VIER GEBEDE BY JAARGETYE IN DIE BOLAND
Mei - Julie 1937
I — VROEGHERFS
DIE jaar word ryp in goue akkerblare,
wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook—vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
[bl. 63]
II — UIT HIERDIE LIGTE HERFS
UIT hierdie ligte en wye herfstyd straal
'n nuwe, namelose vreug in my
dat ek verwilderd deur 'n wêreld dwaal
waar dinge daeliks hul vervulling kry:
die vleie staan weer soggens vol, en wit
van waterblomme; en skeemrings wit soos graan
wat die rykheid van veel somerlug besit,
kom oor die geel boorde en stoppellande aan.
Waarom die smart wat nou weer stilweg skryn,
en hierdie preweling van nuwe woorde,
dié gemis? Is alle wording pyn,
en alle bid die tas van ons verstoorde
hart na nuwe name vir die leed
van die wondre uitbloei wat hy in hom weet?
[bl. 64]
III — WINTER
NOU lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons 'n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?
[bl. 65]
Einde van die Boek
Dankie dat jy Die Halwe Kring gelees het.