ABÉLARD
JOU oë het aandagtig stil geword
in die middel van ons woorde,
soos in die wingerd as die wind gaan lê
en skielik van diae silwerende, verstoorde
blare geen enkele ritsel nie; -
toe 't ons geweet ons sou moet swerwe
met liefde tussen vreug en pyn
tot pyn en vreugde self sou sterwe.
Ons wis die groot lig sou óns neem
- wat koel nog was in skaduwees -
en óm ons een wit branding wees
en blind skroei, jaag en glad vervreem
van alle rus; dit sou ons brand
om al wat smarte is, te voel,
soos strawwe winde om ons spoel
en staan in glans bo elke hand.
[bl. 36]
My hart was droef en rusteloos van pyn
vir wat moes voorlê in die vreemde jare,
maar in jou oë het gebly die glans
en ryp vervulling van wyd-ope en klare
herfste as alles in die boorde
tot uiterste voltooiing groei;
jou vreugde het blink en rimpelloos diep
oor alle wete en vrees gevloei.
[bl. 37]