V. – DIE NAG
DIE nag het die vure hoog gebly
en gegloei deur die pale wat die swart bosse skei
van die klein kring menslike lig en vlam,
en geeneen het geslaap voor die donker dam
wat dreig om óór hulle in te stort,
want Raka het skreeu-skreeu gekom tot kort
teen die kraal, waar hul hom soms in die gloed
deur die skrewe kon sien, en iets bruin soos bloed
oor sy bek en sy bors en sy breë maag;
en sy skreeu was woes van pyn en wraak.
[bl. 39]
Maar met die môre het hy stil weggesluip
en hulle het een-een styf na die pale gekruip
om te kyk of dit skoon was, en gesien die geel gras
wat tot téén hul skans verflenter was,
vertrap en gepluk en rooi besmeer
aan die stingels . . . .
en eers toe die middagwolke weer
soos sneeuberge half-pad hoog teen die lug.
gestaan het die uur van die verste vlug
van die mens se vrees vir die bose nag –
het dertig man uitgegaan soos vir die jag,
met skilde en asgaaie en warm kole in 'n kruik
om die vyand te verskrik met die rook en die ruik
van die groot grasbrande; en digby mekaar
langs die wal van die breë water af het die skaar
na Koki gesoek. Teen die skemering laat
as die vrees vir die nag al weer luid slaat
aan die hart van 'n man in die groot bos,
't hulle hom gekry
in die verskeurde papkuil en die poel waar hy,
[bl. 40]
half in die modder getrap, op die skag
van sy stukkende spies gelê 't, en die krag
en die woede van die swart dier kon hulle sien
aan die liggaam en die spore en die pap riet
en die skild wat geskeur was en diep ingetrap
in die koue klei . . . . maar bloed het ook getap
en bruin gestol op waterplant en blaar
langs die sleepsel waar die Swarte swaar
deur die moeras gebreek het na die digte
woud; toe het hulle haastig vir Koki wat koud
en styf was soos 'n bok, op die skouers gelig
en die kraal gesoek: in die laat lig
het die vroue die stoet van die hek af gewaar,
en hard gehuil en met dom misbaar
na die hutte gehardloop toe die manne hul vrag
inbring en aflaai;
net een het deur die nag
toe die dodefees luid by die bierpotte was,
langs die stil Koki gesit en met pluksels gras
sy liggaam gereinig waar hy gebreek was en bevuil
[bl. 41]
deur Raka, die bose; en sy het nie gehuil
die oudste van die vroue wat veel bewaar
van die stam se herinnerings en van sy swaar,
en met hul liedere die kinders en die jong seuns voed
soos aan 'n naelstring van sagte, kloppende bloed
in die skemeraande – sy 't stil gesing
voor haar uit van die heilige, glansende kring
van geboorte en dood en geboorte en dood;
van die vroue se wag en hul pyn; en die groot
skoonheid van die dapper man in die stryd.
En toe 't sy gesing van die ver tyd
toe Koki se vader 'n sterk man was,
en hy self, 'n kind, met die klein kwas
aan elke knie, die bendes gelei 't
van die seuns deur die riete en deur die nabye
grasruie plate; en toe 't sy genoem
die skoonheid van sy skouers, en sy snelheid geroem
in die jag en die stryd, en sy lengte, sy rug,
sy pragtige bene, sy bors en die vlug
van sy blink asgaaie . . . .
[bl. 42]
en luider het haar lied
geroep van die jong ryp vroue se verdriet
en die kinders wat hy nooit, nooit meer sal hê;
en toe 't sy die swart dier genoem wat lê
in die nag en die plasse, en Koki se moed,
en die speel van sy wapens en die trots voet
wat nooit stil by die pale van die hek kon bly:
hoe hy uitgedans het om in die swart woud te stry
teen iets wat beestelik en magtiger is,
en hoe hy sy bruilof in die koue duisternis
van die groot moerasse gevier het.
En nou
het sy die lied stil en laag gehou :
van die verlore menslikheid; van die klein kraal
wat in die swart bome lê en snags straal
met sy vure; en sy 't gekla: wie hom nóu sal red
teen die groot dier wat wag, wié sal belet
dat hy inkom en heers?
En stiller en sagter:
[bl. 43]
dat die skoonste gesterf het, dat die edelste wagter
koud lê langs sy vuur, en sy stam lê oop
soos 'n óu kraal in die gras waar die jakkalsies loop
deur die riete bedags.
By die bruin potte bier
het hulle anders en luid die dodefees gevier,
die manne wat saam met Koki die jag
en die stryd geken het, die geheim en die krag
van die heilige kraal – want Raka was stil
buite die pale, en dié wat gaan luister 't, het alleen skril
onverstoord in die gras die krieke hoor skree –
maar die manne het een-een in die gloed getree
uit die duister kring, en saam met die klop
van die hol tamboer 'n dans getrap
van die dood, die dood, en die swart skrik
wat 'n sterk man klem, 'n dans strak
van gespanne spier en blinde staar:
'n bewing wat met rukke roer
deur die staal draad van die krom rug
in 'n kramp van waansin oorgepluk
[bl. 44]
na ágter soos 'n taai boog,
'n trilling van die enkels laag,
'n dans van byna roerloosheid
wat binne in die harde lyf
verterend soos 'n vlám staan
en nooit na buite úitslaan.
En by dié dans was daar geen lied,
en nie die ou en helder verdriet
om die sterwe en om die skone held:
net die klop van die trom en die stil geweld
van die glansende voete in die vure se gloed.
Maar toe 't 'n ander koors deur die wilde bloed
van die manne gevaar, en een het geskreeu
van Koki se krag, van die Vaal Leeu;
en die wilde drom het saam gespring
oor die vure ín in die eng kring
van die heilige dans en woester beweeg
en die woorde herhaal, skril en leeg,
van Koki se ratsheid, sy groot krag;
D - [bl. 45]
en toe 't die dronk woord uitgelag
hoog bo die fees en hul wilde spel:
,,Maar Raka was sterker, sy voet so snel
soos 'n voël, soos die wild deur die vlakte loop.
Die swakste moes buig." En oor die swart knoop
van die dansers het die nuwe gesang
van die krag en die groot dier luid gehang
in 'n dronk en blinde vergetenheid . . . .
maar toe was Raka met sy apespring
skielik groot in die lae vure se kring:
die hek se rieme was slap gebind
waar die Swarte reeds in die vrou en kind
en die woord van die manne se liedere was –
en sy pyn en woede was 'n smal pas
deur sy vrees vir die vuur, deur die paal, deur die hek
met sy taai rieme na die helder plek
waar dié wat hy haat, was; en die dans 't nog getril
in die voete, en die swart lied is saamgegil
met die eerste krete, toe 't die bloed geloop
deur die dampende as uit die warm hoop
[bl. 46]
waar die sterkstes gelê het;
maar die vroue het gevlug
met lang geskreeu in die hutte terug
en die agterste hoeke, en heelnag die wraak
van Raka en Raka se donker waak
in die kraal verneem: sy snork, sy draf,
en die skreeu van 'n vrou se pyn skielik, die blaf
van 'n vasgekeerde hond, kort en benoud . . . .
en daar waar Koki se liggaam koud
en stil in die gras was, die harder gebrul
van die nuwe woede, wat die hutte vul,
en die breek en die skeur.
In die môre vroeg
het hy naby die hek gelê, slu, en moeg
maar waaksaam; en opgestaan later
toe dit warm word, en uit die potte die water
gedrink en weer by die hek gaan wag;
en ná die dag se hitte en die lang nag
en die skrik, het honger en dors, dié twee,
die slawedrywers, hulle maar gedwee
[bl. 47]
en sku om water en om kos laat gaan;
en Raka, die skelm dier, het opgestaan
en hulle laat loop, en self náby gaan jag;
maar niemand het gewaag om met een slag
die smal hek ooit weer teen hom te sluit.
[bl. 48]
Einde van die Boek
Dankie dat jy Raka gelees het.