🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
Terug na Lede
Sakkie Spangenberg
Sakkie Spangenberg

Sakkie Spangenberg is in Benoni gebore en het in Germiston grootgeword. Wetenskap en Wiskunde was van sy lieflingsvakke op hoërskool, maar hy gaan studeer Teologie op Stellenbosch (1971–1977) nadat hy sy verpligte militêre diensplig voltooi het. Na ’n “sabbatsjaar” op Worcester waartydens hy aan sy MA in Semitiese tale werk, word hy aangestel as lektor in Bybelkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (1979–1986). Hierna verskuif hy na Unisa waar hy aangestel word as senior lektor in die departement Ou Testament (1987–1995). Hy word later bevorder van senior lektor tot mede-professor en beklee dié posisie vir ’n volle dekade (1995–2005) voordat hy bevorder word tot volwaardige professor.

 Hy het in 2016 afgetree na agt-en-dertig jaar in die tersiêre onderwysberoep. Gedurende hierdie jare het hy meer as vyftig akademiese artikels en ’n handvol boeke gepubliseer. Sommige hiervan het hy saam met ander skrywers geskryf.

 Sakkie is getroud met Dina van Aardt en hulle het twee seuns, twee skoondogters en vier kleinkinders. Hy kyk graag voëls en is deesdae ook ’n amateurgeoloog.

Lid sedert 30 Nov -0001
3
Afrikaners vir Suid-Afrika
1750 Lede
<p><strong>Wie en wat ons is</strong></p><p><br></p><p>Hierdie forum het ontstaan uit ’n verklaring waarin 48 progressiewe Afrikaners hul kommer uitgespreek het oor disinformasie dat Afrikaners slagoffers van ’n beweerde volksmoord is en oor die algemeen in Suid-Afrika te na gekom word. Hierdie d...
Ander Lede
Kruisvry
7 Lede
<p>Kruisvry is ’n burgerlike organisasie wat opstaan vir gewetensvryheid, kritiese denke en die reg van elke mens om sonder vrees oor geloof te dink, te twyfel of self te kies wat hulle glo. Deur oop gesprekke, bewusmaking en ondersteuning skep Kruisvry ruimte vir eerlike ondersoek na godsdiens, ...
Ander Lede
Naledi
Leermeester 22 Lede
<p>Naledi, as ’n onafhanklike Suid-Afrikaanse boekuitgewer wat met sorg, moed en visie stories die lig laat sien wat andersins dalk stil sou bly. Die naam “Naledi” – wat in verskeie Suid-Afrikaanse tale “ster” beteken – is gepas: dié uitgewer is daarop gerig om nuwe stemme te laat skitter en geve...
Ander Lede
2
Bybelstories in Perspektief
Naledi • 2026
Naledi 2026 ISBN: 9781928530220
Sakkie Spangenberg hervertel enkele bekende Bybelstories en probeer om op ’n nuwe manier iets te sê van die aarde waarop ons leef en die heelal waarvan ons deel is. Hy doen dit deur telkens twee stories te vertel – eers ’n baie ou Bybelse storie en dan ’n nuwe wetenskaplike een. Tussendeur verwys hy ook graag na David Kramer se lied getiteld “Die ou aarde”. Hy hoop dat die stories en die lied kinders met nuwe oë na die aarde en alles daarop sal laat kyk. OUDERDOM: 12+ **** Sakkie Spangenberg retells a few well-known biblical stories and endeavours to say something new about the earth on which we live and the universe of which we are a part. He does this by narrating two stories each time – first a very old biblical story and then a scientific one. In between, he refers to David Kramer’s song “Die ou aarde” (‘The old earth’). He hopes that the stories and the song will assist children to look afresh at the earth and everything on it. AGE: 12+
Die Bybel, Die Christelike Godsdiens en die waarheid
Naledi • 2026
Naledi 2026 ISBN: 978-1-0672342-7-0
Die wêreldwye Covid-19-pandemie (2020–2021) het die vraag “Hoe weet ons wat die waarheid is?” opnuut na die oppervlak gedwing. Tydens die grendelperiode was daar uiteenlopende menings en hipoteses in omloop oor die oorsprong van die virus en hoe die siekte behandel behoort te word. In hierdie tyd skryf Barnard Beukman, redakteur van die oggendkoerant Beeld, ’n baie nugter artikel met die titel “Dink jou eie waarheid uit.” Hierin lê hy klem op rasionele denke en dat mense ag moet slaan op kundiges se standpunte. Elkeen kan nie maar net sy of haar eie waarheid uitdink en verkondig nie. Hierdie artikel en die onderwerp wat dit bespreek, het die vonk voorsien vir die skryf van die boek Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid. Daar is Christene wat ’n onderskeid tref tussen geloofswaarheid en wetenskaplike waarheid en dan argumenteer dat geloofstandpunte en -uitsprake nie aan rasionele ondersoek onderwerp kan word nie. Sedert die ontstaan van die Christelike godsdiens het teoloë egter met rasionele denke en argumente die godsdiens verdedig en leerstellings geformuleer. Dit kan dus nie verkeerd wees om die waarheidsaansprake van die Christleike godsdiens rasioneel te beoordeel nie. Hierdie boek doen presies dít en vra gevolglik die kritiese vraag: “Kan ons alles presies só glo soos voorgeslagte dit geglo het?” Na vyftig jaar se betrokkenheid by die onderrig van Bybelkunde en die Teologie asook navorsing op hierdie terreine, gee die skrywer ’n eerlike en openhartige antwoord op hierdie vraag.
3
Wat is die verskil tussen Sioniste en Semiete en anti-Sionisme en anti-Semitisme?
Wat is die verskil tussen Sionisme, Semiete, anti-Sionisme en anti-Semitisme? Sakkie Spangenberg ondersoek die geskiedenis en betekenis van hierdie begrippe – en vra waarom kritiek op Sionisme so makl
👁 283 lesers

Wat is die verskil tussen Sioniste en Semiete en anti-Sionisme en anti-Semitisme?

Wat is die verskil tussen Sionisme, Semiete, anti-Sionisme en anti-Semitisme? Sakkie Spangenberg ondersoek die geskiedenis en betekenis van hierdie begrippe – en vra waarom kritiek op Sionisme so maklik met haat teenoor Jode verwar word. Van Theodor Herzl en die ontstaan van Sionisme tot die geskiedenis van Palestina en die moderne gebruik van die woord “anti-Semities”: ’n poging om ’n emosioneel gelaaide debat deur begripsverheldering en historiese perspektief beter te verstaan.

Wat is die verskil tussen Sioniste en Semiete en anti-Sionisme en anti-Semitisme?

Sionisme is ’n oortuiging wat in die19de eeu ontstaan het toe Theodor Herzel (1860–1904) die idee begin verkondig het dat Jode nooit in Europa veilig sal wees nie, maar altyd vervolg sal word. Die enigste wyse van oorlewing vir Jode is om ’n eie land te bekom. Hy en ander wat sy oortuiging gedeel het, het ’n beweging gestig om die oortuiging te propageer en gereeld kongresse gehou om dit te propageer. Hulle het dit selfs oorweeg om êrens in Oos-Afrika grond te bekom om die ideaal te verwesenlik. Nie alle Jode het hierdie ideologie aanvaar nie, want dit was sekulêr en dikwels ook anti-religieus. Onder hulle tel Martin Buber (1978–1965) wat aanvanklik die idee ondersteun het, maar later van oortuiging verander het.

Vele Jode het volgehou dat Sionisme en Judaïsme onversoenbares is. Om ’n eie land te bekom, was nog nooit ’n geloofsoortuiging van Judaïsme nie en daarom het baie Jode Sionisme verwerp – veral ook omdat dit dit ’n sekulêre oortuiging was. Later jare het die oortuiging wel gegroei en het die Sioniste hulle fokus na Palestina verskuif en geglo dat sou hulle steun van veral Brittanje kon bekom, hulle daar ’n Joodse staat in die lewe sou kon roep. Daar was Jode wat ingekoop het in die ideaal van ’n eie staat en hulle het na Palestina geëmigreer. Die Palestyne het beswaar aangeteken by Brittanje, want Palestina kon op daardie tydstip net soveel inwoners dra. Dit is allermins ’n “land wat oorloop van melk en heuning”. Om die land te laat oorstroom met emigrante uit Europa, sou ’n krisis skep. Palestina was op daardie tydstip onder Britse beheer, want die ou Volkerebond het aan Brittanje ’n mandaat verleen om die gebied te bestuur na die ineenstorting van die Ottomaan-Turkseryk na die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918). Die Palestyne se besware het op dowe ore geval.

Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Brittanje sy mandaat oor die gebied aan die VN oorhandig en dié het met die idee van ’n “Twee staat-oplossing” na vore gekom. ’n Deel van Palestina sou aan die Jode toegeken word en ’n deel aan die Arabiessprekende Palestyne. Jerusalem sou egter ’n neutrale stad onder beheer van die VN bly. Die Palestyne was nie hiervoor te vinde nie. Die Sioniste daarenteen, het dit as ’n goeie oplossing beskou. Die Sioniste het teen dié tyd hulle al redelik in Palestina ingegrawe, guerilla-groepe in die lewe geroep en hulle bewapen met die doel om soveel as moontlik van die Palestynse gebied in te palm die dag wat Brittanje sou onttrek. Hierdie verhaal kan in verskeie boeke nagelees word onder ander in die boekie “Who owns the Holy Land?” (2001: 34–48) van Lloyd Geering van Nieu-Seeland en in Martin Bunton se boekie “The Palestinian-Israeli Conflict: A Very Short Introduction” (2013).

Hitler se ideologie van rassuiwerheid het tot vervolging van Jode en Gypsies in Duitsland gelei. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) het Hitler hierdie vervolging ook na die verowerde gebiede uitgebrei. Van die vermoënder Jode in Europa het na Brittanje en die VSA gevlug om aan die vervolging te ontkom. (Ter inligting: die woord “gypsie” is gebruik vir etniese groepe wat vanuit Noord-Indië na Europese lande verhuis het. Dit is later uitgebrei om na enige groep te verwys wat ’n nomadiese leefwyse of ’n swerwersbestaan gevoer het.)

Dit was dus nie net Jode wat in Hitler se konsentrasiekampe en gasoonde gesterf het nie, maar ook vele “gypsies”. Enige mens wat Hitler se beleid teengestaan het, is gedood – alhoewel nie altyd in gasoonde nie. Ander is doodeenvoudig geskiet of opgehang. Die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer (1906–1945) is een hiervan.

Om anti-Sionisties te wees, is om die oortuiging teen te staan dat die land wat tans Israel heet (maar waarvan die grense nog nooit duidelik omskryf is nie) onvervreembaar en slegs aan Jode behoort omdat Yahweh daardie land aan hulle toegeken het. Daar is eerstens nie ’n is-gelyk-aan-teken te plaas tussen hedendaagse Jode en die Israeliete en Judeërs waarvan ons in die Ou Testament lees nie. Die verhale in die Ou Testament oor Yahweh/Elohim se beloftes aan Abraham en sy nageslag is verhale geskryf deur mense wat ’n bepaalde ideologiese oortuiging gedeel het en dit verteenwoordig allermins Jahweh se eiendomlike woorde. Gode praat nog altyd danksy mense. Géén god het nog ooit hoorbaar en verstaanbaar gepraat nie. Nie in die “Heilige Hebreeuse taal” of in watter ander taal nie.

Om anti-Sionisties te wees, beteken nie om anti-Semities te wees of om alle Jode te haat en hulle van die planeet Aarde te wil verjaag of te wil dood nie. Ek is anti-Sionisties, want ek deel nie die oortuiging dat Israel die Heilige Land is wat slegs aan Jode behoort nie omdat ’n god uit die Brons- of Ystertyd dit aan Abraham en sy nageslag beloof het nie. Buitendien as alle mense wie se voorouers in ’n gebied gewoon het, tans daardie gebied op grond van die oortuiging opeis en hulle oortuigings op ander gaan afdwing, sal die wêreld binnekort in chaos gedompel word.

Wat die woorde “semiet” en “semities” betref – dit word gebruik om na die inwoners van die gebied wat ons ken as die ou Nabye Ooste te verwys. Daar was verskeie semitiese groepe wat in daardie omgewing (wat gestrek het van die Sinai-skiereiland, Kanaan en Moab deur die hedendaagse Libanon en Sirië tot by die Eufraatrivier) gewoon het. Jesus was self ook ’n Semiet en het allermins die trekke van ’n Westerling gehad. “Liewe Jesus” van die Kinderbybels is ’n allermins die historiese Jesus wat in Palestina geleef en gesterf het. Die Palestyne is ook van Semitiese afkoms. Om iemand as ’n anti-Semiet te brandmerk, omdat hy/sy anti-Sionisties is, is kwaadwillig.

Wanneer die grond self getuienis word
Sakkie Spangenberg bespreek Eyal Weizman se Ungrounding: The Architecture of Genocide — ’n ontstellende ondersoek na hoe grond, huise, tonnels, grense en verwoeste landskappe gebruik kan word om die g
👁 784 lesers

Wanneer die grond self getuienis word

Sakkie Spangenberg bespreek Eyal Weizman se Ungrounding: The Architecture of Genocide — ’n ontstellende ondersoek na hoe grond, huise, tonnels, grense en verwoeste landskappe gebruik kan word om die geskiedenis van geweld te rekonstrueer. Deur die argitektuur en geografie van Palestina en Gasa te lees, probeer Weizman die vernietiging en ontheemding van Palestynse gemeenskappe sedert 1948 dokumenteer. Spangenberg plaas die boek binne die breër geskiedenis van Israel en Palestina en vra wat ons behoort te maak van die getuienis wat daarin versamel is.

Wanneer die grond self getuienis word

’n Boek met ontstellende inligting

Ek het die afgelope maand die boek “Ungrounding: The Architecture of Genocide” (2026) van Eyal Weizman gelees. ’n Advertensie daarvan op die internet het my oog gevang want die naam Ilan Pappé verskyn op die voorblad en net bokant sy naam die enkele woord: “Extraordinary.”


’n Paar van Ilan Pappé se boeke staan op my boekrakke – en dis nie maar net beleggings nie – ek het hulle gelees om ingelig te wees oor die geskiedenis van Israel/Palestina. As Ou-Testamentikus bestudeer ek nie net boeke wat handel oor die geskiedenis van ou Israel en Juda nie, maar ook oor die geskiedenis van die moderne staat Israel. Pappé se navorsing oor die ontstaan van hierdie staat en die voortdurende aanvalle op die Palestyne is vir my bo verdenking – al is daar mense wat sy navorsing tipeer as emosie-gedrewe.

Ek onderskryf John Pilger se beoordeling van hom: “Ilan Pappé is Israel’s bravest, most principled, most incisive historian.” Nou het ek Eyal Weizman, eweneens ’n Joodse geleerde, raakgeloop en sy boek getuig ook van deeglike navorsing gegrond op geverifieerde feite. Hy skroom nie om die onreg wat die Palestyne sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) aangedoen is – en steeds aangedoen word – te ontbloot en te dokumenteer nie. Hy stel homself soos volg in die boek bekend:

“As an Israeli-born Jewish person, I saw this calculated destruction of life-worlds practised with a particular spatial type of violence all around me as I grew up. Though I have left – unwilling to build my life under a regime of Jewish supremacy – I have frequently travelled back to investigate and confront Israel’s architecture of settler colonialism.” (p.14)

Eyal Weizman het in 2010 ’n navorsingseenheid met die naam “Forensic Architecture” aan die Universiteit van Londen op die been gebring. Die doel van die eenheid is om deur middel van argitekturale navorsing ondersteun deur tegnologiese hulpmiddele, staatsgeweld oor die wêreld heen te ontbloot. Die opgeleide argitekte van die eenheid ontwerp nie nuwe geboue nie, maar ondersoek die ruïnes van huise, wooneenhede en ander strukture met die doel om die geweld wat tot die vernietiging daarvan gelei het, te rekonstrueer en te dokumenteer. Hierdie boek dokumenteer die geweld wat die Sioniste gepleeg het ten einde die staat Israel in 1948 tot stand te bring. Maar dit gaan om méér as net daardie eenmalige gebeurenis. Dit dokumenteer die geweld sedert 1948 tot die onlangse aanvalle op die Palestyne woonagtig in die Gasa-strook. Dit vertel hoe die Palestyne se woonplekke en lewensruimtes in die 1948-oorlog vernietig is en mense vermoor en verjaag is om sodoende die wêreld te bluf dat die gebied waaroor hulle die staat Israel uitgeroep het, leeg was. “A land without a people for a people without a land,” was die slagspreuk waarmee die Sioniste vele mense ’n rat voor die oë gedraai het. Die land was allermins inwonerloos. Die Jode wat reeds daar gewoon het, was vér in die minderheid, maar ten spyte daarvan het die VN 55% van die land aan die Jode toegewys en 45% daarvan aan die Palestyne. Ná die oorlog van 1948 het die Sioniste meer as die VN se beplande Joodse gebied ingepalm en sedertdien het hulle ’n beleid van kruipende kolonialisering gevolg. Na die 1967-oorlog het hulle Jerusalem oorgeneem en dit tot hoofstad van Israel verklaar en die omringende Palestynse woongebiede geleidelik omsingel en beheer oor die tempelberg geneem. Die Israeli-regering het Joodse settelaars toegelaat om nedersettings in die Wesoewer (Palestynse gebied) te gaan bou en die gebied begin oorneem. Nou is die Gasa-strook finaal in hulle visier.

Die verskillende Israeli-regerings het nog nooit die grense van die staat duidelik omskryf nie en die oogmerk was en is om die Palestyne te verdryf sodat die sogenaamde “Verenigde Koninkryk van Dawid en Salomo” weer tot stand kan kom wat moet strek “van die rivier van Egipte tot die groot rivier, die Eufraatrivier” (Gen. 15:18). Die totstandbrenging van “Groter Israel” is duidelik die regering van Benjamin Netanyahu se einddoel. En as hy dit nie bereik nie sal ’n volgende Israeli-regering die stryd met die hulp van die VSA voortsit.

Dit is moeilik om die titel van Weizman se boek in Afrikaanse weer te gee. Hoe vertaal ’n mens “Ungrounding”? Woorde wat by my opgekom het, is “ontworteling”, “onteiening” en “ontheemding”. Dít is waaroor die boek handel: dit gaan oor hoe die Palestyne ontwortel is; hoe hulle wonings, plotte, en/of plase eenvoudig onteien is (sonder vergoeding); hoe hulle olyf- en granaatbome uitgeroei is; hoe hulle landerye vernietig is; hoe hulle waterputte toegestop en soms vergiftig is; hoe hulle ontheem is en vlugtelinge geword het in ’n land wat hulle en hulle voorouers al vir eeue bewoon het.

Die boek begin met ’n inleiding met die titel “The Earth-Storm” (“Die Grondstorm,” pp. 1–25). Hierin word vertel hoe Gasa tot stand gekom het: “In August 1950 the area that came to be known as the Gasa Strip was cut off from the rest of Palestine by a ditch carved into the soil by a single-blade plough pulled by a tractor” (p. 1). Daar is ’n swart-en-wit-foto uit daardie tyd op die teenoorstaande bladsy ter illustrasie. Soos na die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) met die tot standkoming van die state Libanon, Sirië, Jordanië en Irak, toe die leiers van Frankryk en Brittanje strepe op ’n kaart getrek het sonder inagneming en raadpleging van die mense wat daar woon, het die VN in samewerking met Brittanje, strepe op ’n kaart getrek. Die opeenvolgende Israeli-regerings het die grense van die Gasa-strook oor die jare vernou, draadheinings daaromheen gespan en die Palestyne se leefruimte na goeddunke ingeperk. Hulle is ook verhinder om te kom en te gaan. Militêre uitkykposte is aan die Israeli-kant van die grens opgerig en die Palestyne is gewaarsku dat sou van hulle binne ’n sekere afstand van die grensdraad kom, daar vir seker op hulle geskiet sal word. Vele Palestyne het dit gewaag en is gedood. Israel het uiteindelik totale beheer oor Gasa geneem sodat mense na Gasa begin verwys het as “die grootste opelugtronk op Aarde.”

Na die inleiding volg drie dele: (1) “Soil” (2) “Subsoil”, (3) “Ungrounding”. Ek vertaal dit respektiewelik met “Bogrond”, “Benedegrond” en “Ontworteling en ontheemding.”

In die eerste deel “Bogrond” (pp. 29–118) vertel Weizman een en ander oor die geografie van die Gasa-strook asook die verskillende soorte grond wat ’n mens hier teëkom. Die Wadi Gasa wat grootliks ’n seisoenale rivier is, verdeel die strook in twee helftes. Die noordelike deel is vrugbaarder as die suidelike deel, want dit is die suidelikste punt van die Vrugbare Halfmaan. Wadi Gasa word gedurende die winterreënseisoen deur verskeie spruite gevoed en dan vorm dit ’n gevaarlike rivier wat nie maklik oorgesteek kan word nie. Die suidelike deel van die Gasa-strook ontvang minder reën en word beskou as die begin van die Sinai- en die Negev-woestyne.

Weizman begin hierdie deel deur te vertel hoedat die Israeli-lugmag op 13 Oktober 2023 pamflette uit die lug op die Palestyne in Gasa neergestrooi het met die opdrag dat hulle die noordelike deel moes ontruim. Die lug- en weermag was van plan om aanvalle te loods ter bevryding van die gyselaars wat Hamas op 7 Oktober 2023 “buitgemaak” het. In die vorige hoofstuk het Weizman reeds die volgende oor hierdie aanvalle gesê:

“Israel attempted to expel Palestinians from the rain-rich north part of the Strip – across Wadi Gaza – to the more barren south, and from the fertile soils in the east to the coastal dunes in the west, next to the border with Egypt, where with another push, when opportunity allowed, Israel sought to force them out of Palestine” (p 13).

Die Israeli-weermag hou hierdie pamfletstrooiery voor as “humanitêr handelinge” tydens die oorlog, maar hulle ignoreer die gevolge van hulle handelinge. Om van volwassenes – om nie eens te praat van kinders, bejaardes en gestremdes nie – wat jare in ’n huis of woonstel woon te verwag om binne ’n dag op te pak en te versit en ’n reis aan te durf sonder om te weet waar hulle kos, water en onderdak gaan vind, is totaal onaanvaarbaar en wreed. Van terugkeer is daar natuurlik geen sprake nie. Na die oorlog gaan Gasa omskep word in ’n wonderlike vakansie-oord langs die Mediterreense ooskus met die medewerking van die VSA en Donald Trump.

Weizman gaan ook verder terug in die geskiedenis toe die Britse en die Ottoman-Turkse ryke teen mekaar in hierdie geweste geveg het (1917) en bespreek ook die rol wat die Balfour-Verklaring gespeel het in die totstandbrenging van ’n Joodse staat. Toe het die Palestyne al tweede gekom en nou ontgeld hulle dit vir die soveelste keer. Om hierdie as ’n “regverdig oorlog” te klassifiseer omdat Hamas Israeli-burgers op 7 Oktober 2023 aangeval en sommige as gyselaars gevange geneem het, gaan ’n mens se verstand te bowe. Dit is duidelik dat Israel besig is met wraakneming en uitwissing. Die sterfgevalle in Gasa wat al meer as 70 000 beloop, getuig hiervan.

In hierdie deel vertel ook hy die verhaal van die Abu Sitta-familie wat hier geboer het en hoe hulle dorpie met die naam al-Ma‘in op 13–14 Mei 1948 deur die Sionistiese vegters sonder rede aangeval is. Die familie en ander inwoners is eenvoudig verjaag en/of vermoor. “When the inhabitants of al-Ma‘in were expelled, the wells blown up, the buildings destroyed and the tents set on fire, some of the routes remained for a while, leading from nowhere to nowhere until they got fully covered by plants” (pp. 53). Enkele jare later is Joodse settelaars toegelaat om kibboetse hier tot stand te bring. Die Palestynse vlugtelinge moes verhinder word om terug te keer na hulle woonplekke daarom is soldate ook aan van die kibboetse toegewys.

Gedurende hierdie tyd is daar ook aanvalle op ander dorpies en plase in die suide van Palestina en in die Negev geloods. Palestyne is ontheem, gedood en verjaag. Die VN het ingegryp en in die daaropvolgende jare agt vlugtelingskampe opgerig terwyl die Rooikruis voedselvoorsieningsentra opgerig het. Die Israeli-weermag van destyds wou die Palestyne verder suid verjaag – verby Rafah tot binne die Sinai-woestyn wat destyds deel van Egipte was. Nou is dit weer hulle doel. Israel moet van die Palestyne ontslae raak anders sal daar nooit vrede wees nie.

In tweede deel met die titel “Benedegrond” (pp 121–178) bespreek Weizman hoofsaaklik die ondergrondse tonnels wat stelselmatig in Gasa gebou is. Hierdie tonnels het reeds bestaan voordat Hamas in 2007 aan bewind gekom het. Sommige inwoners van Gasa het dit gebou as toevlug vir moontlike Israeli-aanvalle, maar dit het later ontwikkel in “lewensare” waarlangs voedsel en ander lewensmiddele ingesmokkel en versprei is. “The World Bank estimated that 80 per cent of Gaza’s imports came through the subsoil,” skryf Weizman op bladsy 163. Van die tonnels het onderdeur die grens tussen Gasa en Egipte geloop en dit was danksy Egipte – wat dikwels anderkant toe gekyk het – dat die Palestyne kon oorleef. Wat ’n mens nie buite rekening moet laat nie, is dat dit die enigste grens was wat deurdringbaar was, want die Middelandse See wat die westelike grens van Gasa vorm word deur die Israeli-vloot gepatroleer. Hulle verhinder die Palestyne om vis te vang en skepe wat kos of ander voorraad wil kom aflewer, word verhinder of onderskep.

Hamas het van hierdie tonnels gebruik, maar ook ander laat bou om as skuilplek en loodsplek vir aanvalle op Israel te dien. Sommige van die tonnels sluit wel by mekaar aan, maar dit vorm nie ’n duidelik beplande ondergrondse netwerk nie. Weisman wys daarop dat tonneloorlog (“tunnel warfare”) in die 20ste eeu ontstaan het toe onderdrukte nasies hulle begin verset het teen imperiale regerings. Die Viëtnamese het byvoorbeeld met sukses tonnels gebruik in hulle stryd teen die VSA. “It had been a feature of many Indigenous struggles against colonialism around the world” (p. 127).

Hy bespreek vervolgens die drie tonneloorloë wat al in Gasa gevoer is, want die Israel-weermag het kort voor lank snuf in die neus gekry dat die goed bestaan. Die eerste tonneloorlog is van 4 November 2008 tot 18 Januarie 2009 gevoer. Meer as 1 400 Palestyne het gesterf en ongeveer 25 000 geboue is verwoes of beskadig (pp. 162–165). Die tweede oorlog is tussen Julie en Augustus 2014 gevoer. Ongeveer 100 000 geboue is hierdie keer verwoes (p. 168). Die derde tonneloorlog is gevoer gedurende Mei 2021 (pp 173–177). Die Israeli-weermag het voorgegee dat hulle gereed maak vir ’n grondoffensief in die hoop dat die Hamas-vegters in die tonnels sal begin skuil. Gebeur dit sou die Israeli-lugmag hulle daar kon bykom met “bunker-buster” bomme wat hulle gehoop het die tonnelnetwerk totaal buite werking sou stel en meeste van die Hamas-vegters sou dood. Ongeveer 450 bomme is op Gasa neergegooi. Die Palestyne wat die aanvalle oorleef het, het vertel dat die ontploffings Gasa soos ’n aardbewing geskud het.

Die Israeli-lugmag het in die jongste oorlog weer hierdie tonnels buite werking probeer stel met bomme wat diep in die aarde kan indring en dan ontplof – natuurlik met geweldige skade aan die geboue op die oppervlakte. Die noordelike deel van Gasa lyk daarom soos een groot rommelhoop.

Die derde deel met die titel “Ontworteling / ontheemding / onteiening” (pp. 181–306) handel hoofsaaklik oor die jongste oorlog wat op 7 Oktober 2023 begin het. Die verhaal wat hier vertel word, verskil aansienlik van dit wat ek aanvanklik in Suid-Afrika oor die aanval te hore en te lese gekry het. Die aanval was nie in die eerste plek gerig op die musiekfees 3km anderkant die grensdraad van Gasa nie. Dit was gerig op die Israeli-weermag se observasie- en kommunikasiesisteme wat bewegings binne Gasa dopgehou het. Dié moes eerstens geneutraliseer word sodat Hamas ’n volskaalse aanval op die Israeli-weermagstellings net anderkant die grensdraad kon loods en gyselaars gevange neem. Hamas het grootliks in hierdie doel geslaag:

“With their [the Israeli] communication towers deactivated, the command centre of the Gaza Division could not obtain a precise image of what was taking place and coordinate their troops. Hamas fighters blew open more than sixty breaches in the fences. A video of a tractor widening the gaps so that vehicles could drive out went viral” (p. 182).

Die musiekfeesgangers was daardie dag ongelukkig op die verkeerde tyd op die verkeerde plek toe die Hamas-vegter deur die grens gebreek het. Dit was egter ’n meevaller vir die Hamas-vegters – hulle kon burgerlikes as gyselaars saamneem. Weizman huiwer nie om die wreedhede wat die Hamas-vegters wél gepleeg het, te beskryf nie, maar beklemtoon die feit dat Israel onmiddellik begin het om disinformasie te versprei: “Almost immediately Israel and its supporters started exaggerating what needed no exaggeration. There was no evidence to the claim, repeated by Netanyahu, that babies were beheaded or put in ovens” (p. 187). Hierdie leuen is onlangs weer deur Ilse Strauss van die organisasie “Bridges for Peace” verkondig in haar berig met die titel “Bewyse wat die wêreld nie wil sien nie” in Maroela Media (24 Junie 2026). Dit geld ook van die berig dat die Israeli-weermag ’n aanval op die “al-Shifa”-hospitaal geloods het omdat Hamas tonnels daaronder gebou het en daar skuil. In November 2023 verklaar die vorige eerste minister, Ehud Barak, toe ewe dat Isael die ondergrondse skuilings in 1980 gebou het! (p. 220)

Die casus belli vir die aanval was eerstens die feit dat die Israeli-regering van voorneme was om die status quo ten opsigte van besoeke aan die al Aqsa moskee op die tempelberg in Jerusalem te verander. Die ooreenkoms wat sedert 1967 gegeld het, was dat nie-Moslems die moskee mag besoek, maar nie daar mag bid nie. Die ekstreem-regse minister van Binnelandse Veiligheid, Itamar Ben-Gvir, het dit verontagsaam en met ’n gevolg die moskee besoek en daar gebid. Die tweede rede was die toename in aanvalle deur die Israeli-weermag en die settelaars op Palestyne in die Wesoewer. “Israeli mobs, with army support, raided, killing and burning homes and vehicles in Palestinian towns and villages” (p. 188).

Weizman erken ook dat Hamas die aanval begin het met ’n tweede oogmerk – hulle wou ook gyselaars gevange neem om die Israeli-regering te dwing om weer te onderhandel. “The attack aimed to ignite a rebellion across Palestine, potentially with Hezbollah and Iran joining in” (p. 189). Hulle wou die gyselaars gebruik om Israel te dwing om met die Palestyne te onderhandel oor die vrylating van Palestynse gevangenes in Israeli-tronke. “Since 1967, Israel has imprisoned over 800 000 Palestinians from the West Bank and Gaza, accounting for about 20 per cent of the total population and about 40 per cent of all Palestinian men” (p. 189).

Ek sou nog meer oor die derde deel kon skryf. Dit bevat bladsye en bladsye inligting oor die Gasa-oorlog van 2023–2026 en wat die Israeli-weermag besig om daar te doen, naamlik om die Palestyne in die suidelike deel gevange te hou, uit te honger en daagliks aan trauma te onderwerp. Terugkeer na die noordelike deel van Gasa is vir Israel buite die kwessie.

Weizman en sy navorsingseenheid het die inligting wat in hierdie boek vervat is by die Internasionale Geregshof ingedien ter ondersteuning van die Suid-Afrikaanse aanklag dat Israel besig is om volksmoord in Gasa te pleeg. Hierdie boek bevestig dit en hierna sal niemand kan sê: “Ons het dit nie geweet nie”, want dit staan swart op wit in “Ungrounding: The Architecture of Genocide” (2026).

Wanneer Geloof Teen Vroue Draai
Die stryd vir vroue se gelykheid in baie Christelike kerke bly moeilik omdat ou Bybelse interpretasies steeds gebruik word om vroue as minderwaardig voor te stel. So lank as wat hierdie idees as heili
👁 814 lesers

Wanneer Geloof Teen Vroue Draai

Die stryd vir vroue se gelykheid in baie Christelike kerke bly moeilik omdat ou Bybelse interpretasies steeds gebruik word om vroue as minderwaardig voor te stel. So lank as wat hierdie idees as heilig en onaantasbaar beskou word, bly ware bevryding onmoontlik. Soos Christi van der Westhuizen uitwys in haar reaksie op ’n besluit van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, is hierdie houding niks minder nie as “onverdunde vrouehaat” – ’n probleem wat ook ontleed word in April D. DeConick se boek Holy Misogyny.

Wanneer Geloof Teen Vroue Draai

“The fight for women’s equality in the churches is a formidable fight because it can never be won on the turf of the traditional churches, which continue their program of discrimination each time they recycle and reframe the ancient traditions that dehumanize the female body. As long as the Bible’s devaluation of the female body as part of the natural order of creation is viewed as sacred, as holy misogyny, no reasonable argument can dislodge it. As long as the Bible’s story of the subjugation of woman is viewed as God’s deserved decree laid upon all women for all time, there can be no liberation. How much longer must women suffer the dreadful and damning consequences of the ancient male imagination, which valorized the male body while vulgarized the female, because the Bible tells us so?” (2013:153–154).

Waarom skryf ek nou vanaand hierdie stuk? Want professor Christi van der Westhuizen het pas 'n skitterende stuk op die webbladsy van Netwerk24 gepubliseer waarin sy die besluit van die sinode van die GKSA as "onverdunde vrouehaat" klassifiseer. Sy is volkome reg.

https://www.netwerk24.com/.../verset-teen-vrou-in-amp-dui...

Wat 'n mens teen die bors stuit, is dat vroue dwarsdeur die eeue in die Christelike kerke as minderwaardige wesens beskou en behandel is. Manlike besluitnemers was (en is) daarvan oortuig dat God self vroue nie hoog ag nie. Die ganse Bybel is na regte vrou-onvriendelik – vandaar DeConick se titel "Holy Misogyny" = Heilige Vrouehaat. Lees gerus Christi se artikel. En as haar argumente jou nie oortuig nie, koop April deConick se boek.

1

Stuur Boodskap

Kontak Sakkie Spangenberg direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek