Bedryf 5
AANKONDIGER:
Dit is twaalf jaar later: twaalf jare wat die loop van die geskie- denis verander het.
Die groot ontdekkings waarvan Dias gedroom het, is deur ander gedoen: Columbus het die Nuwe Wêreld gevind;
Da Gama die seeweg na die Ooste.
En Dias self is byna vergeet. As kaptein van 'n skip het hy meegegaan in 'n groot vloot wat onder Cabral na Indië gestuur is. Onderweg is Brazilië tot Portugese besitting verklaar.
Dias staan op die dek van sy skip, kyk uit na die suide, en praat met 'n jong offisier:
[bl.43]
DIAS: Die lug het stil gaan staan soos in 'n stulp:
ons kom nie weg van hierdie swaar groen kus nie;
dis of hy aan ons klou.
Wat sê die wag daarbo? Sien hy die skepe nog?
JONG OFFISIER: Net buite ons moet daar 'n wind stoot: vér
op die horison sien hy die vloot, ál twaalf,
en lê hulle suidwaarts af, wit van die seil,
asof hulle voor 'n storm loop.
DIAS: En hier is stil
en sweet die lug om ons.
JONG OFFISIER: Ons loods, ou Diniz,
is bang: hy hou nie van die stilte nie:
daar broei iets, sê die ou, en sê
dis anders as 'n wind wat net gaan lê.
Hy is maar altyd bang.
Hoor net hoe dood dit is: geen seil wat klap,
geen water roer, geen toue kraak.
DIAS: Ons moet geduld hou.
Wat kan ons doen, ons ken die see hier nie.
Sê Diniz moet versigtig wees, die seile inrol.
JONG OFFISIER: Inrol? Daar's dan geen wind nie!
DIAS: Inrol, ja.
JONG OFFISIER: Kaptein, vergeef my: U sal dit beter weet.
Ek is so ongeduldig. Ek wens net ons kon vóórry:
ons volke het die tyd so groot gemaak:
[bl.44]
Columbus met 'n nuwe Indië; Vasco
da Gama wat die Ooste oopgeskiet het -
die streng ou vlootvoog met sy swart fluweel,
sy rooi satyn, en vurig en gevrees...
miskien kan U nie weet nie, maar óns, seuns,
ons van vandag, ons glimlag vir sy pronk
- sy wapenrusting fonkel van die goud -
tog is dit by: hy het ons dol gemaak:
mens weet die tyd is jonk en jy is jonk:
jy dwing na Indië toe; nou weer Cabral
wat oor die see sy vloot rig en terloops
- so byna as verposing nog 'n ryk:
Brasilië met die magtige riviere,
skenk aan die koning. Dit is swaar en tam
om só te voel jy's agter.
Kaptein, het jy
dan nooit gevaar op so 'n tog na Indië?
DIAS: 'n End net, eenmaal; twaalf jaar gelede,
toe ons óú koning - dié wat ook al rus -
sy togte nog geheim gehou het.
Maar gaan nou.
JONG OFFISIER: Nou dreun ons vlote óóp, dat almal hoor,
op elke water wat ons wil.
Kom, wind, kom jy net!
DIAS: Laat die seile oprol.
Jong offisier af.
Vir elke daad is daar 'n tyd:
streef jy
[bl.45]
alleen, dan breek jy. Heersend, stil en heerlik
trap bo-oor jou jou eeu, al haat jy hom,
al roep jy om genade; al slaat jy hom,
jy slaan teen staal. Ek slaan ook vlieë weg
wat om my draai; en elkeen het waarskynlik
'n eie plan, maar wat nie myne is nie.
Ek was te gou. En hierdie nuwe manne
is groot en gelukkig, loop so met die vaart saam
van die hele wêreld, soos 'n gety
wat opstoot in die baaie.
En tog, en tog:
hulle breek en vorm die wêreld:
iets moes onrein aan my gewees het,
iets in my hart was voos of dun of laf.
Die tyd is ook nie alles.
Ek het so min verrig.
En nou's ek eindelik opsy gelaat
soos skaafsels by die plank. En hoe onmatig
eers tog, was ek in begeerte; onmatig
in hoon vir dié wat minder kon of wou.
Tót selfs my bid was tot my hart gerig
en tot my krag.
En nou't ek niks gedoen nie,
en is die werk gedaan. Ek was 'n klip;
ek was nie bouheer nie. En hinderlik
en vaag vermoed ek dat my daad, my krag,
anders sal groei as ek gemeen het, wild
nog sy lote uitstoot in 'n aarde
wat ek nie ken nie, onder mense en volke
wat anders wil. Selfs as ek sterf nou,
sal dit skaars droewig wees. Eeu en taak
het weggespoel, of ander gryp dit. Nou
[bl.46]
weet ek is ek na myself gewys.
Is dit 'n koors? Die lug is skielik koud
wat netnou nog soos wasem was.
VYFDE MATROOS: Meester,
U staan hier, en kyk:
daar kom iets uit die weste soos 'n wolk,
maar anders as ek wolke ken: 'n toring,
en swart: 'n donker tregter op die see...
DIAS: Voel jy ook koud?
VYFDE MATROOS: Ons almal praat daarvan...
DIAS: Ek sal kom kyk.
VYFDE MATROOS: Die lug word donkerder.
DIAS: Dit is geen storm;
nie wind soos ons dit ken nie.
Net 'n swart wolk wat opstraal uit die weste
en soos 'n rookpyl.
VYFDE MATROOS: Hy kom na ons toe: ons skip
lê dwars vir hom.
JONG OFFISIER: Ons seile is opgerol.
Wat kan ons anders doen? Ons kan nie draai
en reglê vir hom nie.
DIAS: Ons kan net wag.
[bl.47]
VYFDE MATROOS: Heilige Moeder van God, staan ons
nou by.
SESDE MATROOS: Kyk daar hoe maal die see,
reg onder hom,
en draai en klim die lug in!
VYFDE MATROOS: 'n Swart straal
vat uit die wolk af water toe.
Die twee is saam! En wolk en waterspuit
stap aan op ons!
DIAS:
Niks kan ons doen as bid nie.
MATROOS:
Hier hang hy soos 'n bergkrans bokant ons!
MATROSE:
Hy gryp ons skip!
Ons kantel.
Ons sink!
DIAS: Probeer die boot vat, daar! Red wat gered...
*
DIAS: En nou's dit stil en keer ek tot die tyd
terug, en wend my van die tyd, want nie
meer sal ek strewe of begeer nie; en hierdie
waters op die middag, wat die sterwe
in die oomblik van my insig aanbring,
sluit my uiteindelik af, en is my teken
ná die jare, dat ek nie vergeet
en onvoltooi gelaat is, of voltooi
deur eie drang of dwaasheid nie, maar uit
[bl.48]
die kern geryp. Nou kan ek bid. God, hou
in hierdie laaste oomblik my gebed
gesuiwer soos dit nooit was in my dae:
vergeef my sondes, want aan my
was als onwaar, onheilig en besmet:
tót ook my bid, tót ook my noem, o Heer,
van U en van U heilige Naam - onrein;
leer U my bid; bid, bid U self in my,
en laat my dank dat U my vasgekeer
het en gevang, dat U my hart sy sin
geweier het tot op sy sterwensuur;
dat U tot op die laaste onvervul
en onvoltooi gelaat het, God, dié hart
wat ek wou vul; dat ek my aan geen werk
ooit kon versadig; dat ek barre kuste
en leë lande alleen kon kry.
En wees
by dié land, by daardie eensaam land
wat ek gevind het... nie wou vind nie -
net
om my smart; en wees by alle eensaam
dinge, en dié wat eensaam sterwe hier
rondom my; en wees, my God,
tot in die laaste skrik nog hier by my.
[bl.49]
*
ANDER WERKE
VAN N. P. VAN WYK LOUW
____
Alleenspraak
Die Halwe Kring
Die Dieper Reg
Raka
Gestaltes en Diere
Nuwe Verse
Germanicus
*
Lojale Verset
Berigte te Velde Swaarte- en Ligpunte
'n Wêreld deur Glas
Liberale Nasionalisme
Einde van die Boek
Dankie dat jy Dias gelees het.