Hoofstuk III
III
DIE dag na die oorgawe bring hulle Bart en oom
Gawie na Pretoria. Oom Gawie het gehoop dat
hulle hom daar na ’n kort ondersoek sou los, maar
daar was van ondersoek geen sprake nie. Wan die
stasie was dit reguit tronk toe. Daar word hulle
name toe ingeskryf met enkele besonderhede, waar
hulle wapen neergelê het en so meer en daarmee was
dit klaar. Hy het nog probeer duidelik maak dat hy
geen offisier was nie, maar hulle onderbreek sy ver-
duidelikings met te sê dat dit alles dinge was waarmee
hulle niks te doen het nie en dat elke geval later sou
ondersoek word.
Hulle word toe in ’n groot vierkantige sel gebring
waar alreeds ’n stuk of ses ander gevangenes was.
Dit was daar warm en bedompig en algar lê lui op
die plankvloer. Slegs een enkele venster, hoog en
klein laat van die warm omgewing bietjie lug inkom.
,,Het julle ook jul bek verbygepraat?”’ vra een van
die manne aan Bart.
,,Ja, te veel gepraat en te veel gedoen,” antwoord
Bart. Hy het nie veel lus vir geselskap nie.
,,Waaroor is julle gevang?” vra die man weer. Dit
was ’n Duitser.
,,Ons is rebelle.”’
,,So?” antwoord die man met bewondering. ,,Ek
is nou jammer dat ek ook nie gerebelleer het nie.
Hulle het my gevang oor ek gesê het dat oral waar die
Engelse vlag waai, armoede is. Een van my maats
[bl. 136]
het my gaan verkla; maar so gou ek loskom, gaan
ek hom bydam.”
Bart draai hom om om te slaap. Hulle het diê mêre
vroeg ingekom en hy was vaak. Nog voor hy slaap,
moes hulle egter na buite. Op die klein binneplein
staan verskeie manne lusteloos rond. Daar was ook
geen saamhorigheid, geen broederskap soos by die
rebelle nie, niks bind hulle tesame nie, behalwe ’n
swak vyandige gevoel teen die regering. Die ruimte
was tussen hoê geboue, en vensters kyk van bo op
hulle af. Bart het op ’n bank gaan sit en sy kop laat
sak. Elke maal half ingedommel, sit hy daar. Die
koelte langs die mure krimp en die hitte neem toe.
,,Dis nou die tronk,” dink hy dof. Sy gedagtes
kruip. Hy sien die dinge sonder hulle goed te begryp,
en sonder belangstelling. By ’n oop deur staan party
na binne en kyk asof hulle staan en luister. Hy slenter
daarheen. In ’n klein kamertjie sit manne op die vloer
met hul rd teen die muur en luister na ’n ou plaasboer
wat daar staan en preek. In die bedompige vertrek
vol warm mense staan die man en preek uit die Bybel.
Sy gesig is mooi van erns. Die manne by die deur
sluit die opening byna af. Dit lyk benoud daar binne-
kant. Die spreker se siel is in sy woorde. MHulle
vergeet die hitte en bedompigheid van die kamertiie,
geboei deur die toespraak. ,,Wie is hy?” vra Bart toe
die preek verby is, maar niemand wis dit nie.
In die namiddag word Bart en oom Gawie deur
twee manne in kakie-uniform na die stasie gebring en
klim hulle in die trein. Daar sit al ’n Engelse offisier
met nog twee ander Engelse, maar toe hulle inkom,
soek die drie dadelik ’n ander kompartement.
Bart en oom Gawie sit en kyk oor die groen veld
wat, pragtig in die laaste sonstrale, soos ’n land van
vrede en voorspoed by hulle verbydraai.
[bl. 137]
Toe hulle in Johannesburg afklim, was die son al
’n rukkie onder. Die twee soldate staan en wag. Bart
en oom Gawie vat hul bondels en stap tussen hulle
die stasie uit in die rigting van die fort. Hulle loop
met stil strate en die toenemende skemering bied reeds
’n welkom skuiling, maar tog bly verbygangers telkens
staan om hulle agterna te kyk. Bo by die fort kyk
hulle oor die hele stad wat daar in halwe duisternis
dof-blou en pers, onduidelik in die laagte lê. Alleen
die groot geboue met hul torings, rys duidelik bokant
laer huise uit. Agter die stad lê die groot gryswit
mynhope soos reghoekige koppe, hul westekant nog
goed sigbaar in die flou lig. Die lanterns flikker reeds
duidelik. In die perlemoenblou lug dryf ’n paar swart
wolke. Dit was maar ’n paar oomblikke, toe staan
hulle voor die groot tronkdeur van die fort om binne
te gaan.
In ’n ondergrondse vertrek, agter ’n hoê tafel, onder-
vra ’n klerk hulle. Hy gee hulle elk ’n paar komberse
en ’n bewaarder bring hulle na hul sel oorkant die
straat, ’n sinkgebou vol slapende manne. Die lug
binnekant was benoud en van agter ’n skerm aan die
ander end kom ’n vuil stank. Stilswyend gooi hulle
hul komberse op die sementvloer oop en gaan lê.
Vae gestaltes lê op hul elmboê na hulle en kyk, maar
niemand praat nie.
,,Hier sal ons bars,’’ sê Bart.
,,Ja,’ s& oom Gawie.
,,Dit stink hier soos in die hel.”
,,Ons sal dit netnou minder gewaar,” troos oom
Gawie. ,,Dis ’n tronk vir die Swartes,” voeg hy daarby,
dit sou my nie verbaas as hier luise ook is nie.”
Die man langsaan hulle begin uitvra. Dit was mense
van Rooi Martiens en al gou was daar ’n groep nuus-
kieriges om hulle gehurk. Hulle praat gedemp.
”
[bl. 138]
,,Julle moes nie van ons weggegaan het nie,” sê een.
,,Dit sou geen verskil gemaak het nie,”’ antwoord
Bart.
,,Jy kon ons kommandant en generaal Myburg
miskien gewaarsku het.”
,,Ek het jul kommandant gewaarsku, maar hy wou
nie hoor nie. Ek is ook gevang, maar ek het in elk
geval my skote onder hulle geskiet.”
,,Ja, ons het daarvan gehoor. Wat is die laaste nuus?
Waar is generaal Beyers?”’
So bly hulle nog ’n tyd gesels tot gemopper van
die ander hulle beweeg om ook weer te gaan lê.
Bart 16 nog en dink. Hy dink aan Fransina. Die
eerste wat sy sal sê as hulle mekaar weer sien, sal seker
wees: ,,Sien jy, dit het gekom soos ek jou gesê het;
jy wou mos nie na my luister nie.”
Toe hy die volgende mêre wakker word, was dit al
heeltemal lig. ,,Nou begin ek eers te slaap,” dink hy.
Hy kyk na oom Gawie. Diê slaap ook nog. Party
rebelle was besig om hul komberse op te vou, maar die
meeste van hulle lê nog. Teenoor hom sit ’n ouerige
mannetjie met ’n bril op, op sy bed, sy bolyf kaal.
Met sy smal bors en sy dun arms sien hy daar armlik
uit. Hy sit aandagtig sy onderhempie en deursoek.
,,Wat maak Oom?” vra Bart.
Met ’n glimlag kyk hy op. ,,Ek soek luise,”’ sê hy.
Bart skrik. ,,Is hulle hier in?”
,,Ja, nie baie nie, maar hulle is op ons. Dis mos
’n tronk waarin ons is. Hier moet jy maar elke
dag vang.—Dit gee jou darem iets om te doen,”
voeg hy daarby.
Oom Gawie het wakker geword en lê in sy sak-
Bybeltjie en lees. Daar was meer van hulle. Bart het
nie een saamgeneem toe hy van die huis af weggegaan
het nie; die gedagte daaraan het nie by hom opgekom
[bl. 139]
nie, en by Fransina nog minder. ,,Jammer,” dink hy,
,,dan sou ek nou iets gehad het om in te lees. Ek sal
oom Gawie s’n maar so nou en dan leen.”
Toe word die deur oopgemaak en gaan hulle na
buite in ’n lang sanderige, deur sinkmure omringde
binneplein. Al dadelik staan hulle in die middel van
’n digte klomp luisteraars. Dit vermoei hulle om elke
maal weer dieselfde vrae te beantwoord.
Traag beweeg die gevangenes deurmekaar. Die
meeste van hulle is lusteloos. Daar was niks vir
tydkorting nie, geen boeke, geen spel om te speel nie,
niks nie.
’n Ouerige Joodjie, afgesonder van die ander, sit
mismoedig op ’n bank. Dis ’n man wat in die buurt
van Mooiplaats ’n winkel het. Bart ken hom goed.
,,Hoe kom jy hier?” vra hy verwonderd.
,,Ag, mnr. Nel jou regering maak darem nie goed
nie,” sê die Jood.
,,Nee,” sê Bart. ,,Dit weet ek. Ons het die vrotste
regering wat daar in die wêreld bestaan.”
,,Dis waar,” sê die Jood. ,,Jy ken oom Danie van
Tonder daar by ons op Mooiplaats?”
yal”
,,Hy is mos veldkornet?”
,,So?”
,,Ja. Nou hy skuld bietjie geld by my. Dit is al
lank. Ek het baie geduld, mnr. Nel; ek sal nie
sommer ’n man moeite aandoen nie. Ek wag; ek
wag; ek praat mooi met oom Danie. Ek sê, oom
Danie, help my nou asseblief; betaal my nou. Al is
dit nie alles nie, betaal my ’n deel. Ek het die geld
nodig; ek moet die mense van wie ek my goed kry,
betaal. Hulle wil nie langer wag nie; betaal my tog
asseblief. Maar hy laat my praat. Hy beloof my hy
[bl. 140]
sal betaal; hy sal betaal as hy sy mielies verkoop
het; hy sal betaal as hy sy koring verkoop het; hy
sal betaal as hy sy wol verkoop het. Maar hy betaal
nie. Toe ek sien hy wil my nie betaal nie, toe laat ek
hom aanskrywe. Wat kon ek doen, mnr. Nel? Jy
weet mos ook wat is besigheid. Dit was ’n week voor-
dat die rebellie ook daar by ons kom. Toe generaal
Myburg daar kom en toe julle kêrels rebelleer, en toe
die hele wêreld in ’n verwarring is, toe kom daar een
middag vier kêrels van die regering by my winkel.
Jy moet saamgaan, sê hulle, die veldkornet wil jou
sien. Wie is jul veldkornet? vraek. Oom Danie van
Tonder, sê hulle. Toe hulle my dit sê, mnr. Nel, toe
weet ek sommer die man gaan ’n vuil spel met my speel.
Wat wil hy maak met my? vra ek. Nee, hulle weet
nie. Goed, ek ry met hulle saam na hul kamp. Oom
Danie was daar. Hy sê vir my dat daar klagtes oor my
ingekom het dat ek die mense ophits en dat ek gesê
het dat die rebelle sal wen. Ek sê, maar mnr. Van
Tonder, hoe kan jy so iets glo? Ek praat mos nie
politiek nie. Ek is ’n besigheidsman; ek probeer ’n
paar sjielings maak, maar ek bemoei my nie met
politiek nie; die mense wat so sê, lieg; hulle wil my
net in ’n moeilikheid bring. Ek kan nie help nie, sê hy;
die klagtes is daar en die saak moet ondersoek word.
Wie is die mense wat so sê? vra ek. Dit kan hy my
nie sê nie, sê hy. Dit sal ek later verneem. Ek sien
toe die man soek om my kwaad aan te doen en ek
bly toe maar stil. Hulle het my daarvandaan na die
trein gevat en daarvandaan sommer meteens na die
tronk, en hier sit ek nou. My familie weet van niks
nie. My vrou sal doodgaan van ongerustheid. Ek
mag ook nie skryf nie. Ag, mnr. Nel, dis darem nie
goed nie soos hulle maak om eerlike mense wat geen
kwaad gedoen het nie, in die tronk te sit.”
[bl. 141] * Bart Nel - 10
,,Die slag was die ou Boer vir die Jood te slim,”
lag Bart.
,,Nee, mnr. Nel, moenie so sê nie, man, ek: kry
baie swaar.”
,,Ja, ek verstaan,” sê Bart. ,,Ek kry jou darem
jammer, want jy het niks met die rebellie te doen nie.
Maar ja, die regeringsmense maak nou net wat hulle
wil.”
,,Ag ja,” sug die Jood, ,,hulle maak nou net soos
hulle wil. Hier sit ek en my familie weet nie eers waar
ek is nie. En my besigheid, wat word daarvan?”
Treurig bly hy daar sit.
Moeisaam sleep die tyd voort tot hulle om twaalfuur
weer moes ingaan.
,,Hoe kry mens die tyd hier om?” vra Bart aan sy
buurman.
,,Dit weet jy self nie,” antwoord die man. ,,Maar
dis darem of jy dit na ’n tydjie gewoond word. Jy
doen alles stadiger. Jy dink ook stadiger en sodoende
is ’n uur naderhand nie meer ’n uur nie. Maar die
beste is maar om baie te slaap.”
,,Maak dit jou nie baie pap nie?”
,,Dit maak jou pap, ja, maar sommer sit maak jou
ook pap.”
,,Hier sal ons soos ’n klomp ou ploegskare lê en
verroes,”’ sê Bart.
Maar reeds na twee dae word hy en oom Gawie
na die fort oorgebring. Daar sit hulle by die offisiere.
Hier is dit beter, hier mag mens ook rook.
Dit was meeste rebelle uit die Vrystaat.
,,Nee, die ding is oor,” sê hulle. ,,Generaal De Wet
het sy mense huis toe gestuur en hy is net met ’n paar
man weg na Duits-Wes. As hy daar sal kom? Die
ou het ook nie regtig geveg nie. Toe sy seun dood-
[bl. 142]
geskiet is, het dit eers gelyk of hy wou, maar dit was
weer gou oor.”
’n Ouerige man uit Lichtenburg was daar ook, oom
Koert; diê het altyd vertel van die profeet. ,,Netnou
is die gras in die sate,” sê hy; ,,die ou siener het gesê
dat as die gras in die sate is, sal alles oor wees.”
,,Alles is al oor,” dink Bart.
Hulle was tien in ’n groot sel op ’n lang smal binne-
plein waar hulle die grootste deel van die dag deurbring.
Vroeg die middag het dit begin reên en teen die
muur gedruk onder ’n oorhangende dakgeut, staan
hulle en luister na die geluid. Hoe lekker sou hulle
nou kan ploeg en hoe mooi sou die mielies groei in
die nat grond. Hulle sien in gedagte hul vee, die rooi
Afrikaners en die swartbont Friese en mowwe, dik-
gevreet, kraal toe kom.
,,Dit sal lank duur eer ons Kafferkraal se rante weer
sien,” sug oom Gawie.
In die mêre en in die agtermiddag gaan die rebelle
uit ’n aangrensende saal altyd verby. Dan hoor hulle
soms in die gouigheid een of ander berig, maar verder
leef hulle daar soos in ’n pot. Soms smokkel een van
die bewaarders ’n koerant by hulle in, maar die nuus
daarin was nie daarna om hulle-op te ruim nie. Jopie
Fourie is doodgeskiet. Generaal De Wet sit in die
fort ’n paar mure van hulle af. Maar Kemp het in
Duits-Wes aangekom. Oom Koert was daar erg
opgewonde oor. ,,Ek het geweet hy gaan deurkom,”
sêhy. ,,Die ou profeet is mos by hom. Hy sien altyd
waar die gevaar is. Hy is my ou buurman. Snaakse
ou man.”
Bart hou nie van die siener nie. Die man maak
die mense bly met niks; gee elke maal hoop wat
teleurgestel word. Bart was amper nooit opgeruimd
nie. Daar lê hy nou in die tronk en tuis het hy ’n
[bl. 143]
Tipperêrievrou wat seker bly is oor die oorwinning van
die regering. Dit kwel oom Gawie om Bart voort-
durend so swartgallig te sien. Dikwels sien mens hulle
twee heen en weer loop die lang smal binneplein op
en af, lang tye, sonder om een woord te sê.
,,Jy het nog nie aan jou vrou geskryf nie?’ vra oom
Gawie eendag nadat hulle daartoe verlof gekry het.
,,Nee nog nie.”
,,Dryf jy dinge nie te ver nie, Bart?”
,,Ek weet nie, maar ek is nou so. As ek eenmaal
’n grief het teen een dan gaan dit nie sommer gou
oor nie.”
,,Maar dis jou eie vrou, man.”
,,Ja, en ek is haar eie man.—As sy goed is, is ek
ook goed en as sy verkeerd is, is ek ook verkeerd.”
Oom Gawie sug. ,,Moet nou nie kwaad bly nie,
Bart,” sê hy oorredend, ,,hard teen hard, dit sal nooit
gaan nie. Sy kry ook swaar, weet jy.”
,,Ek is ’n man wat moeilik vergewe, oom Gawie,
en veins kan ek nie.”
Toe hy Malherbe se brief kry, laat hy oom Gawie
dit lees,
,,Dink jy dan dis nodig om te verkoop?”’ vra die ou.
,,Dit lyk amper die beste.”
Hy dink aan al die werk wat hy daar gedoen het,
die vangdam, die draadkampe, die nuwe woonhuis,
nuwe lande, die vrugteboord. Daar lê soveel uitge-
voerde planne; en dit het alles so belowend gelyk.
Het hy nog een of twee goeie jare gehad, dan sou hy
die grootste moeilikhede deur gewees het. Nou sal
dit alles gaan. Hy dink daaraan hoe Fransina daar
was; hulle twee dikwels soos ’n paar duiwe op mekaar
verlief. Daar was wel nou en dan onenigheid gewees,
maar die eerste jare tog nooit nie. Later het partykeer
wolke voor die son gekom, want hy het somtyds kwaai
[bl. 144]
buie en sy het ook nie vir hom stilgebly nie, maar dit
was gewoonlik tog weer gou oor. Annekie is daar
gebore. Boetie ook natuurlik, maar veral Annekie.
Wat was hy toe bly gewees. So bly kan mens miskien
maar een maal in sy lewe wees. Dit het alles daar
gebeure. Daar het hy saans met Fransina op die stoep
gesit en luister na die nag. Al daardie liewe dinge
was daar gewees en dit alles lê daar en staan daar,
gegroei soos gras en bome in die grond. Nou moet
dit alles gaan.
Voor hul peinsende oê vervaag die binneplein en die
aanwesigheid van die tafel met manne gewaar hulle nie
meer nie; voor hul oê is Kafferkraal met sy vrugbare
laagte en die rante wat die vlakte omsluit.
,,Sonder Bart is Kafferkraal nie meer Kafferkraal
nie,” dink oom Gawie.
Bart dink: ,,Laat_ die grond—-maar_.gaan, _ Die
mooiigheid is daar nou tog af. As jy nie meer vir
mekaar omgee nie, dan is van jou huis, en jou grond,
van alles die mooi af.’—Die herinneringe aan die
gelukkige dae wat hy daar deurgebring het, het nou
’n wrang smaak.
Selfs Annekie is ’n ander Annekie. Nog altyd die
liefste besitting wat hy het, maar tog nie meer alleen
die kind van Fransina van toe nie, maar ook die kind
van Fransina soos sy nou is. Laat die plaas maar gaan.
Dit kan hom nou alles nie meer skeel nie. Hoeveel .
jaar hy nog daar sal moet sit, dit traak hom ook nie.
,,Ek is jammer, neef Bart,” sê die ander offisiere
toe hulle hoor dat hy sy plaas moet verkoop.
,,Ek slaan ’n goeie slag,” antwoord hy.
,,Was dit nog ’n rebel gewees wat jou grond gekoop
het,” sê oom Gawie.
Toe hulle mense mog ontvang, was oom Gawie se
vrou een van die eerstes wat hom kom besoek. Toe
[bl. 145]
sy vir die tweede keer kom, sê hy: ,,Bart se vrou was
nog nie hier nie.”
,,Nee, ons weet.”
,,Het sy dan nie plan om ook bietjie te kom nie?”
Ek weet nie.” Tante Katrina aarsel of sy dit sal
sê of nie, maar sy kon dit nie langer vir haarself hou
nie. ,,Ferdinand Basson kuier daar,’’ sê hy.
,, Wat?”
,,Ja, ek meen nie iets slegs nie, maar tog, hy kom
daar vir sy boerdery sogenaamd en dan sit hy daar by
haar en gesels.—Moet niks vir Bart sê nie, hoor.”
,,Ek vrees dit gaan verkeerd,” sug oom Gawie.
,,Ek vrees dit self.”
,, Bart lyk so mismoedig. Sy plaas is nou al verkoop
en as dit nou ook nog moet gebeur.”
,,Miskien is dit niks nie,” sê tante Katrina, ,,maar
tog, mens maak al gou gedagtes.”
* * *
Dit was weer ’n more in die sel. Dit sou nog wel
’n uur duur voor hulle na buite kon gaan, maar tog
sit hulle reeds almal klaar en wag. Oom Koert vertel
al weer van die profeet. ,,Hy sê hy sien twee kampe
en in die een kamp is ’n klein klompie skape en in
die ander ’n groot klomp, maar dan begin van die
groot klomp elke maal klompies deurkruip na die
ander klomp tot naderhand almal in een kamp is.”
,,Dis seker die Sappe wat na ons toe oorkom?”
vra een,
Dit moet seker wees,” sê oom Koert. ,,Maar die
ou gee nooit ’n verklaring nie; hy sê net wat hy sien.”
,,As dit maar nie die Boere is wat almal Engelse
word nie,” sê Bart skamper, maar oom Koert gee
geen antwoord nie.
,,Nee, neef Bart,” sê hy na ’n rukkie, jy glo nou
[bl. 146]
nie aan die ou profeet se gesigte nie, maar ek sê jou
dis ’n siener en dis die Here wat hom die dinge laat
sien.”
,,Hoekom kom daar dan niks van uit nie?”
,,sover het alles nog uitgekom.”
,,Dit lyk nie so nie.”
,, Wag net. Dit mag nog lank duur, maar ons gaan
wen. Hy sê mos hy sien ’n donker wolk oor die land
trek en dit word al donkerder, maar die wolk trek
verby en dit word weer lig. Vandag is die donker wolk
oor ons.”
,,Daardie slag het hy reg gesien,’”’ sê Bart.
Die ander glimlag, maar oom Koert lyk gesteur.
,,En het hy nie die groot oorlog van vandag drie
maande vooruit gesien nie? Dit weet ons tog almal.”
,,Ja, maar die uitslag, oom Koert. Wat gaan die
uitslag wees? Hy sien ’n blou bul wat ’n rooi bul
stoot dat hy op sy knieê sak. Luister nou vir my,
oom Koert: ek gaan vanmêre ook profeteer. Die
blou bul is Duitsland, nê? En die rooi bul is Engeland.
En die blou bul stoot die rooi bul dat hy op sy knieê
sak. Maar ek sê jou die rooi bul gaan weer opkom
en hy sal sy horings onder in die blou bul se pens
instoot. Dit sê ek; ek Bart Nel. Engeland wen
altyd, fairplay of nie fairplay nie, alleen of met hulp
van ander, maar hy wen; hy kry wat hy wil hê. En
ek glo wel dat die ou buurman van oom gesigte sien
en visioene, maar uitlê kan hy hulle nie en ons lê hulle
self uit en ons lê hulle so uit dat dit goed is vir ons
kant en dis juis alles andersom; dit kom alles presies
anders as ons wil hê. Daarom glo ek nie aan daardie
profeet nie. Hy gee jou vir ’n oomblik moed en jy
gaan groot dinge verwag maar jy kom teleurgesteld uit.
Ek loop nie agter profesieê_nie; ek loop met my_eie
o€ by die lig wat ek het.”
[bl. 147]
Almal swyg na hierdie uitbarsting, maar toe vertel
oom Koert verder asof Bart niks gesê het nie. ol¥
weet twee dae voor die dood van generaal De la Rey
was ek by oom Niklaas in sy huis en hy sê vir my:
Neef Koert, ek sien ’n treurige ding; ek sien oom
Koos sonder hoed.—Dit meen dood? vra ek vir hom.
Ja, sê hy, dit meen dood.—Twee dae later skiet die
polisie die generaal in Johannesburg dood.”
Hulle kyk almal na die venster, want hulle hoor
die rebelle uit die ander sel aankom.
,,Ja,” peins een na, ,,gesigte sonder ’n goeie uitleg
help nie veel nie.”
* * *
Dae lank na Bart die brief van Fransina gekry het,
praat hy. nie ’n woord nie; maak asof daar niemand
as net hy in die tronk is nie, en almal laat hom doodstil
staan, oom Gawie net so wel as die ander. Fransina
skryf hom dat Basson haar gevra het om te skei. Asof
sy wou sê: ,,Wat dink jy Bart? Sou dit nie maar
beste wees nie? Ek dink so.” Sy wou skei oor Basson,
haar vryer van vroeêr, haar dit voorstel. Daar is
moord in sy gedagte. Hy sien Basson daar by hom op
Kafferkraal en hy slaan hom die kop in met ’n hamer
of met die handbyltjie. Hy het hom aan sy keel en
verwurg hom. Hy skiet hom met die haelgeweer vol
in sy gesig.
Hy dink: ,,Jy wil skei, nê? Goed, want jy het tog
nooit regtig van my gehou nie. So gou daar teenspoed
gekom het en moeilike dae was jou liefde vir my op
’n end. Ons pas nie by mekaar nie, ek sien dit. Jy
moet ’n man hê soos Basson, een wat ryk is, een wat
nie rebelleer nie, een wat staan waar dit veilig en
gemaklik is, ’n man wat saf is soos ’n kussing. So
*n man moet jy hê. Vat hom tog. Net jammer dat
[bl. 148]
iy hom nie al twaalf jaar gelede gevat het nie. Of het
jy hom al gevat? Die ding is seker al so ver tussen
julle dat hy jou al het, al weet ons dit nie.”
As hy sulke woorde mompel, is dit of die duiwel
in hom gevaar het. Dan dink hy dat hy haar ook
wel sou kan vermoor. Soms in die nag word hy week
en swak. Fransina vir wie hy so baie liefgehad het,
dat sy hom nou, nou_hy_platgeslaan is, op sy hart
kom trap., Hy het haar nooit goed geken nie. Sy is
laag, gemeen. So is die mooi vrouens, selfsugtig en
hard. Oom Gawie se vrou, tante Katrina, staan in
alles by haar man. Maria, die lelike, onooglike Maria,
van Pieter, is honderdmaal meer begerenswaardig as
sy. Dat hy so ’n vrou moes trou; iemand wat met
jou getroud kan wees, en lief wees tien, twaalf jaar
lank, by wie jy kinders het en wat op ’n oomblik dat
jy hulpeloos is, jou verraai; luister na die voorstelle
van ’n voormalige vryer; hom nie wegja nie, maar
aanmoedig en oor sy woorde nadink. By haarself sê:
Miskien is dit beter. Ek sal dit aan Bart voorstel.
Laat haar dan maar gaan. Laat sy Basson maar vat.
Ek wil geen vrou hê wat nie met haar hart by my is
nie, wat na ’n ander man verlang as sy langs my sit.
Ek kan alleen wees... Ek kan alleen staan. Alleen sal
ek my pad deur die beroerde wêreld loop.
Eennag word oom Gawie wakker en merk dat Bart
se bed leeg is. Toe kyk hy rond en sien sy donker
gestalte voor die venster staan, sy hande aan die tralies
en sy kop gebuig op sy arm. Aan sy staan, so vaag-
swart teen die swak lig daarbuite, sien oom Gawie dat
dit van verdriet is dat hy so staan. Moet hy na hom
toe gaan? Dit is of hy hom hoor kreun. Wat sou dit
wees? Bart het diê dag tog geen brief gekry nie. Die
laaste brief wat hy gekry het, is al van byna ’n week
gelede. Soetjies staan hy op en gaan na hom toe.
[bl. 149]
Bart het hom seker hoor kom, want hy los die tralies
en ruk homself reg.
,,Wat is dit, Bart?” fluister oom Gawie. ,,Is daar
iets?”
,,Ja, oom Gawie, ek voel baie naar. Ek rook te veel,
dink ek. Ek wil my hier in die tronk morsdood rook.”
Oom Gawie wis nie wat om te sê nie.
,,,Dit doen soms goed om met iemand te praat,”
sê hy.
,,Ja, Oom, dis waar. Ek is dankbaar dat oom Gawie
gekom het. Ek voel al beter. Hier by die venster is
dit minder bedompig. Ek wil nou bietjie water drink
en dan maar weer gaan lê.”
Oom Gawie doen nie meer moeite nie en gaan ook
lê. Hy lê lank wakker. ,,Dis oor Fransina,” dink hy.
’n Paar dae later skryf Bart sy antwoord. ,,As jy
wil, skei, my goed.’’ Daarna kom daar stilte in hom.
Voor hom uit, soos iemand wat ’n lang reguit pad
afkyk, sien hy sy plig. Hom nie laat neerslaan nie,
nie gaan lê en deur verdriet en wraaksug verpletter
word nie, maar regstaan en sy werk van vader doen.
Sy kinders wag vir hom. Vir hulle moet hy leef en
sorg. ’n Man wees, ’n verstandige man, wat ’n tuiste
het waar hulle graag sal wees, wat hulle raad kan gee
en met wie hulle graag sal omgaan. Voor die verlede
moet hy ’n dik gordyn ophang ter wille van Annekie
en ook van-die kleine Boet.
So het hy skynbaar weer soos eers geword en leef
hy met sy maters die tronklewe mee.
* * *
Die somer gaan verby en die winter kom, die kort
dae waarin hulle die son soek en die lang nagte waarin
hulle hul in die komberse toevou. Generaal Kemp
het hom oorgegee. Die profeet is in die fort. Daar
[bl. 150]
eet hy geelperskes soos hy eenmaal gesien het in ’n
droomgesig wat hy nie kon verstaan nie. Die manne
van die ander sel word minder en verdwyn met groot
aantalle tegelyk. En eindelik word ook die sake van
die offisiere behandel. Hulle kry een, twee, vyf jaar
tronkstraf en boetes van twee-, driehonderd pond.
Maar die Helpmekaarbeweging was in volle gang en
die boetes en kommandeerskulde word betaal. Hulle
kry ook besoek van dames uit die stad. Diê bring vir
hulle leesstof en vrugte of lekkernye. Hulle kry hout
en gereedskap en saag en skaaf die tyd om. Bart
maak stoele, vir Annekie, vir sy suster Martha en vir
homself. So gaan in die fort in Johannesburg die
tyd verby. Oom Gawie het een jaar gekry en gaan
toe sy tyd om is, weg. Hy laat sy Bybel agter. Daarin
lees Bart meer as vroeêr, want in die Bybel vind ’n rebel
veel troos, meer nog as ander mense.
Oom Koert hou maar aan vertel van oom Niklaas,
die siener van Lichtenburg, bly vashou aan die oor-
tuiging dat alles nog sal regkom soos die profeet gesien
het.
Ook hy het ten slotte weggegaan.
Maar eindelik word die ander ook losgelaat.
[bl. 151]