Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 5

IV.-DIE JAG VAN RAKA


OOR 'n groen poel wat stil en dik 

was van die bronslaai en die warm slik 

het Raka op die lou voormiddag geleun 

om soos 'n bees te drink, en lui gesteun 

van genot, die swart hande diep ingegly 

in die meel-sagte wortels en die pappery 

wat deur sy vingers borrel; en, toe hy sat 

en swaar was van die suip, het hy in die koel gat 

sy lyf laat insak, afsak, en gevoel 

hoe die stink belle langs hom kruip en bo die poel 


[bl. 28]

 

se dik room breek. Dít was sy gebied, 

hier waar die boomwortels in die droë riet 

en papkuil van die stroom se dooi bogte rank, 

en die hele warm dag die soet stank 

opstoom langs die rand van die woud. Dan het hy uit 

die water gestyg en die glimmende huid 

met 'n poot gestryk dat die druppels straal 

op die waterplante, en met lang hale 

oor die taai suiggrond na die bosse gestap. 

Soms het hy skielik met 'n blitsklap 

na 'n groen of 'n goud-blou tor gegryp 

wat oral pyl, en dit stukkend geknyp 

in die dor dop, afwesig en dom, 

en só uit sy vingers laat val; en dan stom, 

begriploos gestaar na 'n tros wit en suur 

wasblomme, groot soos hande en puur 

ster-vormig téén die donker glim 

van die eerste liane wat hier klim 

aan die voorste bome - en uit die tros 

'n klomp wit kelke geskeur, en gelos 

 

C - [bl. 29] 


uit die swart poot. Sy gang was traag 

oor die week mos-waar die bessies laag 

aan die struike gesit het, wou hy skaars buk 

om die trosse uit die dorings af te ruk 

en stadig te kou tot die blou sap  

van die bek oor die bors in die blare tap – 

want die vrees wat elke dier sku en snel 

in die oerwoud maak, die 't hy nié geken, 

net die swaar drif. Toe 'n klein bosding, 

'n vaal apie, lig uit die takke spring 

en oor die oop leegte en die blare pyl, 

half vrolik-verskrik, het die soet kwyl 

in sy mond vir Raka laat spring en vang: 

maar toe die slap diertjie in sy poot hang, 

het hy net gesnuiwe en dit sag laat val. 


In hierdie tussenland van woud en wal 

van die groot rivier, in die warm bog, 

het hy daglank in die poele gerol soos 'n log 

boomstam wat, verdrink en verrot, 


[bl. 30] 


swaar in die stil water wieg; of hy 't bot 

in die bosse gedwaal, tot die skielike steek 

van die honger hom wek om die peule te breek 

uit die donker-groen takke, of kwyl-kwyl te draf, 

lus vir bloed, na die vlakte waar die eland en die giraf 

en die wildebees in die skerp grasveld wei, 

aanmekaar. . . . 

en as die honger weer stil was, het hy, 

swaar en triestig, 'n ander drif 

sy are se somber bloed voel skif, 

en dan 't hy die mense se ruik gesoek 

en óm hulle wonings gehou – aan 'n doek 

in die gras gesnuiwe of aan 'n skerf 

van 'n stukkende pot. En in die môre as die werf 

met kinders en honde begin roer, het hy óp 

uit sy lêplek buite die kraal gestaan 

en trug in die lou kanette gegaan, 

en later na die mere en ver poele; 

só ook die dag toe Koki in die swoel 

klam woud die groot ding sou soek . . . . 


[bl. 31] 


Want toe die môre wit was aan die oosterkim 

en die dagster bo die bome net 'n skim 

van bleekte, het hy opgerys en die swaar vrees 

vir sterwe van hom afgedoen – soos een wat genees 

raak van 'n wond, een môre opstaan van sy vuur 

en bewerig nog, 'n warm uur 

teen die hekpaal sit en die wêreld aanskou 

as iets vreemds wat skaars aan sy hart nog hou –  

so het Koki geloop en die lang skild gehaal 

en met houe getoets, en die harde en vaal 

beesvel gesmeer en gebrei met die hand 

tot dit buigsaam en taai was teen poot en tand: 

hy wis dat die wapen nie pyl of lem 

was wat spat van die harde, ver-klinkende vel, 

maar iets anders. En toe 't hy die blink asgaaie 

se punte oor die gladde slypsteen laat draai 

in die nikkel boë van 'n halwe maan 

soos sy vaders geleer het, tot die lem kon gaan 

lig oor die palm en die bleek vel sny, 

maar die voorpunt nog styf was; en aanhoudend het hy 


[bl. 32] 


die sterflied van sy stam, nie die krygslied, gesing, 

want Raka 't hy geweet was 'n vreemde ding, 

meer as 'n dier, maar nog nie mens, 

iets dodeliks en duisters, aan 'n troebel grens, 

vir denke of daad onseker. 

En sy bruin stam 

het sku in 'n wye kring gedam 

 – die kinders stil- of elkeen apart 

sy dag se werk gesoek, verward 

en vol peins by die vleg van die goue tou 

of die knoop van die nette, en skaam onthou 

die nag met sy wilde dans; 

maar hy, 

toe die lug sy eerste middagwolke kry, 

was klaar met die wapens, en toe het hy vas 

aan elke knie die silwerbont kwas 

– wit en swart – met die nael-dun rieme gebind, 

die kwaste wat speel en beef op die wind 

van die krygsdans soos springbokke wit-wit pronk, 

en van sy hut af, heerlik en jonk, 


[bl. 33]


met die groot pluim in sy hare gestap 

na die hek toe, singend, en die dans getrap 

van die rooi bul in die skerp blou gras; 

geen woorde wou hy meer laat tot 'n las 

op die harte wat aan Raka glo. 


Húlle 't hom skamerig gevolg oor die warm en droë 

stof van die kraal en nágestaar 

hoe hy daal met die voetpad en dans deur die swaar 

blou ruigte en riete naby die bos; 

maar dié middag het die visnet los 

langs die half-gevlegte matte gehang, 

en die oond waar die potte van klei in lang 

bruin rye tot groen-gladde hardheid brand, 

het koud geword, want die hout en die hand 

het ontbreek, en oral was luide gepraat 

van Koki en Raka en die dwaas daad, 

en die geeste se toorn. 

Maar hy het sy dans 

na die bosse gerig, tot die middag se glans 


[bl. 34] 


op die blink asgaaie en die glimmende huid 

in die gange verdwyn het, en net die geluid 

van sy sing nog klein was. 

Maar in die klam bos 

het hy stiller geloop oor die stinkende mos 

en die blare en dikwels gestaan om te hoor 

of 'n tak êrens breek, en gesoek na die spoor, 

'n vars spoor, van die Swarte, in hierdie koers 

waar die skreeu verlaas in die nag, omfloers 

deur die oerwoud, vér geskater 't. 

En nou 

het Koki strak deur die klam tonnels gehou 

van die stilste bosse waar die takke bo, 

verward gestrengel, in die digte, hoë 

wasdom saamklou, en die helder dag 

skemerig en vol drup is; maar sy wag 

en luister het geen geluid gevang 

as net die drup-drup en die lang 

klae-skreeu van 'n sku bosvoël êrens ver; 

en skaars het hy gesien, soos 'n klein ster 


[bl. 35] 


wat val, die flits van 'n rooi papegaai 

tussen stam en stam; en toe 't hy weggedraai, 

toe hy niks vind, na die kant van die vlakte toe, 

peinsend waar hy Raka sou kry, en hoé, 

en peins-peins deur die digte ranke gebreek 

van die swart bosse en die blomme skarlaken-rooi of bleek 

wat in die nag die sagte motte lok. 


En nou 't hy oor die oper leegtes gegaan 

en blare, waar die bome enkelder staan, 

en kleurige klimop tot die kruine rank 

tot die rand van die vlakte waar hy lank 

oor die wye middagwêreld uitgetuur 't: 

of die Swarte te sien was; maar die stil uur 

van die hitte was daar, en die ver bome ongewis 

met die eerste opdamp van die namiddagmis 

en die oerwoudreën; en nêrens het hy hier 

Raka gewaar nie - die vaal vlaktediere 

het stil in die skadu's gestaan of gewei. 


[bl. 36]


Toe 't hy weer die smal paaie gesoek wat lei 

deur die oewerbosse na die groot rivier, 

en Raka, Raka, die skelm dier 

wat uitloer ágter die groen kuil 

of onhoorbaar agter die ranke skuil, 

het in hom gemaal, in sy ore geklop, 

en telkens wou hy die swart kop 

in 'n struik sien of in 'n digte tros 

geel blomme en bessies . . . . tot hy eindelik los 

uit die bome geworstel, die silwer boog 

van die breë water uit voor sy oog 

sien strek het; en hier 't hy die nat spoor 

gekry in die modder en gevolg en verloor 

in die poele en weer gekry die swaar ding 

se sleepsel waar hy breek en plas en dring 

deur die hoogste riete- en Koki het getrap 

in die baan van die spore oor die wit krap 

en die vissies wat pal in die lou water hou 

van die vlak plasse; die snygras 't geklou 

aan sy knieë, en die bont klosse afgeskeur 


[bl. 37]

 

waar hy deur die verbuigde skuins riete beur. 

En stilstaan en luister, dan het hy alleen 

die visarend se skreeu bo die water verneem 

en die styg van die swart borrels aan sy voet; 


maar toe hy kyk na sy vingers en die yl bloed 

wat die snyruigtes gelaat het, het die groot dier 

skielik, geluidloos, uit die warm wier 

en die slik opgestaan en wit gelag. 


[bl. 38]



📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…