Bedryf 2
AANKONDIGER:
En so het hulle gevaar, af langs die kus; die berge by Clanwilliam van die see af gesien en hulle genoem: die Driekoningsberge.
Maar toe het 'n storm opgesteek. Dit was te gevaarlik om naby die kus te bly. Byna sonder seil aan die maste is die skepies afgewaai na die suide en weg van die land. Dag na dag in kwaai koue en ondeursigtige reënvlae het hulle die onbekende ingedrywe. Toé, toe die storm bedaar, het hulle weer terug ooswaarts geseil om die kus te vind. Maar dertig dae lank, in storm en mis, het hulle geen land gewaar nie. Dit was asof die groot vasteland verdwyn het.
Die twee skepe kon met moeite bymekaar bly; die kos en water het min geword: die golwe het vir hulle soos nooit tevore nie, gevat.
Pedro, die stuurman van Dias se skip, staan aan die roer met verskrikte matrose by hom; dis hy wat praat:
[bl. 13]
Die storm loei; die maste kraak.
MATROSE: Gooi die stuur om daar, Pedro! Gooi hom om!
Hier kom die golf! Help, God! Help ons bo bly?
PEDRO: Ons gaan hom oor. Hóú! Swarthout van my roer,
hou jý net!
Daar's ons weer bo.
Daar sak ons reg.
EERSTE MATROOS: My God. Ek kan nie meer nie.
PEDRO: Ek wis hy's sederhout.
Waarom my raad-gee?
TWEEDE MATROOS: Dis of die see van al vier kante kom,
die water gryp op na ons toe.
PEDRO: Bid, Manuel! Jy sit dan stil. Bid, boetie:
dis al wat jy kan doen.
Hier kóm hy:'
swart en wit, swart en wit, wit en swart, hier's hy!
EERSTE MATROOS: Heilige Moeder van God. Bid vir ons.
Heilige Maagd der maagde. Bid vir ons.
Moeder van die goddelike genade. Bid vir ons.
PEDRO: Mooi, Manuel. Dit lyk my jy bid raak.
Ook hierdie water sal my nog nie vat nie.
Maats, glo julle nog dat Pedro net praat?
Laat hom maar kom! Só lekker vat ek hom!
Waar is ons ander skip? Kan jy iets sien,
daarbo?
[bl. 14]
DERDE MATROOS: Nee! Gister, net eenkeer, 'n myl ver,
toe die mis 'n oomblik gebreek het, toe, dáár...
TWEEDE MATROOS: Hier sal ons sterwe in ons sonde.
God wou geen mens in hierdie see laat vaar nie.
EERSTE MATROOS: Ons dek is ys net waar die water spat.
PEDRO: Ons is die ergste deur.
Hou moed, maats! Dis maar sy laaste skop.
Voel! hoe ons oor die heuwels ry en sak.
Hierdie jong skip die sit en weeg al weer
soos hy galop. Ons grysperd pronk al weer!
Bid elkeen vir sy heilige dat my hand
die seën behou. En hou die dankie reg!
EERSTE MATROOS: Heilige Christofoor, dit is jou skip,
dit is jou naam wat oor die afgrond dryf;
hou jou hand onder ons, vat aan ons kiel
en hou hom styf waar ons wil sink ...
*
EERSTE MATROOS: Dit is ontsettend, sulke môres, Pedro.
Daelank jaag ons suid, suid, bloot die see in,
in reën en hael, onder die noordewind;
nou blindelings oos weer...
Ons toue is wit geryp.
Die land het weggeraak, alles is see,
alles is grys van reën, en óns storm voort
met die wind, net in die reën, net in die mis in.
Hierdie water is gruwelik: swart en deurskyn
na onder asof daar iets onder gloei.
[bl. 15]
PEDRO: Luister, julle! Die wind fluit al soeter. Ons ry hier
oor swart diamante van water. Dis heerlik. Die roer
speel in my hand en bewe, en as ek hom ruk,
beef my skip soos 'n meisie. My aartsengel
stoot die wêreld oop met sy bors, soos Dias dit wil.
En ek is sy stuurman!
DERDE MATROOS: Hoe kan jou hart dit hou,
Pedro, al hou jou hand die roer?
EERSTE MATROOS: Bang is ons,
Pedro. Hierdie eensaam water, Pedro,
die moes verborge bly: só wou God dit.
PEDRO: Hoe ken ek God se wil? Ek ken my greep.
DERDE MATROOS: Die manne mor. Ek hoor hulle alnag vloek.
*
VIERDE MATROOS: Waar kry ons water? Die vate
is laag en brak.
TWEEDE MATROOS: Ons toue is uitgerafel
en hang vol baard.
VIERDE MATROOS: Moet ons dan sterwe, hier,
net deur die wil van een man wat vervloek is?
Moet ons dan ry in hierdie wind en mis?
totdat ons boeg die water-in vaar en ons sink?
EERSTE MATROOS: Ek het nie moed, nie raad nie.
[bl. 16]
TWEEDE MATROOS: Hoor hoe ons maste ál vier kraak.
As daar weer so 'n storm kom? ...
VIERDE MATROOS: Dis got te ver.
Hy dúrf nie verder gaan nie!
EERSTE MATROOS: Ons wil nie sterf:
sterwe, en sterf in sonde, ewig sterwe.
PEDRO: Ook sal ons sondig as ons muit teen hom.
Ek kan nie na hom kyk dat ek nie voel
hy dra Gods wil. Hy word bestuur deur God;
hy meer as ons.
TWEEDE MATROOS: Dis waansin, waansin, Pedro!
Die Bose het julle hart gevang - sy hart,
en jy's getoor, jy, Pedro.
EERSTE MATROOS: Vlug vir die Bose, Pedro!
Vrees vir jou eie siel. Hy, - hy's gevang!
Ons wil nie dood nie!
VIERDE MATROOS: Waar bly ons ander skip?
Is dié al trug? Is ons alleen?
DERDE MATROOS: As dié hier was, Johan Infante hier was,
dan was die vaart gekeer.
VIERDE MATROOS: Infante, ja!
Die ridder het 'n nugter oordeel.
Hy moes ons vloot gelei het, dan was dit goed.
Hy ken sy werk, hy doen sy plig, en klaar.
[bl. 17]
Maar hierdie mens bo ons, met sy swart oë,
hy kyk na ons asof hy niemand sien nie,
asof die wind deur sy oogholtes waai.
Hy is besete. Hy praat altyd alleen,
of wát, wát laat sy lippe roer?
Hy hou beraad met die gedoemde Magte.
Hoe kan hy anders in sy kamer bly?
Die see hier is geskenk aan die Magte en Prinse
en aan die Dinge van die Wildernis.
En bo ons leef 'n wrede nuwe hemel.
PEDRO: Ek dag julle glo nie meer dié dom ou stories:
dis Arabiere en More se vertelsels
om ons weg te hou!
DERDE MATROOS: Ek was ook ongelowig,
daar in die noorde, Pedro. Hier sien ek self.
Ek glo dat jy nie bid nie.
PEDRO: Ek hoor die Mis,
en buig my voor die Bloed, en maak die Teken...
VIERDE MATROOS: Maar snags durf julle die groot sterre kyk
van hierdie roer af, sonder bid of kruis,
asof dit jul gelykes was! Jy's koud
en dink verborge dinge. Waar lei julle ons!
DERDE MATROOS: Pedro, jy moet tog glo die sterre
die raak, teen God se wil, tot aan ons hart.
TWEEDE MATROOS: Waaronder vaar ons in? Bo hierdie land
is tekens, ligte, en wat groot is en boos.
[bl. 18]
Het jy gesien, die nagte voor die storm:
iets soos 'n heilige kruis, en digby Twee,
verskriklike Gloeiendes, mik op Sy Hart?
EERSTE MATROOS: Dis gruwelik en onsalig. Ons vaar en vaar;
Ons kan niks sien, ons slinger in die newel.
Wat gloei al in die nag dalk bokant ons
en bo ons skepe?
*
PEDRO: Voel julle die wind gaan lê! Ek kon dit weet
aan hoe die water klou hier aan my roer...
DERDE MATROOS:
Luister! Daar's branders voor! Hier is 'n kus!
TWEEDE MATROOS: Draai, Pedro, draai! Hier's naby land.
PEDRO: Wees rustig. Gooi die lood uit. Meet die grond.
Onthou, my ore luister ook.
Sy draai.
Sy draai.
En hoor haar maste sagter kraak.
Kyk hoe die misbank wit wit witter glans
asof hy son kry in sy voue. Kyk!
Daar sit die son weer, bleek en klein en mak
soos 'n stil maantjie in die mis. Dag, koning! Darem!
Dan sien ons tog mekaar weer?
Wie's nog bang?
Kyk, kyk, hoe gaan die water oop. Het ek gesê
dis tyd vir dank-sê? En hier kom Dias.
[bl. 19]
DERDE MATROOS:
Dof lyk hy van nie slaap nie. Kan hy gedrink het?
VIERDE MATROOS:
Got hy kruip weg. Hy wil sy ore doof-hou.
DIAS: Pedro, het ek branders voor gehoor?
PEDRO: Kyk daar, meester, hoe waai die wêreld oop.
Kyk hoe gaan lê die water. Dis 'n baai.
Kyk, daar is strand, en kyk hoe kring hy om ons
wyd en wit, self soos 'n halwe see.
Sien jy hoe waai die flardes van die mis,
hoe staan die kape uit.
DIAS: Ek het hom weer gegryp: my harde vyand,
hierdie kus wat been-wit van die dood is;
hy wat wou wegvlug uit ons worsteling.
Ons hét mekaar weer. Hy of ek sal breek.
PEDRO: Moet nie so bitter praat, en praat sag, meester:
die manne haat jou half. Let op hoe kyk hulle:
nie na die strand nie, bitter en boos na jou.
En moet die dood nie noem nie. Dáár's die dood:
dáár, in hul oë.
DIAS: Manne, daar is ons kus.
Ná hierdie dertig dae hét ons hom.
Hy wou ons afsmyt, maar ons hét hom weer.
TWEEDE MATROOS: Ons sal nog strand en vrek op hierdie kus.
[bl. 20]
DIAS: Hy wou ons in die suiderwaters smyt:
Nou hét, hét, hét ek hom.
EERSTE MATROOS: Hy hoor jou nie.
Niks hoor hy meer nie.
PEDRO: Hier lê die water in die son. Dis heerlik.
Hier ry ons uit die laaste misbank uit,
en daar's die sand van kaap tot kaap gespan!
Kyk die wit koppe, en voel: dis soos 'n dansvloer.
Hier kom die meeue weer. Hoe stippel hulle
die hele lug vol glans! En kyk die duikers
skiet onder in die waterwêreld rond
soos donker visse oor die sand wat amper
aan gevat kan word.
DIAS: Hier sou kon vrede wees...
PEDRO: Daar is 'n duikerklip. Kyk daar hoe regop
hulle swart kasteeltjies staan, suur van die mis.
Dis soos ek kind was, smôrens met my bootjie...
Hier slaan die storm nie hoog nie.
En kyk: dáár, agter:
hoe pak die wolke daar: dis blom bo blom
teen berge wat soos Alpe óp moet klim!
DIAS: Waar is ons ander skip? Waar's ons Infante?
Daar is my kus. Daar lê my wilde land.
Daar lê hy weer.
Hoe laat is dit?
Die son, die son! Kyk Pedro, kyk die son!
Kyk, kyk hoe loop die kus! Sien jy dit nie!
[bl. 21]
Sien niemand dit! Skreeu, waarom skreeu julle nie!
Waar was die son? die kus? voor hierdie storm
ons oë gesluit het? Pedro, Pedro.
Die kus loop oos, en noord! Kyk daardie son.
*
Wees my genadig God, vergeef my sonde.
dat ek kon dink, dat ek kon dink dat U
my nie... laat ek jou skouer vat, Pedro.
Kan julle sien ons vaar suid van die land,
dié harde land, dié land wat ons getart het,
hy het gebreek, hy't ons verby laat kom.
Pedro, die kus was sterk, en ons... nee, God
het ons laat wen.
Manne, luister: ek sal stil praat:
weet julle nou dat ons die see waar nooit
'n mens gevaar het, met ons kiel gevat het
en dat ons van die woeste vasteland
soos met 'n greep ons eer kon gryp;
dat ons om hierdie swart land van die dood
gevaar het?
Nou's dit oop. Nou lê ons seepad
oop. Ek sal nie sterwe voor my dag nie.
Ek is maar stof en as en tog het U
na my gekom sodat my arme hart
met U mag praat.
My soete God, ek dank U met my hart,
hoe goed, hoe vriendelik is U vir my.
*
[bl. 22]
DIAS: Hoe groot en blou en stil lê hierdie baai.
Ons dryf soos wrakhout wat wil uitspoel kant toe.
En strand en duin neem al gestalte aan.
PEDRO: Daar's hutte en daar's vee. Ook hierdie aarde
het sy mense.
DIAS: So ver van God, so ver...
PEDRO: 'n Vreemde land van duin en donker struike,
swart en wit.
DIAS: Waar niemand Christus noem.
Dít is die land waar ek dalk sal onthou word.
Geskreeu aan agterkant van die skip.
PEDRO: Daar word geskreeu!
Kyk, kyk daar uit die mis
daar kom Infante. Kyk hoe speel sy skip!
Hy gooi sy seile oop. Hy háng hulle teen die wind
van pure spog.
DIAS: Pedro, ons het vergeet:
ons is mos bly. Laat stoot maar die trompet.
Laat die kanon skiet. Dis 'n dag mos hierdie
wat ons moet bly wees.
En as hy nader kom,
dan praat jy, Pedro. Ek het nie sin nie.
Skreeu jy sy ore vol. Maar, ja:
hy sal ook wéét, al is hy so verstandig.
Gejuig, trompette, skote.
[bl. 23]
PEDRO: Hoor daar, hy skiet ook. Hoor hoe hy trompetter.
Hy weet ook al. Guts, dit is mooi
soos so 'n skip kan spring. Kyk hier, hy stuur
vas op ons af.
Kyk net hoe gooi hy draaie!
DIAS: Pedro, niks niks kan mooier wees
as so 'n skip op so 'n helder see:
so vaar ons land se wit wit karavele
en sing om hierdie Afrika se kus
en maak die wêreld nuut en ons is jonk
en sluit die aarde en die eeue oop.
Pedro ek praat dronk en ek mág dronk wees
op so 'n dag.
PEDRO: (roep): Weet julle wat gebeur het?
Weet julle waar ons is!
Trompet antwoord van die ander skip af.
Hy antwoord nie: hy praat met die trompet!
Hier kom hy aan. Hier kom hulle langs ons lê
en laat hulle seile oprol, wéég langs ons
op die blink water. Saam, saam dryf ons
en ons vlerke is gevou en ingepak
op die blink water.
Roep.
Meester Infante,
ons admiraal laat vra of julle weet
waar ons nou ry!
*
[bl. 24]