Bedryf 4
AANKONDIGER:
Só het Dias hulle saamgesleep, drie dae verder: drie dae verder as alle seemanskap dit moes gewaag het. En aan die einde van dié tydjie het hulle 'n klein rivier bereik - waar - skynlik vandag die Chalumna.
Daar het Johan Infante die eerste aan wal gegaan met 'n paar manne.
Die skepe lê nog naby die strand.
Almal weet dis die einde.
Infante praat met Pedro:
[bl. 37]
INFANTE: Dit is die keerpunt dan. Hier loop en kraak
ons tog maar net weer deur die skulpe
by hierdie roemlose riviertjie in 'n land
wat ewe minderwaardig is,
en wat geen mens sal prys en sê: Dis myne.
Niks bring ons trug. Meen jy ons sal gaan spog:
,,Ons was tot by 'n strand met twintig skulpe"?
Ek twyfel sterk hoeveel ons kan verantwoord;
jy weet dit ook.
En almal voel ons bietjie nugter, Pedro,
ná ons drie dae.
PEDRO: Ek wil nie daaroor praat nie.
Ek het 'n man sien doodgaan voor my oë
drie dae lank. En selfs die muiters
is stil en vloek nie hard nie, al het hul woede
in hierdie laaste dag voelbaar geword.
INFANTE: Daar bring die langskuit nou ons admiraal:
ek het gemeen hy sou aan boord bly maar,
en net sy skip laat omdraai, eindelik.
PEDRO: Ken jy dan nie vir Dias, Don Infante?
Meer as sy plig, dit weet ons, wou hy doen,
maar óók sy plig. En hy sal tot die laaste
noukeurig soos 'n klerk sy dagboek hou,
sonhoogtes peil, afstand noteer en bakens neerskryf;
en dan sal hy weer in sy hut gaan sit
en stil wees van verdriet.
INFANTE: Dit was 'n slag.
En tog: die redelikheid moes ons behou.
Daar klim hulle uit die skuit.
[bl. 38]
PEDRO: Hy gaan alleen.
Hy wink die roeiers weg
en doen sy werk.
Kyk nog hoe streep die kus: helder en punt na punt,
en noord- en ooswaarts.
Don Infante,
weet ons dit in ons hart ons moet nie verder?
INFANTE: Nóg sotheid, Pedro? Dán moes hy ons boei
en in die ruim smyt... ophang... met die sweep
'n man by elke seil beheer...
is jy 'n melkbaard of 'n meesterloods?
PEDRO: Hier kom hy aan.
DIAS: So lyk 'n einde dan, Infante:
stil, byna soos 'n vrede: sonder gebaar,
sonder dat helde breek, en sonder sterwe;
net uitklim op 'n strand, iets skrywe
in 'n boek... so effens land-in kyk...
Die hele dag lyk geen gebed werd nie.
Ons was nie iets besonders, ek en jy nie,
Pedro.
INFANTE: Nou is jou hoon ondraaglik, Dias:
ons ander noem jy nie. Jy't ons gedryf
buite ons eie wil, en God gelok
om ons te tref, daar, toe jy, siek,
'n teken kon beloof, en wis of dalk
nie wis nie - : tekens kom daar nooit.
Nou is ons manne nog verbitterder
en glo te min. Waar is jou teken, Dias?
[bl.39]
DIAS: Ja, slaan my nou, Infante. Jy het die regte woorde;
en jy sal nóg kry: jou brein
sal jou die woorde voer, en elkeen daar
in ons twee skepe; ék sal jou woorde gee,
en jy kan slaan: ek het gelieg,
of was dalk krank; ek het voorspel,
- dit mag ek nie gedoen het nie -
van tekens, ek het gespeel met julle,
ons lewens op 'n worp gestel:
half was dit dalk geloof, half dalk retorika
en knie aan julle harte om te dwing
en lei. Ek weet dit nie. Ek het gebid,
ek het die vaal see op die voorpunt
drie dae elke oomblik met my oog verteer
om iets te sien; gebid, gebid: 'n teken:
'n vreemde tak wat aangespoel kon kom...
'n handvol bessies... of 'n seil. 'n stad...
'n kruis van Priester Jan in hierdie wêreld,
êrens;
snags: 'n vuur, bokant die horison,
onaards,
of bo die land, 'n bewys
van nuwe mense...
Ek het geglo. Maar waarom kon ek glo?
Pedro, ék was nie vir hierdie vaart
bestem nie, ek nie, Pedro.
Pedro, Pedro! Dit was die teken!
Ridder Infante: hier's vir jou die antwoord:
daar was 'n teken, duidelik: God het geswyg!
Hy het Sy hemel teen my toegesluit;
[bl. 40]
Hy was nie stil, nie niks, nie dadeloos nie,
maar toornig of Hy het Sy eie tyd:
van my, van my wou hy die werk nie hê nie.
En self het Hy ons laaste vaart bewaar
van elke ding wat teken sou kon wees
vir my trotsering.
Kom ons gaan trug.
Ons skepe wag. Die werk is oor.
INFANTE: Dias, ek sou moes swyg. En tog: jy is te nederig:
jy het gedoen meer as 'n mens moet doen.
Ek weet dit nou.
Hierdie rivier, ons laaste,
die verste baken van ons volk, die merk
waartoe jy ons kon opstoot noem dit na jou
dat almal weet: tot hiertoe kon hy deurdring.
DIAS: Nee, nie na my nie: ,Rio do Infante'
het ek geskryf. Jy was die eerste hier.
INFANTE: Moet jy die bitterheid ook in die kaart bring, Dias?
Na my dit noem, ek wat teruggedwing het?
,,,Omdraai-rivier' van dié Johan Infante"
dít sal hulle sê -
,,wat nie met Dias verder saam kon gaan nie..."?
DIAS: Glo jy dat ek nog bitter sal kon dink,
nou dat ek sekerheid gekry het?
INFANTE: Dias,
ek voel skaam. Ek weet dat iets gebeur
buite en bo my. Ek is 'n man soos ons
[bl. 41]
gemaak is, vir gewone dinge, en nóg
meen ek dat ek dit reg doen; en ek weet
dat ons moet omdraai. Maar ek weet ook
goed dat jy groot werk gedoen het: ons koning
sal jou beloon, en ons; en alle eer
die kom jou toe:
Agter ons in die newels
- die dertig dae toe ons blind gevaar het -
moes ons die magtige kaap van hierdie suidland
omvaar het, hy wat verborge was en onbekend
aan soveel eeue - aan die Kerk se Vaders!
laat ons terugkeer, laat ons dié vind,
en gee aan hom jou naam.
DIAS: Niks sal my naam dra nie. Want ek was niks.
Ons sal hom na die storms noem. Of na die hoop
van die wat ná ons kom.
Laat ons teruggaan.
Ons manne wag.
PEDRO: Dat ons hom só laat gaan:
hy huil soos iemand wat 'n kind moet groet
in 'n vreemde land, vir nooit weer sien nie.
*
[bl 42]