Artikels 7
Gerard Scholtz praat met Naomi Meyer oor Gerard se Hier gaat ons! Reise en rampe.
Gerard Scholtz praat met Naomi Meyer oor Gerard se Hier gaat ons! Reise en rampe.
Met Hier gaat ons! Reise en rampe neem Gerard Scholtz lesers saam op ’n wilde, melancholiese en soms skreeusnaakse tog deur Europa — van sneeustorms in die Sentrale Massief tot byna noodlottige oomblikke op bergpasse en lang dae tussen kloosters, agterpaaie en klein dorpies. In hierdie openhartige onderhoud vertel hy hoe dagboeke, briewe en reisnotas uiteindelik ’n boek geword het wat veel meer is as net ’n reisverhaal: dit is ’n meditasie oor menswees, geheue, liefde, verlies en die ewige hunkering na wat agter die volgende bult lê.
Gerard Scholtz 13 May 2019 119

Gerard Scholtz praat met Naomi Meyer oor Gerard se Hier gaat ons! Reise en rampe.

Met Hier gaat ons! Reise en rampe neem Gerard Scholtz lesers saam op ’n wilde, melancholiese en soms skreeusnaakse tog deur Europa — van sneeustorms in die Sentrale Massief tot byna noodlottige oomblikke op bergpasse en lang dae tussen kloosters, agterpaaie en klein dorpies. In hierdie openhartige onderhoud vertel hy hoe dagboeke, briewe en reisnotas uiteindelik ’n boek geword het wat veel meer is as net ’n reisverhaal: dit is ’n meditasie oor menswees, geheue, liefde, verlies en die ewige hunkering na wat agter die volgende bult lê.

Gerard Scholtz praat met Naomi Meyer oor Gerard se Hier gaat ons! Reise en rampe.

Oonspronklik verskyn op Litnet

Hallo Gerard, geluk met Hier gaat ons! Die boek boekstaaf jou en jou

vrou se reise oor jare heen. Hoekom het jy hierdie boek geskryf?

Die boek het homself geskryf. Dit is die samestelling van briewe, dagboeke, artikels en blogs oor ons reise deur Europa per fietse en later met ons geliefde skoeters, Silwer en Blou. Ek dokumenteer mos alles en sit elke aand en skryf die dag se indrukke volledig neer, omdat die dae en beelde oor mekaar skuif en jy wraggies nie kan onthou waar jy gister was nie. Veral wanneer jy tot ses maande op ’n keer byna elke dag jou tent onder ’n ander boom of langs ’n ander rivier opslaan. Baie van die verhale is as’t ware in die hardloop geskryf. Daar was so baie versoeke om van die verhale te bundel, en toe dag ek: Hoekom nie?

Die subtitel, “reise en rampe”, het my laat glimlag. Wil jy dalk hierop

uitbrei?

Wanneer jy soos ons reis, is jy elke dag aan die elemente, onvoorspelbaarheid, die onbekende en gevare blootgestel. Ironie, metafisika en magiese realisme raak dan reisgenote en oorlewingsmeganismes. Daar het al verskriklike dinge met ons gebeur. Hier en daar lewensgevaarlik en met jou seningvleise aan flarde. Anuta is byvoorbeeld byna van die Col de Tourmalet, die ikoniese pas van die Tour de France, met Blou en al deur ’n stormwind oor die afgrond gewaai; of ons kon dit nog nooit regkry om die Sentrale Massief in goeie weer te oorkruis nie en beland altyd in ’n onverwagse sneeustorm of yslike haelstorm sonder skuiling; of ons klim noord van die Noordpoolsirkel by die verkeerde stasie af en toe die trein vertrek, is daar byna niks om ons nie, net die toendra; daar is kere toe ons mekaar langs die pad of in ’n stad verloor het; in Toskane breek ’n onderdeel, en wag ons vir drie weke op ’n nuwe – in een van die mooiste plekke op aarde. En so kan ek aangaan.

Maar dít is die stories, daardie ironiese reisrampe, wat jy oorvertel. Bygesê, altyd met ons kavalkade van vrolike engele fladderend agterna.

Die millenniërs glo mos as iets nie op Facebook gebeur het nie, het dit nie plaasgevind nie. Maar om 'n boek gepubliseer te kan sien oor jare se reise, is 'n nog meer permanente bewysstuk as 'n Facebook-inskrywing. Jy het al ’n bietjie vertel hoe die boek ontstaan het – stuk-stuk as dagboekinskrywings, uitknipsels, ens. Hoe besluit mens uiteindelik wat haal die boek, en wat is meestal 'n mens se eie herinnering, vir privaat-onthou? 

My grootste bekommernis was oor privaatheid, omdat my dagboeke binnegedagtes is en die briewe aan spesifieke mense geskryf was. Ek wou nie sensor nie en besluit toe om eerlik te bly en die poorte wyd oop te gooi. Dit was ’n goeie besluit waaroor ek vrede het. Daar is letterlik honderde verhale wat geskik sou gewees het. Ek het 58 geïdentifiseer en het toe die redigeerder gevra om verder te sny. Uiteindelik is 38 opgeneem wat in temas georden is. Almal verhale met Europa as agtergrond, buiten twee.

Ons reis altyd met ’n tema in gedagte. Dit gee betekenis en stuwing aan ’n reis en word jy ’n student wat meer en meer wil weet. Ons doen dan baie navorsing voor die tyd en verdere oplees tydens die reis. So het van die verhale dan ook maklik in temahoofstukke geval. Ek is ’n verstrooiingsmens en ’n liniêre tydsverloop van die verhale sou nie vir my gewerk het nie.

Groot was my verbasing toe die keurders toe die volgende oor die boek gesê gesê het: “’n Omvangryke en diepgaande reisboek wat nie maklik ’n gelyke in Afrikaans het nie”; “Dié reisindrukke word oordenkings oor menswees”; “Elke reis is ’n ongewone ervaring wat nog nie só in Afrikaans verwoord is nie.” Toe weet ek die regte keuses is gemaak. My ander groot verbasing was toe Hier gaat ons! aangewys is as die topverkoper in die Leefstyl-afdeling van die 2019-US Woordfees.

'n Praktiese vraag. Reis is nie goedkoop nie. En die rand as geldeenheid is nie aldag so 'n staatmaker nie. Hoe finansier mens dit om by plekke uit te kom wat mens graag wil sien?

Ons moet onthou dat Suid-Afrika ’n baie, baie duur land is. Ons is pas terug van Zambië en Malawi, wat op ’n manier vir die reisiger nóg duurder is. Daarteenoor is Europa, op die manier waarop ons reis, heelwat goedkoper. Ons basiese behoeftes is kos en drinkgoed, petrol en verblyf. Ons reis nou al jare met min of meer dieselfde daaglikse begroting omdat hulle nie juis inflasie het nie. Ons is nie skaam om te sê dat ons begroting tussen €60 en €65 per dag is nie.

Vroeër jare het ons gekampeer en het later gevind dat airbnb-plekke in baie gevalle goedkoper is. Museums is duur, daarom is ons baie kieskeurig en is ons so half en half uitgekuier daarvoor. Katedrale ook. Ons eet baie min uit en verkies om liewer lekkerder en varser van die markte en supermarkte te eet – verkieslik streekskosse en -produkte. Ons vervang ook wyn met bier. Goeie wyn is duur en jy weet nie altyd wat jy koop nie.

Hoe meer ons reis, hoe minder wil ons in stede kom. Ons soek na rustigheid, en stede is ook duurder. Agterpaaie neem ons na klein plekkies waar daar ’n meer tradisionele bestaan is, wat ons aanstaan en goedkoper is. Ons het ook intensief in die Balkan en ou Oos-Europese lande begin reis, wat meer bekostigbaar is as Sentraal-Europa. Die Balkangeskiedenis was ook vanaf skooldae ’n groot belangstelling.

Reis is maar die ding in ons lewens. Tuis leef ons eenvoudig en spandeer nie geld op luukses, nuwe motors en klere nie.

'n Emosionele en hartsvraag: Hoe het julle bepaal waarheen julle alles wil reis? Wat maak van 'n plek 'n droombestemming (vooraf) en dan, in die praktyk, as mens daar is?

Ons het ’n voorliefde vir die Ou Wêreld, seker maar omdat ons DNS daar gevorm is. Ons voel daar tuis en gly maklik in die kultuur en bestaanswyse in. Dit is elke keer tydens aankoms – soos drie dae gelede in Europa – ’n emosionele tuiskomsoomblik. Na maande se verblyf hier raak die vertrek terug na Suid-Afrika ook moeiliker en moeiliker. Ons het geen begeerte om byvoorbeeld die VSA te besoek nie – wil net in Europa wees.

Droombestemmings vir ons is nie luukse hotelle, strande met palmbome of in die son rondlê nie, maar gaan oor die eie ontdekking van geskiedenis, kos, argitektuur en die kultuur van ’n plek. En dan natuurlik berge. Ons soek roetes op wat ons al oor die mees uitdagende bergpasse van Europa geneem het. Dit was byvoorbeeld ’n hartsbegeerte om die 90 kilometer lange Transfăgărășan in Roemenië te doen, wat ’n geweldig emosionele en oorweldigende oomblik opgelewer het toe ons die kruin bereik het. Eenkeer sou ons net die Spaanse Pireneë oorsteek en toe bly ons vir drie weke oor en moes later net weer teruggaan. Vanjaar is dit meestal herbesoeke aan droomplekke en doen ons die Napoleonroete en die Franse en Italiaanse Alpe. Alles wat hoogtes, uitdagings en die moontlikheid tot avonture bied.

En as ons daar is? Dit hang af van waar dit is. Ek dink byvoorbeeld aan die besoeke aan die strafkampe van Theresienstadt, Auschwitz en Birkenau, dan is dit nie ek wat daar is nie, maar word my kamera die oog wat alles kil deur ’n lens bekyk – om my teen verskrikking te beskerm. Met die skryf van die verhaal was dit ook so en kon ek nie emosioneel betrokke raak nie. In Rusland, waar ons met fietse van St Petersburg na Moskou getrap het, was dit weer my plaasdae as kind wat helder voor my opgespring het. Herinneringe wat ek as kind al lankal vergeet het, is deur daardie mooi arkadiese landskap opgeroep. En wanneer dit beeldskone plekke soos byvoorbeeld Slowenië is, dan gee jy jouself oor aan die skoonheid wat jou na ander vlakke laat transendeer.

Die inskrywing oor Ierland het ek met belangstelling gelees, omdat ek en my gesin jare lank in Ierland gewoon het. Die ontwykende land, die soeke na "die Ierland van ons drome". Veral wat kos betref: die sodabrood en die Guinness wat mense so ophemel, maar waaroor mens maar bietjie mens se bedenkinge het as jy dit self proe. Of hoe? Wat onthou jy van Ierland? En onthou mens nie tog die Ierland van mens se drome as mens daarop terugkyk nie?

Dis so waar. Ek was eintlik geskok toe ek die verhaal weer opdiep en lees hoe ontwykend ons die land gevind het. Die teleurstellings en swaarkry van reis verdwyn mos en jy onthou die mooie en die goeie. Seker maar ’n verdedigingsmeganisme. Die besoek aan die Skelligeilande was byvoorbeeld ’n hoogtepunt, maar die swaar see, die seesiek, die papsopnat spat van die seesproei en die gevaarlike landing daar het ek vergeet. Ek onthou net die magtige gevoel om die rotspieke van die eiland uit te klim en die eensame en harde lewe van die priesters wat daar teen die invalle van die Vikings kom skuil het.

Nou moes ek weer lees hoe swaar ons fiets getrap het in die golwende landskap. Hoe sleg die paaie was. Hoe geld van die Europese Unie die platteland ontsier het met groot siellose gastehuise. Hoe sleg die kos was. Maar in my drome onthou ek die smaraggroen, die skoonheid van die Ring van Beara, die akkordeonmusiek in ’n pub – gelukkig!

Watter van die reise in hierdie boek bly jou in die besonder by?

By uitstek die twee maande met Silwer en Blou deur Serwië en Roemenië waar ons tema kloosters en ikone was. Ons was nie heeltemal voorbereid op die geweldige geestelike, emosionele en ook intellektuele impak wat dit op ons sou hê nie. Ons het nie geweet dat die ortodoksie en die oorweldigende natuur ons so sou oorweldig nie.

Ter voorbereiding het ons Daniel J Louw se seminale boek Icons. Imaging the unseen bestudeer. Maar dit kon ons nie heeltemal voorberei om voor ’n ikoon te staan en die onsienlike te sien en te beleef nie. In Hier gaat ons! is daar ’n afdeling, Van klooster tot klooster, met vier verhale. Ek skryf daar van die laaste oer-oerwoude van Europa, prins Charles van Groot-Brittanje wat dorpies en streke opkoop om die Middeleeuse argitektuur en boerderymetodes te bewaar, en van die streek waar die fresko’s aan die buitekant van die kerke geskilder is. Ek noem dit Komieks teen kerkmure. Ons was ook bevoorreg om tydens Pinkster vir vier dae in Serwië se hoofklooster, Studeniça, oor te bly en die liturgie van Krisostomus werklik te hoor, en nie net op ’n CD tuis nie. Roerend en ’n onwerklik-mooie sangbelewenis.

Jy is betrokke by De Kat en skryf gereeld vir hulle. Hoe is skryf vir 'n

tydskrif vir jou verskillend van die skryf van reisverhale? En wil jy dalk nog meer van jou agtergrond vertel?

Ek is DEKAT se boekeredakteur en dien ook in die senior redaksie. Verder is ek ook die Kaapse vervaardiger en soms aanbieder van DEKAT-TV. So het ek al by die 150 TV-onderhoude met skrywers gedoen, wat ’n geweldige voorreg is. My voorliefde lê by die skryf van profiele van veral skrywers – om in die gedagtewêreld van ’n skrywer rond te delf en te dwaal. En dan treur ek vir dae agterna omdat die gesprek verby is.

Onthou dat die reisverhale “in die hardloop” geskryf is, maar wanneer jy ’n artikel skryf, moet alle feite korrek wees. Ek loop en broei vir dae om die juiste invalshoek te kry en maak staat op my onderbewussyn. As die invalshoek dan by my opdaag, is dit daarna byna soos paint by numbers. Ek kan myself dan nie keer nie en voltooi die artikel in een sitting. Die versorging en redigering kom dan later. Ek kan gelukkig dan die naelstring knip en dit laat gaan. Meestal.

Oor my agtergrond: Op 16 Desember 1949 in Pretoria gebore – word dus 70 aan die einde van die jaar. In die Waterberge grootgeword, drama geswot, in 1977 met Anuta getroud, skoolgehou, toe regisseurwerk vir verhoog en TV gedoen, meer as 20 jaar klas gegee in Kaapstad by die Akademie vir Dramakuns, op 47 afgetree en op Rooiels gaan woon, van waar ons projekte aanpak en vryskutwerk doen. Ek het ook vir vier jaar in die Verre Ooste gewoon en heelwat van daar gereis.

Wat was vir jou die lekkerste en die moeilikste van die skryf van

hierdie boek?

Die maklikste was dat daar nie die druk van karakterontwikkelings en storielyne was nie. Die lekkerste was die heerlike simbiose wat daar tussen my en die redigeerder, Nellie Alberts, ontstaan het. Die gereedmaak van die boek het met Helga Steyn as uitgewer van Hemel en See soomloos verloop – al was ek soms onhebbelik moeilik.

Die moeilikste was dat ek ver drade moes gaan optel. Reise van lank gelede wat afgestof moes word (sonder om te sensureer) en vir ’n ander lesersgehoor verwerk moes word. Daar was ook die skokke dat ’n mens jou eie waarhede skep en Nellie wat met haar skerp oog dit agtergekom het.

’n Ander baie moeilike ding was die skryf van plekname in Afrikaans. Ek wou eers nie, maar Nellie was onwrikbaar dat reëls gevolg moet word. Later was ek so deurmekaar en kon ek glad nie meer spel nie. Toe het ons besluit dat wanneer ons ’n fout maak, dit deurgaans so geskryf moet word. Dit was nou slaaplose nagte.

Ek wou by elke storie ’n kaart hê, omdat kaarte so ’n belangrike rol in ons reise speel. Toe ons uitvind dit gaan te duur wees, het ek ingespring en self die kaarte geteken. Dit het weke geduur. En dan kom ons agter die name van plekke is in die verkeerde taal en moet oorgedoen word ...!

Waarom reis?

Voor in die boek is daar ’n aanhaling van Boerneef wat vir my alles saamvat: “Ek wou gaan kyk hoe dit agter die bult lyk, en dan nog ’n bult, en dan nog ’n rant en ’n hoogte. Ammelee verder. Ammelee sien hoe dit doer ver lyk.” (Andries Harlekyn in Teen die helling)

Bekyk op Profiel
Afrikaner, wie is jy?
Afrikaner, wie is jy?
Wie de hel is die Afrikaner?
Riku Lätti 21 Jan 2026 1,762

Afrikaner, wie is jy?

Wie de hel is die Afrikaner?

Afrikaner, wie is jy?

“Maar hoekom kan die Afrikaner net nooit saamstaan nie?”  Dit is ‘n vraag wat ek al uit soveel oorde moes hoor of lees. Gewoonlik is dit ‘n retoriese vraag en die gesprek stop gewoonlik net daar en dan of beweeg vinnig genoeg aan na die rugby toe of ‘n stoute grappie word vertel, want wie wil vir ewig mislukkings kontempleer?


Maar laat my toe om met my geskiedeniskennis vol gate ‘n eerlike antwoord op daai vraag te waag. Daarvoor moet ons begin by wat word bedoel met “Afrikaner”. Dis ‘n gelaaide vraag, maar as ons eerlik is sal ons meeste van ons erken dat met “Afrikaner” word bedoel “wit, Afrikaanssprekendes, wat Sondae na ‘n Calvinistiese kerk toe gaan”. volgens https://www.afrikanerbond.co.za/ik-ben-een-afrikaander---junie-2022)


Net met daai definisie het jy my een en ‘n half keer verloor. Een: ek gaan nie Sondae na ‘n Calvinistiese kerk toe nie, en twee, helfte van my familie is nie wit nie. 


Maar met so eng definisie van Afrikanerskap is daar positiewes om weg te neem. Dit lyk (vir baie Suid-Afrikaners) of die Afrikaner tog goed bymekaar staan gemeet aan die homogeniteit van die bevolkingsdemografie van Afrikanerbyeenkomste.   So wat is die probleem?  Al word gesê die Afrikaner kan nie saamstaan nie, is dit duidelik dat hy baie suksesvol saamdrom?


Die probleem vir die Afrikaner is dat daar wit Afrikaanssprekendes is wat nie Afrikaner genoem wil word as die definisie so eng toegepas word nie. As “Afrikaner” nie ook my bruin broers en susters insluit nie, is ek nie ‘n Afrikaner nie, of te wel, as my naaste nie partytjie toe mag kom nie, sal ek nie gaan nie.


Dan hoor ek weer daai stem in die bar op facebook: “Sien dis hulle, daai donnerse Afrikaanse liberaliste wat nie saam met ons kan staan nie! Volksverraaiers!” Meantime is dit hul eie definisie van Afrikanerskap wat die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes uit hul bende sluit. Die ego van die Afrikaner kan nie duld dat daar wit Afrikaanse mense is wat sê “ons is nie almal so nie”*.  


* dankie Jeanne Goosen


Wat mens wel nie kan ignoreer nie, is die sukses van die Afrikaner, asook die voordeel wat die nie-Afrikaner uit die sukses van die Afrikaner put. Die dinge wat die Afrikaner  bou, is ook ten bate van mense wat nie Afrikaners is nie. Die slaggate wat Afriforum vul is nie net vir die bakkies van wit boere nie. Akademia Universiteit gaan geleerdes oplewer wat werk lewer ten bate van almal in Suid-Afrika, nie net wit Afrikaanse mense nie.


Ons grondwet verdedig almal se reg om te assosieer met wie sy wil. Daarom kan ons gerus maar kalmeer en vrede maak met die feit dat die Afrikaner so te sê net met homself wil assosieer. Dis sy volste reg. Die noue bande wat Afrikaners met ander Afrikaners het is benydenswaardig. Ek wens partykeer die res van SA was so lief vir mekaar soos wat die Afrikaner homself liefhet.


Uit hierdie liefde vir homself kom ‘n trots, ‘n volkspatriotisme wat soms handuit kan ruk en ideaal gesproke ‘n bietjie introspeksie verlang, of indien dit nie van binne gebeur nie, ‘n tempering van buite benodig. Soos wanneer die “ons” so cool word dat daar neergekyk word op die ander. Kortom, saamwees is bak, supremisme is minder bak.


Wanneer hierdie ultra-patriotisme die oorhand kry, is wanneer die onmin tussen gemeenskappe ontstaan. Dis wanneer “volksidentiteit” as ‘n wapen aangewend word om as ‘n groep bevoordeel te word ten koste van ander gemeenskappe wat nie dieselfde vermoë het om saam te staan nie. 


Dan gebeur goed soos die teenkanting van opheffing van ander gemeenskappe in die naam van nie-rassigheid” terwyl dit juis die rassigheid van die geskiedenis wat hierdie groep in die magsposisie sit om opheffing so sterk teen te kan staan.


Dis die gesiene wynboer op die land wat die loon van die bruin werker slaafslaag hou, die water van die mense kan afsny, taaiklappe kan uitdeel en uitskel in ongrondwetlike taal. Terwyl die gesiene boer die lof ontvang in gesiene sirkels vir die opbouingswerk wat hy vir die Afrikaner verrig, kweek hierdie selfde aksies onmin, haat en vyandigheid teenoor die Afrikaner tussen die ongesiendes.


En omdat die stemme van hierdie ongesiene gemeenskappe selde gehoor word, is dit met verbasing dat die Afrikaner elke nou en dan uit die monde van mense met kwaai kyke in die oë moet hoor dat die Afrikaner nie die mees geliefde groepering is onder ander Suid-Afrikaners nie.


Dan gaan nie help om die laers te probeer groter trek en die verraaiers, die Afrikaanse liberaliste te probeer paai om te bekeer en terug te keer na die res van die Afrikaners toe nie. Teen die tyd is dit al duidelik vir die res van Suid-Afrika dat “ons nie almal so is nie”. Daar is wel baie wit Afrikaanses wat tuis voel in gemengde SA wat nie presies so tuis voel onder net Afrikaners nie. 


Die res van SA weet reeds daar is Afrikaners wat nie in die eng definisie van Afrikaner inpas nie en selfs distansieer van dáái tipe Afrikaners wat herken word vir wie hulle is wanneer hul houding afdwing en baasskap proklameer en terselfde tyd ander mense minag. Ware bekering kan nie onder dwang plaasvind nie. As jy wil vriende maak, is daar ander maniere.


Die goeie nuus is daar is reeds in SA onder alle geledere ‘n bewussyn van die voortreflikheid van die Afrikaner. Daar is reeds swart mense in Suid-Afrika wat in mooi Afrikaans sal kan erken dat daar wit mense is wat waarde  toevoeg tot die gemeenskap en hul lewens. Alreeds.


Die oplossing vir beide die probleme in die land, sowel as die moeilikheid met Afrikaneridentiteit, is myns insiens voordiehandliggend. 


Ons moet onthou dat vir meeste mense in die land is die ANC die heel beste regering wat hulle nog ooit geken het. Hulle weet nie wat dit is om iets beter as die ANC te hê nie, want die vorige regerings het nie in hulle belange opgetree nie. Geluk by die ongeluk van die ANC is dat die ANC nou al 30 jaar gehad het om te wys hoe sleg hulle is. Die resultaat is ‘n merkwaardige daling in verkiesingsopkoms, van 86% in 1994 tot 66% in 2019. Daar is amper 40% van ons bevolking wat nie voel dis die moeite werd om te gaan stem nie.


Ek sien ‘n geleentheid hierso. In plaas van die Afrikaner veg onder mekaar om wit stemme te werf, herdefinieer die Afrikaner haarself as Afrikaanssprekende van Afrika. Gaan praat dan met alle mense as gelykes. Geen meer skaamte oor die geskiedenis nie, want die geskiedenis bepaal nie meer wie die groep is nie. Die hede doen. 


Daar is tog op die ou end meer van ons wat saamstem oor wat ‘n goeie lewe is. Net so is daar baie onwit mense wat ook lief is vir Afrikaans. Gaan tel al daai verlore stemme van die vloer van vergetenheid op en bou saam om ‘n groter, magtiger groep te wees met een stem uit baie monde vanuit baie oorde.


Maar solank as wat Afrikaner net wit mense beteken, gaan die aansien van die Afrikaner aanhou kwyn en sal hy nooit volkome van die vyandigheid teenoor hom kan ontslae raak nie.


Lees op DiePunt
Pieter W Grobbelaar: 25/12/1930 – 19/01/2013
Pieter W Grobbelaar: 25/12/1930 – 19/01/2013
Hy was ’n storieverteller, volkskundige, radioman, akademikus én ’n bietjie van ’n “Verskriklike Hägar” — maar bo alles was Pieter W Grobbelaar ’n reus van die Afrikaanse kultuurgeskiedenis. In hierdie nostalgiese en fassinerende huldeblyk word die man onthou wat nie net sprokies en volksliedjies vir Suid-Afrika bewaar het nie, maar ook generasies studente gevorm en ’n hele wêreld van mondelinge oorlewering teen vergetelheid beskerm het. Dis die verhaal van ’n briljante, komplekse figuur wie se “sprokie” dalk geëindig het — maar wie se nalatenskap steeds voortleef.
Matilda Burden 06 Feb 2013 110

Pieter W Grobbelaar: 25/12/1930 – 19/01/2013

Hy was ’n storieverteller, volkskundige, radioman, akademikus én ’n bietjie van ’n “Verskriklike Hägar” — maar bo alles was Pieter W Grobbelaar ’n reus van die Afrikaanse kultuurgeskiedenis. In hierdie nostalgiese en fassinerende huldeblyk word die man onthou wat nie net sprokies en volksliedjies vir Suid-Afrika bewaar het nie, maar ook generasies studente gevorm en ’n hele wêreld van mondelinge oorlewering teen vergetelheid beskerm het. Dis die verhaal van ’n briljante, komplekse figuur wie se “sprokie” dalk geëindig het — maar wie se nalatenskap steeds voortleef.

Pieter W Grobbelaar: 25/12/1930 – 19/01/2013

Oorspronklik op Litnet

Wyle prof Bun Booyens, of oom Bun, soos ons hom almal geken het, het in 1995 met Pieter W Grobbelaar se aftrede vir hom ’n sprokie geskryf getitel “’n Sprokie vir Pieter”. Trou aan sy skerp humorsin het oom Bun dit begin met: “Goue lint, sy sprokie begint …” – ’n handskoen-pas aanhef vir ’n sprokie oor ’n legende. Booyens het die halfpadmerk aangedui met die toepaslike opmerking: “Goue kalf, sy sprokie is half …” en afgesluit met die ietwat onverwagte “Goue fluit, sy sprokie is nog nie uit …” Nou moet ons sê “… sy sprokie ís uit”, maar wat ’n boeiende verhaal was dit nie!

Pieter Grobbelaar was die man wat begrippe soos sprokie, legende, mite, sage, belewenis-vertelling en talle ander tipes volksverhale vir ons gedefinieer het, of herdefinieer het om dit toepaslik te maak op die Afrikaanse volksvertelling. Dit is seker dié deel van die vakgebied kultuurgeskiedenis waar sy grootste bydrae lê. Sy doktorale proefskrif, “Die volksvertelling as kultuuruiting met besondere verwysing na Afrikaans”, is ’n merkwaardige akademiese werk en verdien baie groter erkenning as wat dit die afgelope 30 jaar ontvang het. Dit is ’n lywige (1 000 bladsye), diepgaande ondersoekende werk wat die volksvertelling wêreldwyd analiseer, verskeie teorieë ontleed en dan die Afrikaanse volksverhaal daaraan meet.

As aanloop tot die doktorale studie het Grobbelaar sedert die vroeë 1960’s losstaande volksverhale en later bundels gepubliseer. Hy het volksvertellings uit die volksmond opgeteken en oorvertel, ander het hy geskep, gebaseer op volksverhaaltemas, en nog ander het hy verwerk uit die volksverhaalskatkiste van ander lande en tale (soos byvoorbeeld die Uilspieëlverhale en die Swaaplanders). Hierdie boeke, en dan veral die bundel Mooiste Afrikaanse sprokies, het hom ’n huishoudelike naam in die meeste Afrikaanse huishoudings gemaak.

Pieter Willem Grobbelaar is op 25 Desember 1930 in die Vrystaat gebore en het ook daar skoolgegaan, gematrikuleer en aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat studeer, waar hy die grade BA en MA in die wysbegeerte behaal het. Sy beroepsloopbaan het ’n breë spektrum gedek, vanaf onderwyser tot by koerantjoernalis, omroeper-regisseur in die uitsaaiwese, uitgewersredakteur, universiteitsdosent en skrywer.

Sedert sy afsterwe op 19 Januarie 2013 is daar baie gesê oor Grobbelaar se bydraes tot die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur; oor die meer as 200 publikasies waarvan hy skrywer, medeskrywer, vertaler, verwerker, samesteller of redakteur was; asook oor sy werk as omroeper en uitgewer. Maar ek wil die fokus plaas op sy werk as kultuurhistorikus, en hier kan die woord “fenomenaal” met vrymoedigheid aangewend word.

As daar gekyk word na die bestudering van kultuurgeskiedenis in die twee hoofstrominge, naamlik die nietasbare en die materiële kultuur, dan is Grobbelaar se veelsydigheid in die vak duidelik waarneembaar, deurdat hy in albei hierdie rigtings sterk leiding gegee het. Afgesien van sy werk rondom die volksvertelling waarna reeds verwys is, het hy substansiële navorsing gedoen oor die volksgeloof, wat in Boerewysheid (1977) gepubliseer is. Maar dit is veral sy werk oor die volksliedjie wat vermelding verdien. Hy het nie alleen honderde Afrikaanse volksliedjies uit die volksmond opgeteken, laat transkribeer en sodoende bewaar nie, maar het ook navorsing daaroor gedoen en sy bevindinge gepubliseer. Vir eers was daar die reekse radioprogramme wat vir die SAUK saamgestel en uitgesaai is. Dit het ’n tweeledige doel gedien, naamlik om luisteraars aan te moedig om nog liedjies vir hom te stuur en om dit wat hy reeds versamel het, met luisteraars te deel. Vanaf 1978 tot 1995 het hy ses reekse van 13 programme elk, getiteld Die volk as digter, uitgesaai. Dit was keurige programme propvol interessanthede oor waar en by wie die liedjies opgeteken is, en inligting oor die herkoms daarvan, en die liedjies is deur een of meer sangers voorgedra. Sy publikasies oor die volksliedjie sluit onder meer ’n stewige lys vaktydskrifartikels in, sowel as die boeke Die rooilappieskombers. Volkskwatryne (1997); Kommandeer! Kommandeer! Volksang uit die Anglo-Boereoorlog (1999); Hessie Kwedet. Dagga-, dop-, dryf- en verwante ryme (2002); en Die kinders van konings. Volksballades – tekste en bladmusiek (2009). Die leiding wat hy gegee het ten opsigte van navorsing oor die volksliedjie in Suid-Afrika was baanbrekerswerk en van onskatbare waarde.

Wat die materiële kultuur betref, het Pieter Grobbelaar hom ingestudeer in die herkoms, stylgeskiedenis en terminologie van die Suid-Afrikaanse boukuns en meubelkunde. Benewens ’n hele aantal artikels wat hy hieroor geskryf het, het hy talle studente opgelei om hierdie spesialis-terreine binne die dissipline van kultuurgeskiedenis akademies te benader en te vertolk, en sodoende ’n reuse-bydrae as kultuurhistoriese konsultante te lewer.

Nog ’n aspek van die vak waarin hy baanbrekerswerk gedoen het, was die hantering van mondelinge oorlewering en onderhoudvoering. Hy en sy mededosente het jaarliks die nagraadse studente op veldwerktoere geneem en hulle deeglik opgelei in die metodiek van veldwerk, met die klem op die teoretiese vooraf-kennis wat nodig is om mondelinge oorlewering vas te lê. Toe die res van die land, en veral van die akademiese historiese gemeenskap, wakkerskrik en begin bewus word van sogenaamde “oral history” as ’n onontbeerlike bron vir historiografie, was Grobbelaar en sy departement al vir meer as 25 jaar daarmee besig. Hy was baie deeglik bewus van die verganklikheid van volkskunde wat saam met die draers daarvan uitsterf tensy dit op wetenskaplike wyse vasgelê en verwerk word. Daarom is die resultate van al die veldwerk in verskillende vorme bewaar in ’n departementele argief wat later bekend geword het as die Sentrum vir Kultuurhistoriese Navorsing – ’n nalatenskap waarvan die waarde nie berekenbaar is nie.

’n Huldeblyk moet sekerlik hulde bring aan die volle persoon, daarom moet daar ook verwys word na die “verskriklike” aspek van Pieter Grobbelaar – die verskrikking wat hy vir menige student was en wat tot sy bynaam “Hägar, die Verskriklike” gelei het. Dit was seker maar in die meeste gevalle meer blaf as byt en ’n gestanddoening van die bynaam, maar dat hy nie baie geduld gehad het met swakheid, luiheid en agtelosigheid nie, dit is wis en seker. Soms het die verskrikking tot uiting gekom in ’n onredelikheid wat almal rondom hom vir tyd en wyl laat wegkruip het! Maar as dit oorgewaai het, was Hägar weer rustig en kon almal uitkruip en kultuurgeskiedenis kon floreer …

Met sy reuse-intellek, ongelooflike algemene kennis, droë humorsin en bowenal sy diepgaande vakkennis het Pieter W Grobbelaar nie net boeke en artikels geskryf nie, maar ook jongmense help vorm wat op húlle beurt weer bydraes kon lewer, en sodoende ’n rimpeleffek uitgestuur wat nog lank sal bly uitkring.

Bekyk op Profiel
Resensering en die strewe na objektiwiteit
Resensering en die strewe na objektiwiteit
Wanneer ’n boekresensie meer oor die resensent as oor die boek begin sê, raak literêre kritiek ’n slagveld van ego’s, ideologieë en persoonlike voorkeure. In hierdie diepgaande en prikkelende besinning vra Bernard Odendaal hoe “objektief” kritiek ooit werklik kan wees — en of dit selfs moontlik is om ’n teks eerlik te lees sonder om eie vooroordele daarin te projekteer. Van spanresensies tot die “etiek van interpretasie”, delf hy in die fyn balans tussen subjektiewe leeservaring en die verantwoordelikheid van die kritikus om die teks self eerste te stel. ’n Moet-lees vir enigeen wat lief is vir boeke, poësie en die soms venynige wêreld van literêre debat.
Bernard Odendaal 19 Nov 2008 87

Resensering en die strewe na objektiwiteit

Wanneer ’n boekresensie meer oor die resensent as oor die boek begin sê, raak literêre kritiek ’n slagveld van ego’s, ideologieë en persoonlike voorkeure. In hierdie diepgaande en prikkelende besinning vra Bernard Odendaal hoe “objektief” kritiek ooit werklik kan wees — en of dit selfs moontlik is om ’n teks eerlik te lees sonder om eie vooroordele daarin te projekteer. Van spanresensies tot die “etiek van interpretasie”, delf hy in die fyn balans tussen subjektiewe leeservaring en die verantwoordelikheid van die kritikus om die teks self eerste te stel. ’n Moet-lees vir enigeen wat lief is vir boeke, poësie en die soms venynige wêreld van literêre debat.

Resensering en die strewe na objektiwiteit

Oorspronklik verskyn op Litnet

Die polemiek oor literêre kritiek en poësie-resensering wat die afgelope weke in By, maar ook in die portale van LitNet, opgeklink het, laat nog vrae in die lug hang. Een daarvan betref die "subjektiwiteit" van kritiek, wat volgens almal eintlik onvermydelik is.

Hoe kan 'n groter mate van objektiwiteit wél nagestreef word?

Sou dit moontlik wees om meer as een kritikus saam te laat werk aan 'n resensie? Twee of meer koppe wat darem beter oordeel as een alleen?

Dis 'n besliste moontlikheid, hoewel ek my bedenkinge het of daar alte veel literêre kritici is wat met ander sal (wil) saamwerk aan so iets. Bowendien sal so 'n werkswyse waarskynlik tydsamer verloop as die skrywe van soloresensies, en boekebladredakteurs, veral dié by koerante - en die uitgewers en skrywers wat tog maar brand om te weet wat die kritici sê! - sal in sulke gevalle meer geduld aan die dag moet lê. Ander potensiële nadele is dat die kompromisaard van kollektiewe beslissings die spontaneïteit van indiwiduele menings mag aantas, of dat 'n sterker persoonlikheid by een lid van die resensentegroep tot gevolg kan hê dat sy of haar besondere interpretasies dié van die ander oorheers, en die verskeidenheid unieke reaksies op die werk derhalwe beperk word.

In elk geval sal die groter "objektiwiteit" van 'n spanresensie neerkom op 'n vorm van intersubjektiwiteit, of van uitbalansering van subjektiewe uiterstes. En dan kan die belangstellende leser net sowel Charl-Pierre Naudé se raad (By, 25/10/2008) volg om liefs resensies deur verskillende kritici én die boek of bundel self te lees in die vorming van 'n oorwoë mening daaroor.

Kan die indiwiduele resensent iets doen om eie oordele "objektiewer" te maak?

Dis seker nie nodig om te sê dat resensente hul slegs behoort te veroorloof om te resenseer binne velde en oor onderwerpe waarvan hulle diepgaande kennis het nie. Eintlik sou 'n goeie resensent, dus ook 'n literêre kritikus, 'n ware liefhebber van sy vak moet wees. Hy dien veral sy vak, speel sy bepaalde rol op byvoorbeeld die literêre terrein met oortuiging. Daarom sal hy hom juis besonder steur aan die norme wat ideaal geld, waaronder objektiwiteit.

'n Resensent is 'n (dikwels vroeë) ontvanger in die stuk literêre kommunikasie wat deur middel van die bepaalde teks aan hom (ook) gerig word. Die "objek" van sy aandag - dit wat in die oorspronklike sin van die woord "objektiwiteit" bepaal - behoort in die eerste plek die téks voor hom te wees. Nie die sender (die digter met wie hy byvoorbeeld 'n byltjie te slyp het) nie. Nie 'n aspek van die konteks (byvoorbeeld een of ander sosiopolitieke aangeleentheid wat die resensent in die letterkunde weerspieël wil sien) nie. Nie stilistiese of vormlike of beskoulike aspekte waaraan die resensent voorkeur gee of waarvan hy afkerig staan nie. Die bepaalde boek (boodskap) staan sentraal. Tensy 'n mens op postmodernistiese trant die outoriteit van die teks radikaal bevraagteken - wat dan eintlik impliseer dat jy, weens die wesenlike onhaalbaarheid van die norm van (volkome) objektiwiteit, ook die stréwe daarna prysgee. In so 'n geval kan die "etiek van interpretasie" waarna Hennie van Coller in By van 1 November 2008 verwys het, ook maar by die agterdeur uitvlieg.

Om die kommunikasie so goed as moontlik te laat slaag (so het taalhandelingsteoretici al lankal uitgewys), behoort die resensent dus net soveel as die skrywer te voldoen aan die koöperatiewe beginsel en die gespreksvoorwaardes wat dáármee gepaard gaan. Dis die moeite werd om weer vir Hillis Miller oor respek vir die teks aan te haal (soos Hennie van Coller dit, in Afrikaans vertaal, in die genoemde By-bydrae gedoen het): "Dit is die verpligting om te lees [...] sorgvuldig, geduldig en noulettend, met die basiese voorveronderstelling dat die teks wat jy lees iets totaal anders mag sê as dit wat jy verwag dit moet sê of wat jy graag daarin sou wou lees óf wat ander daaroor te sê gehad het."

Die resensent moet bereid wees tot "a willing suspension of (own) beliefs" (om die bekende uitdrukking van SR Levin om te dop - darem met 'n verwante strekking!). 'n "Objektiewe" resensent se aard is dalk soortgelyk aan dié van die kunstenaar, soos deur DJ Opperman in sy opstel "Kuns is boos!" beskryf. So 'n resensent streef ook eers daarna om as 't ware wesenloos te wees, "amoreel deur sy onpartydigheid". Hy en sy beskouings los as 't ware op, gáán op in die idees en sienings soos dit vergestalt word in argumentatiewe strukturering en in die styl- en vormgewingsaspekte van die kunswerk. So werk hy aktief mee om betekenis tot stand te bring, probeer hy agter die "bedoeling" met die kunswerk te kom (al is so 'n denkbeeld al die "intentional fallacy" genoem). Trouens, hy word, waar dit om poësie gaan, 'n soort mededigter-aan-die-ontvangkant om die bedoelde boodskap met die bundel te verwerklik - vir sover so iets bestaan en rekonstrueerbaar is. Om dit daarna te kan beskryf en die bepaalde werk in terme van die geslaagde en funksionele samehang, al dan nie, tussen die verskillende aspekte daarvan te beoordeel. (Vandaar die mening wat al gelug is dat digters waarskynlik die beste poësieresensente sal wees?)

Dat dié "objektiwiteit" (gerigtheid op die objek) egter net in die eerste plek kan geld - en dan nie eens noodwendig chronologies so nie - word nou duidelik. Bloot die eis dat die resensent belese op die betrokke vakgebied moet wees om voldoende te kan meewerk om betekenis tot stand te bring, bring die vergelykingsbasis van interpretasie en van kwaliteit- en waardebeoordeling ter sprake (daar is dus van die begin af ook 'n konteksgerigtheid). Daarby laat die uniekheid van lees- en leerevarings (ook aangaande die skrywer en sy bestaande oeuvre), en van byvoorbeeld poësiebeskoulike voorkeure, hulle eweneens vanuit die staanspoor geld (subjektiwiteit).

Soos alle "ingeligte" lesers word resensente onvermydelik beïnvloed deur kodes of interpretasiereëls wat in hulle bepaalde omstandighede die skryf en lees van byvoorbeeld die poësie domineer, of hulle die dominante sienings deel of nie. Kodes soos dat alles met alles in 'n gedig of bundel saamhang. Of dat alles in 'n gedig of 'n bundel betekenisdraend is of kan wees. Of dat "nuutheid" tot literêre kwaliteit bydra. Ensovoorts, ensovoorts.

Sulke kodes is van groot belang in literêre kommunikasie, want indien skrywer en leser nie (grootliks) dieselfde kodes deel nie, sal die poging om die vergestalte "bedoeling" in die teks te agterhaal, nie kan slaag nie. Voorts vorm die kodes die basis vir die vergelyking van die nuwe teks met bestaande tekste en derhalwe vir die beoordeling van die relatiewe geslaagdheid, oorspronklikheid, nuutheid, strekking, werking en waarde daarvan.

'n Mens kan selfs sê dat jy hier te doen het met 'n tweede vlak van "objektiwiteit": die resensent tree uit die "eerste" beskouing van die objek-in-isolasie terug om nou 'n betragting te doen van die objek-binne-kommunikatiewe-verbande.

Dit mag lyk of daar by die lees van historiese tekste, of tekste uit 'n vreemde kultuur, net mooi andersom te werk gegaan moet word om "objektiwiteit" te maksimaliseer. Die breë kulturele en ook talige en literêre milieu moet éérs deur die ontvanger ingevul word, en hy moet kennis van die outeur en sy oeuvre inwin, voordat hy koöperatief en effektief met die teks as objek kan omgaan.

Maar eintlik is die leser van die historiese of "vreemde" teks in so 'n geval eintlik net besig om 'n konteks te skep wat soortgelyk kan wees aan dié van die ingeligte resensent wat 'n eietydse teks moet beoordeel: juis vanweë sy meerdere kennis van die konteks waarbinne die boek verskyn (het), is hy in staat om die relatiewe effektiwiteit, nuutheid, ensovoorts daarvan na waarde te skat.

Objektiwiteit in interpretasie en resensering, moet 'n mens dus weer beklemtoon, is eerder 'n strewe as 'n feit. Etiek vereis dat dit as norm gerespekteer word. Daarom moet die feit dat resensies "voorlopig" is, dat dit "'n eerste mening" of "'n vroeë indruk" verteenwoordig, nie méér word as 'n beskrywing van 'n helaas onvermydelike stand van sake nie. Dit mag nie 'n verskoning word om nie deeglik, onder andere strewend na objektiwiteit, te lees nie.

Heel dikwels is resensies die enigste openbare kritiek van noemenswaardige diepte en omvang wat ooit oor 'n literêre werk gelewer sal word. En as die skrywer (en die uitgewer) dan moet voel dat die resensent nie moeite gedoen het om agter die kap van die byl met die boek te kom nie ...

Bekyk op Profiel
Imagine
Imagine
Hoekom die moeilikste woord in John Lennon se bekendste lied dalk die heel eerste een is.
Riku Lätti 12 Jul 2026 149

Imagine

Hoekom die moeilikste woord in John Lennon se bekendste lied dalk die heel eerste een is.

Imagine

Daar is min liedjies wat soveel mense kan saam sing sonder om ooit werklik te luister, hetsy by die Olimpiese Spele, of gedenkgeleenthede, by rockkonserte, by troues het ek dit al gehoor, maar ook by begrafnisse.

Mense ken elke woord. Hulle neurie die melodie. Hulle hou hul selfone in die lug. Vir 'n paar minute voel dit asof die wêreld inderdaad nader aan mekaar beweeg. Maar ek wonder dikwels hoeveel mense al probeer het om te doen wat die eerste woord van die lied vra.

Imagine...

Verbeel jou.

Dit is al.

John Lennon begin nie met 'n opdrag nie. Hy begin nie met 'n politieke program nie. Hy vra nie dat jy met hom moet saamstem nie. Hy vra net dat jy vir 'n oomblik jou verbeelding gebruik.

Ironies genoeg is dit dalk een van die moeilikste dinge wat mense nog ooit gevra is om te doen. Want die mens verbeel homself maklik as die held van die storie. Hy verbeel homself maklik as die slagoffer. Hy verbeel homself maklik hoe die wêreld beter sou wees as almal net soos hy dink.

Maar om jouself in iemand anders se lewe te verbeel, vra iets anders. Dit vra dat jy jou eie middelpunt vir 'n oomblik prysgee. Miskien is dit waarom empatie altyd moeiliker is as oordeel. Verbeel jou jy word in Zimbabwe gebore. Nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Nie omdat jy minder hard werk nie. Nie omdat jy minder intelligent is nie. Net omdat jou ma op daardie dag toevallig aan die daardie kant van 'n lyn op 'n kaart gewoon het.

Verbeel jou die ekonomie stort ineen. Werk verdwyn. Hospitale raak leeg. Kos raak skaars. Jy sien hoe jou kinders honger raak. Ek onthou hoe my ma gesê het dat sy maklik sou steel as haar kinders honger was. Ek weet nie hoekom ek daardie woorde onthou nie, maar ek doen, en my ma was 'n wonderlike, ordentlike en gesiene mens. Maar die storie gaan nie oor my ma nie. Verbeel jou weer terug in Zimbabwe.

Iemand vertel jou dat daar Suid van die Limpopo dalk werk is. Miskien verdien dit nie baie nie. Miskien net genoeg. Jy vertrek. Nie omdat jy Suid-Afrika wil "vat" nie. Nie omdat jy iemand se werk wil steel nie. Jy vertrek omdat die alternatief erger is.

Hierdie verhaal is nie uniek nie. Dit is waarskynlik so oud soos die mensdom self. Mense beweeg nog altyd na plekke waar hulle hoop is.

Wanneer hierdie mense uiteindelik hier aankom, verander hulle egter dikwels in een woord.

"Illegal."

Dit is 'n interessante woord want dit beskryf 'n regsposisie. Dit sê iets oor dokumente, oor permitte, oor staatsgrense, maar dit sê byna niks oor die mens self nie. 'n Mens kan onwettig parkeer, of onwettig visvang. 'n Mens kan selfs onwettig oor 'n grens beweeg. Ek het al. Twee keer, maar dis 'n verhaal vir 'n ander dag.

Maar wanneer ons begin praat asof 'n mens 'n illegal ís, gebeur iets gevaarlik.

'n Regsstatus begin 'n identiteit word.

En sodra iemand net 'n etiket word, raak empatie maklik oorbodig. Want dan is daardie persoon geklassifiseer.

Dan hoef ons nie meer te wonder wat hy verloor het nie, of hoe moeilis sy lewe is, of waarvoor sy bang is nie.

Dan hoef óns nie meer te wonder hoe haar kinders vanaand gaan eet nie.

Een woord doen al die werk: Daardie persoon het nie die reg om ons (of ons gewete) se probleem te word nie.

Dit is natuurlik waar dat lande wette nodig het. Geen samelewing kan sonder reëls funksioneer nie. Maar daar is 'n verskil tussen die erkenning van 'n wet en die verlies van ons menslikheid. Die wette, myns insiens, is juis daar om mense in vrede te laat saamleef.

Vandag bepaal die wet wie 'n grens mag oorsteek. Maar wat is 'n grens anders as geweldpleging op die ou end? Die gewete behoort steeds te vra wat daardie grens aan 'n mens doen. Die grense maak ander mense ander probleme. Grense maak dat ons vir onsself kan sê dat ons niks kan doen om 'n volksmoor te stop nie. Grense maak hongersnood en al daardie dinge ander mense se probleme sodat ons lekker in ons eie bedjies kan slaap en dat ons slegs met ons eie mense oor ons eie vrede kan baklei.

Miskien lê die grootste gevaar van nasionalisme nie daarin dat dit grense het nie. Miskien lê die gevaar daarin dat dit ons leer om empatie by daardie grense te laat ophou. Dat ons onsself aanleer om te sê:

"Hulle."

Asof daardie een woord miljoene unieke lewens kan opsom.

Politici verstaan iets wat die meeste van ons nie altyd raaksien nie. Wanneer mense moed verloor, soek hulle antwoorde. En wanneer daar nie genoeg antwoorde is nie, werk 'n sondebok dikwels net so goed.

As daar nie genoeg werk is nie, wys iemand na immigrante. En Gayton sê ja, ek sal iets daaran doen, stem net vir my.

As daar nie genoeg huise is nie, wys iemand na buitestanders. En Mashaba sê hy sal hulle uitskop as jy vir hom stem.

As hospitale oorvol is, vra iemand wie uitgegooi moet word. Dit is 'n ou politieke tegniek en dit werk. Nie omdat dit noodwendig waar is nie, maar omdat dit eenvoudig is: 'n Vyand is makliker om te verkoop as 'n oplossing.

Ek skryf dit nie omdat ek glo immigrasie is eenvoudig nie.

Ek weet dit is nie.

Ek skryf dit omdat ek kan sien dat die arme underdog immigrante deur die fatcat politici uitgebuit word en ek vind dit afskuwelik.


Ek is nie 'n ekonoom nie. Ek weet nie presies hoeveel geld Suid-Afrika aan grensbeheer, deportasies en immigrasiebeheer bestee nie. Maar ek wonder dikwels hoeveel skole, klinieke, hoeveel ondernemings, hoeveel werksgeleenthede, met dieselfde politieke/ekonomiese energie gebou kon word.

Selfs al stem iemand nie met my saam nie, bly dit tog 'n vraag wat die moeite werd is om te vra.

Wat gebeur as ons dieselfde passie waarmee ons mense probeer uitsluit, gebruik om geleenthede te skep?

Miskien is die grootste ironie dat ons almal Imagine kan saam sing.

Ons hou van die melodie, die harmonie: Daardie pragtige C9 wat moeiteloos, ritmes die grens oorsteek na die F6 en dan met 'n parmantige chromatiese toonleer weer tuiskom na die C9. Soomloos dog grensverkuiwende komplekse harmoniese eenvoud.

Ons hou van die gevoel. Ons hou van die oomblik wanneer die skare saamsing. Maar sodra die lied verby is, keer ons terug na die wêreld soos ons dit ken.

Na "ons" en "hulle".

Na grense wat nie net lande skei nie, maar ook ons gewetes.

Ek dink nie John Lennon het verwag dat die wêreld eendag sonder grense sou wees nie. Of misken het hy want dis onrealisties om te dink dat daar altyd mense sal wees, en grense is mensgemaak en het mense nodig om te onderhou. Maar ek dink hy het iets moeiliker gevra: Hy het gevra of ons dit ten minste vir 'n oomblik kan verbeel dit was nie so nie.

Of ons kan verbeel dat 'n ander se menslikheid nie afhang of van my kan van die draad afkomstig is nie. Ons almal wil ons menslikheid beskerm, maar hoe menslik is dit om vir 'n ander mens te sê jy hoort nie hier nie.

Ek kry skaam vir die mens wat sy grense aanbid. Want grense is die ware oorsaak van xenofobie. Maar min mense wil die waarheid hoor, hulle wil liewer hoor wat of wie kan hul eie soort voortrek al is dit ten koste van jou medemens wat jy ontken.

Want elke daad van menslikheid begin eers as 'n verbeeldingsoefening.

Die volgende keer wanneer jy Imagine hoor speel, luister nie net na die melodie nie.

Luister na die eerste woord.

En vra jouself eerlik af:

Wanneer laas het ek my werklik in iemand anders se lewe probeer verbeel?

Miskien begin 'n beter wêreld nie by nuwe grense, nuwe regerings of nuwe slagspreuke nie.

Miskien begin dit by daardie een eenvoudige woord.

Imagine.

Bekyk op Profiel
120 jaar van NP van WYK LOUW
Ek het sommer gesit en paar woorde bymekaar gegooi na afloop van die viering van hierdie groot gees se verjaardag op 11 Junie tydens ons Louwhuis byeenkoms.
Shanie van der Merwe 14 Jun 2026 209

120 jaar van NP van WYK LOUW

Ek het sommer gesit en paar woorde bymekaar gegooi na afloop van die viering van hierdie groot gees se verjaardag op 11 Junie tydens ons Louwhuis byeenkoms.

Met woord en liriek bring ons hulde aan jou

120 jaar leef jy steeds

In ons harte

warm

Beleef ons goue woorde wat siele vul en voed

18 siele in jou voorhuis

kaggelvuur en wyn

Riku op trekklavier

Gerard en Rykie vertel...

Ons bring hulde aan jou

Op heilige grond luister ons

Gevleulde woorde uit jou pen

Dankie vir

Geluk met jou verjaardag Nicolaas Petrus van Wyk Louw

Bekyk op Profiel
Arme ma
Gedig oor mishandeling van 'n ma
Shanie van der Merwe 17 May 2025 198

Arme ma

Gedig oor mishandeling van 'n ma

Op die ritme van Ipitombi het jou water gebreek

jy, nog net 'n kind

kon jy weet wat die toekoms bring?

 

Blind was jy deur die pienk walm van verlief

gou en wreed is jy tot sinne gepluk

 

ek het jou lief! fel val die houe oor jou lyf

ek het jou lief! stamp jou dat jy trek

ek het jou lief! gooi jou met sy kos

 

sal jou kinders jou waarde ooit besef

jy die mamma, altyd daar

soveel pyn, vernedering en smart

 

op die ritme van Ipitombi moes jy weet

jou prins, geen ridder,

getrou aan sy sy het jy gebly

opgevreet, hy vet-gevreet-versorg

deur dik en dun

 

sal jou kinders jou waarde ooit besef

stil het jy gely

stil het jy gebly

Bekyk op Profiel
Boeke 1
Opreisfontein

Opreisfontein

2026 Matilda Burden Boek
Matilda Burden
R760.00
Inhoud van Opreisfontein

Die boek bevat onder meer:
 ‘n databasis van 5638 plekname wat eindig met “fontein”
 5057 daarvan is met ‘n veldwerkproses opgeteken
 581 is met ‘n literatuurstudie gevind
 Byna 3000 foto’s van naamborde van fonteinname
 Ongeveer 65 ander foto’s
 ‘n Inleiding wat konteks bied aan die werk wat gedoen is
 ‘n hoofstuk oor fonteinname buite Suid-Afrika, fonteinname aan andersoortige
skeppinge gegee, en fonteinname in die letterkunde
 ‘n hoofstuk oor die reise wat onderneem is en ervarings langs die pad
 ‘n hoofstuk met statistieke (hoeveel keer elke naam voorkom, watter kom die
meeste voor, watter provinsie het die meeste en talle ander statistieke)
 ‘n hoofstuk wat die taal ontleed
 ‘n hoofstuk wat die name kultuurhistories beskou, dit wil sê in watter kategorieë
al die eerste stamme van elke naam ingedeel kan word
 Verwysings na ander uitgange, naas “fontein”, wat ook volop is in Suid-
Afrikaanse plekname

R760.00
Koerierkoste uitgesluit
Dui asb die koerier van u keuse aan
(bv Postnet, Paxi, Aramex)
Bestel by Matilda Burden
082 7718 278 (per whatsapp) of
[email protected] (per e-pos)
Bankbesonderhede:
Capitec Bank
1351732828
Tak 470010
Stuur asb bewys van betaling na [email protected]
Taal:Afrikaans
Uitgewer:Matilda Burden
Jaar:2026
• volledige lys van 5638 fonteinname • 3000 foto's van naamborde • vertellings van reise onderneem • fonteinname in die letterkunde • kultuurhistoriese ontleding van name • taalkundige beskouing • statistieke en verspreiding van name • ander uitgange in Afrikaanse plekname • twee oopvoukaarte