Ds Jannie Pelser het op 22 Julie 2026 ‘n insiggewende gesprek op Radio Kansel se aktualiteitsprogram Perspektief oor politieke verskille binne Afrikanergeledere en hoe om dit te hanteer, gemodereer (https://iono.fm/e/1699072). Die ander deelnemers was Barend la Grange van Dialoog vir Aksie, ds Schalk van Heerden van Betereinders, en Frederik van Dyk van Ontlaer. Al drie deelnemers het bevestig dat hulle die bestaan van sulke verskille as gegewe en normaal aanvaar, maar dat die fokus en toon van gesprekvoering tussen die verskillende faksies veel te wense oorlaat.
Hulle het almal ook Pelser se Chat-GPT siening aanvaar dat die verskillende faksies by mekaar verby praat deurdat konserwatiewes fokus op die positiewe aspekte in die verlede en negatiewe aspekte van die hede en toekoms, terwyl progressiewes op die negatiewe aspekte van die verlede en hede en die positiewe moontlikhede vir die toekoms fokus.
Dit was ook egter duidelik dat daar belangrike ideologiese verskille tussen die deelnemers was. Van Dyk het vanuit ‘n redelik dogmatiese konserwatiewe perspektief geargumenteer dat daar niks verkeerd is indien wit Afrikaners grootliks self hulle eie belange probeer bevorder nie. Hy ontken egter ook dat Afrikaners deesdae net wit is omdat enkele konserwatiewe anderskleurige Afrikaanssprekendes ook met die saak van wit Afrikaners assosieer en identifiseer. Hy verwys hier waarskynlik na die Kaapse Forum en die Khoi- en San aristokrasieë wat , hoewel hy hulle nie genoem het nie, deur Afrisol gesteun en befonds word. Daarom beweer hy ras is deesdae irrelevant in Suid-Afrika, en dat alle rasverwysings moet verval.
La Grange en van Heerden het daarenteen duidelike konsekwente progressiewe standpunte ingeneem deur te argumenteer dat Afrikaners eerder saam met ander Suid-Afrikaners in almal se gemeenskaplike belang behoort op te tree. Hulle het geargumenteer dat ras steeds ‘n uiters verdelende rol speel in die land en dat dit oorkom moet word. Die beste strategie is egter nie deur dit te probeer ignoreer nie, maar om rasseverskille en konflik beter te probeer bestuur deur onder andere nie net een uit te sonder nie, maar eerder almal op gelyke voet te hanteer en saam te besluit oor die toekoms.
La Grange en Van Heerden se logika is meer konsekwent. Van Dyk het byvoorbeeld geswyg oor die feit dat konserwatiewe oplossings vir die toekoms alles sterk rasgebasseerd is, soos wit Orania, wit skole en die wit Bokkieweek demonstreer. Daar is dus fatale denkfoute en huigelagtigheid in sy konserwatiewe logika. Sy argument dat black lives matter soos Afrikaners s’n ook, en dat all lives matter niksseggend is, is ook alles rasgebasseerd en in stryd met sy uitgangspunt om ras te probeer skrap.
Van Dyk beskou konserwatiewes verder as gewone nie-intellektuele Afrikaners en progressiewes as intellektuele elites wat onsimpatiek is teenoor gewone Afrikaners. Dis feitelik foutief soos La Grange uitgewys het. Intellektuele eienskappe het niks met elite-status te doen nie. Dit kom voor by enige arm, middelklas of ryk persoon, ongeag afkoms en agtergrond. Ons is almal beide gewone mense maar ook elites agv ons gemiddelde Afrikaner lewensstyle wat meer gemaklik is as die gemiddelde lewensstyle van nie-wit Suid-Afrikaners. Daar is egter mense van alle rassegroepe wat arm is en sukkel om te oorleef.
Hierdie gesprek tussen konserwatiewe en progressiewe Afrikaners dui dus op wesentlike denkfoute in konserwatiewe argumente oor die rol van Afrikaners vandag in Suid-Afrika.
Dis verder duidelik dat die term ‘Afrikaner’ steeds baie kontroversieel is en dat die politieke ras-element wat daaraan geheg is deur die NP se apartheidsbeleid steeds in mense se geheues vassteek. Die feite is anders. Hendrik Biebouw het reeds as 16-jarige seun vir die eerste keer (weliswaar blykbaar redelik onder-die-invloed), die term Afrikaner gebruik in die sin van ‘gebore in Afrika’ (https://handelshuis.co/blogs/news/hendrik-biebouw-die-eerste-afrikaner). Dit het dus geen spesifieke rasse-konnotasie soos dit later deur opeenvolgende Afrikanerpolitici verwring is nie.
Miskien is dit tyd dat mens eerder Biebouw se sentimente moderniseer vir vandag se omstandighede en Ian Kennedy se nuwe woord ‘Afrikaaner’ begin gebruik. Dis meer ras-neutraal en 'n histories-korrekte verwysing na iemand wat in Afrika gebore is en Afrikaans as voorkeurtaal verkies..
Teken in om te kommentaar