🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
Artikels 8
Imagine
Imagine
Hoekom die moeilikste woord in John Lennon se bekendste lied dalk die heel eerste een is.
Riku Lätti 12 Jul 2026 149

Imagine

Hoekom die moeilikste woord in John Lennon se bekendste lied dalk die heel eerste een is.

Imagine

Daar is min liedjies wat soveel mense kan saam sing sonder om ooit werklik te luister, hetsy by die Olimpiese Spele, of gedenkgeleenthede, by rockkonserte, by troues het ek dit al gehoor, maar ook by begrafnisse.

Mense ken elke woord. Hulle neurie die melodie. Hulle hou hul selfone in die lug. Vir 'n paar minute voel dit asof die wêreld inderdaad nader aan mekaar beweeg. Maar ek wonder dikwels hoeveel mense al probeer het om te doen wat die eerste woord van die lied vra.

Imagine...

Verbeel jou.

Dit is al.

John Lennon begin nie met 'n opdrag nie. Hy begin nie met 'n politieke program nie. Hy vra nie dat jy met hom moet saamstem nie. Hy vra net dat jy vir 'n oomblik jou verbeelding gebruik.

Ironies genoeg is dit dalk een van die moeilikste dinge wat mense nog ooit gevra is om te doen. Want die mens verbeel homself maklik as die held van die storie. Hy verbeel homself maklik as die slagoffer. Hy verbeel homself maklik hoe die wêreld beter sou wees as almal net soos hy dink.

Maar om jouself in iemand anders se lewe te verbeel, vra iets anders. Dit vra dat jy jou eie middelpunt vir 'n oomblik prysgee. Miskien is dit waarom empatie altyd moeiliker is as oordeel. Verbeel jou jy word in Zimbabwe gebore. Nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Nie omdat jy minder hard werk nie. Nie omdat jy minder intelligent is nie. Net omdat jou ma op daardie dag toevallig aan die daardie kant van 'n lyn op 'n kaart gewoon het.

Verbeel jou die ekonomie stort ineen. Werk verdwyn. Hospitale raak leeg. Kos raak skaars. Jy sien hoe jou kinders honger raak. Ek onthou hoe my ma gesê het dat sy maklik sou steel as haar kinders honger was. Ek weet nie hoekom ek daardie woorde onthou nie, maar ek doen, en my ma was 'n wonderlike, ordentlike en gesiene mens. Maar die storie gaan nie oor my ma nie. Verbeel jou weer terug in Zimbabwe.

Iemand vertel jou dat daar Suid van die Limpopo dalk werk is. Miskien verdien dit nie baie nie. Miskien net genoeg. Jy vertrek. Nie omdat jy Suid-Afrika wil "vat" nie. Nie omdat jy iemand se werk wil steel nie. Jy vertrek omdat die alternatief erger is.

Hierdie verhaal is nie uniek nie. Dit is waarskynlik so oud soos die mensdom self. Mense beweeg nog altyd na plekke waar hulle hoop is.

Wanneer hierdie mense uiteindelik hier aankom, verander hulle egter dikwels in een woord.

"Illegal."

Dit is 'n interessante woord want dit beskryf 'n regsposisie. Dit sê iets oor dokumente, oor permitte, oor staatsgrense, maar dit sê byna niks oor die mens self nie. 'n Mens kan onwettig parkeer, of onwettig visvang. 'n Mens kan selfs onwettig oor 'n grens beweeg. Ek het al. Twee keer, maar dis 'n verhaal vir 'n ander dag.

Maar wanneer ons begin praat asof 'n mens 'n illegal ís, gebeur iets gevaarlik.

'n Regsstatus begin 'n identiteit word.

En sodra iemand net 'n etiket word, raak empatie maklik oorbodig. Want dan is daardie persoon geklassifiseer.

Dan hoef ons nie meer te wonder wat hy verloor het nie, of hoe moeilis sy lewe is, of waarvoor sy bang is nie.

Dan hoef óns nie meer te wonder hoe haar kinders vanaand gaan eet nie.

Een woord doen al die werk: Daardie persoon het nie die reg om ons (of ons gewete) se probleem te word nie.

Dit is natuurlik waar dat lande wette nodig het. Geen samelewing kan sonder reëls funksioneer nie. Maar daar is 'n verskil tussen die erkenning van 'n wet en die verlies van ons menslikheid. Die wette, myns insiens, is juis daar om mense in vrede te laat saamleef.

Vandag bepaal die wet wie 'n grens mag oorsteek. Maar wat is 'n grens anders as geweldpleging op die ou end? Die gewete behoort steeds te vra wat daardie grens aan 'n mens doen. Die grense maak ander mense ander probleme. Grense maak dat ons vir onsself kan sê dat ons niks kan doen om 'n volksmoor te stop nie. Grense maak hongersnood en al daardie dinge ander mense se probleme sodat ons lekker in ons eie bedjies kan slaap en dat ons slegs met ons eie mense oor ons eie vrede kan baklei.

Miskien lê die grootste gevaar van nasionalisme nie daarin dat dit grense het nie. Miskien lê die gevaar daarin dat dit ons leer om empatie by daardie grense te laat ophou. Dat ons onsself aanleer om te sê:

"Hulle."

Asof daardie een woord miljoene unieke lewens kan opsom.

Politici verstaan iets wat die meeste van ons nie altyd raaksien nie. Wanneer mense moed verloor, soek hulle antwoorde. En wanneer daar nie genoeg antwoorde is nie, werk 'n sondebok dikwels net so goed.

As daar nie genoeg werk is nie, wys iemand na immigrante. En Gayton sê ja, ek sal iets daaran doen, stem net vir my.

As daar nie genoeg huise is nie, wys iemand na buitestanders. En Mashaba sê hy sal hulle uitskop as jy vir hom stem.

As hospitale oorvol is, vra iemand wie uitgegooi moet word. Dit is 'n ou politieke tegniek en dit werk. Nie omdat dit noodwendig waar is nie, maar omdat dit eenvoudig is: 'n Vyand is makliker om te verkoop as 'n oplossing.

Ek skryf dit nie omdat ek glo immigrasie is eenvoudig nie.

Ek weet dit is nie.

Ek skryf dit omdat ek kan sien dat die arme underdog immigrante deur die fatcat politici uitgebuit word en ek vind dit afskuwelik.


Ek is nie 'n ekonoom nie. Ek weet nie presies hoeveel geld Suid-Afrika aan grensbeheer, deportasies en immigrasiebeheer bestee nie. Maar ek wonder dikwels hoeveel skole, klinieke, hoeveel ondernemings, hoeveel werksgeleenthede, met dieselfde politieke/ekonomiese energie gebou kon word.

Selfs al stem iemand nie met my saam nie, bly dit tog 'n vraag wat die moeite werd is om te vra.

Wat gebeur as ons dieselfde passie waarmee ons mense probeer uitsluit, gebruik om geleenthede te skep?

Miskien is die grootste ironie dat ons almal Imagine kan saam sing.

Ons hou van die melodie, die harmonie: Daardie pragtige C9 wat moeiteloos, ritmes die grens oorsteek na die F6 en dan met 'n parmantige chromatiese toonleer weer tuiskom na die C9. Soomloos dog grensverkuiwende komplekse harmoniese eenvoud.

Ons hou van die gevoel. Ons hou van die oomblik wanneer die skare saamsing. Maar sodra die lied verby is, keer ons terug na die wêreld soos ons dit ken.

Na "ons" en "hulle".

Na grense wat nie net lande skei nie, maar ook ons gewetes.

Ek dink nie John Lennon het verwag dat die wêreld eendag sonder grense sou wees nie. Of misken het hy want dis onrealisties om te dink dat daar altyd mense sal wees, en grense is mensgemaak en het mense nodig om te onderhou. Maar ek dink hy het iets moeiliker gevra: Hy het gevra of ons dit ten minste vir 'n oomblik kan verbeel dit was nie so nie.

Of ons kan verbeel dat 'n ander se menslikheid nie afhang of van my kan van die draad afkomstig is nie. Ons almal wil ons menslikheid beskerm, maar hoe menslik is dit om vir 'n ander mens te sê jy hoort nie hier nie.

Ek kry skaam vir die mens wat sy grense aanbid. Want grense is die ware oorsaak van xenofobie. Maar min mense wil die waarheid hoor, hulle wil liewer hoor wat of wie kan hul eie soort voortrek al is dit ten koste van jou medemens wat jy ontken.

Want elke daad van menslikheid begin eers as 'n verbeeldingsoefening.

Die volgende keer wanneer jy Imagine hoor speel, luister nie net na die melodie nie.

Luister na die eerste woord.

En vra jouself eerlik af:

Wanneer laas het ek my werklik in iemand anders se lewe probeer verbeel?

Miskien begin 'n beter wêreld nie by nuwe grense, nuwe regerings of nuwe slagspreuke nie.

Miskien begin dit by daardie een eenvoudige woord.

Imagine.

Bekyk op Profiel
Het die Heilige Gees werklik Ananias en Saffira doodgemaak?
Het die Heilige Gees werklik Ananias en Saffira doodgemaak?
'n Ondersoek na een van die ontstellendste verhale in die Nuwe Testament
Wian Anders 04 Jul 2026 297

Het die Heilige Gees werklik Ananias en Saffira doodgemaak?

'n Ondersoek na een van die ontstellendste verhale in die Nuwe Testament

Het die Heilige Gees werklik Ananias en Saffira doodgemaak?

Min verhale in die Nuwe Testament laat moderne lesers so ongemaklik soos die verhaal van Ananias en Saffira in Handelinge 5.

Dit is 'n kort verhaal, maar die implikasies daarvan is enorm.

Volgens die Bybel het die eerste Christene alles met mekaar gedeel. Sommige het selfs hul grond en huise verkoop en die opbrengs aan die apostels gegee sodat niemand gebrek sou ly nie. Net voor Handelinge 5 word Barnabas geloof omdat hy sy grond verkoop en die volle bedrag aan die apostels oorhandig.

Toe kom Ananias en sy vrou, Saffira.

Hulle verkoop ook 'n stuk grond. Anders as Barnabas hou hulle egter 'n deel van die geld vir hulself terug, terwyl hulle voorgee dat hulle die volle bedrag gee.

Wanneer Ananias die geld bring, konfronteer Petrus hom.

Hy sê Ananias het nie bloot vir mense gelieg nie, maar vir die Heilige Gees.

Die teks vertel dat Ananias onmiddellik neerval en sterf.

Ongeveer drie uur later kom Saffira daar aan. Sy weet nie wat met haar man gebeur het nie. Petrus vra haar dieselfde vraag. Sy hou by dieselfde weergawe van die verhaal.

Sy val ook neer.

En sy sterf.

Die hoofstuk eindig met die woorde:

"Groot vrees het oor die hele gemeente gekom."

Vir eeue word hierdie verhaal verstaan as 'n voorbeeld van God se onmiddellike oordeel.

Maar hier ontstaan 'n vraag wat selde gevra word.

Wat het daardie dag fisies gebeur?

Die eerlike antwoord is eenvoudig:

Ons weet nie.

Nie een van ons was daar nie.

Ons beskik oor een antieke teks wat deur 'n mens geskryf is. Soos met enige ander antieke dokument kan ons nie die gebeure self waarneem nie; ons kan slegs die skrywer se beskrywing en interpretasie lees.

En dit bring ons by 'n belangrike onderskeid.

Die teks vertel nie net dat Ananias en Saffira dood is nie.

Die teks vertel ook waarom hulle dood is.

Dit is reeds 'n interpretasie.

As ons die verhaal met dieselfde historiese nuuskierigheid lees waarmee ons enige ander antieke dokument sou lees, ontstaan daar verskeie moontlikhede.

1. Die tradisionele verklaring

Die eerste moontlikheid is eenvoudig die een wat die verhaal self bied.

Die Heilige Gees het bonatuurlik ingegryp en albei onmiddellik doodgemaak as oordeel oor hul leuen.

Vir miljoene Christene is dit steeds die mees oortuigende verklaring.

2. 'n Natuurlike mediese gebeurtenis

Nog 'n moontlikheid is dat Ananias en later Saffira aan 'n natuurlike mediese toestand beswyk het.

Mense kan onder geweldige emosionele spanning hartaanvalle, beroertes of ander akute mediese noodtoestande ervaar.

In die eerste eeu sou so 'n gebeurtenis maklik as Goddelike oordeel geïnterpreteer kon word.

3. Menslike geweld

Daar is ook 'n derde moontlikheid.

Dit is moontlik dat hulle deur mense om die lewe gebring is, en dat die verhaal later die verantwoordelikheid by God plaas.

Daar is geen direkte bewys daarvoor nie.

Maar daar is ook geen beskrywing in die teks van hoe die sterftes fisies plaasgevind het nie.

Vir sommige lesers is dit eenvoudiger om aan te neem dat mense geweld gepleeg het as dat 'n onsigbare bonatuurlike mag twee mense summier laat sterf het.

Dit is nie 'n bewering dat dit gebeur hét nie.

Dit is bloot een van die histories denkbare verklarings.

4. 'n Teologiese waarskuwingsverhaal

Nog 'n moontlikheid is dat Lukas nie probeer het om 'n moderne historiese verslag te skryf nie.

Miskien wou hy eerder 'n teologiese punt maak oor eerlikheid, die heiligheid van die vroeë kerk en die erns van skynheiligheid.

In hierdie lees is die verhaal minder 'n joernalistieke verslag as 'n geloofsgetuienis.

Occam se skeermes

Hier kan 'n mens die bekende beginsel van Occam se skeermes toepas.

Wanneer verskillende verklarings moontlik is, is die eenvoudigste verklaring – die een wat die minste nuwe aannames vereis – dikwels die waarskynlikste.

Maar selfs Occam se skeermes gee nie vir ons 'n finale antwoord nie.

Dit dwing ons bloot om eerlik te vra:

Watter aannames bring elke verklaring saam?

En waarom kies ons een verklaring bo 'n ander?

Die groter vraag

Wat hierdie verhaal vir my besonders interessant maak, is nie bloot hoe Ananias en Saffira gesterf het nie.

Die groter vraag is:

Wat doen ons wanneer 'n antieke teks vir ons vertel dat God iets gedoen het?

Aanvaar ons dit as 'n historiese beskrywing?

Of as die skrywer se interpretasie van 'n gebeurtenis?

Baie gelowiges antwoord dat die verhaal geïnspireerde teologiese literatuur is en nie noodwendig bedoel is as 'n moderne historiese verslag van presies wat fisies gebeur het nie.

Dit is 'n geldige standpunt.

Maar dit laat 'n volgende vraag ontstaan.

Hoe onderskei ons tussen historiese beskrywing en teologiese interpretasie?

Waar trek ons die lyn?

En wie trek daardie lyn?

As 'n leser self moet besluit watter gedeeltes histories gelees moet word en watter gedeeltes simbolies of teologies verstaan moet word, ontstaan 'n verdere filosofiese vraag.

Is die waarheid dan iets wat die Bybel objektief meedeel?

Of is dit uiteindelik iets wat elke leser, gelei deur sy of haar eie geloof, tradisie en interpretasie, self moet konstrueer?

Dit is nie noodwendig 'n kritiek op die Bybel nie.

Maar dit is wel 'n uitdaging aan die idee dat die betekenis van elke teks vanselfsprekend, letterlik en onproblematies vasstaan. As die Bybel aanspraak maak op metaforiese of teologiese waarheid wat verskil van ware waarheid, hoekom praat ons dan nog van waarheid in die eerste plek? Want net die reine waarheid is werklik waar.

Miskien is die belangrikste les van Handelinge 5 nie dat ons moet vrees dat God ons onmiddellik sal doodmaak as ons lieg nie.

Miskien is die belangrikste les dat eerlike mense moeilike vrae mag vra.

En dat geloof, soos waarheid, nooit bang behoort te wees vir eerlike ondersoek nie.

So wat is dit? Het die Heilige Gees gemoor? Of is met daai woorde deur die mens opgetoor? Wat het meer (morele) integriteit, God of die Bybel wat van God 'n moordenaar maak?

Bekyk op Profiel
Woke me up before you go-go
Woke me up before you go-go
“Woke” was eens ’n woord van wakker-word — ’n taal vir respek, gelykheid en menswaardigheid. Vandag is dit vir baie ’n skelwoord. Wat het gebeur? In hierdie skerpsinnige en persoonlike essay word die reis van “woke” ontleed: hoe ’n bevrydende begrip deur retoriese “bait-and-switch” verander is in ’n politieke wapen, hoe woorde soos liberaal en selfs Afrikaner hul betekenisse kan verloor, en hoekom die stryd oor taal eintlik ’n stryd oor mag is. Dis ’n stuk oor hoe idees gekaap word — en hoe ons kan leer om dit raak te sien voordat ons weer onsself in die eter stilmaak.
Riku Lätti 01 Apr 2026 1,580

Woke me up before you go-go

“Woke” was eens ’n woord van wakker-word — ’n taal vir respek, gelykheid en menswaardigheid. Vandag is dit vir baie ’n skelwoord. Wat het gebeur? In hierdie skerpsinnige en persoonlike essay word die reis van “woke” ontleed: hoe ’n bevrydende begrip deur retoriese “bait-and-switch” verander is in ’n politieke wapen, hoe woorde soos liberaal en selfs Afrikaner hul betekenisse kan verloor, en hoekom die stryd oor taal eintlik ’n stryd oor mag is. Dis ’n stuk oor hoe idees gekaap word — en hoe ons kan leer om dit raak te sien voordat ons weer onsself in die eter stilmaak.

Woke me up before you go-go

Woorde het vreemde maniere om te ontaard in drake en smake wat mens dwars in die krop steek wanneer jy dit die minste verwag. Daar was ek nou die ander dag, ‘n paar jaar of wat gelede, ontstig dat ‘n Amerikaner op ‘n platform, voorheen bekend as twitter, my die heel eerste keer uitkryt as “woke”.

Ek dog in my ontsteltenis, “die vermetelheid”, en “hoe durf hy”, maar self durf waag ek nie ‘n antwoord nie, want ek weet nie heeltemal mooi wat “woke” beteken nie en besluit om hom te troef deur uit die argument weg te stap en verdwyn in ‘n trotse, dog ongesiene, stilte, die eter in.  

Nooit weer het ek van daardie Amerikaner gehoor nie, maar die woord “woke” het vinniger versprei as VIGS in die jare tagtigs. Of miskien nie so vinnig nie, want dit kom al van die 1930s uit African American vernacular uit. Intussen het ek ‘n beter idee van wat woke beteken, maar die konteks waarin die woord vandag gebruik word, is iets geheel en al anders.  

In die begin het ek die woord meer en meer gehoor waar dit gebruik word om die ontwaking van mense vir die gedagte van gelyke regte vir almal te beskryf. Die rein gedagte dat dit nie saak maak wat jou velkleur en/of geslag of seksualtiteit is nie, maar dat jy net soos almal anders, eerstens as “mens” raakgesien word.  Dat jy die minimum respek behoort te geniet wat alle mense mekaar behoort te gun in ‘n beskaafde samelewing.

Ek gebruik die woorde “behoort” en “beskaafde”, want die respek waarvan ek praat is nie ‘n gegewe in die natuur nie. Dit is iets waarvoor die mensdom al vir duisende en duisende jare oor geslagte heen werk. Steeds is daardie eienskappe afwesig in heelwat dele van die samelewing vandag. Ek sal selfs argumenteer dat waar hierdie respek teenoor “die ander” ontbreek, dit juis dui op ‘n stagnasie, of selfs ‘n devolusie, in die sosiale ontwikkeling van daardie groep.    

Vandag is dit so te sê net die regses, of liewer die verder regses, die alt-right (of kom ons noem hulle die “fahreit” as ons onsself nog vry genoeg kan ag om nuwe woorde te mag skep) wat nog die woord “woke” gebruik. Die lefty liberals het opgehou om die woord te gebruik want die fahreit het die woord omskep in ‘n vloekwoord.

Hoe de hel het dit gebeur? “Woke” wat eers iets cool en avantgarde was, en die voorpunt van sosiale ontwikkeling uitgelig het, die baken van hoe vêr ons as spesie gekom het, val nou as skelwoord uit die bekke van die sosiaal agtergeblewenis, die fahreit, die witter supremiste. Ek vra weer: hoe de hel het dit gebeur?   

Laat my toe om ‘n teorie te waag: Die Woord-Onteiening en Kulturele Appropriasie deur die Fahreit (of WOKAF afgekort). WOKAF kortliks beskryf is die “bait and switch” tegniek toegepas in logiese argumente wanneer die feite nie aan jou kant is nie. 

Wanneer jy nie kan argumenteer teen die gedagte van “ons behoort almal as gelyke mense gesien en gehanteer te word” nie, dan verander jy die argument na iets anders wat dit duidelik nie is nie om die debat wat jy besig is om te verloor so te vertroebel dat niemand meer weet wat aangaan nie.  

Kyk byvoorbeeld na die onverstaanbare uitvaar teen die reënboog vlag. Vir my is die vlag ‘n teken van toleransie en al die verskillende kleure saam dui op een ding: daar is plek vir almal en alle soorte mense. Maar o vader, wat is die teenargumente wat ek hoor: daardie vlag is die teken van satan wat heeldag en nag werk om jou en al jou kinders gay te draai.    

Dis duidelik nie wat die vlag beteken nie, maar nou is die ware betekenis van die vlag ge-”bait and switch” en die debat is drie trappe terug die oudedoos ingestuur. Hier moet dit meeding met ongegronde fascistiese vlak een gedagtes soos “moenie gay wees nie dis teen die wil van God”. (God sommer gou ook aangewend om intoleransie te vestig as moraliteit.) So rukkie terug was ons besig om te argumenteer vir toleransie van almal en eensklaps het ons geland op gay wees is somehow verkeerd en gays is die intolerante fasciste wat jou en jou kinders wil dwing om gay te wees? Hoe de hel het dit gebeur?

So met WOKAF wen die intolerante fahreit veld in opposisie teen menslike ontwikkeling. En dis nie net met die woord “woke” wat hierdie fenomeen die debatte vertroebel nie.  

Neem byvoorbeeld die woord “liberaal”. Wat ‘n eens mooi woord wat die vryheid van mense en die aanvaarding van almal en hulle idees behels. Selfs Christene en alle mense wat gode aanhang is welkom. Dis so ‘n mooi konsep, “die aanvaarding van almal”, almal behoort dit te aanvaar. 

Maar wat is die realiteit? ‘n Liberaal is ‘n heiden volgens die fahreiter. Die “vyand” wat hier is om goeie Christelike Afrikaanse waardes te kom vernietig: “Hulle” (die dônnerse liberals) wil hê “ons” moet gelyk wees aan “almal” en al hulle waardes ook aanvaar? Almal? Soos in ook die gays, die transeksuals ook? Almal? Dis mos onaanvaarbaar! Wat het geword van moraliteit? Dis Adam en Eva soos God dit bestem het, nie Adam en Stefan soos Satan nou kom staan en inmeng nie. Weereens land ons op moraliteit is gelyk aan Bybel is gelyk aan straight. Hoe de hel kry die fahreiter dit reg? Met WOKAF dis hoe.

Die WOKAF van die woord “liberaal” korliks visueel uitbebeeld lyk so iets:

Liberaal = Sosialis = Marxis = Kommunis = Ateïs = Satanis 


Sien dit as oëverblindery of kulkuns in ses eenvoudige stappe. As jy begin met “liberaal” wat beteken toleransie teenoor almal, is dit nie te vergesog om te dink maar daardie tipe mens sal ook saam stem met die sosialistiese ideale dat om werklik om te gee vir almal se regte moet samelewing neig na ‘n sosialistiese tipe sisteem waar tegnies gesproke almal na omgesien moet word.  Dis nie wat liberalisme beteken nie, maar dis ‘n te vergesogde of groot sprong tussen idees nie.

Dan van sosialisme na kommunisme deur Marxisme is ook maklik genoeg in ‘n debat waar vandag nie almal in die samelewing in die eerste plek die verskille tussen die drie kan onderskei nie.  Gou-gou glip die betekenis van die woord weg oor nog ‘n grens al die pad tot na ateïsme, want almal van ons wat die jare tagtigs oorleef het weet van die Rooi Gevaar wat gekom het om jou vryheid en jou godsdiens van jou te roof, dis hoekom jy jouself terug na God moet rig en vir die NP (of dan ten minste die KP) moet stem om hierdie aanslag af te weer. Die konsep “kommunisme” het kultureel gelaai genoeg geraak d.m.v. staatspropaganda om ook vir ons te beteken “anti-godsdiens”. (Ek onthou hoe ons in die NG-kerk gebid het vir die mense agter die ystergordyn en duimvas gehou het dat hulle die Bybels ontvang wat met moeite na hulle gesmokkel toe word. Jy weet, in die goeie ou dae.) 

Dan die laaste stappie is moeilik om te begryp as jy ‘n ateïs is, maar heelwat makliker as jy Christelik Nasionaal is. Ek vermoed (ek gebruik daardie woord “vermoed”, want ek sal myself nie so identifiseer nie) vir laasgenoemde is die gedagte dat om die god van die Bybel te misken eintlik die ergste daad wat jy kan pleeg. Alle ander slegte misdade spruit uit daardie eerste godsverraaing uit. Die argument is God is goed, alles wat God ontken is sleg. Daarom is daar nie veel verskil tussen ateïs en satanis nie, dis beide die ontkenning van God en daarom basies dieselfde ding. 

Dis dodgy logika om die minste te sê, want ons weet eintlik dat slegs die gelowiges werklik glo in satan, en om ‘n ongelowige as satanis te bestempel is beide oneerlik en vals. Maar dit word gedoen en dis ‘n “onder-die-belt-hou” in die geveg en selfs al sê die skeidsregter so, kan jy nie ‘n hou wat geplant is ont-slaan nie. Die liberal wat styer en juweelvashoudend kreun is op die agtervoet in die geveg.  Niemand onthou in die uitslag van die onregverdige voordeel wat uit die vals logika geput word nie. Die aanwending van retoriek het trefkrag selfs al is dit ongeldig.  

So word WOKAF toegepas en daar verloor die mensdom nog ‘n mooi woord en ‘n mooi konsep en die intolerantes wen veld selfs al was die debat onbeslis. 

Nou dat ons weet hoe WOKAF werk kom ons kyk terug na “woke” om te kyk wat werklik gebeur.  Wat is die mense wat wokeness so aanval se sterkste argumente? Dat mense nie gelyk is en daarom nie gelyke behoort te geniet nie? Dis hoe die aanslag vir my voel, maar dis nie ‘n lekker argument om te verdedig nie, so ek glo nie die anti-wokers sal dit so stel nie. Dit voel vir my “wokeness” word as ‘n valse vyand voorgehou om die fahreit se reg tot rassisme, seksisme, dwepery  en diskriminasie te beskerm.

Wat is die hoofargument teen wokisme soos dit wel in die openbaar geformuleer word? Dit lei tot “cancel culture” en dit staan direk in teenstand met vryheid van spraak. Werklik? Verbied wokism vryheid van spraak? Hoe? Die anti-wokist het nog steeds die vryheid van spraak en die “kansellasie” wat kom omdat jy die verkeerde ding gesê het is nie omdat jou vryheid van spraak jou ontneem is nie, maar omdat jy verantwoordelik gehou kan word vir die dinge wat jy wel sê.  

Waar ek wel voel die hartseer gevolg van wokism aangewend as wapen kan byvoorbeeld gesien word in die Bitterkomix insident waar satiere en genuanseerde politieke kommentaar vereenvoudig en oppervlakkig gelees word op so ‘n manier dat die nuanse verdwyn sodat die werk herinterpreteer word om so te sê die teenoorgestelde te beteken as wat die kunstenaars oorspronklik daardeur wou sê.  

Maar is dit wokism se skuld of is dit bloot die mense uit die samelewing wat elke golf in ons denke aanwend as seepkis om op te klim en as selfaangestelde polisie te identifiseer en ander te reguleer? Dit is ‘n fenomeen wat, ek glo, eintlik in direkte teenstand met die oorspronklike idees van wokism funksioneer. Ek voel egter dis ‘n struikelblok wat die mens alreeds besig is om te oorbrug en ek glo en bid dat Bitterkomix sal oorleef en miskien floreer uit hierdie onnodige aanvalle in die naam van politieke korrektheid, want die kunstenaars wat dit geskep het is vindingryk en briljant genoeg om die situasie in hul guns om te keer en so te posisioneer dat die wind van voor met ander invalshoek die seile sal lat bol. Moet ons wokism laat vaar? Of moet ons, die samelewing, net weer na die ware boodskap van die kuns loer?    

‘n Groot kritiek teen wokism is dat mans net eenvoudig nie meer mans is nie. Die gevolge is dat gewone mense te na gekom word omdat hulle nie ander mense nou mag noem net wat hulle hulle wil noem nie. M.a.w. die patriargie word ‘n knou toe gedien met hierdie “iets nuuts” waarmee ons nou moet saam lewe en dis onaanvaarbaar. Ai toggie, hoe kleingevoelig maklik seergemaak is die sterker geslag in beheer van die mensdom nie voor die poorte van verandering nie. Mense wat nie met ‘n ander mens kan kommunikeer op ‘n waardige manier wat alle partye respekteer nie is in elk geval ‘n kak mens, ten spyte die politiek van die dag. Ek glo die bestaan van kak mense is die groot probleem met die mensdom, nie die bestaan van trans, gay, bi, of sexually curious mense nie.

Die kritiek: “maar nou wil eens biologies mans teen vroue kompiteer in sport omdat hul as laasgenoemde identifiseer” is myns insiens geldig en ek glo iets wat die mensdom voor antwoorde sal vind soos tyd aangaan. Is hierdie fenomeen egter genoeg van ‘n gewigtige probleem dat ons alle wokism moet laat gaan en sumier afdwing dat slegs mans en vrouens bestaan en jy is of een of die ander? Hoeveel fascisme wil jy op die samelewing afdwing sodat jy verseker kan wees dat jy man en vrou kan onderskei? My persoonlike keuse is, fok die fascisme ek is fine met die geslagsonsekerheid, kom ons dink liewer aan mens se gelukkigheid. As jy wokism veroordeel omdat jy verwar word deur ander mense se geslag of seksualiteit is per my definisie ‘n kak mens.  

Die fahreit kry dit te maklik reg om woorde van hul betekenis te beroof en dan die woord as sulks te identifiseer as vyandig soos “woke” of “liberal” of iets goddelik soos “afrikaner” of “boer” maar daardie nuwe betekenisse is ver weg van wat die woorde oorspronklik beteken het. Die woorde is ge-bait en switch, of gewokaf, vir beter Afrikaans. Daarna word die woord selfs aangeval of geprys en ‘n nuwe/ander korter argument word gewen en ons voel almal so klein bietjie dommer want ons verstaan nie presies wat het gebeur nie.  

Hoe verdedig ons onsself teen die aanslagte van die fahreit? 

Eerstens en myns insiens belangrikste, bly weg van debatte wat nie werklik saak maak nie.

Tweedens, wees versigtig vir mense wat lukrake definisies aanwend wat hul nie verduidelik nie. Ook, wees bewus daarvan waneer iemand ‘n definisie gebruik wat oor grense van betekenis wil gly. Dring aan om te weet wat hulle bedoel met “woke” as hulle die definisie gebruik. Ek sal geld wed dat meeste woke slegs sal definieer as “woke”. Vra spesifiek watter deel van wokeness pla en wag vir al die uhms en ahs om te bedaar en identifiseer daarna waaroor die gesprek werklik gaan.  

Wanneer die Godkaart gespeel word is die argument so te sê verby. Hoe weet enige iemand wat is God se wil? Watter god? Die god van die Bybel se moraliteit is bedenklik met al die slawernye, volksmoord en diesmeer. Jy het ‘n konsep van moraliteit van buite die Bybel nodig om te weet watter wette van God om ernstig op te neem en watter die mensdom al ontgroei het. In elk geval, die ware god is maar net ‘n opinie wat van mens tot mens verskil.

Ek is nie hier om lelike woorde soos “woke” en “wokism” te beskerm nie. Ek wens eintlik die woord het nooit bestaan nie. Maar nou dat die woord daar is wil ek vir al die kak mense, wat in elk geval nie hierdie artikel gaan lees nie, dit duidelik maak dat jou gebruik van die woord “woke” staan uit op jou wit-supremisme-bingo-kaart tussen “apartheid was beter” en “all lives matter (except Palestinians)”.

Bekyk op Profiel
Amerika: Die struikelblok in die pad van wêreldvrede
Amerika: Die struikelblok in die pad van wêreldvrede
Amerika is vandag die grootste terroris in die internasionale gemeenskap. Die VN moet aangepas word dat boelie nasies nie spesiale kragte in die Veiligheidsraad het nie, dit ondermyn wêreldvrede.
Riku Lätti 24 Jan 2026 1,976

Amerika: Die struikelblok in die pad van wêreldvrede

Amerika is vandag die grootste terroris in die internasionale gemeenskap. Die VN moet aangepas word dat boelie nasies nie spesiale kragte in die Veiligheidsraad het nie, dit ondermyn wêreldvrede.

Amerika: Die struikelblok in die pad van wêreldvrede

Ek hoor die wêreld brand al weer

Ek sien die aarde disintegreer

Die Noorde het die reën gesteel

Hul dade het hierdie land verniel


Ek stap met my masjiengeweer

Om te oordeel wat jy vra

Ek treur oor my Amerika

Die son sak neer oor haar


My asem word met sand gesif

My longe nat en swaar

Die gif het al my bloed bereik

Ek tel my laaste dae


Vir vrede

Vir almal


uit: My Amerika

album: Aan’t sterre tel

My Amerika


“We are one vote away from the solution that would bring peace to the Middle East.

That one vote is the United States’ veto […]on behalf of Israel”

  • Jeoffrey Sachs


Ek het die voorreg gehad om Amerika ‘n paar maal in my lewe te besoek en ek was dadelik verlief op die land. Dit was soos ‘n vreemde droom wat waar geword het toe ek in Los Angeles aanland. Ek het soveel plekke en landmerke herken wat ek voorheen slegs in films en TV gesien het. Wat ‘n wonderlike ervaring was dit om die droomland in lewende lywe te betree! 


Amerika is ‘n merkwaardige land. Dit wat Amerikaners bereik is asemrowend, letterlik en figuurlik. Van al die dinge wat Amerika so ongelooflik voortreflik mee is, dink ek haar beste uitvoerproduk, is haar gepoetste beeld. Bloot net die feit dat wanneer ek van “Amerika” praat en almal weet ek praat uitsluitlik van die Verenigde State en geensins van albei die kontinente nie, spreek alreeds boekdele oor hoe suksesvol die VSA se beeld wêreldwyd bemark is. 


Met my reis het ek ander dimensies Amerika begin raaksien. Ek het besef dat die land heelwat meer kompleks as my reeds gevormde beeld van haar is. Skokkend vir my was die hoeveelheid haweloses wat in kartondose op sypaadjies slaap. Vuisvose oorlogsveterane wat hardop met hulself gesprekke voer soos hul in die strate afloop. Grumpy old men om elke hoek en diner, wat gal te braak het oor hoe alles aan die verval is sedert só en só aan bewind is. Ek kon helaas sien dat die krake heelwat ouer as die vorige verkiesing is.


Ek het in ‘n ou derdehandse VW golfie geklim en die pad gevat op soek na mooi goed. Wat ek gevind het, het my met ‘n dieper onverwoordbare liefde vir Amerika gelaat. Ek het op die interessantste plekke barmhartigheid en warmte ervaar en op ander plekke die treurige afwesigheid daarvan. Die liefde het altyd gekom van individue terwyl die liefdeloosheid gewoonlik die hand van korporatiewe mag verklap. 


Ek het ‘n heel interessante nag in ‘n backpackers in Johannesburg Kalifornië (populasie 114) deurgebring. Die backpackers het gewerk op ‘n “honor system” waar jy bly solank soos jy wil, vat van die blikkieskos en droë rantsoene soveel soos jy wil en los die geld in ‘n blikkie in die kombuis.  


Daar het ek en ‘n Vietnamoorlogveteraan, Jim of Mike or iets so bekends Amerikaans was sy naam dat ek dit heeltemal vergeet het, alleen in die konstant krakende spookagtige huis gebly.  Ek sê “alleen”, maar hy het wel so bietjie van ‘n arsenaal saam met hom gehad, onder andere een groot masjiengeweer wat hy sê hy van die weermag gekry het toe hy ontslaan is.  


Die volgende dag het ek hom vergesel in sy soektog na ou stukke metaal en myn toerusting in ‘n paar van die verlate mynskagte op Bureau of Land Management (BLM) https://www.blm.gov/ grond. Hy versamel ou gereedskap wat hy dan in kunswerke omskep. So donner die drie van ons: ek, Jim en sy masjiengeweer (met ‘n flits vooraan vasgeductape,) daar af in ‘n skag wat deur die jare meer as een ineenstorting meegemaak het. 


Ek vra: “Why the gun?” Hy antwoord (ek rekonstrueer ‘n parafrase uit die klanke wat ek kan onthou):” Ya never know what ya are gonna find down there. Sometimes snakes, but mostly never-die miners still holding out for gold.” 


Op ‘n stadium raak die klim in die mynskag af so rof dat jy altwee jou hande moet inspan in die klim. Hy vra my om sy geweer vas te hou om vir hom ‘n lig te gooi. Daar staan ek toe met ‘n M16 in my hande, gerig op ‘n oud-Amerikaanse soldaat in ‘n stralekrans, sodat die man sy weg in die donker kan vind. ‘n Gebeurtenis so buitensporig onverwags dat ek die beeld vandag nog helder in my kop ervaar. 


As kind en naïewe oningeligde jong mens, het ek telke male geval vir die films en fiksie waarin Amerika die vrede vir die hele wêreld bewaar deur die Nazis/Kommuniste/Terroriste uit die Ooste/Aliens/selfs moordadige asteroïedes wat net te graag alle lewe op aarde wil uitwis, te oorwin. Die narratief waarmee elkeen van ons al tot in ‘n ideologiese beswyming in gebombaardeer is, is dat Amerika hier is om ons almal te red en vrede op aarde te bewaar. Amerika is die “good guys”.  


Daardie illusie het egter soos kapok voor die son verdwyn namate mens met naakte geskiedenis gekonfronteer word. Soos wanneer mens uitvind dat miljoene inheems Amerikaners eers vermoor moes word voordat die Europeers die “onbewoonde” land wat hulle “ontdek” het kon inpalm. Ondersoek gerus die “trail of tears” en mens word gou bewus van die Amerikaanse modus operandi van die tyd: die “ethnic cleansing” of te wel die verwydering van “ongewensde” mense van ‘n land wat jy vir jouself wil hê en dan ontwikkel met die hulp van slawe-arbeid. Dus, die volksmoord en bloedbad met die intrapslag. Dan, die groteske slawerny wat Amerika welvarend gemaak. Ongekende pyn en lyding vir miljoene en miljoene kinders, vroue en mans. Slawejag en dan onmenslik gemartel en vasgeketting in die bote op pad na “the land of the free”. Familiebande tussen swart mense tot in ewigheid uitgewis met kinders en ouers wat die besittings van eienaars van heinde en verre onder dwang geword het. 


Nou kan mens argumenteer dat almal weet dat die VSA ‘n duistere geboorte gehad het, maar dat hulle daardie volksmoord, slawerny en minagting van “andere volke” lankal al ontgroei het.  Die geskiedenis is geskiedenis. Vandag is die American Dream: “Anyone can make it.” Rassisme is verby, hulle het selfs al ‘n swart president gehad. Wel, “American dream on”:  ten spyte die gefaalde Republikeinse kandidaat vir die presidentskap, Nikki Haley se sotlike stelling, “ we’ve never been a racist country,” en andere wat net soos sy dink, is rassisme in Amerika is net soveel iets van die verlede as wat dit in Suid-Afrika is.


Amerika het wel gehelp om die Nazis te oorwin, NAVO gehelp stig om sekuriteit in die Noorde te bewerkstellig, asook ‘n yslike rol gespeel om die VN te help maak wat dit vandag is. Three strikes, America is great!  


Amerika is die fakkeldraer van twee belangrike universele waardes, naamlik: Vryheid en selfbeskikking.  Of ten minste, so sê die pro-Amerika PR.


Kom ons loer na so paar voorbeelde waar hul aksies hul woorde weerspreek.

1899-1902: Filipynse-Amerikaanse oorlog: Amerika veg teen Fillipynse onafhanklikheid.  Buiten die 20 duisend soldate in die skermutseling is minstens 200 duisend burgerlikes wreed om die lewe gebring. (Sommige beweer die getal nader is aan ‘n miljoen.)  In hierdie oorlog pas die Amerikaners ‘n verskroeide aarde beleid toe op die gebied. Mense word in konsentrasiekampe gegooi, waar duisende in haglike omstandighede sterf. Stel jouself voor jy is aan die ontvangkant van daardie tipe behandeling. O wag so ‘n bietjie….


Vandag nog is Amerika die enigste land wat atoombomme op burgerlikes laat ontplof het. In Hiroshima en Nagasaki was burgerlikes willens en wetens geteiken, níé militêre basisse nie. 


Die hoeveelheid ontwrigting en staatsgrepe wat die Amerika d.m.v. die CIA uitgevoer het in Sentraal- en Suid-Amerika is verbysterend. In Gautemala het die Amerikaanse United Fruit Company die bevolking so te sê as slawe ingespan om die piesangprys in Amerika laag te hou. In 1954 het Amerikaanse bomwerpers daar verwoesting gesaai. In Nicaragua, Chile, Brasilië, Honduras, Haïti, Hawaii, Uruguay, Panama, Argentinië en El Salvador, het Amerika ‘n rol gespeel wat regerings laat kantel het. Nóg bloedvergieting. Elkeen ‘n voorbeeld waar die idee van “selfbeskikking en vryheid” vir ander, deur Amerika verontagsaam word.


In liberale Iran was dit Amerika en Brittanje wat van die demokraties verkose Mohammad Mosaddegh ontslae geraak het om met diktator shah Mohammad Reza Pahlavi te vervang. Laasgenoemde se vergrype, selfverryking en korrupsie terwyl burgers van Iran uitgehonger en arm was, was so skreiend, dat die Iranese opgeruk het met massiewe optogte en betoë. Die uiteinde was bestyging van die “troon” deur die Ayatollah Khomeini. Vandag weet ons almal van die gevolge van die onderdrukkende effekte van die sharia wetgewing wat Khomeini in Iran tot stand gebring het. Hoeveel meer selfbeskikking en vryheid sou Iranese vandag gehad het as dit nie was vir die Amerikaanse befoetering daarvan nie?  


So ook is Isis, die Taliban, aaklige terroristiese groepe wat hul totstandkoming grootliks aan onnodige en ongevraagde Amerikaanse inmenging te danke het. Die Taliban was oorspronklik deur Amerika befonds om teen die Russe in Afghanistan te veg. Isis het ontstaan uit die magsvakuum wat gevorm het danksy die ongeregverdigde oorlog wat Amerika met Irak gevoer het. Daar was kwansuis “weapons of mass destruction WMD”. Vandag weet ons dit was ‘n leuen. Wie het tans te veel WMDs? Amerika, in my opinie.


Ek kan ad infinitum oor internasionale kwaadstokery deur Amerika redeneer. Daar is Kongo, Vietnam, Kambodja, Chad. Korea, waar kommunistiese denkwyses so gevaarlik is, dat dit moord en doodslag regverdig. Maar ek moet ophou want ek wil by ander punte uitkom.  


En die punt is, as dit gaan oor internasionale vrede vir almal, is Amerika nie die “good guys” nie. Alle Amerikaanse strategiese internasionale beweging word uitgevoer om Amerikaanse belange te bevorder. Die vrede wat hulle wel bewerkstellig, is “doodtoevallig” omdat dit in hul volgehoue besigheidsbelange is om vrede daar te handhaaf. Mag jy so gelukkig wees om in so ‘n land te leef. Amerika het keer op keer bewys dat sy bomme op jou en jou kinders sal laat reën, of agter die skerms ‘n klein coup of burgeroorlog sal ontketen, as dit kommersieel voordelig vir haar sal wees. Woe be upon him who stands in America’s way.   


Dit is so duidelik soos daglig, dat, alhoewel haar PR die teenoorgestelde sê, Amerika die vyand is van wêreldvrede. Die vraag is, wat in hemelsnaam, nee askuus, wat de hél soek sy op die VN se veiligheidsraad? Dis ‘n liggaam wat kwansuis verantwoordelik is vir internasionale vrede en sekuriteit. Nie net is Amerika ‘n permanente lid nie, sy het vetoreg. ‘n Reg wat sy onlangs aangewend het om te stem teen ‘n skietstilstand in Gaza. Nie dat Israel sou geluister het nie. Hulle is te druk besig met die “final solution.” Maar steeds: Dit was Amerika wat gestem het téén ‘n skietstilstand.  


Dis tyd dat ons as ‘n wêreldbevolking die VN en die Veiligheidsraad herbesoek. Die Veiligheidsraad doen presíés die teenoorgestelde as dit waarvoor hulle in die lewe geroep is. Dit rek oorloë tot in alle ewigheid uit. Nêrens kan die Veiligheidsraad ingryp om vrede te bewerkstellig nie, want as Amerika nie ingryping veto nie, sal Rusland, of Sjina.


As ons terugstaan en vir ‘n oomblik die karakter van die permanente lede op die Veiligheidsraad ondersoek, kom mens tot die skokkende besef, dis die oorlogmakers in beheer van die wêreldvrede. 


Amerika weet ons is smoorverlief op oorlog; sal alle wêreldbronne opgebruik in ‘n japtrap vir ‘n dollar; hoofbydraer tot klimaatsverandering wat lewe vir miljarde mense op aarde moeiliker tot onmoontlik maak. Verdien sy om op die Veiligheidsraad te sit en ander lande se wil om vrede te veto?  Nee, sy verdien nie haar posisie nie. Maar daar sit sy nou, die hoofboelie wat niemand kan verwyder nie.


Dan is daar Brittanje. Verdien Brittanje om daar te wees? Na kolonialisme, diefstal, volksmoord, konsentrasiekampe? Voor hulle weer woord oor wêreldpolitiek rep, wil ek eers hoor watter planne hul gaan maak om aan terug te betaal waar hulle gesteel het. Ek luister by die raadloos.


Wat van Rusland? Rusland is letterlik op hierdie oomblik besig met een van die talle oorloë wat hulle begin het. Watter reg verdien Rusland om namens die wêreld te besluit waar vrede gemaak mag word en waar nie? Geen!


Sjina is ook nie sonder sonde nie. Tot op hede is hulle betrokke by die onderdrukking van vryheid en selfbeskikking. Dink maar net vlugtig aan Tibet, die Uyghurs en die eienaardige situasie met Taiwan op die oomblik wat die “one China” illusie moet in stand hou. Amerika se aksies jeens Taiwan, word deur Naom Chomsky beskryf as “provocative” and “increasing the levels of confrontation” met Sjina. Mag daar nooit ‘n oorlog in die gebied uitbreek nie, maar as dit gebeur sal Amerika weereens ‘n groot deel van die oorsaak daarvan wees.  


Noem my idealisties en naïef, maar in ‘n regverdige wêreld is hierdie booswigte nie in beheer van die liggaam wat vrede en sekuriteit moet bring nie. Hulle is dan die aggressors. Watter lesse leer ons vir ons kinders as ons die boelies baas maak van almal juis omdat hulle die gevaarlikstes is van almal? Dis ‘n tirannie deur die sterkstes. Die boelies in beheer. Dis argaïes. Die mensdom moet verder evoleer en hierdie waansinnigheid afskud. Hoeveel “American Heroes” word in verre lande stukkend geskiet en dan in houtbokse, trots gedrapeer met die Amerikaanse vlag aan hul moeders oorhandig? Is die post-mortem Purple Hearts en die 21 gun salute by die grafte van Amerikaanse soldate genoeg om vertroosting te bring aan hul geliefdes? In die naam van vrede? ‘n Vrede wat soveel verwoesting insluit?


Vir wêreldvrede om ‘n kans te staan is dit duidelik dat óf die Veiligheidsraad moet ontbind word, óf die vetoreg moet afgeskaf word en daar moet ‘n reël aangebring word wat sê dat geen land wat in die laaste 10 jaar in ‘n oorlog betrokke was, mag op die Veiligheidsraad dien nie. Miskien is daar ander beter voorstelle wat sal kan werk, maar ons almal kan teen die tyd sien die Veiligheidsraad soos dit tans werk is net ‘n impotente las vir wêreldpolitiek.


Mense mag dalk dink dat ek anti-Amerika is omdat ek haar kritiseer, maar dis glad nie die geval nie. Inteendeel, ek het haar lief op maniere wat ek self nie verstaan nie. Ek wens vir haar verlossing van hierdie gyselaarskap waarin haar wurgende wapenindustrie haar het, dat sy nie eers haar eie mense op eie bodem kan beskerm nie. ‘n Magtige industrie wat heelwat meer geld maak uit oorlog as uit vrede. 


Vandag staan Amerika nie net in die pad van vrede in die Midde-Ooste nie, sy is letterlik die een wat die bomme verskaf waarmee volksmoord gepleeg word. Daar is geen oplossing in Palestina moontlik solank Amerika betrokke is nie. Die nadraai van die vernietiging van Palestina gaan lei tot voortdurende tereuraanvalle op Joodse teikens wêreldwyd. Iets wat Jode glad nie verdien nie. Ek kan nie sien hoe Israel se dade nie nuwe antisemitisme kweek nie. Dis hoekom daar so ‘n groot beweging wêreldwyd deur Jode is om hulle te distansieer van Israel se geweld en volksmoord. 


Hier kom gevaarlike tye vir die ganse wêreld en baie daarvan is Amerika se skuld. Biden gee die game weg met sy woorde: “Were there not an Israel, the United States of America would have to invent an Israel to protect her interest in the region.” 

Joe Biden's long history of pro-Israel statements


Mense argumenteer dis omdat Harris nie haarself gedistansieër het van Biden se Sionisme nie dat sy die Palestynse steun aan Trump oorhandig het in die swaai state wat haar die verkiesing gekos het. Daar is heelwat Palestyne wat nou berou het dat hulle vir Trump gestem het wat nog altyd so klein bietjie meer pro-Israel gelyk het as Biden, as dit moontlik is. Dis óf dit, of sy is te vroulik of nie wit genoeg nie, of alles bogenoemde. Hoe dit ook al sy die Demokrate se dobbelslag met haar het misluk, maar miskien is dit ‘n goeie ding, want Trump isoleer homself van lande wat Amerika normaalweg goedgesind is. Hoe meer internasionale ondersteuning Amerika verloor, hoe meer kwyn haar mag en hopelik lei dit tot minder internasionale wandade en oorlogsmisdaad. 


Vir Amerika gaan dit nooit om vrede en selfbeskikking nie. Vir Amerika gaan dit altyd oor “protecting her interest.”  Dis waar die probleem vir die res van die wêreld lê en veral dáárom verdien Amerika nie die mag in die VN wat sy tans geniet nie.  Biden sê ook: “there is no space between the United States and Israel”.  Hoe anders moet ons dit interpreteer dat, as dit in Israel se belange is om Gaza te vernietig, al haar kinders inkluis, dit dus ook in Amerika se belange is om Gaza te vernietig. Kinders inkluis.  Amerika weereens die volksmoordenaar d.m.v. Israel. 


Trump wil die oorwinningskersie van die koek pluk deur Gaza te herskep in ‘n vakansieoord sonder Palestyne. Biden is nie beter as Trump nie, hy is net meer diplomaties in sy “Amerika First” ten koste van die wêreld-beleid. Hy is ook ‘n oorlogsmisdadediger. En Harris was nie ‘n alternatief vir vrede nie.  Daardie alternatief was Bernie Sanders. Maar nou is dit te laat. Amerika beteken oorlog, hetsy met geld of met bomme gevoer. Die “vrede” wat sy op papier en in die nuus verkondig, is die oorlog wat sy voer in die lande ver vandaan. 


Ek is net diep ongelukkig en ontsteld dat Amerika haarself in ‘n perfekte posisie bevind in wêreldpolitiek om vrede te bewerkstellig, maar dit nie doen nie, want geld?! Selfs die Bybel vertel vir ons dat, as jy jou talente nie aanwend nie, jy hulle gaan verloor. Dis tyd dat oorlog-Amerika haar triggerfinger ‘n blaaskans gee, haarself bietjie verskoon, of ten minste stilbly, wanneer die res van die wêreld probeer om vrede te maak.  Of nog beter, dis tyd dat die wêreld haar vertel om bietjie te gaan sit, want dis haar persoonlike belange wat die bomme laat val…


Lees op DiePunt
’n Afrikaanse Musiekfees om Akkedis se 104 jaar te vier
’n Afrikaanse Musiekfees om Akkedis se 104 jaar te vier
Daar word jaarliks 'n verjaarsdagpartytjie gehou vir Akkedis by Flagstone in Paardevlei. Gewoonlik die laaste Saterdag in Januarie. kom fees saam met ons.
Riku Lätti 24 Jan 2026 1,899

’n Afrikaanse Musiekfees om Akkedis se 104 jaar te vier

Daar word jaarliks 'n verjaarsdagpartytjie gehou vir Akkedis by Flagstone in Paardevlei. Gewoonlik die laaste Saterdag in Januarie. kom fees saam met ons.

’n Afrikaanse Musiekfees om Akkedis se 104 jaar te vier

Saterdag 24 Januarie 2026 | 13:00–18:00

Flagstone Wine, Paardevlei (Strand)

Afrikaanse musiek, goeie wyn en ’n stewige dosis rock-’n-roll: so vier ons Akkedis se verjaarsdag met ’n unieke Afrikaanse musiekfees by Flagstone Wine in Paardevlei.

Die dag se program bring van die land se mees geliefde en invloedryke Afrikaanse kunstenaars saam:

? Die Kaalkop Waarheid (DKW)

Die Kaalkop Waarheid is vir baie kenners die goue standaard van oorspronklike Afrikaanse folk. Die Pretoria-gebore groep bestaan uit Nardus du Plooy (liedjieskrywer), Christo Strauss (mandolien), Hanru Niemand (banjo), George Rautenbach (kitaar) en Christo Groenewald (kontrabas).

Hul lied In My Lewe is reeds miljoene kere gestroom, en met SAMA-nominasies en jarelange sukses agter die rug, stoom DKW steeds voort—soos hul treffer Wegholtrein.

? Churchil Naudé

Koos Kombuis beskryf Churchil as: “My gunsteling-rap-ster.”

Churchil maak Afrikaanse rap koel—op ’n Kaapse manier. Hy bewys jy hoef nie soos Amerika te klink om kwaai te kletsrym nie; ons eie taal en styl is meer as genoeg.

? Die Hoofdis: Akkedis

Arthur en Rudi, die Helderberg se bekendste tweeling sedert mense kan onthou, is sinoniem met Afrikaanse rock. Akkedis bring al dekades lank die ruk-en-rol—en dié fees is geen uitsondering nie. Hierdie keer vier ons hul 102 jaar saam met ’n behoorlike rock-verjaarsdag.

? Hanru Niemand

Hanru Niemand is ’n veelsydige sanger-liedjieskrywer uit die Boland wat sedert 2003 stil-stil ’n kultus-aanhang opgebou het. Sy werk het oor byna twee dekades musiekfynproewers van die Kaap tot in die Noorde bekoor, en is selfs reeds in Fins en Russies vertaal vir internasionale gehore.

? Die Hotel Henry

Die Hotel Henry is ’n nuwe alternatiewe Afrikaanse musiekprojek deur Henry Cloete, skrywer en musikant van Stellenbosch. In hierdie hotel is daar altyd plek vir teenpole: komedie en tragedie, drama en waansin, geterg en getob. Die Henry Hotel se musiek beweeg vrylik tussen liriese introspeksie en rou eerlikheid, en bied ’n unieke, verhalende klank wat perfek tuis is by ’n fees waar Afrikaanse musiek in al sy vorme gevier word.

? Jackie & Riku Lätti van Die Wasgoedlyn

Jackie en Riku Lätti bring die gees van Die Wasgoedlyn na die verhoog. Riku is bekend vir liedjies soos Hoofstroom, Op die Maan en Smoorverlief, en het saam met Die Wasgoedlyn dosyne albums opgeneem. Die Wasgoedlyn bied ’n platform vir alternatiewe Afrikaanse musiek en verbind kunstenaars oor generasies—van David Kramer en Anton Goosen tot Koos Kombuis, Die Kaalkop Waarheid en Akkedis.

? Wyn & Musiek

Die fees vind plaas by Flagstone Wine, waar wyn en musiek vanselfsprekend hand aan hand gaan.

Kom vier saam ’n verjaarsdag, ’n nalatenskap en Afrikaanse musiek op sy beste.


Lees op DiePunt
Gedoem tot perfeksie
Gedoem tot perfeksie
Niks is werklik verkeerd nie. Dinge is net soms nie soos ons dit wil hê nie, maar ons bepaal nie die groter prentjie nie. Ons pas oom maar net iewers in. En dit is perfek soos dit is.
Riku Lätti 21 Jan 2026 1,937

Gedoem tot perfeksie

Niks is werklik verkeerd nie. Dinge is net soms nie soos ons dit wil hê nie, maar ons bepaal nie die groter prentjie nie. Ons pas oom maar net iewers in. En dit is perfek soos dit is.

Gedoem tot perfeksie

Ek het ‘n lewensfilosofie wat in kort opgesom kan word as “gedoem tot perfeksie”. Dit beteken basies dat die natuurlike wêreld waarvan ons almal onlosbaar deel is, so veelvlakkig en vol gesofistikeerde sisteme is, dat dit selfs lewe kan onderhou. En nie bloot net lewe nie, maar ‘n ingewikkelde, komplekse tipe lewe wat selfs oor bewussyn en vermoë beskik om oor daardie bestaan in die heelal te besin en dit te besing. 


Of mens nou in God glo of nie, jy moet erken die wêreld is asemrowend. Dit is ‘n magiese en asemgewend wonderlike plek. Natuur is dus reeds, sonder dat ons ‘n hand hoef te lig, meer perfek as enigiets wat die mens self kan skep. Daarom is ons dus, myns insiens, reeds deel van die perfekte sisteem, natuur: gedoem tot perfeksie. 


Maar dan kyk jy wat die mens op aarde aanvang en wonder of my argument enigsins water hou. Daar is soveel oorlog, lyding, moord en mensgemaakte hongersnood en dit laat my die teenoorgestelde vra: “Is alles nie op die oomblik honderd persent verkeerd nie?” Alles is dan so deurmekaar en die teenoorgestelde van hoe dit moet wees.


Op die VN se Veiligheidsraad, wat konsuis vrede vir die wêreld moet bewaar, sit al die boelies wat die oorloë maak. Ons weet die skietstilstand, wat deur so te sê die hele wêreld ondersteun en verlang word, word telke male deur Amerika geveto. 


Die Vereninigde State, wat Irak, Iran, Afghanistan, Sentraal- en Suid-Amerikaanse tans demoniseer, is juis die regering wat daardie lande se regerings op onvreedsame wyse ontwortel het. So ironies dat hulle nou uitvaar teen die “onstabiele” nuwe regerings wat hulle as’t ware bewerkstellig het. 


En wie is nog daar wat die grootste sê het oor wêreldvrede? Rusland, wat  in ‘n oneindigende oorlog gewikkel is wat húlle begin het. Saam met hulle, Sjina, wat berug is vir hulle onderdrukking van Uyghurs en die besetting van Tibet. Die brose vrede hang ook maar aan ‘n uiterse dun draadjie oor Taiwan. Om van Brittanje nie eers te praat nie! Watter goeie Suid-Afrikaner wil graag vir Brittanje verdedig as ‘n bastion van menseregte en geregtigheid na die oorloë wat hulle hier gevoer het? Dit terwyl ons diamante vandag toe nog in koning Charles se kroon pryk? En moenie dink Frankryk is totaal onskuldig nie, kyk maar net na foie gras!


Hoe dit ook al sy, almal kan sien dat die VN heeltemal impotent is en sal herform moet word  as ons doel daarmee wel werklik wêreldvrede is. Geen land wat in die laaste 50 jaar ‘n oorlog begin het behoort op die Veiligheidsraad te dien nie. Dis wat ek voostel, al is ek maar een stem. Tans is die VN soos ‘n organisme met geamputeerde ledemate. Hulle is sigbaar, maar stom. Die politieke afgevaardigdes se duur oorsese trippies New York toe is ‘n groot fanfare maar niks word regtig bewillig nie.


Wanneer het mense geval vir die fopnuus dat VSA op een of ander manier ‘n bastion is vir vryheid en demokrasie? Hulle ontvoer tans mense wat nie met die regering saamstem nie na El Salvador, en hoeveel keer is hulle presidente in die laaste dekades nie deur die meerderheid stemme verkies nie? Hoeveel lande se vrede is deur VSA ontwrig? VSA staan vandag in die pad van wêreldvrede en die hele wêreld behoort terug te druk en die VSA op sy plek te sit as net nog ‘n land en nie die opperheerser van die aarde nie. 


Die VSA behoort ook te betaal vir aardsverwarming waarvan hulle die grootste aandeel in die besoedeling het wat dit tot stand gebring het. Maar gaan dit gebeur? Nee, ons weet mos nou al, die wêreld is ‘n onregverdige plek.   


Gepraat van ongeregtigheid, die toppunt daarvan is seker wat tans in Palestina aangaan. Israel het letterlik nog 70 mense vermoor op die dag wat Trump gesê het dat hy waardeer dat Israel sy bombardering van Gasa gestaak het. Ironies genoeg, op eie bodem, is dieselfde groep mense wat aandring dat ons nie volksmoord hier moet ontken nie, besig om die volksmoord elders te ontken. Inteendeel, selfs Israel in hul geweld te ondersteun.


Tog bly die Afrikaanse kerke tjoepstil oor die goddelose geweld wat Israel pleeg. Hoekom? Dis mos verkeerd? As jy wil hê iemand moet empatie met jou hê moet jy sekerlik ook empatie met ander hê? Is dit nie wat naaste soos jou self beteken nie? Of is Palestyne net eenvoudig te ver om naaste te wees? Wat sal Jesus daaroor te sê hê, of is ‘n Palestyn net nie Samaritaans genoeg nie? 


Dis nie so moeilik om te sien dat Israel die tien gebooie oortree nie. Blykbaar sê die 6de gebod, jy mag nie doodslaan nie. Israel steur haarself glad nie daaraan nie. Israel pleeg volksmoord op ‘n skaal wat my laat sidder. Dis nie ‘n opinie nie, dis die waarheid. Ook sê die 8ste gebod, jy mag nie steel nie. Hierdie hele sogenaamde “oorlog” is eintlik landdiefstal wat in 1948 begin het.


Die 9de gebod sê jy jy mag nie leuens vertel nie. Wie kan nog ‘n woord glo wat Israel vertel? En as jy steeds glo dat dit alles oor Okt 7 gaan, is jy nie besig om die negende gebod teenoor jouself te verbreek nie?


Die 10de gebod sê jy mag nie begeer nie. Dis nou ‘n bietjie laat, want Israel begeer al so lank al die Palestyne se grond dat daar amper niks meer vir die Palstyne oor is nie. Daardie gebod beteken duidelik niks vir Israel nie.


Ek sal self so ver gaan deur te redeneer dat Israel se ego nou so groot is dat hul hulself al verafgod bo God, dus breek hulle volgens my ook die eerste twee gebooie.


Maar hoekom is die Afrikaanse kerke so stil? Dit in ‘n tyd waar die kerk maklik mense veroordeel oor hul seksualiteit wat niemand anders seermaak nie? Ek wil sê die kerk het sy morele kompas verloor, maar dis onakkuraat. Ek dink nie die kerk het nog ooit oor ‘n morele kompas beskik nie. Die kerk se morele kompas het maar nog altyd gewaai in die rigting van die politieke winde van die tyd. Kyk maar byvoorbeeld hoe gemaklik het die kerk gepas, en floreer, in die dae van apartheid.


Die kerk wat versuim om op te staan teen geweld, breek daardeur die derde gebod: hulle gebruik Jesus se naam daagliks en in hoofletters ydel, maar volg nie sy dade nie en laat toe dat ander mense sy naaste te na kom terwyl hulle doodeenvoudig stilbly. Hulle wéét die lidmate wat die geld inbring, wil nie hê dat hulle Israel se volksmoord moet veroordeel nie. Gierig en opportunisties gebruik die kerk die naam van God vir eie gewin en veroordeel wie hul gemeente verlang. 


Hoe pas al hierdie dinge wat verkeerd is in die wêreld dan in my lewensfilosofie dat ons gedoem is tot perfeksie in? Dis eintlik heel eenvoudig. Net soos dit 100% natuurlik is dat ‘n springbok moet sterf om die leeu te voed, is dit reg dat die mens in staat is om homself te vernietig, want as die mens nie met homself in vrede kan verkeer nie, verdien hy dan nog steeds om lank hier op aarde te lewe? Wie weet. Al wat ek weet is die natuur gaan vir altyd aan, met of sonder mens daarin, en dis perfek soos dit is.

Lees op DiePunt
Ons definisies perk ons in
Ons definisies perk ons in
Ek val in geen definiesie nie, ek is nie net links nie, ek het twee voete, links en regs, ek staan in beide kampe, ek is 'n Koserwatiewe Liberalis
Riku Lätti 21 Jan 2026 1,892

Ons definisies perk ons in

Ek val in geen definiesie nie, ek is nie net links nie, ek het twee voete, links en regs, ek staan in beide kampe, ek is 'n Koserwatiewe Liberalis

Ons definisies perk ons in

So belangrik soos identiteit is, net so onbelangrik is dit. Die “Nie in my naam”-beweging van ’n groep Progressiewe Afrikaners (PA) het juis tot stand gekom omdat die Konserwatiewe Afrikaner (KA) totale eienaarskap van die term “Afrikaner” wou toe-eien deur die valse narratief te dryf dat spesifiek Afrikaners om rasredes uitgemoor word.


Was dit nie om die definisie van die woord “Afrikaner” nie, sou die “Nie in my naam”-beweging nooit bestaan het nie. Dit klink so voor die hand liggend dat dit amper onnodig is om te sê. Maar klein waarhede het groot gevolge.


Vir ’n liggaam om ’n groen trui te dra, soos die Springbokke, is belangrik. Op die einde van die dag, om Naas aan te haal, het net een span met een identiteit die Wêreldbeker gewen. Geen opinie, binne of buite daardie span, kan die feite van die dag verander nie. Die Springbokke is die onbetwisde wêreldkampioene. Soos een man sou hulle vir Rassie inval om vir die ganse SA die beker te wen. Maklik, elegant is identiteit as almal een is.


Dat plaasmoord as uitverkore moord bestempel moet word, het iewers onder die Konserwatiewe Afrikaner (KA) ontstaan, en daar is bewyse dat dié gedagte deur AfriForum aangeblaas en gepropageer is. Weereens is dit nodig om ’n voor die hand liggende feit uit te wys: dat plaasmoord, grusaam en betreurenswaardig soos dit is, nie ’n aanduiding is dat daar in Suid-Afrika ’n beleid of veldtog bestaan om spesifiek Afrikaners uit te moor vir hul wit vel nie.


Daar is moontlik van die moorde wat geïdentifiseer kan word as gemotiveer deur velkleur. Suid-Afrika het steeds nie sy rasseprobleme opgelos nie, so natuurlik gebeur sulke moorde. Maar net so is daar vandag nog voorvalle van wit mense wat swart mense om presies dieselfde redes vermoor, en niemand sal daardie enkele voorbeelde gebruik om te argumenteer dat daar ’n volksmoord deur wittes teen swartes gepleeg word nie. Selfs die getalle is nie in die volksmoord-argument se guns nie. Op Soweto-dag is meer swart mense vermoor as in tien jaar se plaasmoorde.


Die hartseer vir die KA is dat die PA, klein soos hul groepie ook al is, die KA die reg ontneem om die term “Afrikaner” te gebruik om hul wit-volksmoord-narratief te dryf. En dis juis omdat die PA so ’n klein groep is dat dit die KA so ontstel. Hoe kan so ’n noemenswaardig klein groep die mag besit om die oorgrote meerderheid se opinie (of emosie) se legitimiteit so te verwoes?


Wat het geword van “Soos een man sal ons vir jou val”? Die PA verraai mos nou die Afrikaner, volgens die KA. Dis asof al die Sprinbokke vir SA uitdraf, behalwe Willie le Roux se wit broek speel vir die Engelse span. En, gemeet aan die kommentare op die blaaie, is dit die grootste misdaad sedert Piet Retief vermoor is.


In die oë van die KA is die PA die kankergewas binne die Afrikaner—die gedeelte van die liggaam wat die geheel ondermyn. Daarom die vyandigheid jeens hierdie klein minderheid. Daarteenoor is die KA vir die PA die kanker in die groter prentjie van ’n demokratiese SA.


Ons is dus nou in ’n Afrikaner-konfrontasie, en niemand durf waag om sy oë van die ander te haal nie. Intussen het die krieketseisoen al vir die res van die wêreld begin, om nog ’n bietjie krag uit die kolonialistiese sportmetafoor te wurg.


Die deurbraak na helderheid kom wanneer ons na die definiëring van die woord “landsverraaier” kyk. Tydens die 1992-referendum is die PA’s gesien as die landsverraaiers wat die land aan swart mense sou oorhandig. En Kerkorrel het gesing in BMW: “Moet ons alles dan verniet weggee?”


Vandag sit die Afrikaner steeds met ’n disproporsioneel groot hoeveelheid land en welvaart in SA. Die PA’s is nou herdefinieer as “volksverraaiers”, terwyl die KA’s, as’t ware, beter pas onder die definisie “landsverraaier”, aangesien daar onder daardie geledere duidelik meer lojaliteit bestaan vir Orania, Amerika (en selfs Israel) as vir Suid-Afrika.


Dit is dus ironies dat die KA’s nog so aandring om Die Stem by hul saamtrekke te sing, want hulle deel duidelik nie meer die sentiment van die woorde “ons vir jou, Suid-Afrika” nie. Ons kan om die feite wals, of ons kan erken dat dit die dawerende terughunkering na apartheid is—die verlange na ’n ondemokratiese SA waar die wit man heers met die wil en stempel van God, soos deur hulself uiteengesit. Dit verklaar ook die lojaliteit teenoor Israel (die wêreld se mees suksesvolle apartheidstaat), selfs terwyl Israel ’n volksmoord pleeg wat hulle, ironies genoeg, ontken.


Die KA’s en die PA’s staan weerskante van ’n groot kloof en skree in die ooptes na mekaar. Dis juis hier waar die kranse antwoord gee. Elke groep aan elke kant hoor net die boodskap in die eggo wat hy kies om uit die lawaai te hoor.


Dis hier waar ons definisies ons toetentaal in die steek laat. Nie die KA of die PA is ’n homogene groep nie. Daar is radikales en gematigdes aan alle kante. Ook kan mense wat liberaal is op sekere gebiede, as erg konserwatief op ander bestempel word. Byvoorbeeld: ’n liberaal wat erken dat apartheid ongelooflike skade aan swart mense se kanse op welvaart aangerig het, maar wat terselfdertyd konserwatief staan om te keer dat welvaart vandag herverdeel word. “Dit sal die mark in duie laat stort as ons vandag besluit dat eiendom niks meer beteken nie,” redeneer my denkbeeldige liberale karakter. Nie alle liberales is kommuniste nie. En nie alle liberales het swart vriende nie. Daarteenoor is daar talle KA’s met heelwat meer betekenisvolle kontak met swart mense op voetsoolvlak as sommige PA’s in tuis-ingerigte ivoortorings.


Daarom is dit nodig dat ons weer na ons definisies kyk en bepaal tot watter mate dit ons dien, en tot watter mate dit ons verdeel. En is die bediening die verdeling werd?

Ons verloor mekaar se medemenslikheid as ons eers ’n definisie is voordat ons mense is. Baie van hierdie definisies word so ferm en onwillig op mense afgedwing dat die definiëringsproses mense verder van mekaar vervreem as wat hulle werklik is.


Kyk byvoorbeeld hoe goed die anonimiteit van toevallige ontmoetings in die publiek werk. Hoe minder ons van ’n persoon se politieke identiteit weet, hoe groter is die kans op vriendelikheid. Ongeag die groot ideologiese kloof tussen mense, bly daar ’n kans vir medemenslikheid, en kan kontak selfs brue bou vir ’n avontuurlustige groep wat wil sien hoe die wêreld buite sy eie lager lyk.


Natuurlik sal daar mense wees wat standvastig aandring op die behoud van hul standpunt über alles. Jy gaan nooit almal kan oortuig om gemeenskaplike grond te betree nie, maar net so gaan jy min bereik as jy nie beleefd met mense buite jou bende kommunikeer nie.


Tans gaan die wêreld gebukkend onder swak leierskap. Goeie mense in Suid-Afrika sukkel onder die swak ANC-regering. Net so is daar goeie mense in Israel en Amerika wat, ondanks swak leierskap, steeds ’n bestaan moet voer en ’n lewe wil lei waarop hulle trots kan wees. Net so is daar ook mense binne die geledere van AfriForum en Solidariteit wat die goeie gemeenskapswerk en geleenthede waardeer, maar nie met die raspolitiek van Afrisol saamstem nie. Die huidige Afrisol-leierskap dwing egter mense om die raspil te sluk in ruil vir die ekonomiese en maatskaplike bemagtiging wat Afrisol bied.

Nie elke lid van AfriForum en Solidariteit is verantwoordelik vir hul organisasies se politieke standpunte nie—net soos nie alle Suid-Afrikaners met die regering saamstem nie, en net soos nie alle Springbokke noodwendig met alles saamstem wat Rassie doen nie. Daarom is dit nodig om te erken dat ’n term wat jou definieer, maar net ’n baadjie is wat jy kan aan- en uittrek. Die ware identiteit van wie ’n individu is, is veel meer as die klere wat hy of sy dra. As ons dit onthou, kan ons mekaar in die oë kyk, ongeag die verskillende baadjies wat ons dra.


My hoop vir SA is dat ons as land, ten spyte van ons verskille, almal vir dieselfde span sal skree—en ja, die afrigter, hetsy die ANC, Erasmus of wie ook al, met die nodige respek sal uittrap waar dit moet—maar nie die land sal verraai wanneer ons verskil nie, deur by die All Blacks of Amerika aan te sluit.

Ons pad na ’n beter toekoms loop deur demokrasie. Ons moet, as land, die ANC uitstem, en dit is besig om te gebeur. Net so sou dit gesond wees as elke party en/of organisasie ontslae kan raak van leierskap wat nie die meerderheid van sy mense se waardes deel nie. Dit is moontlik om van swak leiers in elke gemeenskap ontslae te raak. Maar daarvoor is kommunikasie nodig—die soort kommunikasie wat nie die rug verstyf en die toks dieper trap om harder terug te druk nie, maar kommunikasie wat toorn verlaag en die hand uitreik.


Vir my persoonlik is dit skadelik as ons definisie van onsself te groot rol speel. Veral nou dat konserwatief so sterk teenoog liberalis gekontrasteer word amper as uiterstes. Asof die een volkome links is en die ander regs. Ek het voete is beide denkrigtings: ek glo in behou die goeie asook gun dit vir almal. Daarom is ek ‘n Konserwatiewe Liberalis. 


So kom ons los almal ons definisies by die huis en laat ons tussen mekaar net mense wees.


Lees op DiePunt
Afrikaner, wie is jy?
Afrikaner, wie is jy?
Wie de hel is die Afrikaner?
Riku Lätti 21 Jan 2026 1,762

Afrikaner, wie is jy?

Wie de hel is die Afrikaner?

Afrikaner, wie is jy?

“Maar hoekom kan die Afrikaner net nooit saamstaan nie?”  Dit is ‘n vraag wat ek al uit soveel oorde moes hoor of lees. Gewoonlik is dit ‘n retoriese vraag en die gesprek stop gewoonlik net daar en dan of beweeg vinnig genoeg aan na die rugby toe of ‘n stoute grappie word vertel, want wie wil vir ewig mislukkings kontempleer?


Maar laat my toe om met my geskiedeniskennis vol gate ‘n eerlike antwoord op daai vraag te waag. Daarvoor moet ons begin by wat word bedoel met “Afrikaner”. Dis ‘n gelaaide vraag, maar as ons eerlik is sal ons meeste van ons erken dat met “Afrikaner” word bedoel “wit, Afrikaanssprekendes, wat Sondae na ‘n Calvinistiese kerk toe gaan”. volgens https://www.afrikanerbond.co.za/ik-ben-een-afrikaander---junie-2022)


Net met daai definisie het jy my een en ‘n half keer verloor. Een: ek gaan nie Sondae na ‘n Calvinistiese kerk toe nie, en twee, helfte van my familie is nie wit nie. 


Maar met so eng definisie van Afrikanerskap is daar positiewes om weg te neem. Dit lyk (vir baie Suid-Afrikaners) of die Afrikaner tog goed bymekaar staan gemeet aan die homogeniteit van die bevolkingsdemografie van Afrikanerbyeenkomste.   So wat is die probleem?  Al word gesê die Afrikaner kan nie saamstaan nie, is dit duidelik dat hy baie suksesvol saamdrom?


Die probleem vir die Afrikaner is dat daar wit Afrikaanssprekendes is wat nie Afrikaner genoem wil word as die definisie so eng toegepas word nie. As “Afrikaner” nie ook my bruin broers en susters insluit nie, is ek nie ‘n Afrikaner nie, of te wel, as my naaste nie partytjie toe mag kom nie, sal ek nie gaan nie.


Dan hoor ek weer daai stem in die bar op facebook: “Sien dis hulle, daai donnerse Afrikaanse liberaliste wat nie saam met ons kan staan nie! Volksverraaiers!” Meantime is dit hul eie definisie van Afrikanerskap wat die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes uit hul bende sluit. Die ego van die Afrikaner kan nie duld dat daar wit Afrikaanse mense is wat sê “ons is nie almal so nie”*.  


* dankie Jeanne Goosen


Wat mens wel nie kan ignoreer nie, is die sukses van die Afrikaner, asook die voordeel wat die nie-Afrikaner uit die sukses van die Afrikaner put. Die dinge wat die Afrikaner  bou, is ook ten bate van mense wat nie Afrikaners is nie. Die slaggate wat Afriforum vul is nie net vir die bakkies van wit boere nie. Akademia Universiteit gaan geleerdes oplewer wat werk lewer ten bate van almal in Suid-Afrika, nie net wit Afrikaanse mense nie.


Ons grondwet verdedig almal se reg om te assosieer met wie sy wil. Daarom kan ons gerus maar kalmeer en vrede maak met die feit dat die Afrikaner so te sê net met homself wil assosieer. Dis sy volste reg. Die noue bande wat Afrikaners met ander Afrikaners het is benydenswaardig. Ek wens partykeer die res van SA was so lief vir mekaar soos wat die Afrikaner homself liefhet.


Uit hierdie liefde vir homself kom ‘n trots, ‘n volkspatriotisme wat soms handuit kan ruk en ideaal gesproke ‘n bietjie introspeksie verlang, of indien dit nie van binne gebeur nie, ‘n tempering van buite benodig. Soos wanneer die “ons” so cool word dat daar neergekyk word op die ander. Kortom, saamwees is bak, supremisme is minder bak.


Wanneer hierdie ultra-patriotisme die oorhand kry, is wanneer die onmin tussen gemeenskappe ontstaan. Dis wanneer “volksidentiteit” as ‘n wapen aangewend word om as ‘n groep bevoordeel te word ten koste van ander gemeenskappe wat nie dieselfde vermoë het om saam te staan nie. 


Dan gebeur goed soos die teenkanting van opheffing van ander gemeenskappe in die naam van nie-rassigheid” terwyl dit juis die rassigheid van die geskiedenis wat hierdie groep in die magsposisie sit om opheffing so sterk teen te kan staan.


Dis die gesiene wynboer op die land wat die loon van die bruin werker slaafslaag hou, die water van die mense kan afsny, taaiklappe kan uitdeel en uitskel in ongrondwetlike taal. Terwyl die gesiene boer die lof ontvang in gesiene sirkels vir die opbouingswerk wat hy vir die Afrikaner verrig, kweek hierdie selfde aksies onmin, haat en vyandigheid teenoor die Afrikaner tussen die ongesiendes.


En omdat die stemme van hierdie ongesiene gemeenskappe selde gehoor word, is dit met verbasing dat die Afrikaner elke nou en dan uit die monde van mense met kwaai kyke in die oë moet hoor dat die Afrikaner nie die mees geliefde groepering is onder ander Suid-Afrikaners nie.


Dan gaan nie help om die laers te probeer groter trek en die verraaiers, die Afrikaanse liberaliste te probeer paai om te bekeer en terug te keer na die res van die Afrikaners toe nie. Teen die tyd is dit al duidelik vir die res van Suid-Afrika dat “ons nie almal so is nie”. Daar is wel baie wit Afrikaanses wat tuis voel in gemengde SA wat nie presies so tuis voel onder net Afrikaners nie. 


Die res van SA weet reeds daar is Afrikaners wat nie in die eng definisie van Afrikaner inpas nie en selfs distansieer van dáái tipe Afrikaners wat herken word vir wie hulle is wanneer hul houding afdwing en baasskap proklameer en terselfde tyd ander mense minag. Ware bekering kan nie onder dwang plaasvind nie. As jy wil vriende maak, is daar ander maniere.


Die goeie nuus is daar is reeds in SA onder alle geledere ‘n bewussyn van die voortreflikheid van die Afrikaner. Daar is reeds swart mense in Suid-Afrika wat in mooi Afrikaans sal kan erken dat daar wit mense is wat waarde  toevoeg tot die gemeenskap en hul lewens. Alreeds.


Die oplossing vir beide die probleme in die land, sowel as die moeilikheid met Afrikaneridentiteit, is myns insiens voordiehandliggend. 


Ons moet onthou dat vir meeste mense in die land is die ANC die heel beste regering wat hulle nog ooit geken het. Hulle weet nie wat dit is om iets beter as die ANC te hê nie, want die vorige regerings het nie in hulle belange opgetree nie. Geluk by die ongeluk van die ANC is dat die ANC nou al 30 jaar gehad het om te wys hoe sleg hulle is. Die resultaat is ‘n merkwaardige daling in verkiesingsopkoms, van 86% in 1994 tot 66% in 2019. Daar is amper 40% van ons bevolking wat nie voel dis die moeite werd om te gaan stem nie.


Ek sien ‘n geleentheid hierso. In plaas van die Afrikaner veg onder mekaar om wit stemme te werf, herdefinieer die Afrikaner haarself as Afrikaanssprekende van Afrika. Gaan praat dan met alle mense as gelykes. Geen meer skaamte oor die geskiedenis nie, want die geskiedenis bepaal nie meer wie die groep is nie. Die hede doen. 


Daar is tog op die ou end meer van ons wat saamstem oor wat ‘n goeie lewe is. Net so is daar baie onwit mense wat ook lief is vir Afrikaans. Gaan tel al daai verlore stemme van die vloer van vergetenheid op en bou saam om ‘n groter, magtiger groep te wees met een stem uit baie monde vanuit baie oorde.


Maar solank as wat Afrikaner net wit mense beteken, gaan die aansien van die Afrikaner aanhou kwyn en sal hy nooit volkome van die vyandigheid teenoor hom kan ontslae raak nie.


Lees op DiePunt
Boeke 1
Taboek

Taboek

2024 Naledi Boek
Riku Lätti
R250.00
Riku Lätti se poësie-debuut is meer as net nog ’n oulike digbundeltjie in Afrikaans; ek sien dit as ’n monumentale en omvattende deurgronding van alle fasette van die moderne mens se soeke na betekenis en — hier kom die grootste verrassing — selfs ons opvattings oor die teologie.
– Koos Kombuis

Aangrypende meditasies oor die heiligheid van onsekerheid. ’n Boek waarna ek telkens sal terugkeer om naby die aarde en werklikheid te bly om nie te gryp na die warm lug van dogma en onwetenskaplike verduidelikings van bestaan nie.
– Dana Snyman

Met ’n Taboek oor god lewer Riku Lätti ’n speelse pleidooi vir die aanvaarding van alles wat is omdat dit is.
– Danie Marais
Taal:Afrikaans
Bladsye:113
ISBN:978-1-991256-79-9
Uitgewer:Naledi
Jaar:2024
Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek