NAGWAAK
HOOR ek jou voete na my toe kom,
of is dit maar die reën?
Wat breek die kelk van stilte oop
waarin ek lê, alleen?
Sou die verdriet kan einde hê
en skoon in die hart verlore gaan,
of sal dit ná jare nog steeds soos nou
oor die wal van my sluimering slaan?
Nou dat die onrus luider praat
en al die verlange van nuuts ontwaak,
sou ek kon dink dat ek anders hoor
as my eie hart en sy duister spraak;
dat smartlike geskeidenheid
die hoogste en laaste woord nie is;-
maar alle ontwaking en wete maak
die pyn van ons mens-wees weer gewis.
[bl. 4]
Die nag is silwer buite
van lamplig en van reën,
en al die blink, blinde dinge
staan elkeen so alleen;
alles is enkeld, is ewig
binne grense gebind en geskei;
en dan sluit die wind en die verte
weer toe om my.
[bl.5]