Ek het ‘n lewensfilosofie wat in kort opgesom kan word as “gedoem tot perfeksie”. Dit beteken basies dat die natuurlike wêreld waarvan ons almal onlosbaar deel is, so veelvlakkig en vol gesofistikeerde sisteme is, dat dit selfs lewe kan onderhou. En nie bloot net lewe nie, maar ‘n ingewikkelde, komplekse tipe lewe wat selfs oor bewussyn en vermoë beskik om oor daardie bestaan in die heelal te besin en dit te besing.
Of mens nou in God glo of nie, jy moet erken die wêreld is asemrowend. Dit is ‘n magiese en asemgewend wonderlike plek. Natuur is dus reeds, sonder dat ons ‘n hand hoef te lig, meer perfek as enigiets wat die mens self kan skep. Daarom is ons dus, myns insiens, reeds deel van die perfekte sisteem, natuur: gedoem tot perfeksie.
Maar dan kyk jy wat die mens op aarde aanvang en wonder of my argument enigsins water hou. Daar is soveel oorlog, lyding, moord en mensgemaakte hongersnood en dit laat my die teenoorgestelde vra: “Is alles nie op die oomblik honderd persent verkeerd nie?” Alles is dan so deurmekaar en die teenoorgestelde van hoe dit moet wees.
Op die VN se Veiligheidsraad, wat konsuis vrede vir die wêreld moet bewaar, sit al die boelies wat die oorloë maak. Ons weet die skietstilstand, wat deur so te sê die hele wêreld ondersteun en verlang word, word telke male deur Amerika geveto.
Die Vereninigde State, wat Irak, Iran, Afghanistan, Sentraal- en Suid-Amerikaanse tans demoniseer, is juis die regering wat daardie lande se regerings op onvreedsame wyse ontwortel het. So ironies dat hulle nou uitvaar teen die “onstabiele” nuwe regerings wat hulle as’t ware bewerkstellig het.
En wie is nog daar wat die grootste sê het oor wêreldvrede? Rusland, wat in ‘n oneindigende oorlog gewikkel is wat húlle begin het. Saam met hulle, Sjina, wat berug is vir hulle onderdrukking van Uyghurs en die besetting van Tibet. Die brose vrede hang ook maar aan ‘n uiterse dun draadjie oor Taiwan. Om van Brittanje nie eers te praat nie! Watter goeie Suid-Afrikaner wil graag vir Brittanje verdedig as ‘n bastion van menseregte en geregtigheid na die oorloë wat hulle hier gevoer het? Dit terwyl ons diamante vandag toe nog in koning Charles se kroon pryk? En moenie dink Frankryk is totaal onskuldig nie, kyk maar net na foie gras!
Hoe dit ook al sy, almal kan sien dat die VN heeltemal impotent is en sal herform moet word as ons doel daarmee wel werklik wêreldvrede is. Geen land wat in die laaste 50 jaar ‘n oorlog begin het behoort op die Veiligheidsraad te dien nie. Dis wat ek voostel, al is ek maar een stem. Tans is die VN soos ‘n organisme met geamputeerde ledemate. Hulle is sigbaar, maar stom. Die politieke afgevaardigdes se duur oorsese trippies New York toe is ‘n groot fanfare maar niks word regtig bewillig nie.
Wanneer het mense geval vir die fopnuus dat VSA op een of ander manier ‘n bastion is vir vryheid en demokrasie? Hulle ontvoer tans mense wat nie met die regering saamstem nie na El Salvador, en hoeveel keer is hulle presidente in die laaste dekades nie deur die meerderheid stemme verkies nie? Hoeveel lande se vrede is deur VSA ontwrig? VSA staan vandag in die pad van wêreldvrede en die hele wêreld behoort terug te druk en die VSA op sy plek te sit as net nog ‘n land en nie die opperheerser van die aarde nie.
Die VSA behoort ook te betaal vir aardsverwarming waarvan hulle die grootste aandeel in die besoedeling het wat dit tot stand gebring het. Maar gaan dit gebeur? Nee, ons weet mos nou al, die wêreld is ‘n onregverdige plek.
Gepraat van ongeregtigheid, die toppunt daarvan is seker wat tans in Palestina aangaan. Israel het letterlik nog 70 mense vermoor op die dag wat Trump gesê het dat hy waardeer dat Israel sy bombardering van Gasa gestaak het. Ironies genoeg, op eie bodem, is dieselfde groep mense wat aandring dat ons nie volksmoord hier moet ontken nie, besig om die volksmoord elders te ontken. Inteendeel, selfs Israel in hul geweld te ondersteun.
Tog bly die Afrikaanse kerke tjoepstil oor die goddelose geweld wat Israel pleeg. Hoekom? Dis mos verkeerd? As jy wil hê iemand moet empatie met jou hê moet jy sekerlik ook empatie met ander hê? Is dit nie wat naaste soos jou self beteken nie? Of is Palestyne net eenvoudig te ver om naaste te wees? Wat sal Jesus daaroor te sê hê, of is ‘n Palestyn net nie Samaritaans genoeg nie?
Dis nie so moeilik om te sien dat Israel die tien gebooie oortree nie. Blykbaar sê die 6de gebod, jy mag nie doodslaan nie. Israel steur haarself glad nie daaraan nie. Israel pleeg volksmoord op ‘n skaal wat my laat sidder. Dis nie ‘n opinie nie, dis die waarheid. Ook sê die 8ste gebod, jy mag nie steel nie. Hierdie hele sogenaamde “oorlog” is eintlik landdiefstal wat in 1948 begin het.
Die 9de gebod sê jy jy mag nie leuens vertel nie. Wie kan nog ‘n woord glo wat Israel vertel? En as jy steeds glo dat dit alles oor Okt 7 gaan, is jy nie besig om die negende gebod teenoor jouself te verbreek nie?
Die 10de gebod sê jy mag nie begeer nie. Dis nou ‘n bietjie laat, want Israel begeer al so lank al die Palestyne se grond dat daar amper niks meer vir die Palstyne oor is nie. Daardie gebod beteken duidelik niks vir Israel nie.
Ek sal self so ver gaan deur te redeneer dat Israel se ego nou so groot is dat hul hulself al verafgod bo God, dus breek hulle volgens my ook die eerste twee gebooie.
Maar hoekom is die Afrikaanse kerke so stil? Dit in ‘n tyd waar die kerk maklik mense veroordeel oor hul seksualiteit wat niemand anders seermaak nie? Ek wil sê die kerk het sy morele kompas verloor, maar dis onakkuraat. Ek dink nie die kerk het nog ooit oor ‘n morele kompas beskik nie. Die kerk se morele kompas het maar nog altyd gewaai in die rigting van die politieke winde van die tyd. Kyk maar byvoorbeeld hoe gemaklik het die kerk gepas, en floreer, in die dae van apartheid.
Die kerk wat versuim om op te staan teen geweld, breek daardeur die derde gebod: hulle gebruik Jesus se naam daagliks en in hoofletters ydel, maar volg nie sy dade nie en laat toe dat ander mense sy naaste te na kom terwyl hulle doodeenvoudig stilbly. Hulle wéét die lidmate wat die geld inbring, wil nie hê dat hulle Israel se volksmoord moet veroordeel nie. Gierig en opportunisties gebruik die kerk die naam van God vir eie gewin en veroordeel wie hul gemeente verlang.
Hoe pas al hierdie dinge wat verkeerd is in die wêreld dan in my lewensfilosofie dat ons gedoem is tot perfeksie in? Dis eintlik heel eenvoudig. Net soos dit 100% natuurlik is dat ‘n springbok moet sterf om die leeu te voed, is dit reg dat die mens in staat is om homself te vernietig, want as die mens nie met homself in vrede kan verkeer nie, verdien hy dan nog steeds om lank hier op aarde te lewe? Wie weet. Al wat ek weet is die natuur gaan vir altyd aan, met of sonder mens daarin, en dis perfek soos dit is.
Teken in om te kommentaar