IV.-DIE JAG VAN RAKA
OOR 'n groen poel wat stil en dik
was van die bronslaai en die warm slik
het Raka op die lou voormiddag geleun
om soos 'n bees te drink, en lui gesteun
van genot, die swart hande diep ingegly
in die meel-sagte wortels en die pappery
wat deur sy vingers borrel; en, toe hy sat
en swaar was van die suip, het hy in die koel gat
sy lyf laat insak, afsak, en gevoel
hoe die stink belle langs hom kruip en bo die poel
[bl. 28]
se dik room breek. Dít was sy gebied,
hier waar die boomwortels in die droë riet
en papkuil van die stroom se dooi bogte rank,
en die hele warm dag die soet stank
opstoom langs die rand van die woud. Dan het hy uit
die water gestyg en die glimmende huid
met 'n poot gestryk dat die druppels straal
op die waterplante, en met lang hale
oor die taai suiggrond na die bosse gestap.
Soms het hy skielik met 'n blitsklap
na 'n groen of 'n goud-blou tor gegryp
wat oral pyl, en dit stukkend geknyp
in die dor dop, afwesig en dom,
en só uit sy vingers laat val; en dan stom,
begriploos gestaar na 'n tros wit en suur
wasblomme, groot soos hande en puur
ster-vormig téén die donker glim
van die eerste liane wat hier klim
aan die voorste bome - en uit die tros
'n klomp wit kelke geskeur, en gelos
C - [bl. 29]
uit die swart poot. Sy gang was traag
oor die week mos-waar die bessies laag
aan die struike gesit het, wou hy skaars buk
om die trosse uit die dorings af te ruk
en stadig te kou tot die blou sap
van die bek oor die bors in die blare tap –
want die vrees wat elke dier sku en snel
in die oerwoud maak, die 't hy nié geken,
net die swaar drif. Toe 'n klein bosding,
'n vaal apie, lig uit die takke spring
en oor die oop leegte en die blare pyl,
half vrolik-verskrik, het die soet kwyl
in sy mond vir Raka laat spring en vang:
maar toe die slap diertjie in sy poot hang,
het hy net gesnuiwe en dit sag laat val.
In hierdie tussenland van woud en wal
van die groot rivier, in die warm bog,
het hy daglank in die poele gerol soos 'n log
boomstam wat, verdrink en verrot,
[bl. 30]
swaar in die stil water wieg; of hy 't bot
in die bosse gedwaal, tot die skielike steek
van die honger hom wek om die peule te breek
uit die donker-groen takke, of kwyl-kwyl te draf,
lus vir bloed, na die vlakte waar die eland en die giraf
en die wildebees in die skerp grasveld wei,
aanmekaar. . . .
en as die honger weer stil was, het hy,
swaar en triestig, 'n ander drif
sy are se somber bloed voel skif,
en dan 't hy die mense se ruik gesoek
en óm hulle wonings gehou – aan 'n doek
in die gras gesnuiwe of aan 'n skerf
van 'n stukkende pot. En in die môre as die werf
met kinders en honde begin roer, het hy óp
uit sy lêplek buite die kraal gestaan
en trug in die lou kanette gegaan,
en later na die mere en ver poele;
só ook die dag toe Koki in die swoel
klam woud die groot ding sou soek . . . .
[bl. 31]
Want toe die môre wit was aan die oosterkim
en die dagster bo die bome net 'n skim
van bleekte, het hy opgerys en die swaar vrees
vir sterwe van hom afgedoen – soos een wat genees
raak van 'n wond, een môre opstaan van sy vuur
en bewerig nog, 'n warm uur
teen die hekpaal sit en die wêreld aanskou
as iets vreemds wat skaars aan sy hart nog hou –
so het Koki geloop en die lang skild gehaal
en met houe getoets, en die harde en vaal
beesvel gesmeer en gebrei met die hand
tot dit buigsaam en taai was teen poot en tand:
hy wis dat die wapen nie pyl of lem
was wat spat van die harde, ver-klinkende vel,
maar iets anders. En toe 't hy die blink asgaaie
se punte oor die gladde slypsteen laat draai
in die nikkel boë van 'n halwe maan
soos sy vaders geleer het, tot die lem kon gaan
lig oor die palm en die bleek vel sny,
maar die voorpunt nog styf was; en aanhoudend het hy
[bl. 32]
die sterflied van sy stam, nie die krygslied, gesing,
want Raka 't hy geweet was 'n vreemde ding,
meer as 'n dier, maar nog nie mens,
iets dodeliks en duisters, aan 'n troebel grens,
vir denke of daad onseker.
En sy bruin stam
het sku in 'n wye kring gedam
– die kinders stil- of elkeen apart
sy dag se werk gesoek, verward
en vol peins by die vleg van die goue tou
of die knoop van die nette, en skaam onthou
die nag met sy wilde dans;
maar hy,
toe die lug sy eerste middagwolke kry,
was klaar met die wapens, en toe het hy vas
aan elke knie die silwerbont kwas
– wit en swart – met die nael-dun rieme gebind,
die kwaste wat speel en beef op die wind
van die krygsdans soos springbokke wit-wit pronk,
en van sy hut af, heerlik en jonk,
[bl. 33]
met die groot pluim in sy hare gestap
na die hek toe, singend, en die dans getrap
van die rooi bul in die skerp blou gras;
geen woorde wou hy meer laat tot 'n las
op die harte wat aan Raka glo.
Húlle 't hom skamerig gevolg oor die warm en droë
stof van die kraal en nágestaar
hoe hy daal met die voetpad en dans deur die swaar
blou ruigte en riete naby die bos;
maar dié middag het die visnet los
langs die half-gevlegte matte gehang,
en die oond waar die potte van klei in lang
bruin rye tot groen-gladde hardheid brand,
het koud geword, want die hout en die hand
het ontbreek, en oral was luide gepraat
van Koki en Raka en die dwaas daad,
en die geeste se toorn.
Maar hy het sy dans
na die bosse gerig, tot die middag se glans
[bl. 34]
op die blink asgaaie en die glimmende huid
in die gange verdwyn het, en net die geluid
van sy sing nog klein was.
Maar in die klam bos
het hy stiller geloop oor die stinkende mos
en die blare en dikwels gestaan om te hoor
of 'n tak êrens breek, en gesoek na die spoor,
'n vars spoor, van die Swarte, in hierdie koers
waar die skreeu verlaas in die nag, omfloers
deur die oerwoud, vér geskater 't.
En nou
het Koki strak deur die klam tonnels gehou
van die stilste bosse waar die takke bo,
verward gestrengel, in die digte, hoë
wasdom saamklou, en die helder dag
skemerig en vol drup is; maar sy wag
en luister het geen geluid gevang
as net die drup-drup en die lang
klae-skreeu van 'n sku bosvoël êrens ver;
en skaars het hy gesien, soos 'n klein ster
[bl. 35]
wat val, die flits van 'n rooi papegaai
tussen stam en stam; en toe 't hy weggedraai,
toe hy niks vind, na die kant van die vlakte toe,
peinsend waar hy Raka sou kry, en hoé,
en peins-peins deur die digte ranke gebreek
van die swart bosse en die blomme skarlaken-rooi of bleek
wat in die nag die sagte motte lok.
En nou 't hy oor die oper leegtes gegaan
en blare, waar die bome enkelder staan,
en kleurige klimop tot die kruine rank
tot die rand van die vlakte waar hy lank
oor die wye middagwêreld uitgetuur 't:
of die Swarte te sien was; maar die stil uur
van die hitte was daar, en die ver bome ongewis
met die eerste opdamp van die namiddagmis
en die oerwoudreën; en nêrens het hy hier
Raka gewaar nie - die vaal vlaktediere
het stil in die skadu's gestaan of gewei.
[bl. 36]
Toe 't hy weer die smal paaie gesoek wat lei
deur die oewerbosse na die groot rivier,
en Raka, Raka, die skelm dier
wat uitloer ágter die groen kuil
of onhoorbaar agter die ranke skuil,
het in hom gemaal, in sy ore geklop,
en telkens wou hy die swart kop
in 'n struik sien of in 'n digte tros
geel blomme en bessies . . . . tot hy eindelik los
uit die bome geworstel, die silwer boog
van die breë water uit voor sy oog
sien strek het; en hier 't hy die nat spoor
gekry in die modder en gevolg en verloor
in die poele en weer gekry die swaar ding
se sleepsel waar hy breek en plas en dring
deur die hoogste riete- en Koki het getrap
in die baan van die spore oor die wit krap
en die vissies wat pal in die lou water hou
van die vlak plasse; die snygras 't geklou
aan sy knieë, en die bont klosse afgeskeur
[bl. 37]
waar hy deur die verbuigde skuins riete beur.
En stilstaan en luister, dan het hy alleen
die visarend se skreeu bo die water verneem
en die styg van die swart borrels aan sy voet;
maar toe hy kyk na sy vingers en die yl bloed
wat die snyruigtes gelaat het, het die groot dier
skielik, geluidloos, uit die warm wier
en die slik opgestaan en wit gelag.
[bl. 38]