HERFSNAMIDDAG
HOOG in die silwering
van die koel sonlig
flikker 'n oomblik
die vlerke van duiwe,
maar alles is roerloos
en yl soos die môre
bokant die denne
en wit horison;
alles word kouer,
en die vér water
drywe nou glansloos
met enkele bootjies.
Hoe kon ons weet
dat die jong, trots liefde
eenmaal so wesenloos
[bl. 33]
uit sou laat staar?
en die voete nie altyd
so verend en heersend
oor die klam aarde
en ruislose naalde
sou gaan soos 'n jongling
wat haas sonder woorde.
[bl. 34]