LUCIFER
SO het hy toe gestort in blinde
nag-angstelike vaart deur alle
verdiepinge van sterre en winde,
deur leegtes, wissling van kristalle
gedaantes, skeemring, duisternisse
afgrondelik diep verborge van
die hoë lig, langs die gewisse
steil vallyn van die smart, verban
van die heldre vreug waarheen hy wou
met roei van blanke vlerk bo vlerk
opstyg in saligheid en vou
die magtige vleuels tot rus in God.
Net soos die hoë winde sterk
terugslaat van die kranse, tot
die blou klowe neerwaarts fluit
van snelle ruising - so sy val;
[bl. 7]
magtloos, en droewig om die hoon
van Hom wat Sig in enkelheid ál
hoe grimmiger geskulp, gesluit
het en so eensaam woon
dat niks Hom ooit genaak,
en al die liefde en gebede
van dié wat blind bemin en bid,
'n ewige branding óm Hom maak,
maar nêrens deur sy sonnevrede
'n ingang vind-
hy het sy wit,
vermoeide vlerke dig gevou
en toornig weggestort....
[bl. 8]