Titel van die projek
DigAlex NPC
Die digitale Alexandra: ʼn Digitale biblioteek van Suid-Afrikaanse tale, letterkunde en kultuurgeskiedenis
Projekbeskrywing
Die doel van hierdie projek is om ʼn digitale biblioteek van inheemse Suid-Afrikaanse tale, letterkunde en kultuurgeskiedenis op te rig, te bedryf, uit te brei en in stand te hou. Dit word ontwerp as ʼn oop digitale biblioteek wat (sover moontlik) gratis toegang bied vir lesers, studente en navorsers. Die Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse letteren (www.dbnl.org) dien as model hiervoor.
Rasionaal
Die groot kulturele kapitaal opgesluit in Suid- Afrikaanse taal-, letterkunde- en kultuurtekste word toenemend ontoeganklik, omdat boeke nie herdruk word nie.
Die praktiese beskikbare kanon van die ryk Suid-Afrikaanse tekserfenis is daarom tans baie klein en kan selfs verdwyn.
Daar is min boeke beskikbaar vir lesers en vir onderrig in die inheemse tale in skole en op universiteit.
In digitale vorm kan boeke maklik versprei en maklik baie wyd toeganklik gemaak word – wat baie belangrik is in ʼn land met ʼn lae geletterdheidspeil.
Boeke is verganklik en blootgestel aan brand- en waterskade. ʼn Digitale biblioteek is ʼn belangrike manier om die tekserfenis te verseker vir die toekoms.
ʼn Goed gekureerde digitale biblioteek is ʼn besonder waardevolle hulpbron vir lesers, studente en navorsers. Dit is ’n lewende projek waarby nuwe tekste/materiaal voortdurend bygevoeg sal kan word.
Hedendaagse inligtingstegnologie maak so 'n biblioteek haalbaar en volhoubaar.
Die openbare viering van 100 jaar Afrikaans as ʼn amptelike taal in 2025, asook ander vierings soos die 200 jaar wat Xhosa al ʼn gedrukte taal is, skep unieke geleenthede om so ʼn breë Suid-Afrikaanse projek te lanseer en wye openbare steun daarvoor te mobiliseer
Gebruikersopname
ʼn Elektroniese opname is onder lede van die ALV en SALALS (die linguistevereniging) gemaak.
Meer as 80% van die respondente het gemeen daar is ʼn behoefte aan ʼn digitale biblioteek
Die behoefte is veral aan toegang tot tekste as noodsaaklike hulpbron vir navorsing en vir die bewaring van die erfenis.
Die respondente wil veral boeke aanlyn kan lees of aflaai en artikels kan aflaai.
Hulle verkies om die tekste in pdf-formaat op hulle skootrekenaars te lees.
3,6% van hulle was bereid om te betaal om die biblioteek te gebruik en 3,4% was bereid om ʼn vrywillige bydrae tot die biblioteek te maak.
Die vernaamste funksies wat die biblioteek moet bied, is bronne- en datasoektogte, vergelyking van tekste en korpusanalise.
Hulle meen die laaste uitgawe deur die outeur goedgekeur moet ingesluit word of daar moet per boek individueel besluit word.
76% van hulle was ten gunste van die opname van al die inheemse tale in die biblioteek.
24 van hulle was bereid om saam te werk aan die projek as vakkundiges, redakteurs of proeflesers.
Die proses
Die oprig van die biblioteek hou in dat ʼn beduidende hoeveelheid tekste geskandeer, omgesit word in leesbare teks (OCR-proses), geredigeer, verwerk word tot rekenaarleesbare vorm en beskikbaar gemaak word deur middel van ’n aanlynplatform. Erkende protokolle en standaarde sal gevolg word in die keuse van tekste en in die digitalisering, bewaring en beskikbaarstelling daarvan op die Internet.
Om doelmatig te wees, sal die biblioteek ook oor ʼn lang termyn instandgehou en aangevul moet word.
Deelnemers aan die projek
Die projek word gesamentlik bedryf deur SADiLaR en personeel van die Noordwes-Universiteit met die samewerking van NUUSEUM, NALN, en vrywilligers.
Die Nasionale Biblioteek, asook met Universiteit Pretoria en Noordwes-Universiteit se biblioteekdienste, werk reeds informeel saam aan die projek. Memorandums van ooreenkoms moet nog opgestel word.
Bestuur
DigAlex NPC, ʼn maatskappy sonder winsbejag, is geregistreer om as tuiste van die projek te dien. Die direksie bestaan uit prof. H.M. Viljoen (NWU-tale, voorsitter), dr. Adri Jansen (NWU-biblioteekdienste), dr. Lizabé Lambrechts (NUUSEUM, mnr Wyno Simes (NALN) en mnr. Juan Steyn (SADiLaR). Die ideaal is om ʼn voltydse projekbestuurder aan te stel om die projek bedryf. Taakspanne vir Digitalisering en redigering, Bedryf, Tegniese operasies, en Bemarking sal hom of haar bystaan.
Bykomende IT-kundigheid sal ingekoop word om die projek te lanseer en te bedryf. In die eerste fase sal ook swaar op die werk van vrywilligers gesteun moet word.
Voorgestelde inhoud
In die eerste fase van die projek (die eerste drie jaar) sal die fokus val ʼn kern- of studieversameling van tekste wat uit druk is en nie digitaal beskikbaar is nie en op tekste wat dringend nodig is vir voorskryfdoeleindes.
Aanvanklik word beplan om 100 tekste in elke inheemse taal beskikbaar te stel.
Oor die langer termyn kan die platform verder ontwikkel word om rekenaarnavorsing (bv. korpusondersoek) in taal- en letterkunde en kultuurgeskiedenis moontlik te maak.
Later kan ʼn vertaalmodule bygevoeg word om vertaling en vergelyking tussen tale en letterkundes moontlik te maak
Demonstrasiebladsy
ʼn Demonstrasie-webwerf word in Google Sites ontwikkel. Dit is nog nie gepubliseer nie, maar kan aan belangstellendes getoon word.
Bestaande webwerwe soos die Digitale Bibliotheek van de Nederlandse letteren (dbnl.org) en Literature Online (https://about.proquest.com/en/products-services/literature_online/) toon die potensiaal van so ʼn digitale biblioteek.
Begroting
Vir die eerste fase, die eerste drie jaar, word die begroting geraam op R3 miljoen per jaar.
Voorgestelde befondsingsmodel
Afgesien van aansoeke by erkende befondsers, sal die publiek ook gemobiliseer word om by te dra tot 'n sentrale fonds wat sal verseker dat die projek volhoubaar sal wees.
Ondersteuners
Binne hierdie raamwerk het ʼn wye reeks organisasies reeds hulle steun uitgespreek vir die projek. Dit sluit in die SA Akademie, die Afrikaanse Taalraad, die Afrikaanse Letterkundevereniging, LitNet, die departemente Afrikaans en Nederlands van US en die NWU, NALN, en die Poëziecentrum in Gent.