dan was dit baie beter. Die

dapper vegsmanne wil net doodmaak en die mensdom

in ellende dompel.”

    ,,Hoe lyk dit dan of jy en Bart dit nie eens is in

hierdie kwessie nie?” vra hy verwonderd.

    ,,Ek wou gehad het dat hy by die huis moes bly,

geen kant kies nie. Dit sou vir ons baie beter gewees

het. Ek sukkel my nou morsdood. Die rebellie is

sommer pure bog. Ek sê nie dat Botha en Smuts reg

gedoen het nie, maar dit was nou tog eenmaal so ver en

daar was niks meer aan te doen nie.”

    ,,Hulle wil natuurlik weer die vryheid terug hê?”

    ,,Die rebelle? Nee, dit was glo nie hul doel nie.

Hulle wil net nie by Engeland staan nie; hulle wou

gehad het dat ons neutraal sou bly.”

    ,,Dit was, dink ek, vir die regering onmoontlik.”

    ,,En is jy dan nie opgekommandeer nie?”

    ,,Nee, my kry hulle nie. Ek wil nie teen die rebelle

gaan nie. Ek het losgekom, omdat my niere nie te goed

is nie, het ek vir hulle vertel, en dat ek daardeur nie

lank aaneen kan perdry nie. Dit is nie waar nie, maar

mens moet dit vir hulle ook maklik maak. Die veld-

kornet wat my gekommandeer het, is ’n goeie vriend

van my, sien jy en ek het dadelik na hom toe gery en

hom dit gesê. Hy het wel gevoel dat ek sou weier as

hy my wou forseer, dus, dit sou dan tog ook nie gehelp

het nie. Toe kies hy maar die beste kant van die saak.

Nou sit ek stil by die huis. Hulle kommandeer som-

tyds my motorkar, dis al. Nou, dit kan hulle maar


[bl. 102]


doen. Maar hulle kry my nie om self daarmee te ry

nie. Hulle wou eers, maar toe sê ek: ,,Nee, ek is bang

ek verdwaal tussen die rebelle. Ha, ha. ’n Grappie

bring ’n mens partymaal ver. Jy moet net weet hoe en

wanneer en teen wie.”


    Sy lag. ,,Weet jy, Ferdinand, jy is darem nog nie so

’n ou vrou as wat jy jouself uitmaak nie.


    Hy bloos gestreel.

    ,,En jy gaan nog nie weer trou nie?”

    ,,Ag nee, Fransina. Ek is nie so haastig om nou

al weer vrou te soek nie; daar is nog tyd. My oorlede

vrou is ook nog maar ’n volle jaar dood. Sy was ’n

goeie vrou gewees, maar soos jy weet,-my~sin-het-ek

nooit gekry nie?


    Sy word bloedrooi en kyk verward deur die oop

deur na buite. Half spottend en half weemoedig sit hy

haar en beskou.

    ,,Moenie aanstoot neem nie,” sê hy. ,,Weet jy, by

my kom die woorde partymaal voor die gedagte.”’

    ,,Ja, jy is somtyds maar ’n platjie.”


    Die deur van die kantoor gaan oop en ’n man kom

uit. Agter hom kyk die prokureur vraend na Basson,

maar toe hy Fransina sien, kom hy na haar toe. Dis ’n

lang, maer, donker man; ’n mens stil van aard.

    ,,Help mev. Nel maar eerste, mnr. Malherbe,” sê

Basson, ,,ek sal solank wag.”


    Fransina gaan die kantoor in en maak die prokureur

haar moeilikhede duidelik.

    ,,Ja, as dit is soos u dink, dan sal mnr. Nel aanspreek-

lik gehou word vir die geld,” sê hy na enkele oom-

blikke. ,,Die beste sal wees om eers die winkeliers ’n

gespesifiseerde rekening te laat voorlê en dan kan ons

sien of ons nie daar iets kan afkry nie. Hoogs waat-

skynlik het hulle veels te hoê pryse gevra en miskien

ook nog goed opgeskryf wat hulle nooit gelewer het


[bl. 103]


nie. Moet ek aan hulle daaromtrent skryf of wil u dit

self doen? Dit bespaar onkoste.”

    ,,Ek kan dit self doen,” antwoord Fransina. ,,As ek

dan antwoord van hulle kry, sal ek u weer kom sien.”

    ,,Goed. — Dis ’n bietjie swak van oom Jan, dink

ek, om van u die geld te wil hê. Maar die ou is baie

suinig. Moet ek aan hom skryf en vra om voorlopig

van die eis af te sien? Dit is miskien beter dat ek dit

doen.”

    ,,Ja, ek sal bly wees.”

Hulle swyg ’n paar oomblikke.

    ,,U het dit nou nie gemaklik nie, nê, Mevrou?”

    ,,Nee, dis ’n bittere lewe soos dit nou is.”

    ,,Ek kan dit verstaan. — Ek hoor mnr. Nel en sy

klomp hou nog vol.”

    ,,Ja, ek het gehoop dat hulle nou maar sal oorgee.”’

    ,,U weet, ek bewonder hulle darem, al begryp ek nie

hoekom hulle nog bly veg nie. Die ding is so te sê tog

oor.”

    ,,Ek bewonder hulle niks nie.”

Hy bly stil.

    ,,Nou ja, mev. Nel, sal ons dan maar so maak?

Moet nou nie wag om my raad te kom vra nie as dit

nodig is. Dis ’n swaar tyd vir die rebelle en u hoef nie

bang te wees dat ek u nie billik sal behandel nie. Ek is

nie net mnr. Nel se prokureur nie, ek is sy vriend ook.”

Hy maak die deur vir haar oop en wag vir Basson om

binne te kom; diê gaan egter nog eers met Fransina saam

uit.

    ,,Moet nie moed verloor nie, Fransina,” sê hy. ,,En

as jy op een of ander wyse hulp nodig het, dink aan my.

Ek staan altyd klaar. As jy net fluit, kom ek aangehard-

loop.” :

    Sy groet hom treurig. ,,Elkeen wil my help, net my

man verlaat my,” dink sy.


[bl. 104]


Hy kyk haar agterna toe sy wegstap in die rigting van

die bank. ,,Daar loop die vrou wat ek moes gehad het,”

dink hy.


* * *


    Een mêre vroeg word Fransina wakker van die

getrappel van perde wat verbygaan. Haastig staan sy

op om te kyk. Haar eerste gedagte was dat dit Bart

kon wees wat terugkom en sy neem, nog voor sy by

die venster is, die besluit om hom koel te ontvang.

Vier ruiters ry op ’n gang verby, Pieter en Fransoois

en die twee seuns van oom Gawie. Hulle ry daar in

die skemer, grys en skaduwee-agtig, onwerklik soos

op ’n prent. Bart is nie by hulle nie. Natuurlik, hoe

sou hy by hulle kan wees? Bart sal hulle nooit laat

gaan nie. Hulle het al oorgegee, want hulle is sonder

geweers. Soos sy daar staan, kan sy nie na buite loop

om hulle te roep nie, en sy gaan weer lê. Nou eers

merk sy hoe fel sy gehoop het dat Bart daar sou wees.

Haar hart klop so hard in haar keel dat sy dit kan hoor.

Bewend lê sy en dink. So gou dit heeltemal lig is,

wil sy na Pieter se huis loop om te hoor wat van Bart

geword het. Sy staan op en trek haar aan, maar toe

aarsel sy. Moet sy nou al soontoe loop? So vreeslik

verlang om van Bart te verneem om nog voor die son

uit is by Pieter op die stoep te staan?

    ,,Aag wat, ek maak eers vir my koffie,” sê sy.


    Sy gaan na die kombuis. Die bediende het alreeds

vuurgemaak en die ketel kook al amper. Op haar gemak

sit sy alles reg. Eers bring sy vir Teunis sy koffie en toe

vir Annekie. Verwar in haar teenstrydige gevoelens

sit sy alleen haar koffie en drink. Dit is asof dit Bart

self is wat sy laat wag, asof dit hom nou raak dat sy

nog daar sit en nie dadelik die deur uitloop na Pieter

toe nie.


[bl. 105]


    ,,Ek moet nou maar loop,” sê sy eindelik en staan

op. ,,Ek wil darem weet.” Maar toe sy buite kom,

sien sy Pieter al aankom. Hy groet haar koel, selfs met

’n sekere terughouding.

    ,,Hoe gaan dit?” vra hy met min belangstelling in

sy stem.

    ,,Het julle oorgegee?’’ vra sy.

    ,,Ja.”

    ,,Waar is Bart?”

    ,,Hy het agtergebly in die kamp. Hulle sal hom

natuurlik Pretoria toe neem.”

    ,,Na die tronk?”

Hy knik.

    ,,ls Bart gesond?”

    ,,a, hy makeer niks,”

Vir ’n rukkie sê sy niks nie.

    ,,Bart sê groetnis,” sê hy.

    Sy gee geen antwoord nie. Kon hy dan nie eers

geskryf het nie? Al was dit maar net ’n paar woorde.

Hoe ’n man is hy tog! Sy sien nou dat sy hom eintlik

nog nooit goed geken het nie. Dat hy so hard kon wees.

    ,,ls dit al?” vra sy.

    ,,Ja, hy het niks anders laat weet nie.”

Sy staan op om nie te wys dat sy wil huil nie, en

gaan na die kombuis; kom terug met koffie.

    ,,Waar is oom Gawie?”

    ,,Hulle het hom ook daar gehou.”’

    Pieter sit daar met sy uitpeul-oê soos ’n padda en kyk

en dit skyn asof elke woord wat hy sê ’n inspanning is.

    ,,Is daar van jul mense geskiet?”

    ,,Ja, drie is doodgeskiet en dan nog ’n paar gekwes

ook.”  


     ’n Hele tydjie sit hulle daar weer sonder iets te sê.

Sy wil niks meer vra nie, en Pieter sê niks, in gedagtes

versonke, wag hy maar of sy nog meer wil vra.


[bl. 106]


    ,,Ja,” sê hy eindelik met ’n sug. ,,Die Botha-iete het

ons gewen.” Hy staan op. ,,Hulle kry nou lekker.

Vervloekte Kakies. Maar ons dag kom nog.”


    Hy kyk Fransina aan, maar sy gee geen antwoord nie.

Hy gaan stadig na die deur. ,,Mêre,”’ sê hy.

    ,,Mêre.”


    Lank sit sy daar op haar stoel. ,,Bart sê groetnis,”

herhaal sy bitter.


* * *

    Sy sukkel maar aan met die boerdery. Oom Giel

help haar wel met raad en daad en Teunis doen wat hy

kan; ook van die ander bure kan sy altyd hulp verwag

as dit nodig is, maar tog gaan dit nie soos dit moet gaan

nie. Die werk gaan stadig. Met ploeg en saai en plant

taak sy agter, sy kan dit nie help nie. Van die skape

gaan daar dood wat met meer sorg waarskynlik sou

behoue gewees het.


    Die koue het aan die koring nie soveel skade gedoen

as wat oom Giel eers gevrees het nie, maar later het daar

toes in gekom wat baie skade veroorsaak het.


    Dit was ’n nat jaar en reeds in die begin van Desember

gaan een van die perde dood aan perdesiekte.


    Kort voor Nuwejaar hoor sy dat die gevangenes

briewe mag ontvang, maar toe wag sy nog ’n hele week

voor sy skryf. Sy skryf toe ’n koel brief, meeste oor

haar beslommernisse. Wat sy moet doen met die

tekeninge van die twee winkeliers, wat met die rente

en aflossings aan die bank en aan die Landbank, en so

meer; dan verder meeste oor die boerdery. Sy ontvang

net so ’n koel brief terug waarin Bart haar die raad gee

om alles met oom Giel en Malherbe te bespreek. Daar

was wel ’n hartlike briefie by vir Annekie.


[bl. 107]


    ’n Paar keer het sy Ferdinand Basson weer ontmoet

en het een keer saam met hom gaan tee drink in Uit-

draai se koffiehuis. Toe sy hom by diê geleentheid weer

met ’n vrou gepla het, het hy lag-lag geantwoord: ,,Ek

wil nou maar wag tot Bart jou eendag wegsmyt.” Dit

was maar korswel, maar tog het die woorde in haar

gedagtes gebly. Sy voel elke dag meer verbitterd teen

Bart. ,,Ek wens ek kan hom darem een keer ook

bietjie laat voel,” dink sy.


    Die ander perd het ook doodgegaan. Amper al die

perde in die omgewing was al dood en diê wat hulle nog

behou het, pas hulle so sorgvuldig op en is so bang om

hulle te veel te vermoei, dat daar maar min gery word.

Oom Giel het nog wel sy twee karperde, maar spaar

hulle ook soveel moontlik.


    Eendag ry sy toe maar met die wa. Die koring is

gedors en het slegs die helfte opgelewer van ander jare.

Rekenings en aanmanings kom daar elke week. Oom

Jan de Beer het wel uitstel gegee, maar wil nie van sy

eis afsien nie. Die winkeliers van Kalklaagte en

Diepsloot dreig met die hof. Ook die bankbestuurder

op Uitdraai het op betaling aangedring en die Landbank

neem ’n byna dreigende houding aan.


    Haar pa kon haar uit die moeilikheid gehelp het,

maar sy wil hom nie om hulp vra nie. Haar ouers

was half teen haar huwelik met Bart gewees, sou veel

liewer gesien het dat sy Ferdinand Basson geneem het,

wat. baie ryker was en van ’n_bevriende familie.

Bowendien was haar pa kwaad dat Bart hom nie deur

hom laat waarsku het nie. Dat sy brief te laat gekom

het, het vir hom maar weinig verskil gemaak. Hy het

hom kort tevore persoonlik al op diê dinge gewys, sê

hy. Die enkele maal dat Fransina hom na die tyd gesien

het, het sy Bart nog half verdedig. So was sy nou

eenmaal.


[bl. 108]


    So ry sy dan met die wa na Uitdraai om te laat maal

en goed by die winkel te koop en ook om met Malherbe

te praat.


    Ferdinand Basson was ook in die dorp. ,,Alla, maar

die dorpie is stil,”’ dink hy toe hy inkom, ,,die mensdom

lyk uitgestorwe.”


    Hy ry eers na die hotel. Pieter staan daar besig met

sy perd vas te maak. Hy gebruik daarvoor onnodig

veel tyd in die hoop om uit Basson se pad te bly, maar

diê bly vir hom staan en wag. Pieter mag nie sonder

toestemming van die polisie van Kafferkraal af weg nie,

maar eenmaal in die week moet hy hom kom aanmeld.

Dan doen hy tegelyk sy besigheid. Hy is in ’n woeden-

de stemming en ongeneê om iemand wat nie rebels-

gesind is nie, vriendelik aan te kyk.

    ,,So, ou rebel,” sê Ferdinand vrolik.

    ,,Dag, ou bontpoot,” antwoord Pieter nors, maar

vat tog die aangebode hand. Basson bloos maar lag

vrolik.

    ,,Weet jy, ou broer,”’ sê hy, ,,dat ek trots daarop is

dat ons ou nasie nog mense het soos julle.”


    Daar weet Pieter niks op terug te sê nie. Hy weet

dat Basson geweier het om met sy motorkar vir die

regering te ry en daaroor beskou hy hom met minder

vyandigheid.

    ,,Kom,” sê Basson, ,,drink met my ’n glasie bier.”

Hulle gaan die kroeg binne.

    ,,Dis wat ek sê,” sê Basson, ,,ek het nou nie gerebel-

leer nie, ek het maar doodstil by die huis gesit, want ek

is, lyk my, nie geskape vir sulke ondernemings nie, ek

is te lafhartig, ek sê dit reguit, maar waarlik, neef Pieter,

ek haal my hoed af vir julle wat dit gedoen het.”


    Hy kyk Pieter weemoedig aan. ,,Ons ou nasie is ’n

treurige ou nasie,” sê hy.

    ,,Dit het ek nou eers regtig uitgevind,”’ sê Pieter.


[bl. 109] * Bart Nel - 8 


    ,,Hoor julle iets van Bart?”

    ,,Al wat ons hoor, is dat dit met hom goed gaan, wat

sy gesondheid betref. Maar ons kom nie meer baie by

sy vrou nie. Sy is mos ook ’n Botha-iet.”

    ,,Ag nee?”

    ,,Ja, man, sy is. Ek kan haar daaroor nie verdra nie.

Haar man sit in die tronk en sy staan by die regering;

kan jy so iets verstaan?”

    ,,Ek wonder?” aarsel Basson. ,,Is jy daar seker van

Pieter?”

    ,,So seker as ek hier staan.”


    Hulle swyg ’n paar oomblikke. ,,Sy kry nou swaar,

nê?”

    ,,Ja, sy sukkel, dit kan jy begryp. Sy het ook baie

geldelike moeilikhede, verstaan ek. Bart het ’n hoê

verband op sy plaas en skuld by die bank en nou kom

daar die eise van die winkels waar hy goed gekomman-

deer het.”

    ,,Maar dis mos nie reg dat hy dit moet betaal nie.

Dis mos julle wat die goed gekry het.”

    ,,Ek self het niks daarvan gehad nie, maar ek is

darem gewillig om my deel by te dra.”

    ,,Julle moet iets doen, man.”

    ,,Kon ek rondry, dan kon ek altemit iets probeer,

maar nou is ek vas.”

    ,,Nee man, julle kêrels moet iets doen, dis nie reg

nie, weet jy.”

    ,,Dit is ook nie. — Maar ek verstaan dat daar in

Pretoria ’n beweging aan die gang is om ’n fonds te

stig om al sulke skulde daaruit te betaal.”’

    ,,Dit sou gaaf wees,”’ sê Basson bly. ,,As hulle so

iets gaan doen, gee ek ook.”

    ,,Nog ’n glasie bier?’ vra Pieter. ,,Nie? Nou ja, dan

ty ek maar weer.”


[bl. 110]


Basson loop met hom saam. ,,Jou perd leef darem

nog.”

    ,,Ja, hy leef nog, maar een van die dae sien jy my

seker hier met my baaisiekel. Dis vreeslik soos die

perde vrek.”

    ,,Myne kan nie vrek nie,’’ lag Basson, ,,nie aan perde-

siekte nie. Tot siens, ou swaer, dit gaan jou van die

beste. As daar weer ’n rebellie is, gaan ek wragtie waar

saam, want ek skaam my nou as ek een van julle ont-

moet. Weet jy dat ek party dae wens dat ek ook daar

in die tronk moet sit saam met die ander. Tot siens,

neef Pieter, mag dit jou goed gaan.”


    Hy klim in sy kar maar aleer hy sy masjien aan die

gang kry, sit hy ’n paar oomblikke en dink. ,,Ek ry

na Malherbe,” dink hy. ,,Ek wil probeer of ek iets

kan uitvind.”


    By Malherbe was daar niemand. ,,Ek wil hê u moet

so ’n klein huurkontrakkie vir my opstel,”’ sê Basson.

y»Ek het ’n deel van Kwaggaspoort gehuur om daarop

’n klompie beeste te laat wei gedurende die winter-

maande.”’—Toe sê hy: ,,Daar is nog iets.”

    ,,Ja.”

    Basson kyk Malherbe ’n paar oomblikke vas aan.

,,Is mev. Nel, of laat ek sê Bart Nel, in geldelike moeilik-

hede?”’


    Malherbe kyk hom verbaas aan. ,,Nie sover ek weet

nie. Wie sê so?”

    ,,Hy dink nie daaroor om sy grond te verkoop nie?”

    ,,Nee, hoekom?”

    ,,As hy ooit wil, laat my dan weet, asseblief.”’

    ,,Dis goed, maar daar is glad nie so iets nie, man.

Wie sê jou sulke dinge?”

    ,,Nee, niemand nie. Sommer my eie gedagtes. U

beloof my, nê? Ek sal ’n beter prys betaal as iemand

anders.”


[bl. 111]


    ,,Ja goed, maar man, jy is baie voorbarig.”

    ,,Ek is bly om dit te hoor. Tot siens dan. Moet

net nie met Fransina daaroor praat nie, asseblief.”


    Malherbe dink: ,,Wat sou daaragter steek? Sou

daar werklik alreeds sulke praatjies gaan? Of wou hy

maar net by my probeer uitvind? Maar hoe dit mag

wees, as Bart ’n goeie prys vir sy grond kan kry, was

dit miskien nog die beste oplossing.”’


    ’n Entjie buitekant die dorp kom Basson die wa van

Fransina verby en toe hy omkyk om te sien wie dit mag

wees, sien hy haar agter op die katel sit en hou stil.

    ,,Hou stil, Teunis,” roep sy. ,,Geelbooi, draai die

briek vas.”


    Basson kom na haar toe. ,,Is jou perde dan ook al

dood?” vra hy.

    ,,Ja, twee is dood en die ander een, Bart se ryperd,

het die regering.”’

    ,,Myne leef nog,” sê hy en wys met sy kop na agter;

,,ek voer hom met petrol.”

    Sy lag, vind die grappie mooi, en lag weer.

    ,,Hoe gaan dit met Bart?”

    ,,Dit gaan met hom glo goed. Hy het al geskryf,

maar hy skryf nie veel nie. Maar die offisiere kry glo

’n goeie behandeling, ten minste beter as die ander

tebelle.”

    ,,Jy het geen idee wanneer hy sal loskom nie?”

    ,,Nee, sy saak het nog nie voorgekom nie. Maar drie

jaar sal hy seker kry en bo-op nog boete natuurlik.”’

    ,,ls jy nou nog ’n Sap?”

    ,,Ek is nie ’n Sap nie, man. Wie sê jou so? Ek is

niks,””

    ,,Jy is tussen die boom en die bas? ’n Bontpoot,

nê?” Hy lag.

    ,,Dit kan ek ook nie sê nie, Ek is vir niemand; ek

is teen almal. Ek haat die hele boel. Nie een party is


[bl. 112]


vir my goed nie. Die bestes is nog diê wat niks gedoen

het nie.”

    ,,Soos ek?”

    ,,Soos jy.”

    ,,Het jy baie besigheid in die dorp?”

    ,,Taamlik.”

    ,,Hoelank ry jy daarheen met die wa?”

    ,,Ons is sesuur daar weg en dit is nou al tienuur.”

    ,,Sal ek nie vir jou wag nie en jou gou huis toe bring

met die motor? Ek kan solank by ’n paar mense

aangaan waar ek lanklaas gewees het.”


    Sy aarsel. Die voorstel is wel aanloklik, maar sy

vrees die praatjies van die mense. ,,Ek sal maar liewers

met die wa teruggaan,” sê sy. ,,Jy weet,” lag sy, ,,jy

is ’n jong wewenaar en ek is nou ’n grasweduvrou. Dit

sal nooit gaan nie; die mense sal dit afkeur.”

    ,,Aag wat, steur jy jou daaraan?”

    ,,’n Mens moet maar dikwels iets doen of laat om

die mense se ontwil.”

    ,,Nou ja, soos jy wil. Ek wil darem eendag vir jou

kom kuier.”


    Sy maak haar oë groot.

    ,,Mag dit ook nie?”

    ,,O ja, maar tog, jy weet, die mense maak maar gou

gedagtes en Bart en ek is nog al nie te groot vriende

meer nie.”

    ,,ls dit so, nê?”

    ,,Ja, ongelukkig. Ek en hy akkordeer nie meer so

goed vandat hy weg is nie.”

    ,,Ek verstaan. — Ek het altyd gesê dat jy ’n mistyk

gemaak het die dag toe jy hom gevat het.” Hy skrik

toe hy dit gesê het en kyk om te sien wat se uitwerking

sy woorde het. Sy kyk peinsend na die verte sonder

om te antwoord. Toe sê sy: ,,Ek en Bart het altyd


[bl. 113]


goed met mekaar geleef, maar die rebellie het alles

bederwe. Dis nie meer dieselfde man nie.”


    Hy antwoord nie en enkele oomblikke swyg hulle.

    ,,Maar ek hou jou op,” sê hy, ,,jy het jou tyd nodig.”

    Fransina kyk die kar agterna toe hy vinnig wegry en

al gou oor die eerste bult verdwyn.

    ,,Was dit ’n mistyk gewees?” dink sy.

    Malherbe sit onder sy werk deur aan haar en dink

toe sy binnekom. Nadat sy al haar geldelike moeilik-

hede vir hom vertel het, sug hy: ,,Dit lyk nie te goed

nie. — Is daar nie een van u familie wat miskien vir

u kan help nie?”

    ,,Nee.”

    ,,U pa?”

    ,,Ek twyfel of Bart hom sal wil vra.”


    Hulle swyg ’n oomblik.

    ,,Die rekeninge van die twee winkeliers sal ek darem

met vyf-en-twintig persent kan afbring, dink ek, en

miskien sal die Landbank wel uitstel wil gee.”

    ,,Ja, maar dan?”

    ,,Bart het nie miskien hier of daar grond wat hy sou

wil verkoop nie?”

    ,,Nee, daar is wel die deel van Groenfontein wat

eendag myne sal wees, maar dit is nou nog op Pa se

naam.”

    ,,Ek sien.” — Hy wag lank.

    ,,Sou mnr, Nel gewillig wees om sy grond te verkoop

as hy ’n goeie prys kan kry?” vra hy aarselend.

    Sy skrik. ,,Verkoop, mnr. Malherbe; sou ons ons

grond moet verkoop? Maar dan het ons geen plek

waar ons kan bly nie.”

    ,,Nee, ek vra maar net. U weet as dinge bly soos

dit nou is, sal u miskien eendag moet verkoop en dan

gaan dit miskien so haastig dat dit moeilik sal gaan


[bl. 114]


om ’n goeie prys te kry. Nou is dit nog nie noodsaaklik

nie, maar as mens eenmaal gedwing word om te ver-

koop, is dit altyd sleg, dan moet jy dit vir enige prys

laat gaan. As u nou ’n goeie aanbod kan kry en die

Helpmekaarfonds betaal die kommandeerskulde en die

boete, dan sou u al u skulde kan aflos en nog genoeg

oorhou om êrens anders grond te koop. — Is u baie

geheg aan Kafferkraal?”

    ,,Og, nie so erg nie. Bietjie, natuurlik, oor ons daar

al so lank woon. En die goeie mense; maar wat, die

mense is maar oral goed.”

    ,,Ja,” glimlag hy, ,,die mense is oral goed.”

Weer sit hulle lank en dink.

    ,,U kan aan my man skryf en hom vra wat hy daarvan

dink” sê sy.


    Hy skyn nog te twyfel. ,,Ons kan nog bietjie wag;

miskien kom hy gou los.”

    ,,Hy sal nie gou loskom nie.”

    ,,Nee, nê?”

    ,,Nou ja, as u wil, sal ek hom dan skryf, hom vra

of hy gewillig is om te verkoop en teen watter prys?

Sal ek dit dan maar doen?”

    ,,Dit lyk my die enigste oplossing.”

    ,,Ja dit lyk my ook amper so, tensy oom Kasper sou

wil help.”

    ,,Nee, ons moet Pa daarbuite hou.”

    Hy swyg. Oom Kasper van Tonder sou kan help

as hy wou, dit wis hy, maar om een of ander rede wil

sy haar pa nie vra nie. Ag, daar is so dikwels ver-

houdinge in families wat ’n buitestaander nie kan

begryp nie. Dit spyt hom dat sake so loop. Hy sien

nie graag dat dit met ’n rebel sleg gaan nie. Toe sy weg-

gaan, hou hy haar hand ’n paar oomblikke vas. ,,Moet

nou nie verdrietig wees nie,” sê hy bemoedigend.


[bl. 115]


,,Sake is nog nie so hopeloos nie. As julle nie wil ver-

koop nie, kry ons nog wel ’n ander plan.


    Nog dieselfde dag skryf hy aan Bart, ,,Ek vra dit

maar net vir geval ’n goeie koper miskien opdaag,”

skryf hy.


    ’n Week later kry hy antwoord. »Verkoop maar,”

het Bart geskryf. ,,Ses pond sal ek aanneem, maar

probeer meer kry.”


* * *


    Een mêre kom Basson weer daar.

    ,,Wat dink u van die toekoms van asbes?” vra hy.

    ,,Daar sal, dink ek, altyd ’n vraag na wees,”’ meen

Malherbe. ,,Hulle begin dit vir al hoe meer doeleindes

te gebruik.”

    ,,lemand het my ’n stukkie grond in die bosveld

aangebied en daar is asbes op.”

    ,,Die beste sou wees om ’n deskundige daarheen te

neem.”


    Hulle gesels nog ’n tydjie daaroor en toe sê

Malherbe: ,,Bart Nel wil sy deel van Kafferkraal ver-

koop.”

    ,,Ja?” vra Basson.

    ,,Hy vra sewe pond die morg.”

    ,,Dit sal hy nooit daarvoor kry nie.”

    ,,Ek weet nie. Daar is dertig morge onder water,

uitstekende grond en die ander grond is ook goed.

Die water is altyd sterk en daar is ’n groot dam wat

vier boere saam daar het. Dan die vangdam nog.

En al die kampe. En die hele plaas toegemaak. Daar

is ’n eersteklas huis en ’n goeie waenhuis en krale, en

alles agtermekaar, want jy weet Bart is ’n boer. Ook

nog ’n hele klomp geênte bome.”


    Basson knik by alles wat Malherbe sê. »Ja dit is

alles waar, ek ken die plek. Maar sewe pond is ’n baie

hoê prys. — Is dit die allerlaagste?”


[bl. 116]


    ,,Ja, dit is die allerlaagste. Hy het my geskryf dat ek

moet probeer om meer te kry, maar ek meen dat dit

’n redelike prys is; die verkoper kan tevrede wees en

die koper ook. Bart is nie verplig om te verkoop nie,

maar hy sê dat hy nie omgee nie as hy sy prys kan kry.

Hy kan nou miskien vir jare tog nie boer nie, en dan

wil hy later maar vir hom ’n ander stukkie grond

koop.”

    ,,Ja natuurlik,” sê Basson. ,,Dis duidelik. As hy

moes verkoop, sou hy nie so baie vra nie.”’

Malherbe kyk oplettend na die blosende gesig van

sy klant. Hy ken Basson goed; ’n mens met ’n goeie

deursig in besigheid. Malherbe hou van verstandige

mense. As Basson die grond koop vir sewe pond die

morg dan steek daar iets agter.

    ,,Dus, dit is die allerlaagste?”” vra Basson weer.

    ,,Ja, en al die onkoste vir die koper.”

Basson fluit saggies.

    ,,Ek sal bietjie daaroor dink,” sê hy.


    Hy gaan in die koffiehuis ’n koppie koffie drink en

sit die saak en oordink. As hy Bart Nel se grond koop,

sal hy van sy spekulasie met die grond in die bosveld

vereets moet afsien. Die prys is ook veels te hoog.

Bart sal nooit meer as vyf pond of vyf pond tien kry

nie.  ,,Ja, so werk ou liefde nog na,” dink hy. »Om

die stomme Fransina te help, moet ek nou maar ’n

dom koop doen. Ek glo nooit dat Bart soveel gevra

het nie; dis Malherbe, die ou jakkals. — Vandag sal

ek hom nog nie antwoord gee nie, maar oor ’n paar

dae gaan ek koop. Mens moet vir die skyn ook iets

doen. — Ek is bly dat Malherbe so baie gevra het, want

dit sou snaaks gelyk het om self meer te offer.”


    Hy gaan na buite en klim in sy kar. ,,Hier ry ’n

groot gek,” dink hy.


[bl. 117]


    Dit was al weer ’n hele tyd later.

    Alleen in sy Dodge-kar sit Ferdinand Basson en dink

oor wat hy waarskynlik nou gaan doen. Hy dink:

,,Mens kan nie van regskapenheid lewe nie. As jy

altyd goed wil wees, kom jy naderhand die slegste

daarvan af.”


    Met sulke woorde probeer hy sy eergevoel en pligs-

besef stilmaak. Dit geluk hom maar half.

    ,,Daardie vrou wil ek hê,” dink hy. ,,Ek moes haar

van altyd af al gehad het, maar nou wil ek haar hê.

Reg of nie reg nie; manlik of nie manlik nie, maar

daardie vrou wil ek hê.”


    Sy plaas lê agter die Witrant, ’n volle twee uur van

Kafferkraal, byna vyftien myl. Hy het Bart se grond

gekoop en ry nou weer daarheen. Reeds verskeie male

was hy daar gewees en elke maal het hy twyfelmoediger

daarvandaan gekom. ,,As die kans skoon is, vra ek

haar vandag,” dink hy.


    Daar gaan gerugtes dat Bart wel ’n vonnis van vyf

jaar of langer tronkstraf sal kry.

    ,,Dit sal vir Fransina ook ’n verlossing wees as ek

met haar trou,’”’ dink hy. Hoe lank sal sy nog moet

wag voor hy loskom. En al die tyd sal sy moet sukkel.

Tensy sy van genade van haar familie gaan leef, sal

die bietjie geld wat sy het, gou gedaan wees en sal hulle

die dag wat Bart uit die tronk kom, doodarm wees.

Dan kry sy ’n verbitterde man tuis met wie sy waat-

skynlik in onvrede sal leef. Nee, vir haar nog meer

as vir homself is dit te hope dat sy hom sal vat. Laat

die mense maar skinder; laat Bart maar bars van

woede daar in die tronk, maar hy laat hom nou nie

meer keer nie. Dit is nie mooi nie, dit is gemeen, maar

dit kan hom nou nie meer skeel nie. Hierdie slag wil

hy ook maar gemeen wees en net aan homself dink.

Bart hou tog nie meer van haar nie, dit is duidelik.


[bl. 118]


Fransina sê dit self. Hoe is dit op aarde moontlik

om nie vreeslik baie van so ’n vrou te hou nie? Kan

mens ’n kêrel verstaan wat so ’n kostelike, mooi vrou

soos Fransina van hom vervreem ter wille van die

politiek? Maar so is die politieke voorvegters. By

die politiek moet alles agterstaan; hul huweliksgeluk,

hul welvaart, hul vryheid, alles.


    Maar hy is nog nie so seker van haar nie. Dis

nog ’n onbeantwoorde vraag of sy hom sal vat. Sy

is wel altyd vriendelik en hartlik, maar nog steeds op

’n_afstand en ongenaakbaar. ,,Dan is dit ook goed,”

dink hy. ,,As sy nog soveel van hom hou dat sy hom

wil getrou bly, dan is dit goed. Maar ek gaan haar

die kans gee en my eie geluk waag.”


    Dit was in die namiddag omtrent twee-uur. Stadig

werk sy kar in die sanderige pad die Witrant uit. Toe

hy bo kom, lê Kafferkraal voor hom en sien hy die

ongeskilderde dak van Fransina se huis blink. Hy sug

asof daar ’n swaar werk moet gedoen word.


    Fransina was in haar huis doende terwyl haar

gedagtes heen en weer gaan tussen Basson en Bart.

Sy verwag hom vandag; hy het haar gesê. Sy is

altyd bly as sy hom sien. Hy is so goedig en opge-

tuimd; ’n goeie man. Toe hy, die slim besigheids-

kêrel, so ’n hoê prys vir hul grond gegee het, het sy wel

begryp dat die bedoeling daaragter geskuil het om haar

te help. Hy hou nog altyd van haar. Dit het hy wel

nooit reguit gesê nie, maar daarmee vergis mens jou

nie sommer nie. Het sy hom twaalf jaar gelede ge-

neem, hoeveel gemakliker en aangenamer sou haar lewe

gewees het met so ’n gelykmoedige, goedige, opge-

tuimde man, wat bowendien nog ryk is. Met-Bart

was. die lewe altyd bietjie_moeilik gewees. Telkens

taak jy in slote of moes jy as ’t ware teen kliprantjies

uitklim. Dan het jy soms wel weer saam op ’n hoogte


[bl. 119]


gestaan en het die lewe pragtig gelyk, maar jy was nooit

seker hoe lank dit sou duur nie. By Ferdinand sou dit

gewees het soos wanneer jy oor gelyke paaie ry met

min op- en afdraendes, gemaklik, aangenaam, veilig.

Hy sou goed vir haar gewees het, haar alles gegee het

wat sy wou hê, bly en gelukkig om aan haar te kan

goed doen, altyd verlief, maar kalm. Bart was buierig.

Die een dag het hy haar verheerlik en die volgende

dag is hy kwaad of nukkerig. Hy kon vir ure met sy

kop op haar skoot lê soos ’n opgeskote seun en dan

was daar weer dae dat hy haar nouliks raaksien, het

hy rondgeloop met gedagtes wat hy nie uitspreek nie.

O, hy is ’n moeilike man. Maar sy hou tog van hom.

Het die rebellie net nie gekom nie. En as hy in elk

geval maar sou skryf sodat sy kon sien dat hy na haar

verlang. Maar hy sit daar in die tronk en kweek haat

teen haar oor sy nie ’n rebel is nie; oor sy gesê het dat

sy hom dit nooit sal vergeef nie; omdat sy nie vrien-

delike briewe skryf as hy dit nie self doen nie. ,,Hy

haat my,” dink sy. ,,Hy het mos gesê: Eers maak ons

hierdie ding reg en dan maak ek met jou reg.”


    Annekie het gaan speel, Teunis is op sy fiets na

Welgevonden, Boetie slaap. Soetjies, om hom nie

wakker te maak nie, maak sy haar in die kamer reg.

Dit doen sy altyd as sy weet dat Basson sal kom, dit

doen mens vanself vir een van wie jy weet dat hy jou

mooi vind, sonder bybedoeling. Sy sien in die lang

spieêl haar regop lyf, haar blanke gesig met mooi

sprekende oê onder haar goedversorgde vaal hare.


    ’n Rukkie later hoor sy die motorkar en gaan na

buite om Basson binne te nooi. Hy kyk rond of hy

niemand sien nie. Dis stil in die huis; buitekant

is ook alles stil. Die warm middag lê en rus. Die

gordyne is half toegetrek en gee die kamer ’n aange-

name koel lig.


[bl. 120]


    ,,Is jy alleen by die huis?” vra hy half fluisterend,

nog voor hy gaan sit.

    ,,Ja,” antwoord sy verwonderd. Sy sien dat hy

senuweeagtig is en nie op sy gemak nie; sy asem is

kort en hy het wit vlekke op sy blosende gesig. Hy

kom na haar toe waar sy staan en vat haar twee hande:

Het jy nog nie gemerk dat ek nog altyd van jou hou

nie?” vra hy. 


    Sy knik. ,,Ek het dit gemerk, ja,” sê sy ernstig.

    ,,En hou jy van my ook?”

    ,,Ek is ’n getroude vrou,” antwoord sy ontwykend.

    Hy laat haar hande los en hulle gaan sit teenoor

mekaar teen die muur.

    ,,Fransina, laat ons reguit praat. Wil jy nie van

Bart skei en vir my vat nie? Ek het altyd aan jou

bly dink, ook nog toe ek getroud was, ek kon dit nie

help nie.”’

Na ’n paar oomblikke sê sy: ,,Is dit mooi van jou,

Ferdinand, om my dit te vra nou Bart in die tronk

is?” Sy wou dit nie gesê het nie, en tog sê sy dit.

    ,,Nee, dis gemeen, ek weet dit, maar ek moet. Dit

moes daaruit. Mens kan nie altyd stilbly nie. Dit

kwel my dae en nagte. Ek moes dit sê.”

    ,,Ja,” sê sy. ,,Ek verstaan.”

    ,,Hou jy nog van Bart?” ,

    ,,Party dae, maar party dae nie. Dit is soos mielies

wat in die dag verlep en snags van die dou weer bykom.

Maar daar val geen dou meer nie,” voeg sy daar treurig

aan toe. So het sy soms sit en dink, en nou kom dit

net so uit haar mond.

    ,,Jy meen hy wys nie dat hy nog van jou hou nie?”

    ,,Dis wat ek meen.”

    ,,Nou ja? Wat twyfel jy dan nog?” Hy kom na

haar toe en wil sy arms om haar lê, maar sy keer hom


[bl. 121]


sag.  ,,Nee, wag nog Ferdinand. Moenie aan my vat

nie. Ek wil eers oor jou woorde nadink.”


    Hy gaan weer sit en sy staan op om na die kombuis

te gaan. Toe sy terugkom met koffie is sy nog bleek,

maar skynbaar kalm en begin gesels oor onbeduidende

dinge. Hy gee verstrooid antwoord, en toe hy sy

koffie uitgedrink het, en die koppie op die tafel sit,

tinkel dit.

    ,,Ek ry nou maar weer,” sê hy. ,,Ek kom jou later

weer dieselfde ding vra. As jy nie kans sien om Bart

te laat staan nie, moet dan net nie kwaad vir my

wees nie.”

    ,,Nee,” sê sy. ,,Ek weet jy bedoel dit goed met my,

Ferdinand.”


    Terwyl sy luister hoe die kar wegry, herhaal sy:

    ,,My liefde is soos ’n mielie wat verlep omdat hy

geen reên en geen dou kry nie.” Dit is asof die sê

van hierdie droewige woorde haar ’n sekere troos gee.


* * *


    Dit duur wel ’n week voordat sy aan Bart skryf.

Al die tyd het sy geaarsel of sy hom hiervan sal skryf

of nie, en getwyfel wat en hoe sy hom sal skryf.

Eindelik skryf sy dan: ,,Ferdinand Basson het my ge-

vra om met hom te trou. Hy wil hê dat ons moet skei.

Wat dink jy Bart? Moet ons skei of moet ons nie?”

Sy maak haarself daarmee eweveel seer as wat sy meen

om Bart daarmee seer te maak, maar die verlange om

hom pyn te doen, was te sterk in haar. Sy wil hom

ook laat ly, sy onverskilligheid breek, hom laat huil van

smart daar in die tronk.


    Hy sou haar woedend antwoord, haar verwyt. Dan

sou alles weer goed wees. Dan sou sy hom skryf dat

sy hom nog altyd liefhet, dat sy hom alles vergewe.

Sy sou hom gaan besoek om hom op te ruim en hom

sê dat sy diep in haar hart trots is op hom. So stuur


[bl. 122]


sy die brief weg. Sy weet, onder in haar bewussyn,

dat sy dom handel, dat sy ’n gevaarlike poging maak,

dat Bart die koppigste en hooghartigste man is wat sy

ken, maar tog doen sy dit.


* * *


    Fransoois kom van Uitdraai. Hy is te perd. Sy

saalsakke is vol met goedjies wat hy vir sy vrou moes

koop, koffie, suiker, tee, ’n stukkie beesvleis, en sy

sakke sit vol met briewe en koerante vir hom en Pieter

en die ander bure. Oom Gawie kry sy koerant altyd

by die winkel, en vir oom Giel bring hy nooit pos

saam nie, want die ou haal dit altyd self uit. Hy het

ook ’n brief vir Fransina. Dis ’n brief van Bart; hy

ken sy handskrif. Dit is maar selde dat hulle aan

mekaar skryf, dit weet hy. Sy gaan ook nooit vir Bart

in die tronk besoek nie. Dit lyk darem snaaks, jy

weet. So sit hy en dink. Amper die hele pad oor dink

hy aan die twee, meeste aan Fransina. Sy maak nie

reg nie; sy maak dat die mense praat. Basson kom

daar te veel en mense het hulle met mekaar sien tee-

drink in Uitdraai se koffiehuis. Die vrou word nou

onverskillig, lyk dit. So ’n vrou wat alleen bly, moet

dubbel versigtig wees. Slegte praatjies is daar alte gou.

Mens weet ook nooit hoe Bart dit te hore kom nie.

Katrina het miskien al met boet Gawie daaroor ge-

praat. Gawie sal darem nie so gek wees om dit oor te

vertel nie. Tog, mens weet nooit hoe dinge soms

uitlek nie. Hy wens Aletta wou met Fransina praat,

haar waarsku. Maar sy wil nie. Sy sê dat dit nie haar

saak is nie. Dis darem jammer. Fransina is nie

gemeen nie, dit sal hy nooit glo nie, maar as sy so bly

aangaan, sal sy ’n slegte naam kry, dit is seker.

    ,,Was ek ’n bietjie ouer, dan sou ek self met haar

daaroor praat,”’ dink hy.


[bl. 123]


    Toe hy by die hek afklim, kom Fransina uit. Sy

verbleek toe hy haar die brief gee, maar wag om hom

oop te maak.

    ,,Hoe gaan dit?’ vra hy vriendelik. Hy kan nie

soos die ander haar verdink nie, hou tog nog altyd

van haar hoewel sy ’n Sap is.

    ,,Goed,” sê sy. Sy vra hom nie hoe dit by hom gaan

nie. Aletta kom amper nooit meer by haar nie en

Maria glad nie. Hulle wil niks met haar te doen hê

nie oor sy nie ook ’n rebel is nie, meen sy. Laat hulle

bly.—Sy sien nie die goedige medelye in sy groot bruin

oê nie, wag net dat hy moet ry.


    Omdat hy haar onwilligheid om te gesels sien, klim

hy weer op. Hy wou nog sê: ,,Ek hoop dis goeie

nuus,” maar hou dit terug, wil haar nie wys dat hy

die handskrif herken het nie.

    ,,Dag, Fransina,” sê hy op ’n toon asof hy haar wil

troos.

    ,,Dag, Fransoois.”


    Hy ry weg en kyk nog ’n slag om, net vir ’n oomblik,

maar so bly sy ’n rukkie in sy gedagte. Sy het die brief

oopgemaak en staan en lees, kaalkop, haar blanke gesig

bleek onder haar bos vaal hare, bietjie ’n lang vrou,

fors van heupe, regop, met mooi lyne; ’n aantreklike

vroumens. Mens kan dit begryp as Basson haar graag

wil hê. Ellendige vent. Hy gaan dinge nog moeilik

maak vir haar en Bart. Waar die pad draai, kyk hy

nog ’n slag terug. Sy staan nog altyd daar met die

brief in haar hande, onbeweeglik. Jets in haar maak

hom vermoed dat sy slegte nuus gekry het.


    Fransina gaan na binne, haastig, en loop na haar

slaapkamer. Niemand is in die huis nie. Annekie het

gaan speel en Boetie is buitekant by die bediende. Teunis

is in die land. Sy staan daar met die brief, tot ’n prop

verfrommel in haar vuis in die middel van die vloer;


[bl. 124]


haar ligte o€ verdonker en beef van woede en verdriet.

’n Huilsnik breek in haar los. Dus, dit is die end.

Hy smyt haar weg asof sy ’n vuilgoed is. ,,As jy wil

skei, met plesier,’’ asof hy bly is om van haar ontslae

te raak. Hy wil haar nie meer hê nie. Sy kan Basson

maar neem. Haar lyf skok onder die vernedering en

met haar kop op die end van die katel huil sy hartstog-

telik. Hy het nooit waarlik vir haar omgegee nie.

Hoe sou hy anders so kon skryf? Met brokstukke,

in tussenpose, breek gedagtes in haar verdriet deur,

vaag en half verward. Hy kon tog geskryf het: ,,Is

dit nou nodig, Fransina? Kan ons nie nog ’n slag

probeer nie?” Of so iets. Hy het nie nodig gehad om

te soebat nie. Dit kan sy nie verwag nie. Dit sou sy

nie eers wil hê nie. Dit kan Bart nie. Dit sou heelte-

mal teen sy aard wees. Maar hy kon tog gesê het:

,,Fransina moenie haastig wees nie, jong. Ek is wel

’n buffel partymaal, maar so erg is dit tog nog nie dat

ons uitmekaar moet gaan nie.” Maar nee, hy stel

homself weer so ongenaakbaar trots bokant haar.

Soos altyd maar. Hy is altyd die ho&, hoogmoedige

Bart. In klein dinge goed, maar in groot sake die

heerser, die baas, die man wat beveel en vir wie sy

moet volg en wie sy moet gehoorsaam. So was hy

altyd. Jy moet nie teen hom gaan in groot dinge nie.

As Bart sê ek wil Mooiplaas toe ry, na die Liebenbergs,

en sy sê laat ons na Welgevonden gaan, dan sal hy sê,

net soos jy wil, dan ry ons na Welgevonden, maar as

hy sê, ek wil die winter in die bosse gaan staan en sy

het gesê, laat ons by die huis bly, dan sê hy, maak soos

jy wil, bly by die huis, maar ek gaan. As sy wil

klere koop, as sy wil gaan kuier vir haar ouers, as sy

enige kleinigheid verlang, dan is dit altyd goed, maar

as hy wil rebelleer en sy wil hom daarvan terughou,

dan dink hy nie aan haar nie, dan bestaan sy nie vir


[bl. 125] * Bart Nel - 9


hom nie, dan gaan hy sy eie gang. Sy is maar net een

wat hom geselskap hou, een wat sy huis versorg,

maar ’n maat was sy nie, het nie ’n sê in groot dinge

nie. In groot dinge handel hy sonder haar. Wat

dink hy van haar? Baie min. En noudat sy hom

geskryf het van Basson, nou staan hy daar trots en

ver. ,,Gaan maar,” sê hy, ,,as jy wil, my goed.”—

Soos met windstote kom dit alles deur haar verdriet.

Maar sy gaan nie soebat nie. As hy dit dan so wil,

dan moet dit maar so wees.


    Sy lê naderhand op haar knieê by haar bed en snik.

    ,,Bart, Bart,” huil sy, ,,het jy my dan nooit waarlik

liefgehad nie?”


    Sy hoor Annekie inkom en sluit haastig die deur.

Annekie roep hard: ,,Mammie,’”’ maar sy gee geen

antwoord nie tot die kind aan die knop van die deur

draai.

    ,,ls Mammie hier?”

    ,,Wag, Annekie, ek kom nou.”


    Sy was haar gesig en maak toe die deur oop.

Annekie staan daar nog en wag. Die kind bekyk

haar aandagtig, benoud aan.

    ,,Het Mammie gehuil?”


    Sy gee nie antwoord nie, en het al weer moeite om

haar trane in te hou. Sy loop na die kombuis en son-

der Annekie aan te kyk, sê sy: ,,Toe, haal nou eers

die eiers uit.”


    Annekie gaan gehoorsaam na buite en vra niks

verder nie. Langsamerhand kom Fransina tot bedaring

en toe dit aand word en hulle gaan eet, kan sy weer

normaal met Annekie gesels, al raak sy wel telkens

ingedagte. As Annekie meen dat haar ma dit nie

oplet nie, sit sy haar moeder besorg en bekyk, maar

sy het al geleer om nie aan te hou met vra nie. Ook

oor haar pa praat sy amper nooit meer nie, omdat haar


[bl. 126]


ma haar dan altyd stil maak. Nou weer wil sy elke-

maal vra: ,,Het Ma slegte nuus oor Pappie? Het Ma

oor Pappie gehuil?”’ Maar sy hou dit telkens weer

terug.


    Vroeêr as ander aande sê Fransina: ,,Toe jong,

gaan slaap nou, dis al laat.”’

    ,,Ek moet nog my resitasie leer, Mammie.”

    ,,Kan jy dit nie mêrevroeg doen nie?”

    ,,Ja, Ma.”

    ,,Nou toe dan, ek wil ook vanaand vroeg kom slaap.”

    Toe Annekie haar uitgetrek het, draal sy nog voor

die bed terwyl Fransina staan en wag om haar toe te

maak,

    ,,Toe Annekie, klim in,” sê sy.

    ,,Ek het nog nie my gebedjie opgesê nie, Ma.”


    Dit het sy by haar tante Martha geleer toe sy daar

een keer gekuier het en Fransina vind dit goed. Nou

bid sy elke aand. Vandat haar vader weg is, het sy

daar ’n paar woorde van haarself bygevoeg. ,,En dat

Pappie weer gou by die huis mag wees.” Nou lê sy

weer daar voor die bed gekniel in haar wit nagjurk

en bid:


,,Ik ga slapen, ik ben moe.

Sluit mijn oogjes beide toe.

Here houd ook dezen nacht

Weder over mij de wacht.

En dat Pappie weer gou by die huis mag wees.”


    Toe sy opstaan, is Fransina nie daar nie. Sy het

na buite gegaan en op die donker werf staan sy met

haar sakdoek teen haar mond gedruk om nie hardop

te huil nie.


    Annekie klim treurig in die bed en lê en wag, die

komberse nog weggeslaan, maar toe Fransina eindelik

kom, vra sy niks nie. ,,Maak my toe, Ma,” sê sy.


[bl. 127]


Fransina druk die komberse om haar heen en soen

haar.  ,,Slaap gerus, Annekie.”’

    ,,Nag, Ma.” Annekie draai haar om en druk haar

koppie in die kussing maar haar moeder maak of sy

dit nie opmerk nie, en gaan na die eetkamer.


    Lank sit sy daar en dink. Sy kan dinge nou kalmer

insien en gaandeweg kom daar meer helderheid. Sy

begin die hele toestand ontleed en vra haarself af

hoedat alles so gekom het, en sy sien nou wel dat sy

self net soveel skuld het as Bart. Dit was nie nodig

gewees om dinge sover te laat kom nie. Sy kon darem

bietjie vriendeliker gewees het. Bart is nou eenmaal so

’n mens. Dit het sy tog al vroeêr geweet. Sy kon

hom tog ook al gaan besoek het in die tronk. Maar dit

het sy ook laat staan om hom nie seer te maak nie.

Het hy dit self gevra, dan sou sy gegaan het. Nou was

sy ook half bang dat sy onwelkom sou wees, nie

alleen oor hul rusie nie, maar oor Bart hom sou skaam

dat sy hom daar so sien.—Og, mens weet ook nie.

Jy raak in die war met alles. Jy dink vandag so en

mêre juis andersom. Jy het vandag lief en mêre haat

jy. Jou verstand raak benewel. So gaan dit as twee

nie meer heeltemal klaarkom nie.

    ,,Maar nou moet ons stop,” dink sy. ,,Dis nog nie

te laat nie.” Die brief oor Basson was ’n onvergeeflike

fout, maar Bart sal verstaan. Sy moet hom nou maar

opreg alles skryf en dan sal dinge weer regkom. Hulle

kan nie oor sulke nietighede gaan skei nie. Wat traak

haar nog die rebellie? Sy en Bart moet dit weer reg-

maak,

    ,,Ek wonder of ek nie na Johannesburg sal gaan

nie,” dink sy.


    Maar daarteen staan haar trots op. Dit sou darem

al te vernederend wees. Nee, sy kan hom maar alles

mooi skryf.


[bl. 128]


    ’n Groot oplugting het in haar gekom. Mêre

gedurende die dag sal sy skryf. Hierdie bogtery moet

nou op ’n end wees. Hulle moet nou probeer mekaar

verstaan. Hulle sou naderhand mekaar wegsmyt,

sommer pure verniet.


    Eindelik gaan sy slaap. Dis halfelf. Sy bekyk

Annekie. ,,Die arme kind het ook al gehuil,” dink sy

terwyl sy die liewe gesiggie bekyk. Haar kleur is nog

effens bleker as gewoonlik en die uitdrukking van haar

gesiggie, nou nog in haar slaap, droewig. Sy sug.

,,stomme kinders,” dink sy.


    Die volgende mêre onder haar werk en doeninge

deur dink sy steeds oor die brief wat sy wil skryf. Hoe

meer sy daaroor dink, hoe moeiliker dit vir haar word

om die regte woorde te vind. Praat sou tog soveel

makliker gaan, ten minste, altemit. Praat is partymaal

ook maar moeilik as altwee driftig is. Dan kan jy

nog weer beter skryf. Sy gaan nie soebat nie. Nee

wragtie nie. Sy het darem ook haar eergevoel. Maar

sy gaan dit heeltemal duidelik maak dat dit nie haar

bedoeling was nie. Basson het haar wel gevra maat

sy wil hom nie hê nie. Sy het dit net maar geskryf

oor sy...Hier steek sy dan vas. Wat sê? Ek

wou jou net bietjie terg? Dit lyk kinderagtig onder

omstandighede. Ek wou jou seermaak, want ek voel

so verbitter. Dis weer te erg. So loop sy en oorweeg.


    Teen tienuur word sy verras deur die onverwagte

koms van haar ouers. Sy hoor die kar nog voor sy

hom sien kom het, en bly, loop sy uit toe sy sien wie

dit is. Anders skree oom Kasper al vanuit die kar

na haar, maar vandag lyk hy baie ernstig. »Dag,

Fransina,” sê hy kalm terwyl hy haar soen. Sy

sien sommer dadelik dat daar iets verkeerd is. Sy

blou o€ lyk neerslagtig en sy bewegings is minder

handig en rats. Haar ma, tante Johanna, is maar


[bl. 129]


soos altyd. Aan haar sien jy nie altyd gou wat sy

dink nie. Sy bekyk Fransina van bo tot onder. ,,Jy

sien daar goed uit,” sê sy. ,,Jy het weer vetter geword.”

Sy bekyk met welgevalle die voller wange van haar

dogter en die sagronde, blanke arms. Fransina se

bors is ook voller.


    Tante Johanna is ’n lang vrou met groot donker

oê, ’n innemende, bleek, gerimpelde gesig. Sy is

jonger as oom Kasper, maar lyk net so oud.

    ,,Jy het seker vir Boetie gespeen?” vra sy.

    ,,Ja, Ma, eindelik.”

    ,,Ja, hy word darem ook al te groot. Hoe gaan dit

met hom?”

    ,,Baie goed, Ma. Hy lê nou en slaap.”

    ,,En met Annekie?”

    ,,Ook goed, Ma; sy is nou skool toe.”

    ,,Waar is Teunis?”

    ,,Hy is nou ongelukkig juis weg; hy is met die wa

na Uitdraai. Hy sal seker eers ’n bietjie laat terug

wees.”


    Oom Kasper span uit, swygend. Fransina kom

nader. ,,Kan ek vir Pa help?”

    ,,Nee, dis nie nodig nie, Fransina, ek kom goed

klaar.””

    ,,Teunis en die volk is nie een hier nie,’ sê

Fransina.

    ,,Dis niks, ek kom klaar.”


    Sy bekyk hom aandagtig en ’n vrees vir iets onaan-

genaams neem haar in. ,,Waarom sou hulle so onver-

wags gekom het?”

    ,,Moet Pa Uitdraai toe?” vra sy.

    ,,Nee, ons het net na jou toe gekom.”

    ,,Ek is bly dat Pa en Ma bietjie gekom het.”

    Maar oom Kasper gee geen antwoord nie. Hy lê

die tuie op die kar en lei die twee perde na die kamp


[bl. 130]


om hulle daar te gaan kniehalter. Hy loop langsaam

kyk nie rond soos altyd nie, maar loop met sy o& op

die grond. Fransina het stil geword terwyl sy hom

staan en agternakyk. ,,Wat sou hulle wil hê?” dink sy.

,,Sou hulle iets vermoed van wat aangaan?”

    ,,Kom binne, Ma,” sê sy en sy hoor haar ma sug

toe hulle die stoep opgaan. Hulle praat oor al die

gewone dinge, hoe dit by die huis gaan met almal en

onder dit alles deur voel Fransina dat haar ma met ’n

bedoeling gekom het. Oom Kasper kom ook gou

terug, maar hy gesels nie veel nie, en toe hulle koffie

gedrink het, gaan hy na buite. ,,Ek loop so ’n bietjie

oor die plaas,” sê hy, ,,gesels jy solank maar klaar,

Johanna.”


    Toe hy weg is, is daar ’n paar oomblikke stilte.

Die woorde van oom Kasper was so duidelik dat

Fransina nou maar wag op wat haar ma te sê het.

Dat dit oor Basson sal wees, weet sy al. Was dit oor

Bart of was dit ’n voorstel om by hulle te kom bly,

dan sou haar pa nie weggaan nie.


    Tante Johanna soek na ’n begin. ,,Weet jy, Fransina,

ons het na jou toe gekom om jou te waarsku,” sê sy

eindelik. Sy trek haar stoel nader na Fransina en sit

haar hand op diê van haar dogter. ,,Moet ons nou

nie kwalik neem as ons jou wil kom raad gee nie, maar

ons is regtig bekommerd oor jou.” Fransina word

bleek, maar wag op wat haar ma verder sal sê.

    ,,Dis in verband met Basson.”

    ,,Ma? Hoe meen Ma?” vra sy heftig. ,,Daar is

niks tussen ons nie.” Maar tegelyk word sy bloedrooi,

want sy besef meteens dat dit nie die waarheid is wat

sy daar sê nie. Daar is wel iets tussen hulle, al is dit

dan nie wat haar ma miskien meen nie. Het sy nie

toegelaat dat hy met haar van liefde praat nie? Al

het sy van haar kant niks gedoen om hom aan te


[bl. 131]


moedig nie, sy het hom tog ook nie weggestoot nie.

Nee, daar is wel iets tussen hulle. As sy sê daar is

niks tussen hulle nie, vertel sy ’n halwe leuen.

    ,,Nee, natuurlik nie,” sê haar ma. ,,Maar ons is

tog bang dat jy die man te veel ontmoet; mens moet

die mense ook nie die geleentheid gee om oor jou te

praat nie,”


    Fransina skrik, daaraan het sy eintlik nog nie

ernstig gedink nie. Basson kom af en toe daar,

maar dit is begryplik. Hy kom om na sy grond te

kyk en sy bly op die grond tot die mielies geoes is.

Verder sien sy hom nie. As hulle mekaar op Uitdraai

traakloop, gaan sy altemit saam met hom ’n koppie

tee drink, maar wat steek daarin? Sy begin haarself

heftig te verdedig. ,,Mense soek almelewe iets om oor

te skinder,” sê haar ma, ,,en daarom moet mens ver-

sigtig wees.”

    ,,Nou ja, as hulle dan wil skinder, laat hulle.”

    ,,Nee, Fransina, nou is jy verkeerd. As daar praatjies

gaan, al is hulle hoe ongegrond, en Bart sou dit te

hore kom, dan sou dit tog ellendig wees.”

    ,,Maar is daar dan al praatjies? Het Ma dan al

van so iets gehoor?”

    ,,Nie eintlik nie, maar tog. Japie van Martha was

gister daar by ons; hy sê ons moet jou vra om by

ons te kom woon, Jy bly hier te allenig, sê hy. Hy

sê ook Basson kom so nou en dan hier. Hy wou nie

veel sê nie, maar hy sê hy was bang vir praatiies. Hy

sê ons moet jou liewers vra om Basson nie meer te

ontmoet nie.”

    ,,Dis die lae klomp hier, Kafferkraal se skinder-

bekke,” sê Fransina woedend. Met haar rug na haar

moeder gaan staan sy voor die venster en ’n rukkie

praat hulle nie.


[bl. 132]


    Toe kom Fransina weer sit. ,,Dankie, Ma,’’ sê sy.

,,Ek is bly dat Ma my dit vertel het. Ek het eintlik

nooit aan so iets gedink nie. As jy self nie sleg is nie,

meen jy dat ander ook goed van jou dink. Mens

bly onnosel in hierdie opsig. Maar dis hier ’n nare

klomp mense, Ma. Ek begin nou so die haat in hulle

te kry dat ek kan skree. Oor ek nou nie met hulle

saamgaan in die politiek nie, nou moet hulle my

beskinder.”


    ’n Tydjie swyg hulle. Toe staan tante Johanna op

en loer in die slaapkamer; kom weer terug. ,,Ag, hoe

lekker slaap hy,’”’ sê sy. ,,Kom ons loop bietjie na

buite, Ma, na my blomme. Dit is vir my hier in die

huis benoud.”


    Hulle gaan na die blomtuintjie agter die huis en

sien oom Kasper ook al weer aankom. Hy het die

perde gaan haal.

    ,,Wil Pa nou al weer ry?” vra Fransina teleurgesteld.

    ,,Ja,” sê hy, ,,ek wil nou maar weer ry, ek is haastig.”

    ,,Bly Pa en Ma dan nie hier vir ete nie?” Trane van

teleurstelling kom in haar oê, maar hy maak of hy

dit nie sien nie.

    ,,Nee dankie, Fransina, ek moet gou weer by my

boerdery wees, ek het net gekom dat jou ma bietjie

met jou kan praat.”


    Hy span in en die twee vrouens help hom.

    ,,Kan jy nie maar na ons toe kom nie, Fransina?”

vra haar ma. ,,Ek verlang om jou by my te hê.”

    ,,Nog nie, Ma, maar so gou ek kan, kom ek.”

    Sy soen haar pa en ma en kyk hulle agterna tot

die kar in die verte verdwyn. Toe gaan sy na binne.

Haar lus om te skryf het vergaan en treurig en veront-

waardig sit sy daar alles en oordink. Skaamte laat

haar elke maal weer opstaan, maar telkens gaan sy


[bl. 133]


weer sit om te dink. Ag, wat ’n giftige klomp mense

tog, die bure van haar. Hoe sal sy nog een van hulle

vriendelik kan aanspreek. Maar dis seker maar die

nare Maria. Maar Aletta miskien ook. Wie weet

watter praatjies daar al oor haar gegaan het. En oom

Gawie weet seker ook al daarvan. Sy vrou sal hom

vertel het.—Miskien het hy wel vir Bart vertel_—Die

gedagte tref haar soos die berig van ’n ramp. Sou

dit wees? Sou Bart haar wantrou? Dan kan sy

verstaan dat hy sê skryf.

    ,,Hy glo seker alles wat hulle hom vertel,”’ dink sy

bitter. Hy kon Basson ook nooit verdra nie oor sy

nog so half notisie van hom geneem het. Nou sal hy

sommer alles glo.


    Sy is naderhand so uitgeput van al die aakligheid

dat sy nie meer kan dink nie. Haar kop wil bars.

Sy beef of sy koors het en wanhopig gaan sy nader-

hand lê.


    Toe Annekie tuis kom, lê sy nog. ,,[s Mammie

siek?” vra die kind benoud.

    ,,Ja, Annekie, Mammie is siek. Jy moet maar self

kos vir jou opskep, ek wil probeer om ’n bietjie te

slaap.” Haar gedagtes hol rond soos ’n mal skaap.

,,Ek word nog gek,’’ dink sy.


    Eindelik raak sy aan die slaap.


    Die volgende dag doen sy rusteloos en verstrooid

haar werk. Sy wil soms skryf, maar dan doen sy dit

tog weer nie, heen en weer geslinger deur haar teen-

strydige gedagtes en gevoelens. As Bart dan so min

van haar dink, is dit tot daarnatoe. Wat baat dit

as ’n man jou nie meer vertrou nie?


    Basson kom weer en sy laat hom nie merk dat hy

onwelkom is nie. Hy is naderhand, behalwe oom Giel

en tante Kornelia, die enigste mens wat sy nog graag


[bl. 134]


sien. Sy word al onverskilliger. Met Bart is dit verby.

Al wag sy vir hom, al kom-hy-een-var:-die dae los,

goed sal dit nooit weer word nie,


    Eendag wys sy vir hom Bart se brief.


    So kry Basson dan eindelik die vrou wat hy altyd

begeer het.


[bl. 135]


📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…