Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 3

II.-KOKI


IN die silwer oggend toe die wêreld nog koel 

en winderig was en net die kraal reeds 'n poel 

van warm son, het Koki uitgegaan; 

ver op die lande het hy die vroue sien staan 

soos kraaie in die groen, waartussen blink 

die nag se waters; maar hul gewink 

en pla-pla-roep, die het hy nie gewaar, 

en nie die mans wat van die kraalhek staar 

waar hulle lui lê in die son of aan die slyp 

van 'n skerp wapen was; hy het gegryp 


[bl. 10] 


aan die struike en lang snyruigte en weer gelos, 

verwonderd om te sien hoe die sade of 'n tros 

swart bessies in sy vingers bloedig was. 

So 't hy die klam voetpad deur die gras 

vinnig en skaars siende afgeloop 

en moeitevol getorring aan die taai knoop 

van sy gedagtes. 

By die skepplek in die warm klei 

het hy die bruin kinders van die kraal gekry : 

gehurk en skoon verlore, aan die speel, 

met rye beeste en diere van die geel 

droë modder: beeste met wit dorings 

van die soet goudblom-mimosa as horings 

ingesteek, renosters en die olifant 

lomp afgerond deur 'n klein hand, 

dié 't hy gesien en stil bly kyk. 

Maar eer die kwelling in hom glad kon wyk 

voor die ver en teer verlange na die jare 

toe hy kind was, het sy skrik gewaar 

hoe die spel vanmôre anders was, hoe een 


[bl. 11]


met dun vingers bewerig 'n been 

gemaak het en afgerond en toe die romp, 

swaarder as anders, daarbo die kop lomp 

en belaglik, met oë diep uitgehol, 

die mondgat uitgegrawe en skewerig vol 

wit doringtande, en skaamteloos groot 

die skaamte . . . .

En in die warm sloot 

oor die gehurkte ruggies het 'n angs gekom 

wat soet en bindend was, en hulle het stom 

saamgedruk en aan mekaar geklou 

óm die mal pop. Maar een het nou 

sag begin fluister:,,Raka, die sterk man . . . .

en al die kleintjies het in die ban 

van die woorde gekom, en 'n vlies, 'n newel 

van staar was oor die bruin ogies; hulle prewel: 

,,Raka, die sterk man, uit die groot waters." 

Toe het een skielik opgevlieg uit sy maters 

en die kleidiere plat met sy voet getrap, 

almal het uitgeskreeu oor die grap 


[bl. 12] 


en opgespring en dol in 'n kring 

gemaal en die leë liedjie gesing 

en gedans op die speelgoed waaraan hulle hand 

gestalte gegee het en grens en band, 

tot alles voor Raka se voet gebreek 

gelê het en trug in die klei geweek 

waaruit dit gehaal was. Maar swaar ontstel 

deur die klein waan van die troebel spel 

het Koki toornig geskry en gevoel 

dat Raka, Raka soos 'n swart poel 

uit diep verborge oog gevoed, 

aan 't opwel was deur die stil moed 

en klaarheid van sy stam. 

So 't hy gegaan 

en die kinders het verskrik 'n oomblik gestaan 

oor die toorn van sy skouers en stywe nek –

trug langs die pad; die geel bek 

en die vol klop-keel van die kokkewiet 

het stil geword in die wit pluim van die riet 

waar hy geloop het, en die sagte patryse 


B - [bl. 13] 


het verwilderd opgevlieg met 'n grys 

geklapper van vlerke amper teen sy voet; 

hy, soos 'n rank kolom – o, suiwer bloed 

wat uit die aarde ná eeue opstoot 

deur donker, nederige lae en nou bloot 

en skoon, stralend, staan in die son – 

of soos 'n warrelhoos wat lig en jonk 

wandel oor die see se waters; koel lig 

was om die edel skouers en die slank gewrigte 

van heup en knie en enkel; die bruin huid 

het glans gevang en afgesluit 

in vlak aan vlak van donkering 

en blank; die rug was glooi- en ronding 

in vaste ewewig en maat . . . . 


O skoonheid van die lyf, jy slaat 

óp uit die aarde soos die rooi vonk 

uit die vuursteen spring; wild en jonk 

is nog die skoonheid van die lyf op die swaar aarde 

waaruit hy rank, hy ken sy waarde 


[bl. 14] 


nog half maar en die ver blom nog nie 

waarheen hy groei en reik; maar dié 

wat skoonheid en hoogheid dra as las 

en ver verlange, is 'n vreemde ras 

van mense en bloot aan veel gevaar. 


. . . . En eindelik het Koki aan sy hart gewaar 

dat hy hier aan 'n grens was, ingeperk 

teen iets wat donker is en dom en sterk . . . . 

Dié môre het hy nie die pad geloop 

na die skerp kalkrante waar 'n blink poel, oop 

met enkele biesies nakend voor die son, 

sy swemplek aldag was – 'n bron 

so diep in die swart wortels van die rant 

dat niemand van sy grond wis; kant 

en wal gedurig vol, diep opgewel 

en sonder inloop, skaduloos, maar koel 

van eie diepte, en skerp omring 

met steil onveilige klippe; geen ding 

het daar geroer, slegs seldsame verdwaalde 


[bl. 15]

 

manne het uit die dieptes enkele male 

opborreling en kwaai opkook gehoor – 

maar daglank was die water onverstoor 

onder die warm lug, en stil, 

en ongerep van giftige aal of krokodil – 

'n heilige poel, waarvan sy stam 

sku weggesluip het in die klam 

vertroude bosse en oewers dik 

van geurige palmiet en warm slik; 

maar daar het hy, verwate enkeling, 

die hete middae jaaruit deurgebring 

en uitgeswem deur die swart water 

of roerloos gedryf met die koel geklater 

soos van groot stroomversnellings uurlank in sy ore, 

ruglings gestrek, sy oë verblind, verlore 

in die glansland van lug en wolk; 

of soms het hy geluidloos in die donker kolk 

geduik, af, af, deur kouer skaduwees 

langs strenger waterkranse, en met vrees 

gekeer, maar sidderend van vreug, uit daardie nag 


[bl. 16] 


wat soos 'n week swart blom na die helder dag 

en suiwer son hier seldsaam rank – 

maar dié dag nie; hy 't bruin en slank 

uit die bekende paadjies uitgeskry, 

die waterstruike en riet deur, en verby 

die klam oewerbosse sy koers gevat 

waar daglank donker is en mis en die nat 

blare druppel, tot hy later yl 

van bome en blou van die skerp, geil 

buffelgras die vlakte uit sien strek het; 

maar altyd rusteloos nog voort met gerekte 

treë onder die brandende naakte son 

wat horison tot horison 

met wit brand vul; en hy 't skaars gewaar 

hoe die verskrikte wild maal en vergaar 

in troppe, en klein diertjies voor sy voet 

met angsogies en die skerp swart snoet 

geplooi van skrik aan 't vlugte was, 

val-haastig deur die taai en hoë gras . . . .

tot voor hom op 'n sestig tree 


[bl. 17] 


lank en swart, Raka gestaan het. Die twee 

het albei eers roerloos stil gebly: 

die Swarte het bloed aan bors en bek gehad, en by 

sy voete 'n sebra op die vertrapte plaat 

– die fraai dier van die wit daeraad, 

die snelste en skuuste dier –

maar toe hy Koki gewaar, 

het hy aapagtig in die gras baljaar,

 gebuitel met swart bene in die lug 

en aangeskuur op sy en rug, 

– soos 'n teefhondjie nederig is – genooi 

om aan te sluit rondom die prooi 

met klou en bek. Koki het stil 

die vriendelikheid aanskou en koud geril, 

en van die ding se sotheid omgedraai 

want sonder skild en skerp asgaai 

het hy die veld gekies; maar agter hom 

het hy verwoede snork en voete hoor kom 

toe hy wegdraai; hy 't omgespring –

en in sy steë het die groot ding 


[bl. 18]

 

bly steek en grynsend truggetree, 

verwoed, maar bang, en half verlee 

oor iets wat so ver buite die begrip 

van sy swaar brein was, en die swart lip 

het weggekrul van die wit tande; 

so 't Koki rugwaarts uit die lande 

van die swart dierlikheid gekeer. 


[bl. 19]



📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…