Daar is skrywers wat stories uitdink, en dan is daar skrywers soos Elise Bishop wat die lewe só eerlik en menslik vertel dat dit soos fiksie lees.
Elise is op 12 Junie 1952 in Graaff-Reinet gebore en het haar grootwordjare in dié historiese Karoodorp deurgebring. Dit is juis hierdie wêreld – met sy mense, sy eienaardighede, sy humor en sy onvervangbare streektaal – wat later die hart van haar skryfwerk sou word. Hoewel sy nooit formele opleiding as skrywer ontvang het nie, ontwikkel sy 'n besondere vertelstem wat lesers onmiddellik herken: warm, nostalgies, eerlik en deurdrenk van menslikheid.
Vir baie jare het Elise 'n loopbaan in die bankwese gevolg en uiteindelik as kredietbestuurder afgetree. Ná haar aftrede het sy haar liefde vir herinneringe, geskiedenis en stories begin neerskryf – dikwels in Graaffrikaans, die unieke mengsel van Afrikaans en Engels waarmee geslagte Graaff-Reinetters mekaar aangespreek het. Haar essays en vertellings het 'n groot leserspubliek opgebou en het haar gevestig as een van die belangrikste bewaarders van die dorp se kultuurerfenis.
In 2022 verskyn haar outobiografie Twee lewens, 'n boek wat wyd aandag trek omdat dit met buitengewone openhartigheid haar persoonlike reis vertel as een van Suid-Afrika se eerste transgender persone wat reeds in die 1970's openlik oor haar geslagsbevestiging gepraat het. Die boek is veel meer as 'n verhaal oor identiteit; dit is 'n verhaal oor moed, selfaanvaarding, liefde, verlies en die universele menslike behoefte om uiteindelik as jouself te kan leef. Die werk het groot waardering ontvang vir sy eerlikheid, literêre gehalte en historiese betekenis.
Maar miskien lê Elise se grootste talent daarin dat sy mense laat onthou. Haar memoirbundels, waaronder Sidestoep Stories, roep 'n wêreld op van stofstrate, stoepe, familie, buurvroue, skooldae en kleindorpse karakters wat andersins maklik deur die geskiedenis vergeet sou word. Sy skryf met humor, deernis en 'n fyn oog vir detail, sodat elke verhaal voel soos 'n gesprek met 'n geliefde familielid wat nog net een storie wil vertel voordat die son sak.
Vandag woon Elise in die Strand, waar sy steeds skryf, lees en gereeld bydraes publiseer oor herinneringe, geskiedenis, taal en die mense wat haar gevorm het. Haar werk herinner ons daaraan dat die grootste stories dikwels nie in paleise of parlemente afspeel nie, maar op gewone stoepe, in gewone huise en in die lewens van gewone mense.
Elise Bishop se werk is uiteindelik 'n viering van menswees – met al sy kompleksiteit, broosheid, humor en hoop.
Die kappertjies en kort narsingstingels in die glaspotjie op die tafeltjie langs haar stoel was al aan die doodgaan. Sy gaan dit maar moet uitgooi dink Lettie ingedagte en wonder of daar nog kappertjies blom. Die narsings is al verby. Die teekoppie is leeg. Aan haar voete lê gister se Die Burger half gelees. Jessie lê opgekrul en spin rustig op die ander stoel teen die rooi kussingtjie, salig onbewus van Lettie se onrus. Êrens suis die radio sag half van sy stasie af ongestoord.
Lettie staan op en struikel kombuis toe in haar vilt pantoffels en kamerjas met die leë koppie en tap nog water in die ketel. Sy skakel dit aan.
Ai, Vader tog… wat gaan San en Jannie sê? En Lenie?!
Lettie het haar gestaal vir hierdie dag; gedink sy sal dit kan hanteer. Sy móét – daar’s tog mos g’n salf aan te smeer nie. Maar Lenie sal wel fout vind, dis vir seker.
“Maar fok, Lenie, hy’s myne!” bulder sy vir die stomende ketel. Sy skrik eers vir haar vloek toe sy die kookwater by die teesakkie gooi.
Sy’t vroeg opgestaan daardie oggend. Fanie het gesê hy kom kry haar Saterdagoggend vir ‘n dag se uitstappie Waterfront toe teen nege en dat sy nie laat moet wees nie. Shame, hy’t hom altyd so ontferm oor haar: hy’t minstens een maal per maand haar vir ‘n Saterdag of Sondag uitgeneem om êrens te gaan eet of die dag by haar kom kuier. So ‘n dierbare kind vir wie sy so lief is.
Hy was net so lank en skraal nes sy pa, met die mooiste diep blou oë. Breë skouers en altyd bruingebrand. Altyd so netjies uitgevat en bedag met ‘n wye glimlag. En as hy haar nader trek en ‘n drukkie gee met sy arm om haar skouers het Lettie altyd beskerm en geliefd gevoel. So ‘n má gevoel! As hy tog net iemand in sy lewe kon kry. Sy was so bekommerd oor sy alleenheid. Haar oudste, Jannie, is ook ‘n goeie kind maar San en die kinders het sy tyd só in beslag geneem met hulle dinge en het haar maar baie minder begin besoek. San se ouers, Ben en Lenie, het boonop in Houtbaai gebly. Marie het in Pretoria gewerk, matrone by die privaat hospitaal. Maar Marie het darem gereeld gebel – dit was mos verniet oppie selfoon – en darem nou en dan vakansies huistoe gekom. Lettie was so maar baie aangewese op Fanie.
Sy was bly om Fanie te sien toe sy hom by die voorstoep ontvang het. Sy het hom met ‘n lang, stywe omhelsing gegroet. Fanie is ‘n geoktrooieerde rekenmeester en het met beurse by UCT studeer vir sy graad. Hy het toegewyd sy aandag aan sy studies bestee want beurse moes terugbetaal word en Barend het nie so baie nagelaat nie. Hy’t ‘n woonstel met ‘n maat gedeel naby die universiteit terwyl hy studeer het.
“Ai maar jy lyk goed, my seun! Kom in… lyk my mos jy eet darem gesond. Jou wange skoon rooi. Ek moet weer ‘n slag beskuit bak vir jou, maar ag, ek kom ook net nie daarby uit nie. Helpende Hand en die ACVV hou my so aan die gang...” rammel Lettie opgewonde voort terwyl Fanie die sekuriteitshek agter hom sluit.
“Kom in, kom sit…”.
“Dis darem goed om Mamma so opgewek te sien. Hoe lyk dit my jy sien uit na ons trippie Waterfront toe. Jou lanklaas só opgedress gesien.”
“Ja, omtrent hoor! Lyk ek darem reg?” vra sy. “Dis mos grand daar met al die uitlanders op toer ook en jy’t mos darem die oog….”
“Natuurlik, Mamma, mens kan jou altyd deur ‘n ring trek. Daai geblomde katoen rokkie met die lae hak sandale wat so mooi daarby pas is net die ding. Waar’s jou pêrels? Dit sal dit mooi afrond. Gaan sit gou om. En moenie vergeet om Aromatics te spuit nie, nè – ek ruik dan niks!”
“Jong, die goed is so duur ek spuit maar net liggies laat dit lank hou. Luister, kan ons tog Eersterivier se koers om ry? Ek het ‘n bossie blomme vir jou pa se graf. Dis mos op die pad Kaap toe.”
“Ja, sure, Mamma, daar’s mos niks wat ons jaag nie” antwoord Fanie.
“Ek het ‘n nat lappie in ‘n plastieksakkie om die kopsteen mee af te vee ook ingesit.”
“Barend Jakobus Venter geb 2.6.1953 oorlede 17.4 2020”. Lettie vee die kopsteen af met die nat lap en lê die blomme voor die “Rus in vrede.”
“Ja, rekent hy sou nou eers 71 gewees het as die kanker hom nie kom haal het nie,” sug Lettie.
“Ja, Pa was darem jonk, nè. Skaars 67…”
Die res van die rit is ietwat somber na hul by die begraafplaas weg is maar na Hospitaaldraai is Lettie opnuut opgewonde.
“Oe, kyk die Kaap! Mensdom maar hier is darem nou baie hoë geboue, nè. Kyk die hawe! Vaderland…is hulle almal kantore?” vra sy.
“Ja, Mamma, meestal kantore maar party het nog parkeer garages en meestal op die eerste twee of drie vloere is daar nog winkels en boutiques ook. Grand, hoor. My kantoor is by daai baie hoë een hier op linkerkant: Portside. Ek is op die derde vloer maar kyk ongelukkig nie see toe nie. Maar maak nie saak nie. Ek het ‘n mooi uitsig oor Tafelberg.”
Ek wil Mamma na ‘n mooi leerwinkel neem vandag en treat met ‘n mooi handsak. Hoe’s daai? Mamma s’n beginne bietjie afgeleef lyk sien ek. ‘n Mooi tan een wat Mamma by alles kan gebruik gaan net die ding wees.”
“Haai, Fanie, dis regtig nie nodig nie, jong. Hulle ruk dit dan deesdae sommer van jou arm af en hol weg. Ek dra nie eers my duur beursie in my handsak nie. Ek’s te bang dit word gesteel. Barend het nog vir my gekoop op Oudtshoorn. Van volstruisvel.”
“Nee wat, Mamma, dis wêreldsgoed. Geniet dit. Kyk net dat Mamma by die bank gewaarmerkte foto-afdrukke van jou ID, bestuurslisensie en bankkaarte laat maak. Dra dit eerder altyd in jou handsak en dan bêre Mamma die oorspronklikes by die huis.”
“Ja ek sal dit moet doen; moet sommer Woensdag as ek my hare laat doen.”
“Jitte ek was darem lanklaas hier, hoor. Die plek wemel proppers van al die mense en karre. Kyk al die taxi’s! Dis net advertensies en winkelname waar jy kyk!”
Eindelik is hulle by die onderdak garage in by die Waterfront. Fanie kry parkeerplek redelik naby die ingang en kyk dan dat sy ma veilig op die roltrap kom.
“Ek dink ons gaan eers ‘n koppie tee drink, Mamma. Ek’s nou dors. Het Mamma nie ook lus nie?”
“Ja, ek moet sê my keel is nogal droog! Dit sal lekker wees.”
Hul stap by die eerste koffiewinkel met gemaklike sitplekke in en bestel tee en vir elkeen ‘n stuk wortelkoek.
Lettie vergaap haar aan al die mense wat verbystap. Vreemde tale krys nes meeue en fancy uitrustings verskiet net waar sy kyk. Oral is die gedruis van stemme en kinders wat skree of huil. Een of twee keer het ‘n man ook vir Fanie gegroet met ‘n waai van die hand. Een het nogal donkerbrille opgehad en dit binnenshuis! Maar Lettie het eerder maar niks gesê nie.
“Lekker wortelkoek, nè. Is Mamma s’n okay? Ek’s al bietjie af van kaaskoek. Mens raak uitgeëet daaraan.”
“Heerlik, jong – te lekker. En mooi fyn koppies – nie daai dik café koppies nie. Tee smaak mos vir my lekkerder in sulke fyn koppies. ”
“Ja, dis mooi bone china – nogals Hutschenreuther, sien ek.”
“Nou kom ons gaan doen bietjie window shopping. Het Mamma nie iets nodig nie? Moet ons ingaan by Woolworths of êrens elders?”
“Nee wat, ek’s mos naby Muizenberg en Vishoek as ek iets nodig het. Maar kyk, dalk sien jy ‘n effekleur navy serp êrens in ‘n venster. Ek soek dit al so lank maar kry so iets nêrens nie. ”
Hulle stap teen ‘n gemaklike matige pas hand aan hand en bekyk al die mooi goed in die winkelvensters; talm nou en dan om iets langer te betrag. Eindelik is hulle waar Fanie wil wees. Fiorenzi – die leer plek.
“Kom, Mamma, ons gaan hier in. Dis die handsak winkel.”
Lettie is oorval deur die reuk van egte leer en die prag van al die uitgestalde sakke. Grotes, kleineres, alledaags, aand. Oe, en al die kleure! Hulle stap na die toonbank waar ‘n aantreklike en netjiese jong man hulle vriendelik begroet.
“Hi, Fanie…hoe’s dinge met jou? Pragtige dag, nè” sê hy.
“Nee, grand, thanks…maar ek wil jou voorstel… Mamma, dis nou Jacques du Preez. Ek ken hom al langer as twee jaar lank want ek doen die besigheid se boeke.” Hy draai na Jacques en stel sy ma voor: “Jacques, dis nou my geliefde Mamma, Lettie Venter…van wie ek so baie praat” en knipoog ongesiens.
“Ag, toe!” proes Lettie tussenin.
“Hallo Jacques, bly te kenne…” sê sy vriendelik en reik haar hand na hom wat hy sag opneem, ferm druk en optel na sy lippe vir ‘n sjarmante soentjie.
“Hallo, Mevrou – aangename kennis. Fanie vertel so baie.”
“Jong, ek het vandag my ma ‘n treat belowe in die Waterfront en wil vir haar graag ‘n dienlike tan handsak koop vir alledaagse gebruik. Iets casual maar ook deftig. Wat kan jy haar wys?”
Jacques kom om die toonbank en neem Lettie aan die elmboog. Hy stuur haar in die rigting van die uitstalling van alle tan handsakke.
“Kom gerus saam, ek wys mevrou… Hierdie is ‘n nuwe reeks wat onlangs ingekom het….” Hul gesels raak weg in Fanie se gedagtes. Hy drentel agterna, al hoe meer bewus van sy senuagtigheid.
Na ‘n ruk kom hul terug met twee handsakke en sit dit op die toonbank neer.
“Watter een dink jy, Fanie? Ek kannie besluit nie – maar die goed het nie pryse op nie. Ek weet nie wat kos dit nie!”
“Mamma moenie worry oor prys nie. Ek kry goeie afslag – onthou ek doen hulle boeke. Ek sou sê hierdie een…” en hy hou dit so uit in die rigting van Lettie terwyl hy agteruit staan om die prentjie te betrag. “Ja, ek dink dié een lyk beste by ma. Wat dink jy, Jacques? Hierdie ander een is té groot, nè.” Jacques stem saam.
“Ja, ek het ook so gedink, my hart, maar dis seker baie duur” fluister sy onderdeur na Fanie…dis nie gemerk….”
“Okay. Jacques, ons vat hierdie een!”
Na die betaling draai Jacques dit netjies in tissue papier toe en plaas die handsak in ‘n mooi winkelsak. Na ‘n vriendelike groet is hul die winkel uit. Fanie loer oor die skouer ongesiens terug na Jacques…en hul glimlag skalks vir mekaar. Jacques wys duim vashou in die lug.
By die restaurant waar hy plek bespreek het vir middagete, Die Ginga, bestel hy ‘n yskoue bottel Chenin Blanc met baie ys. Daar was lekker privaat tafeltjies en ‘n pragtige uitsig oor die hawe. Na hul wyn geskink is neem hy Lettie se hand styf in syne terwyl hy sy glas lig en tik teen hare. “Op my wonderlike Mamma wat ek so oneindig baie lief het…” sê hy ernstig.
Hy sit sy glas neer en neem dan Lettie se ander hand ook in syne. Hy kyk gevoelvol diep in haar heldergrys oë.
“Mamma, ek wil jou iets vertel... Ek hoop terdeë dat ek jou nie gaan skok of seermaak nie maar ek wil dit nie meer wegsteek nie… Mamma, ek’t té veel liefde en respek vir jou. Ek dink jy weet dit al maar ek wil Mamma verseker dis nie as gevolg van enigiets wat jy of Pappa ooit verkeerd gedoen het soos julle my grootgemaak het nie… Dis nie iets wat verander kan word deur dokters of dominees of psigiaters nie en dis nie iets om oor skaam te wees of minderwaardig te voel nie. Mamma, ek is gay. Jacques is meer as net my vriend.”
Lettie se oë rek. Maar nie van skok nie – eerder van volkome empatie met haar kind wat sy persoonlike lewe met haar deel. Haar vertrou.
“Aanvaar my net soos ek is, asseblief, Mamma. Moenie my verstoot nie… Mamma…! Asseblief…ek vra opreg…”.
‘n Traan begin rol uit haar regteroog toe sy sy hand harder vasklem en voel hoe die hoendervleis op haar arms rys.
“My skat, hoe sal of kan ek jou ooit verstoot? Jy’s my vlees en bloed, my kind. Jy sal altyd myne wees… ek’t jou lief. Oneindig baie. En daar’s baie ander mans wat so is… Ek lees mos ook koerant en kyk TV. Dis niks om voor skaam te wees nie, ek belowe.”
Toe biggel ‘n traan onbeskaamd by Fanie se wang ook af terwyl hy haar innig omhels en druk. Daarna lig albei weer tevrede en genoeglik hul glase.
L’ Chaim…!
“Dis g’n blêddie wonder die pad raak so sinkplaat nie. Kyk hoe jaag daai Koos Baraks,” moan Dries terwyl hy raserig koffie uit sy piering opslurp.
Kitty kyk op van waar sy op die agterstoep boontjies sit en afmaak op haar skoot. ”Janee, dis net stof waar jy kyk. Jy gaan met Dolf moet praat, Dries. Een van die dae moet die Afdelingsraad weer die pad kom skraap. En jy weet dis wanneer jy nie anderkant die pad in die Rooirant se kampe kan kom nie! Die krippe droog op en die soutlekke kry rysmiere.”
Dis nou ’n nuwe storie dié vandat Koos Strydom kom voorman word het vir Dolf op De Baraks, die buurplaas. Die ou man loop te swaar met sy groot pens en artritis en kan nie als meer behartig met die werkers nie.
Maar Koos kuier meer hier onder op Semelspoort by oorle’ Charlie Pruim se seun, Klein Charlie, as op De Baraks. Dié is mos ewe nou Charles Steinburg en g’n niks Klein Charlie Steynberg nie. Pure aanstellerig en praat so fancy mens kan sweer hy speel ’n lady op die screen in die bioscope. Kitty het dit self gesien met die laaste vendusie op Schaapkraal. Maar dit is als Madge se skuld wat die kind so opgepiep het. Die beker koffie so pinkie in die lug gehou. En toe’s Charlie Pruim vroeër as Madge vort. Maar sy’t hom ook nie lank oorleef nie, toe’s sy ook vort en Klein Charlie erf Semelspoort.
“Wat sou die twee mans dan nou so gesels, dink jy?” vra Kitty vir Dries. ”Koos is dan so pure man en Klein Charlie so fyntjies. Mens kan nie dink hulle kan boerderygoeters praat nie.”
“Maar Semelspoort bestaan elk geval net oor Totman en Hendrik Kruppelvoet alles weet. Hulle sê vir Charlie voor wat gedoen moet word,” antwoord Dries en sit sy leë koppie op die tafel. “Jy moet weer ’n slag beskuit bak. Hier’s dan niks in die spens nie.”
“Ja, jong, ek sal dat Donsie môre knie terwyl Maria die wasgoed inseep. Ek het darem karringmelk in die melkkamer se yskas.”
“Nou ja.” Dries staan op. “Ek gaan kyk hoe ver is hulle by die dorsmasjien. Die dônnerse olie is so duur deesdae.”
Die sifdeur slaan hard agter hom toe oor die nuwe spring en Kitty vloek ewe onheilsaam uit die Bybel uit van pure skrik. Sy dink by haarself sy moet Dawid weer kry om kraalmis in te werk in die groentebeddings. Die boontjies kan sterker wees. Sommer môre, wanneer hy klaar is met die separator en die roomkanne gewas is.
Donsie is net klaar met die knieëry van die beskuit en besig om bolle in die panne te pak en Dries is net weg na die boonste kamp, toe die swanky kar oor die raserige grid kom en by die rotstuin stilhou langs die draadhekkie wat oopmaak op die werf. Sy’t nooit eers die kar gehoor afkom in die peperboomlaning nie. Eers toe die deur toeklap, loer sy deur die kantgordyn.
“Ag, Vadertjie tog,” dink Kitty, “dis Charles Steinburg en kyk hoe lyk my hare . . .” Sy kam sommer so met haar vingers deur die boskasie terwyl sy gang toe loop dat sy by die sonstoep kan kom. Hy sien haar aankom en klop nie, maar maak sommer so met die groetery die sifdeur oop, kom druk haar saggies en blaas ’n soentjie in die lug weerskante van haar gesig!
“Hallo, Aunty Kitty, mensdom maar dit ruik keurig hier vanoggend. Bespeur ek beskuit aan die bak?” snuif hy ewe.
“Dis goed om jou te sien, jong, gaan dit goed?”
“Ja, thanks, maar ek kom vra jou vanoggend eintlik ’n baie groot guns. Mammie het hierdie tafeldoek gehekel vir die eetkamertafel maar dit nooit klaargemaak nie. Die randjie kort nog afwerking. Ag, please tog, Aunty Kitty, jy’t mos ’n prys gekry by die show vir jou grand handwerk, not so?”
Kitty sit soos ’n hond wie se kos afgevat is, maar terselfdertyd so verskrik soos ’n hoender wat haar eier nie hard genoeg kan druk nie.
Ná veel bespreking van patroon, hekelpengrootte en hoe wyd die rand moet wees, sê sy toe maar sy sal haar bes probeer. Maar hy gaan haar tyd moet gee. Dis fyn gare, wat sy net in die daglig sal kan sien om mee te werk.
Sy bied tee aan en hoop hy drink tog vinnig voor Dries terugkom van die skape af en iets aanstoterig kwytraak.
“Ag, dankie, Aunty Kitty, maar Koos kom vir supper en ek moet nog gaan kos maak, so I’ll be on my way. Verskoon my maar, asseblief.”
Dank die Vader Dries en Charlie het mekaar gemis, dink sy.
Dries het al die generator gaan afsit, toe is Koos nog nie verby De Baraks toe nie en Kitty weet, want sy’t nog g’n ligte op die pad gesien nie. Ag, nou wel, hy is mos ook nie Dolf se oppasser nie, net sy voorman.
Dis die dag wat die John Deere vasval by die grondwal van die dam by Charlie dat Koos op Slechtsgenoeg kom hulp vra. Dolf het nie ’n trekker nie, want hy saai nie lusern nie en boer net met skape en sybokke. Koos wis van Dries se Massey Ferguson.
Ewe teësinnig stem Dries in en neem vir Abraham saam om die hekke oop te maak. Dis ook nie lank nie, toe het Dries en Koos die trekker uit die moddersloot getrek. Koos is eintlik lekker sterk en dit lyk sy kop is reg aangeskroef, dag Dries,want hy’t kranig vasgevat om gou die trekker met Totman en Hendrik Kruppelvoet se armswaaiery uit getrek te kry. Charlie kom aangestap met ’n mandjie koffie en gemmerkoekies. Én gemmerbier vir die werksmense. Verbeel jou!
Dries doop sy koekies in die koffie en die manne kyk hoe hy die koffie uit die piering slurp. Hulle loer skelm vir mekaar terwyl Charlie ongesiens sy oë omdop.
“Ag, dankie, Uncle Dries vir jou hulp. Wat sou ek gedoen het sonder jou en Kosie?”
Dries luister die storie van “Kosie”, maar sê niks. Hy kyk net onderlangs na die man met sy khaki shorts en boots en wonder of hier nie dalk ’n skroef los is nie. Hy lyk tog soos ’n ordinêre boer, maar wat weet hy nou ook van sulke dinge af?
“Ag, nee wat,” sê Dries. “Dis als reg, jong. Dis mos maar wat buurmanskap beteken.” Met dié is hy en Abraham daar weg terwyl hy nog ’n slag oor Semelspoort se werf tuur. Dis darem baie anders as toe Charlie Pruim en Madge nog geleef het. Die hele werf is nou vol grasperke, rotstuine, fyntuin en onbekende soorte koorsbome en nog meer. Kom seker van die kwekery op Pearston. Alles afgekamp met witgeverfde heinings. Seker sodat die beeste op pad kraal toe nie aan iets vreet nie. Hy kan nie wag om vir Kitty dié stuk nuus te vertel nie. Hulle het geweet van die grasperk, maar nie van die blomtuin nie. Die grand afdraaiteken wat Semelspoort sê, is ook nuut. Spierwit.
“Dries, ek sê vir jou daar’s fout met daai kind,” sug Kitty toe sy hoor van die fyntuin. “En wat van die kant tafeldoek wat ek moet klaar maak vir hom? Watse mansmens worry oor so iets?”
“Ja nee, jong. Ek dink Charlie Pruim en Madge tol in hul grafte. Semelspoort sal nooit weer dieselfde wees nie.”
Ná April se Paasnaweek kom die uitnodiging. Totman gee met die Datsun-bakkie tot bo in die kloof aan die hele Groenkloof se mense uitnodigings af vir ’n skemerpartytjie op Semelspoort. Dis nou die eerste Saterdag van Mei. Ek gaan dit op die almanak agter die deur in die kombuis moet skryf, dink Kitty by haarself terwyl sy die potlood soek. Drag nogals cocktail dress. Wat sal dit nou wees? Die kaartjie sê niks. Kry die plaas ’n nuwe baas, of ’n nuwe naam, of wat?
Toe Kitty en Dries daar aankom, is die werf omtrent vol karre, gespit en gepolish en almal dressed to kill, sal Charles Steinburg seker sê. Op die grasperke is tafels en stoele en sambrele uitgepak, alles kreunend vol eetgoed en glase en bottels wyn en sjampanje in silwer skottels met ys. Koos is ook daar en wys parkering aan, terwyl Charlie met sy yslike strikdas almal verwelkom by die ingang van die opstal.
Dit is ’n lawaaierige lot in hul uitspattige uitrustings, maar almal is bly om mekaar te sien en nuus uit te ruil. Almal is natuurlik ewe nuuskierig om te weet wat die aankondiging gaan wees wat Charlie gaan maak. Die meeste mense dink hy gaan sê die plaas is verkoop. Mens kan mos nie sommer die naam verander nie.
Wag, hier slaat hy nou hard op die ou slaweklok.
“Naand, naand, almal, welkom! Ek’s só excited dat almal dit kon maak. En dat die weer gehou het, want autumn wys al sy blare. Baie welkom en ek trust almal sal lekker party en saam celebrate, want ek wou graag hê al my neighbours in Groenkloof moet gelyk hoor wat ek julle wil vertel. Maak jul glasies vol vir ’n heildronk! Kosie, waar’s myne? Kom staan jy ook hier . . .”
Almal vul gretig hul glase toe Charlie wegtrek met die skoknuus: “Everybody, Semelspoort het ’n nuwe baas!”
Die spanning in die lug is soos ’n vioolsnaar.
“’n Baie wonderlike nuwe baas - eintlik twéé base, moet ek sê, want ek en Koos Strydom is oor die Paasnaweek in die Baai wettig getroud!”
“Nee, nee, nee! Julle sing te trekkerig, klas! Onthou, dis ’n uitnodiging! Wees opgewonde … Ons moet darem vroliker klink… Kyk, daai eerste drie strofes is die uitnodiging, en dan weer ’n bietjie sagter vir die laaste twee wanneer die seuns saggies aansluit by die dogters en saam amper onheilspellend klink.Dís wat die klem moet gee. Verstaan? Groter blydskap.”
Rita gee ’n voorbeeld in haar klokhelder stem: “Kom alle getroues … ’n opgewonde uitnodiging … vrolik en vol vreugde … Loof daardie kindjie, ensovoorts. Sagter, maar dan sluit die seuns aan by die koortjie, harder . . . kom buig daar in aanbidding. Nou toe kom, ons probeer weer.”
Die meisies in die koor staan in rye op LO-bankies wat skuins gestapel is, hoër na agter waar die seuns staan. Stil en orent, want daar mag nie gegiggel word in juffrou Steyn se klas nie.
“Dankie, meneer Botha, kan jy weer vir ons insit, asseblief?”
Louis trek weer weg met die inleiding op die klavier en dan kom die koor met die eerste reël van die Kersliedjie. Rita hou tyd met ’n swaaiende arm en bewegings van haar hande.
Die koor klink nou meer opgewonde en uitnodigend. “Ja, dis mos nou beter … baie beter. En dan kom die seuns ook in met groter vreugde, nè? Onthou, dis die Kersverhaal. Die musiekaand moet mooi wees. Al julle ouers kom”
Die klok lui en hulle moet aanbeweeg na die volgende klas.
“Onthou, mense, oefen bietjie by die huis ook, hoor,” roep Rita agterna. ”Ons sien mekaar weer môre. Laaste periode, nè?”
Rita sluit by Louis aan en saam stap hulle personeelkamer toe. Albei het vry periodes dus gaan hulle saam tee drink.
“Jy’t darem ’n slag met die koor, hoor” sê Louis. “Hulle luister gewillig na jou.”
Johan van Wyk storm hulle byna onderstebo toe hy by die deur uitkom op pad na sy liggaamsopvoedingklas met die graad neges.
“Askies, man. Ek’t julle nie gesien nie,” sê hy verskonend toe hy by hulle verbyskuur in sy wit LO-klere. Hy’s darem mooi gebou en aantreklik, flits dit deur Rita se gedagte toe sy onwillekeurig sy liggaamsbou betrag. Maar Rita is sėlf pragtig met haar dun middeltjie en dik bos donker hare. Heelwat van die mans kry sterretjie-oë wanneer hulle haar skelmpies in die personeelkamer bekyk. So heel ongemerk. Mooi was mos nog nooit lelik nie. Hulle wonder hoekom sy nog nie getrou het nie.
“Melk vir jou?” vra sy vir Louis terwyl sy kookwater tap.
“Nee, swart, asseblief.”
“Ja, ek drink ook swart, maar met minder suiker, hoor. Ek sien jy’t ’n soettand!”
Ná pouse stap Rita na haar musiekkamer. Dis nou tyd vir Klaus Walters se musiekles, ’n baie talentvolle seun wat sy ingeskryf het vir die Unisa-eksamens. Hy gaan op musiekaand ook speel. Toe sy die deur oopmaak om vir Klaus te wag, merk sy onmiddekik die pienk roos wat in die middel van die klavier op die klawers lê. Waar kom dié vandaan, wonder sy. Dit lyk dan nes die rose wat in die vierkant groei. En geen nota daarby nie…
Sy voel verward. Braam Minnaar, wat vir haar ogies maak in die dorp, kan nie in die klaskamer kom nie, want die ingangshekke het sekuriteit. Juffrou Stander gee Latyn en is ietwat stuurs en het geen rede om dit te doen nie. Ben Naudé is baie ouer en Louis was heeltyd saam met haar by die koor oefening. Daar’s nie nóg ongetroudes op die personeel nie. Net Johan Van Wyk. Maar wat, sy beskou hom nie as iemand wat so iets sou doen nie. Hy’t nog nooit eers iemand na skoolfunksies saamgebring nie.
Klaus onderbreek haar gedagtes toe hy aan die deur klop.“Môre, juffrou.”
“Hallo, Klaus, kom maar in. Maak net die deur toe. Kom sit,” beduie sy na die stoel voor die klavier.
Die periode verloop vinnig, want hy’t al vier sy eksamenstukke sorgvuldig geoefen en sy’t net nodig gehad om na sy toonlere te luister. “Pragtig, Klaus, maar nie té vinnig nie. Onthou, wanneer jy by die tweede oktaaf terug draai moet jy dieselfde spoed behou. Ritme hê. Veral die mineurtoonlere.”
Die klok lui.
Terwyl sy wag vir haar volgende student, loer sy ingedagte na die roos. Sy het dit in haar waterglas gesit. Haar gedagtes dwaal. Dit sal darem sekerlik nie Johan wees nie. Hy was dan op pad klas toe toe hulle amper gebots het by die teekamer. En hy’s darem te aantreklik om na háár te kyk.
Maar terwyl sy aandete maak, knaag die raaisel steeds aan haar. Dalk het een van die kinders maar sommer haar been getrek, wonder sy.
Die volgende dag daag Esther Strauss nie op vir klas nie. Dis die periode net voor eerste pouse. Skielik is daar ’n sagte klop en die deur gaan oop voor sy kan antwoord. Dis Johan.
“Hallo, Rita. Lekker sonnig vandag, nè? Lyk my die lente is besig om werklik nou oor te sit na somer,” sê hy terwyl sy glimlag en haar kop knik om saam te stem.
“Ja, mens wil eintlik nie in die klaskamer sit nie.
“Sê my, Esther het nie dalk vanoggend klas gehad by jou nie? Ek het geen boodskap gekry dat sy afwesig sal wees nie en sy’t haar diskustegniek om te verfyn vir die byeenkoms.”
“Dis juis nou haar klas en sy’t nog nie opgedaag nie. Ons was besig om ’n musiekstuk te oefen vir die Kerskonsert. Dis eintlik vreemd haar ma het nie laat weet nie.”
“Jissie, maar dis ’n mooi roos op jou tafel,” sê hy terwyl hy naderstaan. “Waar kom jy daaraan? Maak jy tuin by die huis?”
“Nee! Ek bly mos in Zeezicht-woonstelle. Waar sou ek tuin maak; net potplante. Iemand het dit gister op my klavier gelaat en ek weet nie wie nie,” praat sy voort terwyl sy voel haar wange word rooi. “Seker een van die kinders wat vol streke is.”
“Wel, dit moet ’n ou wees wat jou admireer, dink ek” glimlag hy dat sy voortande wit glim teen sy songebrande gelaat. “Nou kyk, laat ek gaan, ek moet nog al die apparaat gaan opstel vir my volgende klas as Esther nie kom nie. Zeezicht, sê jy? Wie weet, dalk val ek nog eendag daar in vir ’n beker koffie!” lag hy toe hy die deur toe trek.
Dis die einde van die week en Rita is weer in die saal, besig om die Kerskonsert se koor af te rig.
“Nou ja, julle, ons het nou ‘Kom alle getroues’ onder die knie. Ons tyd raak min, so nou gaan ons moet aanbeweeg na ‘Stille nag’. Onthou, dis nou wanneer die juniors van die laerskool ook op die verhoog verskyn om die toneel voor te stel van ’n stal, met Josef en Maria en die Wyse Manne om die krip waar die baba in die strooi lê. Nou ja, ons gaan die baba al sussende aan die slaap sing met ‘Stille nag’. Nou luister mooi. Eers sing ons saggies soos ’n slaapdeuntjie, wat dan opwerk na ’n klimaks in die laaste twee strofes, wanneer die seuns ook weer aansluit by die res van die koor. Verstaan julle outjies? Al die seuns … het julle dit? Let asseblief net op diksie. Die laaste letter van ’n woord moet duidelik wees.”
Almal knik en sê saggies ja.
“Goed, Louis, kom ons begin.”
‘Stille Nag’ vloei sonder haakplekke. Die eerste strofes sag en met eerbied en rustig. Die laaste twee, wat herhalings van mekaar is, sterker en met meer blydskap totdat daar uit volle bors gesing word aan die einde van die laaste versie.
Rita het besluit dié blydskap moet dadelik opgevolg word met ’Vreugde op aarde’ – deur die hele koor gesing. Sy sal dan omdraai na die gehoor terwyl Louis met meer drif insit met ‘Lofsing die Heer’ en sy die gehoor aanmoedig om met groot vreugde saam met die koor te sing vir die afsluiting.
Rita kom by die huis, tevrede omdat alles so goed verloop het. Sy skop haar skoene uit, skink ’n glasie Chenin en strek haar moeg op die bank uit. Dit was werklik ’n suksesvolle aand. Meneer Barnard het haar en die kinders gelukgewens met die sang en voorstelling van die Kerstoneel. Die ouers en gaste het lank hande geklap. Ja nee, kyk, sy kan met reg trots wees op haarself, dink sy. Sy wonder wat Ma en Pa sou gesê het as hul daar kon wees.
Terwyl sy so lê en dink oor die verrigtinge van die aand en die voorbereiding wat dit geverg het, is daar ’n sagte klop aan die deur. Of het sy haar verbeel? Die radio speel sag. Maar toe die tweede klop meer hoorbaar is, staan sy op om voordeur toe te gaan. Sy besef eers sy’s sonder skoene toe sy die deur oopmaak.
Daar staan Johan met ’n skaam glimlag – meer ontspanne sonder sy baadjie en das en met sy kraag oopgeknoop.
In sy hand hou hy ’n pienk roos!
“Hoe lyk dit, ek het mos gesê ek gaan kom koffie drink” sy hy met ‘n glimlag.
Die sonbesies sing hard in die hitte. Die son bak ongenadig op die stofstrate van Steytlerville. Die blou Thames kreun tot stilstand half onder die vaal stofbedekte peperboom.
“Wil jy ôk een hê?” vra oom Flapoor Slabbert met sy growwe stem.
“Hoe sê oom?” antwoord Marie verbouereerd.
“Ek vra wil jy ook ’n Coke hê? Dis nog ’n ver ent Noorskop toe.”
Sy sê dankie terwyl die ou in sy broek se geldsak vroetel vir kleingeld voor hy by die winkel instap. Sy pens is groot en hy sukkel om die kleingeld uit te kry. Sy voorkop sweet toe hy die trappe bestyg. Flapoor is ’n bynaam, oor sy ore wat so bak staan en lyk soos flappe se blare!
Twee jongetjies sit onder die ander boom teen ’n sinkplaatdeur, elkeen met ’n katkop in die hand en ’n bottel Coke tussen hulle. Seker al warm in die hitte, dink sy. Die klein kaalvoet klonkies verder straataf speel albasters op hul hurke. Met ball bearings. Hulle stry lustig met mekaar, of juig as ’n ghoen een tref en in die holte skiet.
Oom Flapoor het haar by die FCU in die Baai opgelaai vir ’n lift wat haar pa gereël het. Hulle was skoolpêlle jare gelede. Haar ma wou nie dat sy treinry Klipplaat toe nie. Daar’s deesdae te veel jong laaities wat vir army training Voortrekkerhoogte toe ry op die treine.
Marie draf gou by die garage langs die winkel in en toe sy terugkom by die lorrie, kom Theuns net uit met die koeldrank. Sy is jonk, en dink dis onvanpas om hom op sy bynaam te noem.
“Ek het sommer laat hulle dit binne oopmaak. Ek het nie ’n opener aan my sakmes nie,” brom hy toe hy ’n groot koue glasbottel aangee. “Hier’s nie strooitjies nie,” knor sy dik stem voort terwyl hy ’n paar slukke vat. Nes asof hy ’n beuel blaas, bottel hoog in die lug. Hy breek ongemanierd ’n wind op toe hy die Thames bestyg en agter die stuurwiel regskuif.
“Nou ja, ons moet aanstoot; Noorskop is nie meer so ver nie. Maar die grondpad Klipplaat toe is maar baie sinkplaat, ons kan nie vinnig ry nie. En ek moet nog verder aan,Jansenville toe.”
Sy luister ingedagte met ’n halwe oor. Bang vir wat voorlê.
Dis droog, warm en stil hier en sy wonder senuagtig of dit ’n wyse besluit was om die pos by die plaasskool te aanvaar. Maar oom Karnallie Marais het gesê sy gaan ervaring opdoen wat haar makliker ’n pos by die regte skool sal laat kry. En hy weet mos die beste, want hy is prinsipaal op Uitenhage. Ant Violet, sy vrou, het opgewonde saamgestem. “Jong, jy sal sien, dit gaan goed uitdraai en jy sal dit geniet.”
Alles flits in sekondes deur haar gedagtes.
Dit gaan maar eensaam wees, dink sy terwyl sy sukkel om die groot bottel by haar lippe te kry en terselfdertyd teverhoed dat die glasnek nie teen haar tande stamp nie.
“Dankie, oom. Dis lekker koud,” sê Marie beleefd.
“Jy gaan maar moet vinnig drink. Die pad het baie sinkplaat.”
Kort voor lank, toe kriewel die lorrie raserig oor die grid by die plaashek. “Noorskop,” hang die naam aan ’n houtpaal – nes ’n kar se nommerplaat.
Marie let op daar’s ’n plaaswinkel oorkant die pad en links van die ingang ’n paar strooise. Die stofpad plaashuis toe het darem ’n lang laning bloekombome vir koelte. Die lorrie kom tot stilstand voor die skool. Dié vorm een kant van ’n groot vierkantige werf met ’n gewelhuis op regterhand, veekrale aan die ander kant en ’n perdestal met ’n afdak aan die onderkant. Alles met kalk afgewit. In die middel is ’n groot rotstuin vol vygies, flappe en twee aalwyne. Lyk maar baie verlep in die hitte.
Die prinsipaal, ene mnr. Ferreira, kom by die deur uitgestorm en staan opgewonde, hande op die heupe, op die stoep en wag toe hy die Thames hoor stilhou.
“Môre, môre, oom Flapoor. Gaan dit goed? Het julle darem sonder teëspoed gery?” roep hy oorvriendelik toe hy die trappe afkom en hand skud. Hy’s seker so vroegdertig, met ’n breë glimlag en kroes donkerbruin hare, let Marie op. Nie veel langer as syself nie.
“En dis nou seker ons juffrou Marie Groenewoud?” sê-vra hy terwyl hy haar hand skud. “Welkom, welkom, juffrou. Ek hoop jy gaan gelukkig wees hier by ons.”
“Dankie, aangename kennis,” fluister sy skaam.
“Gaan oom Flapoor sommer weer vort of is daar darem tyd vir ’n bietjie boeretroos?”
“Nee wat, Flip, ek’s oukei. Dis nog ’n hele stootjie Klipplaat toe, dis stokstilwarm en Jansenville lê nog verder voor. Ek sal my Thermos sommer op Klipplaat laat volmaak en gaan maar sommer ry.”
Marie se bagasie word op die stoep afgelaai en die Thames laat ’n stofwolk en exhaust-rook agter soos hy oor die werf sy pad vat grootpad toe.
Aanvanklik lyk alles vir Marie maar mistroostig. Sy en mnr. Ferreira bly in enkelkamers met beknopte badkamertjies wat hul huur by ant Lottie Scheepers, die weduwee wat die plaas geërf het. Sy bly in die gewelhuis saam met Ernst, haar alleenkind. En vir ekstra huur kan hulle drie maal op ’n dagsaameet.
Elke dag is besig: 17 laerskoolkinders van die omgewing, ouers wat aflaai en optel, Ernst wat in die slaghuis jagters se vleis bewerk en ant Lottie wat op die stuk leemgrond agter die huis haar groentetuin versorg. Die werf is boonop elke dag ’n miernes, met emmers melk van die die beeskraal wat tussen kekkelende weglêhoenders oor die werfaangedra word na die melkkamer, vir Lafras om die room af te skei met die separator. Êrens hoor mens kalkoene luid kloek-kloek.
In die winter kom jagters, meesal in groepies. Koedoes en springbokke. Nou en dan ’n rooibok, maar dié is maar dun gesaai.
Hulle braai en drink bier, so ant Lottie sit haar nie juis veel uit vir hulle nie. Net brood en botter en konfyt. Hullebrou self koffie in die skuur.
Dis hoe sy Bart ontmoet. Bart Daneel. Die jagter. Een naweek toe ’n groep kom jag.
“Wat soek so ’n mooi nooi soos jy hier weggesteek op Noorskop?” wil hy met ’n glimlag weet toe hul mekaar die eerste maal raakloop toe sy op pad huistoe is van die skooltjieaf. “Hier’s mos niemand wat vir jou kan ogies maak nie,” skerts hy terwyl hy sy Lexington se rook die lug in blaas. “Jy moet saam kom braai vanaand! Ernst het ’n lekker springbokribbetjie geknak vir ons.” Marie bedank hom skaam en sê sy’t nasienwerk om klaar te merk. Maar toe Bart die Saterdagaand ook so aandring, stem sy in.
Sy is ver van die dorp en kan nie laat hare sny of nuwe klere koop nie en moet maar die beste maak van wat sy het. Mnr. Ferreira gaan sy gang en is baie trots op hul skooltjie. Sysê vir ant Lottie sy sal nie daar wees vir aandete nie. Ewe ernstig maan ant Lottie: “My hart, jy moet maar pasop vir dié spul mansmense, hoor. Hulle kan partymaal goed uithaak met hulle gekuiery.”
“Nee wat, ant Lottie, ek ken my plek,” antwoord Marie.
Bart stel haar gul aan die twee ander mans voor. Hulle is groot rugbyliefhebbers, want dis al waaroor hulle praat. Maar Bart sit langs haar op die strooibale rondom die lapa en gesels. Hulle was almal vriende op universiteit. Hy het ’n prokureur geword en is van Aberdeen, maar nie juis ’n jagter nie.
“Ek’s nie getroud nie, so wat maak ek met al die wildsvleis? Ek kom maar net saam vir geselskap om vir ’n rukkie van die eensaamheid weg te kom. Aberdeen is mos maar klein.”
Die volgende aand braai sy weer saam en lag vir hul grappies en geselsies.
‘Jy is darem té weggesteek hier met jou lekker lag,” flikflooi Bart. “So mooi en vroulik met jou blonde hare en blou oë,” hou hy vol. Die ander het al gaan slaap, toe sit hulle twee nog en gesels om die vuur.
Later besef Marie Bart kom nou meer en meer naweke, en meesal alleen. Glad nie so danig om te jag nie. Hul vriendskap begin bloei, nes die bloeisels aan ’n perskeboom . . .
Tydens een van dié naweke soen hulle vir die eerste keer en Marie besef dit is meer as vriendskap. Dis ’n gevoel wat in liefde ontaard het. Onbewustelik. Sy sien uit na Bart se kuiers en die tye wanneer hulle hand aan hand onder die bloekombome opstap na die modderdam en op die wal die rooi-en-wit seiltjie op die grond platstryk en die piekniekmandjie oopmaak en net stil oor die water sit en tuur,elkeen met ’n glasie wyn in die hand.
Dit is op so ’n middag dat die padda onverwags luid kwaak en Bart die moed bymekaar skraap om te praat. “Marie. . .” Hy kyk diep in haar oë en neem haar ander hand in syne, “Marie, sal jy met my trou . . . my vrou word?”. Sy sien skrams dat die geelborsvink nes bou voor sy antwoord.
“Ja, Bart . . . ek sal.” Hy neem haar in sy arms, kyk diep in haar oë en soen haar innig.
Dis tjoepstil.
Maar die padda kwaak meer opgewonde.
Noodlot bly iets waarvoor daar nooit regtig ‘n verklaring is nie.
Haar voordeur was altyd van vroeg voordag oop. ‘n Skulp wat nes ‘n skilpad se dop lyk was die deurstop. Maar nie juis gehelp nie want as ‘n trek waai deur die opgestote eetkamer venster was die deur eintlik maar net altyd halfpad oop.
Jy kon smoors hoor hoe sy met ‘n biesie-besem die paadjie van die tuinhekkie tot by die voorstoep vee. Haar ou vilt pantoffels met die plastiek tone en bont dons balletjie oppie neus het altoos verslons agterna geslof. Haar bont halflyf voorskoot was kort-kort ook as sakdoek gebruik. Haar neus het kronies gedribbel en sy kon nooit betyds ‘n sakdoek uit die sak haal nie.
Ek’t ook soggens op die rand van die voor gesit en ledig neurie voor oupa se huis met my voete in die watersloot en sommer blare geskop wat verby vloei. Dis vroeg al watm. Dis dán wanneer ek haar sit en waarneem en die indrukke van die lewe soos ‘n kaleidoscope voor my gedagtes begin draai en vestig terwyl ek kamma by die gaatjie inloer en die lens draai. Sy’s so vol gewoontes. Wens sy ooit vir iets anders het ek gewonder?
As oom Chris kom kuier het vir ant Ellen het sy kar altyd aan die verkeerde kant van die straat gestaan terwyl hy ‘n karavaan voor haar tuinhekkie parkeer het op die sypaadjie. Ek’t nie dan vir haar gaan kuier om linarias te pluk nie want ek was bang vir hom. Hy was altyd nors met ‘n dik stem en het ‘n stink pyp gerook. Seker daarom dat hy in die karavaan moes slaap dat die huis nie stink nie.
“En vee jou skoene af as jy inkom. Ek’t klaar die vloer ge-mop” kon jy hoor as sy karavaan toe roep.
Ek het gesit en wonder aan die prentjie in ant Ellen se kombuis. Die klein tafeltjie met wit geverfde pote en oliekleedjie was altyd beskerm met ‘n ou phoneboek wat gebruik was as placemat as sy die ketel van die koolstofie afhaal om die koffiepot vol te maak. Dis wanneer sy haar bril opgesit het om seker te maak sy stort nie. En as sy die swart ysterpot afhaal. Dan brand die tafeldoek nie. Soos die blaaie vuil geword het, het sy dié net afgeskeur en weggegooi. Dit was altyd net vir een gedek en ek’t gewonder hoe hulle nou sou sit.
“Nou vir wat kom Hilda nooit saam met jou kuier nie?” kon jy van die stoep vol varings af hoor as hulle in die koelte sit en gesêls op die grasstoele. Oom Chris se vrou het nooit saam kom kuier nie.
“Ag los tog nou weer daai storie uit. Wees bly ek is hier” kon mens hom uitmaak terug mompel. “Sy en die kinders het hul eie goed”. Hy’t ook maar net uit verpligting eenmaal ‘n jaar gekom dink ek. Meestal Paasnaweek.
Maar hulle het nooit eers kerk toe gegaan nie. Oor die wireless geluister seker want dié was altyd aan sodat sy nuus kon luister. Sy’t nie koerant gekry nie. Ek sal altyd onthou sy’t eerste in die straat geweet toe Dr Verwoerd vermoor was. Dit was oor die draadloos. Sy het uitasem oor die straat gestrompel in daai rooi pantoffels om vir oupa te kom sê. 6 September 1966… En sy’t eerste geweet van die bottel wat uitgespoel het op Jeffreysbaai se strand met ‘n briefie in. Op die briefie was net ‘n hartjie geteken met die woorde “Ek is lief vir jou, Danie” daarop geskryf. Iemand het dit van ‘n boot afgegooi vir snaaksigheid seker.
Ek dink sy was arm want GKW se afleweringsman het net nou en dan groceries afgelaai uit die groot Persil of Surf boks voor op sy bicycle. En Taffie se slaghuis het ook net nou en dan ‘n klein pakkie afgelewer. Seker maalvleis. Mrs Gouws het nooit melk afgelewer nie maar ant Ellen het my gevra nou en dan om ‘n dinky te kry as ek vir ouma gaan melk koop het in Bourkestraat. Ek het sulke tyd altyd by Mrs Gouws ‘n waspapier bakkie roomys gekry met ‘n hout lepeltjie in. Verniet. Ek dink sy was lief vir my.
Dit was ook net wanneer oom Chris kom kuier het dat ant Ellen laventel gekry het. Potters & Moore.
“Jy moenie jou geld so mors nie. Waarnatoe moet ek dit nou aansit?” het sy protes. Hilda het een skoot vir haar ‘n borspeld gestuur maar ek’t haar nooit dit sien dra nie.
Dit was die dag dat sy op die sy-stoep oppie bank gesit het by ouma dat die skande oppie lappe gekom het. Ouma het my studeerkamer toe ge-sjoe en gesê ek moet die deur toemaak. Maar ek’t dit op ‘n skrefie gehou. Ek wou hoor.
“Ai Ellen dis darem nou vir jou ‘n calamity. Hoe kan mens jou troos oor soiets…? En wat sê Chris nogal?”.
Mrs du Toit was sonder haar bril soos sy trane dep met ‘n sakdoek en kort-kort haar neus snuit. Sy was baie hartseer kon mens sien.
“Oe tog die skande… hoekom tog met my? Sy’s nog nie eers uit die skool nie en wie sal eendag met haar wil trou… Nee, hy’t net gebel om van dit te sê,” hou sy aan, “en nou wil hy Hannah hier kom wegsteek by my tot die kind gebore is…”.
“En wat van haar skoolwerk? En Hilda? Waar’s sy nou…die kind het mos nou haar ma nodig” beskuldig ouma.
“Chris sê sy wil niks te doen hê met die storie nie. Nes met my. Ek’s mos nie haar klas nie. Jy weet mos hoe neus in die lug is sy. Want hy’s pad engineer. Sy wil hê Hannah moet na ‘n huis vir ongehude moeders gaan anders gaan sy vir Chris los”.
“Goeie deug hoe kan die vrou dit doen! En wat sê die seun se ouers? Weet hulle en wat gaan hulle doen?”
“Chris het nie daarvan gepraat”.
Ouma roep vir ai’Driena deur die glasdeur om tee te maak.
“Ag Ellen, ons moet dit nou maar eers in die hande van die Here los. Hy sal weet wat’s beste. Ek weet nie wat anders om te sê nie…”.
Ai’Driena bring die skinkbord met teegoed.
Oom Chris het van Humansdorp af gery om Hannah op die oornag trein te sit. Matt Dippenaar sal haar op die stasie kry en met sy taxi na ant Ellen bring. Dis alles klaar gereël oor die phone.
Dis darem snaaks hoe die noodlot werk. Want dis daardie aand wat ‘n Karoo donderstorm só hard gebliksem en gereën het dat die groot rotse by Perdepoort se hoë kranse losgekom het en afgerol het met spoed tot teen die trein wat ontspoor het en knêrsend trok vir trok die hoë krans teen die helling holderstebolder afgerol het…
Matt se taxi het verniet gewag Daar was geen oorlewendes nie…
Oupa was proppers ‘n professor verstrooi. Iets was altyd nié waar hy dit laas geplaas het nie. So altoos nors of kwaai en op soek na ‘n ding op sy deurmekaar lessenaar. Deur dié lawaai van laaie of deure wat toeslaan vra hy my ‘huiswerk vrae’ wat hy uit die lug optower. Dis nie eers in my huiswerkboekie nie maar dit skeel hom niks.
Maar dit was oupa…mý oupa. Altyd snedig dog ontfermend. Maar snaaks, ek was lief vir hom. Baie lief.
Die ou morris stoel langs sy lessenaar was lekker om by te werk want oupa het net ‘n breë stuk plank dwars laat rus op die armleunings wat dit dan soos ‘n lessenaar vir my gemaak het.
Ek was besig dié middag om vir geskiedenis huiswerk die name van die vyf punte van die Van Riebeeck-kasteel te leer. Vier het kort name gehad en ek kon hulle maklik onthou en spel maar die een met die lang naam was moeilikste; om te sê én te spel. Ek’t gesukkel met hom. The bastion of Cat..and..elbow wou ek kronies sê maar wis dis verkeerd want daar kort ‘n “z” en moes dan weer opkyk in die geskiedenisboek: Katzenellenbogen.
Ek konsentreer hard om dit in my kop te kry terwyl ek die letters op my vingers tel toe oupa skielik hier langs my brom!
“What’s the theorem of Pythagoras?” vra hy uit die bloute. Mens skrik so groot en skop jou maermerries skoon styf en hou tyd met jou voete in die lug en vol bewerasie antwoord ek so gou moontlik dog huiwerig, en in Engels want hy’t aangedring ek moes tweetalig wees en daarom moes ek na die Engelse skool toe gaan.
“The square of the hy..pot..en…use is equal to the sum of the squares on the opposite two sides!” sê ek trots. Ek weet dis reg. Hy luister half-oor want hy sê niks en vroetel steeds in die klein hout kissie met ekstra-klein skroewedraaiertjies in, om die Kienzle horlosie van miesies Kroon se veertjie, wat hy moes vervang, mee vas te skroef. Horlosies regmaak was sy tydverdryf. In die proses stamp hy die bottel Jewellex ook om. Maar gelukkig was die prop op. Nietemin het dit hom opnuut omgekrap kon mens sien.
Ek was só teleurgesteld dat hy niks gesê het nie en was skoon afgehaal. Ek het dit dan só goed geleer.
Hy raak so kwaad en frustreerd met homself. Partykeer wasem sy bril heeltemaal op.
Hy sê weer half ongeduldig: “Wat het jy gesê? Jy moet die einde van jou woorde duidelik uitspreek jong en nie so binnensmonds praat nie. Die t’s en die d’s aan die einde van ‘n woord beklemtoon. G’n mens hoor jou nie…” Ek weet hy’t nie geluister nie maar herhaal die theorem nietemin in so ‘n verfynde spreektrant moontlik.
So tussendeur moes mens glo dis oor hy omgee dat hy mens so folter. Liefde maak mos glo seer.
“Wat is die maan? ‘n Ster of planeet” toets hy my algemene kennis nou weer. Ek’t nie aardrykskunde gevat nie. Maar dié was darem maklik want dit was dieselfde as die aarde. “A planet…not a star”.
“Dis mooi, dis reg. Dis een van die dae sonsverduistering dan gaan ons twee Perryshoogte toe dat ek jou kan wys wat gebeur as die maan tussen die aarde en die son beweeg…”
Ek raak skoon opgewonde aan die gedagte want dit sal iets anders as theorems, equations and formulas wees. Ek haat wiskunde. En wetenskap ook. Ek wil stories lees en skryf; opstelle of ek wil voordra vanuit die Groot Verseboek wat voorgeskryf was. Muskietejag van Keet: “Jou vabond wag, êk sal jou kry…” sweef ek ingedagte toe hy my droom onderbreek!
“ Gaan kyk bietjie of ouma al die koffie gemaak het. Dis mos al koffietyd” sê-vra hy en haal die vergrootglas af om oor sy bril te loer na die klok en na my: “Onthou nou net die handvatsel van die koffiekan sal warm wees so kyk dat jy nie brand nie. Gebruik die vatlap as jy die mus afhaal” sê hy nors maar soort van half beskermd en sit die rek weer om sy kop met die vergrootglas voor die linker oog om die klein skroefies te sien. “Onthou jy’t nog toonlere ook om te oefen vanmiddag nê…” roep hy agterna.
Ek’t so bes moontlik stadig geloop dat ek nie in die koppie se piering mors nie en die suiker geroer tot dit heeltemaal opgelos was maar toe ek dit netjies neersit op die lessenaar het hy nie eers dankie gesê of gesien daar’s niks gestort nie. Ek was sommer soort van hartseer. Mens probeer so jou bes maar lyk vir my dis nooit reg vir grootmense nie. Ek’s mos darem al in standerd ses… Ek raak mos groot.
Dit was die dag toe ouma weg is na ant Miems vir haar hare, dat oupa my stuur na tante Vytjie, die ou tannie van oorkant die straat. Ouma het altyd gespot en gesê sy’t soveel plooie nes ‘n gedroogde suurvy van die Wes-Kaap aldus haar bynaam…
“Vra vir die tannie sy moet bietjie kyk deur die negatiewe van haar foto’s of daar iets is wat sy mee kan wegdoen. Die boks kamera s’n. Dis daai donker rooibruin plastiese negatief waarvan die foto van afgedruk is. Verstaan jy? Sê ek gaan dit nodig hê om vir jou die sonsverduistering te wys. Jy moet daardeur kyk om jou oë te beskerm”.
“Oukei oupa - maar hoeveel moet ek vra…?”
“Ag man, sê vir haar net ‘n paar, sy sal weet…” antwoord hy soort van verergd so asof ek moes weet hoeveel om te vra.
Ek was baie opgewonde toe ek met die Croxley koevert by die huis terugkom met die negatiewe daarin.
Hy’t so bietjie baie laag geloer na dié horlosie dag ek toe ek in die studeerkamer kom. Ek weet hy beloer hulle van alle kante af want hy check of iets gebalanseer is, ‘n flywheel het hy gesê moet die tyd hou.
“Oupa, ek’s terug…!” begin ek uitasem en opgewonde; maar hy was tjoepstil… Hy roer nie. Hy konsentreer seker nou te hard dis dié wat hy niks sé nie dink ek. Maar toe ek wou gaan sit op die morris stoel sien ek sy bril sit skeef want sy kop rus op sy linker elmboog. Sy oë is half oop en die skroewedraaiertjies lê verstrooid rond en die kissie onderstebo… Hy was so heilig oor dit.
Dr Human het gesê sy tyd het uitgeloop. Trombose.
“Los die verlede in die verlede man!” Louis kyk Petrie ongelowig met verstokte oë aan. Kan die man dit dalk opreg bedoel?
In die driewekevakansie kom Louis gewoonlik vir Petrie op die plaas kuier. Lankal, van laerskooldae af al. En nou is hulle reeds in standerd 8.
Dit is die dae van die Beatles en Rolling Stones en hulle maak partymaal asof hulle saamsing as Petrie die platespeler laai met ’n seven single wanneer hul saans ná ete in die stoepkamer kom – Petrie se slaapkamer, wat uitkyk op ’n lusernkamp. Dan swaai Petrie soms sy arms en heupe en maak hand-voor-die mond vuis asof dit ’n mikrofoon is. Petrie met sy boskasie donker krulhare wat klots soos peperboomblare in die wind. Aantreklike liggaamsbou. Wat altyd maak asof hy dans met Mandy, haar styf beklou. Sy is eintlik Amanda en Mandy is sommer ’n bynaam.
Petrie maak sy oë toe en vou sy hande denkbeeldig om haar wange en soen haar dorstig terwyl die Beatles “All my loving” in die agtergrond blêr. Petrie hou ewe sy lyf John Lennon. Hy is al van standerd 7 af versot op haar.
Die kamer is ver genoeg van oom Bertus-hulle af dat hul nie die lawaai hoor nie.
Louis lê skuins op die ander enkelbed en aanskou die show. Petrie het beslis die skoot hoog deur.
“Sy maak mos ogies vir my, ou tjom! Vir haar gaan ek kry. Check my. Nog voor die matriekafskeid.”
Louis voel ’n roering. Eienaardig. Iets vreemds . . . Sy gedagtes dwaal.
Vroegoggend skree Billy Boy oor die werf. “Ek gaan hooi haal op die land as julle wil saamgaan. Maar dan moet julle wikkel, ek ry nou.” Billy Boy is oom Bertus se broer en ’n oujongkêrel. Sy groot liefde, Girlie Jansen, het in die dorp se dam verdrink. Hy kon nie verby sy hartseer kom nie en versuip dit elke aand verdrietig tot in die vergetelheid met ’n bottel brandewyn of iets dergeliks. Almal op die dorp wil altyd weet hoe kom hy reg sonder ’n vrou.
Ant Maxie is al besig met regmaak vir brekfis in die kombuis, maar sê hulle kan maar saamgaan. Sy droog haar hande aan haar voorskoot af. “Ek is klaar geknie en sal solank klaarmaak hierso en warm hou op die Aga as julle nie betyds terug is nie. Klou goed vas aan die wa dat julle nie uitskud nie, hoor!” roep sy agterna.
Die groen John Deere slinger oor dwarswalle en leivore en hulle skommel rond op die trekwa en klou vir ’n vale. Mannetjies is ook by om die draadhekke tussen die kampe oop te maak.
Met die hooibale eindelik in die kraal en ekstra opmekaar gestapel langs die stal se muur, gaan hul terug na die nuwe opstal vir ontbyt.
Billy Boy knor binnensmonds op pad terug ou opstal toe. Salie maak seker vir hom iets te ete. Sy werk al baie jare daar, van sy ouers se dae af. Dis oom Bertus wat die nuwe opstal anderkant die werf gebou het toe hy met ant Maxie getrou het. Hy en Billy Boy, sy broer, was maar nog altyd haaks met mekaar. Meesal oor die drinkery.
Dis ’n besige dag wat wag, want die beeste moet gedip word en die eerste trop skape aangeja word veekraal toe. Môre kom die skeerders.
“Petrie, gaan kry vir julle elkeen ’n grens-dropper in die toomkamer en bring vir my ook, dat ons die beeste in die dip kan kry, die werk wag!” sê oom Bertus bruusk ná die laat ontbyt.
Die beeste is al afgekeer in die kampie en die dipsloot is vol water, gemeng met bosluis- en parasietgif. Totman staan reg met sy yslike doringboom-kettie om die beeste agter die kop vas te vat en onder die water te dompel voor hulle anderkant uitkom. Dit lyk nes ’n regte kettie, net baie groter en sonder die rek.
“Totman! Staan jy reg? Hier kom hulle.” Oom Bertus klits die eerste bees op sy hakke en met die dropper jaag hy hom die dip binne. Die dier sink en spartel dat die water spat om anderkant uit te kom, en Totman druk die kop onder met sy kettie voordat die arme bees proesend opkom. “Kom julle, waarvoor wag julle?” roep oom Bertus en ons volg sy voorbeeld so goed as moontlik. Louis kyk na Petrie se sterk kuite. Wat de bliksem! Van waar vloog sulke gedagtes deur sy kop? Raak hy mal? Anderkant die dip raak ’n bul boonop bronstig met ’n koei.
Dis al skemer toe die laaste skape in die kraal gejaag is en die krippe gevul is met tenkwater. Billy Boy het darem gehelp.
“Ek sien darem nou uit na daai stort hoor. Ons is vol modder en stof van die dip en van skape aanjaag,” sê Louis terwyl hulle oor die werf aanstap huis toe. Die vygies op die rotstuin blom donkerpers maar word nie raakgesien nie.
“Ek hoop my ma het toegesien dat Dawid die donkie aan die brand kry. Ek moet sê, ek kan ook doen met ’n warm shower. Ons kan sommer saam gaan stort, anders wag ons te lank vir iets om te eet. Oukei?”
Vandag voel iets half anders, besef Louis ietwat senuagtig. Iets het geroer op plekke waar dit nie moet nie en nog nooit het nie. Terwyl hy Petrie beloer deur die opgewasemde glasdeur, vlieg prentjies deur sy gedagtes. Stop dit tog nou, betig hy homself, maar dis pure verniet. Sy gedagtes is deurmekaar.
Hulle sit op die Chesterfield rusbank in die eetkamer en blaai deur ’n Kyk en ’n See. Oom Bertus sit in sy stoel met sy Cavalla en ’n glasie OBS. Net sý stoel. Niemand anders waag dit om daarop te sit nie. Ant Maxie bring die aandete tafel toe met ’n “Kom sit aan, julle, die kos raak koud.”
Dis toe hulle ná ete in die kamer kom en Petrie “Satisfaction” van die Rolling Stones opsit en sy kammadans met Mandy begin doen dat Louis besluit hy gaan met hom moet praat.
“Petrie, kom sit,” beduie hy na ’n plek op die bed, “ek wil jou iets sê.”
“Nou wat’s jy so ernstig? Wat’s dit?”
“Ek weet nie hoe ek jou moet sê nie, maar iets, um . . . iets anders het my, my . . . um, beetgekry die afgelope week,” struikel ek deur my gedagtes. “As jy my slaat, donner ek jou terug, hoor – maar ’n snaakse gevoel, gedagte, of wat mens dit ookal noem het by my posgevat wat ek nie weet hoe om te handle nie. Ons is al soveel jare pelle en ek wil dit nie verloor nie, maar, ek . . . ek kan nie dink waarom nie tevore nie, en hoekom dan nóú nie! Dit voel my ek het gevoelens vir jou gekry . . . iets anders as net vriendskap.” Ek kyk na my hande, wat bewe van angstigheid.
“Jissie, ou, weet jy wat jy sê?” vra Petrie geskok.
“Ek weet, ek’s skaam om dit te sê. Ek voel so, en ek’s bang om jou vriendskap te verloor. Maar dis nou uit . . .”
Daar’s stilte in die kamer. Al wat mens hoor, is die plaat wat haak op die draaitafel.
Louis voel hoe trane ophoop in sy oë. Sy emosies ry skoppelmaai met sy gedagtes. Petrie s’n seker ook, want dis ’n bom wat hy laat val het.
“Petrie! Petrie!” roep oom Bertus. “Jy moet die turbine loop afsit hoor, moenie vergeet nie!”
“Ja, Pa, ek kom!”
Met die antwoord wat nog talm in die lug, staan hy op en stap by die deur uit.
Dis asof hy langer draai as wat nodig is. Met die inkom, sit hy die platespeler af en val op sy bed neer met die nuwe Kyk. Die twee van hulle praat nie. Dis ook nie lank nie, toe sit Petrie sy leeslamp af, gooi die boek op die grond en draai op sy sy na die muur. Alles in een beweging.
Die res van hulle laaste twee jaar op skool word Louis nooit weer saamgenooi plaas toe nie en gesels by die skool is maar geforseerd en hortend. Daar word nooit verwys na daardie laaste aand op die plaas nie.
Ná matriek gaan Petrie universiteit toe en Louis begin by die bank werk.
Louis hoor nooit weer van sy beste vriend nie, maar hy is altyd in sy gedagtes. Hy verlang.
Louis is haastig van die werk af op pad deur die Goue Akker in Adderleystraat na die parkeervlak toe hy per ongeluk by die roltrap in ’n man vasloop. Verstom kyk hy op, vas in Petrie se gesig. Petrie is ewe verstom. Daar’s eers ’n geskokte stilte, maar hulle groet beskaafd. Eintlik warmer as beskaafd. Louis gryp Petrie aan sy arm, “Petrie, asseblief! Ons is nou ouer en meer volwasse. Kan ons nie net praat oor wat daai aand op die plaas gebeur het nie?” vra hy vinnig en angstig voor hy hom verloor.
“Louis, los die donnerse verlede in die verlede, man. Kom ons gaan drink koffie by die kafee daar in die hoek. Ek dink ons het sommer baie om oor te praat,” sê Petrie terwyl hy Louis se hand skud.
Nou ja toe, dis dan hoe die ding begin het – soveel jare later. Die verlede in die verlede.
Inderdaad…
Katriena was besig om aartappels te skil vir Helena se beoogde aartappelslaai toe die telefoon lui in die eetkamer.
“Helena Nel, môre…?”
Jy kon hoor hoe die persoon op die lyn sy keel skoonmaak.
“Hallo, goeie môre Mevrou. Gustav Vercuiel van Modern Electrical hier. Het u ‘n boodskap op die antwoordmasjien gelaat gisteraand om na u lugverkoeler te kom kyk wat probleme gee?”
“Ja - dis reg. Man, die oue is al seker dertig jaar oud en lyk my is nou besig om die gees te gaf. Dit maak nie meer koel nie. Die yster boks buite is ook onooglik geroes - die hoë roesfaktor by die see seker reken my seun. Ek merk toevallig toe die advertensie op in gister se Overberg Pos vir ‘n kontant aankoop, met afslag boonop, vir ‘n soortgelyke een soos myne en dag toe ek sal bietjie navraag doen”.
“Wonderlik mevrou, dankie vir die belangstelling. Ek’s Gustav Vercuiel, die eienaar, en sal met plesier vanoggend een van my spanne kry om na die oue te kom kyk vir u. Sal om en by elfuur goed wees vir u?”
Na die uitruil van gegewens groet Helena.
“Katriena!” roep sy kombuis toe. “Maak bietjie tee vir my asseblief jong. Ek wil net gou nog die gas bestel - ek sal nou terug wees daar by jou”. Voor sy die oproep kon maak bel Susan Meyer eers intussen om uit te vind of sy iets kan saambring vanaand. “Nee, nee wat dankie Suzy, ek’t als hier al onder beheer. Dis mos maar sommer net ons paar kaartspelers. Dis koue vleis en slaai. Ek maak nie nagereg nie - sommer net bietjie roomys met ‘n sousie. Dis so warm al heel week dat ek besluit het om koud te bedien”. Na die koebaai was dit vinnig net die gas ook nog bestel. Sy’t altyd een bottel spaar in die garage vir wanneer dit oor ‘n naweek opraak, soos per toeval juis net laas naweek gebeur het dat sy bottels moes omruil.
Na sy groet stap sy haastig kombuis toe. Haar tee is amper reeds yskoud maar neem ’n sluk en sit res sommer met piering en al vir minuut in mikrogolf om warm te maak. Sy tel die wortels af en gee vir Katriena om te skil en te rasper “… op die klein ogie nê…; en nog die twee lemoene ook wat se sap uitgedruk moet word”. Sy sit tussen al die pratery die aartappels met water op die stoof.
Sy was net klaar met die wortelslaai se maak toe die voordeurklok lui. Op die interkom stel sy toe vas dis Vercuiel self wat gekom het en maak die hek oop vir hom en twee werkers om in te kom terwyl sy haar voorskoot afhaal oppad voordeur toe.
“Hallo Mevrou Nel, ek’s Gustav Vercuiel, ons het gesels vanoggend - ek het sommer self gou kom kyk. Een van my voormanne en sy span werkers het vasgeval by ‘n groot kliënt en dit vertraag nou dinge so ‘n bietjie… toe spring ek self ook maar in”
“O, ag, nou kom binne dan wys ek jou. Dis die een hier in die eetkamer. Sy boks buite lyk ook erg geroes. Eintlik ‘n seer oog.”
“Toemaar, ek kyk gou wat ons kan doen. Kan Thomas net gou die leer gaan…”
“Hier is ‘n kombuis trapleertjie, sal dit werk?”
“Ja, dit sal gaaf wees, dis hoog genoeg“.
“Nou ja, ek los julle, roep my net. Ek’s hier in die kombuis as jy my nodig kry”.
Sy’t net die aspersies en beetslaai in die yskas gesit toe hy kom roep.
“Mevrou, ja, ek dink ons het moeilikheid hier. Die koelmiddelspoel het erg deurgeloop oor die jare met roes en aanpaksel en baie lug gaan gevolglik verlore op warm én of op koud gestel. Dit lyk my ons gaan maar moet dink daaraan om dit te vervang.”
“Is dit ‘n groot werk? Sal dit voor drie kan klaar gedoen wees want ek kry mense vir aandete” vra Helena.
“Ja, glad nie ‘n probleem nie want ek het voorraad” antwoord hy.
“Nou maar goed. Ons maak dan so” sê Helena.
“Ek gaan dit dan net gou by die winkel kry en my twee werkers sommer hier los sodat hulle die oue solank kan verwyder”.
Na instruksies aan sy werkers is hy vinnig weg waarna Helena ‘n paar pronkertjies vir die tafel in die tuin gaan pluk en rangskik dit in die ronde erde potjie. Ek wonder of hy nie van Christo Vercuiel familie kan wees nie dink sy. Hy lyk nogal baie na hom. Breë skouers en geboogde neus. Ek gaan hom vra as hy terugkom dink sy ingedagte soos sy verder regmaak en afstof in die kamers en haar klere vir die aand uithaal en hang teen die kas.
“Katriena” roep sy uit die gang, “ kom sê as jy gekyk het dat die aartappels goed dreineer en afgekoel het hoor. Die badkamers lê nog voor”.
“Dis goed so, mevrou kan maar kom” antwoord sy”.:
Helena meng ‘n paar lepels slaairoom deur die
aartappels tot goed gemeng en strooi bietjie pietersielie oor, maak toe met glad wrap en sit dit ook in die yskas. Nou’s dit net die blad se sny nog maar dit sal sy eers vanmiddag later doen anders droog dit te veel uit. Katriena het gister al die tong geskil so als sal goed uitwerk.
Vercuiel gaan nou net moet klaarmaak met die lugverkoeler.
Dis toe nie lank voor hy terug is en aan die werk spring nie.
“Kan ek vir julle bietjie koffie maak of aanmaak koeldrank?” vra Helena later.
“Ja dankie, koffie sal lekker wees, dankie” antwoord hy.
Katriena sit outomaties die stoof aan en maak die ketel vol. Sy haal bekers uit en maak koffie toe die ketel fluit. Sy het die klein skinkbordjie uitgehaal en die suikerpot en melk ook daarop en neem die koffie binnetoe.
“Van waar stam jy? Vercuiels is mos nie volop nie. Kom jy nie dalk van Piketberg af nie?” vra Helena nuuskierig. En groot was haar verbasing toe hy vertel hy’s inderdaad van daar. Sy pa was Werner Vercuiel en die se ouer broer Christo. Christo het seker nou so amper ‘n jaar gelede sy vrou verloor.
Katriena bring die koffie in en sit dit op die tafel en Gustav klim af om te kry.
“Katriena maak vir my sommer bietjie tee met ‘n sakkie asseblief. Ek gaan gesêls hier klink my.”
“Nou ja dan het ek nou weereens geleer hoe klein die wêreld is. Ek dink ek was saam met Christo op skool gewees… Jou oupa het die kruidenierswinkel gehad dan nie.” Gustav bevestig dit.
“Nou dan is dit definitief dieselfde Christo. Korterig met vlamrooi hare en hy’t so goed klavier gespeel?”
“Ja nee, dis definitief my oom daai…oom Christo”.
“Nou reken, ek is van die Griesels. My pa was predikant by die NG Kerk vroeër jare maar het ‘n beroep aanvaar toe ek in matriek was. Ek het toe by my ouma’hulle gebly vir die jaar net om my skoolwerk nie te benadeel nie. Ek wou graag Wellington toe gaan om welsynswerker te word. En dis in daai einste jaar dat hy uit sy dop uit gekruip het en vir my ogies gemaak het. Ons was saam matriekafskeid toe ook. Reken nou net! Christo Vercuiel.” Helena het ‘n breë glimlag en voel hoe rooi haar wange is en skud haar kop stadig op en af.
“Jissie, maar die wêreld ís klein. Ek moet klaarmaak hier ek wil vir oom Christo gaan bel en vertel. Ek dink nie hy sal my glo nie. Wat was tannie se regte naam?”
“Ek was Helena Griesel gewees maar hy sal my seker eerder op my bynaam wat hy my gedoop het ‘Toontjies’ onthou. Ek het nogal uitgeblink in my balletklasse na skool smiddae” lag sy. ”Oor ek op my tone kon dans kry ek toe die bynaam - Toontjies… Ai waar’s daai dae…?
“Na matriek is ek toe Wellington toe na die Hugenote Kollege om as maatskaplike werker te leer en so het ons paadjies geskei want hy’s universiteit toe. In die Kaap”.
Toe Gustav klaar was moes Katriena net die eetkamer vacuüm want hulle het bietjie gemors. Hy wou nie dat ek betaal nie en wou hê ek moet dit eers so vir ‘n paar dae gebruik en dan sal hy kom seker maak als is 100% voor hy betaal word sodat hy die waarborg kan invul.
Na hy weg is was daar net tyd vir Helena en Katriena om tafel te dek en die kombuisvloer te was voor sy haar taxi toe geneem het. Sy’t die verkoeler op 22 gehou en met haar terugkeer was die huis heerlik koel.
Die ete daardie aand was ‘n groot sukses. Almal was ewe opgemaak oor die lekker kos en oor die storie van Christo en kon nie wag om te hoor watse terugvoer Gustav mee sal kom as hy gedurende die volgende week ‘n check-up kom doen nie.
En was dit nie ‘n verrassing nie!
Helena kon nie ophou bloos soos sy hulle vertel om die kaart tafel dat na Gustav gelui het om by die hek in te kom het sy nie opgelet daar kom nog iemand agterna in nie. Gustav het hom toe seker laat voor stap voordeur toe en toe sy die deur oopmaak, wie staan daar? Christo Vercuiel…
Daar was só baie om oor te gesêls en mee op te vang een middag met ‘n chaperone was nie genoeg nie en Christo sê toe hy kom haar optel die volgende Saterdag en hulle kan braai en verder nuus uitruil en op datum kom. “Nou ja, ek sal slaai bring” sè sy. Nou ja, die afspraak was gemaak.
En hoe sal mens nou sê… met die verloop van tyd one thing lead to another… so gebruik jou verbeelding!
“Bluebird”…tee plek op R44 tussen Stellenbosch en Somerset Wes.
Ek het maar vroeg gestop en by ‘n tafel gaan sit. Eerste indrukke is blywend.
Die motors flits verby in beide rigtings op die pad buite.
Ek is geen joernalis nie en gaan my lyf ook nie so hou nie. Maar is nietemin op my senuwees en het maar ‘n Rescue gedrink.
My opdrag van LitNet was om bietjie te gesels met emeritus Prof Matilda Burden oor haar nuwe boek Opreisfontein - ‘n ondersoek na fonteinname in Suid-Afrika. Bietjie blootstelling te gee want sy het “konneksies” met my geboortedorp Graaff-Reinet. Dus met twee baie goeie vriendinne van my wat tans nog daar bly; Universiteit Stellenbosch promotor vir Dr Ansie Malherbe en vir Dr Anziske Kayster met haar museumkunde diploma en ‘n deel van haar Meestersgraad, kon ek dus nie my baie beperkte kultuurgeskiedenis in die steek laat nie.
Dit was nie lank nie toe sy stop in ‘n groot grys 4x4 en kom die trappies op met ‘n yslike pakkie onder die arm. Voorgestel met ‘n goeie handdruk en tee en koffie bestel raak ons toe sommer dadelik aan die gesels.
Matilda haal die pragtige boek uit ‘n bruin papiersak: Opreisfontein… Hardeband. Pragtig. Baie swaar - maklik twee kilogram sou ek reken!
Onmiddelik vertel sy daar bestaan 5638 fonteinname in Suid-Afrika maar sluit omtrent 1700 duplikasies (30%) in. Ek is skoon verslae. Ek hoop nie my mond het oop gehang nie.
As mens in persentasies praat oor enige onderwerp van verspreiding in ons hele land, herlei mens ingedagte jou persoonlike redenasie eintlik terug na die bevolkingssamestelling om ‘n beter perspektief te kry. As mens dink, oppervlakkig gesien, dat daar net 7% van die 100% bevolking wit is waarvan ‘n delikate verdeling van tale nog moes plaasvind om name te doop wat eindig met die byvoegsel “-fontein”. Bekend as ‘n Afrikaanse byskrywing. Verstommend. Werklik.
En dis nie net fontein of plaasname nie. Mens sou seker nie kwalik geneem word as dit jou eerste gedagte was nie. Maar daar is dorpsname ook (Bloemfontein). En voorname (mans en vroue), vanne, byname, diere, wildediere (Dassiesfontein), plantname, grassoorte en allerlei ander te veel om hier te noem. Almal wat eindig met die byvoegsel -fontein.
Ek moet nou wraggies in Engels sê “it’s quite mind boggling”.
Wat my werklik tref is die werk en tyd wat hierdeur opgeneem is om al die inligting te versamel. Sewe jaar net aan hierdie projek. Sy’t intussen ander boeke ook publiseer.
Maar terwyl dit ‘n groot swaar boek is, Matilda sê miskien koffietafel materiaal, vind ek persoonlik die inhoud fassinerend. Ten spyte van die gewig en glanspapier bladsye wat jy amper nie aan wil raak nie. Dit sal diegene wat geïnteresseerd is in die taalkundige herkoms van name in ons land aantrek. Die integriteit is verstommend.
Elkeen van hierdie 5057 vlaggies verteenwoordig ‘n fonteinnaam. Kan mens jou indink. En wie het nou al daaraan gedink om dit saam te vat in ‘n geskrif vir die nageslag? So dit vervat ook akademiese elemente. Maar terselfdetyd ook goeie humor.
Ek moet werklik aanhaal van Marlene Cloete se omslag aanmerkings “By menige pleknaambord, soms voor ‘n eensame plaashek op ‘n afgeleë plaaspad, staan die leser saam met die skrywer, verwonderd oor die vindingrykheid en skerpsinnigheid van die Afrikaanse taal”. Terdeë.
Matilda Burden is ‘n kultuurhistorikus van formaat. Dink net watse harde werk dit geverg het om sewe jaar lank aan hierdie boek te werk om alles daarin vervat met bewys te beaam.
Ek haal net ‘n paar fotos uit wat jou eie gedagtes kan laat sweef hoe dit alles versamel was… Kan jy glo daar’s ‘n totaal van 3060 waarin jy jou kan verstom.
Ek weet nie of ek hierdie harde werk verder kan ophemel nie want dan hou ek my lyf joernalis en ek is bloot ‘n skrywer. Maar ek kan werklik sê wie ookal genot daarin vind om oor volkskunde te lees en hul kennis te verbreed sal hierdie skrywe van groot genot en waarde vind.
Oppad na Doringbaai stop Jean sommer so in die middel van die stofpad, klim uit terwyl die 4 x 4 nog luier en stap vinnig oor die walletjie wat ‘n stootskraper seker gestoot het, die veld in. Karien neem nie juis notisie nie en kan ook nie uitmaak wat hy doen nie. Seker maar gaan broek losmaak. Sy kyk maar vorentoe in die pad en see se koers op links dat sy hom nie dalk in verleentheid stel nie.
Met sy terugkoms loop hy hand agter die rug en spring onskuldig weer oor die walletjie en klim met ‘n wye smile in die kar en leun oor na Karien met ‘n piksoen en van agter sy rug bring hy ‘n tjienkerientjees te voorskyn vir haar.
“Nou ja, noú kan jy sê jy’s in die Weskus kontrei! En boonop saam met my!” sê hy laf kordaat.
Sy leun oor na hom en rus haar arm op sy been om by te kom en gee hom ‘n langer soen in ruil. “Ek wou nog altyd weet hoe lyk en ruik ‘n tjienkerientjees…!” sê sy opgewonde.
Jean glimlag en sit die kar in rat om te ry terwyl hy haar betrag. Hy sit sy hand op hare en hou dit vas op sy been toe hy wegtrek.
En dis hoe dit begin het.
Dit was eintlik ‘n onverwagse affêre dat sy op die Weskus kom kuier het. Karien se ma, Elna, het ‘n ou skoolvriendin, Mercy, op die Woordfees in Stellenbosch teëgekom. Hulle was só bly. Hulle het mekaar jare laas gesien. Tannie Mercy het op Laaiplek gebly naby Velddrif. Haar twee seuns was op varsity in die Kaap. Die vroue was só bly om mekaar weer te sien en het land en sand aanmekaar gesêls en stories uitgeruil, so by so dat hulle gladnie by die Boeketent, enige boeke, skrywers en of bekendstellings uitgekom het nie en heeldag in Die Khaja net gesit en kuier het; geëet en gedrink en Martelize van RSG in die agtergrond gehoor het maar niks ingeneem het nie. Eenvoudig net mekaar se lewens-op-datum-bring gesêls.
Dis toe die dag einde se kant toe staan dat tannie Mercy haar ma nooi om te kom kuier op Laaiplek neffens Velddrif.
Ma was ook nie links nie want as weduwee was haar tyd haar eie. Sy was te eensaam op die plaas na pa se dood, die seuns wou beide medies swot op UCT en sy het dus toe maar met ‘n swaar hart vir Slechtsgenoeg verkoop. Met die opbrengs daarvan plus pa se polisse wat uitbetaal was, het ou Rossouw van die bank dit vir haar belê en was sy gemaklik met haar inkomste na sy die huis in Oranjezicht en ‘n nuwe Toyota gekoop het en permanent “dorp toe” getrek het.
“Ag ja! Ma moet gaan. Julle het soveel in gemeen klink my en dit sal Ma goed doen om bietjie weg te breek van die roetine en vir ‘n slag ander mense te ontmoet. Ek sal mos fine wees hier alleen en sorg dat die potplante gereeld water kry. Die African violets…!” Elna het later oortuig gevoel.
“Jean, Mercy se jongste seun, kom glo elke naweek huistoe na sy ma toe so as jy saam met my soontoe ry en met hom dalk ‘n lift kry huistoe dan’s ek ook tevrede jy’s nie alleen op die N7 nie. Jacques, die oudste, kom nie so dikwels kuier nie want sy kliniese internskap en sy meisie laat min tyd vir kuier toe”.
Nou ja dit was ook nie lank nie toe is die twee “oues van dae” se planne beraam en Elna sou die eerste naweek na maandeinde kom kuier. Ek gaan haar vergesêl Laaiplek toe en ‘n lift terug kry huistoe as Jean die Sondag na ete draai. Ek ken die man nog nie eens nie en hoop maar hy kan ordentlik bestuur.
Ons was voor Jean op Laaiplek die Vrydagmiddag en na ‘n opgewonde ontvangs, tannie Mercy se suster, Alie, wat op Velddrif gebly het was ook deel daarvan, het sy ons ons kamer gewys en na die bagasie versorg was is ons terug na binne.
Ons het net klaar tee gedrink en was nog besig om sonkamer toe te skuif toe Jean arriveer en sy tuiskoms weer begroet was deur die opgewonde “verwelkomings-brigade!”
Hy was nogal vors gebou en redelik langer as tannie Mercy met ‘n krulkop pikswart hare. Sterk kake met ‘n kuiltjie op die ken en diep stem.
“Hi, ek’s Jean” groet hy gemoedelik en sy antwoord met ‘n “ Hi, Karien”. Hul skud nie hand nie maar glimlag net vir mekaar.
“Hoe lyk dit, het ma klaar tee gehad en lyk my niks vir ‘n droë keel gehou nie?”
“Man, loop switch aan die ketel en maak vir julle ‘n beker koffie of kyk in die yskas daar’s koue bier - jy kan mos… Ag Karien loop kyk tog” stuur sy my agterna. Almal hoe en ha en lag en hy’s skaam kombuis toe met my agterna.
Ons twee sit toe by die tafel en koffie drink terwyl hy ‘n beskuit ook eet. Gesêls sommer net oor beuselagtighede. Ek moet sê so bietjie skaam en selfbewus. Terwyl ek die teegoed alles by die wasbak pak roep hy na binne vir sy ma.
“Gaan ons braai vanaand Ma; moet ek solank die vuur pak?”
“Ja, jy kan solank. Ek het vars kabeljou gekry by Swiegelaars, klaar geskraap en oopgesny. Dis in die spens se yskas” roep sy terug. “Ek is so lus vir galjoen maar met al die wette van toepassing deesdae maak dit maar die lewe moeilik om in die hande te kry“ verduidelik tannie Mercy vir ma binne.
Met al die gesêls en opvang van die verlede, die lekker vis braaie, en staptogte op die kaai is die naweek sommer een twee drie verby.
Net na middagete het Jean en Karien hul bagasie gelaai en vertrek terug Kaap toe.
“Dis lekker om ‘n passasier te hê vir ‘n verandering” sê Jean terwyl hy die radio sagter stel. ”Wat doen jy? Ek besef nou eers ek weet nie”.
“Ek werk by die Akteskantoor oorkant die parlementsgebou in Parliamenstraat”.
“O so jy’s darem nie ver van die huis af nie. Oranjezicht nê?”
“Ja…en dis lekker om etenstye in die Tuine rond te loop of by die kunsmuseum ‘n draai te maak. Partymaal sit ek sommer by die kafee en kyk vir die eekhorings of blaai deur ‘n Huisgenoot”.
Dis nie lank nie toe stop hul by die huis. Jean help haar met haar bagasie die trappe op. Sy nooi hom in maar hy maak verskoning. Hy’t nog werk om voor te berei vir môre se klasse.
Sy voel heel alleen toe sy in haar kamer kom en die vensters oopmaak. Sy wens eintlik die naweek het nou eers begin.
Die week het verbygegaan en die Saterdagmiddag vroeg is daar ‘n klop aan die voordeur. Dis Jean!
“Dagsê - hoe’s dit” vra hy na sy gegroet het. “Ek dag ek kom verby en kyk of jy nie wil gaan fliek of in Seepunt op die promenade wil gaan stap nie…”. Dis hoe die vriendskap eintlik begin het en teen die tyd dat hulle haar ma moes gaan haal het, het dit gevoel hulle ken mekaar lankal reeds want hy het weer kom kuier die volgende week en hulle het gevind hulle belangstellings het baie in gemeen. Hulle het van enerse dinge gehou of nie en meesal saamgestem oor dinge soos geloof, politiek en liefde.
Sy kuiers was mettertyd meer gereeld en Elna het naderhand gesien hier’s besig om ‘n ding te ontwikkel tussen Jean en Karien maar sy’t maar stil gebly dat dinge hulle eie koers gaan.
Dit was by die uitkykpunt op Clarence Drive een Saterdagmiddag dat hy haar hand gesoen het toe hy haar van die muurtjie afhelp. Maar die regte soen het gekom toe hul die aand op Seinheuwel al die liggies van die Kaap sit en bekyk. Hy’t haar nader getrek en omhels en ‘n sagte drukkie eers gegee voor dit ‘n druk word en hy haar sagte lippe teen syne voel. Hy wou haar nie los nie. Karien het toe oë terug gesoen en gevoel die liggies verander in sterretjies.
Dieselfde het gebeur op Tafelberg toe hul die volgende dag op is met die sweefspoor. Haar kop het lighoofdig gevoel toe sy besef sy’s besig om verlief te raak op Jean. En dit wou blyk hy voel dan dieselfde…
Toe hul die volgende naweek op is Laaiplek toe is Elna weer saam en sy en Mercy het agter hul breiwerk geredekawel oor die twee wat nou besluit het om Doringbaai toe te ry om te kyk of hulle nie galjoen of kreef in die hande kon kry by die plaaslike vissers nie. “Daai twee is mos verlief“ sê Alie. “Stem julle nie saam nie?”.
“Ek wil niks sê nie maar Jean kom kuier gereeld in die Kaap vir Karien en ek’t ook die gedagte gekry al” sê Elna.
“Wel ek sal bly wees want ek hou baie van Karlien. Ek dink hulle pas goed by mekaar”.
Min wetend het die drie van hulle geweet dat toe die kinders die afdraend sak en Doringbaai in ry en die bakkies sien dobber op die see het Karien nog ‘n tjienkerientjees gekry… en ‘n lang soen vol passie daarby. “Jy’s myne!” verklaar hy sag in haar oor.
Since kleintyd al op Graaffernet, in my memories van oupa se study onthou ek die ou Morris-stoel just to the right van die desk. Ek kon altyd op die arm van die stoel sit as oupa my geleer het van the square on the hypotenuse is equal to the sum of the squares on the opposite two sides …
Jirre ek’t ge-rattle om daai resitasie te remember en dan raak oupa impatient, hoor! Sy ronde brilraam se lenses wasem skoon op van ongeduldigheid.
En van isosceles triangles en bunsen burners moet jy my niks question nie.
Ek het gelike van resepte en Fyngoud en Tryna du Toit se library books en ouma se somershuisie met die moss ferns, coleus en peace in the home plante wat so mooi groei onder die dak van mudsakke tied to long poles to make shade. Ouma het always gesê die Karooson skroei hulle blare.
Agter die glass door was die rak teen die muur vol van oupa se roers en kieries en op die ground die twee casies met sy bowls. Een van die greens van die bowling club het hulle na hom gedoop: die Barnard green. Hy’t championships gespeel. En dan was daar ’n huge bookshelf van top to bottom vol boeke van science en maths en geography and you name it. ’n Lang riempiesbank, die groot ou regop wireless wat net shortwave speel en die divan onder die venster.
Sometimes as hy die bottel Jewellex aside sit, na hy horlosies reggemaak het, sy miniature skroewedraaiers in die box bêre en al die homework books opsy stoot, dan het oupa gesê ek het nou genôg geleer en ek kan maar die bagatellebord uithaal onder die divan. But I must mind laat hy nie stamp en niks gedamage word nie.
Ek was dan omtrent excited.
Dit was vol klein spykertjies en vlak gaatjies met ysterballbearings in die slootjie by die spring wat jy one at a time skiet as jy die spring styftrek, backwards en los. Dan skop daai spring die ballbearing tot teen die top vannie board. Die bruin board was van soft light wood met skuinstes teen die sides, solaat jy so teen ’n skuinste die balls kan opskiet to the top of the board.
Ek kon hom maklik optel as ek hom uithaal onder die divan. It was very light. Maar darem nie soos balsahout wat oupa die aeroplanes mee gebou het nie. Dié board het aan die bokant ôk gelyk nes die archway by Muriel Nicol se entrance in Cypress Grove. So ’n ronde semi circle. En die spykertjies was in curves by allie vlak holtes waarin die iron ballbearing moes val en every hole het ’n score gehad. Ever so dainty geverf, nogal in goue syfers nes Roman print. Oupa het score gehou.
Skiet mens té hard dan hol daai ball die hele board vol en jump in dié een gaat na die next gaat en nog een en skielik you find hy’t geval in die onderste voortjie wat nil score. Die ball rol dan ewe parmantig na die spring se kant toe en jy kan weer ’n chance kry vir skiet. Oe, oupa het nou gelike as ons dit speel. En dit was so exciting as jy groot gescore het. Ek kon sy valstande sien, wat geel word van al die cigars wat hy rook, as hy so lekker wyd en tevrede smile. Oupa het net met my gespeel en never met ouma. Maar hy’t ook maar vinnig bored en ongeduldig geraak, ‘cause ek kon nie die spring so lekker gewoond raak nie en skiet uneven of mostly te hard. Dan spring die ball sommer oor die rand vannie board af en ek moet kruip onder die stoel in om dit te gaan soek.
Ons twee kon lekker speel as hy in the mood was. Oppie bord so dwars gestel oor die Morris-stoel se armleunings. Die stoel het gestaan onder die family wapen vannie Barnards en oupa se graad certificate. Hy was B.Sc gequalify. G’n mens kon daai woord sê nie. Maar hy’t gesê hy’t gaan leer by die groot skool in Stellenbos.
Dan skrik ek skielik hard weer, ‘cause why hy vra sommer out of the blue mens moet die six times tables opsê. Dan kry ek skoon ritteltits… En recite ek nie reg nie dan’s oupa weer impatient! Mens het jou hande tog so vol to please everybody…
Ander dae het ons chess gespeel. En dit was a commotion, want elke slag as hy die houtboksie uithaal uit die drawer, kan mens sien hoe’t ek noughts en crosses gedraw oppie hout and always he had something to say about that.
Ons het min gespeel, ‘cause ek’t nooit remember waar die swart king en die wit king moet wees nie en forgot always was it knights of bishops eerste van die castle? En die pawns kon nou twee blokke move en dan weer net een-een. Dit was so confusing en oupa het my altyd getrump. But sometimes het hy moves gemaak on my behalf, soos hy my teach om te speel en dan het ek op en af gespring van excitement, want dan het ek gewen. Why, of course, I couldn’t care. Ek’t gewen so whê!
Thank the Lord dan is dit time dat ek ouma se tee kamer toe vat, want dis al quarter to four en sy moet klaar gerus kry nou en opstaan. Black tea met net ’n kwart lepel suiker.
Dis sulke tyd wat oupa disappear het in sy Mercury na die club toe daar oorkant die Groote Kerk om te gaan billiards speel met sy vriende. Dis glo baie same as bagatelle. Maar hulle skiet met stokke – niks springs nie, sê oupa. En dan drink hulle spots ôk! Kinders mag nie ingaan daar nie. Net vir grown ups. Ladies ook nie. Only men!
Meanwhile, terwyl ouma aantrek, het sy gesê kan ek twee Marie biscuits uit die biscuit mandjie in die sideboard vat en hop-scotch loop speel oppie koeltestoep tot mammie kom vannie job af. Maar ek moet versigtig wees by die glass door laat hy nie slaat nie. Sometimes het ek drie gevat,dit was darem so nice!
As mammie arrive het en almal klaar hallo gekiss het, het ons oppie sidestoep gesit en mammie het al die news vertel van by die werk en who all she saw en wie’s siek en wie’s dood, and so forth.
Ek moes dan solank gaan soda maak in die syphon innie pantry. Met tank water uit die kruik. Die swaar syphon was gebêre langs die broodblik by die bottels Milk of Magnesium, Sanatogen en ’n groot blik Klim. Ouma het boksies toothpicks in dié blik gebêre. En dan ook nog oupa se kali-fosfaat en ’n groot bottel Multivites. Hy’t sometimes vir my ook gegee, dan sê hy I won’t get colds.
Ek het dit niks gelike van dié soda water maak nie, ‘cause wanneer jy die pellet ingedraai het en finish gepuncture het, moes hy weer uitgedraai word, but slowly, and it’s thén wat hy just só hard geskiet net, soos ’n gun wat gefire word as oupa gaan koedoes skiet op die plaas!
Party smiddae mammie played piano in die sitkamer en you can then hear “Autumn leaves”, “As time goes by”, “Goodnight Irene” en still nog many more. Dan het ouma en mammie elkeen ’n spot gevat en ek het soppertafel gaan dek.
Dit was nie lank ôk nie, dan het ouma gesê sy gaan die club phone sodat Arthur sê oupa moet huistoe kom. Supper is on the table!
En lekkerste innie aand, na skottelgoed, kan ons by die wireless gaan sit en aandgodsdiens luister en afterwards was “Die du Plooy’s van Soetmelksvlei”. Die grown-ups kon so lekker lag vir ou Naas. Maar ek’t geluister vir die mooi tune wat die storie announce. Dit was nie boeremusiek nie. It was classical, 18th Variation on a theme by Pagannini. Whoever dié buitelander ookal was … But dit was vir my darem so beautiful.
Ja jong, those were the days toe mens nog kinders was op die Jewel of the Great Karoo en jou mense nog nie langs die grondpad Kroonvale toe gaan wegkruip het onder die sipresbome nie.
My se geliefde Graaffernet en sy dinge.
Ai, hoe long ek dan nou!
Kontak Elise Bishop direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.