Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 7

AAN DIE SKOONHEID


HOE in die hoë wisselgang van dag en nag, 

die ewige wederkeer van somer, winter, 

die blinde stuiwing van die wyd-gebaande sterre 

kan ons ons weg gaan sonder siddering? 

Want weerloos is ons teen die swaar gebeure van 

die dinge; ons vreugde waai-'n yl-blou lint, 

verlore fladdering - in die strawwe 

[wêreldwinde; 

naak staan ons in die slagreën van die toorn; 

en nors, in staal-blind selfgenoegsaamheid en 

[vrede 

skyn die heelal in kring bo kring gewelf 

oor ons klein smart en liefde en al die lieflikheid 

van oog en oor en sinne menigvoudig. 


Ons is 'n blinde en middernagtelike vrees 

wat al die ligte dae van ons lewe 

die helder weë van die aarde gaan en weet 

dat stilte en verskrikking weerskant lê; 


[bl. 9]


hooghartig stap ons met die wit son op ons oë 

en liefde en trots óm ons verwondbre hart 

as pantser; maar ons weet die pyn is nêrens ver, 

want mens en wêreld is twee vreemde dinge: 

die aarde is heldere kleed van duistere bedoeling, 

op donker dinge sin die mens se hart. 


Hoe kon ons menslik lewe, as jy, o heilige 

[Skoonheid, 

nie ewig aan die vormlose dinge 

gestalte gee en die ster-wit draaikolk van die 

[baaierd 

tot in sy verste eindpunt wit deurlig 

dat al sy blinde maal en die skriklike geweld 

van groot ontasbre en onstuurbre stroming 

waarin ons magteloos met elke wentling spoel, 

deursigtig word van jou en skoon in grootheid. 

Dan sien ons alles staan as fyn en wondere bloei 

van donker-wortelende krag: die mens 


[bl. 10]


met hoogheid, liefde en sonde so heerlik 

[aangedaan, 

sy smart en die ligte bouwerk van sy lyf 

wat kamers vir veel skemerende lus en drifte 

[het; 

dan word geboorte en dood weer skoon 

[ontwar, 

die goue grense om die liggaam en sy krag. 


Die blinde aardse aanwas en vergaan 

van stomme dinge maak jy, o Onbegrypbre, lig 

en vreugdevol, dat ons die lentes sien 

wat teer en yl soos mis skaars aan die heuwels 

[raak, 

die wind-blou somers, en die wye herfste, 

die winters wat stiller en soos lukwartblare glans. 

Jy vorm tot jou beeltenis ons dae; 

deur jou leer ons die lewe met magtige klippers 

[bou 

van daad bo daad, tot eindelik, uitgespits, 

ons vormlose drif graniet en tydeloos staan. 


[bl. 11]


Jy is nie ver, o Beeld- en Naamlose, 

maar rondom ons soos lug, soos dag en nag 

[gehang; 

ons is 'n blinde kus waaroor jy skuim. 

Jy vul die oë van enkeles met lig en rustloosheid. 


Hoe sal ek jou met name gryp, jy wat so diep 

verborge is in ons bloed en buite ons, 

en dan weer skielik lig en nakend voor ons 

[staan; 

hoe sal ek dwaas die laaste woorde sê 

wat onuitspreeklike dinge waag: dat jy in ons 

wat anders donker is en sonder sin -

die kringloop en die sin van die heelal voltooi. 

As ons jou sien volkome, word alles wyd; 

dan straal geheimloos en deurskyn die wêreld op 

soos somerdae bo die hoëveldsrand, 

en weet ons diep: God het een oomblik opgehef 

tot tydeloosheid en deur ons sterflike oë 

Sy ewige wese en Sy eie vreug aanskou. 


[bl 12]

📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…