GEDAGTES LIEDERE EN GEBEDE VAN 'N SOLDAAT 1935 - 1937
I — VAN DIE GEKWESTES
WAT OP DIE SLAGVELD LÊ
BO - OOR ons jaag hul, stroom hul soos water
— troewel branders van perde en pote —,
trap en verpletter ons hier in die modder;
swart teen die wit van die hemel die grote
skadugevaartes;
warrling van perde en pote
bo—oor ons, wilde gesigte,
en op lans en op roer
skitter die ligte.
En ons wat hier plat lê, getrap in die grond
— plaveisel, o God, vir hul vaart —,
o wat bly ons nog,
nou dat ons hande magteloos is en ons haat?
Wat kan ons doen as om stil te wees,
bitter te swyg en wag, stom,
op die wraak van ons broers wat moet kom?
Maart 1935
[bl. 4I]
II — KLEIN GEBED: VAN DIE
HANDE WAT VERAG WORD
KYK hier 's my hande, o Heer,
rooi en vereelt en groot;
dié gee ek vir húlle daagliks
en vra my brood.
U het my bot gemaak
om troebel te verstaan
waarom ons, stink van sweet,
deur ratte en wiele gaan;
maar eenvoudige woorde, o Heer,
soos Reg en Smart
en dat ek eenmaal sterwe,
sê U my hart;
en as my hande wurge, o God,
rondom 'n keel een dag,
wees U die bloed, wees U die spier,
wees U my greep se krag.
Augustus 1935
[bl. 42]
III — BY DIE MONUMENT
JULLE was die tederes, en ons kom biddend
[staan,
om wat te vind? Teerheid, berusting, ootmoed?
[Nee,
dit sou 'n bitter hou in jul gesigte slaan
as dit nog ál was wat jul dood ons nou kan gee.
Ons sou soos honde wees wat mak is ná die sweep
en nou die hand lek wat geslaan het, as ons waag
om hier te staan, en julle sterfte en die greep
an ons verneedring dra in deemoed sonder
[vraag.
Waar swakheid uitgemoor is, durf net die krag
[bestaan;
waar liefde en sagtheid so geskend is, net die
[haat;
júl sal die sterkstes wees, jul sal ons oë slaan
met helderheid, ons hande krag gee vir die daad.
[bl. 43]
BY DIE MONUMENT
Hier sal ons kniel, hier sal ons bid en peins
tot smartlik in ons leef die pyn jul aangedaan,
tot ons rein word en sterk om nie terug te deins
vir sterke dinge; dán het ons jul dood verstaan:
Geen smart gaan ooit verlore, want verborge
[soos die saad
en ingebind tot streng verbeide en verwagte
groei dit in duistere geduld deur baie nagte
tot die dag-helder vreug van ons opstand teen
[die kwaad.
Januarie 1937
[bl. 44]
IV — ONS WIL MOET BLINK WEES
ONS wil moet blink wees, buigsaam soos
[die staal,
een helder drif, een lem, een straal
vanuit die brein, die skouer, die taaie digte
vlegsel van die spiere en armgewrigte
tot in die koel punt van die mes;
hy moet nog lig en trots en skaamteloos word
en regop tussen die mense loop
met oë soos 'n jong kind, en die knoop
van ons gedagtes losruk met die kort
besinning van 'n suiwer dier.
[bl. 45]
V — MOET ONS OOK TOORN HÊ
MOET ons ook toorn hê, moet die donker haat
saam in gelid naas ons wit liefde loop,
naas ons trots vreugde en wapenblink hoop,
en langs ons hoë erns gaan in die raad?
dít sal ons dan haat: óu magte wat ons krenk
met die smaad van hulle jare, omdat hul oud
en vol onmenslike hunkerings is, die goud
meer liefhet as mooi—lewe, en ons deurdrenk
gestadiglik met woorde wat geen sin het
van,,breedheid" en,,gelykheid", dat ons ras
kan wegsmelt in die donkerbloedige plas,
en woorde klaarmaak wat geweld begin het.
Dié sal ons haat, en ,,haat" naas,,liefde" sê
dat ons weer mense menslik lief kan hê.
[bl. 46]
VI — ONS SAL MET
ALTYD STRENGER TUG
ONS sal met altyd strenger tug
ons wense en kragte samegord,
tot al wat sag is, in ons sterf,
en wil en liggaam eenheid word.
Die lewe wat gestalteloos dein
deur ewig wyer, yler kringe,
dié sal ons saamgryp en vereng
tot enkele harde en helder dinge.
[bl. 47]
VII — JULLE IS DIE OORHEERSERS
JULLE is die oorheersers
en julle die vertrappers
van ons wat sterk is,
maar magteloos verneder;
julle maal ons soos koring,
julle eet ons soos brood;
tog haat ons julle nie:
omdat julle mens is
en die dood ook deelagtig,
is julle ons broers;
maar julle is siek
aan die lasterlike hoogmoed.
Daarom moet julle
tot needrigheid genees word,
gebreek word deur ons
in ons magtige opstand
[bl. 48]
JULLE IS DIE OORHEERSERS
tot eenvoudige vreugdes,
tot die heilige lye,
tot 'n nuwe onmiddellikheid
van die heldere aarde;
maar as julle dood
en 'n vrot plek in ons volk is,
dan sal ons 'n mes vat
en vinnig, genadiglik
sny deur spiere
en vleis tot genesing.
Oktober 1935
[bl. 49]
VIII — ONS MOET DIE BITTER TAAK
ONS moet die bitter taak en teken dra
en uitverkoornes wees tot leed en stryd,
om tussen duisende — wat glad verward
in mindere vreugde is, en wild en willoos
deur die strate van hul leë kermis skreeu —
swygsaam en streng soldate op wag te wees.
Ons vra geen einde vir ons diens, of rus
vir ons, want ons weet dat erns en tug en trots
en ál wat hoog is, alles wat 'n lewe
mooi laat voer, soos glans is vir die blinde
aan dié wat óm ons spoel, die veles. (Nog
is ál die beste op aarde klein van kragte,
nog is net enkeles sterk en hard gevorm
tot vastigheid, waar alles vloeibaar is.)
Skaamteloos skreeu hul en noem hul luste
[waarheid,
hul onmag mooi, hul smadelike deug
[bl. 50]
ONS MOET DIE BITTER TAAK
iets edels, en prys dit vir die mark.
Maar tussendeur loop ons 'n vreemde pad
wat nie begryp word, en sonder hoon of wrok,
want deernis is die wese van ons taak,
en die hoë wete dat ons, afgeskei,
nog diep verwant is aan hul blinde pyn.
Ons het alleen ons werk, en nêrens deel
aan wat húl waarde noem. Ons ken die swye,
ons hou net enkele woorde tot 'n wet
wat onverbiddelik is, deursigtig, klaar;
en trou alleen aan die hoogste wat ons ken,
meer as aan vriend of broer, dat ons die Edele
en Kosbare veilig deur die skare dra.
Januarie 1937
[bl. 51]
IX — MISKIEN OOK
SAL ONS STERWE
MISKIEN ook sal ons sterwe
en iewers ruggelings stort,
dat hierdie helder aarde
in ons verdonker word.
Miskien sal niemand later
mooi dinge van ons weet,
en nêrens sin te kry wees
in al ons stryd en leed,
sal elkeen as hy magtloos
naby die sterwe lê,
net hierdie eensaam wete
uiteindelik nog hê:
dat ons nie kon gebuig word
soos húl geweld dit wou,
en dat ons hoog kon lewe
net aan ons bloed getrou.
[bl. 52]