Federasie vir Wrokke Plus
Omdat die verlede te belangrik is om aan historici oor te laat.
Voel jy soms dat ander mense se geskiedenis onnodig baie aandag kry?
Raak jy ongemaklik wanneer gesprekke konteks begin ontwikkel?
Het jy al ooit gedink:
"Ja, maar wat van óns?"
Dan is die FW+ dalk die politieke tuiste waarna jy gesoek het.
By die Federasie vir Wrokke Plus glo ons dat elke gemeenskap die reg het om hul eie pyn te koester, hul eie feite te selekteer en hul eie verontwaardiging vir toekomstige geslagte te bewaar.
Ons missie is eenvoudig:
- Om historiese griewe te beskerm.
- Om nuwe griewe te ontwikkel.
- Om bestaande griewe volhoubaar te bestuur.
- Om te verseker dat geen tragedie ooit alleen hoef te staan sonder 'n mededingende tragedie nie.
Ons navorsing, in samewerking met die Universiteit van die Lewe (UVDL), toon dat 87% van alle politieke argumente verbeter kan word deur die woorde:
"Ja, maar wat van..."
strategies in te voeg.
Die FW+ beywer hom vir:
Selfbeskikking
Omdat elke volk ten minste een WhatsApp-groep nodig het waarin niemand ooit van mening verander nie.
Historiese Geregtigheid
Deur die geskiedenis te onthou wat ons help en die geskiedenis wat ons hinder verantwoordelik te argiveer onder "verdere navorsing benodig".
Volkstraatontwikkeling
Met baanbrekende projekte soos Oranje-B, Suid-Afrika se eerste selfregerende volkstraat en trotse tuiste van twee veiligheidshekke en drie grondwetlike worshonde.
Volhoubare Woedebestuur
Want 'n kwaad burger is 'n betrokke burger.
FW+ Leuse
"Ons vergeet nooit. Veral nie die dele wat ons help nie."
Word vandag nog lid.
Alle Suid-Afrikaners is welkom om aansoek te doen.
Tot dusver was die uitslae bloot statisties interessant.*
Deel 2 van die FW+ leuse is "vergeet om die anderkant se punt te onthou." Dit vergeet ons ook nooit. Of nog beter die FW++ is nog meer denkekonomies: "weier om die anderkant in te sien."
*Dis 110% toevallig dat slegs wit regse Afrikaners se aansoeke geslaag het. Die UVDL ondersoek tans hierdie interessante fenomeen.