Hier tussen die stofpaaie, windpompe, perde, storms en stiltes probeer ek sin maak van ’n wêreld wat altyd tussen uiterstes leef — droogte en reën, harde werk en rus, lawaai en stilte, partytjie hou en weer alleen raak met jou gedagtes.
Ek is Dehan Murray. Party dae maak ek musiek. Ander dae maak ek heinings reg, ry ek deur lande, kyk ek hoe die diere aangaan met hul lewens en leer ek iets by die grond onder my voete. Want ’n plaas leer ’n mens stadig. Hy leer jou van wagtyd. Van seisoene. Van verlies. Van hoop. Van hoe niks permanent droog bly nie, maar ook niks permanent groen nie.
Dis dalk hoekom ek begin skryf het.
Hier op Makietiekop gaan ek elke week ’n paar gedagtes los — stories uit die veld, uit die storms, uit die saai en maai, uit die mense en musiek en die vreemde klein oomblikke waar ’n mens skielik weer jouself raakloop.
As julle my sal toelaat om so tussen alles deur ’n bietjie tyd te steel, sal ek dit hier kom neersit. Want daar waar ek stil raak tussen die gras en wind, kom die beste gedagtes gewoonlik na vore.
Loer dus gerus in.
Kom kuier op my plaas —
en ’n bietjie in my kop ook.
Teken in om te kommentaar