Bedryf 3
AANKONDIGER:
Die wye, stil baai waar hulle die eerste weer die land gesien het, was waarskynlik Mosselbaai. Dit was nou byna seker dat hulle om die suidpunt van Afrika was; en met vreugde het hulle dit gewaag om verder ooswaarts te vaar. Maar eindeloos het die kus nog oos en noordoos gestrek. Hoe ver weg Indië sou wees, het hulle nie geweet nie.
Eindelik het hulle 'n plek bereik wat hulle die,,Eiland van die Twee Fonteine" genoem het: vandag Kwaaihoek naby Boesmansriviermond. En toe het die bemanning en byna al die offisiere gevoel dat dit te ver gewaag was. Die vragskip met voedsel was duisend myl agter hulle gelaat; en tussen hom en hulle was die gebied van die groot storms waardeur hulle reeds gegaan het. Aan die kus self was niks te vind nie; en só kon dit nóg duisend myl aanhou.
Die manne was aan 't muit. Skoon dwaasheid en 'n gewisse dood was dit om verder te gaan.
Johan Infante praat:
[bl. 25]
INFANTE: Nou't ons tot hier gekom, en dit is groot,
Bartollomeo. Ons koning sal jou dank.
Soos jy ons aangevoer het, kon geen ander.
Ons moed was klein soms. Maar jy was stuur en mas,
en wind agter ons kleingelowigheid;
jy't ons gelei tot waar ons nooit sou kon nie...
DIAS: Jy't baie woorde, Infante. Gaan jy verder?
Jy wis wat ek wou vra.
INFANTE:
Ek ken my plig,
en selfs aan hierdie kus ken ek my trou aan hom wat ons gestuur het, aan my koning. Sy
opdrag was dat ons die vasteland
tot waar hy deurgang gee, sou volg. Ons hét.
DIAS: Is jy loonwerker wat 'n werk noukeurig doen tot 'n mens kan sê: „,Nou is hy klaar"?
Presies die ure en krusado's tel?
Ek kén jou nie, Infante!
INFANTE:
Maar jy's oor my gestel.
Jy terg my, Dias.
Alleen vereis my plig nie dat ek dwaas word nie.
DIAS: In my bevele staan geskryf dat almal
manskap en loods, offisier, kaptein -
kan praat as daar gevaar kom, raad kan gee.
So wou die koning dit. Nou kom julle almal,
vertel my een-een dat die manne weier...
swyg aan my tafel as ek praat van vaar...
elkeen met wie ek praat, die swyg, kyk weg,
[bl. 26]
of soek 'n uitvlug. Nou wil ek kortpad loop.
Laat dit 'n Raad wees hierdie. Ek stel die vraag.
En elkeen sal 'n eed hier sweer voor my
soos ek dit doen: dat hy indagtig is
aan God, en aan sy koning,
en dat die woord wat hy sal sê, alleen
uit daardie aandag kom.
Ek sweer voor God.
Jy sweer, Infante!
INFANTE: Ek Sweer voor God!
DIAS: Jy, Pedro!
PEDRO: Ja.
DIAS: Die ander offisiere!
DIE OFFISIERE: Ja.
DIAS: En julle daar!
MATROSE: Ons sweer.
DIAS: Hoe maklik glip 'n eed.
Maar goed:
Ek stel die vraag.
En ek as eerste sê: Ons reis gaan voort.
Nou jy, Johan Infante.
INFANTE: Ek sal nie praat
- jul wat hier staan en ook sal moet besluit -
[bl. 27]
ek sal nie praat van daardie seë
waar ons gevaar het, waar ons weer moet vaar nie;
en hierdie barre kus sal ek nie noem nie.
Maar ek erken die koning: en sy wil
was dat ons boodskap bring van hierdie reis,
dat ons vertel hoe hierdie kuste loop,
nié dat ons hier sy skepe weg sal smyt nie
op eie wilde togte. My stem sal wees:
dat ons terugkeer; dat ons gaan getuig.
En Dias, glo my: self is ek één maar;
laat hierdie ander praat.
DIAS: Jy's redelik,
Infante. Weet ek nie goed, hoe redelik.
Iets anders vind geen venster oop by jou nie.
En ek die is onredelik, redeloos dalk.
Pedro!
PEDRO: Ek wens ek kon die roer gryp, meester,
dat ek alleen vir jou deur hierdie water
kon voer. Net voer!
Ek gaan! Self sal ek gaan. Ek stem vir vaar.
Maar kyk daar: hoe staan ons manne:
ek durf nie met hulle praat, ek weet te goed
hul harte is al saf. Ek self kan hoor
hoe praat hulle; ek weet wat hulle dink;
en wat hulle praat, is wáár. Dit is te ver.
Agter ons skepe lê die halwe aarde;
voor ons lê see. Ons is maer en gedaan,
ons seile fletter los. Ek weet dit goed:
'n mens het net sy krag; jy kan nie verder.
Mag ek met hulle praat?
[bl. 28]
Tot die matrose.
Gaan julle nie voort?
Kan julle nie glo dat God ons sal bewaar nie?
Hy't ons behou, Hy sal ons veilig voer
trug in ons land. Ons sal Sy Naam nog prys,
ons leier roem, en vir ons goeie koning
'n pragtige boodskap bring.
Stilte.
Ek is beskaam.
Jy sien hulle swyg. Jy moet genadig wees:
'n mens het net sy krag.
DIAS: Pedro, ek weet nie...
ek weet nie watter kragte het 'n mens.
Hét vir 'n mens.
INFANTE: My vriend, dit is die reine waarheid daardie;
niks kan jy toe- of afdoen aan die waarheid.
En dink: dis nie onedel om te swig
wanneer die waarheid self so helder praat nie.
Dit is ons keerkring hierdie, en die son
self gaan nie oor sy voorgeskrewe grense nie.
DIAS: Twee het gepraat, en vir die lafheid woorde
gevind wat klink na wysheid, tót selfs
die son en sy keerkringe bygehaal...
PEDRO: Meester, meester!
DIAS: Maar julle ander: Grego,
Leitao, en jy, Alvaro:
[bl. 29]
kyk hoe die seestroom warm en donkerblou
afstroom langs hierdie kus en die kou water
klief dwars en donker uit die sagte seë
van Indië en Arabië, Taprobane -
goue name...
ek sien ons pad: laat ons dan één skip gryp
en een klein bende wat die vrees nie ken nie
en laat die wysheid trugsluip na Portugal
en handwerk doen en op ons wag;
en as ons skip weer in die Taag invaar,
laat dan die wysheid regstaan, ons tou vang,
ons vasmeer aan die kaaie waar hy pas,
- die wysheid...
Kom! Vat my hand! Laat ons ons manne kies!
Die son en baie sterre waarvan hulle praat,
dié ken nie net hul bane nie, maar ook
die drif Volmaking: wat ons drywe
nader aan God en verder van dié af
wat praat van ,,wet". Grego! Alvaro!
GREGO: Ons weet min van die strome in hierdie see...
ALVARO: Sou ons die skepe van die koning só
mag verdeel?
DIAS: Die waarheid wurg my.
Eet julle dit? en smaak dit lekker?
INFANTE: Dias, ons staan verslae. Jy wil nie sien nie.
Wat jy hier praat, is nie soos jy moet praat
as leier nie, en kan jy skaars verantwoord.
As óns dan laf is, daar staan jou manne nog:
[bl. 30]
praat self met hulle; óns raad het jy verwerp.
Gee jou bevel, of smeek, of redeneer:
kyk of jy klip kan breek met hande, Dias.
DIAS: My werk is deur die lot verstrik met mense.
Ek staan nie los. Niks kan ek doen alleen.
En,,menslik" is al dink ons aan ons adel
en beeld van God - :verwardheid, vrees, nyd,
dwarsheid van denk, selfsug, aparte paaie...
Dit is ons straf. Dit moet ons nederig hou
ná te veel trots.
O kon ek breek en maak
met ander krag, soos geeste, en vorm gee...
kon ek net werk alleen: my eie skip,
kon ek hom gryp, my roer vat en my seile
laat span in die wind
Nou moet ek pleit,
nou moet ek redelik wees en woorde vind
vir elke brein, by elke oordeel inpas,
tot ook die dwaasstes;
en voor ek al die menigvuldigheid
van afgeskeide sinne saam kan vat,
gryp die tyd my en ruk my af.......
Tog sal ek praat:
nie hierdie lawwes gaan my inkeer bring nie.
Kom hier, jy! Sal jy gaan waar ek beveel?
Op straf, uit magte wat die koning my
gegee het by oktrooi?
DERDE MATROOS: Ek gaan nie verder nie.
Ek kniel, meester. Ek vat jou hand.
[bl. 31]
Woedende stemme begin agter mor.
En ek sal hier bly lê. Maak wat julle wil.
DIAS: Ek gaan 'n eed sweer wat my siel sal bind
Stemme word kwaaier; hy oorskreeu hulle.
tot 'n verdoemenis en julle dwing.
Al sterf ek dan!
PEDRO: Dias, moet dit nie sweer nie!
Bid eerder vir jou heil! Is, wat jy wil,
nie net die trots nie, die ergste van die sondes?
Straf kan jy nie: geen hand hier sal jy vind
wat met 'n tou of met 'n swaard jou vonnis
uit sal voer nie. Ook myne nie.
Nou staan jy skoon alleen. Ek voel
hier is onheilige dinge in jou dink.
DIAS: Ek moet my naaste liefhê soos myself,
en dít hier is my naaste.
Ek is maar stof en as: vergeef die trots
waarmee ek my verhef het. Ek is 'n sondaar
en weens my sonde is ek gans onwaardig
at ek die Liggaam en die Bloed ontvang,
ek is nie waardig
dat U my huis betree nie,
maar sê een woord, dan sal my siel gesond word.
Nou is dit klaar en klaar.
[bl. 32]
Ek sal 'n Mis
laat lees, hier in die verste van Sy lande:
Hy sal besluit of weer Sy heilige Bloed
hier sal gepleng word.
En julle sal, -
die offisiere van die koning -: Johan Infante,
Pedro d'Alanquer, Alvaro Martins,
Leitao, Grego - julle was die uitgesoektes -
en elke man hier sal sy naam hier skrywe
en skryf dat hierdie tog geëindig het.
En mag wat hier gebreek is, later groei.
PEDRO: So is dit beter, Dias.
INFANTE: Geen blaam tref jou.
Jy handel soos 'n goeie admiraal.
DIAS: Julle het gewen. Ek weet dit kan nie anders.
Woorde en rede kan nie verder dwing nie.
Ek ken my hart se togte en hoe ver
my trots uitspat...
Dan sal ek hier my verste kruis, Gregorius,
laat plant.
Leitao, laat die langskuit kom,
en bring hom hier: op hierdie voorgebergte
in hierdie duinsand en die duin se biesies
sal hy moet wag.
En laat die priester haal
dat hy sy werk doen.
En hierdie dag was nodig,
en bitter is ek nie.
Julle het gewen.
[bl. 33]
Of iets of iemand het gewen.
Gee my nou iets,
gee my net hierdie laaste wens,
want aan my hart gryp daar soos hartkramp, met die dood
se pyn, 'n bandelose insig
wat nie myne is nie: dat daar iets sal kóm:
- ek het so min nou van 'n sekerheid -
en ek sal omdraai, al weet ek tog so half
dat iets net buitekant my greep bly;
dat iets nog meer is as wat ons gedoen het.
Maar vir die smart moet ek nog een ding vra
en vra dit nederig: laat ons twee dae vaar,
twee dae - drie - wat is 'n dag
of ons dit eerder sterwe? twee of drie dan
- nie meer as drie nie - gee dít nog vir my dwaasheid.
Drie: die Getal is goed:
die ondergrondelike sterk Getal
wat oor die eerste water was dié Môre
en,,Ons" gesê het.
Laat ons drie dae vaar; laat ons ons harte
maagdelik maak vir God, onaangeraak
deur vrees of hoop, in so 'n ewewig,
so los, ligsinnig, só sonder 'n verwagting,
dat elke roersel, tót 'n veer se swaarte,
'n asemtog, dit kan laat oorhel. So sal
ons ooplê as 'n wonder gaan geskied.
Só laat ons noordwaarts vaar, drie dae,
en kyk of daar 'n teken kom, 'n wonder,
'n teken dat ons welbehaaglik doen
in hierdie vaart.
INFANTE: Wat sou 'n teken wees?
[bl. 34]
Wat soek jy, Dias? Is dit nie lastering
om wondere so te eis en dwing nie?
Jy tart en jy trotseer; jy wil die hemel
pers, noudat ons nie gedwing kan word nie.
Die saak was klaar beslis, en hierdie manne ...
tot so iets sal my plig hom nie laat leen nie!
DIAS: Ek soek niks, en ek eis niks.
Ek gaan my hart net oopgooi vir 'n teken.
Ek is al klaar verby die dowwe punt
waar my dwars wil geëindig het. Nou is dit lig
en sorgeloos. Die wind kan my maar vat,
en as Hy nou wil praat, is ek gereed.
Hy't al Sy engele gestuur na dié
wat buitekant die hoop reeds rus gevind het.
Kom ons dóén dit! 'n Teken sal daar kom.
Nou sal ons weet dis ons nie wat beslis.
Wie gaan teen hierdie dag van God gesluit wees?
Hy het vir een man al Sy son laat wag;
die see hier naby vlak gemaak; en die Jordaan
laat truglê teen sy spruite en fonteine,
dat dié wat sterk in Hom was in kon gaan
in nuwe lande, en Hy uit dowwe volkere
helde kon sif!
Kolomme wolk en vuur laat wandel
oor hierdie aarde, in die oë - luister!
van dié wat moeg was!
Wat sal ons sien? Dit sal Hy self besluit!
Tot selfs in hierdie ongehoorsaam seë
kan Hy Sy ligte en komete stuur
en met ons praat.
Pedro, gaan jy saam?
[bl. 35]
PEDRO: Ek gaan! Ek gaan! Ek weet ek kan nie anders.
DIAS: Jy wat gekniel het: ek sien dit in jou oë:
jou vrees het weggeval.
DERDE MATROOS: Meester, ek gaan!
DIAS: Alvaro! Grego!
GREGO: Hier is iets heiligs, Dias.
Ek wil nie sondig nie. Ek gaan met jou.
ALVARO: God self besluit van hierdie oomblik af.
Matrose begin juig: 'n Teken! 'n Teken!"
DIAS: Julle julle voel iets gryp julle aan.
Ek sal nie praat nie. Doen soos julle wéét.
Gejuig.
MATROSE: Ons vaar! Ons vaar! Ons sal 'n teken kry!
*
[bl. 36]