Daar is mense wat grootword in die geraas van geskiedenis – en ander wat leer om daarin die stilte raak te hoor. Gert Rautenbach behoort tot laasgenoemde soort.
As seun van die legendariese rolprentmaker Jans Rautenbach en Almeri Rautenbach het hy grootgeword in die skadu én die lig van ’n naam wat diep ingegrif is in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis. Waar sy pa se films die Afrikaanse verbeelding oopgebreek het met dramatiese gebare en estetiese durf, beweeg Gert se eie werk in ’n ander register: stiller, skerper, meer ekonomies – soos ’n enkele lyn wat presies weet waar hy moet ophou.
Hy is getroud met Betsie Rautenbach, en leef en werk in Kaapstad – ’n stad waarvan die lig en ruimte dikwels soos ’n ongeskrewe agtergrond in sy werk aanwesig voel.
Op sy blog skryf Gert Rautenbach soos iemand wat eers lank kyk voordat hy praat. Hy skryf oor films, boeke, gedigte, kunstenaars – maar selde as beoordelaar. Eerder as mede-reisiger. Sy inskrywings het iets van die ou essaytradisie: persoonlik, aandagtig, en sonder die haastigheid van menings wat wil oorheers.
Dit is die soort skryfwerk wat nie probeer wen nie, maar probeer verstaan.
Daar is by hom ’n liefde vir detail – vir die klein skuif in betekenis wat plaasvind wanneer ’n beeld reg gelees word, of ’n reël poësie onverwags begin oopgaan. Sy blog funksioneer amper soos ’n notaboek van aandag: ’n plek waar kuns nie verbruik word nie, maar bewoon word.
As visuele kunstenaar werk Gert Rautenbach hoofsaaklik in ink op papier – ’n medium wat nie vergewe nie. Sy tekeninge is minimalisties tot op die been gereduseer: ’n figuur wat net-net daar is; ’n gebaar wat halfpad tussen teenwoordigheid en verdwyning hang; ’n lyn wat meer suggereer as wat dit wys.
Hierdie eenvoud is nie armoede nie. Dit is dissipline.
Sy werk herinner soms aan ’n soort visuele fluistering – iets wat jy maklik kan miskyk as jy haastig kyk. Maar as jy stadiger raak, begin die lyn praat. Dan word die figuur nie net ’n vorm nie, maar ’n toestand: skaamte, verwondering, onsekerheid, menslikheid.
Daar is in sy tekeninge ’n besonderse vertroue in die krag van minder.
Dit sou maklik gewees het om binne die skadu van ’n groot filmmaker se nalatenskap te bly staan. Maar Gert Rautenbach se werk kies nie die pad van herhaling nie. Hy maak nie films soos sy pa nie. Hy maak iets nader aan aantekeninge van bewussyn – in woorde en lyne.
Waar Jans Rautenbach die Afrikaanse kamera laat praat het, laat Gert Rautenbach die Afrikaanse lyn dink.
Sy blog en sy tekeninge vorm saam ’n stil maar volgehoue gesprek met kuns, herinnering en waarneming. Dit is nie werk wat aandag opeis nie. Dit is werk wat aandag beloon.
Dit is een van die ewige gegewes van reportage dat kunstenaars in verre lande "vervolg" word. In repressiewe plekke soos Rusland, China, Iran en die ou Suid-Afrika veg hulle om waarheid-aan-mag te spreek. Hul werke word onderdruk en verban en eers jare later, indien ooit, sien dit die lig. Feitlike alle verslaggewing oor kunstenaars uit diesulke lande, vandag nog, word deur hierdie lens gedoen.
Hierdie praatjies laat my altyd met 'n wrang glimlag. Min mense weet bv dat die belangrikste versameling moderne Westerse kuns buite Noord-Amerika en Europa in die Tehran Museum vir Eietyds Kuns is.
Neem die geval van die mees beroemde filmmaker uit die Sowjet Unie - Sergei Eisenstein.
In die jaar van die groot Russiese Rewolusie - 1917 - was DW Griffith se fliek Intolerance besig om stadig maar seker deur die wereld te reis. Griffith was ontsteld dat mense aanstoot kon neem teen sy vorige fliek - Birth of a Nation - waarin die helde (die Ku Klux Klan) die Amerikaanse Suide red van Swart stemgeregtiges.
Hy wou wys waar sy hart regtig lê en het 'n manjifieke storie konsipieer wat onverdraagsaamheid uit vier eras verweef in een fliek, rondom die beeld van Lillian Gish wat haar baba wieg ...out of the cradle endlessly rocking....
By die loket was Intolerance so groot flop soos wat Birth of a Nation 'n sukses was. Maar vir kommuniste oral was dit soos die poorte van die hemel wat geopen het. Lenin het vir Griffith geskryf en aangebied dat hy die Sowjet Unie se filmindustrie kon oorneem.
Griffith het ge-nee-dankie, en binnekort sou die Sowjet Unie hul eie ster, nog groter as Griffith, hê: Eisenstein.
Eisenstein se flieks Strike!, Oktober en die Battleship Potemkin was alles hee-ha! kommunistiese propaganda - maar die filmtaal van Intolerance is vinnig opgetel en dramaties verdiep, die beelde het oorspoel met 'n golf van emosie en energie. Dit was 'n internasionale sensasie, skielik was kommunistiese Rusland op die voorpunt van filmkuns.
Dit was die dae van die "silent movies".
En toe, uit Amerika, kom twee goed: "talkies", en 'n plek in Los Angeles met die naam Hollywood.
Eisenstein gaan Hollywood toe. Amptelik is dit om "klank" na te vors, maar eintlik omdat die glans en die nuuskierigheid hom opeet.
Hy was vyf jaar in die Weste. Sy reputasie het hom voorafgegaan. Hy het 'n reuse kontrak van Paramount Pictures gekry, toegang tot al die sterre van Hollywood, die borgskap van die grootste ster van die tyd - Charlie Chaplin. Die linksgesinde gemeenskap in Amerika het sy elke doen en late gevolg en vir hom duimvasgehou.
En wat het dit opgelewer? Zero.
'n Warboel stukkies van wie-weet-wat, maar nie 'n enkele fliek nie.
Eisenstein is terug na die Sowjet Unie met leë hande, waar die industrie reeds oorgeslaan het na klank sonder sy hulp.
En daar het Stalin gewag - die mees gevreesde tiran in die wêreld. Vir wat sou Eisenstein ooit weer teruggaan na Moskou? Wat het verkeerdgegaan in Amerika? Te veel vryheid?
Eisenstein, in hierdie laaste fase, sou nog twee flieks maak, altwee direk op Stalin se bevel. Alexander Nevsky was 'n stuk diknek propaganda op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog, dit wys hoedat Stalin se voorsate Hitler se voorsate verjaag.
En die laaste een - Ivan the Terrible. Stalin het homself blykbaar met die 16de eeuse diktator vereenselwig.
Ivan is gemaak in die laaste jare van die 2de Wêreldoorlog en het uitgesprei in drie dele, elkeen omtrent 90 minute. Die eerste deel van Ivan is uitgereik nog voor die oorlog verby was, en was, soos Alexander Nevsky, 'n groot sukses.
Die tweede deel is verban en nie uitgereik tot na Stalin (en Eisenstein) se dood nie.
Die derde deel was nog in wording en Eisenstein moes dit blitsig kortknip om nie verder Stalin se haat op die hals te haal nie. Net enkele fragmente daarvan bestaan.
Deel 1 vertel jong Ivan, sy oorloë en die verraad van sy aristokrasie. Dis redelik voorspelbare stof, maar gemaak met 'n fantastiese oog vir drama en tema, met godsdienstige ikone wat oor alles sweef en oë wat dophou. Regverdigheid teen die mure.
Deel 2 maak baie meer van Ivan se eensaamheid, sy kompromieë met die kerk en die aristokrasie word so semi homo-eroties uitgebeeld.
Een toneel in die fliek is in kleur geskiet - die dans macabre van Ivan se makkers. Eisenstein het ten doel gehad dat dit die groot sintese van al die kunste moes wees, waarna Wagner so gestreef het.
Die grootste oomblik van die film ( en dit is die hoendervleis werd ) is wanneer Ivan sy vyand Staritska trick om die Tsar se kroon op sy kop te sit en die godsdienstige prosessie die kerk in te lei, waar 'n sluipmoordenaar wag.
Wanneer Staritska se ma na die tyd haar kind op die kerkvloer vashou, en haar seun se lyk uit haar skoot gesleep word, bly sy met net die kroon in haar hande - die kroon waarvoor sy vir jare geheul het, en wat vir net 'n paar minute op haar seun se kop was.
Was Eisenstein, die groot kunstenaar, 'n slagoffer?
Na sy lang afwesigheid en mislukkings, om weer terug op die perd te kom, het Eisenstein vir Stalin 'n gat in die kop gepraat dat die werklike skuld vir sy dekade-lange depressie by die hoof van Sowjet film gelê het.
Stalin het die man - Boris Shumyatsky - summier laat doodskiet. En daarna was dit terug na besigheid. Films moet gemaak word. Shuyatsky was ten tye van sy dood besig met die konstruksie van "Kinograd" - Filmstad - Die Sowjet weergawe van Hollywood.
Eisenstein, wat in die hart van Hollywood USA was, kon geen betekenisvolle manier kry om van al hierdie glans deel te wees nie.
Aan die einde van die dag is kunstenaars, soos ons almal, deels goed en deels sleg, deels slagoffers en deels toedieners, deels radikaal eerlik en deels leuenaars en bedrieërs.
Dit is die kuns wat alles heilig.
Die Rebellie van 1914 was een van die mees traumatiese episodes in die Afrikaanse geskiedenis (waarskynlik 2de naas April 1994). Dit het gevolg op die Boereoorlog 12 jaar tevore. Die Boere het die "Boer War" verloor, maar dit was in werklikheid 'n triomf - die hoë morele toon van die Engelse was vir altyd vernietig.
Moeder Engeland moes die duurste denkbare kampanje op die been bring: een British Empire soldaat vir elke Afrikaner (man vrou en kind), sowel as die grootste mensejagting in wereld geskiedenis: vir Christiaan de Wet en die ou Vrystaatse President Steyn agterop sy perd, 'n blywende simbool van vryheid. Die konflik het Queen Victoria na haar graf geneem, sy het gesterf met die woorde "failure is not an option", maar nooit die victory gesien nie.
Dit word in die geskiedenis onthou as die begin van beide die guerilla-oorlog en trench-war era en die onvergeeflike Britse konsentrasiekampe en grootskaalse verbranding van Boere plase.
Asof enige iemand wat Afrikaans kan lees dit nie sal weet nie.
Maar die Boere was nie werklik verslaan nie, hulle was ten volle gemobiliseer en kort voor lank was die Afrikaanse Nelson Mandela - Louis Botha - aan bewind. Botha was 'n formidabele leier vir beide Boer en Brit, hy het sy eertydse vyande so beskaam dat dit vir hulle moeilik was om hom in die oë te kyk.
Onder hom was sy verengelsde, onverstaanbare, vervreemde, intellektuele Thabo Mbeki - Jan Smuts.
Die Rebellie van 1914 was die gevolg van Botha en Smuts se besluit (seker nie 'n maklike een nie) om tot die Eerste Wêreldoorlog toe te tree deur Namibia in te palm vir die Empire.
Daar was 'n onmiddelike, spontane reaksie deur al die Boere leiers, wat die oorlog as 'n godgegewe kans gesien het om van die Engelse ontslae te raak. Maar Botha was vasberade, en het aangekondig dat hy beheer van die weermag sal neem en enige rebellie persoonlik sal onderdruk.
Daar was 'n oomblik van aarsteling in die lug en meeste Afrikaners het besluit om niks te doen nie.
Des nieteenstaande was daar tog 'n rebellie - dit was klein, maar genoeg om alle goeie trou tussen die voormalige kamarade vir ewig te vernietig. Generaal Beyers het verdrink in die Vaal Rivier. Generaal de la Rey is doodgeskiet by 'n pad blokkade. Generaal de Wet se seun is gedood, en hyself gevang en tronk toe.
Een offisier wat nooit formeel uit die weermag bedank het nie - Jopie Fourie - is skuldig bevind aan hoogverraad en het die doodstraf gekry.
Daarna was alles verby. Jan Celliers het 'n gedig geskryf "Jopie Fourie"
Daar trek 'n koeel met spoed met spoed
Hy's nat van Afrikaner bloed
En smart die boodskap wat hy voer
Hy kom uit Afrikaner roer
Johannes van Melle was een van die rebelle . Uit sy ervarings daarvan het hy "Bart Nel" geskryf. As jy vir enige iemand van my geslag die woorde "Bart Nel" sê, dink hulle dadelik
Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy.
Dit was ons almal se voorgeskrewe boek op skool. Dis Bart se laaste woorde in die boek en die een wat onderwysers onderstreep het as die kern van die storie.
Wel, dit is en dit is nie.
Bart Nel is een van die beste boeke wat ek nog ooit gelees het.
Dit kom uit 'n diep-gevoelde emosie en woede - maar soms, wanneer 'n skrywer so seker is oor wat hy wil sê, maak dit sy weergawe van die wereld omstandighede ryk en glas-helder - hy kan liberaal toegee aan alles wat hy vrees en veroordeel, omdat hy geen balans probeer soek nie, hy is totaal gegrond in wat die uiteinde van dinge sal wees.
Dis die geval met Bart Nel.
Bart is, soos die skrywer voel, 'n rebel wat alles verloor maar sy siel behou.
Wat maak dit Fransiena, die vrou wat hom verlaat? Die een wat alles behou maar haar siel verloor? Glad nie. Sy behou dieselfde soort suiwerheid as Bart, op haar eie manier.
Die verhaal is basies
Bart besluit om sy gesin te verlaat en die rebellie te join, al waarksu Fransiena dat sy hom nooit sal vergewe nie,
Na hulle afskeid in die eerste hoofstuk praat Bart en Fransiena nooit weer met mekaar in die hele boek nie. Die res van die hoofstukke vertel hulle twee aparte stories in paddaspronge verby mekaar.
Bart is betrokke in een skietgeveg waarin een regeringsoldaat sterf. Die rebellie misluk.
Bart gee homself en sy kommando oor. Niemand in sy groep erken enige betrokkenheid met die soldaat se dood nie, en Bart word na Pretoria gevangenis gestuur.
Fransiena is te kwaad om Bart te besoek, hy is te trots om haar te vra.
Sy skryf 'n koue brief vir hom, ter wille van die kinders (en kry 'n ewe koue brief terug).
Skuldeisers wys aan Fransiena IOUs - goedere wat Bart gekommandeer het in die naam van die "rebellie". Sy voer haar eie bittere verlore stryd teen bankrotskap.
Fransiena soek hulp by 'n prokereur op die dorp - Ferdinand Basson - en 'n versigtige verhouding ontwikkel tussen die twee. Hy kry 'n koper vir haar plaas.
Fransiena skryf 'n brief aan Bart en vra of hy wil skei. Sy berou dit die oomblik wanneer sy dit pos.
Bart se antwoord is natuurlik "As jy wil skei, skei".
Hulle skei en sy hertrou met Ferdinand.
Bart word vrygelaat en keer terug na dieselfde klein dorpie, sonder gesin of plaas.
Wanneer Fransiena hom weer sien, op 'n afstand, bars sy in trane uit en kan nie dink wat haar besin het nie.
Sy probeer via haar pa toenadering maak aan Bart. Bart wil niks weet van haar nie. Fransiena se pa skud sy hand en sê "Ek is jammer om jou te verloor ou seun". Een van die beste oomblikke in die boek.
Fransiena bly by haar man, wat oor haar voel soos "'n hond wat nie genoeg kos kry nie". Hy vra haar – wil jy terugkeer na Bart en sy antwoord "Ja, maar hy wil my nie hê nie. Maar jy wil my darem nog hê". Dis vir hom 'n enorme verligting om te hoor en vir haar om te verbaliseer. Op daardie oomblik bind die twee hulle lot aan mekaar. Dis die boek se een groot counterpoint.
Bart se dogtertjie skuif van sy plot af na sy ouers op die dorp, sodat sy kan skoolgaan. Bart eindig alleen, "met sy siel in hom". Dis die ander groot counterpoint.
Kontak Gert Rautenbach direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.