🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
Terug na Tuis Alle artikels
Afrikaner, wie is jy?

Afrikaner, wie is jy?

“Maar hoekom kan die Afrikaner net nooit saamstaan nie?”  Dit is ‘n vraag wat ek al uit soveel oorde moes hoor of lees. Gewoonlik is dit ‘n retoriese vraag en die gesprek stop gewoonlik net daar en dan of beweeg vinnig genoeg aan na die rugby toe of ‘n stoute grappie word vertel, want wie wil vir ewig mislukkings kontempleer?


Maar laat my toe om met my geskiedeniskennis vol gate ‘n eerlike antwoord op daai vraag te waag. Daarvoor moet ons begin by wat word bedoel met “Afrikaner”. Dis ‘n gelaaide vraag, maar as ons eerlik is sal ons meeste van ons erken dat met “Afrikaner” word bedoel “wit, Afrikaanssprekendes, wat Sondae na ‘n Calvinistiese kerk toe gaan”. volgens https://www.afrikanerbond.co.za/ik-ben-een-afrikaander---junie-2022)


Net met daai definisie het jy my een en ‘n half keer verloor. Een: ek gaan nie Sondae na ‘n Calvinistiese kerk toe nie, en twee, helfte van my familie is nie wit nie. 


Maar met so eng definisie van Afrikanerskap is daar positiewes om weg te neem. Dit lyk (vir baie Suid-Afrikaners) of die Afrikaner tog goed bymekaar staan gemeet aan die homogeniteit van die bevolkingsdemografie van Afrikanerbyeenkomste.   So wat is die probleem?  Al word gesê die Afrikaner kan nie saamstaan nie, is dit duidelik dat hy baie suksesvol saamdrom?


Die probleem vir die Afrikaner is dat daar wit Afrikaanssprekendes is wat nie Afrikaner genoem wil word as die definisie so eng toegepas word nie. As “Afrikaner” nie ook my bruin broers en susters insluit nie, is ek nie ‘n Afrikaner nie, of te wel, as my naaste nie partytjie toe mag kom nie, sal ek nie gaan nie.


Dan hoor ek weer daai stem in die bar op facebook: “Sien dis hulle, daai donnerse Afrikaanse liberaliste wat nie saam met ons kan staan nie! Volksverraaiers!” Meantime is dit hul eie definisie van Afrikanerskap wat die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes uit hul bende sluit. Die ego van die Afrikaner kan nie duld dat daar wit Afrikaanse mense is wat sê “ons is nie almal so nie”*.  


* dankie Jeanne Goosen


Wat mens wel nie kan ignoreer nie, is die sukses van die Afrikaner, asook die voordeel wat die nie-Afrikaner uit die sukses van die Afrikaner put. Die dinge wat die Afrikaner  bou, is ook ten bate van mense wat nie Afrikaners is nie. Die slaggate wat Afriforum vul is nie net vir die bakkies van wit boere nie. Akademia Universiteit gaan geleerdes oplewer wat werk lewer ten bate van almal in Suid-Afrika, nie net wit Afrikaanse mense nie.


Ons grondwet verdedig almal se reg om te assosieer met wie sy wil. Daarom kan ons gerus maar kalmeer en vrede maak met die feit dat die Afrikaner so te sê net met homself wil assosieer. Dis sy volste reg. Die noue bande wat Afrikaners met ander Afrikaners het is benydenswaardig. Ek wens partykeer die res van SA was so lief vir mekaar soos wat die Afrikaner homself liefhet.


Uit hierdie liefde vir homself kom ‘n trots, ‘n volkspatriotisme wat soms handuit kan ruk en ideaal gesproke ‘n bietjie introspeksie verlang, of indien dit nie van binne gebeur nie, ‘n tempering van buite benodig. Soos wanneer die “ons” so cool word dat daar neergekyk word op die ander. Kortom, saamwees is bak, supremisme is minder bak.


Wanneer hierdie ultra-patriotisme die oorhand kry, is wanneer die onmin tussen gemeenskappe ontstaan. Dis wanneer “volksidentiteit” as ‘n wapen aangewend word om as ‘n groep bevoordeel te word ten koste van ander gemeenskappe wat nie dieselfde vermoë het om saam te staan nie. 


Dan gebeur goed soos die teenkanting van opheffing van ander gemeenskappe in die naam van nie-rassigheid” terwyl dit juis die rassigheid van die geskiedenis wat hierdie groep in die magsposisie sit om opheffing so sterk teen te kan staan.


Dis die gesiene wynboer op die land wat die loon van die bruin werker slaafslaag hou, die water van die mense kan afsny, taaiklappe kan uitdeel en uitskel in ongrondwetlike taal. Terwyl die gesiene boer die lof ontvang in gesiene sirkels vir die opbouingswerk wat hy vir die Afrikaner verrig, kweek hierdie selfde aksies onmin, haat en vyandigheid teenoor die Afrikaner tussen die ongesiendes.


En omdat die stemme van hierdie ongesiene gemeenskappe selde gehoor word, is dit met verbasing dat die Afrikaner elke nou en dan uit die monde van mense met kwaai kyke in die oë moet hoor dat die Afrikaner nie die mees geliefde groepering is onder ander Suid-Afrikaners nie.


Dan gaan nie help om die laers te probeer groter trek en die verraaiers, die Afrikaanse liberaliste te probeer paai om te bekeer en terug te keer na die res van die Afrikaners toe nie. Teen die tyd is dit al duidelik vir die res van Suid-Afrika dat “ons nie almal so is nie”. Daar is wel baie wit Afrikaanses wat tuis voel in gemengde SA wat nie presies so tuis voel onder net Afrikaners nie. 


Die res van SA weet reeds daar is Afrikaners wat nie in die eng definisie van Afrikaner inpas nie en selfs distansieer van dáái tipe Afrikaners wat herken word vir wie hulle is wanneer hul houding afdwing en baasskap proklameer en terselfde tyd ander mense minag. Ware bekering kan nie onder dwang plaasvind nie. As jy wil vriende maak, is daar ander maniere.


Die goeie nuus is daar is reeds in SA onder alle geledere ‘n bewussyn van die voortreflikheid van die Afrikaner. Daar is reeds swart mense in Suid-Afrika wat in mooi Afrikaans sal kan erken dat daar wit mense is wat waarde  toevoeg tot die gemeenskap en hul lewens. Alreeds.


Die oplossing vir beide die probleme in die land, sowel as die moeilikheid met Afrikaneridentiteit, is myns insiens voordiehandliggend. 


Ons moet onthou dat vir meeste mense in die land is die ANC die heel beste regering wat hulle nog ooit geken het. Hulle weet nie wat dit is om iets beter as die ANC te hê nie, want die vorige regerings het nie in hulle belange opgetree nie. Geluk by die ongeluk van die ANC is dat die ANC nou al 30 jaar gehad het om te wys hoe sleg hulle is. Die resultaat is ‘n merkwaardige daling in verkiesingsopkoms, van 86% in 1994 tot 66% in 2019. Daar is amper 40% van ons bevolking wat nie voel dis die moeite werd om te gaan stem nie.


Ek sien ‘n geleentheid hierso. In plaas van die Afrikaner veg onder mekaar om wit stemme te werf, herdefinieer die Afrikaner haarself as Afrikaanssprekende van Afrika. Gaan praat dan met alle mense as gelykes. Geen meer skaamte oor die geskiedenis nie, want die geskiedenis bepaal nie meer wie die groep is nie. Die hede doen. 


Daar is tog op die ou end meer van ons wat saamstem oor wat ‘n goeie lewe is. Net so is daar baie onwit mense wat ook lief is vir Afrikaans. Gaan tel al daai verlore stemme van die vloer van vergetenheid op en bou saam om ‘n groter, magtiger groep te wees met een stem uit baie monde vanuit baie oorde.


Maar solank as wat Afrikaner net wit mense beteken, gaan die aansien van die Afrikaner aanhou kwyn en sal hy nooit volkome van die vyandigheid teenoor hom kan ontslae raak nie.


Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek