'n Oplossing vir Palestina en Israel
Breek dit af
Breek die mure om jou af - uit “Tronk” deur Johannes Kerkorrel
And the Germans kill the Jews
And the Jews kill the Arabs
And the Arabs kill the hostages
And that is the news - “Perfect Sence” deur Roger Waters
As jy kyk na wat 7 Oktober gebeur het kan mens nie anders om in ‘n verslae toestand van skok net te wil treur nie. ‘n Afskuwelike aanval op Israel deur Hamas waar vrouens, kinders en mans voor die voet afgemaai is. Hierdie afgryslike geweldpleging, kan as niks minder as ‘n massa terroristiese aksie veroordeel word nie. ‘n Bloedstollende gebeurtenis, met Roger Waters se woorde wat maal in die agterkop.
Maar as die mensdom uit die geskiedenis leer, waar het Hamas geleer om so horribaal gewetenloos te wees? In 1947-1948 is dit presíés wat ‘n groep Zionistiese Jode aan die Palestyne gedoen het.
In ‘n memorandum, “Jewish Atrocities in the Holy Land,” voorgelê aan die VN in 1948, word uiteengelê hoe Jode “indiscriminately massacred civilians, old men, women and children of all ages. Jews bayoneted pregnant women. Jews cut children to pieces before their mothers’ eyes, then killed the mothers…. Jews shot and killed nurses. Jews in Haifa killed, mutilated and crucified Arab prisoners and wounded.”
Bloeddorstige aksies uitgevoer deur Jood op Palestyn word 70 jaar later op soortgelyke wyse deur Palestyn op Jood uitgevoer. Om die sirkel te voltooi antwoord Israel op ‘n wyse soortgelyk as wat die Nazis uitgevoer het op weerlose Jode.
Gaza word omhein deur Israel. Geen Palestyn mag die grens oorsteek nie, selfs nie eers na Egipte toe nie. Israel sny die water-, voedsel en elektrisiteittoevoer af en begin bombardeer. Eers in die Noorde. Versprei die nuus dat burgers moet vlug na die Suide en begin dan om die Suide te bombardeer.
Gaza is vandag ‘n konsentrasiekamp waarin mense van ‘n spesifieke etnisiteit soos diere in ‘n veldbrand vasgekeer sit. Met die bomme wat Israel laat reën in die gebied, word hierdie konsentrasiekamp ‘n opelug gaskamer, met paniekbevange, geteisterde Palestyne wat nie eers meer weet watter kant toe om te beweeg om te gaan sterf nie. Maar selfs dit maak nie saak nie, want die hongesnood wat Israel veroorsaak beteken dat jy oral in Gaza kan omkom, veral as jy na kos gaan soek, dan sal Israel en Amerikaanse huursoldate jou morsdood skiet.
So hou die mensdom aan om te leer uit die geskiedenis. Moordlustige lesse van geweld om weer en weer toe te pas op díé wat as ondergeskik en minder mens gesien word. Wat my terug bring huis toe.
Suid-Afrika was, soos ons almal weet, gedurende apartheid in ‘n posisie waar polities gemotiveerde geweld heeltyd uitgebreek het. Alles verstaanbaar gegewe die onregverdige onderdrukking van rassegroepe. Maar kyk waar sit ons nou? Vandag sit Suid-Afrika in ‘n toestand van relatiewe vreedsame bestaan, veral vergeleke met die krisis in die Midde-Ooste.
Daar is sekerlik mense wat dit sal bevraagteken met stellings dat daar ‘n oorlog teen wit mense tans in SA gevoer word. Ek is seker ons het al almal die vraag: “maar wat dan van plaasmoord?” raakgeloop iewers aanlyn waar ons onsself al meer bevind. Net om die perspektief aan die situasie te verleen: In Palestina het daar in minder as twee maande meer onskuldige Palestynse kinders wreed gesterf as die getal wit boere wat die afgelope 10 jaar in SA vermoor is.
Plaasmoord is ‘n ontsettende hartseer tragedie wat ten sterkste veroordeel moet word. So ook alle moord, ten spyte van die kleur van die slagoffer. Die moordsyfer in Suid-Afrika is onrusbarend en ongeoorloof, maar die situasie is geensins ‘n oorlogstoestand vergelykbaar met talle oorloë in lande soos Oekraïne en Israel/Palestina, Burkina Faso, Afghanistan, Sudan, Yemen en ander nie.
Suid-Afrika is ook heelwat meer vreedsaam vergelykbaar met ‘n Suid-Afrika wat kon gewees het as ons nie die pad van versoening geloop het nie. Stel jouself vir ‘n oomblik voor, ons wit kinders en broers opgeroep na ‘n weermag in aanslag teen ons swart en bruin broeders. Kinders in ons eie land voor die voet afgemaai om ‘n wit minderheidsregering vandag nog in mag te hou. Hoe lank sou daai lys gestorwe soldate, seuns van treurende moeders nie gewees het nie? Die SAUK nuus van ouds sou weereens gemaak het asof bruin en swart kinders wat uitmekaar geskiet is, se stukkende liggame en hul moeders se pyn niks beteken nie.
Fritz Gaum het in Rapport se Weekliks-bylaag met briljant genuanseerde argumente uitgelê dat beide Suid-Afrika asook Israel/Palestina se bevolkings so vermeng is, dat dit nie werklik logies sin maak dat ‘n land met so “roereier” bevolking net deur een groep van daardie bevolking regeer word nie. Dit was nie in Suid-Afrika volhoubaar nie en gemeet aan die geweld, duidelik ook nie in Israel/Palestina volhoubaar nie.
Daar word tans met geweld teen die Israel apartheidsregering met, in Joodse professor Yeshayahu Leibowitz se woorde “Judeo-Nazi” eienskappe (Prof. Leibowitz: There are Judeo-Nazis. Israel Represents the Darkness of a State Body.) geprotesteer. Israel het direk na die Oktober 7 fiasko, simpatie en ondersteuning van so te sê die hele wêreld geniet. Simpatie wat hulle dadelik gaan deponeer het by die vergeldingsbank deur ‘n moordadige aanslag op Gaza. Nie net Hamas nie. Die hele Gaza is in die spervuur. Bernie Sanders het verlede week in die VS senaat genoem dat 70% van die slagoffers vrouens en kinders is. Teen Woensdag 17 Jan 2024, was die dodetal meer as 24,000. Dus 20 keer meer sterftes as op Oktober 7, en daai syfer klim tans daagliks met 250+.
Maar soos Willy Mason in sy lied “Simple Town” sing “Death is easy to ignore when its numbers on a screen.” Dit is heeltemal te maklik om in syfers oor mense met tasbare wense,drome, gevoelens, aspirasies, kinders en familie te dink. Syfers laat ons vergeet van die siele wat die getalle verteenwoordig. Ons, die mensdom as ‘n spesie kan beter as dit doen. Ons hoef nie Bybelse uitkomste na te streef nie, veral nie verdraaiings daarvan nie. Dit sal lei tot armageddon. Ek weet daar is groot groepe mense wat Sionisme ondersteun, juis omdat dit op die ou end gaan lei na die einde van die aarde waarna hulle so reikhalsend uitsien. Vader weet hoekom hulle dit so najaag. Ek wil nog graag my kleinkinders ontmoet.
Intussen word daardie simpatie wat Israel geniet het, al minder en minder. In selfs Westerse, pro-Israel lande groei die optogte. Selfs in Amerika wat so te sê Israel is vir alle politiese doeleindes, begin die publieke stem teen Israel se volksmoord en die Amerikaanse aandadigheid daarin al hou harder. Nie wat jy wil hoor voor ‘n belangrike verkiesing nie. In die Ooste is daai simpatie lankal op en lande soos Yemen het alreeds begin oorlog voer teen Israel. Die waansinnigheid is alreeds verby brandpunt en moet eenvoudig end kry.
Dis moeilik om te sien dat daar enigsins vrede vir Israel in die toekoms kan voorlê. Israel se toekoms is moordslag en bloed. Tans vermoor Israel die Palestyne, maar as al die Palestyne eers vermoor is, dan gaan Israel biljoene meer vyande as vriende hê die hele wye toekoms in. Israel gaan nooit vergewe word vir die moord wat hy vandag pleeg nie. Israel gaan vir die res van sy bestaan sy kinders moet oplei om sy geveg met die wêreld om hom te bly voer. Israel het eintlik sy eie toekoms vermoor.
Om ‘n werkbare langtermyn oplossing te vind, moet ons na die ware oorsaak van hele probleem kyk.
Daar is in sekere kringe ‘n kollektiewe blindheid vir die menswees van sekere groepe mense. Asof net wit siele sielswaardig is. Histories gesproke is Engeland, Amerika, Australië, Europane, jy weet, wit lande, wat die laaste jare in die weste die onderdrukking doen. Ondersoek gerus die demografie van lande/leierskap wat goed soos Slawerny, Kolonialisme, Apartheid, Nasionalisme, Demokrasie vir Een Soort (SKANDES) veroorsaak. Palestynse siele geniet doodeenvoudig nie dieselfde aansien in die oë van die Westerse wêreld nie, maar duidelik van selfs nog minder waarde as geen in die oë van Israel se owerhede.
In wals Suid-Afrika by die Internasionale Hof soos ‘n wafferse Nelson Mandela uit die dood en sê, “Never Again!” Never again apartheid, means never again Apartheid anywhere. Dis hoekom dit legendaries en histories korrek is dat dit Suid-Afrika moet wees wat die saak voor die Internasional hof moes kom stel het. Mense wat gely het onder apartheid sien die gevaartekens as dit met ander gebeur. Suid-Afrika is die land wat die menswaardigheid van die verrinneweerde mens in puin raaksien en sê: enige kind wat ly, is my kind wat ly. Sy pa is my broer, elke ma is almal se ma. Ons is almal mense. Ons kom almal van dieselfde plek. Daarom is dit Suid-Afrika wat vir wêreld sê haai, wat maak julle? Daar is mense onder al daai bomme!
Ek voel Suid-Afrika fouteer deur te dink dat ‘n twee-staat oplossing moontlik is, veral as een van daardie state al die hulpbronne bestuur, maar desnieteenstaande, in die groter prentjie is Suid-Afrika self, met al haar kraampyne, die voorbeeld van ‘n oplossing. Na 27 jaar stap Nelson Mandela uit die tronk uit die presidentskap in en sê: kom ons probeer ‘n nuwe ding, kom ons probeer vergifnis. Na jare se mishandeling is sy antwoord, vergifnis.
Hierdie oorlog is die uitbarsting van ‘n wond wat lankal sweer. Dog bly dit die grond wat talle mense tuiste noem. Die verdelende mure moet af. Dit moet een land word.
Kan daai nuwe land Israel wees? Nie as langtermyn vrede die doel is nie. Israel het uit hul minagting van ander lewens gewys dat hulle nie die waardige regering kan wees om oor almal te dien nie. Die vertroue en liefde ontbreek, of liewer, die haat is verby kookpunt. Ook gegewe hoe hulle tot stand gekom het: ‘n getraumatiseerde volk. Slagoffers van die aaklige karma van Nazisme. Verwese siele sonder heenkome wat soos kernafval Midde-Ooste toe gepos is, net om uit te vind daar woon klaar iemand op die land wat aan hul beloof is. Volg daardie prentjie ‘n denkbeeldige toekoms in, is dit enigsins snaaks dat wat gebeur, nou gebeur? Israel het moontlik sy eie einde bestem deur die volksmoord wat hy tans pleeg.
Mense wil dit nie indink nie, want Israel verteenwoordig iets vir hul Godsdiens. Maar te veel keer op aarde is bewys dat wanneer Godsdiens gebruik word om mense te regeer, volg die identifisering van die “ander” en daarna onderdrukking en ongelykheid, wat die kruitvat en vlam is vir geweld, onrus en selfs nou hierdie oorlog. Ons moet vrede maak, die hele mensdom met mekaar, onder mekaar, sodat ons almal vryheid en vrede kan geniet om in ons eie huise Godsdiens te beoefen, of nie, weg van publieke ruim. En dis alles moontlik in teorie.
Voor die handliggend is dat vir ‘n werkbare oplossing moet:
- Die land een word.
- Gelyke burgerskap aan almal.
- Daar kan dan gestem word vir ‘n nuwe naam, nuwe regering, nuwe alles. Demokratiese besluite.
- die regering MOET sekulêr wees. As God wil wen, moet God soos enige ander party in persoon inskryf vir die verkiesing. Hou God uit die raadsaal. Dit geld vir almal se gode.
- Almal moet saamleef en hul lewens saam regeer, hulpbronne deel, ens..
Ek spring jou voor, ek glo al hierdie bogenoemde ideale is wensdenkery en super-onrealisties om te bereik, maar dis my tafelminimum as jy my vra, wat nodig is om langtermyn vrede te maak. Dog, elke kompromie wat op daardie lysie gemaak word, boet so bietjie van daai gewensde vrede in.
Asof ek nie vir al te veel vra nie, wil ek ook die volgende by my persoonlike wenslysie aanheg:
Amerika moet ophou om die Midde-Ooste soos ‘n ysterkoei te melk om sy wapenindustrie ge-olie te hou.
Duitsland moet ophou Israel ondersteun en help deur onthuisde Palestyne te huisves. Dis die minste wat Duitsland kan doen met hul ideologiese skuldlas, kwynende bevolking en groot leë huise, bouvernuf en vindingryke maniere om mense aan die werk te kry.
So ook al die ander lande wat Jode na die Nazi’s se slagpale help lei het. Frankryk, Nederland, dis iets wat julle kan doen om die pyn te help verlig. Elke land met goeie wil kan help om mense in te neem. Almal, behalwe asseblief nie Amerika nie. Daardie land is te gevaarlik nou, hulle het al die wapens in die wêreld, moerse verdeeldheid, ‘n minagting van bruin mense onder geledere, en ‘n geskiedenis van mekaar afmaai. Hierdie mense is deur genoeg, of te wel, dit wat van hulle oorgebly het terwyl Israel hulle afmaai en die wêreld, stomgeslaan, hande afgekap toekyk hoe Netanyahu ‘n goddelose volkslagting suksesvol uitvoer.
Teken in om te kommentaar