Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 20

DIE PROFEET


U HET nie woord gehou met my, o Heer: 

hier teen die helfte van my dae 

staan ek verblind in U fel brand se lig, 

ék wat die hoë sneeukop van genade 

wou bereik, U stilte en oorskaduwing wou hê. 

Eenmaal in lentedae (dít weet ek) 

toe die lugte bleek was bo witte horisonte, 

was U 'n verre stem in my, 'n fluistering 

-soos iets wat verweg roer, half agter bome- 

om uit te gaan en in U naam te praat. 

Klein was my vrees, en ek kon liggies glimlag 

dat U dié sware woorde van my eis 

wat so verborge nog was in my skroom. 

Maar in my, ín my, o Heer, 

soos die val van houe op 'n dowwe ding, 

het U woorde en woede en skrik gekom 


[bl. 28] 


en my neergeslaan tot my knieë genadeloos, 

totdat die nag my in 'n donker hoop 

gehurk, en aan die snik gevind het. 


En tog het U 'n rus beloof soos van diep kuile 

onder die stormwind van U vereiste daad: 

U het nie woord gehou met my. 

U 't áls geëis: my menslike waardigheid, 

my stille samesyn met ander, die verborge 

en altyd mooie liefde van die jeug; 

U het van my die trots, die skroom, die wete 

van vaste maat in mooi en helder dinge 

soos voddes afgeskeur, my naak gemaak 

en, skaam nog, aan bespotting oorgegee; 

my, donker wandelaar in skaduwees, 

het U uitgeja met vlamme op my voorkop, 


[bl. 29] 


met wilde hande en voete wat altyd brand 

om die gevreesde weg van God te gaan. 


Nou vra die dwase 'n sekerheid van my 

wat self niks weet van troos of sekerheid; 

wat niks ken as die splintering van die Daad 

teen die blinde mure, Heer, van U geweld. 

Ek het soos glas U en U werk deurskou, 

gesien U is die Rustlose, U is die wind. 

wat warrelend oor die vlamwit vlaktes waai 

van die heelal, dat die blink stof van die sterre 

[staan. 

U is begeerte, en pyn, en 'n verlange, 

en het ons hart in so 'n drif gemaak 

dat nêrens rus vir ons bestaan. 

Maar húlle wil eindig wees en eng omgrens 

tot klein begeerte en klein deursigtige liefde 

vir alle naby en begrypbare dinge; 


[bl. 30]


hulle wil hul afskei van U, en 'n skans 

en skuilte bou, Heer, teen U hoë branding. 

U sal hul sorge tot bespotting maak! 

Verloën my nie, o God, verloën my nie, 

ek weet U is geen rusplek en geen troos: 

U skuim in ons óp soos die see se water, 

U stort in ons af soos die reën wat val 

en stroom van alle kante soos die wind. 


Hul noem dit waansin as ek skreeu en lag 

en vreemde woorde praat oor hulle troos. 

U het geen kenbare teken aan my of aan my 

[woord 

gesit as borg van wat U deur my spreek; 

U gésel my met hulle luide hoon; 

ek moet die bitter brood van twyfel eet 

en daeliks weer my vlamme-waarheid gryp - 

maar ek, aan wie U self U werk verklaar het, 


[bl. 31] 


gaan dán met die nuwe heilige wete uit: 

dat hierdie duisternis van my U lig 

en waarheid is, hierdie verwarde spraak 

U suiwer en deursigtige woord en sin; 

dat al my onrus is die saamwaai met 

U magtige wind- 

en Heer, ek staan weer sterk 

in die andere genade wat U gee. 


-1937-


[bl. 32]



📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…