Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 4

Bedryf 4

AANKONDIGER: 

Só het Dias hulle saamgesleep, drie dae verder: drie dae verder as alle seemanskap dit moes gewaag het. En aan die einde van dié tydjie het hulle 'n klein rivier bereik - waar - skynlik vandag die Chalumna. 

Daar het Johan Infante die eerste aan wal gegaan met 'n paar manne. 

Die skepe lê nog naby die strand. 

Almal weet dis die einde. 

Infante praat met Pedro: 


[bl. 37]


INFANTE: Dit is die keerpunt dan. Hier loop en kraak 

ons tog maar net weer deur die skulpe 

by hierdie roemlose riviertjie in 'n land 

wat ewe minderwaardig is, 

en wat geen mens sal prys en sê: Dis myne. 

Niks bring ons trug. Meen jy ons sal gaan spog: 

,,Ons was tot by 'n strand met twintig skulpe"? 

Ek twyfel sterk hoeveel ons kan verantwoord; 

jy weet dit ook. 

En almal voel ons bietjie nugter, Pedro, 

ná ons drie dae. 


PEDRO: Ek wil nie daaroor praat nie. 

Ek het 'n man sien doodgaan voor my oë 

drie dae lank. En selfs die muiters 

is stil en vloek nie hard nie, al het hul woede 

in hierdie laaste dag voelbaar geword. 


INFANTE: Daar bring die langskuit nou ons admiraal: 

ek het gemeen hy sou aan boord bly maar, 

en net sy skip laat omdraai, eindelik. 


PEDRO: Ken jy dan nie vir Dias, Don Infante? 

Meer as sy plig, dit weet ons, wou hy doen, 

maar óók sy plig. En hy sal tot die laaste 

noukeurig soos 'n klerk sy dagboek hou, 

sonhoogtes peil, afstand noteer en bakens neerskryf; 

en dan sal hy weer in sy hut gaan sit 

en stil wees van verdriet. 


INFANTE: Dit was 'n slag. 

En tog: die redelikheid moes ons behou. 

Daar klim hulle uit die skuit. 


[bl. 38]


PEDRO: Hy gaan alleen. 

Hy wink die roeiers weg 

en doen sy werk.

Kyk nog hoe streep die kus: helder en punt na punt, 

en noord- en ooswaarts. 

Don Infante, 

weet ons dit in ons hart ons moet nie verder? 


INFANTE: Nóg sotheid, Pedro? Dán moes hy ons boei 

en in die ruim smyt... ophang... met die sweep 

'n man by elke seil beheer... 

is jy 'n melkbaard of 'n meesterloods? 


PEDRO: Hier kom hy aan. 


DIAS: So lyk 'n einde dan, Infante: 

stil, byna soos 'n vrede: sonder gebaar, 

sonder dat helde breek, en sonder sterwe; 

net uitklim op 'n strand, iets skrywe 

in 'n boek... so effens land-in kyk... 

Die hele dag lyk geen gebed werd nie. 

Ons was nie iets besonders, ek en jy nie, 

Pedro. 


INFANTE: Nou is jou hoon ondraaglik, Dias: 

ons ander noem jy nie. Jy't ons gedryf 

buite ons eie wil, en God gelok 

om ons te tref, daar, toe jy, siek, 

'n teken kon beloof, en wis of dalk 

nie wis nie - : tekens kom daar nooit. 

Nou is ons manne nog verbitterder 

en glo te min. Waar is jou teken, Dias? 


[bl.39]


DIAS: Ja, slaan my nou, Infante. Jy het die regte woorde; 

en jy sal nóg kry: jou brein 

sal jou die woorde voer, en elkeen daar 

in ons twee skepe; ék sal jou woorde gee, 

en jy kan slaan: ek het gelieg, 

of was dalk krank; ek het voorspel, 

- dit mag ek nie gedoen het nie - 

van tekens, ek het gespeel met julle, 

ons lewens op 'n worp gestel: 

half was dit dalk geloof, half dalk retorika 

en knie aan julle harte om te dwing 

en lei. Ek weet dit nie. Ek het gebid, 

ek het die vaal see op die voorpunt 

drie dae elke oomblik met my oog verteer 

om iets te sien; gebid, gebid: 'n teken: 

'n vreemde tak wat aangespoel kon kom... 

'n handvol bessies... of 'n seil. 'n stad... 

'n kruis van Priester Jan in hierdie wêreld, 

êrens; 

snags: 'n vuur, bokant die horison, 

onaards, 

of bo die land, 'n bewys 

van nuwe mense... 

Ek het geglo. Maar waarom kon ek glo? 


Pedro, ék was nie vir hierdie vaart 

bestem nie, ek nie, Pedro. 


Pedro, Pedro! Dit was die teken! 

Ridder Infante: hier's vir jou die antwoord: 

daar was 'n teken, duidelik: God het geswyg! 

Hy het Sy hemel teen my toegesluit; 


[bl. 40]


Hy was nie stil, nie niks, nie dadeloos nie, 

maar toornig of Hy het Sy eie tyd: 

van my, van my wou hy die werk nie hê nie. 

En self het Hy ons laaste vaart bewaar 

van elke ding wat teken sou kon wees 

vir my trotsering. 

Kom ons gaan trug. 

Ons skepe wag. Die werk is oor. 


INFANTE: Dias, ek sou moes swyg. En tog: jy is te nederig: 

jy het gedoen meer as 'n mens moet doen. 

Ek weet dit nou. 

Hierdie rivier, ons laaste, 

die verste baken van ons volk, die merk 

waartoe jy ons kon opstoot noem dit na jou 

dat almal weet: tot hiertoe kon hy deurdring. 


DIAS: Nee, nie na my nie: ,Rio do Infante' 

het ek geskryf. Jy was die eerste hier. 


INFANTE: Moet jy die bitterheid ook in die kaart bring, Dias? 

Na my dit noem, ek wat teruggedwing het? 

,,,Omdraai-rivier' van dié Johan Infante" 

dít sal hulle sê -

,,wat nie met Dias verder saam kon gaan nie..."? 


DIAS: Glo jy dat ek nog bitter sal kon dink, 

nou dat ek sekerheid gekry het? 


INFANTE: Dias, 

ek voel skaam. Ek weet dat iets gebeur 

buite en bo my. Ek is 'n man soos ons 


[bl. 41]


gemaak is, vir gewone dinge, en nóg 

meen ek dat ek dit reg doen; en ek weet 

dat ons moet omdraai. Maar ek weet ook 

goed dat jy groot werk gedoen het: ons koning 

sal jou beloon, en ons; en alle eer 

die kom jou toe: 

Agter ons in die newels 

- die dertig dae toe ons blind gevaar het - 

moes ons die magtige kaap van hierdie suidland 

omvaar het, hy wat verborge was en onbekend 

aan soveel eeue - aan die Kerk se Vaders! 

laat ons terugkeer, laat ons dié vind, 

en gee aan hom jou naam. 


DIAS: Niks sal my naam dra nie. Want ek was niks. 

Ons sal hom na die storms noem. Of na die hoop 

van die wat ná ons kom. 

Laat ons teruggaan. 

Ons manne wag. 



PEDRO: Dat ons hom só laat gaan: 

hy huil soos iemand wat 'n kind moet groet 

in 'n vreemde land, vir nooit weer sien nie. 

*

[bl 42]


📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…