Hoofstuk 5
PANIESE ANGS
GOD, hierdie angs, hierdie angs,
dít kan nie U uiterste openbaring wees:
hierdie verwarring van my oë,
hierdie wit-ogige vrees;
dat ek vrees nie die breek van my liggaam,
maar in my U geweldige beure;
hoe sal U my weerstand breek,
hoe slaat U en slaat U op my deure -
tot ek terugkrimp soos die see se water
voor U in my grote nood:
U styg, o God, tot my lippe
met die soutsmaak van U dood.
September 1935
[bl.6]