Jean Oosthuizen is ’n bekende Suid-Afrikaanse joernalis en skrywer met ’n ryk loopbaan in die druk- en uitsaaimedia, veral in Afrikaanse nuus en opinie. Hy is in die Vrystaat gebore en het joernalistiek studeer aan die Pretoriase Technokon. Hy begin sy joernalistieke loopbaan by Perskor se middagblad Hoofstad (later Transvaler) waar hy deel was van die politieke redaksies van Afrikaanse dagblaaie, waar hy ook as parlementêre verslaggewer diens gedoen het tydens ’n tydperk van intense politisering in Suid-Afrika. Hy het groot stories oor Suid-Afrikaanse politiek en historiese gebeure gedek, insluitend periode rondom die Nasionale Party era van PW Botha en FW de Klerk asook tydes Nelson Mandela se presidentskap, en ander sleutelmomente in die land se politieke geskiedenis.
Later het hy by die SAUK (Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie) as politieke korrespondent gewerk en ook as nuusredakteur van die NG Kerk se amptelike koerant Kerkbode. Hierdie pos was nie sonder kontroversie nie: hy is in 2013 geskors en het uit sy pos bedank nadat ’n reeks debatprogramme en “Kletskerk”-forum-inisiatiewe by Kerkbode omstrede reaksie uitgelok het.
Na sy tyd by Kerkbode, het hy voortgegaan as vryskutjoernalis, skryf artikels vir verskeie publikasies soos LitNet, Netwerk24, en ander, en het hy die RSG-radioprogram “Uit ’n ander hoek” aangebied — ’n gewilde program waarin hy sake van godsdiens, kultuur en samelewing vanuit nuwe perspektiewe bespreek het.
Jean se werk staan bekend vir sy kritiese en analitiese benadering, veral ten opsigte van Suid-Afrikaanse kerksake, politiek en samelewingsvraagstukke.
Ek sien die vonke spat weer in die VF+ Familie Bpk en die koppe die rol.
Die Papier berig die week dat ʼn twis in die party se grootste koukus naamlik in Tshwane uitgebreek het. Die koerant onthul dat die grootbaas Corné Mulder en sy luitenante weer die lat geswaai het.
Hulle het die leier van die party se grootste politieke koukus in die land, Grandi Theunissen, onder sy jis geskop en summier die trekpas gegee as koukusleier.
Dit wil voorkom of Willie Spies, wat hulle burgemeesterkandidaat in Tshwane is, alreeds sy gewig in die koukus wil rondgooi en agter die skuif sit. Sommige sê prontuit hy wil die kitaar slaan nog voordat hy in die orkes is.
Van die koukuslede beskou hom as ʼn buitestaander en is vies dat hy nou al sy neus in die koukus se sake steek. Spies is nommer 1 op die party se lys in Tshwane en sal sonder twyfel na 5 November die baas van die plaas wees daar.
Die Papier berig die verwikkelinge plaas die VF Plus se Tshwane-raadslede voor ’n ongemaklike politieke werklikheid: Hulle moet nou met ’n nuwe tussentydse koukusleier saamwerk nadat die party se uitvoerende dagbestuur besluit het Theunissen moet uit dié pos tree en dit teen hulle sin.
Koukuslede, wat nie hul name gepubliseer wil sien nie, het aan Die Papier gesê groot ontevredenheid heers oor die wyse waarop die nasionale leierskorps ingegryp het – "dit in ’n party wat plaaslike outonomie voorstaan". Die meerderheid steun Theunissen glo, maar vrees dat verset dalk lede se posisie op verkiesingslyste kan raak.
Dit is nie die eerste keer dat die VF+ Familie Bpk se nasionale leierskap die sweep klap soos dit hulle pas nie. Heelwat raadslede op ander plekke van die party kan ook daarvan getuig.
Spies ontken dat ’n persoonlike konflik tussen hom en Theunissen bestaan en beskryf hul verhouding eerder as een van menings- en stylverskille. Theunissen wou egter geen kommentaar lewer nie wat opsigself baie sê.
As mens na lede van die party se reaksies op sosiale media kyk lyk dit ook nie of alles nie so voor die wind gaan daar in Snorstad onder die Jakarandas met die VF+ Familie Bpk nie.
Dit gons dit behoorlik onder VF+ ondersteuners met kommentare soos die wat oorheers:
“Dink Nie Connie Mulder het die ruggraat of die houding Vir ʼn leier Soos VF Nie. VF Kort ʼn leier met balls En daar net 1 Dr Pieter Groenewald. As Mulder Nie verwyder word Nie kry VF Nie my stem Nie.”
“Raak van Corne Mulder ontslae of ek en baie ander soos ek sal nie weer vir die VF STEM NIE”
“Ek is so jammer Grandi hoop die mense besef wat hulle nou doen is nie reg nie”
“Bring Dr Pieter Groenewald terug as leier van VF ook as president."
“Ek dink VF het my stem my Kruis verloor. All die ryk gatte sit en skreee Vir n kruisie en niks gebeur Nie. "
"Mulder is die kortbroek Van Schalkwyk van VF+. Hy gaan die VF+ sink. Maar die Afrikaner is ook deur die eeue bekend dat hulle nie saamstaan nie en is bekend vir hul rugstekery. Die Mulders het mos o.a ontslae geraak van Genl Viljoen as leier.”
“Die VF+ was van die begin af nog altyd verdeeld tussen ou KP lede wat nooit aan die nuwe bedeling wou deelneem nie en Genl Viljoen as volksleier besluit het om die VF te stig en deel te neem. Van die begin af toe Corné Mulder leier geword het en Groenewald uitgewerk is was die verdeeldheid weer sigbaar.”
“Ek het gese hoekom is Grandi nie gekies as Mayoral kandidaat nie siende dat hy saam met Cilliers Brink gewerk het en Tshwane se politieke omgewing ken.
Toe bring hulle Willie Spies in, wat vir 16 Jaar uit politiek was. Het Willie Spies al enige merkwaardige voorstelle gehad hoe hy Tshwane gaan red? Nee hy val net die DA aan. Voor die 2024 verkiesing het FF+ deur dieselfde disputes gegaan en prominente lede het hul posted verloor of het bedank. Daar was baie stellings gemaak oor hoe die party bestuur word en vure moes dood geslaan word.
So FF+ is nie die party wat hulle voor gee nie
Join the DA Grandi. Hulle sal jou verwelkom”
Nou ja toe, dit dan die politieke naweeknuus vir eers. Verskoon my ek moet eers gaan kyk of daar nog genoeg springmielies in my kas is tot 4 November
Die herrie rondom News24 se beriggewing oor AfriForum se finansies het 'n duidelike en diep kloof onder die regses blootgelê.
Aan die een kant is daar die tradisionele beskermers wat enige kritiese beriggewing summier afmaak as 'n "kwaadwillige aanval" deur 'n vyandige media. Aan die ander kant is daar 'n groeiende groep regses wat besef dat geen organisasie wat honderde miljoene rande uit die publiek se sak trek, bo alle twyfel of ondervraging verhewe is nie.
Die dae dat die ondersteunersbasis van burgerregte-organisasies soos AriForum sommer net gehoorsaam in die ry val en elke woord uit die leierskap se mond as die evangelie aanvaar, is verby. Mense wat aanspraak maak op openbare vertroue, moet presies dieselfde deursigtigheid toon wat hulle van die staat eis.
In hierdie debat het die regse podsending-aanbieder Willem Petzer 'n standpunt ingeneem wat vir ʼn slag nogal noemenswaardig is, spesifiek omdat hy nie bloot die tradisionele verdedigingslyn volg nie, maar 'n reeks uiters geldige en tegniese vrae aan AfriForum stel. Sy ontleding het die swakplekke in AfriForum se verdediging blootgelê en gewys dat die leierskap rondom die saak argumenteer sonder om daadwerklik antwoorde te gee.
Eerstens maak Petzer die belangrike erkenning dat News24 die volle reg gehad het om AfriForum se finansiële state te bekom en te ontleed. AfriForum is weliswaar 'n private nie-winsgewende organisasie, maar dit hanteer enorme openbare fondse, neem 'n prominente plek in die openbare debat in en tree op namens honderdduisende lede.
Om te beweer dat finansiële beriggewing oor so 'n instelling outomaties kwaadwillig of 'n "aanval op die Afrikaner" is, is geen argument nie. Burgerlike waghonde wat hulself as beskermers van die publiek voordoen, moet self ook aan waghonde onderworpe wees.
In 'n poging om die gemoedere te kalmeer, het AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, 'n amptelike verklaring uitgereik waarin hy hul vergoedingsbeleid verdedig. Op die oog af klink dit indrukwekkend. Daar word verwys na "eksterne kundiges", die "Patterson-graderingstelsel", 'n "vergoedingskomitee" en die "25ste persentiel".
Maar sodra mens die oppervlak skraap en die argumente toets soos wat Petzer gedoen het, sien jy hoe hol hierdie ontwykende retoriek werklik is:
• Kriel spog dat poste volgens die Patterson-stelsel geëvalueer word om billikheid te verseker. Wat hy nie sê nie, is dat Patterson slegs die kompleksiteit en besluitnemingsvlak van 'n pos bepaal. Dit koppel nie 'n spesifieke salaris daaraan nie. Om te sê jy gebruik Patterson, is soos om te sê jy gebruik 'n liniaal. Dit sê vir ons hoe lank die tabel is, maar dit sê niks oor wat dit kos nie. Die Patterson-stelsel sê niks oor rand en sent nie.
• Kriel voer aan dat personeel op die "25ste persentiel van die mark" vergoed word. Petzer se kritiek hierop is vernietigend en tegnies korrek: Watter mark? Watter salarisopname? Vergelyk AfriForum homself met klein plaaslike nieregeringsorganisasies, met groot genoteerde maatskappye, of met die finansiële sektor? Sonder om die spesifieke markdata bekend te maak, is die aanspraak dat hul salarisse "laer as die privaatsektor" is, niks meer as 'n onbewese bewering nie.
• Kriel praat gerieflik van "personeel" as 'n algemene groep. Wat hy ooglopend omseil, is die werklike kernvraag: Wat verdien die top-uitvoerende bestuurders? 'n Gemiddelde of 'n persentiel oor die hele organisasie kan maklik laer salarisse van laerassistent-personeel onderaan gebruik om buitensporige pakkette boaan te verskans en te versluier. Hulle gee geen syfers vir senior bestuur se salarisse nie.
Kriel beweer verder dat "sowat 70% van AfriForum se uitgawes aangewend word om gemeenskapselfstandigheid te bevorder". Maar ook hier word met woorde gespeel. In 'n burgerregte-organisasie is salarisse dikwels die grootste "projekuitgawe" omdat mense (regsadviseurs, organiseerders, bemarkers) die werklike werk doen.
Om salarisse onder "gemeenskapsprojekte" in te deel sonder om 'n duidelike en openbare finansiële afbreking te gee, is 'n bekende boekhoukundige tegniek om die prentjie mooier te laat lyk as wat dit is.
Die leierskap van AfriForum vra van hul lede om hul woord te neem dat alles "billik" en "markverwant" is. Maar waarom moet lede bloot "glo" as daar harde dokumentêre bewyse en syfers verskaf kan word?
Die gesprek binne regse en behoudende kringe hoef nie 'n valse keuse te wees tussen "volkome lojaliteit aan AfriForum" of "volkome instemming met News24" nie. Mens kan krities teenoor die media se moontlike politieke agendas wees, terwyl jy steeds ernstige en feitelike vrae aan burgerregte-organisasies stel.
As 'n organisasie wat homself voorhou as 'n toonbeeld van goeie bestuur, korrupsiebestryding en aanspreeklikheid, behoort AfriForum dieselfde standaarde op homself toe te pas. Deur die presiese salarisse van sy uitvoerende bestuur openbaar te maak, kan AfriForum die hele debat met een penstreep beëindig.
As die vergoeding inderdaad billik en markverwant is, sal die lede dit sien en sal die media se argumente in duite stort. Die krampagtige weerhouding van hierdie inligting skep egter net ruimte vir verdere spekulasie.
Willem Petzer se bydrae tot hierdie debat toon dat die logiese spronge in Kriel se argumente net te groot is om te ignoreer.
As AfriForum die vertroue van sy ondersteuners vir die langtermyn wil behou, sal hy die tegniese vrae met harde feite en totale deursigtigheid moet antwoord.
Die dae van blinde lojaliteit is verby. Mense wat vir korrupsiebestryding en goeie staatsbestuur baklei, kan nie verwag dat hul eie leiers agter vae korporatiewe retoriek skuil wanneer hul eie finansies onder die vergrootglas kom nie.
Daar is min dinge wat politieke skynheiligheid so ongenadig ontbloot soos wanneer dade en woorde mekaar weerspreek.
En min voorbeelde illustreer dit tans beter as die teenstrydigheid tussen die VF Plus se ywerige hofmakery van bruin kiesers voor die munisipale verkiesing en die voortgesette steun van sommige van dieselfde politieke en burgerlike netwerke vir 'n sportgeleentheid waar bruin Afrikaanse kinders eenvoudig nie welkom is nie.
Terwyl prominente VF Plus-politici die afgelope maande hard werk om bruin Afrikaanssprekendes te oortuig dat hulle deel is van dieselfde taalgemeenskap en dieselfde politieke tuiste behoort te deel, steun organisasies in dieselfde ideologiese kring steeds 'n "volkseie" sportweek waar deelname in praktyk tot wit Afrikanerkinders beperk word.
Die boodskap aan bruin kiesers is dus verstommend eenvoudig: Julle stemme is welkom, maar julle kinders nie.
Dit is juis hierdie teenstrydigheid wat enige aanspraak op "Afrikaanse eenheid" ongeloofwaardig maak.
Kaapse Forum, wat homself as 'n organisasie vir die bevordering van die belange van bruin gemeenskappe in die Wes-Kaap voorhou, verklaar dat hy die lewensomstandighede van alle gemeenskappe wil verbeter. Tog ondersteun een van dieselfde organisasie se wit leiers, Bernard Pieters, op Facebook openlik 'n sportgeleentheid waar Afrikaanssprekende kinders op grond van ras uitgesluit word.
Hoe versoen 'n mens hierdie twee standpunte?
Hoe kan 'n organisasie wat beweer dat hy bruin gemeenskappe verteenwoordig, stilbly of selfs steun verleen aan 'n geleentheid waar daardie gemeenskappe se kinders nie welkom is nie?
Dieselfde vraag geld die VF Plus.
Politici soos Willie Spies, die VF Plus se burgemeesterskandidaat in Petoria, praat gereeld oor die beskerming van Afrikaans, minderheidsregte en kulturele vryheid. Maar wanneer dit kom by die mees basiese toets van gelyke behandeling binne die Afrikaanse gemeenskap, lyk dit of daardie beginsels skielik ophou geld.
Bokkieweek, wat deur Afrikaner Volkseie Sport aangebied word, beperk deelname tot sogenaamde "Afrikanerjeug". In die praktyk beteken dit wit Afrikaanssprekendes van Europese afkoms. Bruin Afrikaanssprekende kinders – wat dieselfde taal praat, dieselfde skole bywoon, dieselfde kerke besoek en dikwels dieselfde kultuur deel – word uitgesluit.
Nie omdat hulle nie Afrikaans is nie.
Nie omdat hulle nie goed genoeg is nie.
Maar omdat hulle nie wit is nie.
Om dit as bloot "kultuurbehoud" of "vryheid van assosiasie" te probeer verkoop, verander niks aan die werklikheid nie. Wanneer velkleur bepaal of 'n kind saam mag speel, saam mag meeding en saam mag presteer, is dit rassediskriminasie – ongeag watter mooi slagspreuke daarvoor uitgedink word.
Die ironie is skreiend.
Politieke steun en stemme word sonder huiwering by bruin gemeenskappe gesoek. Daar word gepraat van gedeelde waardes, gedeelde taal en gedeelde geskiedenis. Maar sodra dit kom by gedeelde ruimtes, gedeelde sport en gedeelde geleenthede, val die masker af.
Dan word die grense weer volgens kleur getrek.
Dit herinner onwillekeurig aan die vernederende logika van apartheid se sogenaamde potloodtoets, waar velkleur en haartipe bepaal het waar iemand hoort en waar nie. Vandag is die metode anders en die taal versigtiger, maar die uitkoms bly dieselfde: sekere kinders behoort, ander nie.
Die skade hiervan strek veel verder as een sportweek.
Bruin kinders verloor geleenthede vir blootstelling, hoëvlak-afrigting en sportontwikkeling. Maar belangriker nog, hulle ontvang 'n vernietigende simboliese boodskap: Jy praat dalk Afrikaans, maar jy is nie deel van óns Afrikaans nie.
Dit is moeilik om jou 'n groter belediging teenoor die idee van 'n inklusiewe Afrikaanse gemeenskap voor te stel.
Die tragedie van hierdie soort uitsluiting is dat dit nie net bruin kinders benadeel nie. Ook wit kinders betaal 'n prys vir die vooroordele van volwassenes. Hulle word die geleentheid ontneem om saam met bruin Afrikaanssprekende kinders sport te speel, vriendskappe te bou en eerstehands te ervaar hoeveel hulle eintlik in gemeen het.
Sport het nog altyd die vermoë gehad om grense af te breek en wedersydse respek te kweek. Wanneer kinders egter van kleins af volgens ras geskei word, word wantroue, stereotipes en vervreemding eerder aangeleer as begrip en aanvaarding.
Uiteindelik beroof hierdie vorm van segregasie dus alle kinders van die kans om in 'n meer inklusiewe en verenigde Afrikaanse gemeenskap groot te word. Die grootste slagoffers is nie net dié wat uitgesluit word nie, maar ook dié wat nooit die geleentheid kry om te ontdek dat die "ander" nie werklik anders is nie.
Dirk Herman van Solidariteit se argument dat daar nie in rasterme gedink word nie val plat op sy eie logika. As Bokkieweek werklik "nie in rasse dink nie", waarom is deelname dan in die praktyk tot wit Afrikanerkinders beperk? Jy kan nie beweer ras speel geen rol nie, terwyl ras juis die bepalende kriterium vir deelname is.
As raskwotas verkeerd is omdat dit kinders op grond van ras beoordeel, is 'n sportweek wat kinders op grond van ras uitsluit ewe verkeerd. Twee vorme van rassediskriminasie kanselleer mekaar nie uit nie. Sport behoort kinders bymekaar te bring, nie nuwe kleurgrense te trek nie. As Bokkieweek werklik net oor Afrikaans, kultuur en sport gaan, behoort elke Afrikaanssprekende kind welkom te wees – ongeag velkleur. Anders is die beroep op "kultuur" bloot 'n ander naam vir rasse-uitsluiting.
Bruin kiesers behoort hulleself daarom 'n eenvoudige vraag af te vra wanneer politieke partye nou hul woonbuurte besoek en hul stemme kom vra.
As julle regtig glo ons is deel van dieselfde Afrikaanse gemeenskap, waarom mag ons kinders dan nie saam met julle kinders speel nie?
Totdat daardie vraag eerlik beantwoord kan word, klink al die mooi praatjies oor Afrikaanse eenheid, gedeelde kultuur en minderheidsregte hol.
'n Gemeenskap wat jou stem verwelkom, maar jou kind uitsluit, sien jou nie as 'n gelyke nie.
En dit is nie kultuurbehoud nie.
Dit is bloot ou apartheid in nuwe verpakking.
Renaldo Gouws, die VF+ se nuwe hoofpropagandis op sosiale media, het my geblok op sy Facebook sowel as die VF+ se amptelike Facebookblad.
Nie omdat ek hom uitgeskel het nie. Nie omdat ek haatspraak versprei het nie. Nie omdat ek op die Vryheidsfront Plus se Facebookblad gespam het nie. Ek het hom bloot ’n ongemaklike vraag gevra. Dit is ongewoon vir 'n politieke party om iemand te blok wat kritiek lewer op sy beleid en beslis 'n eerste vir my. Gelukkg spaar dit my nou ook sy reaksies op my muur wat selde oor die onderwerp gehandel het.
Die vraag handel oor iets wat die VF Plus self deesdae baie graag wil uitbasuin: sy sogenaamde transformasie van ’n hoofsaaklik wit Afrikanerparty na ’n veelrassige politieke beweging.
Dit is immers die boodskap wat Gouws die afgelope tyd aggressief bemark. In ’n lang aanlyn verklaring het hy Suid-Afrikaners aangemoedig om op te hou om “twak” te glo wat deur politieke opponente versprei word en eerder te kyk na die groeiende diversiteit binne die VF Plus. Foto’s van swart, bruin en wit ondersteuners wat saam onder die party se vaandel veldtog voer, word as bewys aangebied dat die party nie meer bloot ’n tuiste vir Afrikaners is nie.
Ek het geen probleem daarmee nie.
Trouens, indien die VF Plus werklik besig is om sy etniese eksklusiwiteit af te skud en ’n party vir alle Suid-Afrikaners te word, is dit waarskynlik die mees betekenisvolle ontwikkeling in die party se geskiedenis.
Maar dan ontstaan ’n eenvoudige vraag: Wat word van die party se oorspronklike bestaansrede?
Want VF Plus-leier Corné Mulder sê terselfdertyd die party het geen beleidsveranderinge aangebring nie. In onlangse onderhoud met die regse aktivis Willem Petzer op sy YouTube kanaal beklemtoon hy dat die party steeds staan waar hy nog altyd gestaan het. Die beleid is volgens hom onveranderd.
Dit sluit die droom van ’n Afrikaner-volkstaat in.
Volgens Mulder sal die Afrikaner uiteindelik nie in Afrika oorleef sonder ’n gebied waar hy oor homself regeer nie. Dit bly een van die ideologiese hoekstene van die party.
En hier lê die probleem.
As die VF Plus werklik suksesvol is in sy transformasie, en die meerderheid van sy lede en ondersteuners word eendag swart of bruin Suid-Afrikaners, wat gebeur dan met die volkstaatprojek?
Hoeveel van dié nuwe ondersteuners verlang na ’n eksklusiewe Afrikaner-selfbeskikkingsgebied? Hoeveel van hulle droom daarvan om ’n stuk van die Noord-Kaap af te sonder as ’n tuiste vir Afrikanernasionalisme of ʼn volkstaat van hul eie?
Of word die volkstaat dan maar stilweg op die rak gesit?
Dit is vrae waarop die party blykbaar nie graag antwoord nie.
Want as die volkstaat steeds sentraal staan, moet die nuwe ondersteuners weet waarvoor hulle teken. Indien dit nie meer sentraal staan nie, behoort die party eerlik te wees oor die feit dat sy kernideologie besig is om te verander.
Jy kan nie gelyktydig verkondig dat jy ’n veelrassige party vir alle konserwatiewes is én terselfdertyd beweer dat jou bestaansrede steeds die politieke selfbeskikking van een spesifieke etniese groep is nie.
Iewers moet die logika seëvier.
Die groter vraag is natuurlik hoe die VF Plus dan van ander partye onderskei word.
As die party oop is vir alle rasse, alle gelowe en alle kulture, hoe verskil dit fundamenteel van die DA, die ACDP, ActionSA of die Patriotic Alliance?
Die antwoord wat dikwels gegee word, is dat die VF Plus meer konserwatief is. Maar konserwatisme alleen is nie ’n unieke politieke handelsmerk nie. Suid-Afrika het reeds verskeie konserwatiewe partye.
Wat was die VF Plus se unieke verkooppunt? Die beskerming van Afrikanerbelange en die strewe na Afrikaner-selfbeskikking.
Sodra die party daardie etniese grondslag begin verruil vir ’n veelrassige identiteit, ontstaan die vraag of dit nie bloot besig is om nog ’n weergawe van bestaande opposisiepartye te word nie.
Nog ’n interessante teenstrydigheid is die party se verhouding met die DA.
Gouws en talle van sy ondersteuners beskuldig die DA gereeld daarvan dat hulle “ANC-lite” is. Die DA word uitgekryt as swak, beginselloos en te gewillig om met die ANC saam te werk.
Maar dan lees mens weer Corné Mulder se eie woorde. In onderhoude en mediaverklarings probeer hy kiesers gerusstel dat die geveg tussen die DA en VF Plus grotendeels verkiesingsretoriek is. Ná verkiesings, sê hy, werk die twee partye gewoonlik goed saam.
Dus: Die DA is glo gevaarlik genoeg om daagliks aangeval te word, maar aanvaarbaar genoeg om môre mee saam te regeer.
Ook hier bots die boodskappe.
Miskien is dit hoekom sommige kritiese vrae ongemaklik raak.
Die werklike debat gaan nie oor of die VF Plus meer divers moet word nie. Dit gaan oor intellektuele eerlikheid. As die party besig is om fundamenteel te verander, behoort sy leiers dit openlik te erken.
En as die party nie verander nie, behoort hulle eerlik te verduidelik hoe ’n veelrassige ondersteunersbasis versoenbaar is met ’n politieke projek wat histories ontwerp is om die selfbeskikking van Afrikaners te bevorder.
Om kritici te blok, los nie daardie teenstrydigheid op nie.
Dit maak dit net meer sigbaar
Dit is asof die politieke partye in Suid-Afrika met mekaar meeding om te kyk wie die meeste doele in hul eie doelhok kan skop en hoeveel keer hulle hulself in die voet kan skiet.
Net sodra een party genoeg skietgoed aan ’n ander verskaf, gebruik hulle dit gretig om hulself mee in die voet te skiet.
Neem nou maar die DA-leier Geordin Hill-Lewis wat gister weer in ’n skerp brief in Rapport op Netwerk24 uitvaar teen die VF Plus-minister Pieter Groenewald oor die groot aantal parooldrosters wat weg is.
Ja, Hill-Lewis het ’n punt: die ongeveer 28 000 onopspoorbare paroolgevangenes – waarvan baie skuldig bevind is aan ernstige geweldsmisdade – is ’n massiewe nasionale krisis wat openbare veiligheid direk bedreig. As opposisieleier binne die RNE het hy beslis die reg om vinniger en meer daadkragtige aksie te eis, selfs van ’n koalisie-vennoot.
Maar what is good for the goose is good for the gander. Die wyse waarop Hill_Lewis dit doen is problematies. Om die hele penarie primêr as “Minister Pieter se probleem” voor te stel, ignoreer die historiese konteks en lyk eerder na goedkoop politieke spel as beginselvaste kritiek.
Meer as die helfte van die gevalle dateer uit die jare 1991 tot 2004 – dekades voor Groenewald minister geword het. Hy het ’n chaotiese, korrupte en ineengestorte stelsel geërf wat onder die ANC se bewind dekades lank verwaarloos is.
Dieselfde geld vir die DA se eie ministers. Leon Schreiber het die immigrasie-gemors geërf en doen wel beduidende vordering met deportasies en operasies, tog bly die totale getal onwettige immigrante skrikwekkend hoog. John Steenhuisen worstel met landbou-uitdagings soos die bek-en-klouseer-siekte. Om te verwag dat één minister binne ’n kort tydperk dekades van institusionele verval moet regmaak, is eenvoudig onrealisties.
Dit lyk al hoe meer asof Hill-Lewis se brief nie deur homself geskryf is nie, maar eerder deur ’n spindokter wat korttermyn politieke punte wil aanteken. Die konfronterende, persoonlike toon mag miskien sy kernkiesers laat hande klap, maar in die breër prentjie is dit ’n dom skuif – veral in die aanloop tot die plaaslike verkiesing.
In plaas daarvan dat partye saamwerk om die gemors van die verlede op te ruim, kompeteer hulle om mekaar se swakhede uit te buit terwyl hulle hul eie suksesse oorbeklemtoon.
Dit is klassieke politieke moddergooiery: elkeen soek die ander se foute om self beter te lyk, en ondertussen bly die werklike probleme onopgelos.
Op die koers loop die DA die gevaar om dieselfde fout te maak wat soveel politieke partye voor hulle gemaak het: om so hard na ’n bondgenoot te mik dat hulle uiteindelik hul eie voet raakskiet. En in die proses kan hulle ontdek dat kiesers nie altyd die een beloon wat die hardste skree nie, maar dikwels die een wat die volwassenste optree.
Suid-Afrika het nie meer tyd vir hierdie tipe kinderagtige politieke speletjies nie. Die publiek is moeg daarvoor. Dis niks meer as ʼn flavour of the month gebaar met hier en daar dalk ʼn kortstondige voordeel maar in die groter prentjie ʼn dom skuif.
As Hill-Lewis en die DA wil wys hulle is werklik ernstig oor wet en orde, moet hulle druk plaas sonder om bondgenote onnodig te verneder en hulleself in die proses in die voet te skiet.
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Corné Mulder, beweer die gewilde sosialemedia-veldtog wat Pieter Groenewald as toekomstige president van Suid-Afrika voorhou, het sy oorsprong in 'n projek van die land se intelligensiedienste wat daarop gemik is om verdeeldheid binne die party te saai.
Mulder het die bewering gemaak in 'n gesprek met 'n voormalige VF Plus-raadslid, Jaco Kotze, van Saldanhabaai wat vroeër uit die party geskors is te midde van 'n dispuut oor geld wat die party hom glo skuld. 'n Klankopname van die gesprek is in my besit.
Volgens Mulder is die veldtog nie deur die VF Plus begin nie en weerspieël dit ook nie die party se amptelike standpunt nie.
"Ek het vrede daarmee," sê Mulder in die opname. "Hulle kan daardie ding dryf so ver as wat hulle wil, maar dit is nie die VF Plus se standpunt [dat Pieter Groenewald president moet word] nie."
Hy voeg by dat kiesers in Suid-Afrika vir partye stem en nie, soos in die Verenigde State, direk vir 'n presidentskandidaat nie.
"Jy stem vir die Vryheidsfront Plus as party. Ek sal met die stemme maak wat die party besluit en nie wat die kiesers sê nie," sê hy.
Mulder erken dat daar waarskynlik mense is wat vir die VF Plus sal stem omdat hulle glo Groenewald kan moontlik eendag president word, maar sê dit verander nie die party se amptelike posisie nie.
Sy mees opvallende bewering handel egter oor die oorsprong van die veldtog.
"As ek vir jou sê dis intelligensiediens [wat dit begin het], dan is dit nie omdat ek dit dink nie, dit is omdat ek dit weet," sê Mulder. "Ek is ingelig uit die VSA uit en hulle weet wat aangaan."
Volgens hom was die doel van die veldtog om spanning en verdeeldheid binne die VF Plus te skep deur Groenewald as 'n alternatiewe magsentrum binne die party voor te stel.
Mulder het egter geen verdere besonderhede in die opname verskaf oor wie hom ingelig het, watter intelligensiestrukture betrokke sou wees, of watter bewyse bestaan om die bewering te staaf nie.
Hoewel hy oortuig is dat die veldtog as 'n intelligensieprojek begin het, bestaan daar tans geen openbare bewyse wat dié bewering staaf nie.
Suid-Afrika het wel 'n geskiedenis van politieke infiltrasie, propaganda-operasies en die misbruik van intelligensiestrukture vir politieke doeleindes. Die Zondo-kommissie het byvoorbeeld getoon hoe staatsinstellings in sommige gevalle vir faksiegevegte aangewend is.
Mulder se opmerkings kom te midde van 'n merkwaardige verskynsel op Suid-Afrikaanse sosiale media. Maar daar is ook eenvoudiger verklarings vir die verskynsel.
Die eerste is dat Groenewald se persoonlike gewildheid eenvoudig groter geword het as die profiel van sy party. Groenewald is baie gewilder onder die kiesers as Mulder. Sulke verskynsels kom gereeld in die politiek voor waar individuele politici soms meer aandag trek as die organisasies wat hulle verteenwoordig.
Die tweede is dat baie van die sosialemedia-plasings van mense kom wat nie VF Plus-lede is nie en bloot 'n voorkeur vir Groenewald as individu uitspreek.
Die derde is dat sosiale media dikwels die indruk van 'n massiewe beweging kan skep sonder dat daar noodwendig 'n sentrale koördineerder agter die skerms is.
Enigiemand wat die afgelope maande Facebook, TikTok, X of WhatsApp-groepe gevolg het, sou die oproepe dat "Pieter Groenewald president moet word" moeilik kon miskyk. Wat aanvanklik soos die entoesiasme van VF Plus-ondersteuners gelyk het, het ontwikkel tot 'n veel breër gesprek waarin mense van uiteenlopende politieke agtergronde hul steun vir Groenewald uitspreek.
Die verskynsel het veral momentum gekry sedert die vorming van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE), waar Groenewald as minister van korrektiewe dienste aangestel is.
Sy gereelde gevangenis-inspeksies, klopjagte, uitsprake oor oorvol tronke en sy harde standpunte oor onwettige immigrasie het aan hom 'n veel groter openbare profiel gegee as wat die VF Plus tradisioneel geniet.
'n Besonder interessante aspek van die veldtog is dat die ondersteuning nie uitsluitlik uit tradisionele Afrikanerkringe kom nie.
Op sosiale media is daar toenemende steun van mense wat nog nooit voorheen met die VF Plus geassosieer is nie. Sommige is voormalige DA-ondersteuners, ander ANC-kritici, en nog ander bloot kiesers wat voel Groenewald se optrede kontrasteer gunstig met dié van baie ander politici.
Dit beteken nie noodwendig dat hierdie mense VF Plus sal stem nie, maar dit dui daarop dat Groenewald se persoonlike handelsmerk besig is om verder as die party se historiese kiesersbasis te strek.
Die ironie van die hele debat is dat Groenewald nie eens meer die leier van die VF Plus is nie. Hy het die partyleierskap in 2025 aan Mulder oorgedra om op sy ministeriële verantwoordelikhede te fokus.
Wat dit nog meer ironies maak is dat Mulder en Groenewald tydens Groenewald se tyd as leier van die VF+ lynreg gebots het oor die strategie in die Wes-Kaap, waar Mulder (as provinsiale leier) agter die skerms met die ANC begin heul het om van sekere DA-burgemeesters ontslae te raak.
Groenewald het dit destyds onomwonde gestel dat daar hewige, drastiese verskille tussen hom en Mulder was oor hierdie strategie.
Dit was so ernstig dat Groenewald as nasionale leier moes ingryp en persoonlik ’n afspraak met die destydse DA-leier, John Steenhuisen, moes maak om die lug te suiwer en die DA te kalmeer — alles in die aanloop tot die oordrag van die party se leierskap.
Hierdie spanning tussen Groenewald en Mulder is destyds deur Groenewald self bevestig in ʼn onderhoud wat RSG met hom gevoer het.
“Uiteraard was daar spanning gewees. Daar is nie nou meer spanning nie want ek is nie die leier nie. Die spanning het gekom in die Wes-Kaap waar Corné as provinsiale leier... ooreenkomste gaan sluit het met die ANC om dan ’n regering van plaaslike eenheid te stig,” het Groenewald in die onderhoud gesê.
“Ek het gesê dis nie aanvaarbaar nie... Die indrukke wat geskep word, is dat die Vryheidsfront Plus skaar hom aan die kant van die ANC ten koste van die DA in ’n provinsie waar die DA die regerende party is. Dit skaad die party en ek en hy, ons het ’n sterk meningsverskil daaroor gehad. Dit is hoekom ek na vore getree en met John [Steenhuisen] gaan praat het...”
“Ek gee nie om wat julle sê nie – as dit dan die uitgangspunt is, dan is ek eerder ’n lakei van die DA as wat ek ’n lakei van die ANC is,” het hy aan sy party gesê. “Ek en Corné het koppe gestamp daaroor. Dit help nou nie ons probeer dit verbloem nie, almal weet dit,” sê hy in die gesprek mer RSG.
Dat Mulder nou beweer dit is 'n projek van die intelligensiediens om Groeneald se beeld te poets en verdeeltheid in sy party te saai word deur baie mense as onwaarskynlik beskou maar hy beweer dit is 'n feit en dat die inligting uit Amerika aan hom bevestig is. Die bron van die inligting is egter 'n raaisel.
Daar het ʼn paleisrevolusie in Saldanhabaai uitgebreek tussen die leier van die Vryheidsfront, Corné Mulder, en een van hulle raadslede wat deur die VF+ in die pad gesteek is.
Mulder het hom gruwelik gewip vir die koerant toe hulle daaroor skryf en dit ʼn pamflet genoem. Intussen het die uitgeskopte raadslid, Jaco Kotzé, die VF+ (en spesifiek Mulder) gedagvaar en eis onder meer sy geld terug wat hy onder protes aan die party betaal het.
Daar is niks so snaaks soos ’n politikus wat hom vir die media wip en hulle met groot verwaandheid begin dreig nie. Dit het in ʼn yslike spektakel ontaard waar ’n openbare figuur dink hy kan die mag van die pen met ’n paar briesende reëls stuit, net om homself midde-in ’n selfgemaakte sirkus te bevind.
Presies dít is wat nou in die skilderagtige Saldanhabaai aan die Weskus afspeel, waar Corné Mulder, die leier van die Vryheidsfront Plus, besig is om te wys hoe vinnig ’n politieke swaargewig sy humeur kan verloor as die plaaslike nuusblaaie nie presies volgens sy deuntjie dans nie.
Mulder se groot irritasie het begin toe die Saldanhabaai Nuus die waagmoed gehad het om te berig oor die interne spanning tussen hom en die party se proporsionele raadslid, Jaco Kotze, wat deur die VF+ in die pad gesteek is. Glo omdat hy nie die party se geldkoffers vol genoeg maak nie.
Mulder wat vas oortuig is dat Kotze die koerant se geheime bron was, het hom liederlik vir die media gewip toe die koerant daaroor skryf. Toe die verslaggewer boonop aandring op skriftelike antwoorde om foute te voorkom, was die gort behoorlik gaar.
Die dag ná die berig verskyn het, stuur Mulder ʼn brander van ʼn e-pos aan die koerant wat getuig van alles behalwe die "hoë waardes" waarop hy so graag roem. In ’n tipiese vertoon van politieke arrogansie skryf hy vir die verslaggewer:
"Waarom bedien jy jouself met leuens. Jy sal weet wie se agenda jy bevorder maar jou joernalistiek is meer as bedenklik. Ek sal maar die nodige stappe teen jou en jou pamflet moet neem. Groete, Dr. Mulder."
Om ’n gerespekteerde gemeenskapskoerant tot ’n bloot "pamflet" te degradeer en met regstappe te dreig, is natuurlik die klassieke reaksie van ’n politikus wat vasgekeer voel.
Die grap is egter op Mulder: die koerant se redakteur het die klagte bekyk en bevind die berig bevat bloot dít wat albei here self gesê het. Sedert die "pamflet" vir Mulder gewys het op die roete na die Persombudsman, is dit tjoepstil uit sy rigting. Van die “nodige stappe” teen die joernalis en die “pamflet” het daar nog niks gekom nie.
Terwyl Mulder nog sy wonde vryf oor die koerantberig, het die eintlike geveg verskuif na ’n plek waar woorde wet word: die hof.
Die amptelike storie is glo dat Kotze agterstallig sou wees met die ledegeld wat hy uit sy salaris aan die party moet oorbetaal.
Kotze weier egter om gedwee in die nag in te verdwyn. Hy voer aan hy het sy 2021-finansiële ooreenkoms tot op die letter nagekom, dat die party hom gedreig het en dat die hele dissiplinêre verhoor ’n voorafbepaalde uitskop-aksie was waar hy nie eers sy kant van die saak kon stel nie.
Onder protes het hy R28 000 betaal, en nou dagvaar hy vir Mulder en die party om daardie geld terug te kry, terwyl hy die hele proses ingevolge PAJA (die Wet op Promosie van Administratiewe Geregtigheid) in die hof gaan laat hersien.
Die VF Plus het intussen vir Kotze amptelik in die pad gesteek, sy lidmaatskap opgeskort en hom blitsig met ’n nuwe raadslid vervang.
Pleks daarvan dat Mulder en sy spannetjie nou op die komende verkiesing kan konsentreer om stemme te werf sodat hulle vir eerste keer ʼn wyk in Saldanhabaai kan probeer wen (die uitgeskopte raadslid was ʼn proporsionele lid), moet hulle nou voorberei vir ʼn uitgerekte hofstryd nes die stomme Julius Malema,
Elke uur wat Mulder en sy party saam met prokureurs moet deurbring om verklarings op te stel oor interne partytwiste en betwiste ledegeld, is ’n uur wat hulle nié met kiesers kan praat nie.
Vir ’n politieke leier is daar min dinge so frustrerend soos om stemme te verloor omdat jy besig is om agterstallige rande en sente in ’n hofsaal uit te spook en koerante met allerlei bog te dreig. Dit lyk asof hierdie hele sage Mulder nog heelwat kwater gaan maak as wat hy reeds is.
Die les vir politici? Moenie jou onnodig vir die media wip nie, en moenie dink jy kan ’n plaaslike koerant sommer net as ’n "pamflet" afmaak en dreig om hulle die skrik op die lyf te jaag nie. Hulle koop hulle ink in vaatjies en gaan aanhou skryf terwyl jy in die hof sit en al die kiesers verbyloop.
Kom ons begin die naweek op ’n vrolike noot met ’n grappie – spesiaal vir al my getroue Trump-ondersteuners wat my muur so geniet. Julle verskaf immers eindelose vermaak.
Om ’n “Trump-ondersteuner” te wees, is deesdae amper ’n Olimpiese sport. Dit verg uiterste verstandelike gimnastiek en die vermoë om met ’n doodernstige gesig te verklaar die son is blou as “The Don” so sê.
𝙍𝙚𝙥𝙤𝙧𝙩𝙚𝙧: 𝙈𝙧 𝙏𝙧𝙪𝙢𝙥, 𝙬𝙝𝙞𝙘𝙝 𝙤𝙛 𝙩𝙝𝙚 31 000 𝙡𝙞𝙚𝙨 𝙮𝙤𝙪’𝙫𝙚 𝙩𝙤𝙡𝙙 𝙨𝙞𝙣𝙘𝙚 𝙮𝙤𝙪 𝙗𝙚𝙘𝙖𝙢𝙚 𝙥𝙧𝙚𝙨𝙞𝙙𝙚𝙣𝙩 𝙞𝙨 𝙮𝙤𝙪𝙧 𝙛𝙖𝙫𝙤𝙪𝙧𝙞𝙩𝙚 𝙤𝙣𝙚?
𝙏𝙧𝙪𝙢𝙥: 𝙄 𝙣𝙚𝙫𝙚𝙧 𝙩𝙚𝙡𝙡 𝙖 𝙡𝙞𝙚.
𝙍𝙚𝙥𝙤𝙧𝙩𝙚𝙧: 𝘼𝙗𝙨𝙤𝙡𝙪𝙩𝙚𝙡𝙮 𝙨𝙥𝙤𝙩 𝙤𝙣. 𝙏𝙝𝙖𝙩’𝙨 𝙢𝙮 𝙛𝙖𝙫𝙤𝙪𝙧𝙞𝙩𝙚 𝙤𝙣𝙚 𝙩𝙤𝙤.
En net ter wille van die rekord: dit klink dalk soos ’n grappie, maar onthou daardie ou Engelse sêding: Many a true word is spoken in jest.
Daar is ook daardie bekende aanhaling: “As jy ’n leuen groot genoeg maak en dit gereeld genoeg herhaal, begin mense dit glo.”
Donald Trump het egter besluit daardie strategie is vir amateurs. Hy gaan nie net vir die groot leuen nie; hy gaan vir die rekord aantal leuens.
Die man het van leuens ’n 24/7-produksielyn gemaak.
As jy ooit gewonder het hoeveel twak een mens in ’n paar jaar kan uitspoeg, hier is die syfers. Volgens The Washington Post se beroemde Fact Checker-databasis het Trump gedurende sy eerste termyn tussen 2017 en 2021 altesaam 30 573 vals of misleidende stellings gemaak. Dis gemiddeld sowat 21 per dag. Elke dag. Vir vier jaar lank.
Dink net daaraan. Die gemiddelde mens sukkel om soggens te besluit wat om vir ontbyt te eet. Trump staan op en besluit: “Kom ons kyk hoeveel nonsens ek vandag kan improviseer.”
Die Washington Post se databasis is steeds die mees omvattende rekord van sy openbare uitsprake, toesprake, tweets en onderhoude. Ander feitekontroleerders soos CNN en PolitiFact het ook hope vals stellings gedokumenteer, maar die WaPo-span het die goue standaard geword vir hierdie soort telling.
En nee, dit gaan nie net oor blatante leuens nie. Hulle onderskei tussen:
1. Direkte leuens of opsetlike onwaarhede.
2. Misleidende stellings waar feite só verdraai word dat dit ’n vals indruk skep.
3. Wilde oordrywings waar syfers sommer uit die lug gegryp word.
Dis hoekom party mense sê Trump jok nie altyd doelbewus nie; hy “bullshit” net permanent. Maar vir feitekontroleerders maak dit nie eintlik saak of jy doelbewus lieg of net chronies onsin praat nie – as dit objektief onwaar is, tel dit.
En nou, tydens sy tweede termyn sedert Januarie 2025, lyk dit of die masjien maar net weer volspoed aan die gang is.
Kyk net na ’n paar van die treffers:
• Ekonomie en inflasie: Trump het onlangs beweer inflasie was voor die Iran-konflik op 1,7%, terwyl die amptelike syfer nader aan 2,4% was.
• Misdaad: Hy het gespog die Amerikaanse moordsyfer is op die laagste vlak in 125 jaar. Misdaad het wel afgeneem, maar kenners wys daarop die tendens het reeds voor sy tweede termyn begin en sy historiese vergelyking is erg oordrewe.
• Energie: Hy beweer die VSA produseer meer olie as Saudi Arabië en Rusland saam. Kenners sê dis eenvoudig nie akkuraat nie.
• Verkiesings: Hy hou steeds vol die 2020-verkiesing is “gesteel”, ondanks die feit dat howe, verkiesingsbeamptes en ondersoeke die bewering al oor en oor weerlê het.
En dan is daar natuurlik sy liefde vir syfers wat klink asof dit op die agterkant van ’n servet uitgedink is. Sy jongste gunsteling is blykbaar dat medisynepryse met “1 000%” gaan daal. Want hoekom by 100% stop as jy sommer ekstra nulle gratis kan ingooi?
Die Washington Post het selfs ’n spesiale kategorie geskep vir Trump se hardnekkigste fopnuus: die sogenaamde “Bottomless Pinocchio”. Dis gereserveer vir stellings wat meer as 20 keer herhaal word nadat dit reeds as vals bewys is. Trump is natuurlik die onbetwiste kampioen van daardie liga.
Dit is eintlik sy beste tegniek om die waarheid met leuens te meng. Hy meng direkte leuens met halwe waarhede, misleidende konteks en groteske oordrywings totdat mense nie meer weet wat waar is nie. Dis gaslighting op ’n industriële skaal.
As iemand vir jou 21 keer per dag vertel die lug is groen, gaan jy teen Vrydag begin wonder of jy dalk ’n afspraak by die oogarts moet maak.
En dit is dalk die belangrikste ding om van Trump te onthou: wanneer hy sy mond oopmaak, is dit nie noodwendig die waarheid wat uitkom nie. Soms is dit bloot ’n baie harde, baie oranje weergawe van “alternatiewe feite”.
In die vroeë maande van sy tweede termyn as president van die Verenigde State toon Donald Trump 'n al hoe duideliker patroon van agteruitgang wat herinner aan die ANC se jarelange verlies aan steun in Suid-Afrika.
Waar die ANC eens met oorweldigende meerderhede regeer het en nou sukkel om selfs 'n eenvoudige meerderheid te behou weens korrupsie, dienslewering-mislukkings en ekonomiese druk, lyk dit of Trump se "Make America Great Again"-beweging ook vinnig steun verloor onder sy eie kiesersbasis.
Onlangse peilings (begin Mei 2026) plaas Trump se approval rating tussen 36% en 40%, met disapproval-syfers wat dikwels bo 60% styg.
Verskeie betroubare peilings soos Washington Post/ABC News en Reuters/Ipsos wys syfers so laag as 34-37% approval. Dit is nie net 'n tydelike dip nie – dit is 'n duidelike afwaartse tendens sedert sy inhuldiging.
Wat die prentjie nog interessanter maak, is die direkte vergelyking met Joe Biden. Op 'n soortgelyke punt in Biden se termyn (om en by week 67) was sy approval gemiddeld hoër as Trump s'n nou. Biden se termyn-gemiddelde was ongeveer 42%, terwyl Trump se huidige syfers konsekwent laer is. Selfs aan die einde van Biden se termyn in Januarie 2025 het dit rondom 40-41% gedraai – beter as Trump se huidige vlakke.
Trump vaar dus tans swakker as Biden op 'n vergelykbare tydstip, ondanks sy groot oorwinning in 2024. Dit is 'n bitter pil vir 'n president wat belowe het om dinge reg te stel.
Die konflik met Iran, wat in Februarie 2026 begin het met Amerikaanse en Israeliese aanvalle, speel 'n groot rol. In plaas van 'n saamstaan vir Amerika-effek, het die oorlog Trump se syfers verder laat daal. Hoë brandstofpryse weens ontwrigting in die Persiese Golf, voortgesette inflasie en kritiek op sy hantering van die situasie (met disapproval-syfers bo 60% in verskeie peilings) herinner sterk aan hoe die ANC se buitelandse en ekonomiese beleidsfoute hulle steun gekos het.
Net soos die ANC se kiesersbasis – veral die armes en werkersklas – moeg geword het vir beloftes sonder resultate, lyk dit of Trump se kern-ondersteuners (veral onafhanklikes en selfs sommige MAGA-lojaliste) begin wegdraai. Jong kiesers en middelklas-onafhanklikes keur sy optrede sterk af, presies soos hoe die ANC jong en stedelike stemme verloor het.
Met die middeltermynverkiesings in November wat nader kom, is die seine vir die Republikeine kommerwekkend. Net soos die ANC in plaaslike en nasionale verkiesings steun verloor het namate misnoë groei, voorspel analiste dat Trump se lae approval die Republikeine kosbare setels in die Huis en Senaat kan laat verloor. Demokrate gebruik die ekonomiese pyn en die Iran-konflik reeds effektief om kiesers te mobiliseer.
Trump se trajek toon 'n klassieke patroon: 'n sterk man kom aan die mag met groot beloftes, maar word vinnig vasgevang in die realiteite van ekonomiese uitdagings, buitelandse konflikte en die onvermydelike erosie van steun. Die ANC het dit oor dekades beleef – van dominante party na 'n party wat koalisies moet smee om te oorleef. Trump is nog nie daar nie, maar die agteruitgang is sigbaar.
Of hierdie daling permanent is, sal die volgende maande wys. As die ekonomie nie verbeter en die Midde-Oosterse situasie nie stabiliseer nie, kan Trump se tweede termyn 'n waarskuwing word dat selfs die sterkste persoonlikheids-politiek nie vir altyd hou as die resultate uitbly nie.
(Die approval ratings is gebaseer op onlangse peilings van Reuters/Ipsos, Washington Post/ABC, Economist/YouGov en ander soos RealClearPolitics (Mei 2026). Sulke peilings kan fluktueer, maar die tendens is duidelik.)
Die idee dat daar net één ware geloof, één pad na verlossing en één uiteindelike waarheid is, word dikwels met groot sekerheid verkondig ook hier op my muur.
Dit word egter selde met dieselfde erns bevraagteken. Want sodra dié oortuiging ernstig opgeneem word, ontstaan ’n ontstellende implikasie: dat miljarde mense, bloot op grond van waar en wanneer hulle gebore is, van meet af aan verkeerd is. En nog meer ontwrigtend — dat die blote verkondiging van hierdie “enigste waarheid” mense se lot kan versleg eerder as verbeter.
Daar is ’n ou storie wat soms soos ’n eenvoudige gelykenis klink, maar wat hierdie ongemaklike vrae netjies oopkrap.
’n Christelike sendeling vaar jare gelede na ’n afgeleë eiland in die Suid-Stille Oseaan. Hy het gehoor van ’n stam wat nog nooit van Jesus gehoor het nie — mense wat, volgens hom, nog in “onkunde” leef. Hy sien dit as sy roeping om hulle te gaan red.
Hy bly lank genoeg om hul taal te leer, hul gebruike te verstaan en hul vertroue te wen. Hy vertel hulle van sonde, van verlossing, van hemel en hel. Stadig maar seker begin hulle glo wat hy sê.
Uiteindelik aanvaar hulle sy boodskap: Jesus as die enigste weg.
Wanneer dit tyd word om te vertrek, stap die stam se koning saam met hom strand toe.
Die koning is stil vir ’n oomblik en vra dan:
“Laat ek seker maak ek verstaan. Voor jy gekom het, het ek nie van jou God geweet nie. Ek het nie van sonde geweet nie. En ek was nie op pad hel toe nie?”
Die sendeling knik. “Dis reg. ’n Mens kan nie geoordeel word oor iets waarvan jy nie geweet het nie.”
Die koning kyk oor die see en vra:
“Maar nou dat jy my vertel het — nou weet ek. As ek nie glo wat jy sê nie, gaan ek hel toe?”
“Ja,” antwoord die sendeling sonder huiwering.
Daar is weer ’n stilte. Toe draai die koning na hom:
“Hoekom het jy my dan kom vertel?”
Hierdie is ʼn vraag wat al lankal aan my bly knaag. Nie net oor daardie eiland nie, maar oor elke plek waar mense met vaste sekerheid oor ander se siele besluit.
Dit is nie net ’n storie nie. In die werklike geskiedenis is dieselfde vraag ook al dikwels gestel.
In 1805, by Buffalo Creek in wat vandag die deelstaat New York is, het ’n sendeling genaamd Jacob Cram toestemming gevra om onder die Seneca-volk te kom preek. Hy het, soos soveel ander, aangevoer dat daar net een ware godsdiens is — en dat almal wat dit nie aanvaar nie, verlore is.
Die Seneca-hoofde het geluister. Daarna het hulle een van hul mees bekwame redenaars laat praat: Red Jacket, ’n diplomaat en woordvoerder van die Iroquois-konfederasie.
Sy antwoord was nie aggressief nie, maar dit was onontkombaar.
Hy het gevra: As hierdie boodskap werklik vir almal bedoel is, waarom het dit net by sommige mense uitgekom? Waarom het hul voorvaders nooit daarvan gehoor nie — en hoe kan dit regverdig wees om hulle nou as “verlore” te bestempel?
Hy het verder gewys op iets wat sendelinge selde kon verduidelik:
As daar net één ware godsdiens is, waarom verskil die mense wat dit bring dan so radikaal daaroor onder mekaar?
En toe kom die kern van sy argument:
Hulle het reeds ’n godsdiens — een wat hulle leer om dankbaar te wees, om in vrede saam te leef, en om nie oor geloof te baklei nie.
Waarom moet dit vervang word met iets wat verdeeldheid bring?
Hy wou nie die sendeling se geloof wegneem of hom anders oortuig nie.
Hy het net gevra om sy eie te behou.
Vir my lê die les in die verhaal daarin dat mens eers goed moet kyk of die godsdiens wat mense verkondig regtig van die wêreld ʼn beter plek maak. Is die mense wat dit verkondig eerliker en minder geneig om ander mense te mislei? Indien nie waarom dit dan aanvaar?
Die sendeling op die eiland en die stem van Red Jacket sê in wese dieselfde ding, al is dit eeue en oseane uitmekaar: Die oortuiging dat net één geloof reg is, is nie bloot ’n teologiese standpunt nie. Dit herskryf ander mense se werklikheid, plaas hulle skielik aan die “verkeerde” kant van verlossing, en ontneem hulle die geldigheid van hul eie tradisies en oortuigings.
En dit lei tot ’n ongemaklike gevolgtrekking: as die verkondiging van ’n sogenaamde enigste waarheid mense eers “verlore” maak wat voorheen nie was nie, is dit moeilik om vol te hou dat só ’n waarheid universeel en regverdig kan wees.
Miskien is die groter probleem nie dat mense in verskillende dinge glo nie, maar dat sommige glo net húlle mag reg wees.
Daar is niks so morsig soos 'n familietwis nie. Dit is gewoonlik waar die vuilste wasgoed uitgehang word.
Die twis in regse Amerikaanse kringe wat elke dag groter word laat die geveg onder Suid-Afrikaanse regses na 'n Sondagskoolpiekniek lyk.
Trump het in 'n kinderagtige tirade op Truth Social weer soos dronk matroos uitgevaar teen bekende regses wat hom voorheen ondersteun het.
Hy sê hy weet hoekom Tucker Carlson, Megyn Kelly, Candace Owens en Alex Jones al jare lank teen hom baklei en reken hulle het een ding in gemeen en dis lae IK's.
Nou wag ek net dat een van die slimjannies wat hier uithang vir my kom sê dis fake news Trump het dit nooit gesê nie. Ek kon lankal vir Trump gesê het hulle is dom mense maar hy is te dom om dit te snap.
"Hulle is dom mense, hulle weet dit, hul families weet dit, en almal anders weet dit ook! Kyk na hul verlede, kyk na hul rekord. Hulle het nie wat dit verg nie, en hulle het dit nog nooit gehad nie! Hulle is almal van Televisie afgegooi, het hul programme verloor, en word nie eens op TV uitgenooi nie omdat niemand omgee vir hulle nie.
Hulle is MAL MENSE, MOEILIKHEIDMAKERS, en sal enigiets sê wat nodig is vir ’n bietjie “gratis” en goedkoop publisiteit. Nou dink hulle hulle kry ’n paar “klikke” omdat hulle Derderangse Podcasts het, maar niemand praat oor hulle nie, en hul sieninge is die teenoorgestelde van MAGA — Anders sou ek nie die Presidensiële Verkiesing met ’n LANDSLIDE gewen het nie. MAGA stem saam met my, en het pas vir CNN ’n 100% Goedkeuringsyfer van “TRUMP” gegee, nie Handswaaiende Dwase soos Tucker Carlson nie, wat nie eens universiteit kon klaarmaak nie. Hy was ’n gebroke man toe hy by Fox afgedank is, en hy was nog nooit weer dieselfde nie — Miskien moet hy ’n goeie psigiater sien! Of Megyn Kelly, wat my nydig die nou beroemde “Only Rosie O’Donnell”-vraag gevra het, of “Mal” Candace Owens, wat die Hoogs Gerespekteerde Eerste Dame van Frankryk daarvan beskuldig dat sy ’n man is, terwyl sy nie is nie, en hopelik baie geld in die lopende hofsaak sal wen. Om die waarheid te sê, vir my is die Eerste Dame van Frankryk ’n baie mooier vrou as Candace, trouens, dit is nie eens naby nie! Of Bankrot Alex Jones, wat van die domste dinge sê, en sy hele fortuin verloor het, soos hy moes, vir sy afgryslike aanval op die families van die Sandy Hook-skietslagoffers, deur belaglik te beweer dit was ’n bedrogspul. Hierdie sogenaamde “pundits” is VERLOORDERS, en hulle sal altyd wees! Nou prys Fake News CNN, The Failing New York Times, en al die ander Radikale Linkse “Nuus”-Organisasies hulle, en gee hulle vir die eerste keer in hul lewens “positiewe” publisiteit. Hulle is nie “MAGA” nie, hulle is verloorders wat net probeer om aan MAGA vas te klou. As President kon ek hulle enige tyd aan my kant kry as ek wou, maar wanneer hulle bel, beantwoord ek nie hul oproepe nie omdat ek te besig is met Wêreld- en Landsaangeleenthede en, na ’n paar keer, word hulle “nasty”, net soos Marjorie “Traitor” Brown, maar ek gee nie meer om oor daardie goed nie. Ek gee net om om die regte ding vir ons Land te doen. MAGA gaan oor WEN en KRAG deur nie toe te laat dat Iran Kernwapens kry nie. MAGA gaan oor OM AMERIKA WEER GROOT TE MAAK, en hierdie mense het geen idee hoe om dit te doen nie, MAAR EK HET, want DIE VERENIGDE STATE IS NOU DIE “HOTTEST” LAND ENIGSINS IN DIE WÊRELD! President DONALD J. TRUMP."
Nou ja toe dis omtrent 'n mondvol! ![]()
Intussen word Amerika se maverick minister van verdediging, Pete Hegseth, daarvan beskuldig dat hy vir Trump gelieg het oor die waarskynlikheid van ’n beslissende oorwinning oor die oorlog teen Iran.
“Pete praat nie die waarheid met die president nie,” het een Withuis-amptenaar anoniem aan die Washington Post gesê. “As gevolg daarvan herhaal die president misleidende inligting.”
Hegseth het herhaaldelik beweer dat die VSA volledige beheer oor die lugruim het en dat Iran “geen lugverdediging” het nie en niks kan doen aan die VSA en Israel se aanvalle nie.
Die amptenaar het gewys op die afskiet van ’n F-15E-vegvliegtuig en ’n A-10 Warthog deur Iran oor die naweek as bewys dat sulke bewerings ’n fundamentele misverstand toon van die VSA en Israel se dominasie van die Iraanse lugruim.
Terwyl hy met die Post gepraat het, het militêre ontleder Kelly Grieco gewys na hierdie werklikheid as ’n voorbeeld van wat gebeur wanneer jy lug "superiority" het, maar nie lug "supremacy" nie.
Hierdie misverstand en verdraaiing van die waarheid het klaarblyklik op Trump afgevryf, wat bekend is daarvoor dat hy statistieke en bewerings herhaal wat vroeër deur Hegseth uitgespreek is.
“Ons het hulle as ’n mag verwoes. Geen lugmag, geen vloot, baie min vuurpyle oor nie,” het Trump tydens ’n kabinetvergadering op 26 Maart gesê en soortgelyke bombastiese stellings van die Pentagon-hoof herhaal.
Volgens ’n Wall Street Journal-berig van verlede week het Hegseth kort video’s van lugaanvalle op Iraanse teikens vir Trump gevoer in ’n poging om die president te oortuig dat die VSA op die punt staan om ’n magtige oorwinning te behaal.
In ’n verklaring aan die Washington Post het Pentagon-woordvoerder Sean Parnell die aantygings teen Hegseth “leuens en propaganda” genoem en die koerant daarvan beskuldig dat hulle ’n “vals storie van mislukking” najaag.
Nog 'n pretfeit oor die maanreis vir almal wat met die maan, die sterre en die gode gepla is. Die ruimtetuig waarin daar na die maan gereis word is vernoem na Orion wat in die Griekse mitologie saam met die godin Artemis gejag het.
In die Griekse mitologie was Orion die jagter wat die Plejade (die sewe susters) agtervolg het.
Artemis is die godin van die maan en die tweeling-suster van Apollo (die naam van die oorspronklike maanprogram)
Die naam van die ruimtekapsule Orion moenie verwar word met die Artemis-ruimteprogram nie.
Dit is 'n algemene verwarring omdat die twee name feitlik altyd saam genoem word, maar die onderskeid is eintlik redelik eenvoudig.
Orion is die spesifieke kapsule waarin die ruimtevaarders leef en werk tydens hul reis van die aarde na die maan en terug.
Artemis is die oorkoepelende naam vir NASA se hele nuwe maanprogram soos Apollo destyds. Dit is nie net een ruimtetuig nie, maar 'n massiewe poging wat alles insluit wat nodig is om mense weer op die maan te kry.
Orion was nie ’n god nie, maar ’n reuse-jagter wat bekend was vir sy krag en skoonheid. Volgens die mites het hy saam met die godin Artemis gejag, en daar is verskillende weergawes van hoe hy gesterf het.
Sommige sê dat Artemis hom per ongeluk doodgemaak het, ander dat ’n reuse-skerpioen deur die gode gestuur is om hom te verslaan.
Ná sy dood is Orion deur Zeus of die gode in die hemel geplaas as die Orion-sterrebeeld, een van die mees herkenbare sterrebeelde wat ons vandag nog kan sien.
So, kortliks: Orion was ’n sterk jagter in die Griekse mites, nie ’n god nie, maar sy nalatenskap leef voort in die naghemel.
NASA het die naam van die ruimtekapsule in 2006 aangekondig, en daar is drie hoofredes waarom dit gekies is:
Orion is een van die mees herkenbare sterrebeelde in die naghemel. Dit word dikwels "Orion die Jagter" genoem. Omdat dit op die hemel-ewenaar lê, is dit van byna enige plek op aarde sigbaar. NASA het hierdie naam gekies om die tuig se rol as 'n universele verkenner te simboliseer.
Deur die eeue heen het ontdekkingsreisigers en mariniers die sterrebeeld Orion gebruik om hul koers op die oseane te bepaal.
Deur die nuwe kapsule "Orion" te doop, word daar gesinspeel op die tuig se doel om die mensdom se nuwe "kompas" te wees vir reise dieper in die sonnestelsel in, soos na die maan en uiteindelik Mars.
Derdens is daar ook 'n tikkie nostalgie by betrokke. Die maanlandingstuig van die Apollo 16-sending in 1972 se naam was ook Orion. Deur die naam weer te gebruik vir die Artemis-sending, skep NASA 'n direkte historiese lyn tussen die oorspronklike maansendings en die nuwe Artemis-era.
Na ʼn joyride van paar omwentelings om die Aarde om die Orion-ruimtetuig se stelsels te toets en handmatige beheer te oefen, is Artemis II nou op pad maan toe.
Die vier bemanningslede reis tans die meer as 400 000 km van die Aarde af teen ’n spoed van ongeveer 39 000 tot 40 000 km/h.
Dit sal die verste wees wat enige mens nog ooit van die Aarde was en ’n nuwe rekord wat die Apollo 13-rekord van 1970 gaan breek.
Die verskil tussen die Apollo-sendings en Artemis II lê in die spesifieke trajek wat gekies is. Alhoewel albei na dieselfde bestemming reis, is hul roetes rondom die Maan heeltemal verskillend.
Artemis II (die eerste bemande sending sedert Apollo) gaan nie in ’n wentelbaan om die Maan nie. In plaas daarvan volg dit ’n “hybrid free-return trajectory” (’n vryterugkeer-trajek). Die Orion-kapsule gaan verby die Maan vlieg en gebruik die Maan se gravitasie om die tuig natuurlik terug te slinger na die Aarde sonder dat groot enjinbrandings nodig is as iets verkeerd loop.
Hierdie “lus” neem die bemanning tot ongeveer 6 400 tot 10 300 km verby die verste kant van die Maan.
Omdat die Maan self gemiddeld 384 400 km van die Aarde af is, beteken daardie ekstra afstand dat die Artemis-bemanning amptelik die rekord gaan verbeter vir die verste afstand wat ’n mens nog ooit van die Aarde af was.
Hulle sal na verwagting ’n maksimumafstand van ongeveer 402 000 tot 406 800 km bereik wat sowat 2 400 tot 6 600 km verder is as Apollo 13 se rekord van 400 171 km.
Tydens die meeste Apollo-sendings het die ruimtetuie in ’n relatief lae wentelbaan van sowat 100 tot 110 km bo die maan se oppervlak gebly. Dit het beteken dat die ruimtevaarders nie veel verder as die maan se gemiddelde afstand van ongeveer 384 400 km van die aarde af gereis het nie.
’n Belangrike uitsondering was egter die sending van Apollo 13 in 1970. Ná ’n ontploffing aan boord moes die bemanning ’n wyer “free-return”-baan om die maan volg, wat hulle tot sowat 400 171 km van die aarde af geneem het wat steeds die rekord vir die verste afstand wat mense nog van die aarde af gereis het is.
Altemis II het gister die kritieke Translunar Injection-brand voltooi – ’n presiese 5 minute en 49 sekondes lange enjinbrand wat hulle permanent op die pad na die Maan gesit het. Tans is hulle op die vryterugkeer-trajek, toets hulle lewensondersteuningstelsels, kommunikeer met Mission Control in Houston en geniet die uitsig.
Hulle verwag om oor sowat vier dae op of naby my verjaarsdag by die Maan verby te vlieg waarna die Maan se gravitasie hulle outomaties terug sal slinger Aarde toe.
Nog ’n indrukwekkende aspek van die sending is die terugkeer na die aarde. Tydens atmosferiese “re-entry” wanneer ’n ruimtetuig vanaf die ruimte terugkeer na die aarde en weer die aarde se atmosfeer binnegaan sal die Orion-kapsule snelhede van tot sowat 40 000 km per uur (ongeveer Mach 32) bereik.
Dit maak die bemanning waarskynlik die vinnigste mense in die geskiedenis tydens die gevaarlike en dramatiese “terugkom huis toe”-deel van ’n ruimtevlug, waar die tuig deur die lug “rem” en baie warm word.
Die hele missie duur ongeveer 10 dae, met ’n totale reisafstand van meer as 1 miljoen km (heen en terug) voordat hulle in die Stille Oseaan behoort te plons.
Maak maar vrede daarmee. Hulle sal altyd onder ons neuse wees. Die Trump aanbidders, die plat aarde lotjie, die sameswerings aanhangers en al die ander malletjies wat ook hier op my muur kop uitsteek. Hulle is hier om te bly.
Terwyl NASA se Artemis-program die fondasie lê vir die mensdom se terugkeer na die maan, is daar ’n koor van stemme hier en in Amerika wat beweer dat die hele affêre niks meer as ’n Hollywood-produksie is nie.
Wat eens beskou is as die skurwe randjies van die samelewing en mense met tinfoil hoedjies wat in kelders wegkruip, het nou ’n massiewe, hoofstroom-verskynsel geword wat hulle stem veral dik maak op sosiale media.
Wanneer ons praat van die "plat-aarde-lotjie" of die maanlanding-ontkenners, is ons geneig om te dink aan ’n handjievol eksentrieke siele. Die werklike getalle vertel egter ’n storie wat enige rasionele mens koue rillings sal gee.
In die VSA, ’n land wat homself as die baken van wetenskaplike vooruitgang beskou, bevind ons ons in ’n krisis van waarheid. Met ’n bevolking van ongeveer 345 miljoen, is selfs ’n "klein" minderheid astronomies groot.
As ons kyk na die jongste peilings van 2025 en 2026, glo tussen 10% en 12% van Amerikaners onwrikbaar dat die maanlanding ’n hoax was. Dit is meer as 41 miljoen mense.
Om dit in perspektief te plaas: As ons diegene byreken wat sê dit is "waarskynlik" vervals, skiet die getal op na bo 75 miljoen wat meer is as die hele bevolking van Suid-Afrika wat glo dat Neil Armstrong nooit of onwaarskynlik ’n voet op die maan gesit het.
Dan is dit nie meer net ’n raserige minderheid nie; dit is ’n demografiese blok.
Wat veral kommerwekkend is, is die demografiese verskuiwing. Waar die ouer generasie die Apollo-missies met hul eie oë dopgehou het, word die jeug (Gen Z en Millennials) vandag groot in ’n digitale ekosisteem waar waarheid relatief is.
Vir baie mense is slim geredigeerde AI video’s genoeg bewys om hulle samesweringsteorieë te bewys en meer oortuigend as ’n feit.
Die algoritme voed skeptisisme, en sonder die anker van historiese ervaring, raak miljoene jongmense verstrengel in ’n web van disinformasie. Dit is ’n epidemie van wantroue wat getalsgewys elke jaar toeneem. Data dui daarop dat twyfel en vatbaarheid vir hierdie idees onder Millennials en Gen Z toegeneem het, selfs al bly die “harde kern” relatief stabiel.
Ons kan ook nie die olifant in die vertrek ignoreer nie. Die politieke kleur van hierdie sameswerings is duidelik waarneembaar. Daar is ’n onmiskenbare korrelasie tussen die opkoms van populistiese politiek – spesifiek die Trump- en MAGA-era – en die verwerping van wetenskaplike instellings.
Wanneer die narratief van die "Deep State" en korrupte elites die botoon voer, word NASA net nog ’n regeringsagentskap wat "lieg." In sekere Republikeinse kringe het die wantroue so diep wortel geskiet dat tot 36% van kiesers in spesifieke subgroepe twyfel aan die maanlanding. Wetenskap is nie meer objektief nie; dit het ’n lojaliteitstoets geword. As jy die stelsel haat, haat jy ook sy prestasies.
Ongelukkig is dit ook nie net ʼn Amerikaanse siekte nie. Hoewel die VSA die luidrugtigste is, sien ons soortgelyke tendense wêreldwyd.
In Rusland glo byna ’n kwart van die bevolking die Amerikaners het die maan-wedloop gefop – dikwels aangevuur deur nasionale trots. In Brasilië en dele van Europa wen die "Flat Earthers" veld, gedryf deur dieselfde wantroue in die sogenaamde "globale elite."
Ons moet onsself nie mislei nie: hierdie mense is hier om te bly. Die Trump-era het ’n blik wurms oopgemaak wat nie maklik weer toe sal gaan nie. Terwyl die Artemis II-vuurpyle die lug klief, sal die raserige koor in die vlak kant van die swembad net harder skree om aandag.
Dit is dalk maklik om hulle as "dom" af te skryf, maar wanneer 75 miljoen mense in een land die werklikheid misken, is dit nie meer ’n grap nie – dit is ’n fundamentele breuk in die samelewing se vermoë om probleme op te los en die werklikheid te erken. Want as ons nie eers kan saamstem dat die aarde rond is nie, hoe gaan ons ooit saamstem oor enigiets anders?
Die wetenskap sal voortgaan, die vuurpyle sal lanseer, maar ons sal vrede moet maak met die feit dat ons die planeet deel met miljoene wat glo die horison is ’n muur.
So op die vooraand van Paasfees dink ek onwillekeurig aan die joernalis William Lobdell se reis van geloof en twyfel waarmee ek my in soveel opsigte mee kan vereenselwig.
Daar word gesê sy reis van geloof na twyfel is dalk die mees oortuigende geestelike memoires van ons tyd.
Lobdell het in sy laat 20's 'n wedergebore Christen geword toe persoonlike probleme - insluitend 'n mislukte huwelik - hom in gebed op sy knieë gedryf het.
As pas wedergeborene het Lobdell opgemerk dat godsdiens nie goed genoeg in die hoofstroommedia gedek word nie. Hy het vir die Here gebid om vir hom ʼn pos as godsdiensjoernalis by ʼn groot koerant te gee.
In 1998 is sy gebede verhoor toe die Los Angeles Times hom gevra het om oor geloof te skryf. Maar wat oor die volgende agt jaar gebeur het, was 'n wipplankryery van inspirasie, verwarring, twyfel en sielsondersoek, terwyl sy beriggewing en ervarings stadig maar seker al hoe meer aan sy geloof begin knaag het.
Terwyl hy oor honderde stories verslag gedoen het, het hy 'n ontstellende gaping gesien tussen die beginsels van verskeie godsdienste en die gedrag van die gelowiges en hul leiers. Hy het godsdiensinstellings ondersoek wat minder eties opgetree het as korrupte Wallstreet firmas. Hy het min verskille gevind tussen die sedes van Christene en ateïste.
Hierdie stories het hom diep geraak. Hy het begin wonder: As hierdie instansies veronderstel is om deur die Heilige Gees gelei te word, hoekom is hulle dikwels meer korrup as sekulêre organisasies? Die gaping tussen die leerstellings van die geloof en die werklike gedrag van gelowiges (veral leiers) het al groter geword.
Uiteindelik kon hy nie meer die teenstrydighede ignoreer nie. Hy het probeer om sy geloof te behou – hy het gebid, met pastore gepraat, en selfs probeer om die twyfel weg te druk – maar sy kop kon nie meer sy hart oortuig nie. Hy beskryf dit as: “Geloof kan nie opgedwing word nie. Jy kan dit nie namaak as jy eerlik is met jouself nie.”
Soos hierdie bewyse al hoe meer geword het, het hy begin vrees dat God nie bestaan nie. Hy het elke twyfelvraag ondersoek totdat sy geloof uiteindelik in duie gestort het en hy as godsdiensjoernalis bedank het.
Nadat die koerant ingestem het om hom in ʼn ander pos aan te stel, het hy in die somer van 2007 sy persoonlike ervaring as godsdiensjoernalis verwoord in sy boek wat 'n internasionale sensasie geword het vir sy eerlike verkenning van twyfel.
Losing My Religion word beskryf as 'n boek oor die lewe se diepste vrae. Dit spreek tot Lobdell se verstaan van die verlange en bevrediging van gelowiges, sowel as die onverbiddelike krag van twyfel.
Aan die einde van die boek vertel hy hoe hy vrede gevind het sonder geloof – ’n “onverwagte vrede”. Hy is nie bitter of haatdraend teenoor gelowiges nie; hy verstaan die troos en gemeenskap wat geloof bring, maar hy kon dit nie meer self hê nie.
Een van die temas in sy boek is die spanning tussen ideale godsdiens en die realiteit van menslike instansies.
Hy vertel hoe joernalistiek se soeke na waarheid soms bots met persoonlike geloof.
Lobdell praat openlik oor depressie, identiteitskrisis en die “God-shaped hole” wat hy moes leer vul op ’n ander manier.
Baie lesers (ook Christene) prys die boek omdat dit respekvol en deernisvol is.
Sommige Christelike resensente noem dit hartseer maar insiggewend; ander kritiseer dit as oneerlik of te negatief teenoor die kerk.
Lobdell self het later gesê dat hy die boek geskryf het omdat hy troos gevind het in die deel van sy storie, en omdat hy ander wou help wat dieselfde stryd beleef.
Lobdell se memoires is nie daarop gemik om punte in die debat tussen ateïsme en godsdiens aan te teken nie, maar bloot om 'n geestelike reis te vertel, een wat hy desperaat gehoop het anders sou eindig as wat gebeur het.
As godsdiensjoernalis het Lobdell toekennings vir sy stories begin wen, maar hy was toenemend ontsteld.
Manne van God was nie wat hulle beweer het om te wees nie. God was nie wie hy gedink het nie. ’n Baba wat te vroeg gebore is, het eers asemgehaal, toe gesterf: Was dit nie wreed nie? Van die tsoenami in Suid-Asië in 2004, merk hy op: "Dit het geen sin gemaak nie. . . . Watter soort God sou toelaat dat soveel mense sterf, en soveel hartseer en soveel ellende skep?”
Sy twyfel het aan hom begin knaag. Hy het bevestiging gevind vir sy "donker nag" in Moeder Teresa se worsteling en twyfel: "Hierdie heiliges het met geloof gesukkel net soos ek nou daarmee geworstel het."
Hy het navorsing gedoen en geen wetenskaplike bewyse gevind ten gunste van gebed nie - vir 'n geamputeerde se ledemaat om byvoorbeeld regenereer te word - met die gevolgtrekking dat die "mees logiese antwoord op hoekom God nie geamputeerdes sal genees nie, is dat óf God nie omgee nie óf bestaan nie.”
Hy het statistieke oor evangeliese mense bestudeer en was ontmoedig om te vind dat "Christene, as 'n groep, niks anders opgetree het as enigiemand anders nie, insluitend ateïste."
Lobdell het hard probeer om nuwe energie in sy geloof te pomp, maar die goedvoel-musiek, die getuienisse, die selgroepies het dit nie meer vir hom gedoen nie. In plaas daarvan het hy uiteindelik sy geloof verloor en weggedryf van die God na wie hy eens gesmag het. "Losing My Religion" vertel die verhaal van daardie ervaring.
Dit was nie die reaksie op sy stories op sigself wat hom die meeste ontstel het nie, sê hy, maar die feit dat Christene wat in 'n posisie was om vir beginsels te staan en dinge reg te maak, gereeld gekies het om 'n blinde oog te draai vir oneerlikheid, korrupsie , en skynheiligheid.
Lobdell het eers gevoel dat korrupsie in godsdienstige instellings niks met God te doen het nie. Maar toe het hy begin soek na bewyse van hoe Christene geleef het, en of dit enigsins verskil van ongelowiges.
“As die Evangelies waar was, sou ek dan nie in staat wees om baie data te vind wat getoon het dat Christene anders opgetree het – beter is in sedes en etiek – as die res van die samelewing nie?"
"Ek wou sien dat mense op fundamentele maniere verander word deur hul geloof in Christus.”
Die data van baie studies, hetsy oor egskeiding, rassisme, liefdadigheid, materialisme, ens., het anders getoon.
Dis toe hy sy “donker nag van die siel” begin ervaar het. Twee ander opdragte het die kroon gespan: 'n werksopdrag na St. Michael's Island in Alaska, waar "'n enkele Katolieke sendeling 'n hele generasie van Alaska-inheemse seuns verkrag het"; en 'n hofsaak in Portland, Ore, waarin 'n priester en sy seniors geweier het om voldoende ondersteuning te gee aan ʼn seun wat deur die priester verwek is en sy behoeftige moeder.
Lobdell het geweldig hard probeer om aan sy geloof vas te hou, maar, sê hy, dit het hom net verlaat, dit was nie 'n keuse nie.
Vandag is hy nie 'n ander mens nie - hy leef steeds volgens die standaarde wat in die Bybel uiteengesit word. Maar hy sê sy geloof is vir altyd weg.
Lobdell is vandag gelukkiger sonder sy vorige geloof. Dit was vir hom 'n bevryding eerder as 'n verlies, al was die proses pynlik. Sy storie is 'n klassieke voorbeeld van wat bekenstaan as 'n dekonversie-memoir waar die outeur uiteindelik meer vrede vind as wat hy verwag het.
'n Dekonversie memoir (of deconversion memoir in Engels) is 'n outobiografiese boek waarin die skrywer sy of haar persoonlike verhaal vertel van hoe hulle hul godsdienstige geloof verloor het en die teenoorgestelde van 'n tradisionele bekeringsverhaal.
Terwyl selfs Republikeine in Amerika Donald Trump veroordeel omdat hy oor Robert Mueller se dood gespog het, bly sy luidrugtigste plaaslike ondersteuners skielik doodstil. Wat sê hierdie stilte oor ons eie morele kompas?
Daar is niemand so blind soos iemand wat nie wil sien nie, en niemand so doof soos iemand wat nie wil hoor nie.
Ek het gisteraand 'n eenvoudige boodskap op my muur gepos oor Donald Trump se walglike, afstootlike reaksie op die dood van Robert Mueller – die voormalige FBI-direkteur en spesiale aanklaer wat die ondersoek gelei het na Russiese inmenging in die 2016-VSA-verkiesing en moontlike bande tussen Trump se veldtog en Rusland.
Binne minute kruip sy ondersteuners soos kakkerlakke uit die riool: meestal agter geslote profiele, anoniem en lafhartig, en beskuldig my van "vals nuus". Hulle plak 'n foutiewe Google-antwoord as "bewys" – een wat Trump as "voormalige president" noem en kom nie eens agter hoe pateties dit is nie. Hulle sien nie die waarheid nie, want hulle wil nie.
Mens kan nog die gewone gepeupel verskoon. Hulle klou vas aan hul lae-klas narsis, hul veroordeelde vrouemisbruiker, hul koning van leuens wat geen Amerikaanse president in die geskiedenis nog kon troef met sy bedrog en vulgariteit nie. Hulle glo niks slegs oor hom nie, want hy is hul messias, hul stem vir wraak.
Maar waar is die organisasies wat Trump jare lank voorgehou het as die “redder van die Afrikaner,” die “bewaarder van Christelike waardes” en die “vredemaker van die planeet”?
Waar is die Solidariteite, die AfriForums, die Vryheidsfront Plusse? Waar is die Kallie Kriels, die Ernst Roetse, die Jaco Kleynhanse, die Corné Mulders en Heinz Wincklers van die wêreld wanneer hul afgod hom soos ’n vark gedra?
Terwyl selfs prominente Republikeine in die VSA hulself in skaamte daarvan distansieer, is ons plaaslike “vromes” skielik tjoepstil.
Hulle swyg. Doodstil. Soos grafte.
Onder die opskrif “‘Vile’ Trump condemned for gloating over Robert Mueller death,” skryf The Guardian hoe die woede wêreldwyd opbou.
Trump het op Truth Social gespog dat hy “bly” is Mueller is dood. Hy het op die graf gespoeg van ’n man wat die Bronze Star en Purple Heart ontvang het vir dapperheid terwyl Trump self vyf Viëtnam-diensplig-uitstelle gekry het (vier vir studies en een vir “heel spurs”) terwyl Mueller, wat as Marine in Viëtnam gedien het, gewond is en vir heldhaftigheid vereer is.
“Heel spurs” was ’n mediese verskoning in 1968, en daar word al jare lank bespiegel dat dit in Trump se geval dalk oordrewe of selfs uitgedink was om diensplig te vermy (hy kon nie onthou watter hak dit was nie, en daar’s stories dat ’n dokter dit as “guns” gediagnoseer het.
Dat selfs Republikeine in Amerika – sy eie party – hulself distansieer van sy jongste uitspraak spreek boekdele.
Michael Steele, voormalige voorsitter van die Republikeinse Nasionale Komitee, het Trump uitgekryt as ’n “kleinlike, patetiese huigelaar wat stink van onsekerheid.” Rick Wilson van die Lincoln Project het gewaarsku dat mense eendag in die strate sal dans wanneer Trump sterf, omdat hy ’n “vlek op die presidentskap” is.
Sy tweet lees so in Engels: “@realDonaldTrump you are a vile disgusting man. Petty and pathetic, you are a hypocrite who reeks of weakness and insecurities with no moral core. Regardless of the politics, the American people should be embarrassed and ashamed for ever having entrusted you with leadership.
Trump het op Truth Social gepos: “Robert Mueller just died. Good, I'm glad he's dead. He can no longer hurt innocent people!”
Heath Mayo reageer so: “Wat ’n siek mens.” Adam Schiff, Alex Vindman, Chuck Schumer – almal noem dit wat dit is: kleinlik, wraaksugtig, onfatsoenlik.
Dan Goldman, ’n kongreslid van New York, het geskryf dat “die President van die Verenigde State walglik feesvier oor Mueller se dood bloot omdat hy Trump se pogings om die 2016-verkiesing te steel, ontbloot het. Mueller en Trump verteenwoordig polêre teenoorgesteldes van wat ’n staatsdiens behoort te wees.”
Adam Schiff, ’n senator van Kalifornië, het opgemerk: “Elke dag wys hierdie president sy basiese onwelvoeglikheid en ongeskiktheid vir die amp.” Andy Kim, ’n senator van New Jersey, het geskryf: “Wat ’n klein en venynige man.”
Selfs vergeleke met Trump se eie standaarde is dit ongewoon laag. Hy het dit al voorheen gedoen met John McCain, met Paul Pelosi se aanval, met ander maar hier spoeg hy direk op 'n veteraan se graf.
En ons sogenaamde Afrikaanse "leiers" wat Trump se beuel so gereeld blaas? Niks. Geen woord van afkeur nie. Hulle bly stil terwyl Trump openlik sy morele bankrotskap vier. Hulle bly stil terwyl hy die laaste greintjie waardigheid uit die amp ruk.
In Suid-Afrika word ons gereeld vergas op lesings oor “morele leierskap” en “waardes” deur ons regs-gesinde elite. Maar wanneer Trump die dood van sy vyande vier, of die aanval op Paul Pelosi bespot, of die moord op mense soos Rob Reiner aan “Trump Derangement Syndrome” toeskryf, dan hoor jy niks van Pretoria of Centurion se Afrisols nie.
Is dit die “Christelike waardes” wat julle so vurig verdedig? Is ’n man wat geen respek vir die dood of vir diensbaarheid het nie, werklik julle bloudruk vir ’n wêreldleier?
Dis nie net Trump se skuld nie. Dis die stilte van dié wat hom as heilige verheerlik. Hulle kies kant en dis nie die kant van ordentlikheid, Christelike waardes of respek vir die dooies nie. Dis die kant van gif, wraak en blinde lojaliteit.
As julle nog wonder hoekom die wêreld ons Afrikaners soms met skeptiese oë aankyk: kyk na julle helde en julle stilte.
Soos Chuck Schumer tereg gesê het: “Die wreedheid is die punt.” Trump gebruik hierdie skokkende uitlatings om die aandag af te lei van sy eie mislukkings en kriminele rekords. En in Suid-Afrika val sy dissipels — leiers en volgelinge tesaam — vir elke liewe truuk in die boek.
Robert Mueller was ’n lid van die Amerikaanse Marinierskorps en ’n lewenslange openbare dienaar. Mag hy in vrede rus. Wat Donald Trump betref: sy nalatenskap is reeds besig om te verrot lank voor hy self onder die grond lê.
En vir diegene wat hom steeds verdedig: julle stilte sê alles wat ons van julle eie morele kompas moet weet.
Mag Robert Mueller rus in vrede. Hy was 'n man van diens en eer.
En mag die res van ons wakker word voor ons ons eie siel verkoop vir 'n tweet.
De mortuis nil nisi bonum is ’n ou Latynse spreekwoord wat min of meer lui : “Oor die gestorwenes spreek slegs lof, niks anders nie.”
Dit vra vir stille eerbied vir diegene wat nie meer kan antwoord nie; hul skaduwees verdien geen skerp woorde nie, slegs die sagte lig van waardige herinnering
In sy oordenking op Maroela Media, getiteld "Die Leeu van Juda is gevaarlik", herinner Stephan Joubert lesers vandag daaraan dat die Christelike God nie ’n "mak leeu" is wat getem kan word nie.
Hoewel Joubert se vertrekpunt een van eerbied en die "goeie gevaar" van God is, raak dit aan die senuwee van ’n veel groter, donkerder teologiese masjinerie naamlik die gebruik van vrees as die primêre dryfveer vir geloof.
As ons kyk na moderne evangelisasie, veral in megakerke en radikale pinksterstrome, word vrees dikwels as 'n bemarkingsinstrument ingespan. Dit is nie meer net 'n teologiese dogma nie; dit is 'n besigheidsmodel.
Net soos 'n advertensie vir medikasie jou eers bang maak vir 'n siekte, fokus baie moderne predikers op die "gevaarlike" aspek van die hiernamaals om die "produk" van verlossing onontbeerlik te maak.
Deur musiek, beligting en hoogs gelaaide taal word 'n atmosfeer van dringende vrees geskep. Die boodskap is duidelik: Draai of braai.
Joubert se stuk op Maroelamaedia is op die oog af ’n onskuldige stiltetyd-oordenking, maar dit verteenwoordig ’n baie ou en diepgewortelde teologiese strategie: God as iets wat jy nie net moet liefhê nie, maar veral moet vrees.
Die beeld van die “leeu van Juda” word hier nie as troos nie, maar as waarskuwing gebruik. Die boodskap is subtiel maar duidelik: hierdie God is nie mak nie; Hy is gevaarlik; Hy kan byt. En as jy nie in pas met Hom leef nie, wag daar gevolge.
Dit is presies waar die probleem begin.
Die Christelike tradisie, soos ook die Islamitiese tradisie rondom Mohammed werk histories met ’n dubbele beeld van God: liefdevol én veroordelend. Maar in praktyk word die tweede dikwels die dryfkrag agter geloof.
Wanneer hierdie patroon konsekwent herhaal word in preke, bybelstudies en koerante se geestelike rubrieke word dit nie meer net ’n idee nie, maar ’n psigologiese raamwerk waardeur mense die wêreld interpreteer.
Wat die Abrahamitiese gelowe onderskei, is nie dat hulle vrees gebruik nie – alle godsdienste doen dit op een of ander manier – maar die intensiteit en finaliteit van daardie vrees.
In beide die Christendom en Islam is daar die konsep van finale oordeel, ’n ewige hemel en belangriker: ’n ewige hel.
Die Bybel en die Koraan se beskrywings van straf is nie tydelik of simbolies nie, maar absoluut. In die Koran word Jahannam herhaaldelik beskryf as ’n plek van vuur en pyn; in baie Christelike tradisies is die hel ’n ewige toestand van skeiding en lyding.
In die Hindoegeloof is daar ook helle en lyding, maar dit is tydelik en deel van die karma-siklus. Jy kry weer ’n kans. Die kosmos is nie ’n hofsaal met ’n finale vonnis nie, maar ’n voortdurende proses.
In Boeddhisme is die beskrywings van helle selfs meer grafies, maar die fokus is nie op ’n kwaai god nie. Lyding vloei uit oorsaak en gevolg. Daar is nie ’n opperwese wat straf uitdeel uit morele verontwaardiging nie.
By Judaïsme, wat ironies genoeg die oudste van die Abrahamitiese gelowe is, is die klem histories baie minder op die hel. Die lewe hier en nou, geregtigheid en die wet is sentraal. Die hiernamaals is vaag en nie die primêre motivering vir gedrag nie.
Dit plaas die Christendom en Islam in ’n besondere kategorie: nie omdat hulle alleen vrees gebruik nie, maar omdat hulle dit absolutiseer.
Die gevaar van hierdie teologie lê nie net in abstrakte leerstellings nie, maar in die effek daarvan op mense.
Vrees word ingespan om kritiese denke te onderdruk (“Moenie twyfel nie – jy speel met jou siel”), dit versterk groepslojaliteit (“net ons het die waarheid – buite is gevaar”) en dit skep afhanklikheid van geestelike gesag.
Dit is waarom vrees so effektief is: dit werk dieper as rede. Dit spreek die oorlewingsinstink van die mens aan.
Selfs Joubert se oordenking oor die “leeu van Juda” funksioneer binne hierdie raamwerk. Die boodskap is nie net teologies nie; dit is gedragsmatig: bly in lyn, bly nederig, bly bang genoeg.
Ek weet Christene sal aanvoer dat hulle geloof ook oor liefde gaan en sê “God is liefde” maar hulle kyk die spanning mis wat selde eerlik aangespreek word:
Kan ware liefde bestaan waar ewige straf altyd in die agtergrond dreig?
As ’n verhouding gebou is op liefde aan die een kant en oneindige straf aan die ander is dit nie meer ’n vrye keuse nie. Dit lyk eerder soos ’n kosmiese ultimatum.
Die beeld van ’n “gevaarlike” God is een van die oudste gereedskapstukke in die godsdienstige arsenaal. Wat Joubert se Maroela-stuk doen, is om hierdie ou patroon weer vars en aanvaarbaar te maak in ’n moderne, vriendelike taal.
Die vraag wat ’n mens uiteindelik moet vra, is nie of God gevaarlik is nie, maar of hierdie beeld van God nie dalk meer sê oor menslike magsbehoeftes as oor enige bonatuurlike werklikheid nie.
Want ’n God wat jou ewig straf as jy Hom nie reg aanbid nie, lyk verdag baie soos ’n idee wat ontwerp is om mense in lyn te hou – nie om hulle werklik vry te maak nie.
Of dit nou Stephan Joubert se "Gevaarlike Leeu" is en of dit die Koran se waarskuwings is oor hulle hel, vrees bly die mees effektiewe teologiese gom. Maar die vraag wat ons moet vra, is: Is 'n geloof wat op vrees gebou is, enigsins die moeite werd om te hou?
As die motivering vir goeie dade vrees vir die sweep of die hel is, word dit teologiese terrorisme wat ontwerp is om lojaliteit te verseker.
Want ’n God wat jou ewig straf as jy Hom nie reg aanbid nie, lyk verdag baie soos ’n idee wat ontwerp is om mense in lyn te hou – nie om hulle werklik vry te maak nie.
Joe Kent se volledige bedankingsbrief as Donald Trump se direkteur van nasionale intelligensie.
Israel word behoorlik gelooi.
Nou sal een of ander wise crack seker weer vir my kom vertel dis fake news
Direkteur van Nasionale Intelligensie
Nasionale Teen-terrorisme Sentrum
President Trump,
Na baie nadenke het ek besluit om met onmiddellike effek te bedank uit my posisie as Direkteur van die Nasionale Teen-terrorisme Sentrum.
Ek kan nie met 'n goeie gewete die voortgesette oorlog in Iran ondersteun nie. Iran het geen dreigende gevaar vir ons nasie ingehou nie, en dit is duidelik dat ons hierdie oorlog begin het weens druk van Israel en sy magtige Amerikaanse lobby.
Ek ondersteun die waardes en die buitelandse beleid waarvoor u in 2016, 2020 en 2024 veldtog gevoer het, en wat u in u eerste termyn uitgevoer het. Tot Junie 2025 het u verstaan dat die oorloë in die Midde-Ooste 'n lokval was wat Amerika beroof het van die kosbare lewens van ons patriotte en die rykdom en voorspoed van ons nasie uitgeput het.
In u eerste administrasie het u beter as enige moderne President verstaan hoe om militêre mag beslissend toe te pas sonder om in nimmereindigende oorloë ingetrek te word. U het dit gedemonstreer deur Qasam Solamani dood te maak en deur ISIS te verslaan.
Vroeg in hierdie administrasie het hooggeplaaste Israeliese amptenare en invloedryke lede van die Amerikaanse media 'n misinformasie-veldtog ontplooi wat u "America First"-platform geheel en al ondermyn het en pro-oorlog sentimente gesaai het om 'n oorlog met Iran aan te moedig. Hierdie eggokamer is gebruik om u te mislei om te glo dat Iran 'n dreigende gevaar vir die Verenigde State inhou, en dat indien u nou sou toeslaan, daar 'n duidelike pad na 'n vinnige oorwinning sou wees.
Dit was 'n leuen en is dieselfde taktiek wat die Israelies gebruik het om ons in die rampspoedige Irak-oorlog in te trek wat ons nasie die lewens van duisende van ons beste mans en vroue gekos het. Ons kan nie weer hierdie fout maak nie.
As 'n veteraan wat 11 keer na gevegsgebiede ontplooi is en as 'n "Gold Star"-eggenoot wat my geliefde vrou Shannon verloor het in 'n oorlog wat deur Israel vervaardig is, kan ek dit nie ondersteun om die volgende generasie te stuur om te veg en te sterf in 'n oorlog wat geen voordeel vir die Amerikaanse volk inhou nie en ook nie die koste van Amerikaanse lewens regverdig nie.
Ek bid dat u sal besin oor wat ons in Iran doen, en vir wie ons dit doen. Die tyd vir dapper optrede is nou. U kan koers verander en 'n nuwe pad vir ons nasie uitstippel, of u kan toelaat dat ons verder afgly na agteruitgang en chaos. U hou die kaarte vas.
Dit was 'n eer om in u administrasie te dien en om ons groot nasie te dien.
(Geteken)
Joseph Kent
Direkteur, Nasionale Teen-terrorisme Sentrum
Kontak Jean Oosthuizen direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.