Carel van der Merwe is ’n gebore en getoë Karoo-skaapboerseun en die vyfde geslag van der Merwe in die Roggeveld. Hy het groot geword op die Nuweveldvlaktes – dieselfde landskap wat A.G. Visser so treffend in “Terug na die Karoo” besing het.
Tans woon hy op die prag familieplaas, Fransplaas, op die Roggeveld. Sy familie se historiese bande met die Louws van Sutherland, loop diep: sy oupa Callie was ’n tydgenoot en speelmaat van die Louw-seuns, terwyl oom Moltke Louw (NP van Wyk Louw se vader) in die laat 1800s die van der Merwes se vertroueling en prokureur was. Hierdie ryk Karoo-erfenis, met sy eiesoortige kultuur en letterkunde, vorm die wortel van Carel se lewensbeskouing.
Carel het wyd beweeg en nagraadse studies voltooi aan een van Engeland se oudste en mees gerespekteerde universiteite, waar hy twee meestersgrade verwerf het. Die burgers van die staat Tennessee, het ook ’n ere-burgerskap aan hom toegeken.
Sy entrepreneurstog het hom in die tegnologieveld laat uitblink, onder meer deur vroeë innovasies in draadlose kommunikasie, alhoewel hy dit altyd beskou as deel van ’n spanpoging en ’n tydperk van nuuskierigheid en geleenthede. So het sy maatskappy 26 jaar gelede die eerste WiFi na Suid-Afrika gebring.
Deur sy lewe het Carel ’n passie behou vir die balans tussen die fisiese en geestelike, met ’n besondere liefde vir die landbou en die Karoo. Skryf bly een van sy grootste liefdes. Verskeie gedigte het reeds uit sy pen gevloei, waaronder “Die Kro se Blom”, “Dis Al”, “Die Verganklike Wingerdstok” en “Gecko Roep”. Carel glo veral in die vrye-kuns van dig waar die vryheid om jou deur die kuns uit te leef belangriker is dan die vrese vir korrektheid.
Carel glo sterk in kulturele innovering en die verantwoordelikheid om oordrag daarvan te fasiliteer as noodsaaklike bronne vir ’n volk en gemeenskap se selfstandige voortbestaan - ’n oortuiging wat deels voortbou op volkseie wyshede wat onder andere deur die letterkunde gekommunikeer word en ’n lewe van praktiese leierskap en diens.
As lid van die bestuur van die Sentrum vir Digkuns by die Louwhuis & Museum wil Carel help om ’n ruimte te skep waar die Afrikaanse woordekuns nie net bewaar word nie, maar bly leef en vernuwe.
In die stilte van die Roggeveld en die ritme van poësie dra hy by tot ’n tuiste waar nuwe en ou stemme mekaar kan ontmoet en waar die Karoo se stories voortgaan om te resoneer. Hy bring so aan die Sentrum ’n unieke mengsel van entrepreneursdryfkrag, kulturele trots, praktiese en innoverende leierskap en ’n egte digtershart - alles gewortel in one eie Karoo.
Kontak Carel van der Merwe direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.