Dr Tristán Kapp is ’n ontluikende Suid-Afrikaanse godsdiens-navorser, openbare denkleier en burgerregte-aktivis. Sy persoonlike leefwyse word gedefinieër deur die beroemde gesegde deur Finley Peter Dunne: "Comfort the afflicted and afflict the comfortable"
Huidiglik is hy 'n post-doktorale navorsingsvennoot verbonde aan die Desmond Tutu Centre for Religion and Social Justice se (SARChI)-inisiatief in Godsdiens en Sosiale Geregtigheid, by die Universiteit van Wes-Kaapland; gesamentlik bevonds deur die Lund Sendinggenootskap en die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika (NRF). Kapp is ook 'n navorsingsgenoot gebonde aan die Departement Relegiewetenskappe by die Universiteit van Pretoria. Kapp het 'n liefde vir interdissiplinêre navorsing en spesialiseer daarom in vergelykende godsdiens, kultusse/nuwe godsdiens bewegings, esoteriese spiritualiteit, digitale/nuwe media godsdiens, politieke teologie, kunsmatige intelligensie (KI) en die verband tussen geloof en samesweringsteorieë.
Sy navorsing word gedryf deur ’n kragtige passie vir geregtigheid, publieke (sosiale media) denkleierskap en die bevegting van disinformasie. Kapp wend homself sodanig tot die toeganklikmaking van akademiese kennis. Hy is dus ’n kundige bydraer tot die Database of Religious History (DRH), 'n aanlyn godsdiens argief verskaf deur die Universiteit van British Columbia. Kapp dien ook tans as deel van 'n adviesraad vir nuwe godsdiens bewegings in Suid-Afrika, saam met vooraanstaande kenners in die veld: dr Eileen Barker (Inform UK) en dr David Robertson (The Open University), vir ’n internasionale navorsingsprojek getiteld New Religiosity and the Digital Study of Eudaimonia. Die navorsingsprojek word befonds deur die John Templeton-stigting (projeknommer: #63357) en is gelei deur professore Stephen Christopher en Suzanne Newcombe as die hoofondersoekers.
Kapp dien as mede-redakteur vir die Journal for the Study of Religion (JSR) en is deel van die uitvoerende komitee vir die Association for the Study of Religion in Southern Africa (ASRSA). Sy akademiese werk en aktivisme betrek dikwels die raakpunte tussen burgerlike godsdiens, kultuur en politiek in Suid-Afrika. Kapp se navorsing het al internasionaal verskyn in Frankryk (École Pratique des Hautes Études en die Institut des Mondes Africains), Ierland (University College Cork), die Verenigde Koninkryk (King’s College London), Suid-Afrika (Universiteit van Suid-Afrika en Universiteit van Wes-Kaapland), asook Pakistan (Islamia University of Bahawalpur), die Tsjeggiese Republiek (Universiteit van Masaryk), Peru (Universidad del Pacífico) en Noord-Amerika (Correllian Community Church) tydens die eerste internasionale Pagan World Congress.
Hy het al verskynings gemaak op Rejected Religion, 'n organisasie verbonde aan die Centre for the History of Hermeticism and Related Currents (Universiteit van Amsterdam) en die Research Network for the Study of Esoteric Practices (RENSEP), waar Kapp esoterisme, sekulêre identiteite, seksualiteit en digitale spiritualiteit in die Ooste en in Afrika bespreek het.
Kapp is ook ’n uitgesproke openbare kritikus en digitale meningsvormer; daarom is hy ’n gevestigde aanlyn inhoudskepper met volgelinge regoor sosiale media. Sy kundigheid het ook al verskyn op Suid-Afrikaanse televisie (SABC en VIATV), plaaslike radiostasies (PowerFM, Cape Talk en Radio 702), asook in prominente hoofstroom nuusmedia soos IOL, Daily Maverick, Maroela Media, Ontlaer, Rapport (Netwerk24) en News24, asook ’n verskeidenheid podsendings (plaaslik en internasionaal). As uitvoerende komitteelid vir die South African Pagan Rights Alliance (SAPRA), loods Kapp openbare grondvlak-aktivisme inisiatiewe oor godsdiensvryheid, LGBTQI+-regte en ander nie-hoofstroom minderhede in Suid-Afrika, wat bekragtig word deur sy ervaring in bemiddeling, geskilbeslegting en beleidsnavorsing!
Gister kyk ek weer die ongelooflike film, Bohemian Rhapsody (2018), wat seker een van die mees ikoniese musieklegendes se lewens op 'n kragtige en roerende manier vasvang. Rami Malek vertolk die rol van Farrokh Bulsara (beter bekend as Freddie Mercury) en sy reis na beroemdheid saam met die tydlose musiekgroep, Queen. Sedert 1975, het Queen se amptelike vrystelling van hul baanbreker album, A Night At The Opera, hulle op die voorgrond geplaas en sodanig 'n aardskuddende impak op die wêreld van musiek gehad. Mercury het 'n verhoog persoonlikheid gehad wat stadions vol mense kon opsweep en reg oor die wêreld sing mense steeds saam met Queen se grootste treffers. Freddie, as deel van Queen, was baanbrekers in die 70s.
Sedertdien het Queen (hoofsaaklik te danke aan Freddie Mercury se talent) rock -en populêre musiek vir ewig verander. Tot vandag toe nog, word hierdie musikale ikone gevier en hulle treffers verskyn op al wat 'n radiostasie -en kroeg is, se speellys. Bohemian Rhapsody is steeds een van die mees bekendste liedjies van Queen se hele musiekloopbaan en meer as 50 jaar later, bly Mercury se unieke stemklank ongeëwenaard. Helaas het Mercury nie 'n maklike lewe gehad nie. Hy was 'n gay man wat in 'n samelewing moes leef waar selfde-geslag aangetrokkenheid (homoseksualiteit) steeds 'n groot taboe was. Gevolglik was die gay-gemeenskap in die 70s hoofsaaklik ondergronds gedryf en publieke uitdrukkings van iets so eenvoudig soos liefde tussen twee mans (of vrouens), was grotendeels verafsku. Dit het veroorsaak dat Freddie HIV gekry het, dit was die oorsaak van rowwe partytjies en 'n omstrede soeke na identiteit: 'n poging tot balans tussen sy sosiale taboe seksualiteit en die kollig as hoofsanger van 'n musiekgroep. In 1991 is Freddie Mercury oorlede aan HIV-Vigs: almal onthou sy musiek, maar sy ware kern struwelinge - 'n behoefte aan aanvaarding vir wie en wat hy is, het hom in al die verkeerde mense se arms ingestuur.
Vandag het die samelewing se skok-drumpel verskuif; deesdae is daar hoofsaaklik 'n klomp halstarrige Christen-verkramptes wat met sleutelborde en slimfone, luidkeels hulmisnoeë oor die gays in sosiale media kommentaar afdelings, te kenne gee. Hoe is dit relevant tot Queen? As jy vir Frik of Susan kroeg toe vat, sal hulle "uit bollevors" (soos my koormeneer op Hoërskool altyd gesê het) in falsetto saam met queen sing as die 'Brannas' en skemerdrankies begin vloei. Skielik maak dit nie saak dat die einste hoofsanger 'n hedonistiese lewe geleef het nie. Dit is egter dieselfde kerkbank huigelaars, wat Bybel-onder-die-arm vandag loop en gays wat deur dieselfde identiteitskrisisse struwel, tot die hel verdoem. Maar saam sal hulle sing as Bohemian Rhapsody oor die radio speel. Het hulle dan vergeet dat hulle nostalgiese tiener storm-en-drang jare musiek geskep was, deur 'n gay-ikoon soos Mercury, vir die einste randfigure wat hulle so tot die hel verdoem? Ten spyte van sy beroemdheid, het Freddie Mercury nie net emosioneel nie, maar fisies ook, gely onder die indringende kruisverhore van die stoere publiek en media oor sy persoonlike lewe en seksualiteit. Natuurlik was hy meer as sy seksualiteit, tog vind ek dit redelik problematies dat ons een ou se nalatenskap vier, maar vir vreemdes word daar steeds protes aangeteken oor wie (gay) mense in hulle slaapkamer innooi? Dit verbyster my dat ons in 2026 steeds hierdie gesprek moet voer... Wanneer gaan dit end kry?
Natuurlik is dit dieselfde skare uit die grondboontjie-gallery wat hul ongevraagde menings oor ander se pasmaats lug. Dieselfde klomp huigelaars, wat dieselfde versies aanhaal en dieselfde groepe oor-en-oor teiken. Daar is klaarblyklik geen salf te smeer nie.
Maar kom ons maak hierdie blik wurms oop. Dis lank al nie meer 'n debat nie, maar 'n willekeurige verset teen verdraagsaamheid en feite. Die feit dat selfde-geslag aangetrokkenheid normaal en natuurlik is. In die fliek Bohemian Rhapsody, het die hoof-kitaarspeler, Brian May, dit raakgesê: "Americans are prudes in public, but perverts in private." Ek wil my verstout deur dieselfde te sê van die Koeksister Mafia, Sannie Suurgatte, wat hulle anti-gay geteem vir almal moet aankondig. Almal is baie lief daarvoor om die Bybel aan te haal, maar nie een van hulle weet dat die Bybel nêrens oor homoseksualiteit praat nie. Die konsep van 'n liefdevolle verhouding tussen twee volwassenes van dieselfde geslag, was nie iets wat deel gevorm het van die Bybel se morele raamwerke nie. Inteendeel, is die hele konsep 'n nuwe verwikkeling. Dis nie te sê dat dit nié in die antieke wêreld bestaan het nie: die Romeine -en die Grieke was bekend vir hul selfdegeslag praktyke as rites van passasie.
Dus wanneer jy werklik die Bybel kontekstueel getrou benader, sal jy mooi sien dat selfs seks soos ons dit vandag verstaan, geensins te doen gehad het met wié jy slaap nie. Eerder in watter posisie jy jouself plaas in enige gegewe seksuele interaksie. Dit was totaal en al taboe vir mans om 'onder' te wees en vrouens om 'bo' te wees... - volgens antieke Joodse legendes oor Lilith in die tuin van eeden, is dit waarom sy (as vrou) verdoem is. Sy het luidkeels Yahweh se instruksies verontagsaam, deur bo-op Adam te wees. En in die antieke raamwerke van die dag, was dit gesien as die vrou wat die man domineer. Vrouens was eiendom en het min- tot geen regte gehad nie.
Hulle enigste rol was om 'n nageslag te bevorder om die man se stamnaam voort te dra. Daarom, as mans in enige ander posisie as in die 'dominante' posisie hulself bevind het, was dit gesien as 'n vorm van vernedering. Daar is dalle antieke Griekse geskrifte wat handel oor moraliteit en etiek wat hierdie sentiment beaam. Kyk maar ook na die antieke muur kunswerke wat die Persiërs en die Grieke se oorloë uitgebeeld het. 'n Algemene praktyk in oorlogvoering was, natuurlik, verkragting. Nie net van vrouens nie (bv. Numeri 31), maar ook mans (bv. Rigters 19). Dit het alles te doen gehad met mag. Ná 'n vyand verslaan was, was dit 'n prominente kulturele praktyk in die antieke wêreld om die opponent te verneder en te 'ont-man', deur die verslaande op die slagveld te verkrag as 'n teken van vernedering en oorheersing.
In ander kulture, soos die Grieke, was hierdie seksuele verbintenis gesien as 'n soort inisiasie: waar seuns mans geword het en Spartaanse mans hulle kameraadskap versterk het met selfde-geslag omgang. Dit was nie die homoseksualiteit wat ons vandag ken nie: die mans was, vir alle doeleindes, 'straight'. Dit was gesien as 'n tipe van 'n hegtheids ervaring tussen mans, terwyl hulle nie by die huis en hul vrouens was nie. 'n Ander soortgelyke algemene praktyk onder die Romeine, was dat baie jonger seuns nie toegang gehad het tot tradisionele onderrig nie. Om te kon lees en skryf was beperk tot sekere groepe van die adelikheid wat privaat tutors vir hul kinders kon bekostig. Dus was geletterdheid 'n voorreg en yl gesaai onder die gepeupel. Hoe armer jy was, hoe skraler was die kans dat jy ooit geletterd sou kon word.
Gevolglik het baie ouers hulle jong seunskinders gestuur om in diens geneem te word deur Romeinse adelikes, wat nie net die kind (soms so jonk as twaalf jaar oud) betaal het vir die werk wat hy doen onder hom (as 'n werknemer) nie, maar ook baie keer misbruik gemaak het van jong seuns vir seks. Mens kan dit vandag interpreteer as 'n vorm van 'grooming' en pedofilie -en dis dié dat die bekende kerkhervormer: Martin Luther, in sy 1535 vertaling van die Bybel vanuit Latyn, spesifiek die oer-Duitse woord "knabenschander" gebruik het, in een van die vroegste Bybel vertalings in 'n leke-taal. Die antieke terme wat meeste moderne Bybels as "homoseksualiteit" vertaal, word letterlik vertaal as "om 'n kind te skend."
Nog 'n ander voorbeeld in die gesprek was die wydverspreide praktyk van prostitusie in die antieke wêreld. Spesifiek in die Bybel, in Korinte, was Griekeland bekend vir hul vrugbaarheidsfeeste toegewy aan allerlei gode soos Bacchus, Pan, Afrodite en Dionisius. In die laasgenoemde geval, was een van die grootste tempels aan die Griekse godin van skoonheid, Afrodite, propvol prostitute. Sommiges vrouens, maar daar was jong mans ook. As gevolg van die feit dat Korinte 'n hawestad was, het baie van die skepers 'n behoefte gehad om van hul drange ontslae te raak. Sommiges het die geselskap van jong mans geniet, terwyl ander vroulike prostitute verkies het. Hierdie was alles normaal gewees, omdat niemand juis 'boe' of 'ba' daaroor gesê het nie. Dis eers later, met die koms van Rome en die Stoïciste ('n filosofiese denkskool), soos Marcus Aurelius, waar die etiese raamwerke rondom seks en seksualiteit geskuif het. Skielik was daar 'n bekommernis oor gesondheid en seksueel-oordraagbare siektes, asook vrae oor wat dit beteken om 'n gematigde en gebalanseerde lewe te lei (met betrekking tot alle soort tydverdrywe: kos inname, drank, seks, moraliteit, geleerdheid, ens.)
Hierdie kritiese voornemens was nie weens homoseksualiteit nie, maar omdat mense heengegaan het en allerhande diere en mense onbeheerst mee omgang gehad het. Ja, jy het reg gelees, diere ook. Dis dié dat jy in die Ou Testament sal raaklees van mense wat verhoed word om met diere te slaap, of hul buurman se vrou, en die lys gaan aan. Dit was 'n poging om die samelewing tot orde te roep, omdat mense alreeds weens die beperktheid van medisyne en wetenskap 'n baie kort lewensverwagting gehad het. Dis te danke aan die Stoïese filosowe waar dinge soos moraliteit en etiek hoegenaamd in die vroeë kerkvaders se woordeskat ontluik het. Dit het ook ontstaan in 'n samelewing waar seks vir voortplanting geprioritiseer was en waar byvrouens ("concubines") 'n algemeen aanvaarde praktyk was in die antieke wêreld. Seks vir voortplanting was uitlsuitlik geskik vir jou vrou, terwyl seks vir plesier was uitsluitlik vir byvrouens; dis dié dat Salomo (in die Bybel) so baie vrouens gehad het.
En dan praat ons nie eers oor die Isis-kultus waarvan daar in die Bybel gepraat word in Romeine nie, waar 'n spesifieke sekte in Rome die antieke Egiptiese godin van vrugbaarheid (Isis) aanbid het, deur deel te neem aan wilde orgies. Almal het met almal geslaap en daar was geen perke nie. Weereens, in die konteks van die dag waaruit hierdie vandaan kom, dui dit dat hierdie wille orgies ter aanbidding van heidense gode- en seksuele uitbuiting (prostitusie, verkragting, en seks slawerny) die eintlike kruks van die Bybel se seks etiek was. Nie die gays nie.
Dis wel vir my ongelooflik interessant hoe daar 'n vreeslike lawaai gemaak word oor selfdegeslag verhoudings, maar niemand praat van die liefdesband tussen Dawid en Jonathan wat in die Bybel verskyn nie. Niemand gooi 'n vloermoer oor egskeidings en mishandeling in heteroseksuele huwelike wat kinders lewenslank skaad nie. Dis net sodra die pride-vlag gewapper word, wat almal skielik onthou wat die Bybel sê oor "reg en verkeerd". Buitendien, hoekom is homoseksualiteit so onnatuurlik as ons dit in diere spesies ook opmerk? Leeus, Kameelperde, Olifante, Honde, Katte, Dolfyne, Pikkewyne. Selfdegeslag aangetrokkenheid is 'n natuurlike verskynsel van natuurlike seleksie; die natuur se eie vorm van bevolkings regulasie.
So, die volgende keer wat jy besluit om jou slimfoon uit te pluk en iemand te beskuldig van allerhande sonde: doen jouself 'n guns en evalueer waar jy in jou eie heteroseksuele slaapkamer die bogenoemde antieke Bybelse regulasies oortree: is jy geskei? Het jy jou kinders binne- of buite die huwelik verwek? Het jy seks slegs vir voortplanting? Kyk jy pornografie? Kyk jy met wellus na ander mans/vrouens? Het jy al ooit jou buurman se vrou/man begeer? Het jy jou man/vrou al verneuk? En die lys gaan aan... Jy is beslis nie hierdie perfekte lelie-blank heilige nie. Sorg eers dat jy perfek is voor jy allerhande mense van sonde beskuldig, anders is jy net skynheilig. Dit herinner my aan die opmerking van Brian May vroëer: as jy in die publiek 'n preuts is, maar in privaat jouself pervers gedra, dan lieg jy vir jouself en ander. En dis 'n groter sonde om vir jouself te lieg oor jou eie tekort aan deugdigheid, terwyl jy ander mense se lewenskeuses veroordeel.
Gelukkige pride-maand! Mag dit vir al die skynheilige huigelaars 'n vreeslike ongemaklike maand wees en mag ál jou perverse geraamtes wat jy so vir ander probeer wegsteek uit die kas tuimel...
Vir meer inligting, beveel ek ten sterkste Michel Foucault se "History of Sexuality" aan. Ek verskaf 'n opsomming van elkeen van sy volumes in my doktorale tesis, hoofstuk 2: bl. 100-120. As jy nie graag die leeswerk wil aanpak nie, beveel ek vriende van my in Amerika se dokumentêr: 1946 The Mistranslation that Shifted a Culture sterk aan! Wat die laasgenoemde betref, sal jy nie 'n beter bron oor hierdie onderwerp vind nie.
Ná aanleiding van 'n onlangse plasing oor Paasfees op Nagkantoor, het ek onlangs weer die fassinerende navorsing oor die historiese Jesus herdontdek. Vir eeue lank probeer navorsers, in die teologie -en godsdiens geleerdheid, die noodsaaklike, maar verbasend onbestendige bronne versoen wat blykbaar die gebeure van Jesus se lewe en dood weergee. Die belangrikste (wat ons het) is natuurlik die vier Evangelies, wat in Koiné Grieks geskryf is sowat 40 tot 60 jaar nadat die Kruisiging na bewering plaasgevind het. Dit is iewers vêr buite Jerusalem af saamgestel, in 'n taal wat Jesus en sy dissipels nie sou geken het nie, deur skrywers wat nie ooggetuies kon gewees het nie. Steeds, bly die evangelies (en uiteraard die Bybel) 'n dokument wat misverstaan word en waninterpreteer word vir politiese -en selfsugtige ideologieë wat verdeeldheid bevorder.
Vir my is die Evangelies 'n samekoms van politiek, legende en propaganda, waaronder 'n kern van kultuur-spesifieke mondelinge oordrag en gedeelde antieke skriftradisies opspoorbaar bly. Die mees onwaarskynlike Evangelieverhale glo ek nie is daar om 'n universiele waarheid te verkondig nie. Histories gesproke, dien hulle gesamentlik 'n doel om 'n gebroke verhaal te lap – deur bekende motiewe en mites vanuit die antieke nabye-Ooste te gebruik, om teenstrydighede in die samelewing uit te stryk waarmee gelowiges van die begin af gesukkel het. Jesus is dus waarskynlik die mees veelbesproke figuur in menseheugenis. Hy word nie net in die Bybel genoem nie, maar ook in die Qur’an. 187 kere oor 93 verse. Die Qur’an erken nou wel nie Jesus se godheid nie, en beweer dat hy nie gekruisig is nie, maar dat Allah hom gespaar het; deur iemand te kruisig wat soos hy lyk om die Romeine te mislei Surah An-Nisa (4:157-158), Surah Ali 'Imran (3:55) en Surah Al-Ma'idah (5:110).
Daar is ook verskeie mites wat beweer Jesus het in Asiese lande besoek afgelê en daar gewoon. Daar is mites wat beweer Jesus het Tibet en Indië besoek om Boeddhisme en Hindoeïsme te bestudeer. Selfs Brittanje (Glastonbury en Cornwall) vir besigheid, waar hy uiteindelik onder die Druide studeer het. Ander legendes beweer dat Jesus die kruisiging oorleef het en na 'n klein dorpie in Japan, naamlik Shingo, getrek het. Volgens die Mormone het Jesus na die Amerikas verhuis ná sy kruisiging en selfs Frankryk saam met Maria Magdalena! Alhoewel hierdie idees wydverspreid is op vreemde YouTube en TikTok kort videos, is die historiese waarde (en waarskynlikheid) van al hierdie mites en legendes (om die persoon Jesus se doen-en-lates te verstaan), uiters beperk. Daar is geen historiese bewyse van Jesus buite Galilea en Judea nie. Dis dié dat navorsers en historici wyd uiteenlopende posisies oor die Jesus-figuur het. In hierdie skrywe som ek ‘n paar akademiese denkrigtings oor die historiese Jesus vraagstuk op…
Ek wil wel byvoorbaat noem: Jesus was nie wit nie. Jesus was nie Afrikaans nie. Jesus was nie 'n Christen nie. Jesus het nie 'n Bybel gehad, of 'n kerk nie. Hy het nie omgegee oor ras, seksualiteit, geslag, kultuur, geloof, of herkoms nie. Hy was baie dinge, maar hy is nie wat die moderne Christendom hom tot verhef nie. Ek dink nie eers hy het ooit bedoel of beplan om god te wees nie. Dit is duidelik aan die hand van 'n paar denkers wie ek graag volg en wie se sentimente ek hier uitlig:
KAMP 1: DR RICHARD CARRIER (JESUS AS MITOLOGIESE FIGUUR)
Richard Carrier is 'n Amerikaanse historikus en skrywer wat veral bekend is as die wêreld se voorste akademikus wat die "Jesus Mythicism"-teorie bevorder. Hy het 'n doktorsgraad in antieke geskiedenis van die Columbia Universiteit.
Die mees algemeen verwysde kamp (wat Emwee deurgaans toon) beweer Jesus was ‘n mite ("Jesus-mitisisme"): ouens soos dr Richard Carrier sê dat Jesus ‘n selestiële mite was, wat later ‘n historiese persoon geword het. Carrier noem dat die vroeë Christendom nie geglo het Jesus was ‘n mens wat die aarde bewandel het nie. Eerder dat hy ‘n vooraf bestaande selestiële figuur was (soos ‘n engel of ‘n goddelike wesen). Carrier se perspektiewe is gegrond op die Pauliniese geskrifte en die Evangelies. Sy hooftesis is dat die evangelies deur ‘n proses van euhemerisasie gegaan het, waar die vroeë Christelike persepsies oor Jesus gegrond is in herwinde (bestaande) antieke mites en allegorie tradisies in die antieke nabye-Ooste. Daarom sluit Carrier Jesus in as gelykstaande aan mitiese figure soos Oedipus, Herkules en Romulus.
Carrier basseer sy kritiek hoofsaaklik op die Pauliniese geskrifte, waar Paulus nie die evangelies se narratief steun deur te praat van Jesus se vroeëre aardse bediening nie. Paulus se uitgangsput steun hoofsaaklik op die voorpogestelde idee dat Jesus gekruisig is en opgestaan het vir die mens se inherente sondige natuur. Carrier noem dat Paulus se sienswyses verleën uit geykte mites in ander godsdienstradisies en persoonlike onthullings vanuit die Ou Testament (soos Moses by die tent van Ontmoeting en Elia met die Engel wat aan hom verskyn het). Teen hierdie agtergrond, is Paulus se eie hervertelling van Jesus die van ‘n goddelike wesen, eerder as ‘n historiese figuur. Saam met ander kritiek bekragtig Carrier sy sentimente op grond van die Bayes-teorie. Carrier het wiskundig en statisties (op grond van 22 karaktertrekke wat Jesus met ander mitologiese figure deel) bereken dat die waarskynlikheid van Jesus as ‘n historiese figuur 1 in 12,000 is en dus ‘n 33% kans (op grond van historiese bewyse) dat Jesus bestaan het.
Carrier en sy eweknieë se persepsies is deeglik en daar is etlike waarhede (m.b.t. allegorie en mitologie) wat teenwoordig is in die tweede-eeuse Christendom se persepsies en die evangelies se propagandistiese hervertellings van Jesus as “die Seun van god” en “gebore uit ‘n maagd”. Helaas is ouens soos Carrier se “mitiese Christus” posisie, nie ‘n algemeen aanvaarde tesis nie. Dit bly ‘n minderheids standpunt en reflekteer nie die breër historiese konsensus nie.
KAMP 2: DR BART EHRMAN (JESUS AS APOKALIPTIESE JOODSE PROFEET)
Bart Ehrman is een van die wêreld se mees bekende en invloedryke Nuwe-Testamentiese geleerdes. Hy is 'n professor aan die Universiteit van Noord-Carolina en 'n kenner van tekstuele kritiek (die studie van hoe antieke manuskripte verander het).
‘n Ander meer prominente navorser soos dr Bart Ehrman, neem weer die hoofstroom posisie en redeneer dat Jesus van Nasaret ‘n historiese figuur was. Dis wel later wat Jesus ‘n Apokaliptiese Joodse profeet geword het wat geglo het die wêreld word oorheers deur bose magte. Ehrman grond sy perspektief op die evangelies, wat gesamentlik van ‘n verskeidenheid onafhanklike skriftradisies en bronne gebruik gemaak het. Die bronne staan bekend as “Q (Quelle)”, “L (Leke/Lukas)”, en “M (Markus/Matteus)” waar die sinoptiese evangelies (Markus, Lukas en Matteus) ook van mekaar gekopieër het of dieselfde skriftradisies en bronne geraadpleeg het.
Die historiese betroubaarheid van sommige evangelies word egter steeds betwis (bv. Markus se betroubaarheid is slegs tot en met Hoofstuk 14), ten spyte van hulle ooreenstemmings oor sekere gebeure. Daarmee saam wend Ehrman, Paulus se briewe –en etlike historiese opmerkings oor Jesus deur historici soos Josefus, Plinius, Tacitus en Suetonius aan om te steun dat Jesus as ‘n historiese figuur gereken word. Weereens, is die fynere besonderhede oor die aard en persoon van Jesus (saam met kern gebeure in die Bybel) ‘n hoogs onduidelike raaisel en word betwis onder geleerdes. Daar is wel algemene konsensus dat sekere dinge wèl moontlik historiese gebeure was (nl. die kruisiging, Jesus se tempelbesoeke, sy berg prediking, sy inhegtenisneming, en sy geboorte). Maar ook sodra jy in die fyner besonderhede delf, word dinge minder duidelik en die feite vervaag.
Daarom is Jesus kwansuise opstanding uit die dood, sy wonderwerke, die tempelskeuring, sy woorde aan die kruis; hoe lank hy gekruisig was en wie eerste by die graf aangekom het en wie - wat gesien het, histories onder verdenking. Ehrman beweer dat diegene wat Jesus “gesien” het ná sy dood, het gely aan rou-geïnduseerde hallusinasies, of soortgelyke sielkundige fenomene. Dr Ernest van Eck (voormalige Nuwe Testamentikus aan die Universiteit van Pretoria) beaam hierdie sentiment aan die hand van Gerd Lüdemann wat dit "massa-psigologie" en "massa-ekstase" genoem het. Dit is dus histories subjektief. Wonderwerke, maagdelike geboortes, transmutasie, en opstanding uit die dood is nie histories-waarskynlike gebeure nie, maar teologiese hervertellings en kan dus nie bewys word nie.
Ehrman noem ook dat Jesus nooit homself gereken het as god nie; ‘n standpunt wat ook gedeel word deur dr Peter Nagel van Stellenbosch Universiteit in sy ontleding van die Griekse woord θεος (“god”); waar hy redeneer dat Jesus as ‘n “theos”, nie kwalifiseer onder die vroeë Christelike verstaan van die woord nie. Ehrman voer ook ‘n soortgelyke standpunt aan, maar grond dit in die Ou Testamentiese Joodse tradisie van ‘n apokaliptiese messiaanse figuur. Die Jode het geglo dat ‘n messias nie ‘n gekruisigde martelaar sou wees nie, maar (soos in Islam ook) dat hy ‘n militêre stryder sal wees wat met die hemel se engele as ‘n selestiële weermag agter hom sy volk sal kom bevry. Dit val onder eskatologie.
Verder sê Ehrman dat Jesus se verwysing na ‘n koninkryk nie praat van ‘n geestelike hiernamaals (of ‘n spirituele bewussyn nie), maar ‘n aardse, politiese bestel: waar armoede, lyding, siekte en onderdrukking tot niet sal gaan. En dat Jesus saam met sy twaalf dissipels daaroor sou heers. Hierdie bestel sou bewerkstellig word deur die omverwerping van die korrupte Romeinse regering, deur ‘n kosmiese regter (wie Jesus die “Seun van die Mens” genoem het). Daarom, beweer Ehrman, dat Jesus se kruisdood ‘n politiese teregstelling was waar Jesus nie doodgemaak is weens beweerde godslastering nie, maar sy poging tot hoogverraad. Jesus was gesien as ‘n politiese opruier wat ‘n bedreiging vir die Romeinse prefektuur ingehou het.
KAMP 3: DR ELAINE PAGELS (JESUS AS ESOTERIESE WYSHEIDSLEERAAR)
Elaine Pagels, née Hiesey, is 'n Amerikaanse godsdiens geskiedkundige. Sy is die Harrington Spear Paine Professor (Emeritus) by Princeton Universiteit. Pagels het in diepte navorsing oor Gnostiek en die vroëe Christendom gepubliseer. Sy is veral bekend vir haar baanbrekerswerk oor die Nag Hammadi-geskrifte en vroeë Christelike geskiedenis.
Pagels se sentiment is nie eenstemmig met Ehrman óf Carrier s'n nie, maar is meer gefokus op die diversiteit van die vroeë Jesus-beweging. Pagels beweer dat daar nie een enkele homogene Chistendom was nie, maar verskeie soorte (onderskeidelik Ortodoks en Gnosties). Pagels se hooffokus is wel op die “Gnostiese” beweging onder die tweede-eeuse Christendom. Sy beweer dat Jesus ‘n mistiese wysheidsleeraar was, wat gelykstaande aan figure soos Boeddha of Hermes Trismegistus was. Hy was dus ‘n esoteriese/mistiese verligtingsdenker wat ‘n geestelike (innerlike) herlewing in sy mense wou aanwakker. Waar hy mense bewus wou maak van geheime, innerlike, geestelike kennis. Pagels se sienswyses is hoofsaaklik gebasseer op die apokriewe Evangelie van Thomas (‘n versameling van 114 “geheimlike” leringe van Jesus, wat ontdek is in Egipte in 1945).
Sy beweer dat die sentimente daarin ouer is as die idees teenwoordig in die sinoptiese evangelies (Matteus, Markus, Lukas). Asook ander soos die Johannes evangelie; wat Pagels beweer geskrewe was as ‘n teenargument vir Thomas se evangelie. In haar standpunt redeneer Pagels dat Ortodokse (tradisionele) Christelike leringe ‘n wesenlike onderskeid tref tussen die skepper en die skepping. Sy verskil dus met beide Carrier en Ehrman en voer aan dat vroeë Gnostiese Christen-tekste ‘n meer gelykstellende sentiment handhaaf, waar die onderskeid eerder ‘n soort eenheid word. Dus, is die skeiding tussen die “sacred” en “profane”, soos Mircea Eliade dit noem, een en dieselfde ding. God is in jou, nie buite jou nie. Jy is god en god is jy. Die gnostieke tradisies, waarteen Paulus homself gereeld uitspreek in sy briewe as 'dwaalprofete', beweer dat elke persoon ‘n “heilige vonk” in hulle het; afkomstig van dieselfde bron waaruit Jesus vandaan kom. Pagels voer dus aan dat Jesus se hoofdoel was om mense bewus te maak van die heilige natuur wat in hulle is, eerder as die aanbidding van ‘n eksoteriese heiligheid.
KAMP 4: DR DAN MCCLELLAN (JESUS AS SOSIALE EN GODSDIENSTIGE HERVORMER)
Dan McClellan is 'n Bybel- en Godsdiens geleerde by die Universiteit van Exeter, wat bekendheid verwerf het vir sy vermoë om komplekse akademiese navorsing deur sosiale media (soos TikTok en YouTube) toeganklik te maak. Sy benadering word gedryf deur sy slagspreuk: "Data > Dogma." En dit dien ook as die naam van sy YouTube-podsending.
Laastens, is daar dr Dan McClellan; McClellan, ’n Bybelwetenskaplike wat bekend is vir sy "data bo dogma"-benadering, beskou die historiese Jesus deur ’n streng histories-kritiese lens. Hy onderskei duidelik tussen die "Jesus van geloof" (teologiese konstruksies) en die "historiese Jesus" (wat deur akademiese data ondersteun kan word). McClellan stem saam met die wetenskaplike konsensus dat ’n historiese Jesus waarskynlik bestaan het, en hy beskryf hom (nes Bart Ehrman) as ’n rondtrekkende apokaliptiese Joodse prediker van Galilea wat geglo het dat die einde van die era op hande was. McClellan beklemtoon gereeld dat daar geen direkte argeologiese bewyse vir Jesus se bestaan is nie, soos inskripsies of fisiese oorblyfsels. Hy merk wel egter op dat dit tipies is vir byna almal uit daardie tyd en streek wat nie aan die elite-klas behoort het nie.
McClellan voer aan dat ons nie met sekerheid kan weet watter spesifieke woorde in die Nuwe Testament werklik deur Jesus gesê is nie. Hy meen dat die meeste "woorde in rooi" waarskynlik latere wysigings of uitvindsels deur die Evangelieskrywers is om hul eie retoriese en teologiese doelwitte te dien. Vanuit ’n histories-kritiese perspektief argumenteer McClellan dat Jesus in die vroegste Nuwe-Testamentiese tekste nie as god uitgebeeld word in dieselfde sin as moderne Trinitariese teologie nie. Hy suggereer dat hoewel sommige skrywers Jesus as ’n goddelike wese of "draer van die Goddelike Naam" gesien het, die idee dat hy "een in wese met die Vader" is, ’n latere ontwikkeling was.
McClellan lewer ook gereeld kritiek op die "minimale feite"-argument wat dikwels deur Christelike apologete gebruik word. Hy wys daarop dat historiese konsensus oor ’n feit (soos die kruisiging) nie outomaties ’n bonatuurlike gevolgtrekking (soos die opstanding) binne ’n histories-waarskynlike raamwerk regverdig nie. Wat Dan McClellan se benadering uniek maak (veral op sosiale media), is sy fokus op kognitiewe wetenskap en die streng skeiding tussen die akademie (godsdiens geleerdheid) en belydenis (teologie). Anders as baie tradisionele geleerdes wat argumenteer dat Jesus óf God óf 'n mens was, gebruik McClellan die konsep van "Divine Agency". Hy stel voor dat Jesus in die vroegste tekste gesien word as iemand aan wie god se spesifieke magte en naam gedelegeer is, eerder as om "ontologies" (in wese) dieselfde as God te wees.
Om McClellan se spesifieke siening van Jesus se identiteit beter te verstaan, moet mens kyk na die historiese konteks waarin hy Jesus plaas. Hy probeer Jesus stroop van alle latere kerklike leerstellings (dogma) om te sien wat die historiese data oor hom sê. Hy deel Bart Ehrman se uitgangspunt oor die apokaliptiek: Jesus het geglo die huidige wêreldorde was sleg en korrup, dat god binnekort sou ingryp om die bose magte te vernietig. Dat die "koninkryk van God" op aarde gevestig sou word tydens Jesus se eie lewe of kort daarna. Asook wanneer Jesus van die "Seun van die Mens" gepraat het, het hy moontlik na 'n hemelse politiese figuur verwys wat hierdie oordeel sou bring, eerder as na homself in 'n goddelike sin.
Hy sien Jesus dus nie as iemand wat probeer het om die Jodedom te verlaat of te vernietig nie, maar eerder as iemand wat dit van binne af probeer hervorm het. McClellan wys daarop dat Jesus se boodskap oor die "Koninkryk van God" 'n direkte uitdaging was vir die bestaande sosiale orde. In 'n samelewing waar status, rykdom en reinheid alles bepaal het, het Jesus Mense aan die rand van die samelewing (armes, siekes, tollenaars) as die belangrikste burgers van God se koninkryk verklaar. Jesus se lering Geleer dat die "laastes die eerstes sal wees," het 'n radikale sosiale omkering voorgestel.
Jesus het nie die Joodse Wet (Tora) verwerp nie, maar hy het geveg oor die interpretasie daarvan. McClellan argumenteer dat Jesus se debatte met die Fariseërs tipies was van Joodse geleerdes van daardie tyd. Jesus se hervorming het gefokus op barmhartigheid en geregtigheid eerder as net die noukeurige nakoming van rituele en reëls (soos die Sabbat of koswette). Hy het ook voorgestel dat mense nie net deur die amptelike kanale (die priesters en die Tempel) toegang tot god se vergifnis en guns gehad het nie. Die belangrikste oomblik van Jesus as hervormer was sy optrede in die Tempel. Vir McClellan was dit nie net 'n godsdienstige protes nie, maar 'n sosio-ekonomiese een. Die Tempel was die ekonomiese hart van Judea en eur die tafels om te gooi en mense met swepe te slaan, het Jesus die korrupsie en uitbuiting van die armes deur die priesterlike klas aangeval. McClellan beklemtoon dat dit juis hierdie "hervormingsaksie" was wat die owerhede oortuig het dat hy doodgemaak moes word, omdat hy die stabiliteit van die status quo bedreig het.
SLOTSOM:
Elkeen van hierdie denkers verklap iets van die historiese Jesus: allegories, mitologies, apokalipties, misties en gnosties. Jesus was ‘n sosiaal-politiese vryheidsvegter teen Romeinse en Priestelike onderdrukking: ‘n verligte denker en doener wat mense wou bekragtig met self-bewustheid oor hul karakters en optredes. Sy fokus op insluiting van gemarignaliseerdes en kritiek teen die elites, was wat die heersende bestel bedreig het (beide polities en godsdienstig); en toe veroorsaak het dat hy as ‘n nederige skrynwerker/sosiale hervormer terregestel is. Wat hy gesê het, het verdrukte mense bemagtig in hulle onderdrukking. Jesus het 'n volk hoop gegee, daarom het hy ‘n mitologiese figuur geword as ‘n simbool van onsterflike hoop vir desperate randfigure – alles in een.
Sy uitgangspunte het nie mense aangemoedig om ‘n godsdienstigheid of rituele te ontwikkel nie. Hy het medemenslikheid probeer inspireer en self-bemagtiging probeer aanwakker. Sy beskerming van die verdruktes (armes, weduwees, weeskinders) en wending vir geregtigheid asook aanspreeklikheid teenoor die magtiges (politici, godsdiens leiers, en godsdienstiges) het hom ongewild gemaak. Sy oordeel was gereserveer vir onreg soos uitbuiting en selfsug, maar ook aanvaarding vir diegene wat die samelewing maklik verstoot (sekswerkers, vrouens, ander rasse -en jongmense). Jesus se bekende gelykenisse wou nie 'n geestelike herlewing skep nie, maar was bedoel om inslag te vind by ‘n ongeletterde -en onopgevoede samelewing wat nie kon lees of skryf nie.
Hy het nie kerke gebou, Bybels uitgedeel, evangeliseer, of lofliedere gesing nie. Hy wou hê mense moes beter wees, want hy het in elkeen se potensiaal geglo om ‘n beter wêreld te skep deur beter mense te wees. Jesus het homself nooit as 'n "Christen" gesien nie. Hy was 'n Jood wat binne sy eie kultuur en godsdiens probeer het om 'n etiese en apokaliptiese vernuwing teweeg te bring. Die idee dat hy 'n "nuwe godsdiens" gestig het wat die Jodedom vervang het, is 'n latere teologiese konstruksie deur die vroeë kerk, wat nie histories gegrond is nie. Hoe Jesus gevolglik vandag misbruik word vir hoofstroom Christelike aanbidding, kerkgeboue, sametrekke, evangelisasie, moralisering, indoktrinasie en politiese deug pronkery: is alles deel van dié a-historiese Christelike kultuur wat Jesus in ‘n afgod omskep het, eerder as 'n simbool vir sosiale geregtigheid.
Christene glo vandag die perfekte wêreld bestaan eers ná die dood in 'n hiernamaals en daarom hoef hulle nie daarop te let om ordentlike mense te wees nie. Ek blameer Paulus daarvoor, maar ook die wesenlike vroeë kerk wat wou muntslaan uit Jesus se nalatenskap. Nou sit ons met biljoene Christene wat eiegeregtigheid, aanbidding van Bybeldogma, rituele en uitverkorenheid bo medemenslikheid en sosiale geregtigheid prioritiseer...
"Die Duiwel is die beste vriend wat die kerk nog gehad het, want hy hou hulle nog al die jare in besigheid." - Anton LaVey (Stigter van die Church of Satan).
Is die wêreld besig om mal te word, of is dit net ek? Van al die belaglikhede wat tans aan die gebeur is: Pete Hegseth wat homself en twee ander VSA-amptenare in 'n KI-gegenereerde kort-video uitbeeld as Tempeliers; AfriForum wat met vroom gesigte vir Trump soebat om vir Fikile Mbalula te straf (eerder as Suid-Afrika), en Donald Trump wat gedurig maak of hy met die Iranese onderhandel vir 'n skietstilstand. Nou, is dit hoofnuus dat die Pous, Leo XIV, 'n spesiale beraad hou vir duiweluitdrywers. Dit nadat die Internasionale Vereging vir Duiweluitdrywers (AIE), hulle kommer uitgespreek het oor "stygende gevalle van Okkulties-verwante praktyke en geestelike versteurings".
Dié klomp fanatici het ’n verslag voorgelê aan die Pous oor die toenemende voorkoms van 'gevalle wat verband hou met okkultisme, esoterisme en Satanisme', asook die 'geestelike gevolge' wat hulle glo dit vir baie mense inhou, of so het die Katolieke Kerk se nuuskanaal berig. Tydens die vergadering het die Vereniging, die Pous bepleit om te verseker dat elke Katolieke kerk in die wêreld bemag word met een of meer opgeleide duiweluitdrywer-priesters. Vader Francesco Bamonte, ondervoorsitter van die AIE, het gesê dat die verontagsaming van hierdie bekommernisse, "baie gelowiges sonder ’n voldoende reaksie op ernstige geestelike lyding laat, wat hulle soms na ontoepaslike oplossings dryf."
Tydens die oudidiënsie, is die middeleeuse Guidelines for the Ministry of Exorcism ('n 300-bladsy hardeband teks) ook aan die Pous oorhandig; saam met ’n beeld van die Aartsengel Migael, vanaf die heiligdom van Monte Sant’Angelo,' soos EWTN Vatican berig. Die AIE, met sy hoofkwartiere in Rome, is boonop ook die hoofonderwerp van 'n 2023-fliek: The Pope’s Exorcist, waar Russell Crowe die hoofrol van Gabriel Amorth vertolk. Die beraad met die Pous is op 13 Maart gehou, maar wass Maandag vir die eerste keer aangemeld in nuuskanale.
Mens sou natuurlik dink dat sulke waansinnighede nie in 2026 meer 'n ding sou wees nie, maar helaas, hier sit ons...
Gevolglik dink ek dis nodig vir 'n bietjie "mythbusting."
Baie mense sal natuurlik onthou van die destydse "Satanic Panic" wat Suid-Afrika en groot dele van die wêreld (nl. Amerika, Australië en die Verenigde Koningkryk) op horings geneem het. Rodney Seale en kie het na skole toe gekom en langspeelplate van AC/DC agteruit gespeel, om versteekte duiwelse boodskappe te ontbloot. Daarna bid hulle en deel traktaatjies uit wat waarsku teen die gevare van Satanisme. Dokumentêre was op TV uitgesaai, waar ouens soos Kobus 'Donker' Jonker, die mite van "Okkulte misdaad" aanblaas. Vandag het ons Temu-huigelaars, soos Riaan Swiegelaar, wat muntslaan uit sameswerings staaltjies as 'n eks-Satanis wat Afrikaanse Christen-tannies boei.
Terugskouend erken navorsers wêreldwyd in die geskiedenis, media, sielkunde en godsdiens geleerdheid; dat hierdie persepsies maar net produkte van morele paniek was. 'n Wydverspreide neurose, ten einde van die twintigste-eeu, waar die samelewing 'n nuwe tydsgees ingetree het en die Duiwel (saam met swartes en kommuniste) was 'n wesenlike bedreiging vir volk en vaderland.
Die Sataniese-paniek was dus niks anders as 'aragnofobie' (vrees vir spinnekoppe) of 'koutaliafobie' (vrees vir lepels) nie. 'n Irrasionele vrees. Die enigste onderskeid wat egter hier getref kan word, is wel dat spinnekoppe en lepels bestaan. Baie gelowiges gaan waarskynlik vurig met my hieroor verskil en die holruggeryde rympie herhaal wat lui: "die grootste truuk wat die Duiwel nog getrek het, is om vir mense te oortuig dat hy nie bestaan nie." Hierdie (en ander grappies wat jy nie vir jou verligte vriende kan vertel nie) is die kernargument agter my standpunt. Dis irrasioneel en beuselagtig. Ons lewe nie meer in die Donker-eeue waar jy verkoues met gebottelde bok-poepe behandel, of sterk vrouens as hekse op brandstapels verbrand omdat hulle 'n moesie êrens het en verkies om siektes met kruie te behandel, eerder as met gebed nie.
Vandag het ons die wetenskap, waar empiriese bewyse geestelike verdagmakery vervang. Te danke aan psigiatrie is ons bewus van mense met skisofrenie, dissosiatiewe persoonlikheidsversteuring en allerhande ander sielkundige kondisies, soos uiteengesit en verduidelik in die DSM-5: dis nie demoniese besetenheid nie, dis jou brein. Ons weet ook, volgens seksuloë, dat seksualiteit op 'n spektrum bestaan en dat homoseksuele verhoudings nié abnormaal of onnatuurlik is nie. Veral siende dat seks vir plesier (buite voortplanting en die huwelik) nie 'n sonde is nie, maar 'n natuurlike biologiese behoefte (soos honger en dors) is. Selfs diere spyker vir plesier en niemand beskuldig hulle van duiwel-aanbiddery nie!
Verder, gesaghebbende navorsing van antropoloë -en genetici toon ook weer dat mense wat transgender is, ook nie meer afwykend of sielsiek is nie. Biologiese navorsing toon selfs ook dat geslagtelikheid en 'gender' twee verskillende (onafhanklike) dinge is, maar dat albei nie noodwendig 100% binêr is nie. Hierdie denke is deel van ons samelewing en ons aanvaar hulle as vanselfsprekend. Hulle is nie demonies of Satanies nie, want hulle bied geen gevaar vir kinders of gewone mense nie. So kan ons aangaan met 'n hele lys vol dinge: van swart boks-haarkleursel, tot die Goth-subkultuur, Heavy Metal en Feminisme. Die dae van dinge as "demonies" of "Satanies" brandmerk (net oor jy dit nie verstaan nie) is verby.
So, waarom is (oënskynlik) progressiewe Pouse soos Leo XIV besig om hierde ouens aandag te gee?
Een van die verskeie redes wat die Duiweluitdrywers as bekommernis aanvoer, is dat die kerk-banke leegloop en mense wegdraai van god af. Dat hulle toenemend hulleself begewe in 'sonde' en daarom draai hulle na esoteriese, of magiese praktyke, as oplossings. Hierdie is immers kerk-taal vir: "jongmense wil nie meer mis toe kom nie- en ons kerkbanke is vol oubene wat nie meer tiendes kan bekostig nie." Hulle is dus bekommerd dat die Katolieke kerk, nes die Britse monargie, 'n simboliese instelling word wat se bestaan aan die lewe gehou word deur hul weelderige seremonies en eeue-oue tradisies wat toeriste lok. Niemand stel regtig meer belang in die kerk as geheel nie, juis omdat veral die Katolieke kerk uitmodies is. Hy het soos sy ander tradisionele Christelike geloofsgenote, 'n dogmaties-uitgedateerde instelling geword. Boonop is die ouderdom van meeste kardinale itussen 70 en 80 jaar. Dis immers die geledere waaruit die Pous kom, sy eweknieë.
En terwyl 'n klomp duiweluitdrywers die wêreld beskuldig van 'n "toename in Satanisme"; kan dié klomp ooms nie die altaar seuntjies uitlos nie. Dis nou nie as of die Pous 'n spesiale beraad hou oor pedofiele onder die Vatikaan-amptenare en die breër Katolieke bisdom nie. Soos die Epstein-sage in Amerika, word skuldiges se skandale onder die mat ingevee. Die Katolieke kerk neem dit wel 'n stap verder en pos maar net die skuldige priester na 'n ander gemeente toe. Dan wonder hulle hoekom mense groener weivelde elders gaan soek? Daar is nie 'n toename in mense wat hulself begewe in "Sataniese sektes" (soos Biskop Karel Orlita and Vader Francesco Bamonte beweer het) nie, afhangende van wat bedoel word daarmee. Dis egter wel tipiese panieksaaiery deur 'n klomp verkramptes wat bang is dat hulle irrelevant word en binnekort regte werke moet gaan soek.
Die rykste kerk in die wêreld is besorg oor hulle geld-koffers en nou moet hulle met verskonings opkom om nuwe belangstelling in die kerk te kweek: hulle oplossing? Duiweluitdrywers! Volgens die Katolieke kánon, is dit nou nie soos die skouspelagtige Latyn-prewelende priesters wat jy in Hollywood-flieks sien nie, maar eerder 'n 'deernisvolle praktyk" en 'n integrale deel van die Katolieke sakramente. Hulle moet tog die arme skapies teen die 'brullende Leeu' van 'n Satan beskerm! Nie teen werklike probleme soos hongersnood en armoede, of doeltreffende bemiddelary in wêreld oorloë nie. Die Pous skryf net 'n toespraak in Latyn, terwyl hy die klomp kwaaddoeners op sy goue troon verdoem en dan is dit die hele internet vol, maar niemand hou op baklei nie. Dis mos goed genoeg!
Nouja toe. So kan hulle nie kla as gemeentes leegloop en hulle rûe op god draai nie. Dis wel makliker om die duiwel te blameer vir jou eie tekortkominge -en op uitgedateerde vrese te sinspeel om mense kerk toe te dryf. Dis tog waarmee die kerk al eeue goed is, aldan nie? As dit nie vir die Duiwel was nie, het selfs die rykste en mees populêre kerk in die wêreld, 'n stoflike relik geword. As ek die duiwel was, het ek my pond vleis kom eis!
Sela.
Dertig jaar gelede is Suid-Afrika se grondwet amptelik aangeneem en in die wetboeke ingeteken. Hierdie jaar November, sal dit amptelik drie dekades gelede wees, toe Nelson Mandela (in 1996) die wet aangekondig het. En steeds, ten spyte van ons land se uitdagings, bly dit een van die beste grondwette in menseheugenis. Een van die grootste voordele van die grondwet, was dat die kerk en staat van mekaar geskei is. Dat godsdiens in die publiek beoefen mag word, maar met sekere voorwaardes en op 'n vrye en gelyke basis, sonder dwang.
Tog, is my skrywe nie 'n regsgeding of 'n relaas oor die gereg nie. Nee. Dit gaan veels dieper as dit. Hierdie is eerder 'n stel kritiese vraagstukke waarmee ek worstel, wanneer dit kom by die (op-die-oog-af uitsluitende) konfessionele benaderinge van sekere universiteits teologiefakulteite, in ons land.
Dit klink seker dom om te vra: as god afwesig is in al die ander universiteit lesingsale, waarom is hy nog aanwesig in geesteswetenskap lesingsale? Waarom geniet Christenskap prioriteit bo ander godsdienste in dié publieke instellings? Is konfessionele teologiese fakulteite net besig met wetenskaplik-akademiese deugpronkery? Waarom (ná 30 jaar) het ons so min inklusiwiteit teenoor ander godsdienste wat nie Christonormatief is nie? Waar trek mens die lyn tussen fakulteite, kweekskole en bybelskole? Hierdie is die dinge waaroor ek gereeld wonder, maar soms te bang is om te uiter. Veral omdat ek bestaande ordes en heilige koeie gelyktydig onder verdenking plaas. Daarom het ek gedink ek wil hierdie wit Olifant(e) in die breekware winkel aandurf... Ek kan nie waarborg dat ek dit doeltreffend kan beantwoord nie, maar eerder dat ek dit hier laat as stof tot nadenke vir voortgaande gesprekke.
Noudiedag blaai ek rustig deur my Facebook-tydlyn, terwyl ek 'n breek vat van 'n navorsingsartikel waarmee ek besig was. Terwyl ek nog so blaai, beland 'n foto van die Universiteit van Pretoria Teologiefakulteit se amptelike akademiese opening; toevallig op my skerm. 'n Eenvoudige onindrukwekkende plasing met 'n foto van die spreker (Prof Dirk Human) in die Aula. Gepaart gaande is 'n kort byskrif met 'n skakel na 'n langer berig toe wat verslag doen: "Wat as Prediker, die Bybel se mees pessimistiese teks, veels eerder sy mees hoopvolste is?" lui die artikel se onderopskrif.
Prof. Human, die adjunkdekaan navorsing en nagraadse studies in die Fakulteit, het luidrugtig uit Prediker gelees met 'n boodskap van hoop en motivering vir beide die studente, akademici en ander bywoners. Dit is die eerste jaar wat ek dit nie (in persoon) meemaak nie, nadat ek my Doktorsgraad afgehandel het in 2024. Die feit dat daar steeds slegs uit die Bybel gelees word, het my wel tog (soos verskeie kere al vantevore) met ongemak gelaat. Dis die soort ongemak waaroor ek nog altyd op my tong moes byt, anders ontstel ek die kerk (soos ek laasjaar het, ná ek drie weke aaneen sensasioneel in Rapport se Sondag-koerant verskyn het, oor ek publiek uitgevaar het teen Ernst Roets). Om nie te praat van my DailyMaverick opiniestuk oor Charlie Kirk in Oktober 2025 nie. Ek dink my senior kollegas ervaar steeds angs wanneer hulle elke keer my naam êrens lees of hoor; weens al die golwe wat ek al gemaak het in die engeltjie fabriek. Ek skei immers eerstejaars en akademici soos Moses met die rooisee, weens my aweregse uitgesprokenheid. Ek troos my wel daaraan dat ek nie 'n Ferdie Mulder is nie.
Dit daar gelaat. Terwyl ek myself verkyk aan hierdie storie op Facebook; toe ek weer sien, het ek heel diplomaties en deurdag (in die kommentaar-afdeling); my misnoeë met die Teologiefakulteit se Christelike opening te kenne gegee. Ek onthou (in die verlede) die ongemaklike gesigsuitdrukkings by sommige van die Universiteitsbestuur, wat gelyk het of hulle onder dwang deur die langdradige liturgiese formaliteite moet wroeg. My ontsteltenis, moet ek myself in die rede val, is nie weens die droewige homeletiek nie. Eerder dat dit minder soos 'n openingseremonie voel en meer soos 'n kerkdiens uit die middeleeue. Dan staan jy. Dan sing jy. Dan lees iemand 'n Bybelvers. Dan herhaal jy een of ander kategisme (of credo); soms is dit 'n soort predik-en-gehoor antwoord homiletiese rympie. Dan staan jy en sing jy weer. Dan is daar 'n skuldbelydenis.
Dis as of 'n hele poespas kerkdenominasies se gewoontes in Afrikaans en Engels saamgegooi word en jy moet net kop hou en wakker bly. Jy kan dit nie verduidelik tensy jy self daar was nie.
Desnieteenstaande, waaraaan ek sedert 2017 se eeufeesvieringe, 'n kleintjiedood het: is die Christelike eksepsionalisme, terwyl die Fakulteit 'n naamverandering (as 'Fakulteit Teologie én Relegie) ondergaan het. Dit het destyds met groot feesviering, lof en lesings gepaart gegaan. Hoewel die naam al is wat oënskynlik verander het, nie die omgewings kultuur nie. Waarom anders dan, geniet die Bybel nogsteeds voorrang? Nie net die akademiese opening nie, maar vir alle teologiese fakulteit akademiese aangeleenthede. Wat van die Torah, die Koran, of die Bhagavid-Gita?
Ek weet van verskeie Moslems, Jode en Hindoes, wat by die fakulteit hul kwalifikasies behaal het. Behoort hulle nie ook ingesluit te word vir deelname aan hierdie belangrike aangeleentheid nie? Tensy ek dit mis het, is dit immers hoe ek die 'nuwe' fakluteitnaam en daaropvolgende beleid verstaan het. Dat die langtermyn vooruitsigte van die fakulteit (as beloftes tydens die eufeesverrigtinge in 2017) tog inklusiwiteit was/is en dat niemand weggewys sal word nie. Juis weens ons land se geskiedenis. Waarom anders dan oop hekke voor die gebou se ingang plant en dit aanneem as die eeufees simbool? Dit was die kern beweegrede agter die eeufees, dat die (simboliese) hekke nooit weer sal toemaak nie? Ja, ek is 'n voorbeeld (met my omstredenheid en al) dat die hekke nie toe is nie, maar die kultuur is een van Christonormatiwiteit en jy moet maar op jou tong byt, of uit die bus uitval. Ek het 'n Christen ingestap en ongelowig uitgestap, soos baie ander voor my...
Drie dekades sedert die grondwet en die honderd jaar van die Teologiefakulteit se bestaan: het belangehbbendes daar (myns insiens) sedertien nie doeltreffende stappe geneem tot insluiting en inter-godsdienstige diversiteit van nie-hoofstroom uitgangspunte, godsdiens rigtings, of lektuur nie. Binne die akademiese sfeer is daar natuurlik vrydenkers, ja. Tog blyk dit as of mense dit nie hardop wil/kan sê nie. En in my amper-dekade van betrokkenheid, gedurende my eie studies (B, M en D); moes ek al menigmale die ooglopende persepsie (vanaf buitestaanders) oor die Teologie/Godsdiensstudies rigting, as net 'n "glorified Bybelskool" weerlê. As mens Teologie (of godsdiens) akademies gaan studeer as vakrigting, dan neem mense sommer aan jy gaan swot om 'n Dominee te word. Dat jy die kerk-pad stap en maar net nog 'n skaapherder uit die engeltjie-fabriek uitstap en agter 'n kansel in, is 'n algemene persepsie.
Terwyl dit die norm is, is dit beslis nie die standaard nie! Veral nie 'n akademiese fakulteit wat homself trotseer op die fasilitering van kritiese teologieë, wêreldbeelde -en 'n streng akademiese grondslag nie. Suid-Afrika is nie Amerika: soos in die geval met Samantha Fulnecky, waar jy die Bybel uitsluitlik as bronverwysing in die Universiteitsklas kan gebruik, en dan jou lektor afgedank kry oor hulle jou summier druip nie. Jy antwoord nie vraestelle met: "want Johannes 3:16 sê so..." of "want Adam en Eva het..." nie. Dis nie 'n Kweekskool, soos die South African Theological Seminary (SATS) -of Afrikaner kerklike Bybelskole, soos Akademia of Aros nie. Dis 'n Universiteits fakulteit. - Of is dit...?
Histories gesproke, is Suid-Afrika se teologie fakulteite almal kompleks. Sommiges het begin as kweekskole, ander (soos in UP se geval) het met opset as 'n fakulteit begin. Ek dink nie soseer dit het meer 'n wesenlike invloed op die aard en karakter van die onderskeie instellings nie. Wat wel, dink ek, 'n invloed gehad het (en tot 'n mate steeds het); is die kultuur van destydse teolood Dominees, wat belangrike rolle gespeel het, tydens die geboorte van apartheid.
Asook die fundering van rasse segregasie beleide op grond van die Bybel. Nou, sonder om anakronistiese aannames te maak en deurslaggewende parallelle oor vandag se teologie instellings te trek: is my punt bloot dat die einste fakulteit, wat veral 'n formatiewe rol gespeel het in die vorming van apartheid, besig om 'n (apartheid-era?) godsdiens kultuur van ekseptionalisme voort te sit, bedek onder 'n sluier van integrasie. Beide Pretoria en Stellenbosch se teologie fakulteite het immers prominente lede van die Nasionale Party opgelewer: ouens soos (onder andere) E.P. Groenewald, J.G. Strydom (Pretoria), asook D.F. Malan, H.F. Verwoerd (Stellenbosch).
Beide instellings het beslis handomkeer verander sedertdien - dis verseker! Dit voel egter steeds of die instelling voortdurend ideologies-godsdienstig vashaak, by 'n uitgedateerde konfessionele bestel wat uit ritme is met ander wêreldklas instellings buite Suid-Afrika. Predikante, agter kansels, wat formeel uit die Bybel lees, met een of twee studente van die Huiskomitee wat beurte maak om 'n versie te lees tydens die akademiese opening, is ietwat oudedoos as jy my vra. Wanneer verskyn die progressie van die oop hekke dan? Die befaamde krities-akademiese grondslag? Ander Universiteite in ons land bemark en promoveer tradisionele Afrika-godsdienste as voorgraadse vakkeuses.
Ander bied weer Arabies (saam met Grieks, Hebreeus en Latyn) as antieke tale aan, gesamentlik met Islamitiese studies en Koran-eksegese! Een van my mede-studente ('n gelowige Hindoe), wat destyds saam met my begin swot het op voorgraadse vlak: het sy PhD in die Hindoe-godsdiens by UP gedoen. 'n Ander pél, wat saam met my sy PhD behaal het, is 'n Joodse Rabbi. Dié se nagraadse studies word verwelkom, want dis ten bate van die fakulteit; maar hul godsdiens identiteite geniet nie gelyke verteenwoordiging by die akademiese spog geleenthede nie. Relegiewetenskappe by UP het een omvangrykende departement vir ál die ander nie-Christelike godsdienste. Terwyl die Christelike geloof 'n departement vir byna elke module het: Ou Testament, Nuwe Testament, Dogmatiek, Sendingwetenskap, Homeletiek, Christelike Etiek, Kerkgeskiedenis en die lys gaan aan.
Is dit dan nogsteeds 'n fakulteit? Streng gesproke, dalk meer 'n kweekskool. Altans, tot die NG Kerk se frustrasie, word jy nie gedwing om 'n lidmaat van die kerk te word as jy studeer nie. Solank jy net nie die kuratorium se bootjie roer nie, dan kan jy maak wat jy wil.
Met dit gesê, van wat ek van die 2017 eufees vooruitsigte verstaan het, is dat ander godsdienste (en godsdiensloses) in ons land, 'n setel gaan kry tydens die akademiese openingseremonie (onder andere geleenthede). Om teologie of relegie te studeer, beteken nie jy moet outomaties in god of gode glo nie: hulle moedig jou juis aan om oopkop te dink en te wees, maar binne die veilige grense van jou studies. As jou identiteit enigiets anders as Christen is, moet jy maar tevrede wees dat oop hekke meer deugpronk as die de fakto kultuur is. Daarom word Prediker bo Sahih al-Bukhari (byvoorbeeld) geprioritiseer. Jy sal dus nie 'n Imam, Rabbi of 'n Tempel priester sien deelneem aan die fakulteit opening en ander geleenthede (wat veronderstel is om intergodsdienstig te wees) nie.
Dis 'n fakulteit wat hom dus gedra soos 'n kweekskool. En met die fakulteit se opkomende 110de bestaansjaar volgende jaar in 2027, sal dit mettertyd verbeter? Ek hoop so... - Suid-Afrikaanse akademiese instellings kan nie akademies wêreldklas wees en konfessioneel behoudend bly nie. Of jy (as fakulteit) bly eksklusief konfessioneel (soos wat Bybelskole en Kweekskole doen) en wend jou vir Christelike kerk opleiding; terwyl jy akademiese tydgenootlikheid prysgee. Of, jy kies om kritiese teologieë te bemoedig; ter wille van inter-godsdienstige (en nie-godsdienstige) samehorigheid, en jy vergeet van eng konfessionele standpunte. Jy pas aan, of jy sterf uit.
Teen die tempo wat die geesteswetenskappe wêreldwyd sneuwel, sou my voorstel wees dat universiteite oor die algemeen, hulself moet wend tot groter diversiteit. Dit is die toekoms...
Vir verdere leesstof:
Kontak Dr Tristán Kapp direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.