Welkom op Makietiekop FW+ haal die koerant: Wanneer selfs jou kritici jou moet erken
Oranje-B Verklaar Onafhanklikheid, Verkry Reeds Tweede Spoedhobbeltjie
Afrikaner Geordende Rassisme Selfbeskikking Volkstraat

Oranje-B Verklaar Onafhanklikheid, Verkry Reeds Tweede Spoedhobbeltjie

ORANJE-B — Die pasgestigte Afrikaner-selfbeskikkingsprojek Oranje-B het hierdie week sy onafhanklikheid verklaar nadat inwoners van Bothastraat in Bloemfontein besluit het dat die tyd aangebreek het om hul eie volkstraat te stig.

Die projek volg nadat die oorspronklike naam "Orania" ongelukkig reeds geneem was.

Volgens stigter en tussentydse Eerste Straatspresident Coenie Müller is Oranje-B die logiese volgende stap in Afrikaner-selfbeskikking.

"Nie almal kan hul eie volkstaat bekostig nie," verduidelik Müller. "Maar by die UVDL glo ons elke volk verdien ten minste 'n volkstraat."

Oranje-B bestaan tans uit 17 huise, twee worshonde, drie Hilux-bakkies waarvan een permanent op bakstene staan, en 'n historiese munisipale spoedhobbeltjie wat onlangs tot nasionale monument verklaar is.

Die straat word beskerm deur twee veiligheidshekke, drie WhatsApp-groepe en 'n oom wat heeldag by sy venster uitkyk.

Volgens die grondwet van Oranje-B is almal welkom om aansoek te doen vir burgerskap.

"Ons diskrimineer teen niemand nie," sê Müller. "Tot dusver het net toevallig elke suksesvolle aansoeker dieselfde velkleur, moedertaal, politieke opinies en braaivleisvoorkeure gehad. Die statistiese waarskynlikheid hiervan is volgens die UVDL ongeveer dieselfde as om twee keer deur weerlig getref te word terwyl jy Lotto speel."

Die nuwe volkstraat het reeds sy eie vlag, volkslied en immigrasiebeleid aanvaar.

Besoekers wat die gebied wil binnegaan, moet kan bewys dat hulle minstens een keer in hul lewe oor Eskom gekla het.

Plaaslike inwoners is opgewonde oor die projek.

"Vir die eerste keer voel dit asof ons ons eie toekoms beheer," sê inwoner Hennie du Preez.

Toe joernaliste vra hoe Oranje-B van enige ander middelklas-woonbuurt verskil, het inwoners die onderhoud onmiddellik beëindig en die media van kulturele imperialisme beskuldig.

Teen druktyd was die regering nog onseker of Oranje-B as 'n onafhanklike entiteit erken moet word of bloot as die deel van die straat waar die buurtwag die meeste WhatsApp-boodskappe stuur.

Vorige Welkom op Makietiekop Volgende FW+ haal die koerant: Wanneer selfs jou kritici jou moet erken