Anna V is nie die tipe meisie wat ooit mooi netjies binne die lyne sou inkleur nie. Sy’s eerder die een wat met ’n swart marker oor die lyne gaan skryf, ’n sigaret agter haar oor indruk, en dan vir jou ’n song sing wat jou terselfdertyd laat lag, huil en jou eks wil bel.
Gebore met Kuilsrivier se Voortrekkerstraat in haar longe en rebelsheid in haar bloed, het Anna grootgeword tussen garagepartytjies, cheap wyn, harde argumente en mense wat altyd net-net probeer oorleef. Maar tussen al die chaos was daar iets aan haar wat mense nie kon ignoreer nie — daardie skerp tong, gevaarlike humorsin en ’n vreemde soort wysheid wat nie sin maak vir iemand so jonk nie.
Sy’t begin rap en sing lank voor sy ooit gedink het iemand luister regtig. Haar lirieke was rou, snaaks, vuilbek, eerlik en soms ongemaklik akkuraat. Party mense het gedink sy’s te veel. Ander het gedink sy’s presies wat Afrikaanse musiek nodig het.
Toe gebeur die ding wat klink soos iets uit ’n indie film: ná ’n klein underground performance word sy raakgesien deur ’n beweerde gangster wat onmiddellik besef het daar’s iets besonders aan haar. Hy wou keer dat sy ook soos soveel ander talentvolles in die hole van die Plein verdwyn. Hy borg haar studies, en skielik beweeg die Kyla-meisie tussen akademiese sale, literêre kringe en kunsfeeste — sonder om ooit haar edge te verloor.
'n Hoogtepunt is toe Die Wasgoedlyn haar gesien het by 'n park jam en haar gevra het om 'n gedig deur Breyten Breytenbach saam met hulle te doen vir die Wasgoedlyn Woorde projek. Die song se naam, so goed deur Breyten verwoord: "Oupa M'poen" en is nou beskikbaar vir luister en/of aflaai.
Vandag is Anna V een van daardie kunstenaars wat jy nie maklik kan kategoriseer nie. Sy’s alternatiewe rocker, rapper, digter, moeilikheidmaker en storieverteller alles tegelyk. Haar musiek voel soos lipstick op ’n whiskeyglas; slim, sexy, gebreek en gevaarlik eerlik. Sy skryf oor liefde, klas, depressie, seks, identiteit, klein dorpe, groot drome en die vreemde pyn van grootword in Suid-Afrika.
Ouer mense raak soms ongemaklik met haar. Sy vloek te maklik. Sy vra te veel vrae. Sy glimlag wanneer sy nie moet nie. Maar niemand bly lank kwaad vir haar nie, want agter die chaos is daar iets onweerstaanbaar menslik aan Anna — daardie kombinasie van brutal honesty, kinderlike ondeundheid en ’n hart wat baie groter is as wat sy ooit sal erken.
En dalk is dit hoekom mense haar so liefhet.
Anna V laat jou voel asof die wêreld besig is om uitmekaar te val — maar op ’n mooi manier.
laat ons langs die strate hardloop
my beminde
want dis skemer en hittig en
daar is blommetjies in die bome
dis waar, die vooraande word steeds
uitgebleikter en die motoriste blyer en
ek het so ‘n geweldige lus om
met vlerkende jaspante verby die reiereenbeen
gloeikop lamppale te snel
so- en totdat die kreukels
van die brein uitgestryk blink en
boepens kan bot soos huisies kneukels want
daar is goetertjies in die bome
en dis teeskemer en vrouwarm
my beminde kom
laat ons langs die strate hardloop
alles wat ooit bestaan het
alles wat ooit gelewe het
alles wat ‘n ruimte laat bewe
om ‘n merk te laat
vir die vergeet
van altyd se asem
en daarom vir altyd sal wees
want al manier om die lewe
verby vashou te onthou
is om dit veilig te bêre
onder die pols-sing van maanvergeet –
elke asemteug grasspriet goejop wolk
voëlsang wolk potlood lied
tong en wolk volk
is boeddha my boet pampoen
en vrek enige pretensie
van vlug in ons drome
alles wat bloei tot boeddhawees
is pampoenmaan
en jy net (‘n) bewuswording
om onder
om op
te gaan in die lewe
en so te bly bewe in die dood
jy mag maar huil
want alles huil
in stilte se syn
jy mag maar al uitkringende
sing-sing intiem by nie-syn ingaan
daarom : indien jy boeddha
teenkom op die weg na Kû :
maak hom dood
met al die liefde
van jou vergaanbestaan
en éét daai soetpampoen !
*

*



*
‘n man wat praat
is ‘n besmette man :
om te lewe ‘n daad
van aanvulling van
onomvatbare materialiteit
soos ‘n planeet in beweging gebaan
aanhou verbrokkel
en verdwyn in die niet
en die onvoorstelbare virtualiteit se bestaan :
om stil te wil staan
in die ewigheidsbewing van aanhou vergaan :
om as asem na long te soek
en in vervlieting wat nood is te vloek op die tong
se vlug van verbeelding na die skyn van sin
se daarom-om en om om te om
sonder sang
uit kromme note gehaal
die les te leer :
dat die self ‘n fles is:
leeg gedrink op soek
na syn
se so-ek : die maan-neerslag
van die naam
van die man
wat gedog het dis wyn :
soos ‘n god se piepie
‘n straaltjie pyn
om die leeg
weer vol te kan
skink
met niks
se skyn
van die niet se verdwyn ?
want verby die punt van terugkeer
is pampoen weer pampoen
skoen skoen
soen soen
die seisoen van sterwe
en die hand ‘n ekkende sweer:
is
is-ek
insek
of inkbek ?
moenie
nou wanneer
woordvrek
op hande is
in die hek
wil kak nie
meneer…
voertsek !
Kontak Anna V direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.