III. DIE DANS
DIÉ aand het dit by die vure vrolik gegaan,
tot Koki in die geel gloed skielik staan
en praat:,,Raka, die groot dier, moet dood."
Toe was die kraal 'n grys sloot
van stilte in die luide nag wat rond en om
in die warm oerwoud was: stom
en wit oë het oor die vure na hom gekyk.
,,Die swart dier sal nie van julle wyk;
hy kruip na julle vure toe in die nag,
en waar julle kinders speel, hou hy die wag
[bl. 20]
tot niemand meer wild is vir sy bot hand
maar dan sal jul hek se rieme en bande
op 'n vreemde nag slap word en los,
en Raka sal uit die bose bos
kom en tussen ons vure sit en bly.
Moet hy hier wees? Ken Raka, hy,
die sterk dier, ons fyn, fyn net
van die woord, waarmee ons blink en vet
visse uit baie waters haal?
Ken hy die vuurgeheim? Het hy die vaal
drade van die katoen leer spin en weef
en in die kleurpot week? Het hy leer leef
onder die wette wat ons oudstes sing?
Kan hy die pyl wet, en die dun lem bring
tot glans? Die snel dier moet dood,
of hy sal heers oor ons, en groot
en lang pyn bring." Sy woord het vuur
geslaan uit hulle kou klip, en in die stil uur
het die geskreeu die oerwoud kort laat swyg.
Maar toe die stemme in die smoor nog hyg,
[bl. 21]
toe Koki weer: „En ek sal gaan,”
want in dié skreeu het hy stil verstaan
dat dit sy krág was, nie sy woorde, wat hulle prys;
en toe die vuil geskreeu tussen die roke rys,
het hy begryp dat hy altyd eensaam met sy vrees
om kosbare dinge tussen hulle sou wees.
Toe het hy vinnig tussen die vure uitgespring
en alleen die groot dans in die leë kring
begin trap, die krygsdans van sy ras en sy bloed:
van onder het hulle die slagskadu in die gloed
van die lae vure sien swaai, maar die skrik
was toé om hul harte soos 'n hut, soos 'n strik
van taai tou; alleen hy
het in sy blinde oë sien wei
die rooi bul van die bloed en die slag–
en wild gespeel in sy spiere se krag
voor glansende horings en die blink snoet
wat bokant sy hande en oë woed.
So 't hy gedans . . . .
[bl. 22]
en een het opgestaan
en nader aan die velling van sy wilde baan
getree en ook gedans; tot een vir een
die vrees soos 'n karos laat val en alleen
die danspas van sy stam ken; toe het skril
ook die klank van die ou lied opgetril,
tergend en yl soos bo die rat-tat van die skilde
die lang ry vegters die hoë, wilde
fluit-skreeu laat hoor; en almal het gedans
met oë en huid in die lae glans
van die nagtelike vure rooi gevlek;
Koki vooraan; die nat bek
en die bulk van die bul was bo en voor
sy oë en ín sy oor
soos die dreun in 'n hol tamboer se stam,
waar hy steier en ruglings stort op die kam
van 'n wilde golf, maar hy was alleen.
met die blou grasruigte om hom heen
in sy bitter dans - die skerp gras
en die bul van die bloed wat oor hom was;
[bl. 23]
hy 't geeneen gesien van dié wat dans
toe het skielik oor die pale en die geel skans
van die vure, helder en blink uit die nag,
naby, buite, Raka se lag
ópgeklink, en almal was stom;
en een vir een het hul uit die swart drom
teruggesluip na die koue vure
en die wit as, en geluister die kraak
van die takke en die skuur en die nagtelike waak
van die groot dier net buite die kraal.
Maar Koki het eensaam in die wye, vaal
ruimte gedans en net geweet
van die skild en die riet en die lem wat breed
sag wegraak deur die huid en vleis.
By die vure was woorde, oud en wys,
van,,Raka is vreedsaam," ,,Raka is nie sleg,"
,,Soos hy gekom het, gaan hy ver weg
en geeneen sal weer van hom weet";
,,Hy is vol vreemde versinsels en vergeet
[bl. 24]
veel wysheid, veel vroeër smart en gevaar.”
En toe die luisterende vroue die vrees gewaar
wat onder die manne se diep woorde skuil,
soos onder die slank riet die gladde kuil,
het hulle hart nog meer aan Raka geglo
in soet skrik en verwagting, en hul oë
het afwesig na die donker woud gekyk
waar die skoon sterk dier dwaal en uitreik
na hul lywe. Net Koki, hoog en eensaam,
het in 'n nuwe dans stil begin gaan
die pad wat geen mens terug kan loop:
die dans van dié wat sterf en geen hoop
meer wil hê in die soet lewe, 'n gang
soos van die stil sterre wat bokant hang
elke nag, die Wit Blom van die Skemer, en Hy,
die Blou Vuur in die Hond, wat die Bendes lei
tot die brandende see agter die groot strome –
hy het lig en binne 'n enkele droom
tussen die bruin volk gewandel, tussen staar en vrees;
en die rooi bees
[bl. 25]
het ver in die horisonte gewyk; maar hy
het die stil dans getrap en gegly
deur die blinde kringe soos die fyn draad.
in die weefstoel lewe en 'n grys gewaad
se webbe met vreemde bewinge bind;
óm Koki was die grys wind
en die grys land sonder boom of gras,
en eensaam water wat branding was
tot teen ver kape. Sy lyf en voet
het stil soos die roer van die wit en soet
riet in die maat van die water gekom,
die wye baaie wat eers sy stam
se tuiste gewees het en nou nog sing
in spreekwoord en lied se herinnering:
die ewige kom en keer van 'n wand
wit water oor 'n eng grys strand,
die koue ópskuim tot aan die keel,
die trugdryf af in die blou en geel
diep dale agter die branders se ry,
en die stil spoel by die kape verby
[bl. 26]
in 'n sterker vloed.
En hulle het gewag,
gehurk oor die koue as die lang nag,
toe hy ná die dans van die rooi bul
die dans van die groot water wat die aarde vul
in die heilige kringe gewandel het, en laat
by die vuur gaan lê het tot die geel daeraad.
[bl. 27]