AAN DIE SKOONHEID
HOE in die hoë wisselgang van dag en nag,
die ewige wederkeer van somer, winter,
die blinde stuiwing van die wyd-gebaande sterre
kan ons ons weg gaan sonder siddering?
Want weerloos is ons teen die swaar gebeure van
die dinge; ons vreugde waai-'n yl-blou lint,
verlore fladdering - in die strawwe
[wêreldwinde;
naak staan ons in die slagreën van die toorn;
en nors, in staal-blind selfgenoegsaamheid en
[vrede
skyn die heelal in kring bo kring gewelf
oor ons klein smart en liefde en al die lieflikheid
van oog en oor en sinne menigvoudig.
Ons is 'n blinde en middernagtelike vrees
wat al die ligte dae van ons lewe
die helder weë van die aarde gaan en weet
dat stilte en verskrikking weerskant lê;
[bl. 9]
hooghartig stap ons met die wit son op ons oë
en liefde en trots óm ons verwondbre hart
as pantser; maar ons weet die pyn is nêrens ver,
want mens en wêreld is twee vreemde dinge:
die aarde is heldere kleed van duistere bedoeling,
op donker dinge sin die mens se hart.
Hoe kon ons menslik lewe, as jy, o heilige
[Skoonheid,
nie ewig aan die vormlose dinge
gestalte gee en die ster-wit draaikolk van die
[baaierd
tot in sy verste eindpunt wit deurlig
dat al sy blinde maal en die skriklike geweld
van groot ontasbre en onstuurbre stroming
waarin ons magteloos met elke wentling spoel,
deursigtig word van jou en skoon in grootheid.
Dan sien ons alles staan as fyn en wondere bloei
van donker-wortelende krag: die mens
[bl. 10]
met hoogheid, liefde en sonde so heerlik
[aangedaan,
sy smart en die ligte bouwerk van sy lyf
wat kamers vir veel skemerende lus en drifte
[het;
dan word geboorte en dood weer skoon
[ontwar,
die goue grense om die liggaam en sy krag.
Die blinde aardse aanwas en vergaan
van stomme dinge maak jy, o Onbegrypbre, lig
en vreugdevol, dat ons die lentes sien
wat teer en yl soos mis skaars aan die heuwels
[raak,
die wind-blou somers, en die wye herfste,
die winters wat stiller en soos lukwartblare glans.
Jy vorm tot jou beeltenis ons dae;
deur jou leer ons die lewe met magtige klippers
[bou
van daad bo daad, tot eindelik, uitgespits,
ons vormlose drif graniet en tydeloos staan.
[bl. 11]
Jy is nie ver, o Beeld- en Naamlose,
maar rondom ons soos lug, soos dag en nag
[gehang;
ons is 'n blinde kus waaroor jy skuim.
Jy vul die oë van enkeles met lig en rustloosheid.
Hoe sal ek jou met name gryp, jy wat so diep
verborge is in ons bloed en buite ons,
en dan weer skielik lig en nakend voor ons
[staan;
hoe sal ek dwaas die laaste woorde sê
wat onuitspreeklike dinge waag: dat jy in ons
wat anders donker is en sonder sin -
die kringloop en die sin van die heelal voltooi.
As ons jou sien volkome, word alles wyd;
dan straal geheimloos en deurskyn die wêreld op
soos somerdae bo die hoëveldsrand,
en weet ons diep: God het een oomblik opgehef
tot tydeloosheid en deur ons sterflike oë
Sy ewige wese en Sy eie vreug aanskou.
[bl 12]