Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 25

GEDAGTES LIEDERE EN GEBEDE VAN 'N SOLDAAT 1935 - 1937


I — VAN DIE GEKWESTES

WAT OP DIE SLAGVELD LÊ 


BO - OOR ons jaag hul, stroom hul soos water 

— troewel branders van perde en pote —, 

trap en verpletter ons hier in die modder; 

swart teen die wit van die hemel die grote 

skadugevaartes; 

warrling van perde en pote 

bo—oor ons, wilde gesigte, 

en op lans en op roer 

skitter die ligte. 


En ons wat hier plat lê, getrap in die grond 

— plaveisel, o God, vir hul vaart —, 

o wat bly ons nog, 

nou dat ons hande magteloos is en ons haat? 

Wat kan ons doen as om stil te wees, 

bitter te swyg en wag, stom, 

op die wraak van ons broers wat moet kom? 


Maart 1935 


[bl. 4I]



II — KLEIN GEBED: VAN DIE 

HANDE WAT VERAG WORD 


KYK hier 's my hande, o Heer, 

rooi en vereelt en groot; 

dié gee ek vir húlle daagliks 

en vra my brood. 


U het my bot gemaak 

om troebel te verstaan 

waarom ons, stink van sweet, 

deur ratte en wiele gaan; 


maar eenvoudige woorde, o Heer, 

soos Reg en Smart 

en dat ek eenmaal sterwe, 

sê U my hart; 


en as my hande wurge, o God, 

rondom 'n keel een dag, 

wees U die bloed, wees U die spier, 

wees U my greep se krag. 


Augustus 1935 


[bl. 42]



III — BY DIE MONUMENT 


JULLE was die tederes, en ons kom biddend 

[staan, 

om wat te vind? Teerheid, berusting, ootmoed? 

[Nee, 

dit sou 'n bitter hou in jul gesigte slaan 

as dit nog ál was wat jul dood ons nou kan gee. 


Ons sou soos honde wees wat mak is ná die sweep 

en nou die hand lek wat geslaan het, as ons waag 

om hier te staan, en julle sterfte en die greep 

an ons verneedring dra in deemoed sonder 

[vraag. 

Waar swakheid uitgemoor is, durf net die krag 

[bestaan; 

waar liefde en sagtheid so geskend is, net die 

[haat; 

júl sal die sterkstes wees, jul sal ons oë slaan 

met helderheid, ons hande krag gee vir die daad. 


[bl. 43]



BY DIE MONUMENT 


Hier sal ons kniel, hier sal ons bid en peins 

tot smartlik in ons leef die pyn jul aangedaan, 

tot ons rein word en sterk om nie terug te deins 

vir sterke dinge; dán het ons jul dood verstaan: 


Geen smart gaan ooit verlore, want verborge 

[soos die saad 

en ingebind tot streng verbeide en verwagte 

groei dit in duistere geduld deur baie nagte 

tot die dag-helder vreug van ons opstand teen 

[die kwaad. 


Januarie 1937 


[bl. 44]



IV — ONS WIL MOET BLINK WEES 


ONS wil moet blink wees, buigsaam soos 

[die staal, 

een helder drif, een lem, een straal 

vanuit die brein, die skouer, die taaie digte 

vlegsel van die spiere en armgewrigte 

tot in die koel punt van die mes; 


hy moet nog lig en trots en skaamteloos word 

en regop tussen die mense loop 

met oë soos 'n jong kind, en die knoop 

van ons gedagtes losruk met die kort 

besinning van 'n suiwer dier. 


[bl. 45]



V — MOET ONS OOK TOORN HÊ 


MOET ons ook toorn hê, moet die donker haat 

saam in gelid naas ons wit liefde loop, 

naas ons trots vreugde en wapenblink hoop, 

en langs ons hoë erns gaan in die raad? 

dít sal ons dan haat: óu magte wat ons krenk 

met die smaad van hulle jare, omdat hul oud 

en vol onmenslike hunkerings is, die goud 

meer liefhet as mooi—lewe, en ons deurdrenk 

gestadiglik met woorde wat geen sin het 

van,,breedheid" en,,gelykheid", dat ons ras 

kan wegsmelt in die donkerbloedige plas, 

en woorde klaarmaak wat geweld begin het. 

Dié sal ons haat, en ,,haat" naas,,liefde" sê 

dat ons weer mense menslik lief kan hê. 


[bl. 46]



VI — ONS SAL MET 

ALTYD STRENGER TUG 


ONS sal met altyd strenger tug 

ons wense en kragte samegord, 

tot al wat sag is, in ons sterf, 

en wil en liggaam eenheid word. 


Die lewe wat gestalteloos dein 

deur ewig wyer, yler kringe, 

dié sal ons saamgryp en vereng 

tot enkele harde en helder dinge. 


[bl. 47]



VII — JULLE IS DIE OORHEERSERS 


JULLE is die oorheersers 

en julle die vertrappers 

van ons wat sterk is, 

maar magteloos verneder; 

julle maal ons soos koring, 

julle eet ons soos brood; 


tog haat ons julle nie: 

omdat julle mens is 

en die dood ook deelagtig, 

is julle ons broers; 

maar julle is siek 

aan die lasterlike hoogmoed. 


Daarom moet julle 

tot needrigheid genees word, 

gebreek word deur ons 

in ons magtige opstand 


[bl. 48]



JULLE IS DIE OORHEERSERS 


tot eenvoudige vreugdes, 

tot die heilige lye, 

tot 'n nuwe onmiddellikheid 

van die heldere aarde; 


maar as julle dood 

en 'n vrot plek in ons volk is, 

dan sal ons 'n mes vat 

en vinnig, genadiglik 

sny deur spiere 

en vleis tot genesing. 


Oktober 1935 


[bl. 49]



VIII — ONS MOET DIE BITTER TAAK 


ONS moet die bitter taak en teken dra 

en uitverkoornes wees tot leed en stryd, 

om tussen duisende — wat glad verward 

in mindere vreugde is, en wild en willoos 

deur die strate van hul leë kermis skreeu —

swygsaam en streng soldate op wag te wees. 

Ons vra geen einde vir ons diens, of rus 

vir ons, want ons weet dat erns en tug en trots 

en ál wat hoog is, alles wat 'n lewe 

mooi laat voer, soos glans is vir die blinde 

aan dié wat óm ons spoel, die veles. (Nog 

is ál die beste op aarde klein van kragte, 

nog is net enkeles sterk en hard gevorm 

tot vastigheid, waar alles vloeibaar is.) 

Skaamteloos skreeu hul en noem hul luste 

[waarheid, 

hul onmag mooi, hul smadelike deug 


[bl. 50]



ONS MOET DIE BITTER TAAK 


iets edels, en prys dit vir die mark. 

Maar tussendeur loop ons 'n vreemde pad 

wat nie begryp word, en sonder hoon of wrok, 

want deernis is die wese van ons taak, 

en die hoë wete dat ons, afgeskei, 

nog diep verwant is aan hul blinde pyn. 

Ons het alleen ons werk, en nêrens deel 

aan wat húl waarde noem. Ons ken die swye, 

ons hou net enkele woorde tot 'n wet 

wat onverbiddelik is, deursigtig, klaar; 

en trou alleen aan die hoogste wat ons ken, 

meer as aan vriend of broer, dat ons die Edele 

en Kosbare veilig deur die skare dra. 


Januarie 1937 


[bl. 51]



IX — MISKIEN OOK 

SAL ONS STERWE 


MISKIEN ook sal ons sterwe 

en iewers ruggelings stort, 

dat hierdie helder aarde 

in ons verdonker word. 


Miskien sal niemand later 

mooi dinge van ons weet, 

en nêrens sin te kry wees 

in al ons stryd en leed, 


sal elkeen as hy magtloos 

naby die sterwe lê, 

net hierdie eensaam wete 

uiteindelik nog hê: 


dat ons nie kon gebuig word 

soos húl geweld dit wou, 

en dat ons hoog kon lewe 

net aan ons bloed getrou. 


[bl. 52]



📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…