Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 5

Bedryf 5

AANKONDIGER: 

Dit is twaalf jaar later: twaalf jare wat die loop van die geskie- denis verander het. 

Die groot ontdekkings waarvan Dias gedroom het, is deur ander gedoen: Columbus het die Nuwe Wêreld gevind; 

Da Gama die seeweg na die Ooste. 

En Dias self is byna vergeet. As kaptein van 'n skip het hy meegegaan in 'n groot vloot wat onder Cabral na Indië gestuur is. Onderweg is Brazilië tot Portugese besitting verklaar. 

Dias staan op die dek van sy skip, kyk uit na die suide, en praat met 'n jong offisier: 


[bl.43]


DIAS: Die lug het stil gaan staan soos in 'n stulp: 

ons kom nie weg van hierdie swaar groen kus nie; 

dis of hy aan ons klou. 

Wat sê die wag daarbo? Sien hy die skepe nog? 


JONG OFFISIER: Net buite ons moet daar 'n wind stoot: vér 

op die horison sien hy die vloot, ál twaalf, 

en lê hulle suidwaarts af, wit van die seil, 

asof hulle voor 'n storm loop. 


DIAS: En hier is stil 

en sweet die lug om ons. 


JONG OFFISIER: Ons loods, ou Diniz, 

is bang: hy hou nie van die stilte nie: 

daar broei iets, sê die ou, en sê 

dis anders as 'n wind wat net gaan lê. 

Hy is maar altyd bang. 

Hoor net hoe dood dit is: geen seil wat klap, 

geen water roer, geen toue kraak. 


DIAS: Ons moet geduld hou. 

Wat kan ons doen, ons ken die see hier nie. 

Sê Diniz moet versigtig wees, die seile inrol. 


JONG OFFISIER: Inrol? Daar's dan geen wind nie! 


DIAS: Inrol, ja. 


JONG OFFISIER: Kaptein, vergeef my: U sal dit beter weet. 

Ek is so ongeduldig. Ek wens net ons kon vóórry: 

ons volke het die tyd so groot gemaak: 


[bl.44]


Columbus met 'n nuwe Indië; Vasco 

da Gama wat die Ooste oopgeskiet het - 

die streng ou vlootvoog met sy swart fluweel, 

sy rooi satyn, en vurig en gevrees... 

miskien kan U nie weet nie, maar óns, seuns, 

ons van vandag, ons glimlag vir sy pronk 

- sy wapenrusting fonkel van die goud - 

tog is dit by: hy het ons dol gemaak: 

mens weet die tyd is jonk en jy is jonk: 

jy dwing na Indië toe; nou weer Cabral 

wat oor die see sy vloot rig en terloops 

- so byna as verposing nog 'n ryk: 

Brasilië met die magtige riviere, 

skenk aan die koning. Dit is swaar en tam 

om só te voel jy's agter. 

Kaptein, het jy 

dan nooit gevaar op so 'n tog na Indië? 


DIAS: 'n End net, eenmaal; twaalf jaar gelede, 

toe ons óú koning - dié wat ook al rus -

sy togte nog geheim gehou het. 

Maar gaan nou. 


JONG OFFISIER: Nou dreun ons vlote óóp, dat almal hoor, 

op elke water wat ons wil. 

Kom, wind, kom jy net! 


DIAS: Laat die seile oprol. 


Jong offisier af. 


Vir elke daad is daar 'n tyd: 

streef jy 


[bl.45]


alleen, dan breek jy. Heersend, stil en heerlik 

trap bo-oor jou jou eeu, al haat jy hom, 

al roep jy om genade; al slaat jy hom, 

jy slaan teen staal. Ek slaan ook vlieë weg 

wat om my draai; en elkeen het waarskynlik 

'n eie plan, maar wat nie myne is nie. 

Ek was te gou. En hierdie nuwe manne 

is groot en gelukkig, loop so met die vaart saam 

van die hele wêreld, soos 'n gety 

wat opstoot in die baaie. 

En tog, en tog: 

hulle breek en vorm die wêreld: 

iets moes onrein aan my gewees het, 

iets in my hart was voos of dun of laf. 

Die tyd is ook nie alles. 

Ek het so min verrig. 

En nou's ek eindelik opsy gelaat 

soos skaafsels by die plank. En hoe onmatig 

eers tog, was ek in begeerte; onmatig 

in hoon vir dié wat minder kon of wou. 

Tót selfs my bid was tot my hart gerig 

en tot my krag. 

En nou't ek niks gedoen nie, 

en is die werk gedaan. Ek was 'n klip; 

ek was nie bouheer nie. En hinderlik 

en vaag vermoed ek dat my daad, my krag, 

anders sal groei as ek gemeen het, wild 

nog sy lote uitstoot in 'n aarde 

wat ek nie ken nie, onder mense en volke 

wat anders wil. Selfs as ek sterf nou, 

sal dit skaars droewig wees. Eeu en taak 

het weggespoel, of ander gryp dit. Nou 


[bl.46]


weet ek is ek na myself gewys. 


Is dit 'n koors? Die lug is skielik koud 

wat netnou nog soos wasem was. 


VYFDE MATROOS: Meester, 

U staan hier, en kyk: 


daar kom iets uit die weste soos 'n wolk, 

maar anders as ek wolke ken: 'n toring, 

en swart: 'n donker tregter op die see... 


DIAS: Voel jy ook koud? 


VYFDE MATROOS: Ons almal praat daarvan... 


DIAS: Ek sal kom kyk. 


VYFDE MATROOS: Die lug word donkerder. 


DIAS: Dit is geen storm; 

nie wind soos ons dit ken nie. 

Net 'n swart wolk wat opstraal uit die weste 

en soos 'n rookpyl. 


VYFDE MATROOS: Hy kom na ons toe: ons skip 

lê dwars vir hom. 


JONG OFFISIER: Ons seile is opgerol. 

Wat kan ons anders doen? Ons kan nie draai 

en reglê vir hom nie. 


DIAS: Ons kan net wag. 


[bl.47]


VYFDE MATROOS: Heilige Moeder van God, staan ons 

nou by. 


SESDE MATROOS: Kyk daar hoe maal die see, 

reg onder hom, 

en draai en klim die lug in! 


VYFDE MATROOS: 'n Swart straal 

vat uit die wolk af water toe. 

Die twee is saam! En wolk en waterspuit 

stap aan op ons! 


DIAS: 

Niks kan ons doen as bid nie. 


MATROOS: 

Hier hang hy soos 'n bergkrans bokant ons! 


MATROSE: 

Hy gryp ons skip! 

Ons kantel. 

Ons sink! 


DIAS: Probeer die boot vat, daar! Red wat gered... 


*


DIAS: En nou's dit stil en keer ek tot die tyd 

terug, en wend my van die tyd, want nie 

meer sal ek strewe of begeer nie; en hierdie 

waters op die middag, wat die sterwe 

in die oomblik van my insig aanbring, 

sluit my uiteindelik af, en is my teken 

ná die jare, dat ek nie vergeet 

en onvoltooi gelaat is, of voltooi 

deur eie drang of dwaasheid nie, maar uit 


[bl.48]


die kern geryp. Nou kan ek bid. God, hou 

in hierdie laaste oomblik my gebed 

gesuiwer soos dit nooit was in my dae: 

vergeef my sondes, want aan my 

was als onwaar, onheilig en besmet: 

tót ook my bid, tót ook my noem, o Heer, 

van U en van U heilige Naam - onrein; 

leer U my bid; bid, bid U self in my, 

en laat my dank dat U my vasgekeer 

het en gevang, dat U my hart sy sin 

geweier het tot op sy sterwensuur; 

dat U tot op die laaste onvervul 

en onvoltooi gelaat het, God, dié hart 

wat ek wou vul; dat ek my aan geen werk 

ooit kon versadig; dat ek barre kuste 

en leë lande alleen kon kry. 

En wees 

by dié land, by daardie eensaam land 

wat ek gevind het... nie wou vind nie - 

net

om my smart; en wees by alle eensaam 

dinge, en dié wat eensaam sterwe hier 

rondom my; en wees, my God, 

tot in die laaste skrik nog hier by my. 



[bl.49]

*


ANDER WERKE 

VAN N. P. VAN WYK LOUW 

____


Alleenspraak 


Die Halwe Kring 


Die Dieper Reg 


Raka 


Gestaltes en Diere 


Nuwe Verse 


Germanicus 



Lojale Verset 


Berigte te Velde Swaarte- en Ligpunte 


'n Wêreld deur Glas 


Liberale Nasionalisme 


📖

Einde van die Boek

Dankie dat jy Dias gelees het.

📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…