Ingrid Jones is een van daardie stille bouers van die Suid-Afrikaanse mediapublieke sfeer — iemand wie se werk dikwels agter die skerms gebeur, maar wie se invloed duidelik sigbaar is in stories, tydskrifte, gemeenskapsprojekte en taalgesprekke wat mense oor hul herkoms en plek in die wêreld laat nadink.
Sy begin haar loopbaan nie in ’n nuuskantoor nie, maar in ’n klaskamer. As onderwyser in Afrikaans en kommunikasie-studies het sy vroeg reeds ’n passie ontwikkel vir taal as draer van identiteit en gemeenskapsgeheue. Hierdie belangstelling sou later ’n deurlopende tema in haar werk bly: die idee dat stories nie net vertel word nie — hulle bou mense.
Mettertyd skuif sy na die wêreld van radio en televisie, waar sy ervaring opdoen as aanbieder en inhoudmaker. Hierdie fase van haar loopbaan slyp haar vermoë om met uiteenlopende gehore te kommunikeer — ’n vaardigheid wat later van groot waarde sou wees in haar rol as redakteur, uitgewer en mediabestuurder.
Vandag is sy veral bekend as mede-stigter en inhoudsdirekteur van Mikateko Media, ’n Kaap-gebaseerde mediamaatskappy wat fokus op publikasies, storievertelling en platforms wat Suid-Afrikaanse stemme sigbaar maak. Onder haar leiding het die maatskappy betrokke geraak by verskeie betekenisvolle projekte, onder meer die herlewing van die tydskrif The Afropolitan, en samewerking met gemeenskaps- en onafhanklike publikasies soos The Big Issue. Haar werk is dikwels gerig op die bou van brûe tussen kommersiële media en gemeenskapsverhale wat andersins maklik verlore kan gaan.
Maar miskien is dit tydens die Covid-19-inperking dat een van haar mees menslike projekte ontstaan het. Wat begin het as ’n eenvoudige Facebook-inisiatief waarin mense hul familie-reseptes en “komvandaan”-stories deel, het ontwikkel tot die Lockdown Recipe Storytelling Book en later die platform Koe’sister — ’n ruimte waar kos, herinnering en identiteit saamkom. Hierdie projek het nie net resepte versamel nie; dit het familiegeskiedenisse bewaar.
Benewens haar mediabedrywighede is Ingrid Jones ook betrokke by organisasies wat Afrikaanse skryfwerk, vroue-ontwikkeling en gemeenskapswelstand bevorder. Haar betrokkenheid by die Black Afrikaans Writers Forum en verskeie sosiale projekte weerspieël ’n breër verbintenis tot taal as ’n inklusiewe en lewende kultuurinstrument.
Sy is ’n alumna van die Universiteit van Wes-Kaapland en het vir ’n tyd in Pringlebaai gewoon — ’n landskap wat, soos soveel van haar werk, die gevoel dra van stil nadenke en verbondenheid met plek.
Wat Ingrid Jones se loopbaan besonders maak, is nie net die publikasies waaraan sy gewerk het nie, maar die soort stories wat sy help moontlik maak het: stories van herkoms, van taal, van kos, van gemeenskap. Haar werk herinner daaraan dat media op sy beste nie bloot nuus versprei nie — dit bou geheue.
Die herbegrafnis van die Steinkopf 63 moes eintlik vir bruin mense ou wonde en die prys van ’n onverwerkte verlede ontbloot het – maar dit het meestal nie. INGRID JONES wonder hoekom Suid-Afrikaners aanhou om hul eie geskiedenis mis te kyk.
Opsomming:
Die oorskot van 63 Khoi- en San-mense van Steinkopf is ná koloniale onreg pas na SA teruggebring en hier herbegrawe.
Bruin Suid-Afrikaners ignoreer dikwels die wonde wat ons eie pynlike geskiedenis veroorsaak het en fokus eerder op internasionale gebeure.
Selfs die herbegrafnisproses het ook nie met die nodige konsultasie en respek plaasgevind nie.
Deur Ingrid Jones
Ek het twee agtereenvolgende dae 'n foto van die herbegrafnis van die Khoi- en San-gebeentes op my Facebookblad geplaas en amper niemand het daarop gereageer nie.
Maar plaas ek ʼn foto van ʼn bord kos of van my dogter, wemel dit van die likes. Hoekom hou net ses mense daarvan as ek iets ernstigs plaas? Een persoon vra waaroor dit gaan, iemand anders sê sy volg dit op die nuus maar verstaan dit nie regtig nie, en nog een laat hoor sy is van Namakwaland en verstaan ook nie hoekom en hoekom nou nie.
Agtergrond: Wat ChatGPT oor die Steinkopf 63 sê
“Die oorskot van 63 Khoi- en San-mense is in 2026 in die Noord-Kaap naby Steinkopf, herbegrawe. Hierdie mense het in die 19de en vroeg 20ste eeu geleef.
Hulle grafte is in die koloniale tyd tussen omtrent 1868 en 1924 opgegrawe. Die beendere is na museums en universiteite geneem, onder meer die Hunterian Museum by die Universiteit van Glasgow en die Iziko-museum in Kaapstad.
In die laat 1800’s en vroeë 1900’s het wetenskaplikes menslike oorskot versamel om rasse-teorieë te bestudeer wat Europa se meerderwaardigheid wou bewys. Die grafte van inheemse mense is soms geplunder of sonder toestemming opgegrawe. Die beendere isdeur museums en ander versamelings as wetenskaplike monsters hanteer.
In die 2020’s het Suid-Afrikaanse owerhede en Khoi-San-gemeenskapsleiers met oorsese museums begin onderhandel en die oorskot is na SA teruggebring. Seremonies is gehou om die voorouers terug te verwelkom en hul waardigheid te herstel.
Waarom die herbegrafnis saak maak
Vir Khoi- en San-nasate:
Dit erken koloniale ongeregtighede.
Dit herstel die bewys van respek aan voorouers wat sonder toestemming weggeneem is.
Dit vorm deel van ’n breër beweging om Afrika-oorskot en kulturele items uit Europese museums terug na ons vasteland te bring.
Die Khoi en San word beskou as van die vroegste inwoners van Suider-Afrika en daarom het die seremonie ook diep kulturele en historiese betekenis.”
Hoekom steur so min mense hulle hieraan – en wat sê dit van ons?
Baie mense weet dat Sarah Baartman gerepatrieer en herbegrawe is. Baie het Jeremy Vearey se boek gelees oor die volksmoord van die Bondelswarts. Tog word koppe in die sand gesteek oor die 63. Koppe word ook in die sand gesteek oor die Kinderlê-insident en die gedenkteken wat opgerig is om hulle te onthou.
Ons het nie ’n eensydige narratief in hierdie land nie. Die stryd duur voort. Baie, selfs my eie mense, wil nie na die verlede kyk en ons gebroke siele erken nie. Ons wil vorentoe beweeg. Maar kan ons? Ons is só verdeeld dat selfs die WVK ons nie na onsself kon laat kyk en ons diep, diep wonde kon laat herken nie.
Ons eie geskiedenis word vertroebel deur die fokus op aanbeweeg ná 1994. Ons ken die wêreld se geskiedenis. Ons weet alles van wat in die oorlog in die Midde-Ooste gebeur. Ons weet van ander gruweldade en besoek museums en gedenkplekke wanneer ons oorsee gaan. Mense wat Viëtnam besoek, kom terug geskok oor die wreedhede teen die Viëtnamese wanneer hulle die katakombes besoek. Maar niemand lig ʼn wenkbroue oor Kinderlê of die Steinkopf 63 nie.
Wat moet gebeur? Baie in Namakwaland sê hulle is kwaad oor hoe dit hanteer is. Heiligskennis. Skending van die voorgeslagte se menswaardigheid. Maar wat móét gebeur? Dit lyk asof die regering nie die gemeenskappe geraadpleeg het nie en voortgegaan het met ’n nodige, maar nie-inklusiewe geleentheid waaroor nie wyd geraadpleeg is nie.
Nou lê die grafte daar in die harde Namakwa-sand met ’n wit kruis wat ’n graf merk. Hartseer herinneringe aan die minagting van swart liggame.
Ons behoort skaam te wees dat ons nie eens vir ons voorouers die waardigheid kan gee wat hulle verdien nie. Waar was die staatsbegrafnis wat ons so maklik uitdeel?
Ingrid Jones is medestigter van Mikateko Media. https://mikatekomedia.co.za/
Kontak Ingrid Jones direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.