Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 37

FRAGMENTE VAN DIE TWEEDE LEWE

1934 


EN toe 't óór hom die eensaamheid gekom — 

soos tussen lae rotse by die strand 

waar seegras eers onrustig om 

en om beweeg, al tastend teen die koue wand, 

(geteisterdes in bange voorgevoel) 

en die eerste roering soos 'n rimpel vaar 

oor gladde water, dán met klotsing spoel 

die sterker golwing aan, totdat met swaar 

en duister drang uit verste dieptes beur 

die stuwing van die see se maatloosheid, 

één nag, één donker roering oor en deur 

die wier —

so was oor hom die eensaamheid. 


* * *

Sy liefde moes uit magtelose hande 

een—een laat wegglip wat hy graag wou hou 

— want wie sien in die dorings van die skande, 


[bl. 55] 


die winter—yl verlatenheid, ontvou 

die skoner lewe, blaar en knop en kelk, 

mistiek verborge nog en ongebore? —

so het hul weggegaan, verwonderd elk 

dat hy kon neem as eie en uitverkore 

deel van die volle aarde soveel pyn; 

gegaan tot vreemde enkelheid van weë 

elk in sy eie droefheid oor die skyn 

van vroeë trou en vriendskap, elk verleë 

om die nuwe lewe eensaam te begin. 

Dit was die mooiste, dit die beste wat 

die jare en sy bloed se verre sin 

hom nog vergun het as 'n suiwer skat.... 

Maar hul moes gaan, en toe het hom verlaat 

(wat uit sy jeug bewaar, oorskadu was) 

die ligte vrede—uit—innerlikheid, die maat 


[bl. 56]


van vreugde en leed, dat hy kon vas 

van voet en skoon van oë die leiding voel 

en volg van 'n verborge aanwesigheid. 


Toe het hy soos 'n drenkeling slap gespoel 

in die hoë vloed van daardie eensaamheid. 


* * *


'n Vreemde land het hy nou ingegaan 

van stilte waar geen stem of klank 

meer is in die wind, die bome staan 

in die leë skittering van die dag en rank 

uit dooie aarde in die dooie lug... 

so was die dae van sy smart — maar hoog 

bo die klein smart die blanke vlug 

van yl—gewaaide wolke deur hul boog, 

en nag ná nag staar skoon, afgrondelik, 

verlate sterre op verlatenheid 

waar elkeen smartvol en afsonderlik 


[bl. 57] 


sy eie blinde weg onwetend, wyd 

in donkere eenselwigheid moet gaan. 

Die wêreld was tot spel van kom en keer 

in eindelose wenteling ontdaan; 

en in sy hart was geen verlange meer. 


Dít was die laaste en innerlikste kring 

van afgesonderdheid: dat hy die band 

wat siel aan siel en ons aan elke ding 

bo ruimte en buite tyd tot silwere stand 

van fyn—gewebde straal en draad verbind, 

nie meer kon voel, geen woord hom meer kon 

[raak... 

* * *

Dit was die end, dit was die sware sin 

en slotsom van sy jeug, die bitter vrug 

van mooier knop en blom, maar eindeloos trug 

nog in die vaal—gekimde, vér begin 

onskeidbaar in sy wese ingevleg 


[bl. 58]


en tot dié smartgestalte uitgegroei 

so onverbiddelik soos die speel en vloei

van dood en wisseling is.... 


* * *


[bl. 59]

*



📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…