Ons naam is 'n grap. Ons waardes is nie.
Ter wille van duidelikheid, en om enige moontlike verwarring te voorkom, ag die AWB dit nodig om sy posisie oor 'n paar eenvoudige sake uit te klaar.
Akkedis Wasgoedlyn BandOns glo in die menswaardigheid van elke mens.
Nie sommige mense nie.
Nie mense wat soos ons lyk nie.
Nie mense wat soos ons dink nie.
Elke mens.
Ons glo niemand behoort uit die wêreld gestoot te word omdat hulle anders is nie.
Wit.
Swart.
Bruin.
Indiër.
Sjinees.
Japanees.
Khoi.
San.
Zoeloe.
Xhosa.
Afrikaner.
Moslem.
Jood.
Christen.
Ateïs.
Gay.
Reguit.
Trans.
Inuit.
Enigiemand.
As jy die vrede liefhet, is jy welkom.
Ons glo Afrikaans behoort aan almal wat dit liefhet.
En ons glo elke ander taal behoort net so gerespekteer te word.
Geen taal maak 'n mens groter as 'n ander nie.
Elke AWB Mens verwelkom elke ander AWB Mens.
Daar is nie "ons mense" en "hulle mense" nie.
Daar is net mense.
Ons is diere.
Nie bo die natuur nie.
Nie buite die natuur nie.
Deel van die natuur.
Kom ons leef daarom soos wesens wat weet hierdie aarde behoort nie aan ons nie – ons behoort aan haar.
Ons wil nie net ons eie kultuur ontdek nie.
Ons wil die wêreld ontdek.
Ons wil luister na stories wat nie ons eie is nie.
Ons wil saam sing.
Saam eet.
Saam huil.
Saam lag.
Want elke mens dra 'n lied wat nog nie klaar gehoor is nie.
Ons glo gesprek is sterker as geskree.
Nuuskierigheid is sterker as sekerheid.
En liefde is sterker as vrees.
Ons glo imperfeksie ís perfeksie.
Ons glo musiek is een van die mooiste maniere waarop mense mekaar kan ontmoet.
Ons glo liefde raak nooit minder wanneer dit gedeel word nie.
Dit word net groter.
Ons is toevallig meestal Afrikaanse mense.
Maar ons droom is nie 'n wêreld waar Afrikaners bo ander staan nie.
Ons droom is 'n wêreld waar Afrikaners saam met ander staan.
Nie Afrikaners bo alles nie.
Mense saam.
Altyd.
Dankie vir u tyd.
Die AWB
(Die
Akkedis Wasgoedlyn Band)