Daar is min liedjies wat soveel mense kan saam sing sonder om ooit werklik te luister, hetsy by die Olimpiese Spele, of gedenkgeleenthede, by rockkonserte, by troues het ek dit al gehoor, maar ook by begrafnisse.
Mense ken elke woord. Hulle neurie die melodie. Hulle hou hul selfone in die lug. Vir 'n paar minute voel dit asof die wêreld inderdaad nader aan mekaar beweeg. Maar ek wonder dikwels hoeveel mense al probeer het om te doen wat die eerste woord van die lied vra.
Imagine...
Verbeel jou.
Dit is al.
John Lennon begin nie met 'n opdrag nie. Hy begin nie met 'n politieke program nie. Hy vra nie dat jy met hom moet saamstem nie. Hy vra net dat jy vir 'n oomblik jou verbeelding gebruik.
Ironies genoeg is dit dalk een van die moeilikste dinge wat mense nog ooit gevra is om te doen. Want die mens verbeel homself maklik as die held van die storie. Hy verbeel homself maklik as die slagoffer. Hy verbeel homself maklik hoe die wêreld beter sou wees as almal net soos hy dink.
Maar om jouself in iemand anders se lewe te verbeel, vra iets anders. Dit vra dat jy jou eie middelpunt vir 'n oomblik prysgee. Miskien is dit waarom empatie altyd moeiliker is as oordeel. Verbeel jou jy word in Zimbabwe gebore. Nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Nie omdat jy minder hard werk nie. Nie omdat jy minder intelligent is nie. Net omdat jou ma op daardie dag toevallig aan die daardie kant van 'n lyn op 'n kaart gewoon het.
Verbeel jou die ekonomie stort ineen. Werk verdwyn. Hospitale raak leeg. Kos raak skaars. Jy sien hoe jou kinders honger raak. Ek onthou hoe my ma gesê het dat sy maklik sou steel as haar kinders honger was. Ek weet nie hoekom ek daardie woorde onthou nie, maar ek doen, en my ma was 'n wonderlike, ordentlike en gesiene mens. Maar die storie gaan nie oor my ma nie. Verbeel jou weer terug in Zimbabwe.
Iemand vertel jou dat daar Suid van die Limpopo dalk werk is. Miskien verdien dit nie baie nie. Miskien net genoeg. Jy vertrek. Nie omdat jy Suid-Afrika wil "vat" nie. Nie omdat jy iemand se werk wil steel nie. Jy vertrek omdat die alternatief erger is.
Hierdie verhaal is nie uniek nie. Dit is waarskynlik so oud soos die mensdom self. Mense beweeg nog altyd na plekke waar hulle hoop is.
Wanneer hierdie mense uiteindelik hier aankom, verander hulle egter dikwels in een woord.
"Illegal."
Dit is 'n interessante woord want dit beskryf 'n regsposisie. Dit sê iets oor dokumente, oor permitte, oor staatsgrense, maar dit sê byna niks oor die mens self nie. 'n Mens kan onwettig parkeer, of onwettig visvang. 'n Mens kan selfs onwettig oor 'n grens beweeg. Ek het al. Twee keer, maar dis 'n verhaal vir 'n ander dag.
Maar wanneer ons begin praat asof 'n mens 'n illegal ís, gebeur iets gevaarlik.
'n Regsstatus begin 'n identiteit word.
En sodra iemand net 'n etiket word, raak empatie maklik oorbodig. Want dan is daardie persoon geklassifiseer.
Dan hoef ons nie meer te wonder wat hy verloor het nie, of hoe moeilis sy lewe is, of waarvoor sy bang is nie.
Dan hoef óns nie meer te wonder hoe haar kinders vanaand gaan eet nie.
Een woord doen al die werk: Daardie persoon het nie die reg om ons (of ons gewete) se probleem te word nie.
Dit is natuurlik waar dat lande wette nodig het. Geen samelewing kan sonder reëls funksioneer nie. Maar daar is 'n verskil tussen die erkenning van 'n wet en die verlies van ons menslikheid. Die wette, myns insiens, is juis daar om mense in vrede te laat saamleef.
Vandag bepaal die wet wie 'n grens mag oorsteek. Maar wat is 'n grens anders as geweldpleging op die ou end? Die gewete behoort steeds te vra wat daardie grens aan 'n mens doen. Die grense maak ander mense ander probleme. Grense maak dat ons vir onsself kan sê dat ons niks kan doen om 'n volksmoor te stop nie. Grense maak hongersnood en al daardie dinge ander mense se probleme sodat ons lekker in ons eie bedjies kan slaap en dat ons slegs met ons eie mense oor ons eie vrede kan baklei.
Miskien lê die grootste gevaar van nasionalisme nie daarin dat dit grense het nie. Miskien lê die gevaar daarin dat dit ons leer om empatie by daardie grense te laat ophou. Dat ons onsself aanleer om te sê:
"Hulle."
Asof daardie een woord miljoene unieke lewens kan opsom.
Politici verstaan iets wat die meeste van ons nie altyd raaksien nie. Wanneer mense moed verloor, soek hulle antwoorde. En wanneer daar nie genoeg antwoorde is nie, werk 'n sondebok dikwels net so goed.
As daar nie genoeg werk is nie, wys iemand na immigrante. En Gayton sê ja, ek sal iets daaran doen, stem net vir my.
As daar nie genoeg huise is nie, wys iemand na buitestanders. En Mashaba sê hy sal hulle uitskop as jy vir hom stem.
As hospitale oorvol is, vra iemand wie uitgegooi moet word. Dit is 'n ou politieke tegniek en dit werk. Nie omdat dit noodwendig waar is nie, maar omdat dit eenvoudig is: 'n Vyand is makliker om te verkoop as 'n oplossing.
Ek skryf dit nie omdat ek glo immigrasie is eenvoudig nie.
Ek weet dit is nie.
Ek skryf dit omdat ek kan sien dat die arme underdog immigrante deur die fatcat politici uitgebuit word en ek vind dit afskuwelik.
Ek is nie 'n ekonoom nie. Ek weet nie presies hoeveel geld Suid-Afrika aan grensbeheer, deportasies en immigrasiebeheer bestee nie. Maar ek wonder dikwels hoeveel skole, klinieke, hoeveel ondernemings, hoeveel werksgeleenthede, met dieselfde politieke/ekonomiese energie gebou kon word.
Selfs al stem iemand nie met my saam nie, bly dit tog 'n vraag wat die moeite werd is om te vra.
Wat gebeur as ons dieselfde passie waarmee ons mense probeer uitsluit, gebruik om geleenthede te skep?
Miskien is die grootste ironie dat ons almal Imagine kan saam sing.
Ons hou van die melodie, die harmonie: Daardie pragtige C9 wat moeiteloos, ritmes die grens oorsteek na die F6 en dan met 'n parmantige chromatiese toonleer weer tuiskom na die C9. Soomloos dog grensverkuiwende komplekse harmoniese eenvoud.
Ons hou van die gevoel. Ons hou van die oomblik wanneer die skare saamsing. Maar sodra die lied verby is, keer ons terug na die wêreld soos ons dit ken.
Na "ons" en "hulle".
Na grense wat nie net lande skei nie, maar ook ons gewetes.
Ek dink nie John Lennon het verwag dat die wêreld eendag sonder grense sou wees nie. Of misken het hy want dis onrealisties om te dink dat daar altyd mense sal wees, en grense is mensgemaak en het mense nodig om te onderhou. Maar ek dink hy het iets moeiliker gevra: Hy het gevra of ons dit ten minste vir 'n oomblik kan verbeel dit was nie so nie.
Of ons kan verbeel dat 'n ander se menslikheid nie afhang of van my kan van die draad afkomstig is nie. Ons almal wil ons menslikheid beskerm, maar hoe menslik is dit om vir 'n ander mens te sê jy hoort nie hier nie.
Ek kry skaam vir die mens wat sy grense aanbid. Want grense is die ware oorsaak van xenofobie. Maar min mense wil die waarheid hoor, hulle wil liewer hoor wat of wie kan hul eie soort voortrek al is dit ten koste van jou medemens wat jy ontken.
Want elke daad van menslikheid begin eers as 'n verbeeldingsoefening.
Die volgende keer wanneer jy Imagine hoor speel, luister nie net na die melodie nie.
Luister na die eerste woord.
En vra jouself eerlik af:
Wanneer laas het ek my werklik in iemand anders se lewe probeer verbeel?
Miskien begin 'n beter wêreld nie by nuwe grense, nuwe regerings of nuwe slagspreuke nie.
Miskien begin dit by daardie een eenvoudige woord.
Imagine.
Teken in om te kommentaar