Ek is (was) 'n Suid-Afrikaanse kinderboekillustreerder. Voor die koms van AI. Nou is ek programbestuurder vir Grafiese Ontwerp by Noroff, School of Digital Media and Technology in Noorweë.
Ek is in die 80's in Potchefstroom, Suid-Afrika, gebore en bring my kinderdae in Pretoria deur en later Venterstad in die Bo-Karoo. Ek het BA Grafiese Ontwerp aan die Noordwes Universiteit, Potchefstroom, studeer. Tydens my studies raak ek in die geheim effens obsessief oor illustrasiewerk. Grafiese ontwerp hou egter die pot aan die kook en ek werk daarna vir agentskappe in Bloemfontein en Kaapstad. Daarna verruil ek sentraal Suid-Afrika vir die Kaap en doen vryskutwerk vanuit Hermanus en daarna Bettysbaai en Greyton. Ek het daarna vir amper vier jaar naby Edinburgh, Skotland, gebly.
Die meeste van my kinderboeke (insluitende 'n aantal voorbladontwerpe vir jong volwassene literatuur) word deur Lapa Uitgewers gepubliseer - ’n afdeling van Penguin Random House Suid-Afrika. Ek het ook 3 boeke geïllustreer vir Think Equal (Verenigde Koninkryk) vir hul wêreldwye SEE Learning program (Social, Emotional, and Ethical Learning). 'n Mini-strokiesprent is ook gepubliseer deur Image Comics Inc.
In 2019 was ek die grafiese ontwerper van 'n uitstalling vir die Universiteit van Huddersfield en Leeds Beckett Universiteit.
Ek leef en werk tans in Dale (net buite Bergen), Noorweë.
Kontak Linki Brand direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.