🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek
Terug na Lede
Willem Kempen
Willem Kempen
Stigter

Willem Kempen is 'n bekroonde Afrikaanse joernalis en mediapraktisyn wat vir onder meer Binne+Land skryf. Hy het uitgebreide ondervinding in druk- en digitale mediaproduksie in Afrikaans sowel as Engels. Titels waarvoor hy al gewerk het sluit in Beeld, Rapport, Finweek, Vrye Weekblad en News24. Sy spesiale belangstellings sluit in digitale tegnologie en finansiële markte. Hy woon in Potchefstroom in Suid-Afrika se Noordwes-provinsie.

www.binne-land.co.za/
1
Afrikaners vir Suid-Afrika
Stigter 1750 Lede
<p><strong>Wie en wat ons is</strong></p><p><br></p><p>Hierdie forum het ontstaan uit ’n verklaring waarin 48 progressiewe Afrikaners hul kommer uitgespreek het oor disinformasie dat Afrikaners slagoffers van ’n beweerde volksmoord is en oor die algemeen in Suid-Afrika te na gekom word. Hierdie d...
Ander Lede
1
Ek praat vandag namens alle Afrikaners, vir alle tye
Die debat oor Afrikanerskap het die afgelope maande al hoe skerper geword, met beskuldigings, etikette en wantroue wat dikwels die plek van gesprek inneem. In hierdie nadenkende rubriek vra Willem Kem
👁 248 lesers

Ek praat vandag namens alle Afrikaners, vir alle tye

Die debat oor Afrikanerskap het die afgelope maande al hoe skerper geword, met beskuldigings, etikette en wantroue wat dikwels die plek van gesprek inneem. In hierdie nadenkende rubriek vra Willem Kempen of dit nie tyd is dat Afrikaners weer eerlik met mekaar begin praat nie – oor identiteit, verantwoordelikheid, Suid-Afrika en die toekoms wat ons saam moet bou.

Ek praat vandag namens alle Afrikaners, vir alle tye

Wees gegroet, Afrikanerkamerade

Gereelde lesers van my Binne+Land-briewe (ons praat hier van minstens 30 mense – hallo Ma!) het sekerlik reeds besef die opskrif hierbo is moedswillig. Want "ons" weet tog almal wat die eerste gebod is van enige gesprek waar Die Afrikaner ter sprake kom: Jy sal onder geen omstandighede die risiko loop dat selfs jou mees serebraal ingeperkte toehoorder redelikerwys net die geringste indruk kan kry dat jy namens enigiemand anders as jouself praat nie.

Die tweede gebod, wat hieraan gelyk is, is dat geen redevoering mag begin sonder dat die spreker 'n seleksie van hoogtebakens van Afrikaner-identiteit op die gesprek se padkaart geplaas het nie. Sulke merkers kan insluit, maar is nie beperk (nie) tot: 'n erkenning dat sigself se wortels geografies hier "aan die suidpunt van Afrika" geanker is; 'n verwerping van enige onderliggende gevoelens van selfgesentreerde rassemeerderwaardigheid; 'n uitgesproke waardering vir Die Plaaslewe en Die Belang van die Gesin, 'n nostalgiese anekdote oor die etnisiteit van diegene saam met wie jy as kleuter uit die driepootpot geëet en/of kleilat gespeel het; 'n standpuntstelling oor watter een van wat ook al deesdae die WP of Noord-Transvaal se nuwe naam is jou toejuiging verdien; presies waar in die hiërargie van moontlike lojaliteite jy jou Afrikanerskap versus jou Suid-Afrikanerskap sien; en 'n verklaring van jou getroue-dog-nie-onkritiese lidmaatskap van enige van Die Susterskerke, 'n losse groepering van dwaalgeeste met dikwels botsende idees oor watter van die Ewige Waarhede die dringendste by die behoeftes van ons tyd aangepas moet word.

Daar is natuurlik ook 'n klompie van ons, myself ingesluit, wat nog nooit mooi geweet het waar (en óf) ons in dié hele prentjie wil inpas nie. Want who cares, nou eintlik?

Maar dan kom iets oor jou pad soos toe iemand die saadjie van 'n onkruid in die besoedelde grond van Donald Trump se gemoed plant – en water gee – dat Afrikaners in Suid-Afrika die slagoffers van 'n "volksmoord" is, en daarom op spesiale voorregte in die VSA geregtig is. En dan teken jy 'n brief saam met min of meer 47 ander min-of-meer-Afrikaners wat sê nee, daar is tog ooglopend nié 'n volksmoord teen ons aan die gang nie.

Ooglopende waarheid of te not, "Die Brief" het 'n enorme slymbom in die hemelruim bo ons koppe laat afgaan. Media24 se grootste en enigste oorblywende Afrikaanse Sondagkoerant het 'n hele voorbladstorie uit die niet opgetower waarvolgens die brief kamstig alles die werk was van 'n staatsdepartement wat die res van die tyd sukkel om op 'n weeksdag 'n stukkende ruit in 'n ambassade te vervang.

Rapport se storie het ook suurstof gegee aan die logiese bolmakiesie waarvolgens elke ondertekenaar van die brief by implikasie ook een of almal van 'n useful idiot, 'n betaalde agent van die staat, 'n hanskakie, 'n joiner, 'n verraaier, 'n ANC-gatkruiper, 'n lid van die bevoorregte elite (Net nie dit nie!) of 'n Afrikaner-hater is. Dit het ook nie net oorgewaai nie; die afgelope week het mense soos Max du Preez, Piet Croucamp en Ruda Landman (almal ondertekenaars van die brief) van voor af op sosiale media deurgeloop onder van die banaalste en vulgêrste beledigings denkbaar, vermoedelik bloot omdat hulle nie die wêreld soos 'n klompie smeerlappe wil sien nie, en dalk ook omdat AfriSol die Boerboele losgemaak het in reaksie op News24 se storie oor die lekker vet salarisse wat die manne daar verdien. (Waarmee ek terloops nie veel van 'n probleem het nie, dis mos nie mý ledegeld wat dit help betaal nie.)

In die lig van al hierdie onsmaaklikheid is dit goed om iemand soos dr. Theuns Eloff se pleidooi op Netwerk24 te sien dat 'n "oop en eerlike gesprek tussen Afrikaners" dringend nodig is. Hy wys byvoorbeeld daarop dat daar talle ooreenkomste is tussen die "Afrikanerverklaring" van 2024 en die credo van Afrikaners vir Suid-Afrika (AvSA), die netwerk wat uit die brief ontstaan het. Eloff skryf: "Albei se uitgangspunt is veelvoudige identiteite (dat mens tegelyk Afrikaner, Suid-Afrikaner en Afrikaan kan wees) en dat Afrikaners hulle verbind tot die land en al sy mense. En tog is daar in die openbare debat heftige verskille."

Nog 'n terloops, Eloff sê dis neerhalend om van "Afrisol" te praat, maar op die Solidariteit Beweging se webwerf sê dit pertinent dat Solidariteit en AfriForum albei lede van dié beweging is.

In elk geval, Eloff wys ook daarop dat AfriForum en Solidariteit in hul skriftelike voorleggings aan die Amerikaanse regering spesifiek gevra het dat Suid-Afrika nie gestraf moet word omdat die VSA (of eintlik Trump en Elon Musk?) nie van die ANC hou nie. "Daar is spesifiek gepleit vir die behoud van die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa). En die term 'wit volksmoord' is nooit gebruik nie. In opvolggesprekke met [ambassadeur Leo] Bozell is dieselfde boodskap deurlopend oorgedra."

Wat 'n mens moet laat wonder, waarom was daar dan die woedende reaksie op Die Brief, met die volle gewig van die Solidariteit Beweging se "kommunikasiemasjien" daaragter, as die boodskap daarin nie regtig verskil van wat AfriSol in Washington aan Trump gesê het nie?

Nog 'n aspek waaroor daar dalk 'n bietjie meer eerlikheid kan wees, is punt 11 van die Solidariteit Beweging se doelstellings. Dit lui (my klem):

"In die elfde plek wil ons net die normale reg hê om ons taal te gebruik; om ons kultuur normaal uit te leef; en om 'n normale geskiedenis te hê met al sy goeie en swak punte. Ons wil soos enige normale gemeenskap plekke hê waar ons kan tuis voel en waar ons die meerderheid is."

Ek weet nie lekker hoe 'n mens vir jouself 'n "normale geskiedenis" kan reël in die plek van die een wat jy reeds het nie, maar ek is wel taamlik seker dat "waar ons die meerderheid is" nie verwys na iets soos 'n Toskaanse Eco Estate in Garsfontein nie. En as julle ouens steeds 'n tuisland iewers wil hê, wat van julle net so, pleks van kwaad word as ons nie kan raai dis wat julle eintlik wil hê nie?

Daarenteen kan ek met feitlik elke woord saamstem in AvSA se credo, wat só lui:

Ek is gewortel in Suid-Afrika en verweef met Afrika se mense.

Ek is gevorm deur my geskiedenis, maar word nie daardeur beperk nie.

Ek eer my taal en tradisies en gebruik dit om brûe te bou.

Ek staan vir geregtigheid en menswaardigheid.

Ek erken die onregte van ons verlede en die uitdagings van ons hede.

Ek neem verantwoordelikheid om te help bou aan 'n toekoms waar almal veilig is en floreer.

Ek onderneem om te werk vir versoening gegrond in die waarheid, en vir hoop wat sigbaar word in dade.

Tot volgende keer
Willem

Die artikel word met die vergunning van Binne+Land gepubliseer. Teken gerus in op Binne+Land; die eerste maand is gratis.

Stuur Boodskap

Kontak Willem Kempen direk. Jou boodskap sal per e-pos gestuur word.

Deel van die Taalhuis Netwerk
Die Netwerk
Taalhuis
Die tuiste van Afrikaans aanlyn
Onderhou deur
Die Gewete
Diepte-analise & onafhanklike kommentaar
Geborg deur
Die Koerant
Gestig 2026 · Afhanklike Joernalistiek
'n Bymekaarkompunt
Die Punt
Afrikaanse Gemeenskap Aanlyn
Gebou deur
DieMens
Digitale oplossings vir die Afrikaner
Vir die kreatiewe
Die Kunstenaar
Kuns, kultuur & skepping
Vir die skrywende
Die Skrywer
Afrikaanse letterkunde & skryfkuns
Vir die spreker
Die Stem
Afrikaanse stem & podiumkultuur
🏡 Taalhuis 🇿🇦 Die Punt 👤 Die Mens ✍️ Die Skrywer 🎨 Die Kunstenaar 📰 Die Koerant 🧠 Die Gewete 🎤 Die Stem 🎓 UvdL 📻 Die Radio 📺 Die TVkamer 🎬 Die Fliek