Woorde het vreemde maniere om te ontaard in drake en smake wat mens dwars in die krop steek wanneer jy dit die minste verwag. Daar was ek nou die ander dag, ‘n paar jaar of wat gelede, ontstig dat ‘n Amerikaner op ‘n platform, voorheen bekend as twitter, my die heel eerste keer uitkryt as “woke”.
Ek dog in my ontsteltenis, “die vermetelheid”, en “hoe durf hy”, maar self durf waag ek nie ‘n antwoord nie, want ek weet nie heeltemal mooi wat “woke” beteken nie en besluit om hom te troef deur uit die argument weg te stap en verdwyn in ‘n trotse, dog ongesiene, stilte, die eter in.
Nooit weer het ek van daardie Amerikaner gehoor nie, maar die woord “woke” het vinniger versprei as VIGS in die jare tagtigs. Of miskien nie so vinnig nie, want dit kom al van die 1930s uit African American vernacular uit. Intussen het ek ‘n beter idee van wat woke beteken, maar die konteks waarin die woord vandag gebruik word, is iets geheel en al anders.
In die begin het ek die woord meer en meer gehoor waar dit gebruik word om die ontwaking van mense vir die gedagte van gelyke regte vir almal te beskryf. Die rein gedagte dat dit nie saak maak wat jou velkleur en/of geslag of seksualtiteit is nie, maar dat jy net soos almal anders, eerstens as “mens” raakgesien word. Dat jy die minimum respek behoort te geniet wat alle mense mekaar behoort te gun in ‘n beskaafde samelewing.
Ek gebruik die woorde “behoort” en “beskaafde”, want die respek waarvan ek praat is nie ‘n gegewe in die natuur nie. Dit is iets waarvoor die mensdom al vir duisende en duisende jare oor geslagte heen werk. Steeds is daardie eienskappe afwesig in heelwat dele van die samelewing vandag. Ek sal selfs argumenteer dat waar hierdie respek teenoor “die ander” ontbreek, dit juis dui op ‘n stagnasie, of selfs ‘n devolusie, in die sosiale ontwikkeling van daardie groep.
Vandag is dit so te sê net die regses, of liewer die verder regses, die alt-right (of kom ons noem hulle die “fahreit” as ons onsself nog vry genoeg kan ag om nuwe woorde te mag skep) wat nog die woord “woke” gebruik. Die lefty liberals het opgehou om die woord te gebruik want die fahreit het die woord omskep in ‘n vloekwoord.
Hoe de hel het dit gebeur? “Woke” wat eers iets cool en avantgarde was, en die voorpunt van sosiale ontwikkeling uitgelig het, die baken van hoe vêr ons as spesie gekom het, val nou as skelwoord uit die bekke van die sosiaal agtergeblewenis, die fahreit, die witter supremiste. Ek vra weer: hoe de hel het dit gebeur?
Laat my toe om ‘n teorie te waag: Die Woord-Onteiening en Kulturele Appropriasie deur die Fahreit (of WOKAF afgekort). WOKAF kortliks beskryf is die “bait and switch” tegniek toegepas in logiese argumente wanneer die feite nie aan jou kant is nie.
Wanneer jy nie kan argumenteer teen die gedagte van “ons behoort almal as gelyke mense gesien en gehanteer te word” nie, dan verander jy die argument na iets anders wat dit duidelik nie is nie om die debat wat jy besig is om te verloor so te vertroebel dat niemand meer weet wat aangaan nie.
Kyk byvoorbeeld na die onverstaanbare uitvaar teen die reënboog vlag. Vir my is die vlag ‘n teken van toleransie en al die verskillende kleure saam dui op een ding: daar is plek vir almal en alle soorte mense. Maar o vader, wat is die teenargumente wat ek hoor: daardie vlag is die teken van satan wat heeldag en nag werk om jou en al jou kinders gay te draai.
Dis duidelik nie wat die vlag beteken nie, maar nou is die ware betekenis van die vlag ge-”bait and switch” en die debat is drie trappe terug die oudedoos ingestuur. Hier moet dit meeding met ongegronde fascistiese vlak een gedagtes soos “moenie gay wees nie dis teen die wil van God”. (God sommer gou ook aangewend om intoleransie te vestig as moraliteit.) So rukkie terug was ons besig om te argumenteer vir toleransie van almal en eensklaps het ons geland op gay wees is somehow verkeerd en gays is die intolerante fasciste wat jou en jou kinders wil dwing om gay te wees? Hoe de hel het dit gebeur?
So met WOKAF wen die intolerante fahreit veld in opposisie teen menslike ontwikkeling. En dis nie net met die woord “woke” wat hierdie fenomeen die debatte vertroebel nie.
Neem byvoorbeeld die woord “liberaal”. Wat ‘n eens mooi woord wat die vryheid van mense en die aanvaarding van almal en hulle idees behels. Selfs Christene en alle mense wat gode aanhang is welkom. Dis so ‘n mooi konsep, “die aanvaarding van almal”, almal behoort dit te aanvaar.
Maar wat is die realiteit? ‘n Liberaal is ‘n heiden volgens die fahreiter. Die “vyand” wat hier is om goeie Christelike Afrikaanse waardes te kom vernietig: “Hulle” (die dônnerse liberals) wil hê “ons” moet gelyk wees aan “almal” en al hulle waardes ook aanvaar? Almal? Soos in ook die gays, die transeksuals ook? Almal? Dis mos onaanvaarbaar! Wat het geword van moraliteit? Dis Adam en Eva soos God dit bestem het, nie Adam en Stefan soos Satan nou kom staan en inmeng nie. Weereens land ons op moraliteit is gelyk aan Bybel is gelyk aan straight. Hoe de hel kry die fahreiter dit reg? Met WOKAF dis hoe.
Die WOKAF van die woord “liberaal” korliks visueel uitbebeeld lyk so iets:
Liberaal = Sosialis = Marxis = Kommunis = Ateïs = Satanis
Sien dit as oëverblindery of kulkuns in ses eenvoudige stappe. As jy begin met “liberaal” wat beteken toleransie teenoor almal, is dit nie te vergesog om te dink maar daardie tipe mens sal ook saam stem met die sosialistiese ideale dat om werklik om te gee vir almal se regte moet samelewing neig na ‘n sosialistiese tipe sisteem waar tegnies gesproke almal na omgesien moet word. Dis nie wat liberalisme beteken nie, maar dis ‘n te vergesogde of groot sprong tussen idees nie.
Dan van sosialisme na kommunisme deur Marxisme is ook maklik genoeg in ‘n debat waar vandag nie almal in die samelewing in die eerste plek die verskille tussen die drie kan onderskei nie. Gou-gou glip die betekenis van die woord weg oor nog ‘n grens al die pad tot na ateïsme, want almal van ons wat die jare tagtigs oorleef het weet van die Rooi Gevaar wat gekom het om jou vryheid en jou godsdiens van jou te roof, dis hoekom jy jouself terug na God moet rig en vir die NP (of dan ten minste die KP) moet stem om hierdie aanslag af te weer. Die konsep “kommunisme” het kultureel gelaai genoeg geraak d.m.v. staatspropaganda om ook vir ons te beteken “anti-godsdiens”. (Ek onthou hoe ons in die NG-kerk gebid het vir die mense agter die ystergordyn en duimvas gehou het dat hulle die Bybels ontvang wat met moeite na hulle gesmokkel toe word. Jy weet, in die goeie ou dae.)
Dan die laaste stappie is moeilik om te begryp as jy ‘n ateïs is, maar heelwat makliker as jy Christelik Nasionaal is. Ek vermoed (ek gebruik daardie woord “vermoed”, want ek sal myself nie so identifiseer nie) vir laasgenoemde is die gedagte dat om die god van die Bybel te misken eintlik die ergste daad wat jy kan pleeg. Alle ander slegte misdade spruit uit daardie eerste godsverraaing uit. Die argument is God is goed, alles wat God ontken is sleg. Daarom is daar nie veel verskil tussen ateïs en satanis nie, dis beide die ontkenning van God en daarom basies dieselfde ding.
Dis dodgy logika om die minste te sê, want ons weet eintlik dat slegs die gelowiges werklik glo in satan, en om ‘n ongelowige as satanis te bestempel is beide oneerlik en vals. Maar dit word gedoen en dis ‘n “onder-die-belt-hou” in die geveg en selfs al sê die skeidsregter so, kan jy nie ‘n hou wat geplant is ont-slaan nie. Die liberal wat styer en juweelvashoudend kreun is op die agtervoet in die geveg. Niemand onthou in die uitslag van die onregverdige voordeel wat uit die vals logika geput word nie. Die aanwending van retoriek het trefkrag selfs al is dit ongeldig.
So word WOKAF toegepas en daar verloor die mensdom nog ‘n mooi woord en ‘n mooi konsep en die intolerantes wen veld selfs al was die debat onbeslis.
Nou dat ons weet hoe WOKAF werk kom ons kyk terug na “woke” om te kyk wat werklik gebeur. Wat is die mense wat wokeness so aanval se sterkste argumente? Dat mense nie gelyk is en daarom nie gelyke behoort te geniet nie? Dis hoe die aanslag vir my voel, maar dis nie ‘n lekker argument om te verdedig nie, so ek glo nie die anti-wokers sal dit so stel nie. Dit voel vir my “wokeness” word as ‘n valse vyand voorgehou om die fahreit se reg tot rassisme, seksisme, dwepery en diskriminasie te beskerm.
Wat is die hoofargument teen wokisme soos dit wel in die openbaar geformuleer word? Dit lei tot “cancel culture” en dit staan direk in teenstand met vryheid van spraak. Werklik? Verbied wokism vryheid van spraak? Hoe? Die anti-wokist het nog steeds die vryheid van spraak en die “kansellasie” wat kom omdat jy die verkeerde ding gesê het is nie omdat jou vryheid van spraak jou ontneem is nie, maar omdat jy verantwoordelik gehou kan word vir die dinge wat jy wel sê.
Waar ek wel voel die hartseer gevolg van wokism aangewend as wapen kan byvoorbeeld gesien word in die Bitterkomix insident waar satiere en genuanseerde politieke kommentaar vereenvoudig en oppervlakkig gelees word op so ‘n manier dat die nuanse verdwyn sodat die werk herinterpreteer word om so te sê die teenoorgestelde te beteken as wat die kunstenaars oorspronklik daardeur wou sê.
Maar is dit wokism se skuld of is dit bloot die mense uit die samelewing wat elke golf in ons denke aanwend as seepkis om op te klim en as selfaangestelde polisie te identifiseer en ander te reguleer? Dit is ‘n fenomeen wat, ek glo, eintlik in direkte teenstand met die oorspronklike idees van wokism funksioneer. Ek voel egter dis ‘n struikelblok wat die mens alreeds besig is om te oorbrug en ek glo en bid dat Bitterkomix sal oorleef en miskien floreer uit hierdie onnodige aanvalle in die naam van politieke korrektheid, want die kunstenaars wat dit geskep het is vindingryk en briljant genoeg om die situasie in hul guns om te keer en so te posisioneer dat die wind van voor met ander invalshoek die seile sal lat bol. Moet ons wokism laat vaar? Of moet ons, die samelewing, net weer na die ware boodskap van die kuns loer?
‘n Groot kritiek teen wokism is dat mans net eenvoudig nie meer mans is nie. Die gevolge is dat gewone mense te na gekom word omdat hulle nie ander mense nou mag noem net wat hulle hulle wil noem nie. M.a.w. die patriargie word ‘n knou toe gedien met hierdie “iets nuuts” waarmee ons nou moet saam lewe en dis onaanvaarbaar. Ai toggie, hoe kleingevoelig maklik seergemaak is die sterker geslag in beheer van die mensdom nie voor die poorte van verandering nie. Mense wat nie met ‘n ander mens kan kommunikeer op ‘n waardige manier wat alle partye respekteer nie is in elk geval ‘n kak mens, ten spyte die politiek van die dag. Ek glo die bestaan van kak mense is die groot probleem met die mensdom, nie die bestaan van trans, gay, bi, of sexually curious mense nie.
Die kritiek: “maar nou wil eens biologies mans teen vroue kompiteer in sport omdat hul as laasgenoemde identifiseer” is myns insiens geldig en ek glo iets wat die mensdom voor antwoorde sal vind soos tyd aangaan. Is hierdie fenomeen egter genoeg van ‘n gewigtige probleem dat ons alle wokism moet laat gaan en sumier afdwing dat slegs mans en vrouens bestaan en jy is of een of die ander? Hoeveel fascisme wil jy op die samelewing afdwing sodat jy verseker kan wees dat jy man en vrou kan onderskei? My persoonlike keuse is, fok die fascisme ek is fine met die geslagsonsekerheid, kom ons dink liewer aan mens se gelukkigheid. As jy wokism veroordeel omdat jy verwar word deur ander mense se geslag of seksualiteit is per my definisie ‘n kak mens.
Die fahreit kry dit te maklik reg om woorde van hul betekenis te beroof en dan die woord as sulks te identifiseer as vyandig soos “woke” of “liberal” of iets goddelik soos “afrikaner” of “boer” maar daardie nuwe betekenisse is ver weg van wat die woorde oorspronklik beteken het. Die woorde is ge-bait en switch, of gewokaf, vir beter Afrikaans. Daarna word die woord selfs aangeval of geprys en ‘n nuwe/ander korter argument word gewen en ons voel almal so klein bietjie dommer want ons verstaan nie presies wat het gebeur nie.
Hoe verdedig ons onsself teen die aanslagte van die fahreit?
Eerstens en myns insiens belangrikste, bly weg van debatte wat nie werklik saak maak nie.
Tweedens, wees versigtig vir mense wat lukrake definisies aanwend wat hul nie verduidelik nie. Ook, wees bewus daarvan waneer iemand ‘n definisie gebruik wat oor grense van betekenis wil gly. Dring aan om te weet wat hulle bedoel met “woke” as hulle die definisie gebruik. Ek sal geld wed dat meeste woke slegs sal definieer as “woke”. Vra spesifiek watter deel van wokeness pla en wag vir al die uhms en ahs om te bedaar en identifiseer daarna waaroor die gesprek werklik gaan.
Wanneer die Godkaart gespeel word is die argument so te sê verby. Hoe weet enige iemand wat is God se wil? Watter god? Die god van die Bybel se moraliteit is bedenklik met al die slawernye, volksmoord en diesmeer. Jy het ‘n konsep van moraliteit van buite die Bybel nodig om te weet watter wette van God om ernstig op te neem en watter die mensdom al ontgroei het. In elk geval, die ware god is maar net ‘n opinie wat van mens tot mens verskil.
Ek is nie hier om lelike woorde soos “woke” en “wokism” te beskerm nie. Ek wens eintlik die woord het nooit bestaan nie. Maar nou dat die woord daar is wil ek vir al die kak mense, wat in elk geval nie hierdie artikel gaan lees nie, dit duidelik maak dat jou gebruik van die woord “woke” staan uit op jou wit-supremisme-bingo-kaart tussen “apartheid was beter” en “all lives matter (except Palestinians)”.