🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
Terug na Lede
Joan van Zyl
Joan van Zyl
Admin

Joan van Zyl is ’n semi-afgetrede Suid-Afrikaanse joernalis, redakteur, teksredigeerder en vryskutskrywer wat in Kaapstad, Suid-Afrika woon. Sy werk in die media- en joernalistieke sektor met ‘n fokus op teksredigering, digitale media en kommentaar oor samelewingsake.

Joan se loopbaan fokus op joernalistieke inhoud, redigering en kommentaar, wat insluit navorsing-skryfwerk wat relevant is vir hedendaagse sake in Suid-Afrika. Sy is ook betrokke by Huisgenoot se skoolblaaie en die ouerskapstydskrif Baba + Kleuter. Haar skryfstyl is duidelik, reflektief en fokus dikwels op hoe mense op samelewingsoptredes en mediagebruik reageer. Haar belangstellingsveld sluit in sosoiale media, Afrikaanse media en disinformasie. Sy probeer ook waar moontlik in die Afrikaanse joernalistiek terugploeg.

Haar persoonlike profiel elders noem dat sy “’n taalpersoon is en ma van Wynand Wonderkind, die seun wat oorleef het nadat hy op 24 weke gebore is".

Onlangse artikels:

  1. Unmasking Covid’s amateur hour – Vrye Weekblad.com (met Angela Tuck) – 21 Maart 2024 

  2. Donald Trump and his Magafrikaners – Vrye Weekblad – 4 Januarie 2024 

  3. Links of regs: wie kraai koning op sosiale media? – Binne + Land – 20 Mei 2026


Lid sedert 30 Nov -0001
2
Afrikaners vir Suid-Afrika
Admin Moderator 1750 Lede
<p><strong>Wie en wat ons is</strong></p><p><br></p><p>Hierdie forum het ontstaan uit ’n verklaring waarin 48 progressiewe Afrikaners hul kommer uitgespreek het oor disinformasie dat Afrikaners slagoffers van ’n beweerde volksmoord is en oor die algemeen in Suid-Afrika te na gekom word. Hierdie d...
Ander Lede
1
Links of regs: Wie kraai koning op sosiale media?
Waarom klink konserwatiewe stemme dikwels soveel harder op sosiale media?
👁 702 lesers

Links of regs: Wie kraai koning op sosiale media?

Waarom klink konserwatiewe stemme dikwels soveel harder op sosiale media?

Links of regs: Wie kraai koning op sosiale media?

ONTHOU julle nog die begindae van sosiale media? Dit was veronderstel om die groot demokratiese speelgrond van ons tyd te wees – 'n plek waar gewone mense idees kon uitruil, sinvolle gesprekke kon voer en dalk selfs die gehalte van die nasionale debat 'n hupstoot kon gee.

Maar fast forward na twee dekades later, en sosiale media voel eerder soos 'n aanlyn moddergeveg waar toetsbordsoldaatjies mekaar 24/7 met meme en woedende woorde bestook. Party verstandige mense het al geleer om verby te hou. Ons ander stommerikke hou egter aan terugkeer na die digitale slagveld, half uit gewoonte, half uit veglus, en in my geval dikwels omdat ek steeds iewers bly hoop dat feite en logika die groeiende disinformasiedraak kan onthoof.

Wel, spoiler alert: Dit gaan nooit gebeur nie. Logika en gesonde verstand is eenvoudig nie opgewasse teen emosie nie, en nog minder teen algoritmes. Uiteindelik verpletter aanlyn woede en verontwaardiging alles in hul pad.

Regs- én linksgesindes kan natuurlik ewe onverdraagsaam, ongepoets en ideologies verblind wees. Maar kry hulle ewe veel lugtyd? Strek hul aanlyn tentakels ewe wyd? Of pas sekere politieke oortuigings eenvoudig beter by dit wat sosiale media kan bied?

Daai is my vraag. Ek weet ek loop die gevaar om 'n ingewikkelde politieke ekostelsel tot 'n eenvoudige en verdelende stryd tussen links en regs te reduseer. Maar as iemand wat net een keer te veel op sosiale media as 'n seksueel gefrustreerde, volksverraaiende, liberale stuk gemors uitgeskel is, wil ek weet: Hoekom voel dit of aanlyn regse stemme soveel misliker en meer alomteenwoordig is as dié van hul linkse eweknieë?

Of – is daar dalk lesse wat ons by die regterkant kan gaan leer...?

Les 1: Emosies werk, logika nié

Dit moet ons nou maar aanvaar. Hoe meer logies ons redeneer, hoe meer klem ons op akkuraatheid lê, hoe meer gaap sosiale platforms. Gewoonlik is dit egter nie spesifieke inhoud wat 'n plasing meer of minder sigbaar maak nie. Die geheim lê by die styl waarin die inhoud aangebied word – hoe meer emosioneel, sensasioneel en opruiend, hoe beter. Dis emosies wat die meeste mense op 'n plasing laat klik, daarop laat reageer en dit laat deel. Hoe meer mense hulle met die plasing bemoei, hoe hoër word dit teen jou sosiale blad opgeskop, en hoe blitsiger en wyer versprei die algoritme dit. ('n Algoritme is 'n stel reëls wat platforms gebruik om te besluit watter boodskappe meer aandag kry en wat jy eerste behoort te sien.)

Die koning van aanlyn emosies is woede. Soos die sêding lui: If it enrages, it engages. Plasings wat woede ontlok, word vinniger en verder gedeel. Dis 'n les wat veral regsgesinde politici, beïnvloeders en media al geleer het: As jy woede opstook en versprei, staan sosiale media se algoritmes gereed om jou boodskap met groot geesdrif verder te voer.

Algoritmes beloon emosie, betrokkenheid en deelname. Nuanse of die waarheid gaan jou nie ver bring nie; oorvereenvoudigde boodskappe en vinnige reaksies wel.

Ander emosies soos angstigheid of vrees help ook boodskappe aan – kyk maar hoe suksesvol Solidariteit en AfriForum (deesdae meer bekend as AfriSol) vrees vir kulturele verval en wit marginalisering inspan om hul ledegemeenskap saam te snoer.

Maar as jy sosiale media se algoritmes wil manipuleer, bly woede jou beste brandstof.

Die gesig van aanlyn woede. Die Amerikaanse podsending-gasheer Dan Bongino (voorheen mede-adjunkdirekteur van die FBI) gaan gal af. Foto: YouTube

Jy hoef eintlik net 'n paar minute op sosiale media deur te bring om te sien watter onderwerpe die vinnigste aanlyn ontplof. Internasionaal is dit immigrasie, identiteitspolitiek, oorlog, politieke konflik en openbare krisisse wat die grootste storms veroorsaak. In Afrikaanse omgewings laat plaasgeweld, grondhervorming en 'n beweerde miskenning van Afrikaans en Afrikaanssprekendes die gemoedere hoog loop. Voeg daarby Trump se doen en late, die oorloë in die Midde-Ooste en selfs Europa se immigrasievraagstuk, en jy het die perfekte resep vir die soort verontwaardiging waarvan algoritmes hou.

Jaco Kleynhans, Solidariteit se skakelhoof, waarsku implisiet op X oor die "gevare" van immigrante vir Europa. Hou net in gedagte dat die syfers wat hy hier noem soos 'n veldbrand deur sosiale media versprei het, maar dat dit ongeverifieer en dus verdag is. Sy bron, rmx.news, moet ook met 'n knip sout geneem word. Dit kom uit die dampkring van die ver-regse en korrupte vorige Hongaarse leier Viktor Orbán en kan met radikaal regse Amerikaanse media soos Breitbart vergelyk word. Dis die soort emosioneel gegronde, halfgebakte inligting wat gebruikers woedend genoeg maak om die storie verder te versprei sonder om eers krities met die inligting om te gaan.

Les 2. Populisme en polarisasie

Populisme is 'n politieke benadering wat die wêreld beskou as 'n stryd tussen "gewone mense" en 'n elite wat uit voeling geraak het en dikwels korrup ook is. Ingewikkelde probleme word oorvereenvoudig, kommunikasie is emosiebelaai, en daar is 'n fokus op 'n sterk groepidentiteit, oftewel "ons" teenoor hulle. "Ons" is die "in-groep", wat onsself stilletjies beter ag as "hulle", die "uit-groep".

Populiste blaas graag woede aan. Hulle doen dit deur die elites te blameer, immigrante en ander buitestanders te teiken, en instellings, veral regeringsinstellings, aan te val. As jy gewonder het hoekom AfriSol byvoorbeeld hul mes in het vir amper alle joernaliste en media behalwe hul eie – dit maak deel uit van die populistiese verdagmaking van "elite-groepe".

Jy hoef nie baie ver te soek om 'n groot verskeidenheid voorbeelde van populisme te vind nie, van die Britse aktivis Tommy Robinson se anti-immigrasieoptog die afgelope naweek in Londen tot emosionele verhale van Afrikaners as 'n bedreigde minderheidsgroep en die slagoffers van 'n swart regering.

Populistiese verhale is geneig om konteks te ignoreer en inligting te oorvereenvoudig en te verdraai. Omdat die samelewing as "ons" en "hulle" gepolariseer word, heers daar vyandigheid teenoor die uit-groep, of dit nou die ANC-regering, die EFF, die libs, of enigiemand met 'n opponerende ideologie is. Hoe meer vyandigheid, hoe groter is die kans op 'n stortvloed woedende reaksies.

Die kombinasie van populisme en polarisasie maak sosiale media nie net 'n meer onbeskofte, vyandige en toksiese plek nie, dit skep ook die ideale omgewing waarin disinformasie kan floreer. Sodra mense emosioneel op loop gaan, is hulle baie meer geneig om inligting te glo en aan te stuur wat hul bestaande wêreldbeskouing bevestig, eerder as dat hulle dit eers rustig ontleed en krities bevraagteken.

Wie regeer dus sosiale media?

Amper al die navorsing en studies wat ek gelees het, plaas die kroon vierkant op konserwatiewes se kop. Konserwatiewe aanlyn kommunikasie is meer polariserend en partydig, en ontwerp om gebruikers emosioneel te mobiliseer. Dit maak verreweg die beste gebruik van algoritmiese eienskappe, wat daartoe lei dat konserwatiewe aanlyn gemeenskappe baie emosioneel, gepolariseer en identiteitsgerig is – en baie gretig om deel te neem. Hulle is meer aktief aanlyn, reageer vinniger en produseer meer inhoud.

Regse kommunikeerders het meestal 'n populistiese benadering en weet watter emosionele knoppies om te druk en hoe om vinnige, virale aanlyn reaksies uit te lok. Hulle verstaan hoe om woedesnellers soos byvoorbeeld immigrasie (oorsee) of grondhervorming (in die Afrikaanse gemeenskap) te trek en so hul volgelinge te mobiliseer en mettertyd tot 'n gemeenskap saam te snoer.

Linksgesindes is uiteraard nie immuun teen polarisasie, populisme of woede nie – veral nie ver-linkses nie – maar volgens navorsers lyk dit tog of hulle minder doelbewus daarop staatmaak. Liberale leiers sal eerder op beleid as op emosies fokus (ek hoor al die algoritme gaap). Hulle verkies beredenering bo populisme en raak gefrustreerd as dit nie werk nie. Hulle hou van 'n meer genuanseerde aanslag wat emosioneel minder simplisties is. En as die gesprek onaangenaam raak, sal hulle eerder wegstap as voortveg, wat die indruk kan skep dat hulle aanlyn getalle kleiner is.

Anders as regsgesindes, kan linksgesindes die internet ook as meer emosioneel uitputtend ervaar, as meer konfronterend en meer besaai met vyandige inligting. Desondanks is hulle oper vir 'n groter verskeidenheid inligting en deel hulle dit ook, terwyl regsgesindes hul aanlyn in-groepe as geselskap verkies.

Tyd vir balans: Ek skryf hier uiteraard in breë trekke. 'n Mens moet in gedagte hou dat mense oor die hele politieke spektrum maar sukkel om deur hul vooroordele te breek, en steeds die soort inligting verkies wat hulle gemaklik laat voel en hul oortuigings bevestig. Almal word emosioneel deur sosialemedia-inhoud beïnvloed, al word regse emosies meer spesifiek geteiken.

Wat moet progressiewes doen?

Dis duidelik dat linksgesindes heelwat by regsgesindes kan leer oor hoe om hul boodskap aanlyn uit te kry. Baie progressiewes trek steeds hul neus op vir populisme, simplistiese slagspreuke en emosionele retoriek, maar die ongemaklike waarheid is dat hierdie dinge eenvoudig beter werk op sosiale media as genuanseerde argumente en lang verduidelikings. Algoritmes beloon immers nie noodwendig die mees deurdagte inhoud nie, maar die inhoud wat mense die vinnigste kwaad, bang of moreel verontwaardig maak.

En selfs al wil 'n mens nie in daardie styl verval nie, is daar beslis iets te leer uit hoe doeltreffend regse digitale netwerke georganiseer is. Hul ekostelsels versterk mekaar se boodskappe, koördineer narratiewe vinnig en benut die algoritmes met indrukwekkende vaardigheid. Regsgesinde media, beïnvloeders, videokanale, Facebook-groepe en X-profiele funksioneer dikwels soos 'n geïntegreerde netwerk waar dieselfde emosioneel gelaaide boodskappe voortdurend herhaal, versterk en aangejaag word tot dit voel of dit al is wat jy sien.

Linksgesindes, daarenteen, lyk dikwels meer gefragmenteerd, meer skepties oor populistiese taktieke en minder bereid om hulself rondom eenvoudige, emosioneel kragtige verhale te mobiliseer.

'n Laaste gedagte

Miskien is dit die grootste ironie van sosiale media: Die tegnologie wat veronderstel was om die demokratiese gesprek te verbreed, maak dit nou moeiliker om die demokratiese gesprek te voer. Hoe meer ons aanlyn gesprekke deur woede, verontwaardiging en stamgevegte oorheers word, hoe moeiliker word dit om mense met ander politieke beskouings nog as medeburgers eerder as vyande te beskou. Navorsing wys immers dat voortdurende emosionele vyandigheid nie net polarisering en disinformasie aanhelp nie, maar ook mense se persepsie van die openbare mening skeeftrek en gewone gebruikers stil-stil uit die gesprek dryf. Baie mense onttrek eenvoudig omdat die atmosfeer te giftig, aggressief en uitputtend word.

En dalk is dit uiteindelik die werklike gevaar van die algoritmes van verontwaardiging: nie net dat hulle die hardste, kwaaiste en mees polariserende stemme versterk nie, maar dat hulle die stiller, meer redelike stemme stadig doodsmoor. 'n Demokrasie kan goed oorleef as mense van mekaar verskil. Wat dit moeiliker oorleef, is wanneer niemand meer belangstel om die kloof tussen "ons" en "hulle" oor te steek nie.

Naskrif: Ek het terme soos "regs" en "konserwatief" aan die een kant, en "links", “liberaal”, en “progressief” aan die ander kant, uitruilbaar gebruik. "Progressief" is byvoorbeeld nie verder links as "liberaal" nie. (In die literatuur oor sosiale media word dikwels net "liberaal" en "konserwatief" gebruik.)

HIERDIE ARTIKEL HET EERSTE OP BINNE-LAND.CO.ZA VERSKYN.

Stuur Boodskap

Kontak Joan van Zyl direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek