Ivan Lätti is ’n man van twee wêrelde wat mekaar nie weerspreek nie: die wêreld van mense en organisasies, en die wêreld van die natuur en plante. En hoe dit alles so gekom het. As navorser in die sosiale wetenskappe en bestuurder in menslike hulpbronne het hy met menslike dinamika, struktuur en strategie gewerk; as natuurmens het hy met aandag, stilte en verwondering waargeneem en tuis geraak.
Ivan beskik oor ’n vermoë om menslike situasies te lees – nie oppervlakkig nie, maar met insig. Hy het verstaan hoe organisasies funksioneer, hoe leierskap ontwikkel, en hoe mense binne strukture hul potensiaal kan bereik.
Sy loopbaan het hom onder andere geneem na Fedfood, waar hy met menseontwikkeling en organisasiekultuur gewerk het, en later na Afrika via ABB die internasionale ingenieurs- en tegnologiereus. In hierdie omgewings het hy nie bloot ’n korporatiewe rol vervul nie. Hy het ’n mensgerigte teenwoordigheid gebring – iemand wat geglo het produktiwiteit begin by motivering en geleenthede vir dié wat wil.
Ivan se hart het egter diep in die natuur gelê. Op Koptoe, in die skadu van die Magaliesberg, het hy ’n lewe gebou wat eenvoud en betekenis saamgesnoer het. Hier het die veld 'n deel van die lewenswyse geword.
Hy het plante leer ken – nie net by name nie, maar in seisoene, in grondsoorte, in reën en droogte. Veldblomme was vir hom nie net versiering nie, maar stories van oorlewing en saambestaan. Hy het met dieselfde oorgawe oor ’n skaars blom gepraat as wat hy oor ’n historiese gebeurtenis sou redeneer.
Hierdie liefde vir veldblomme en biodiversiteit het uiteindelik gestalte gekry in sy webwerf, Operation Wildflower. Dit is meer as net ’n feiteversameling; dis ’n argief van bewondering. Deur foto’s, beskrywings en dokumentasie het hy sy kennis gedeel – ’n stille vorm van bewaring deur bewusmaking.
Operation Wildflower getuig van begeestering en die deel van kennis. Dat mense sal bewaar wat hulle leer ken en liefkry.
Ivan het ook ’n diep belangstelling in die geskiedenis; nie bloot datums en feite nie, maar menslike verhale. Die strome en patrone het hom geїnteresseer – hoe die verlede die hede vorm, hoe gemeenskappe ontwikkel, hoe identiteit oor tyd groei.
Hierdie historiese perspektief het sy werk in die korporatiewe wêreld versterk. Hy het geweet dat organisasies, soos samelewings, ’n verlede het wat hul toekoms beïnvloed.
Wat Ivan besonders gemaak het, was sy integrasie van kennis en nederigheid. Hy was ewe tuis in ’n bestuursvergadering as op ’n rots in die veld. Hy kon oor strategie praat en dan stil word om ’n blom se fyn detail te bewonder.
Op Koptoe het sy lewe ’n ritme gehad: die son wat oor die berge opkom, die veld wat seisoenaal verander, die voortdurende leer oor plante, grond en geskiedenis. Sy teenwoordigheid was kalm, waarnemend, gefokus.
Ivan Lätti se nalatenskap lê nie net in sy professionele bydraes in 'n paar hoeke van die gedragswetenskappe nie, maar in sy voorbeeld van aandag aan mense, aan stories, aan die natuur. Hy het gewys dat kennis nie koud hoef te wees nie; dit kan warm wees van liefde vir die onderwerp.
In die Magaliesberge, tussen veldblom en klip, leef iets van hom voort: ’n mens wat verstaan het dat om werklik te leef, beteken om te kyk, te leer en te waardeer.
En dalk is dit die kern van sy lewe:
’n Menslike Hulpbronbestuurder met die hart van ’n veldmens – ’n man wat mense én plante ernstig opgeneem het.
Die Kunste
Aardse beskawings is sentrums van idee-endemisme. Kuns ontstaan spontaan.
Al klink jou laaste akkoord vals, luister jy darem nie self nie! Noot na nood.
As jou kop bogronds raas, mag jy dalk eendag in ‘n ondergrondse orkes speel.
As jou Muse Antjie Somers is, raak jy die grootste snert kwyt. En iemand sal dit glo ook.
Beneweld luister verbysterd na oorverdowend. Sinsbedrog leef ongewapen.
Botticelli se Venus op die seeskulp was toe nog nooit op Uniondale nie.
Die operateur staan voor die opera se deur. Sing toe nie, want dit was toepera!
Die skeppende kuns van verbeeldingryke politici kom nie in die galery nie.
Die troebadoer onder die eikeboom mag maar vir die uil en die spinnekop sing.
Elke goeie liedjie wat onthou word hou ‘n kolletjie in die kop vry van slegte gedagtes.
En toe het daar nog ‘n beeldhouer gekom en nog ‘n marmerblok skoongekap.
Hoe digter die digter, hoe meer hang die monde oop. Hou dinge ligter, digter.
Lojaliteit aan die leë blik kort ‘n wysie. Dink voor jy saampraat of saamsing.
Mense wat gereeld sing, vergeet nie om te lewe nie. En jou liedjie?
My pa het gesê: Die sigeuner se liedjie hou eers op as sy perd in die sneeu gaan staan.
Piet-my-vrou roep sy drienootjies op kaatjiedrieblaar. Klets sonder koffie. Hou wysie.
Van jou wysie af in die sangklas is niks teen dieselfde foutjie daarbuite nie.
Waaroor jy nie kan sing nie, is nie goed vir jou nie. Kies reg en basuin met mening.
Weens die blou van onse hemel wurg die boere in die droogte. Bedink jou liedjies!
Die Lewe met Prostese
Blikvoet is nes Topsy in Uncle Tom’s Cabin: Gegroei, g’n gebore! Robot sans naeltjie.
Blikvoet is nou oud genoeg om te roes. Ek begelei eersdaags met winterhoes.
Die seisoene se draai is sigbaar tydens Blikvoet se loperigheid. Gaan kyk bietjie!
Eenvoetmense is nie minder befoeterd as tweevoetmense nie. Gelyke regte geld.
Ortotis en prostetis bou allerlei Blikvoete. Ledemate vir verlore litte. Niks vir afkoppe nie.
Dink
As die werkende sinaps een fris vonkie gee, is ‘n nuwe dinkie staangemaak.
Belewe die gegewe. Bedink wat wink. Wonder teen sononder. Laat waai meraai!
By die sinaps spring die idee om in ‘n katastrofe. Askies, nie so bedoel nie!
Deesdae maak meer mense hul eie dogmakonkoksies. Etliketters pionier geloof.
Denke bou op gevoelens. As niks mens raak of roer nie, word dink te digitaal.
Die brein is soveel meer as vlak onthou se snippermandjie! Gebruik tog die ding!
Die gewoonte van denke beloof verrassende insigte, of kopgeraas is baas.
Die lewe is oordrewe as die mens in die soelte bewe. Kom nou reg, so ewe!
Dinkdinkie het hare, vlieg nie. Tinktinkie het vere, vlieg. Dink diep of vlieg hoog!
En toe het daar nog ‘n filosoof gekom en nog ‘n idee die wêreld ingestuur.
Gedeelde menings snoer menigtes saam tot gemeentes. Eendragtig dink egter nie.
Genesis hou nooit op in die kop nie. Elke rêrige gedagte begin ‘n nuwe lewe.
Handewerk sonder kopwerk is slegter as maagwerk. Vooruit dink werk.
Idees skarrel soos rotte op die solder. Dink party dae nie eers een raak nie.
Individualis volg sy eie kop. Alleen soos ‘n ketter! Hoekom is die etliketters legio?
Ingedagte vervreem soos ‘n nat broek. Dit begin lekker warm, maar word gou koud.
Jy krap verniet jou kop. Die antwoord kom in die volheid van die tyd. Of nooit.
Meditasie op eie stasie verskaf mensdomwye observasie in koppe oop en toe.
Met vuur speel, het die mens nooit vernietig nie. Dinkblikke sal ook nie, of hoe?
‘n Klomp enerse ketters word ‘n sekte. Geswore etliketters bly eensaam, tevrede.
Ou idees dra oor soos tweedehandse klere. Of loop sommer kaal sonder benul.
Soms soek mens verniet na iets nuuts in die sop van ou gedagtes. Sal roer help?
Twyfel oksideer oortuigings mettertyd. Dink hulle blink, vervang of… gaan toer.
Waaraan die mensdom nie dink nie, is ‘n ander heelal wat ontwyk nes kwiksilwer.
Wyse manne? Die Ooste. Uitgedink? Die Weste! Magtig? Die Noorde. En suid? Oorskiet.
Wysheid is ‘n lofwaardige doel, wysneusigheid ‘n meer waarskynlike bestemming.
Dis Tyd!
As die ongeskopte emmer leeg is, is dit tyd vir nuwe boeke.
As jou grappe geërf is, is jy in die bemaaklikheidsbedryf. Begrawe liewer.
As jy in jou kis wakker word, wonder jy of iemand darem die hond kosgegee het.
As kreupel in die kop gaan sit, is dit tyd om die bok te slag. Biltong kry ook end.
Bedien pannekoek by begrafnisse. Dit resoneer met die platheid van laaste dae.
Dankie aarde vir die saamrygeleentheid! Sou nêrens gekom het sonder jou nie.
Die gekla wat mens by die skrootwerf vir ystermanne hoor, was toe net roes.
Dié wat die lewe nog onder lede het, moet hul litte roer. Stilsit is vir slakke.
En dit was dan die nag wat opgebruik is! Toemaar, daar kom dalk nog een.
Gedagtig aan die koms van heengaan, ontgaan vele vlietende gedagtes die mens.
Hierdie dag kan werk, alle malligheid ten spyt. Wie gaan vir die gelag betaal?
In lewenservaring kom daar tyd vir omblaai. Nadraai is die nuwe geslag se storie.
In veroudering en vernuwing se resies is daar altyd nog rondtes. Vat die pas.
Kry tog lewe! Die gees is al graf toe, maar die bees is nog hier bo. O wee!
My agterstallighede vereis ‘n aanval van beterskap. Waarvan maak mens tyd?
Opspraakwekkend en stilswyend se geskil is besleg. Hul hond is ook dood.
Wakker werk nie met doodlik nie. So, wees daagliks bly as jy wakker skrik.
Drome
As jy elke ster in elke melkweg met toe oë kan sien, versoen realiteit en waansin.
Droom nog so dat lank gelede beter was as vandag, dan’s môre ook verlede.
Nag is vir die volheid van pajamas, nie om die volheid van die tyd te oordink nie.
Planne te klein vir jou drome? Dan hoef jy nooit huis toe te skryf oor sukses nie.
Ruimtes tussen herinneringe skei stories soos sterre en planete. Dan: “Kom eet!”
Groothede
Bybedoelings is soos slaai of die bure. Altyd so neffens. Lyk meesal effens skuldig?
Ewig is langer as alewig, maar altyd is langer as tyd. Weet is sku vir alwetend.
Grotman leer tel: niks, min, genoeg, baie, alles! Heilige algoritme van gierigheid.
Minimalisties assosieer nie met beskeidenheid nie. Dit teer op oorvloed.
Namate mens korte mette maak van mateloosheid, is matigheid maatskaplik se maat.
Handel en Doenighede
As berekend nie kan tel nie word die raarste slotsom beleid. Kies iemand anders.
As optrede ‘n oortreding van betreding is, is aftrede ‘n uitweg, ontduiking ‘n ambag.
As ses dae se arbeid die sewende dag verontrus, skiet die werklikheid tekort.
Die aura van feitelikheid hang oor baie proposisies. Elk 'n waarheid in eie lig.
Die omstandighede van die ongeluk word berei uit die begrip van die omstanders.
Elke gegooide klip keer terug na die moederklip. Respekteer nog altyd swaartekrag.
Geld word met integriteitseep gewas. Die opgewasse Rand is al klein. Hoe skoon?
Moenie jou Maandag op diverse poerpoerlikhede verspil nie. Dae is getel.
Môre se koskas is die swaartekrag in die vryheid van die gees.
Om iets te bereik, is hulpbronne nodig. Hoe hulle bekom word, bepaal die iets.
Om te besit moet jy bestaan. Belê help. Begeer is maklik, maar beheer is nodig.
Sinvol en hoopvol drink bier. Dis onduidelik wie van gatvol of keelvol gaan betaal.
Sonder toerekeningsvatbaarheid verval huis, skool, kerk en hof. Verval word al.
Tussen magtig en hulpeloos lê talle voorwaardelike rolle vol keuse en dwang.
Vernuwing duur tot bekendheid in die herhalings kom sit. Keuses val in patrone.
Voel sterk sonder ‘n saak? Bou sommer ‘n hoenderhok! Onnodig word die saak.
Welsyn drup na armoede en behoefte, kapitaal stroom na vermoë en belofte.
Honger en Kos
Die gekners van die tande kom as die kake mekaar ‘n drukkie gee. Kou liefdevol.
Kannibalisme begin wanneer jy proe of die een wat jou peper souterig smaak.
Menslike mensvreters onmenslik, mierlike miervreters onmierlik. Eet jy iets, iemand?
Moenie dat sprinkane jou voorspring nie. Dan’s daar g’n groente in die tuin nie.
‘n Gedoente oor groente nes die tjops reg is! Wat van pampoen? Los vir oudag!
Voorbeeldig lewe eindig met groot agterstewe. Net stout maergatte bly hardloop.
Huwelik en Maatsoek
As sy gewou het, sou sy gekon het. Maar na sy gedink het, is dit daarna toe! Waarheen?
Bedagsaam is ‘n deug met breë toepaslikheid. Benagsaam is vir selektiewe aanwending.
Die hart is ‘n binnebrandmasjien wat beste werk met liefde as brandstof.
Henry Ford moet dalk familie wees van Henry VIII. Baie karre vir baie vroue.
Liefde is die heuning van lewe. Wees goed vir die bye. Pas op vir die angels.
Ma raak wederstrewig as klewerig kuier by bewerig. Hou vir sedig tog eweredig!
Menslike nabyheid wissel. Wat gebeur leer naastes hul beste afstand en tyd.
Opgenome kuier by afgetakel vir ‘n heen-en-weertjie. Onverwags is die gort gaar.
Snikheet en yskoud se woeste verhouding maak stoom. Eindig in lou verkoue.
Tussen koue sonder vlam en hitte wat verswelg, is omhelsing net warm genoeg.
Tweedrag kom slag vir slag tussen die geslagte. Tog, alewig ‘n nuwe geslag as opslag.
Vryheid is so ‘n relatiewe begrip! Is vasgevrydes steeds vry? Bevrydes en ongevrydes?
Wanneer die alg die swam trou, leef die korsmos in onskeibare tweeledigheid.
In Diepte
Aan die ander kant sit die ander hand. Meer onhandig of kry soms die oorhand.
Antie Materie is die onwerklike metgesel wat nog altyd oor jou skouer kyk!
As die preek se vertrekpunt jou laat wonder oor die terugpad, beter jy wakker bly.
As die sondes van die vaders so kom besoek, bied mens koffie aan?
As die stilte jou aanpraat, klits dit betekenis. Laat jou sin skyn. Flou kan eg wees.
As dinkblikke vere kry, is voëls se vooruitsigte droewig. Vlieg, vlug of vat oor.
As nuwe insig as besering aan diens beskou word, word vaste oortuigings oordryf.
Daar is min verskil tussen wat ons vergeet het en wat nooit gebeur het nie.
Die geheim van ewewig lê in ewe veel aartappelskyfies op albei skouers. Hou balans!
Die gejaag na wind kan alles sommer hier gebeur, want die ewigheid roer nie.
Die hemel en hel in elke kop rek en krimp na gedagte. Sangvoëls of ganse begelei.
Die naakte waarheid bedryf ‘n politieke klerewinkel. Bra ondraaglik. Paslike pyn!
Die ontdekking van die volheid van die vakuum sit betekenis op sy plek!
Die siel het in die mens ingetrek toe die eerste mens ‘n hoed begin dra het.
Die skyn van die syn is dalk aanlyn helderder. Seker van die wyn? Kabbernooit!
Die verslete gewete het hard gewerk. Dis die ongebruikte een wat so blink.
Elke lewe het sy kwota jammertes. Son en vergeet skyn hulle plat. Laat net los!
Hond sê vir wolf pa, vir jakkals woef. Geloof blaf oorlewering tot waarheid.
Jonas het ‘n vis gevang. Drie dae geneem om dit op te eet. Dis die hele storie.
Jou medemens is grootliks buite jou medewete. So naby en tog so ver.
Maak jou merk, kry applous! Keer as die hond dit doen, of hy doen dit weer.
Mense help mekaar grootmaak. As hulle slaag, eindig hulle klein van dankbaarheid.
Mense kan vanself oopgaan nes blomme. Anders bly hulle Toe-Tot-Amen.
Menslike uniekheid is ‘n feit soos ‘n koei. Koeie is minder vervelig as gemeenplase.
Moenie jou voorvaders of nageslag, 100 geslagte ver, in die hemel opsoek nie!
Moraliteit is mortaliteit sonder tee. Begin jou dag liewer met koffie.
Moses loer oor die rand van sy mandjie. Wie skryf toe daai vyf Boeke? En wanneer?
“My hartjie, my liefie!” laat blikbrein diep dink. Stig menstuin vir KI-navorsing.
‘n Hoë priester in die lae lande leef ook op grondvlak. Jy rek verniet jou nek.
Sonder klere daal waardigheid, soms styg besienswaardigheid. Of net opsigtelikheid.
Te veel opheffing los te min grond onder die voete. Dis net vir die voëls om te vlieg.
Tussen opgehemel en afgehel is daar plek vir ‘n gemaklike lewe. Skommel in!
Vermoedens smag na die status van oortuigings. Skarrel vir bewyse of word weerlê.
Verseker is bloot die waarheid. Seer seker? Vir wanneer die waarheid seermaak.
Versuikerde waardestelsels karring soetlik aan. Sosiale diabetes bo naasteliefde.
Wysheid tref nooit vir wysneuse nie. Daarvoor hou hulle ‘n te veilige afstand.
Karkasbestuur
As jy die heeldag lê, gaan die dop kraak. Henne weet beter.
As jy nie jou lê kan kry nie, het jou knoppe en duike geskuif. Wikkel bietjie!
Die farmasie kry nie die ewige lewe in pilletjies nie. Die wynbedryf het mos gewen.
Die mediese raaienskap druk mens soms in verskeie blikke voor die regte een.
‘n Ongekende aanval van beterskap tref onverwags die winterlitte. Al is dit van pille.
Ontheemde pyne trek in soos plakkers. Los tog nou die behuisingskrisis op!
Vlugvoetig is nuttig as vlug van begrip ontbreek. Maag in die middel is passiewer.
Kinders, die Nodige!
As Liewe Heksie, Sneeuwitjie en Rooikappie saamkoek, kyk niemand rugby nie.
Kleinkinderpartytjies laat afgeleefdheid opleef. Aanvaar tog nou jou uitnodiging!
Ma dog sy leer die kinders vir hulself dink, toe was dit maar net dogma.
Miere en Bomierlikheid
“Aangename kennis!” sê die miere dat die spoeg spat. Hul nering? Standaardisering.
As jy die miere dan moet verdryf, gebruik slegs komkommerskille of koeksoda.
As ou miere die brug word vir die res oor die rivier, is dit steeds ons wat oor is.
Die aarde is nou ‘n mensnes van versamelwesens net soos mierneste en byneste.
Die mier wat sy koringkorrel in die rondte dra, kom ook nêrens nie. Hou koers!
Die oes is klaar. Die miere is gekoring. Dis die bier! Wil seker nog rugby kyk ook.
Die ommuurde stad is plat. Lank leef die ommierde stad! Dalk met mense ook.
Eerste robotmier ken toe nie koring nie! Skokmeme en grilplesiere proe na niks!
En toe het daar nog ‘n Kaapse mier gekom, natgereën en skoon weggewaai.
Etikette kan deurmekaar raak. Die mierdophouers is toe al die tyd ook miere.
Is versamelnesmiere en bye se geheelsiening swakker as dié van alleenlopers?
Die mier te veel met gif ontsier, hou dit op lekker wees hier. Dink wat jy skink.
Die miere dra nie koringkorrels op rooi tapyte in Alaska nie. Mense kan miere verbaas.
Miere rus met volmaan. Mier-Moses: oorgenoeg werktyd tydens die sekelmane.
Miere se eerste groot saamdink is ‘n aardse deurbraak! Ruimtereise volg.
Miere wemel aards sonder ‘n hemel. Na harde werk is eindigheid ‘n seën.
Roer en kriewel iets effens? Dan volg krioelnes. Ons is legio! Die miere sê môre!
Weggewaaide mier land ongedeerd op sy voete. Net gewaai. Maak weer ‘n draai.
Mzansi, snaaks of nie
As die son nou net betyds ondergaan, hoef die wêreld haar nie so te skaam nie.
Die apartheid van die verdrukker is vervang met die apartheid van die verkwister.
Die Nuwe Suid-Afrika is weer met ‘n jaar uitgestel. Wag vir die reën met ‘n boog.
Die parlementêre debat is nou so wesenlik soos ‘n hoesbui in ‘n begraafplaas.
Die Staat mag ‘n rede hê, maar dis nie hierdie een nie! Verby radeloos en onredelik.
Dis breindood om in Rusland se kamp te wil wees en Amerika se pensioen te wil trek.
Ekonomie so verswak, mens moet ‘n emmer leen om te skop! Skuur net eers die roes af.
Julle reken Nasionale Dialoog? Dis nou te laat om die Groot Trek te beplan!
Lag of huil! Die Regering van Nasionale Verleentheid raak stadig demoonkraties.
Liefdadigheidskonsert deur parlementêre roofdiere! Hulle betaal jou R100 per kaartjie.
Mens sien jou eie rassisme nie maklik raak nie. Maar net jy kan dit uitroei.
‘n Verkleurmannetjie regeer die nasie! Vang sedig vlieë van parlementslede af.
Sal die Regering van Vet Vakatures asseblief nou in duie stort? Die mense is moeg.
Natuur
Al sing die voëls nie, dra die miere steeds koringkorrels aan. Aard is plig is aard.
As die aarde moeg word vir mense laat sy hulle links en regs van die bed afval.
As die wêreld te sonnig is vir ‘n vermaning, dan luister die mense nie.
As jy bome plant, sal die hemel na jou toe kom. Doen dit nou. Of gou.
Die geaardheid van die mens verleen meer beweeglikheid as die boom s’n.
Die gesigseinder is altyd die kyk werd. Dit verskaf waarde aan die eindige kyker.
Die oes van die lekkende wolk! Dis nat! Val plat. Bodder met die modder.
Evolusie is regstellende aksie deur selektiewe vroeë sterftes. Die natuur is dodelik.
Groei menslikheid in diere vinniger as dierlikheid in mense?
Handjies vroom saam beloof steeds geen geluid uit ‘n bidsprinkaan nie.
In die luim vir verkluim? Besope in die trope? Aardverwarming is nou ons erfenis!
Kuier ‘n slag oor koffie met die skepping wanneer die afgrond vir jou gaap.
Niks moois is deur meer aardse oë gesien as die volmaan nie. Kyk altyd weer.
Wanneer dit reën in die bos juig die kleinste lewensvorme woes saam.
Noodsaaklike Euwels
Eskom kom te selde, die onreëlmatige besoeker! Alweer tyd vir salarisverdubbeling?
Eskomitiese duisternis! Plaag elf alweer verdwaal. Egipte is daar ver noord. Skoert!
Is die donker eeue nou verby? Net nie vir Eskom vra nie. Die son skyn steeds.
Jou neus wys of jy die gevolg van gemene spel is. Wysneuse is nie vir insteek nie!
Trump sê: “Mallekoppie!” en Musk wikkel woes! Maar nie meer vir te lank nie.
Universele sosiale leuens is net so gewoontevormend soos kleinskaalspekskiet.
Was alweer kragteloos. Jou beurt is jou beurt. Eskom beslommer meesterlik.
Nuus en Inligting
As die waarheid jou sooibrand gee, drink Lennon se vergeetpilletjies.
Die “waarheid” is soos kougom. Kou bietjie (toemond), maar moenie sluk nie.
Die waarheid ontwikkel omgekeerd eweredig met die nuusmedia se inkomste.
Gee raaisels lang Latynse name. In ‘n blik druk lyk wetenskaplik. Of soek verder.
Ontdekking is net feit en realiteit. Waarheid is betekenissous wat mense byvoeg.
Sieldodend groei deesdae in die openbare kommunikasie se elektroniese agterent.
Snedig voel beledig. Sedig. Plotseling preuts! Moes die bure afgeluister het.
Soos die waarheid ounuus word, bly die padda in die pot sit tot die water kook.
Waarheid en wolhaarstorie wonder oor nare narratief. Almal familie?
Willens is nie so wetens as wat jy gedink het nie. Vind liewers eers uit.
Oortydgedoentes op Onrus
Alles doenbaar het ‘n beter manier. Elke gedoente skep onrus. Onrus is waar ons bly.
Die naweek se rugby net die Stormers en drie gaar frikkadelle. Hulle’s geëet!
Die ses fisantjies wat in my tuin uitgebroei het, is af na twee. Onrus is woes.
In party van die naby huise woon mense in wêrelde wat totaal onbekend is.
Ledigheid is die besigheid van rus. Lus is nekslag vir rus. Dink werk in rus of lus.
Oomblik in die wind? Erg onderskat! Hier waai sy gereeld, knaend uit gewoonte.
Op Onrus is vistonge skaars soos hoendertande. Moenie ‘n storie ooreis nie.
Tyd loop! Jack is vandag 55 in Melbourne. Riku sal vir hom sing op Onrus.
Ouderdom
Die avontuur van agteruitgang verras komieklik. Moenie die ouderdom misloop nie.
Die deel van my wat my ouers geken het, kom kuier nie meer so gereeld nie.
Die ouderdom is ryk aan nuwe avonture op uitgetrapte paaie. Ligte luim help.
Oud genoeg? Dan is rus nou ‘n werkwoord. Doen wat jy kan. Al is dit maar niks.
Ouderdom inspireer! 'n Nuwe pyn op ‘n nuwe plek vir ‘n nuwe dag! Sing en vryf!
Oumense is mediharlekyne. Die dokters lag bank toe, maar kry ook hul beurt.
Te veel gisters kompeteer verwoed in die kop. Verdwyn tesame met “Môre, Oom!”
Van te lank lewe raak die onvergeetlike ook vergete. Sonder sintuie bly geheue.
Wie kry toe ‘n aanval van wat? Wag tog net, oumens! Jou beurt is jou beurt.
Wie se gebeente al gesteente is, se nageslag lyk erger as sy vee of sy vreemdeling.
Regering
As die nasionale loodgieter lood swaai, kry die openbare belang private lekplekke.
As die nosie van die mosie emosie wek in die losie is josie nie beter as troos’ie.
Die parlementêre koor van wyse manne is knaend eendragtig van sy wysie af.
Die politikus wat steun werf, weet gou die skrum is nutteloos as ‘n steunwerf.
Die regeringstelsel is verkose inkommers. Iets beters is te wagte, wag net.
Hiërargie en anargie volg mekaar in siklusse van sosiale orde. Argieë sukkel ook.
Minderhede staan saam vir meer mag. Maar dan jeuk dit van koalisie-aanpaksel.
Onskuld is soos regering. Bly langs die see, maar weet van geen sout of water nie.
Saam kos soek ‘n samelewing, waarheid soek ‘n gemeente. Saam kak soek? ‘n Regering.
Spinnekop woon soos ‘n koningin in ‘n skilpaddop. Haar onderdane hang in die spens.
Wladimir Woedend soek nie vrede nie. Skop die familie uit, vat hul kooi.
Soos mens voel
Anderkant die membraan gaan die lewe aan. Jy wil mos! Blinkkant bo.
As daar insekdoder in jou gemaksone is, sal daar êrens ‘n skerp mes ook wees.
As die bed jou uitskop, is die dag lus vir iets! Stoot nou aan sonder aanstoot.
As die son haasbek skyn, het die oggend byt in die lug. Trek nou jou trui aan!
As jou gewete voor jou wekker afgaan, werk jy harder. Hou dit so.
Die ewenaar is daar om te keer dat mense naarder word met hul medemens.
Die ewige strewe in die lewe is gegewe. Rieldans laat die biesies bewe. Roer!
Die kewer loop oor die lewer en die kop haak uit. Hou vir wat julle werd is!
Die ongenooide dag na die slapelose nag het soms te veel ure. Dof tussen die mure.
Die waarheid van die dag is dikwels net ‘n skaduwee. Elke dag se lig gooi ‘n ander skaduwee.
Geleentheid? Eensklaps op aandag! Dis nou! Mag mens? Die volheid van die tyd wag.
Grensbeheer in my brein lek soos ‘n sif. Nes in Mzansi. Vreemde goed glip in.
Hoe durf ‘n Donderdag giggelgeel oopmaak? Speel saam in die blou of vou!
Kulture meng selektief. Besemry en voor jou eie deur vee drink nie saam koffie nie.
Matigheid geld nie vir middelmatigheid nie. Alomteenwoordig sonder applous.
Perfek, insek! Hy’s gebyt tot hy krap. Nou gaan hy jou spuit. Fluit-fluit.
Slaap is vir ‘n donker kamer. Wakker het ook een. Net moeiliker om skoon te hou.
Die somer moet mos warm wees. Dit maak die vrugte soet en die kinders stout.
Verligting is dinamiese swaartekrag, swaarkry demonies. Lot is sonder sy sout.
Taal vir die Lewe
Afstomping gebeur wanneer die tong te skerp is vir die brein. Skuur 'n slag!
Al kyk die wolf weer na die weer, bly hy steeds ‘n wolf. Is nie ‘n weerwolf nie.
As dors geles is, is geles steeds nie rooies nie. Maak sin. Alleenwoorde flous.
As opgesweep te groot gal afgaan, sit opgeskeep met ‘n berg van ‘n molshoop.
Die laat wurm ontwyk die vroeë voëltjie! Wagwurms leef die langste. Kies jou rol.
Die spinnekoppe dans die riel, want dis Sarerag. Hulle speel nie eers rugby nie.
Groen van jaloesie begin sommer fotosintetiseer, maar kom nie tot blom nie.
Is naywer tot ywer soos nadors tot dors? Wat van al die werkende dorsmasjiene?
Leef is verstaan wat aangaan. Wakkerloop moet lewenslank een woord wees.
Lekker taal is soos kraletjies inryg. Hang net af hoeveel kleur daar in die dosie is.
‘n Nageslag in wie se taal die linguїste net die gene van Afrikaans vind? Te laat?
Of spreekwoord nou preek of prikkel, dit eindig by die ander messe in die laai.
Op Bloumaandag tel die blou van onse hemel skaars ‘n bloue duit. Gaan groen!
Sêding het haar lêding afgesê. Insê kom voor ontsê. Amper nes opgesê. Toe sê jy?
Snawel in die koejawel? Oppas wanneer die vere waai. Te laat vir redekawel.
Sonder voornaamwoorde sou kommunisme werk, maar wie borsel wie se tande?
Streepmuis en kolhaas se kinders praat Morse-kode. Hulle hakkel nie!
Taal oorleef ook in die klipkoppe. Harde wonderwerk. Maar praat sagter.
Tussen aards en beskaafd is geaardheid naby natuurlik. Menslik is soms eg.
Verfynde konyn verbaas toe die haas. Plaashond vreet albei, ewe lekker.
Verkeerd praat is natuurlik ‘n fout. Maar die gras groei ook oor die reg wat swyg.
Vlieë-vloeke kielie die gesalfdes. Hou net skoon of dit ruik maar so.
Wat in gevoelens, subsepsie en intuїsie prut, mag mettertyd in woorde uitborrel.
Wat klaar gesê is, is almal s’n. En niemand s’n nie. Dink, sê jou sê en beweeg aan.
Woorde is die miere van dink. Hulle dra die sinne tussen mense. En die sin, as daar is.
Toekoms en Verlede
As growwe nalatigheid die tydgees is, word die toekoms gehamer.
Die brandweer is vir alles wat nog nie gebrand het nie. As brand nie weer nie.
Die chaos van Genesis kom elke week. Hou uit! Openbaring is nie nou al nie.
Die herinneringe van ‘n leeftyd is onvervreembare rykdom. Delf bietjie.
Elke groot, moeë stad was eens ‘n hoopvolle jongmenshuisie langs water.
Fee Fraai Flou Vla! Spaai da die aantog van nog ‘n Nuwe Ja. Rêrig? So, wa!
Gryp die dag en wurg hom tot hy erken hy is gister. Of los dit by ‘n drukkie.
Het enigiets in die geskiedenis van transformasie al ooit vir Lot se vrou getroef?
Mot, roes en vergeet hou gister in bedwang, al skryf, kiek en argief jy hoe!
Ongekend in die geskiedenis? Wie ken die geskiedenis so goed dat hy dit kan sê?
Storiefossiele word heilige boeke. Wat gaan uit ons era oorgehou word?
Wanneer bestaan saamwerk met vergaan, word die toekoms se lont kort.
Wanneer die erdvarkgat weer ‘n tuiste word, is die mens se sirkel byna voltooi.
Wêreldgeskiedenis bestaan uit wat Piet Niemand aan Jan Alleman gedoen het.
Toer is nie Boer nie
Ander breine is ‘n praatreis ver. Dink verby die maan, maar luister is ‘n roetekaart.
Buitensporig moet liewer nie trein ry nie. Die redes is agterna voor die hand liggend.
Die pad van stof-tot-stof lei na ‘n ander plek waar stofsuier met sondaarafskeier wag.
Die reis na binne lê grense vir eie pseudowerklikheid. Die gemak van ‘n ysterbed.
Eers die wieg, toe kan hy vlieg. Moeg geswoeg, nou lê hy daar. Leef! Als gou klaar.
In die Klein-Karoo is daar die Seweweekspoort. Hoe lank vat die poort hemel toe?
Jou bestemming en jou lot is name vir waarheen jy op pad is. Net die timbre verskil.
Jy’t nie verdwaal nie! Die ander plek is nou die nuwe hier. Is was al gewees.
Kalkoentjies trap also! Kyk mooi waar jy loop. Nie te gou voet in ‘n ding sit nie.
O magtig! Koei vreet ongemagtig. Plaashek lê oop. Haar verbaasbek hang ook oop.
Oorgangsamelewings vernuwe vinnig sonder omdraai. Die vleispotte bly agter.
Opgesweep raak spoorloos. Is tussen stasies kafgedraf, maar spoed ongeag voort.
Reis ruil naby met ver. Dink ruil onthou met vergeet. Eendagvlieg se wêreld is groot!
Seldery loop meesal. Galery is karsiek, weier om weer te ry. Hou verby of bly tuis.
Stroomaf is vinnig, stroomop is sterk. Stroombelyn is glad. As jy in is, is jy nat!
Voor op die wa help niks as die osse geslag is nie. Loop self en soek nuwes!
Waar hase se hardloopspoed tekort skiet, hou teelspoed hul bevolking in stand.
Wat erns was, is nou êrens. Betekenis word aangeverf. Watter kleur is nêrens?
Vrae
As jy dieselfde woord soveel keer moet opsoek, is jy ‘n wedervergeter. Wat?
As ons weer kon begin, sou Eva weer die appel geëet het? Adam dié keer die slang?
Blikke wat dink? Wanneer kom kamele met dieselenjins? Ouma is modern!
Die regte vrae hou die drukgang van die gewone in stand. Maar die lewe vra meer.
“Die regte vrae vra” hou patroontjies in stand. Selfbedrog ewig byderhand!
Hoeveel keer kan ‘n mens omkyk voor ‘n ommesientjie om is? Dan’s die nek seer!
Hoe weet jy of die dinkblik regtig jou maatjie is? Tog karring almal gretig saam.
Hou die lewe op met die laaste asem, of wanneer die laaste sinvolle werk klaar is?
Nou al wen vir laat al. Veelal is jaloers op heelal. Waar kry mens nastergalkonfyt?
Vrede, die Doel
Akkoord spring skielik oorboord. Verdrink! Was te swak besin, te sterk verwoord.
As die vyand so bekend voel, is hy dalk een van ons. Aan wie se kant is jy?
As volwassenheid ongereeld besoek, is vrolikheid ‘n bate. Net nie goedjies breek nie!
Die ongesegdes bly nie ongedink nie. Oorweeg hulle, maar pasop vir naby tone.
Drink vergewensgesinde wyn, jou vriend ondanks misbruik. Hou dit minsaam!
Kry klipkoppe sangerig, eerder as sanderig. Praat liewer as slaan in Gasa, Moses!
Samelewings oorleef as begrip van wat broodnodig is, wyd gedeel word.
Vergewe jou naaste of vergiftig jou siel! So werk die chemie van die lewe.
Vermetel is nie in die saligsprekinge nie! Goeie wense groei nie angels nie.
Weetwoestyn
As die wensfontein in die weetwoestyn nie ‘n biblioteek is nie, is als leeg en naar.
As dinkblikke begin koffie drink, verval Jan en Piet tot nommers in die weetwoestyn.
Boeke in die weetwoestyn werk soos druppels in die sandwoestyn.
Die dinkblik eet die weetwoestyn vinniger as wat die mens kan. Filosowe ry nou bus.
Die weetwoestyn bied nie ‘n volhoubare tuiste vir die nuuskierige brein nie.
Die wurm in die kop! O, die wurm in die kop! Wat kom volgende? Pas op!
Die wye waarheid raak jou selde. Die naby waarheid tref, maar beweeg aan.
Kliek is alles! Die mees aantreklike loopbane is vandag gebou op weetarm geleerdheid.
Mier en mens sonder idee van waarheen hulle op pad is, lyk ewe gelukkig!
Ongebruikte breinselle lag hulle soms dood oor wat in die bewussyn aangaan.
Rondom die heelal tier die niks. Rondom kennis rus die weetwoestyn. Niks wen?
Vinniger vergeet as leer? Dan kom die geheue weer by nul in die weetwoestyn.
Kinkelsinne 2024
Die Kunste
Bacchus tot Bach, Moses to Mozart: Verbind die punte vir die fyn web wat almal deel.
Die droewigste Jan Pierewiet sing meer sonskyn los as Jan Salie ooit sal glo.
Die lyster pik die ruite deur die lente. Elke kunstenaar moet volgens sy moed.
Eensaam? Hou laataandeenmansangfees! Stukkies lied in tale met wyn!
Kuns groei nie deur bevestiging nie. Vernuwing vervreem en skok voor dit lok.
Langs troebel water sit die troebadoer. Sing die stroompie helder. O hel, sê die forel!
Maak jy versies? Dis nie te spesiaal nie. Die bul maak ook. Kom hulle by ook.
Musiek vir maangeplagenheid? Beethoven, De Bussy, Glenn Miller, Sinatra. En?
Sonbesies sing hul opera in versengende hitte. Ander hou hul koortjies koel.
Tussen tango, riel en sokkie trek fynproewer neus op vir stoftrapper. Leef jou dans!
Die Lewe met Prostese
As Blikvoet nou ‘n vuurpyl was, kon ek my sterre persoonlik gaan dank.
As die son die blare geel skyn, gaan dit ‘n lekker dag wees vir see toe stap.
As die stompie die nie-roker pla, is dit weer tyd vir spookpyne.
Beenaf vandag sedert 2 jaar gelede. Dankbaar teenoor vele, ook vir lesse.
Blikvoet betree die Nuwe Jaar soos ‘n wafferse veteraan! Rondlopers moet ook lewe.
Blikvoet se nano-Camino is nou vas: see toe of vyf straatblokke op mooiweersdae.
Dis nou net mooi ‘n jaar van Blikvoetrapporte oor wat die wurm in my kop raakbyt.
Dis Sondag en JR blaf vir verbygangers die Leviete voor! Geen kollekte.
G’n onbeblafte fietse ry by Oortyd verby nie! Beroepskeffer kry biltong vir oortyd.
Meme werk nie met Blikvoet nie! JR reageer op biltong en verbygaande fietsers.
Na amputasie is besadig-langdradig toenemend kortstondig, spitsvondig.
Spookpyn treur in Afbeen oor Brein te goed onthou. Blikvoet steeds ‘n weeskind.
Was met my voet op ‘n piesangskil, maar verloor toe gelukkig net my voet!
Dink
Artifisiële intelligensie daag die mensdom uit tot hiperstrewe na metalewe.
As die mens by sy positiewe is, verwelk sy negatiewe in die daaglikse optelsom.
As iemand die vader van ‘n idee is, weet hy ooit wie die ma was?
Bewussyn lantern onbeheerbaar tussen die rakke van ou, gestoorde ervarings.
Daar's grootwoord-vloekerigheid in die chemie en fisika van senudrade wat kan dink.
Die brein se soeklig skyn dink-dink. Alles ondenkbaar wyk soos mis voor die son.
Die dag se gang is ‘n glyende wonder! Skepping woed in duisend hande. Besige mense!
Die heelal is die aardgesentreerde agterplaas van die kollektiewe bewussyn.
Die meeste planne vergaan op ashope van dink. Oorskiet lok verleidelik: “Wat as…”.
Die vaak kop voer die dom aksie uit voor die slim plan se geboorte.
Dink amper nes ek, dan’s ons vriende. Presies dieselfde, dan’s ek of jy oorbodig.
Dis konteks wat die waarheid byt gee. Gemeenplase is goedkoop sambrele.
Elke dinkskuif wat mense deel, sprei verwondering oor hoe die wêreld werk.
Facebook-meme bou mure tussen mense wat klik verwar met medemenslik.
Fantasie is die touleier van denke. Vanaf die wakis daaragter klap orde sy sweep.
Gedagtes is dikwels oneg. As iemand die vader van ‘n idee is, weet hy ooit wie die ma was?
Kyk tog agter jou beginsels! Daar skuil aannames. Hul oumas was versinsels.
Laasjaar se blink idee kom kuier: Ai, my kind! Kyk hoe oud en geroes het jy geword.
Loskop en vaskop dink teen mekaar. By watter vleuel eindig die idee vir ‘n drie?
Mense dink, bedink en oordink so baie dinge. Tog verrys vergetelheid bedenklik.
Modern? Se moer! Ons is oer. Begaaf of beskaaf voor begraaf, maar ewiglik oer.
Om oor jou naaste te dink, is belangrike werk. Dan weet jy hoekom jy hier is.
Pasgemaakte realiteit maak sin op sy dag. Dan soek die tydgees alweer soeter betekenis.
Selfondersoek bring aan die lig dat ek nou die langslewende deel van myself is.
Unieke datasop in elke kop! Leer na smaak, vergeet onbewus, leef met wat oorbly.
Vandag is die dag! Willens en wetens wakker, met voorbedagte rade.
Wanneer ‘n skroef losraak, lewer sommige breine onverwagse uitspattighede.
Wanneer die swaaiende pendulum se tou breek, is die balans vir ewig weg.
Wie kan dink, moet! Die voorvaders het so baie opgeoffer vir vryheid van kettery.
Woke is nodige skokseep. Dit was vooroordeelaanpaksels van sosiale gemaksones.
Dis Tyd!
As die aasvoëls jou te lank en te stip aanstaar, is dit tyd vir aanstaltes maak. Bly voor!
As ek nie volgende week in ‘n hoër rat poerpoer nie, is outopsie dalk nodig.
Dis hier! Dis nou! Alles wat is! Moenie vergeet om bly te wees oor die lewe nie!
Dis vermetelheid van die vergetelheid om al die gawe mense so goedsmoeds in te sluk!
Die jaar is ten gronde! Niks aan te doen nie. Hoër spring en harder sing!
Hier’s die bier! Daar’s dit alweer klaar. Die wesenlike ontwyk. Vergankliheid tref breed.
Kom liewe, liewe lente en moer die winter plat. Net jammer dis nou eers Junie. Ai!
Laaste oor die Jordaan is ‘n vrotpampoen! Kry nie ‘n begrafnis nie!
Leef met mening al is jou tarief per uur af na nul. ‘n Leeftyd is een kapsule ewigheid.
Mari vandag 80, maar geen rooi rok nie! Baie onthou, almal met ‘n glimlag.
Moeg geploeg is ‘n rare sensasie vir iemand wat lewenslank aan die pen gery het.
Nog nie oor die Jordaan nie, maar vang al vis daar. Paraat vir passaat!
Soveel kanse op hierdie ondermaanse! Gebruik gou, dan’s dit tyd vir duik.
Vandag is dit ‘n jaar vandat Mari weg is. Sy leef nog goed in baie koppe en harte.
Wat ‘n heerlike sonskynoggend! Al is die een voet al in die graf.
Drome
Bewerig of klewerig? Haal diep asem. Soek wat’s nuut! Die res gebeur vanself.
Daar’s ‘n akoliet-vakature by die Gestig vir Realiteit. Stuur selfie van ‘n dagdroom.
Die afgebrande biblioteek van Alexandrië leef in koppe. ‘n Wonder wat verwonder.
Die dagga van dink: Dis wanneer goed, mooi en waar vir liefde en vrede vind.
Die forensiese ondersoek na die gewelddadige dood van Siembamba is afgelas.
Die gees ontstaan uit verwondering, nuuskierigheid en angs. Liefs die eerste twee.
Is dit te goed om waar te wees? Tog staan fantasiepaleise soveel langer as huise.
Jy hoef nie Naas Botha te wees om die emmer te skop nie. Dwars orie gras! Pale toe!
Lekker in die son, koel onder die boom. Raak ekstreem en braai gaar of vries hard.
‘n Elmboog is darem nader as ‘n reënboog. Drome moet ook tuiskom.
Rooikappie hekel ‘n doilie. Bewerig. Sy’t ‘n blou mus op. Die wolf is dood.
Tussen hoop en verdriet lê die gedroomde land. Gaan sit waar die vuurtjie brand.
Vanoggend gedink ek is wakker of iets. Toe’s ek net of iets.
Verban die kop se Gasa! Dink droom-oase. Flou kameel wen nie die Dakar nie.
Voortrekkers soek onverpoos na die land van die onbestuifde pampelmoes.
Wat is die mitologie, antiek en modern, sonder ‘n oorvloed van verbeelding?
Wonder besonder wat die donder in die spieël vanmôre gaan wys word. Dalk niks!
Handel en Transaksies
As bruikbaar opgebruik is, verval gebruikersvriendelik in onbruik. (Bruikspraak.)
As die staande komitee dreig met ‘n sitting, skuif die belegging dadelik.
Die narratief is seepglad: Ek betaal jou in Mzansi Mites! Wat eet die kinders? Mitologie!
Die paddas parafeer elke blaar, al dryf hul belegging in die water. Droomverdrink!
Duisend Rand is een Mite. ‘n Sent is nou 'n rrr! Geld is mities, want mense het nie!
Inflasie versterk die Mite. Dis ondevalueerbaar! Gee hoop, ekonomies klassiek.
‘n Vlegsel is ‘n harige koeksister wat soetgoed adverteer. Nie via Amazon nie!
O ja! ‘n Koringkorrel kos nou een rrr. Dis hoekom ‘n mens gril as te veel miere oor jou loop.
Ten slotte, ten gronde! Ten hemele, waar anders? Ten Cents kos Mites. Hou koers!
Wat kos een appel? ‘n Millimite! ‘n Koringkorrel is darem goedkoper. Net vir die miere.
Wat van die Mite in plaas van die Rand? Sal beter werk in ons land van stories.
Honger en Kos
As die eier te paniekerig is om te bak, is die stoof nog nie warm genoeg nie.
Die lewe is ‘n mengsel van lekkers, klippe en stront. Nie verder vereenvoudig nie!
Effens gaar lig die deksel voortydig van raar onbekook. Vlug voor etenstyd!
Hawer oes, appels pluk, skape skeer, beeste dip en alles betaal verhef koffie drink.
In hierdie honger land lê die appel nie te lank onder die boom nie. Deel wat jy kan.
In die mode sterf tien dode voor sy koek verruil vir brode. Viva, honger Koningin!
Mens wens ‘n spens vir sy honger pens. Brood tot sy dood? Sterk ook sonder werk.
Soggens deeglik en smiddae hardgebak het saans brood om te eet. Brou nou iets by.
Swierig drink verby plesierig. Gierig hou dop tot by knorrig. Dors kuier langasem.
Vuur verwarm kos, lyf of brand als as! Heraklitus was reg! Prometheus, die bliksem!
Wat kos daai malle verstand waarvan jy af is? Dit lyk lekker. Ek wil ook hê!
Huwelik en Maatsoek
As die opsitpadda kwaak, steek die oumense die kers op. Sing pianissimo!
Behoorlik kyk vir bekoorlik. Hoor jy vir Ma? Vat net, dan’s daar perde! Of bye.
Besitlikheid skep 'n bestaanskrisis. Die beloop van die lewe. Belê in vryheid of sukkel!
Bestendig raak toe onverwags behendig. Nou dink verstandig sy’s losbandig.
Die huwelik is ‘n sameloop van omstandighede wat baat by matigheid in bybedoelings.
Die liefde wat in die oomblik weerhou is, oortuig gou dat liefde belangrik is.
Elkeen trou met die meevaller en maak onvoorsiene omstandighede groot.
Helena van Troje se mooi ogies het 1000 skepe laat uitvaar. Hoeveel het jy op see?
Magies mooi is nie vir meisies nie! Dis op ander plekke of skryf dit op hul magies.
Minnaars veroorsaak bevolkingsgroei. Min of meer paradoksaal. Tel woorde en mense.
Misverstand is erg gegrief oor haar posisie in die argief. Stief was ook smoorverlief.
Nalatig en voorbeeldig moes nooit getrou het nie. Hul kinders is woes uiteenlopend.
Nou ja en Ja-nee trou toe mos. Hul kindertjies is Terdeë, Verleë en O Wee!
Sit beter op met ‘n opsetlike as met ‘n besitlike. Moet net nie veldwerk publiseer nie!
Sondagskoolgesiggie is katknyp se niggie. Luister die gediggie al blink haar liggie.
Stambome en dinastieë is ouderwetse dog steeds wettige piramideskemas.
Vroue is wonderlik! Maar hoe weet jy, wanneer jy vry, of jy ‘n duif of ‘n valk sal kry?
In diepte
Job was geduldig, maar had vrinne. Salomo slim, maar vroue. Jy lewe, maar wat?
Die gees het erge hoogteperspektief. Wonder hou by onder. Glo hou van bo.
Die groot vet niks byt soms knagend aan gemoedstoestande. Hou koers! Wyk, Satan!
Om Absalom op te som: Harerig, met ‘n gebrek aan dinastiese potensiaal. Hang rond.
Ordebehepte sedeswamme hang lewenslank binne rond. Besoedel nageslag deur die ore.
Pille vir angs: bygeloof, geloof, kennis, insig en musiek. Hou by goeie oordeel.
Transaksie in die hemel: Da Vinci ontwerp vir Moses GPS in ruil vir ‘n besnydenis.
Vanwaar ken die mens sy onsekerheid? Uit magdom van sekerheidsdienste. Amen!
Wie soen die dominee almal tydens ‘n lippediens? Toe, wees nou fatsoenlik!
Willens en wetens soek sonde. Willens wen weens gewetensbesware. Nie uithaak nie!
Karkasbestuur
Dis Sondag! Hou by welvoeglike naamwoorde. En moenie twee keer skep nie!
Koorsdrome is flieks van diaboliese regisseurs met aandagafleibaarheid. Slaap woes!
Lewe vaal sonder dros en verdwaal? Kerjakker in rooi, versoen met groen, maar doen!
Nog ‘n pil? Rêrig? Karkasbestuur raak ‘n saak van baie lysies vir die ouluis. Sluk!
Toe twyfelagtig by ongelooflik intrek, is die waarheid oor die muur. Moenie glo nie!
Kinders, die Nodige!
Fundamentalisme is ‘n baba sonder tjalie! Verwaarloos enige kind, dan betaal jy!
In Mari se handsak was ‘n dooie hoender, ‘n bottel wyn en enigiets wat ‘n kind vra.
Maak kleinkinderbesoeke mens jonger? Dalk net gelukkiger.
My jongste kleinkind, Ivy Linde, is vandag sewe jaar oud, besig om Engeland reg te ruk.
My ma se glimlag om my kleindogter se mond? Dis die reїnkarneerbare deel.
Pateet en mateet maak letterlike kindertjies groot: Eta, Theta en Zeta. Alles Grieks!
Tussen bederf en onterf lê ‘n magdom van ouerlike opsies. Hou kop! O wee, arme kind!
Miere en Bomierlikheid
Boer is gebier, die mier is gemoer. Die plaas reg vir slaap. Sorg darem vir die skaap!
Daai ander ou wat hier was? Ook ‘n mier? Sowaar! Hier is nou nog ‘n koringkorrel. Eet!
Daar was ‘n mier. Toe kom ‘n premier. Daar was sand. Toe kom ‘n fisant. Wat kom na jou?
Die mier wat net ‘n sandkorrel dra, is vir psigiatriese waarneming opgeneem.
Die tafste miere hou vol na begin. Volharding is dit wat oorwin. Maal nou jou koring!
Dra nou jou koringkorrel! Nie slaptrek nie! Het die miere jou dan niks geleer nie?
En toe het daar sowaar nog ‘n mens gekom en nog ‘n mier doodgetrap.
En toe? Nog ‘n mier. Asseblief! Net nie nog ‘n koringkorrel nie? Einste! Slaap nou!
En toe? Toe het daar nog ‘n mier gekom. En nog ‘n koringkorrel aangedra. Ag nee!
Gedorie ‘n storie! Wat het toe gebeur? ‘n Mier het ‘n koringkorrel aangedra. Word vervolg.
Miere dryf soms! Vlieg nie. Hul Archimedes was al hier. Hul Newton kom nog.
Miere is meer ondergronds bedrywig met sneeu en koue. Onderkombers tel ook. Duik!
Moenie gif spuit vir die miere nie. G'n koringkorrels nie! En insomnia tree in.
‘n Mier dra nie ‘n sak koring nie. Wees geduldig! Die sak word stadig vol, gou leeg.
Oortyd se miere bou balvormige grondneste in struik en boom tot ver bo die grond.
Sowaar! Nog ‘n mier! En raai wat doen hy? Die klein verrassings voed siel en liggaam.
Toe was daar nog ‘n koringkorrel sonder 'n mier om hom te dra. Natuur oor die muur?
Wakker? Tyd om te akker! Later rus of sus. Tot jou miere jou weer laat roer.
Mzansi is soms snaaks
As Nasionale Eenheid werk soos koalisie-bolmakiesie bly vooruitgang ‘n illusie.
Gaan die Staat begin werk voor hul aminosure verester? Geduld is oor die bult!
Gefortifiseerde onbekwaamheid vat verbasend lank om geslagte se drome te sink.
Hoeveel gose beeste moet mag kry om ‘n land se moed te breek?
Hoekom kry die Minister van Gedane Sake dan die langste portefeulje?
Is jy ryk? Ek sien net die twee arms. Betaal jou belasting al mors hulle die geld.
Mzansi kan maar ‘n baar of ‘n bar plek wees, so ver suid van Zanzibar.
Rameses lankal ‘n mummie. Ramaphosa se piramideskema is in sy bank.
Salig is die droogmakers! Hulle wen die verkiesing. Dan reën dit. Die boere oorleef.
Tuis, werkloos! Beuselagtig groei soos mielies na die reën. Moenie oes verwag nie!
Natuur
Die fisant word eensklaps ‘n luidrugtige gesant: Gooi mielies! Alles is op! Nog!
Die krokodêl eet vir Mabalel soos ‘n frikkadel. Onthou haar wanneer die water op is!
Die mens herskep die heelal tot rommelhoop. Hemel en hel verdwyn, moedeloos!
Die natuur bring geluk, deur haar ewige vervanging met jonges.
Die slak seil skeweredige silwer lyne teen die muur. Maar nie te vlotseling nie.
Die waterbessieboom blom bleek voor die kamervenster. Wat of wie blom by jou?
Groen blare teen blou lug? Nooit genoeg nie! Loop verder. Ander blare, nog lug.
Heuning is tot dusver die enigste goud wat deur lewende wesens gemaak word.
Hoe bly is bye oor blomme? Darem meer as mense oor fabrieke en kantore.
In panoramas agter die bult wag vreemde avonture. Kyk wyd, asem. Kies slim!
Lewe veg altyd, al lyk sy vreedsaam. Elke aardse kolletjie is ‘n allerdoodlikste arena.
Menswees is steeds heelpad van amebe tot godheid, slym tot die ruim, meesal halfpad.
Natuur hervorm alle spesies knaend sodat iets kan oorleef. Mens is net een van haar ietse.
Nuutgemôrede dag volg op magiese nag. Lig uit donker towerkrag.
Sermoen van die suurlemoen: Soet is nie alles in die lewe nie!
Tor is ‘n insek! Die dondergod haal skaars Woensdag sonder sy hamer.
Ver genoeg terug het mens gemoor vir lewe. Liefde wen teen statistiek in stories!
Vroemôre bome vol vogeltjies. Veeg die sand uit hul ogeltjies. Word wakker, sing!
Noodsaaklike Euwels
Al ventileer die mense oor beurtkrag, kwalifiseer Eskom nooit as ‘n ventilator nie.
Die son is nie moeg soos Eskom nie. In elk skadu wag ‘n kader. Gee ons ons daaglikse skade.
Laeluis beland per abuis op vette muis. Ekskuus, maar hier’s ek tuis!
Sondag: Die gemeente neem plaas. Yl gesaaide gemeenplase teem teen gemeenheid.
Nuus en Inligting
Beleefd babbel of knus kekkel? Albei is praatjies vir die vaak. Knik, maar bly stil.
Facebook roer JR nie. Blikvoet nog minder. Die Burger is Onrus se Feitboek.
Koerantnuus inspireer min. Selde leersaam. Leiers sonder kop maak mense lyers.
Of jou storie nou gebrei, gehekel, geweef of genaai is, daar’s altyd gaatjies in!
Ounuus is die baard op ontdekking se ken. Sy kinders is vandag se gebruiksartikels.
Op dees aarde! Die aarde is dan amper op! Vol mensgenot. Oppas, terug grot toe!
Plasebo is fopnuus waardeur die waarheid party van haar grense openbaar.
Wat help praat oor moord en doodslag? Dis al meer as die armes! Beter word lê ver.
Oortydgedoentes op Onrus
Blom jy? Jy kan mos sien! Nou wat’s jou botaniese naam? Loop soek maar lekker!
By Oortyd staan Lasarus nou, die heropgestane boom. Maar sal hy weer groei?
Dag kry soms g’n spoed nie. Gly ongemerk waarheen. Keer! Iets doen word ‘n kompulsie!
‘n Oumens moet ‘n eie Blyhoek hê vir alle tuisgedoentes, gewoontes en geleeftes.
Swart, ongeoeste olywe in April onder Onrusstraatbome. Had Salomo 1000?
Vreemde olifantrob kom rui rustig. Onrus-strand 'n beter plek. Kom weer, vriend!
Ouderdom
Aanvalle van beterskap word al wyer gespasieer hoe ouer mens word. Wees wakker!
Bedaard pas uiteraard vir bejaard. Beveg beswaard, al is dit ook in die aard.
Die goeies gaan jonk dood. So, ek’s nog hier! Ryg dae in soos kraletjies. Net blinkes!
Die kuns in afgeleefdheid lê in sporadiese oplewings, maar nie hoër as middel-C nie!
Dis erg belaatlik om nou eers op te staan. Oumense lees of sing soos hulle wil.
En wat is hierdie stasie se naam? Oud-en-taggentig? Goeie reis! Amper daar.
Helder momente al wyer gespasieer namate spoed tussen lamppale van lewe afneem.
'n Vriend word 87. En tweelingagterkleinseuns ryker! Goed kan gebeur. Hou net aan!
Oppas vir die oumense wat waarneem as ledigpredikers. Hulle vermoei en verwar.
Ouderdom is party dae vreeslik! Die daaglikse wederopstanding is woes vleeslik.
Oud se skete is verbete. Veg gelukkig gebrekkig. Stoom dus voort soos dit hoort.
Oumense herkou die lewe soos beeste met gras maak. Laat ‘n bevredigende gevoel.
Seniliteit is meetbaar aan die onsamehangendheid van uitsprake. Die nag kom nader.
Tagtig is “sweet 16” met 64 jaar ondervinding op die koop toe. Nie te onderskat nie!
Voel vanmôre so heerlik opgewek. Nes Broer Lasarus van ouds!
Regering
Die begrotingsrede laat die Parlement slaap. Hongeres is wakker met rede.
Gelykheid doen minder vir geluk as ongelykheid vir ongelukkigheid. Gly afdraend.
Grillerige gedagte: Is ‘n gegorrel met olie gewoontevormend in ‘n oligargie?
Het die stemmige stemmers toe vir gladdebekstamelaars gestem? Die waarheid is op pad!
Kiesers versamel agter die belhamel, skape ter slagting teen alle verwagting.
Menige dwars minderheid is regeerbaar as leiers met ligte hand net kophou.
My magdom inwendige organismes het nie mikro-regte nie. Wanneer kom die VN?
Stemme dra na mense. Verloor verdriet in ‘n lied, dan verdwyn swaar in die niet.
Wat is kies. Hoe is beplan. Hoekom is rede. Wanneer is haastig. Wie? Tog net nie ek nie!
Woord kan hou! Verstaan die sêding van die oggend of dit vergaan.
Soos mens voel
Al wat roer, leef nie noodwendig nie. Verwikkelinge is beroeringe sonder stemreg.
As die gees te woes posvat, is daar nie nog tyd om ‘n seël op te plak nie.
As jy jouself te ernstig opneem, sal hulle jou moet toonset.
Begeesterd, bedrywig, bedug en bedonnerd? ‘n Ryke mengsel! Maar betaal dit?
Bobbejaan agter die bult alweer nie gekom nie! Die betroubare dier herinner slegs.
Die ewige skuil in die gewone. Agter die oë moet iets gebeur vir sien om te slaag.
Die mense sal snaaks dink as jy so aan die Maandag voel. Die sug verlig!
Die swarthond hettie tanne nie! Tog byt hy komkommer nes onsigbare brommer.
Dis ondenkbaar hoeveel sinsbedrog in verstandelike helderheid skuil.
Ek hou van mense! Nou nie van al 8 miljard nie. Van my beste vriende is mense.
Grootdoenerig is pampoenerig. Heet is soos beet. Bewerk jou groente sonder gedoente.
Hoe hoër geїmbibeer, hoe laer geїnhibeer. Toets remme in jou natuurlike toestand.
Lief vir jou naaste? Dis nou jy? Einste! Kos of klere? Om’t ewe. Jou naam nou weer?
Lugtig leef hoog. Grondig lê laag. Voortvarend bly seelangs. Gedra jou!
Nooit gestoot oor die klein dingetjies van die lewe nie? Verloor nou net jou sleutels!
Nuuskierigheid en swaartekrag verbind als wat is. Heelal se kinders bly soek mekaar.
Onverbonde leef ongeskonde. Skrams vat kanse. Skandalig skep onverskrokke.
Spierbeheer werk anders as klierbeheer. Albei is gedrewe deur gierbeheer.
Vervul is soos verwar, net sonder pille of dagga. Moenie praat nie, wees bly, kyk net.
Wolkop of holkop? Wag vir praat, dan’s dit te laat. Verkeerde pille en koppe raas.
Taal vir die Lewe
Appels opgeëet, aartappels opgeërd, skouers opgetrek, goeies opgeraap. Is jy ook op?
As die son kom strale wys, sluip die krankoliekigheid suutjies hoekies toe.
As Lotjie jou die dag tik, vra tog of hy ook ‘n souterige vroutjie het soos sy neef.
Beetgekry word opgeraap of is te diep gewortel. Groentegedoentes ook vir koolkoppe.
Bene is benerig. Maak dit beendere beenderig? Benede ook gebenedy? Bly by!
Boekwurms het ereskuld teenoor bome. Plant nuwes en wees goed vir hulle.
By geleentheid wel stout, maar die sout van die aarde moenie te laf raak nie.
Die koppelteken se toekoms is soos dié van die huwelik. Vas en los is duister.
Die professor eet ‘n stukkie van sy profyt. Die profeet weet iets van die niet.
Die sous ontdek te laat die onwaardigheid van die kool. Eet nou jou gesouste kos!
Dink bietjie oor die naam, dan drink jy dalk nooit weer die Liesbeek se water nie!
Hoekom is een mens wat doodgaan oorlede en nie oorlid nie? Bang vir alleen?
Hoe ongelyker opvoeding, hoe geiler tier die taal. Onkundenood word woordvruggies.
Immergroen boeke se omslae vergader nie stof nie. Lees lustig lewenslank!
In feestelike kombuis sprinkel vinkel en koljander mekaar met die een en die ander.
Is die nuwe baba ook ‘n inkommer? Die hondjie is ‘n uitganer, of die mat is nat.
Kwansuis sê te oortuigend alles is goed by die huis. Verkoop seker assuransie ook!
Lego-blokkies permuteer oneindig. Taal vlieg verder, soos die gas vir nuwe sterre.
Let tog op! Die lettere is vol opletters wat geletterd die lewe misloop. Letterlik.
Moenie krap nie! So gou as nou jeuk die lafste aksie die oortjie by die klou.
Onbeskof kan nooit minder beskof word nie. Minder bevoorreg werk anders.
Ontgogel is net te erg! Maar gogel? Dit deug dan nie eers op die Internet nie.
Ore uitgeleen vir woorde vol warm lug op dun ys verblind oë deur stoom.
Ryg woorde in. Maak sin in sinne, maar hou padkos min. Kopreise is vol steiltes.
Semels vir sement is sleg. Die mure pla die bure. Gaan bou beter langsaan.
Soet Sybille sis sibilante soos sous in haar geselsies. Oppas wanneer sy pik.
Soms kruip die snaaksste segginkies uit die vroemôreaanvalle van beterskapberoerte.
Sprakeloos? Spraaksaam spreek onbesproke spreuke! Sprankel, aspris! Parle piu piano!
Stewig in die saal! Net so kaal. En bloots? Die perd is dood! Die storie leef voort.
Taal is die melkkoei met die meeste spene. Sy drup die land vol woorde.
Taal is ‘n teenvoeter vir eensaamheid. Woorde is maatjies wat dans!
Taal is sosiaal! Die laaste mens sal woorde gebruik asof hy nog vriende het.
Taal werk beter as pille! Sê dit, sing dit, skryf dit, lees dit. Voel! Sommer beter!
Uitroeptekens assosieer sterker met stompsinnigheid as met langdradigheid. Olé!
Vandat vlieg in die salf die gesalfde vlieg kan word, kan elk in sy eie salf in vlieg.
Vinkel verveel toe vir koljander! Eenders kan mos nou ook nie anders nie.
Vroegste voorgeslagte kon nie praat nie! Stilswye, al is dit wysheidvry, bo spraak?
Wat bly oor van Sarel as hy sak? Die visser se armlengte bepaal mos die storie!
Woordwaarts mars! Uitrafel langs die tafel. Van sinne beroof praat land, sand, wyn!
Toekoms en Verlede
Adam, Noag, Caesar en Trump het elk ‘n totaal onbekende toekoms. Jy ook.
Agter die bees hang sy besem. Voor stoot sy asem. Die verlede harerig, die toekoms wind.
Die laaste woord is nog oor niks gesê nie, want ons is nog nie almal dood nie.
Die verlede is pers, die hede wit. Met hoop neem die toekoms rosig toe!
Die toekoms is oper as wat die woord sê. Eers as sy verby is, gaan sy toe.
Die Einsteins van die oertyd se ontdekkings is vandag se algemene kennis.
Evolusie het 'n ander konklusie as allegaartjie in gewaande heloond. Selde verstaan.
Herskep jou verlede! Die herskryf troos, voel soos tydelike beheer oor jou toekoms.
In die Vallei van die Konings vertel die farao’s stowwerige grappe. Lag in stilte.
Jou verlede versier, is ego streel. Jy end vreemdeling nes Pietie in Die Huisgenoot.
Opgekook of afgewater, uitgeput of ingespit. Kry betyds rigting. Verby was eers voorby.
Wanneer vandag die toekoms se sap onder lede kry, verdor dit tot verlede.
Toer is nie Boer nie
As wie-weet-waar die koers aandui, verdwaal die mense in hul wanneer in.
Dagreise is onvoorspelbaar: Bewussyn vol, dan leeg. Wie weet wie ek môre sal wees?
Die bed is hier, Tibet is ver. Benut wat binne bereik is! Moenie die lyf pla nie.
Kan nie meer daar kom nie, maar die bergtoppe is myne. Vae sin in wye wonder van wees.
Kyk! Seil vry oor die see! Verbeelding verhef stoepsit tot golfies wat dein.
Kyk vorentoe, ongeag in watter rigting jou kop wys. Anders word jou nek styf.
Menslike verbeelding is lankal by oerknal verby. Padwysers staan tot in die niet.
Moet nooit die woestyn aandurf as die kameel vir jou glimlag nie.
Op die lyf loop is vir vlooie! Pofadders het nie vlooie nie. Bly op jou smal Camino!
Op Musk se nuwe planeet het die ruimtevaarders uiteindelik van KFC vergeet.
Reis ligter! Dit kom met meer stampe en stote. Dek tog meer terrein. Stok en hoed!
Reis lig! Bind jou sewe grootste oortuigings in ‘n glo-bondel en môre is jy doer!
Spoed stink nie vanself nie. Dit kom van skrik in bewegende dele. Toets gerus!
Weer oor die verste berg voor ek doodgaan! Ai, tog nie nog ‘n voortrekker nie!
Weerloos in die vreemde? Word gou eie, intiem, selfs geil. Dan kort jy net ‘n nuwe naam!
Wendinge in die tydgees wys die mens soek steeds dwalend na wie weet wat.
Vrae
As taamlik betaamlik halfpad ordentlik is, hoe doenlik is fatsoenlik?
Daai vier eindtydruiters se perde trek nie die vierperdewa nie. Wa kom die bagasie?
Dink bou vastrapplek, ‘n steunpunt vir versnelling. Maar waarheen en hoekom?
Hoekom begeef mense hulle in die huwelik, maar nie in die graf nie?
Is miere en slakke ook jou naaste? Slang is soms nader! Strikvraag: Muskiete en vlieë?
Is ‘n Afrikaanse pimp dalk ‘n vlegknoper? Hoe roep die beroep tot roeping?
Muskietseisoen val saam met persketyd. Is die pampoen beter af as die lemoen?
Ridder op die wit perd en bobbejaan agter die bult is broers. Vir wie wag jy?
Spat as kensmens wat vertel! Vergader met berader. Maar wie’s wie?
Vrede, die Doel
As die gort gaar is, vlam onenigheid. Rou is dan al uitweg. Raak vreedsaam, toe!
Die uitgelatenheid van die losgelate dier bewys die belangrikheid van vryheid.
Eendrag, tweedrag, driedoring! Komplikasies plant voort deur selverdeling.
Gegewe dat lewe gelukkig is deur liefde, gee om! Dra iets by tot die vrede wat moet kom.
Kolletjies van die wêreld blink oor mense saamwerk. Harmonie is ‘n kolletjieskoor.
Mag vervreem die weerloses. ‘n Sagter deuntjie is nodig vir vroliker samesang.
Mens kan bou met klippe, of hulle vir ewig in woede na mekaar gooi.
My naaste is nie noodwendig my vriend nie. JR is nie my vee of my vreemdeling nie.
Oorlog besoedel almal wat op veilige afstand dit nie stop nie.
O vrede! Hier is oorlog! Ryk magbelustes regeer. Gedienstige passiewes kyk lam toe.
Regverdiging byt vas soos ‘n alibi. Versoening bring vrede. Elke keer is ‘n keuse.
Standaardverpakte kil beleefdheid is so beskaafd. Barbaarse broers is beter!
Vrede kom na almal wat hul naaste in die vyand herken. Kan jy?
Weetwoestyn
Afgeroomde insig is soos tweedebekse hawer. Was reeds ‘n slag deur die perd.
Agter die laaste idee lê die weetwoestyn. Onkunde is ‘n plek vir pioniers!
Barbare kuier in die weetwoestyn! Die dinkvrotgrot is ‘n lekker plek, ha-ham!
Bladwisselende boeke bly sit nie op die rak nie. Bekyk hul titels mooi!
Daar gunter wag Redelik en Sedelik! Bewuste, doelbewuste smede van arme opvoedelinge.
Die mensdom se geleerdheid is nader aan sy begin as aan sy einde. Mag dit altyd so voel!
Die weetwoestyn is nie bestand teen nuuskierige agies nie! Onweetlikheid moet wyk.
Ek soek gesonde verstand. Ek kry haar. Ek sien sy’s weg!
Ewige student wat so min leer! Toegedeelde pad is ‘n skuiwende huis. Sig, insig, gis!
In weetwoestyne verteer dinkgedoentes feite soos gaar koeie. Oppas vir slim hou.
Nuuskierigheid genees verveling, maar niks genees nuuskierigheid nie. Viva!
Onmeetlike ruimtes skei gedagtekaiings. Die kop is leër as wat mens dink!
Pas verskyn, gou verdwyn! Wysheid alewig wedergebore, weet verval deur vergeet.
Piramides in die weetwoestyn? Dis ter wille van die ewige lewe van die onkunde.
Sal ‘n skaaphond moet kry om my deurmekaar gedagtes op ‘n hoop te jaag.
Tekens van lees kwyn, al is die bladsye vol leestekens. Oppas! Blikbreine lees al.
Te lank in die weetwoestyn en spinnerakke wapper deur die botstil brein.
Wanneer idees soos kringfluite in koppe vashaak, kan mense oormatig gefokus raak.
Wat doen bedagsaam snags? Knoei alleen in die donker of woeker gruwelik in die huwelik?
Wetenskap begin in die weetwoestyn. Let mooi op en verbind die punte.
Wie weet regtig? Maer dink die vet weet! Hoor dan net wat swets sy alles in die pan!
Die Lewe met Prostese
Geen stappery vir my en Blikvoet in hierdie weer nie. Hy rus op die woordeboekrak.
Blikvoet aanvaar net vir Stompie as hy met alkohol in sy holkop gespuit word.
Ek en Blikvoet bly regop met stoot-Merc. Vier wiele nes vinnige Mercs. Ek is enjin.
Stoot-Merc reis soos ‘n leë kruiwa deur Onrus se strate. Ek en Blikvoet lyk na loop.
Blikvoet weet al: Regte Mercs hou hulle nie op met goed wat gestoot word nie.
Spykers is gevaarlik vir motorbande. Blikvoet voel vere vir spykers of motorbande.
Ek en Blikvoet tel soms ‘n spyker op. Sommer so op straat! En dit in ons toestand.
Spykers pla nie vir stoot-Merc op straat nie. Hy is mos sonder winderige bande.
Daar’s ook al ‘n skroefie tussen die spykers. Kan nie bly rondlê nie. Gemeenskapsdiens!
Stoot-Merc het die taxi-staking geїgnoreer. Dalk te stadig om padwette te breek.
Wonder bo wonder! Als werk vandag. Tien sent is jou pa se broer! (Bob’s your uncle!)
‘n Houer metaboliserende protoplasma met ysters in die pad af. Menswees is gekompliseerd.
Blikvoet het sterretjies buite-om sy holkop. Blink loopgenoot vir die ruimte-eeu!
Die James Webb-teleskoop het nie Blikvoet se sterre afgeneem nie. Nog nie.
Dalk spoor SKA Blikvoet se familie op eksoplanete op. Cyborg-bene met radioseine.
As ek en Blikvoet so loop, is ek vol bloed! Maar alles is binne-in, mooi toe met vel.
Blikvoet profeteer nou al vir ‘n maand hier. Daarsonder is Oortyd maar stil.
Amputasie verminder spesie-status tot Homo sap? Blikvoet dalk ‘n Robo ped.
Blikvoet bewe nooit nie. Andervoet kan wel, maar los dit vir die oumense.
Geen linkervoet. Eskimo-skildery van vrou met twee vir 40 jaar al op my kamermuur.
Blikvoet keer nie om al jou dae te gebruik nie. Bou of brou solank die somer hou.
Blikvoetlikheid kom ook na mense sonder blikvoete. Leer by kinders en mossies.
Corné het Blikvoet gemaak en hou hom instand. Ek’s bemagtig, beter as net tuis rondhop.
Verlies verskerp fokus. Dink nou mooi waarna om te soek. Malligheid is so maklik.
Die standaardstaproete op Onrus is 42 huisfronte. Douglas Adams was toe sowaar reg!
Met Blikvoet se oer-oupa het Kaptein Hoek vir Peter Pan en Wendy gas gegee.
Daar is lankal altervoete. Houtvoet het vir Nelson by Trafalgar regop gehou.
Altervoete een woord, Oortyd-Afrikaans, neef van Kaaps. Alter ego aspris los.
Kan Blikvoet ‘n plousiebele flaneur word? Rondloop leer mens snaakse taal.
Mense groet meer as voor Blikvoet se tyd. Blikgoeters meer toeganklik? Raar!
Hardloop nou hop en stoot. Gene hou hardloop in die familie. Jou beurt is jou beurt!
Blikvoet en ek hardloop nooit. Ons skilpad. Kruipslag op droë grond. Of stadiger.
Blikvoet dra ‘n vaal sokkie. Word nooit gewas nie. Andervoet net ‘n tekkie. Lig op sokkies.
Slaap onbeweeglik met Stompie. Moet wakker word om die ander wang te draai.
Alweer ‘n spyker in die pad opgetel! Geroes, maar darem. Dit kom van rondloop.
JR ruik aan Blikvoet. Toets of ek vinnig genoeg loop om vreemde hondereuke te vermy.
Blikvoet gaan stap in die son. Geen Swart Vrydag vir in die rooi gaan hier nie.
Is Blikvoet nou dapper of stapper? Die voet weet! Nie hy nie! Slakspoed voort!
Blikvoet, Blikvoeter, Blikvoetste! Stadig, maar vinniger as niks. Ons roer steeds.
Dikkoppe vir Outoppies
Op die oop erf bly die waterdikkop, Thick Knee. Water op die knie pas by Blikvoet.
Die dikkoppe skuif na die bos se sonkant op hul oop erf. Stilste egpaar op Onrus.
Dikkoppe roep net ‘n paar keer per nag. Slaan nagte oor. Spaarsaam met uitsprake.
Stilbly is ook ‘n antwoord. Sê niks dan is daar niks. Kan mense by dikkoppe leer?
Dikkoppe leer niks by mense nie. Wie is nou dik? Détente is ‘n uitdaging nes BRICS.
Gister was 'n goeie dag vir my en Blikvoet. Die dikkoppe het ‘n Wêreldbekerkuiken!
Dink
Die Feniks was toe altyd die bruikbare idee uit die begraafplaas van die ou vergeet.
Die woeste winde is nes moerse asems. Die lewe daarbuite half bekend, half vreemd.
Ons woorde sorg dat ons denke nie vormloos raak nie. Vorm is soos huis, bemagtig en beperk.
Alle orde verouder, beklem of verdwyn. ‘n Wêreld vol geraamtes. Herken jou ontsnaproetes.
Die netels om gemaksones hou mens op jou tone. Nuwe treitering roer elke mens se Gasa.
Waarneming verwring realiteit, ervaring ten spyt. Verwagtinge moet wag.
“Voor in die wapad brand ‘n lig!” was hoop. Nou brand ‘n bus! ‘n Trein! Dink weer.
Vrede op aarde waar mense mekaar sien? Die rus meesal elders, moenie Putin soek nie.
Stoel, bed en vir oulaas karretjiemens. Sonder donkies. Dink gaan net aan. Tot nie.
Het iemand bietjie kos vir hongerblomme hierdie Feestyd? Die aarde is so vol Gasas.
Die halfleeftyd van intelligensie: Sal vriende help oppas wanneer die helfte weg is?
Halfpad tussen insinuasie en innuendo kry mens insinuendo. Dis toksies! Wees vriendelik.
‘n Mens weet wie’s jou naaste. Nodig vir menswees, nie moeilik om te vind nie.
Vrede, dankbaar, bymekaar om die glimlag te rek. Laat die dinkkant blink!
Die Skepping is opgeskeep met afgeskeepte skepsels wat skep! Skepties oor verskeping?
Dis die Tyd!
‘n Giggelspesery gly vir oulaas verby, al was hierdie jaar geen grap nie.
Ten besluite op die Oujaar, bly eers buite. Voed muggies of muskiete om jou kuite.
JR Blaf ‘n Bonus
JR verduur nie hadedas op die grond nie. Blaf hulle tot in die boom. Jaag werk sleg.
JR blaf net drie keer, dan’s hom stem weg. Klink dan soos ‘n hoender. Blikvoet is stil.
JR probeer duiwe en hadedas flous, maar kan niks vang nie. Stoot-Merc raas.
JR half-Jack Russell, half-Beagle. Jou Rondloper voor die hoë heining. G’n Ewing.
JR is op blafdiens êrens in die tuin. Biltongaangedrewe. Blaf soms van sy stoel.
Onrus se honde is ons stappie gewoond. Blaf al minder. Blikvoet byt sal tande breek.
JR is in die bediening. Blaf vir verbygangers na behoefte. Tweede diens in falsetto.
JR, half Jack Russell, half Beagle het gister verdwyn. Ons soek erg!
JR se kaniene veglus droog skielik op as die hek oopgaan met ‘n groot hond buite.
JR loop met andere aan sy leiband. Vir my draai hy te gou vas om Stoot-Merc.
Lank voor JR is Killer, dapper Maltees deur ‘n heininggaatjie. Doodgebyt in sekondes.
Middernagbiltong keer dat JR ontblaf. Iemand hier rond moet darem kan stem verhef!
Kinders, die nodige!
Naweek sonder Blikvoet by Retha-hulle in Tokai. Alana hokkiedoel en wen.
Jack is vandag 53. Dis die eerste kinderverjaardag wat Mari mis. Onthou is groot.
Mila: Oupa, Riley doesn’t need to proe the sugar on her pap. She needs to see it!
Lewe en Nie
‘n Groot dag van afskeid, maar Mari bly. Rooi sal nooit weer so lyk nie.
Lees dit as jy kan: The Earth Transformed, An Untold History. Peter Frankopan.
Wat dra mense by tot die natuur? Omtrent niks behalwe kort rokkies en koolsuurgas.
Swaer Charl Theron is oorlede. Hom geken by Jan van Riebeeck nog voor Mari.
Broer Ilmar gesels al na sy maagkankeroperasie. Mense kan. Staan saam.
See Venice and die. See Gaza and die. Stay home, die anyway. Die woord is die.
Vandag afskeid van Charl Theron by die Groote Kerk.
Vermufte, souserige wrakke stort ineen. Uitgedordes val uitmekaar. Kies nat of droog.
Musiek en Sang vir Kopskoonmaak
Al sien mens eendag jou alie, hoef jy nie nou al “Daar kom Tant Alie!” te sing nie.
Die blikvoetlikhede van die lewe klink beter met Jan Pierewiet. Sing lekker, dis lente!
Dis musiekdag op Oortyd met Riku en Jackie. Blikvoet en Stoot-Merc rus.
Die Kreutzer-sonata met Argerich en Papavrami goed vir hierdie Sondagmôre.
Kom gister ‘n blaasorkes voor Oortyd verby, speel vir my ‘n Kersliedjie. JR gee pad.
Musiek is plesierig op oudag. Klank plesier vir krank! Party maters wys nog noot.
Blikvoet is nie op sy tone nie. Toonloos! Vergeet van hom leer sing. Ek en JR sal, net suutjies.
Mzansi is soms snaaks
Voor in die wapad brand ‘n bus! Mens raak aan alles gewoond. ‘n Bliksem nes ‘n bok!
SA moet begroot vir baie handdoeke! Hier is soveel droogmakers.
Blikvoet registreer as kieser? Liewer nie. Netnou kom hier ‘n nog blikkeriger robotregering!
Gasektomie deur Israel. Mzansektomie deur die ANC. Wietomie volgende?
Noodsaaklike Euwels
Vermoed, verwag, hoop, begeer ‘n Nuwe Eskom! Die volheid van die Watt!
As Eskom nie vanjaar matriek deurkom nie, hou ons kersfees tot krismis. Dan nag.
Eish! Eskom kan nie eers sewe sakke sout sleep nie. Loop roep vir Sannie!
Oortydgedoentes op Onrus, Tuindorp
In die bloekomboom broei die hadedas alweer. Blikvoet is stom soos altyd.
Onrus se tuine is netjies, strate sonder gate. Ons is dankbaar. SA sal weer beter word.
Kraamnuus: Twee hadedakuikens in die bloekomboom uitgebroei. Ouers raserig.
Hadeda aan kuikens: “Preek mooi virrie mense! Moenie kondominees wees nie!”
Die hele Kaap is gedrenk maar nugter, druipend, drywend! Blikvoet bly tuis en droog.
Die Onrusrivier in vloed! Nie ‘n druppel in die krane nie. Gans begeklik!
Sonder kraanwater is karkasinstandhouding ‘n missie. Blikvoet bly ‘n droë siel.
Daar’s weer water in die kraan! Dankie vir ‘n dorp waar rampe reg bestuur word.
Kaalwangvalk kom sit op die dak. Groot oomblik. Verwelkom die voëlkykerkinders.
My jonger broer wat oud is, kuier hier. Ons vertel mekaar ou stories wat jonk klink.
Onrustuine word min gebruik. Dis vir die bure. Hulle kyk ook min. Moet meer hoekom?
Tuine het standaarde, vermy enersheid. Tuiniersiele is leesbaar. Weet hulle dit?
Blikvoet kan eersdaags die roete deur Onrus alleen gaan loop. Dan rus ek en Merc.
Hop rond en kyk hoe groei die tuin. Plantjies in saadbakkies vir môre en weggee.
Blikvoet se Maandag is besonder stil. JR lek sy voete. Die wind het ander idees.
‘n Uilhok in die boom opgesit. Hulle het nooit daar kom bly nie. Nou’s daar ‘n bynes in.
Die reën is nou bietjie weg op Onrus. Nou groei die amper weggespoelde riete weer.
Ouderdom
Ouderdom knor as erge kwale die jongeres hospitaal toe sleep. Die dae is goud.
Wat moet oumense weet van beedolessensie? Omgekeerde adolessensie?
Lag, die nag kom nader! Dis vitamine vir die gees. Maak ook die dae in sukkeltyd.
Sport oppie Teevee
Wat sal dinge wees sonder die Springbokke! Al steur JR en Blikvoet hulle min.
JR blaf vandag Mireille Mathieu se Marseillaise van YouTube! G’n All Blacks nie!
JR kyk nie krieket nie. Markram en Bavuma se nulle genees. Hou Proteas in water.
Toe kry die Proteas ‘n dubbele aanval van beterskap. JR blaf vir tannies op fietse.
En dit was aand en môre op die Bokke se dag. Sublimeer geweld. Panis et circenses.
Lief vir Fiji? Fijo, Fijas, Fijat, Fijamus, Fijatis, Fijant! Maar dis alweer ons en Engeland.
Die Bokke! Nie 'n vakansiedag nie! 'n Dag om meer te doen, want ons kan!
Elkeen kry sy Moses. Die Proteas s’n was gister Indië. Oppas vir Afghanistan.
Rugby lank gelede. Mapula, daai is die Springbokke! Mapula: Vet manne!
Taal vir die Lewe
Lekker woorde is toffies sonder papiertjies. Die ander woorde is die papiertjies.
Hard gearbei, moeg gemoerbei! Maandag weer. Dissipline is die vitamine van roetine.
Wat is die snaaksste woord? Kloekmoedig is ‘n kandidaat. Mens sien nie so iets nie!
JR se blaffies verkloek soms. Kort seker hoesstroop. Klink nes ‘n hoender sonder vere.
Toer is nie Boer
JR, Blikvoet en Andervoet is lus om ver te reis, want nanotoerisme is kopwerk.
Die verste reis oor die kleinste afstand is oor die woestyn in die korreltjie sand.
Die nanotoeris se avontuurterrein is soms net ‘n blaar. Of ‘n ruimtereis.
Nou wat soek jy hier in die hemel met jou afbeen? Gaan sit onder jou eie boom!
Die hier is vervelig, daar ver vol opwinding. Kul die kop en nêrens word prettig.
My gedagtes ontsnap na die vergetelheid. Ongereed vir ‘n ewigheid.
Oumensreise word al verder oor korter afstande. Soms terug voor ons weg is.
Onopgeloste raaisels van die jeug word padkos vir sielknaag in oumensverbeelding.
Oumense moet ook reis. Sprinkane sleep. Broer vandag terug Oos-Kaap toe.
Oumensreisplanne wring fraktaal met kinkels. Afdraaie neem toe. Tyd is reiskoste.
Bartholomeus Blikvoet en Vasco da Andervoet ontdek die kleinste Kapie op droë grond.
Riku neem sy lyf op reise heen. Die hoogtepunte van tuistoerisme. Doodstil maan toe.
Slaap deur, maar Columbus moet Amerika party nagte gaan ontdek. Apologie aan Biden.
Blikvoet is nes die afgeleefde sprinkaan, verbind tot beweging. Sleep roer nes lewe.
Die kwikkie se stert gaan as hy staan en omgekeerd. Blikvoet kan net gaan of staan.
Ararat was toe nooit waar die Ark strand nie! Bakkies maak ararat as hulle koud is.
Kry nie meer spoedboetes nie. Nie eers voetnotas nie. Hou nie by nie. Sal moet opskud!
Wat ‘n mooi toekoms om op terug te kyk! Mens druk sommer die Kyk Weer! vir ‘n lag.
Kyk uit vir kamele! So ver wes is wyse manne skaars. Of is die ooste nou die boosste?
Hasepad end in ‘n gat. Alpad werk vir hase. Mense gee ook pad, soms haas onnodig.
Weg is vir wegkom. Tuisbly is wegloos. Soek kom ten laaste tuis. Dan’s mens weg.
Kontak Ivan Lätti direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.