FRAGMENTE VAN DIE TWEEDE LEWE
1934
EN toe 't óór hom die eensaamheid gekom —
soos tussen lae rotse by die strand
waar seegras eers onrustig om
en om beweeg, al tastend teen die koue wand,
(geteisterdes in bange voorgevoel)
en die eerste roering soos 'n rimpel vaar
oor gladde water, dán met klotsing spoel
die sterker golwing aan, totdat met swaar
en duister drang uit verste dieptes beur
die stuwing van die see se maatloosheid,
één nag, één donker roering oor en deur
die wier —
so was oor hom die eensaamheid.
* * *
Sy liefde moes uit magtelose hande
een—een laat wegglip wat hy graag wou hou
— want wie sien in die dorings van die skande,
[bl. 55]
die winter—yl verlatenheid, ontvou
die skoner lewe, blaar en knop en kelk,
mistiek verborge nog en ongebore? —
so het hul weggegaan, verwonderd elk
dat hy kon neem as eie en uitverkore
deel van die volle aarde soveel pyn;
gegaan tot vreemde enkelheid van weë
elk in sy eie droefheid oor die skyn
van vroeë trou en vriendskap, elk verleë
om die nuwe lewe eensaam te begin.
Dit was die mooiste, dit die beste wat
die jare en sy bloed se verre sin
hom nog vergun het as 'n suiwer skat....
Maar hul moes gaan, en toe het hom verlaat
(wat uit sy jeug bewaar, oorskadu was)
die ligte vrede—uit—innerlikheid, die maat
[bl. 56]
van vreugde en leed, dat hy kon vas
van voet en skoon van oë die leiding voel
en volg van 'n verborge aanwesigheid.
Toe het hy soos 'n drenkeling slap gespoel
in die hoë vloed van daardie eensaamheid.
* * *
'n Vreemde land het hy nou ingegaan
van stilte waar geen stem of klank
meer is in die wind, die bome staan
in die leë skittering van die dag en rank
uit dooie aarde in die dooie lug...
so was die dae van sy smart — maar hoog
bo die klein smart die blanke vlug
van yl—gewaaide wolke deur hul boog,
en nag ná nag staar skoon, afgrondelik,
verlate sterre op verlatenheid
waar elkeen smartvol en afsonderlik
[bl. 57]
sy eie blinde weg onwetend, wyd
in donkere eenselwigheid moet gaan.
Die wêreld was tot spel van kom en keer
in eindelose wenteling ontdaan;
en in sy hart was geen verlange meer.
Dít was die laaste en innerlikste kring
van afgesonderdheid: dat hy die band
wat siel aan siel en ons aan elke ding
bo ruimte en buite tyd tot silwere stand
van fyn—gewebde straal en draad verbind,
nie meer kon voel, geen woord hom meer kon
[raak...
* * *
Dit was die end, dit was die sware sin
en slotsom van sy jeug, die bitter vrug
van mooier knop en blom, maar eindeloos trug
nog in die vaal—gekimde, vér begin
onskeidbaar in sy wese ingevleg
[bl. 58]
en tot dié smartgestalte uitgegroei
so onverbiddelik soos die speel en vloei
van dood en wisseling is....
* * *
[bl. 59]
*